Читать книгу Hoe kwesbaar die hart - Malene Breytenbach - Страница 5
3
ОглавлениеBrenda sit diep ingedagte. Dis ’n week gelede dat hulle saam met Charl Naudé uit was en sy kan hom steeds nie uit haar gedagtes kry nie. Sy wonder oor hom, sy lewe, sy omstandighede. Sy durf nie vir Thomas uitvra nie. Hy kry dalk die verkeerde idee en dink sy stel belang in die man.
Toe ’n jong, blonde dokter skielik by haar tafel kom staan, skrik sy terug na die werklikheid.
“Gee jy om?” vra hy met ’n glimlag. “Die kafeteria is so vol, daar is nie meer tafels oop nie.”
Sy Engels is beslis Brits, dink sy. “Sit gerus.”
“Dankie. Ek is Kevin Wakefield, en jy is een van die Suid-Afrikaners.”
“Brenda Wiechers. Aangename kennis. Is jy van hier?”
“Gebore in Woking, al tien jaar lank in Londen. Is Suid-Afrika vol mooi mense soos jy en daardie bruingebrande dokters?”
Sy glimlag skeef. “Ons is maar soos julle, mooi én lelik. Die son bak ons net bruiner daar onder. Hier hou die weer ’n mens wit.”
“Julle sal ook nog verbleik soos ons. Jy lyk byna Skandinawies met daardie rooibruin hare en helderblou oë.”
“Ek is deels Duits, deels Iers, deels Nederlands en deels Frans.”
“Sjoe! Hulle sê mos die hibriede kan so goed uitkom. Sterk ook, want hulle is nie ingeteel nie.”
Sy glimlag net en eet haar broodjie, bewus daarvan dat hy haar met iets soos verwondering dophou.
“E … wil jy nie saam met my ’n vertoning gaan kyk nie? Agatha Christie se The mousetrap speel in die West End.”
Sy kyk op, skoon onkant gevang. Hoe kan hy haar so vinnig en halsoorkop probeer uitneem?
“Wel, ek weet nie …”
“Gaan jy vas uit, of is jy verloof?”
“Nee, nie een van die twee nie.”
“Ek het gedink as ek nie aanstaltes maak om kennis te maak en jou uit te vra nie, gaan niks ooit gebeur nie. Ek het jou lankal raakgesien, maar ek moes eers my moed bymekaarskraap.”
“Regtig?” Sy lag. “Nou ja, ek byt nie. Ek is mak, al kom ek uit Afrika.”
“Ek is ook mak. Glad nie ’n wolf nie.”
Nee, nie in die Thomas-liga nie, besluit sy geamuseerd. Hy lyk oopgesig en oulik. Sy oorweeg sy uitnodiging ’n paar sekondes voor sy instem. “Goed, dit sal lekker wees.”
Hy glimlag breed, en sy hou sommer van sy vriendelike bruin oë. Om ’n vertoning te gaan kyk, kan tog nie skade doen nie. As sy nie sy geselskap geniet nie, gaan sy net nie weer met hom uit nie.
Eben por haar in elk geval aan om uit te gaan. Anders, beweer hy spottend, gaan sy ’n oujongnooi word met net ’n kat vir geselskap.
“Is jy môreaand vry?” vra Kevin Wakefield.
“Nee, eers die aand daarna.”
“Dan koop ek solank kaartjies vir daardie aand. Ons sal met die moltrein moet gaan. Gee jy om?”
“Nee, glad nie. Dis altyd vir my ’n belewenis om met die moltrein te ry. Ons het nie ondergrondse treine in Suid-Afrika nie.”
“Ons het weer nie almal motors nie. Ek hoor julle het almal motors.”
“Nie almal nie, maar die meeste. Die afstande is groot en ons openbare vervoerstelsel is nie baie goed nie.”
Hy vra haar adres en skryf dit neer. “Ek vergeet dalk iets, dan is ons in die moeilikheid. Ek is taamlik verstrooid.”
Sy staan op. “Verskoon my, ek moet draf.”
Toe sy omdraai, stamp sy in iemand vas.
“Vlug jy oor jy my sien?” vra Thomas, teatraal seergemaak, met ’n skinkbord kos in sy hande.
“Nee, ek is oor ’n paar minute weer aan diens.”
“Wie is dié ou?”
Brenda is haastig, maar sy stel hulle voor.
“Wanneer kan ek by jou kom koffie drink?” vra Thomas op Engels en gaan sit op die stoel wat sy verlaat het. “Ons raak vreemdelinge vir mekaar, en ek dink nie dis wat oom Charl in gedagte gehad het nie.”
“Wag, ek moet hardloop. Ek praat anderdag met jou.”
Sy haas haar weg. Wat bedoel hy met sy verwysing na sy oom? Hoop die oom dat hulle twee sal afhaak? Die varkies moet eers vlerkies kry voor dít gebeur, dink sy vies. Sy gaan haar nie aan ’n reeksvryer soos Thomas blootstel nie, al ken sy hom jare lank. Dis presies die ding: sy ken hom te goed.
Sy kyk op haar horlosie. Binne twee minute moet sy aansluit by die ander dokters en verpleegsters en dis nog ’n hele ent. Sy begin draf.
Brenda geniet die aand saam met Kevin Wakefield nogal baie. Hy het ’n sin vir humor en hulle vind aanklank by mekaar. Hulle lag vir dieselfde goed. By die teater is hy die ene besorgdheid en hy koop vir haar ’n doos sjokolade, wat die twee van hulle saam opeet.
Op pad terug in die moltrein neem hy skielik haar hand. “Ek keer net dat iemand jou wegsleep,” grap hy.
Sy laat hom begaan, al maak dit haar ongemaklik. Al hou sy van hom, weet sy reeds dat sy niks meer as ’n vriendin sal kan wees nie, want ongelukkig trek hy haar nie fisiek aan nie. Hy kyk na haar handpalm, trek sy vinger oor die lyne en maak asof hy haar fortuin lees.
“Jy gaan met ’n blonde dokter trou en julle gaan saam ’n praktyk in Harley Street open. Julle gaan baie ryk wees en ’n herehuis in Kensington aanskaf. Miskien kry julle tyd vir kinders en dan gaan julle ’n hele kroos maak.”
Sy lag, maar eintlik voel sy baie ongemaklik. Sy is bang om haarself te verbind, bang vir iemand wat ernstig wil raak. Huweliksbande klink vir haar net knellend.
“Jy is verkeerd,” stry sy. “Ek ontken dat ek ooit gaan trou en kinders hê. Ek gaan eendag my eie praktyk hê. Ek gaan vir myself ’n huis in Kaapstad koop en met perde, honde en katte boer. Jy het die verkeerde hand gelees. Die waarheid staan in die ander handpalm.”
Hy lag, maar nie onbevange nie. “Ongelukkig is jy die soort vrou op wie ’n man sommer dadelik verlief raak,” sê hy sonder om na haar te kyk.
Sy trek haar hand uit syne en hy kyk na haar. “Grappies op ’n stokkie.”
“U is werklik oorhaastig, meneer,” terg sy, maar sy neem haar voor om nie weer saam met Kevin uit te gaan nie. Hier kom dalk moeilikheid as sy haar nie onttrek nie.
By haar woonstel bedank sy hom en toe hy haar wil soen, staan sy tru. Teleurgesteld sê hy nag en loop.
Brenda gaan tap vir haar ’n bad en week daarin. Kevin se woorde het haar gans te kriewelrig gemaak. Sy moet probeer ontspan, anders slaap sy nie vannag nie.
Die volgende dag, toe sy en Eben na hulle hospitaalskof by haar woonstel kom, staan daar ’n klomp rooi rose in ’n emmer water.
“Hal-ló! Die kleur van passie,” spot Eben. “Het jy die Brit se voete onder hom uitgeslaan?”
“Wie sê dit kom van hom af?”
“Wie anders? Het jy nie vertel hoe ongemaklik vroeg hy al sy liefde verklaar het nie?”
Brenda staan met haar vuiste op haar heupe. “Ag tog, wat moet ek nou doen? Ek wil hom nie onnodig aanmoedig nie. Miskien moet ek die rose hier laat en –”
“Nonsens! Hierdie rose het hom baie geld gekos en dis baie mooi. Ek sal dit vir jou indra, dan rangskik ons dit. Jy kan slegter as dokter Wakefield doen, my dier. Hy kom uit ’n vooraanstaande familie, met ’n landgoed wat Hedding Manor genoem word. Ek het alles omtrent hom uitgevind. Sy oom is ’n lord en sy pa is ’n honourable, met ander woorde hy kan ook ’n lord word mits sy broer doodgaan, of so iets. Die ou lot se gewoontes is nog vir my betreklik duister. Ons vriend is nie te versmaai nie – skimp dat hy ons twee na sy family seat moet uitnooi. Die ou spul doen seker fox-hunting met honde en rooi jasse. Dink net watter goeie kontakte is dit. My snobistiese diplomat-broer sal so beïndruk wees.”
“Hemel, nee. Ek pas nie by sulke mense in nie, en ek het geen begeerte om sy familie te ontmoet nie. Bring maar die rose in. Ons kan nie dat dit hier verwelk nie. Ek moet met jou saamstem, dis darem te mooi om te mors.”
Sy maak koffie terwyl Eben die rose in drie houers rangskik.
“Iemand klop aan die deur,” roep hy.
Brenda gaan maak oop en daar staan Kevin. “Hallo, ek het gehoop jy sal tuis wees,” sê hy skamerig.
“Kom in.” Sy staan opsy en hy loop by haar verby.
“Hou jy van die rose …? O, hallo.” Brenda sien sy skok toe hy na Eben kyk.
“Laat ek julle voorstel,” sê sy vinnig. “Kevin, dit is Eben Brynard. Eben, dit is Kevin Wakefield.”
Sy onderdruk ’n glimlag toe Eben met ’n oordrewe slap pols kom groet, asof hy Kevin wil gerusstel dat hy nie straight is nie.
“Hallóó,” groet hy met ’n fynerige stemmetjie. “Hierdie rose is verruklik.”
“Ek is bly jy hou daarvan,” sê Kevin ongemaklik en kyk vraend na Brenda.
“Eben is beter met blomme as ek.” ’n Laggie borrel in haar keel op, maar sy sluk dit weg. “Kan ek vir jou ook koffie maak? Ons s’n is nog warm.”
“E … ja. Asseblief.”
Terwyl sy in die kombuisie werskaf, hoor sy die twee gesels. Albei lag. Dis ’n goeie teken. Eben kan tog so amusant wees, en hy ken ’n hele klomp baie snaakse grappe. Hy moet haar net nie vanaand alleen los by Kevin nie.
“Jou koffie, Kevin.” Sy gee die stomende beker vir hom.
“Dankie.”
“Kom sit,” nooi sy en neem plaas.
Hy gaan sit op die punt van sy stoel. “Ek het eintlik kom vra of jy nie die naweek saam met my wil huis toe kom nie, Brenda.”
Dis darem te gou om sy ouers te gaan ontmoet, dink sy geskok. Netnou dink hulle daar is iets tussen haar en hulle seun.
Sy sien hoe Eben ingenome agter sy rug grinnik en heftig knik, maar sy hou haar gesig uitdrukkingloos.
“Ek hoor julle woon op ’n landgoed,” sê Eben en kom nader. “Ons wonder nogal hoe lyk dié landelike herehuise. Dis goed wat ons in flieks sien, soos Gosford Park en The remains of the day.”
Brenda vries. Dis darem so ’n duidelike skimp dat hy wil saamkom. Sy skaam haar, maar terselfdertyd wil sy nie sonder sy morele ondersteuning gaan indien sy gaan nie.
Gelukkig lyk dit asof Kevin geamuseerd is. “Waarom kom jy nie saam nie? Ons het genoeg slaapplek vir ’n leërskare.”
“Oe, kan ek regtig? Dit klink fantasties.” Eben is die ene geesdrif, en Brenda suig haar wange in om nie te glimlag nie.
“Ry julle perd?” vra Kevin. “Ons teel perde, en ek ry dikwels gimkana en cross-country.”
“Ek het nooit leer perdry nie,” sê Brenda.
“Ek ook nie,” sê Eben.
“Dan moet ek julle dalk leer.”
Brenda frons. “Ek het nog nie ingestem om te gaan nie.”
Albei die mans kyk haar geskok aan.
“Jy gaan tog seker nie weier nie?” vra Kevin.
Sy lag. “Nee, dit sal lekker wees. En dankie vir die rose.” Met Eben as chaperone sien sy kans om te gaan. “Sal ek vir ons geroosterde kaasbroodjies maak?” vra sy, want sy is honger en Kevin lyk nie of hy van plan is om gou te loop nie.
“Ja, doen dit,” sê Eben. “My maag skree en ek het nie veel om te eet by my huis nie.”
Weer wil sy lag, want Eben is ’n regte lekkerbek en ’n uitstekende kok. Hy het gewoonlik veel meer in sy yskas as wat sy in hare het.
Die aand raak heel vrolik. Hulle eet en gesels en Brenda besef weer dat Kevin lekker geselskap kan wees. Verlief sal sy nooit raak nie, maar hy kan ’n vriend word.
Naderhand gaap sy. “Julle moet asseblief huis kry. Ek moet môreoggend vroeg opstaan.”
Ewe ordentlik gaan Kevin saam met Eben uit en Brenda sien hulle weg. Dis al elfuur, sien sy op haar horlosie.
Toe sy opkyk, kom Thomas van die trappe se kant af aan, hand om die lyf met die jong dokter wat verder in die gang af woon.
“Haai, my ou meisie, dis tyd vir bed,” groet hy haar in die verbygaan en Brenda besef hy is allesbehalwe nugter. Die meisie giggel net.
Brenda sluit haar deur en loop kamer toe. Gaan Thomas nou die nag by die meisie deurbring? Ag, hy kan doen wat hy wil. Dis nie haar besigheid nie. Hy het reeds die reputasie dat hy wild verby is.
’n Tekort aan metgeselle het hy sowaar nie, en dan vra hy nog vir haar wanneer hulle gaan koffie drink. Sy gee ’n minagtende snorkie.
Sy tap vir haar ’n lekker warm bad en gooi ’n skeut badolie in. Sy lê en nadink oor die dag se dinge en die uitnodiging na die Wakefields wat sy bykans verplig is om te aanvaar. Ten minste sien Eben uit daarna.
Kevin kom haal vir Brenda en Eben met ’n splinternuwe viertrek. Hy lyk behoorlik soos die Engelse aristokrate op TV by ’n perdebyeenkoms.
“Jy kan sien dié man is een van die horsey set,” fluister Eben in haar oor. “Dalk sien ons nog vir prinses Anne. Dalk gaan ons polo kyk, dan cheer ons vir prins Charles.”
“Sjjt,” betig sy hom glimlaggend. “Kevin sal dink ons skinder.”
Sy bewonder die pragtige landskap, groen en vrugbaar, met baie heinings en afgekampte velde. “Engeland se platteland lyk soos in die flieks,” sê sy.
“Mooi en mak,” reageer Kevin. “Ek sal weer graag Afrika wil sien. Leeus en olifante. Ek wou nog altyd jag.”
Sy grinnik. “Hulle loop nie in die strate rond nie, hoor. Hulle is in wildtuine.”
“Dalk moet jy my eendag gaan wys.”
Sy bly liewers stil en kyk na die landskap.
Die herehuis waar hulle aankom, is op reusegronde geleë, maar Brenda sien dadelik dat dit nie heeltemal die paleis is wat Eben hom voorgestel het nie. Dis egter groot en gerieflik en duidelik baie oud.
“Daar agter is ons perdestalle en -kampe,” beduie Kevin. In die verte sien hulle ’n klomp buitegeboue en mense wat perde buitetoe lei en ry.
“Waarom word jy ’n dokter as jy eerder ’n landheer kan wees?” vra Eben.
“Ek is die jongste van vier broers, en ek voel buitendien geroepe.”
“Wou jy nie eerder ’n veearts geword het nie?”
Kevin kyk hom geamuseerd aan. “My broer John is ’n veearts, en een in die familie is genoeg. My oudste broer, Desmond, gaan die landgoed erf. Hy is getroud, met twee seuns, en hulle bly in die oosvleuel van die huis. Eintlik bly almal nog hier, behalwe die tweede oudste, Stephen, wat ’n ouditeur in Londen is. En natuurlik ek, wat meesal by die hospitaal tuisgaan.”
Brenda is geamuseerd om te sien dat hulle regtig ’n butler het, en dat die huisbediendes uniforms dra. Sy voel asof sy in tyd teruggegaan het, asof sy op ’n filmstel is, en enige oomblik gaan ’n regisseur skree: “Cut!”
Die statige huis is pragtig gemeubileer en daar is groot skilderye teen die mure. ’n Enorme trap loop uit die portaal na die boonste verdieping. Dis die soort trappe wat ’n mens in flieks sien, waar vroue in aandklere afgesweef moet kom, dink sy.
Sy verwag amper dat die diensmeisie wat hulle ontmoet vir hulle ’n knieknik sal maak, maar sy groet net vriendelik.
“Sally sal vir julle jul kamers wys,” sê Kevin. “As julle gevestig is, kom ondertoe, dan gaan stel ek julle aan my ma en pa voor.”
Soos Brenda verwag het, is haar kamer groot en luuks. Sy verfris haar gou en daal dan met die trap af na die portaal, waar Kevin gelukkig in ’n leunstoel sit en koerant lees.
“Ek sou darem graag by hierdie trapleuning wou afgegly het,” hoor sy Eben roep, en hy kom afgespring.
Kevin lag. “Ek en my broers het dit wel gedoen toe ons klein was. Kom, die ou mense sit in die sonkamer.”
Brenda verwag twee grysaards, maar die Wakefields is op en wakker. Hulle is wel grys, maar albei lyk of hulle ’n aktiewe lewe lei, en albei is in tweeds aangetrek. Haar eerste indruk is dat hulle regte Britse upper-class is, die soort wat beheers en koel met ander omgaan. Die ma se fletsblou oë bekyk haar krities, van kop tot tone. Sy ervaar ’n tikkie wrewel – die vrou wonder natuurlik of sy goed genoeg sal wees vir haar seun.
“Mum, Dad, dis dokter Brenda Wiechers.” Hy spreek dit “Vickers” uit. “En dis dokter Eben Brynard.”
Brenda skud hand en sê aangename kennis, maar instinktief is sy lugtig vir die mense. Die pa kyk haar ook takserend aan.
“So, julle is Suid-Afrikaners?” vra die ma, asof dit nie regtig die soort mense is wat sy as vriende vir haar seun sou kies nie.
“Ja, ons is Suid-Afrikaners,” antwoord Brenda. Moedswillig voeg sy by: “Ons is eintlik Afrikaanssprekend. U kom dit seker aan ons aksent agter.”
Die fletsblou oë bly koud.
“Welkom,” sê die pa egter. “Ons hoop julle kuier lekker.”
“Kom ek wys julle ’n bietjie rond,” stel Kevin voor.
Hulle bekyk die huis en tuin, en toe neem hy hulle na die stalle waar hulle die pragperde kan bewonder.
“As julle wil, kan ek en Gerry, wat perdrylesse vir mense gee, môre vir julle rylesse gee,” sê Kevin.
“Ja, dankie,” aanvaar Eben opgewonde.
Brenda is nie juis gretig nie. By dié horsey set is dit seker ’n vereiste, so sy moet ook maar instem.
Brenda sit aan die groot tafel tussen Kevin en Eben en hou die Wakefields diskreet dop. Sy moes spesiaal vir aandete aantrek, en Kevin se ma is byna formeel geklee, met ’n halssnoer van die soort wat koningin Elizabeth graag dra. Dit lyk duur en oud. Die hele besigheid is formeel. Die oudste broer, Desmond, en sy vrou Sarah is daar, maar nie hulle kinders nie. Sarah lyk vir Brenda maar taamlik hooghartig.
Kevin sorg egter dat die geselskap vlot, en namate almal meer wyn drink en ontspan, word dit aangenamer. Mevrou Wakefield vra Brenda baie uit, en sy vermoed die vrou wil kyk waar sy haar op die klasseskaal kan inpas. Sy beantwoord die vrae volledig en bedaard.
Terwyl die ander oor perderesies praat, kry sy die geleentheid om vir Eben te fluister: “Dis nie ons mense dié nie.”
“Nee, hulle is vreeslik opstêrs,” fluister hy terug. “’n Mens sal aan hulle gewoond moet raak.”
Opstandig dink Brenda dat sy nie lus het om aan hulle gewoond te raak nie; sy is nie van plan om enigiets met Kevin aan te knoop nie. Sy het baie wat sy aan die wêreld en aan haarself wil bewys, maar haar paadjie loop in ’n heel ander rigting as die Wakefields s’n.
Meteens verlang sy na Suid-Afrika. Nostalgie het haar lank laas só oorval. Charl Naudé sluip ongenooid haar gedagtes binne. Dis waar mense soos hy is. Dis waar sy hoort.