Читать книгу My redder, my beminde - Malene Breytenbach - Страница 6
4
ОглавлениеAdela is stokstyf van spanning toe verpleegster Jackie haar kom haal om haar af te neem na die grondverdieping waar dokter Beresford se spreekkamer is.
“Kan jy my sê watter soort man die dokter is?” vra sy.
“O, hy is wonderlik, maar foeitog, hy het ook ’n tragedie in Suid-Afrika oorgekom. Hy en sy vrou het gaan seil en in ’n storm beland. Hul boot het gesink. Sy het verdrink. Hy het haar glo probeer red, maar tevergeefs. Toe kom hy Engeland toe.”
Deernis teenoor James Beresford wel in Adela op.
In die hyser sê Jackie: “Dokter Beresford is regtig bekwaam en een van die aantreklikste mans wat ek nog ontmoet het. Maar met sy voete plat op die aarde. Geen fieterjasies . . .”
Die hyser se deur gaan oop en sy sluk haar woorde in. Sy stoot Adela tot by ’n gang met ’n blink teëlvloer. Daar is ’n sagte gezoem van stemme. Adela se hart klop in haar keel. Waarom voel sy nou meteens so gespanne? Sy kan immers voor groot gehore optree en is gewoond aan skares.
’n Bronsplaat met Dr James Beresford, Director toon aan waar sy spreekkamer is. ’n Ontvangsdame sit agter ’n toonbank in ’n klein lokaal met net twee stoele vir pasiënte. Niemand anders wag hier nie.
“Ek bring juffrou Morgan na dokter Beresford,” sê verpleegster Jackie.
“Dokter verwag julle.”
Adela sluk senuagtig toe sy klop en ’n stem van binne af gehoor word. Die verpleegster stoot haar in.
Hy wag vir hulle agter ’n lessenaar, met sy donker kop gebuk oor iets op sy tafel. Hy kyk op. “A, goeiedag, juffrou Morgan. Hoe gaan dit nou?”
“So-so, dankie.” Soos voorheen, slaan hy haar asem weg.
Hy kyk na die verpleegster wat hom aanstaar. “Stoot juffrou Morgan tot hier voor die groot spieël, dankie. Ek wil haar net eers van naderby bekyk. Jy kan solank in die wagkamer wag, asseblief. My eerste ondersoek sal nie lank duur nie. Ek sal jou roep wanneer ek klaar is.”
Hy kom agter die lessenaar uit en trek ’n stoel nader. Adela sit stokstyf soos ’n meerkat op sy agterpote. Wag dat hy die wonddekking op haar wang afhaal. Hy werk sagkens. Toe dit af is, kyk hy na die letsel. “Mmm.”
Dink hy dit is erger as wat hy verwag het? Sy kyk na hom en probeer haar vrees wegsteek.
Die groot man sit oorkant haar en kyk stip na haar. Hul knieë raak amper. Sy ruik naskeermiddel en merk die sterk, skoongeskeerde kaak en bolip, met die skadu van swart baard op. Sy vel is glad en gesond, en hy is besonder bruin gebrand in vergelyking met die plaaslike mans. Langs die blink donker oë is lagplooitjies. Tussen die pikswart, redelik swaar wenkbroue keep ’n frons. Dit voel asof hy dwarsdeur haar kan sien. Asof hy kan sien hoe sy innerlik wroeg.
Sy laat sak haar oë en kyk na sy groot, welgevormde hande, met die prominente are, kort, skoon naels en swart haartjies aan die rugkant, wat op sy knieë rus. Hy het die vingers van ’n pianis. Dra nie ’n ring nie. Sy wip amper toe hy een hand lig en haar aanraak. Sy vingers sluit liggies om haar ken. Saggies draai hy haar kop heen en weer, kyk na die profiel, beskou haar reg van voor af. Die groot, donker oë tussen swart wimpers konsentreer so intens op haar dat sy hom amper nie in die oë kan kyk nie. Waarom voel sy tog nou so vreemd geïntimideer? Sy het mos genoeg selfvertroue, veral wat mans betref, herinner sy haarself vir die soveelste keer.
“Hmm, bykans ’n perfekte skedel: ronde hoë wangbene, oë goed geplaas, hoë voorkop, oogkaste ongeskonde, kaak en mond goed gevorm.”
Sy word warm onder sy vingers toe sy bloos. Hy kug liggies, kyk streng professioneel na haar. Sy moet haar nie verbeel hy komplimenteer haar skoonheid nie. Sy maan haarself weer dat hy net kyk met watter soort materiaal hy moet werk.
Hy los haar ken en sit effens terug. Sit met sy hande op sy knieë en kyk stip na haar.
“Mense wat hierheen kom met watter probleem ook al, is nie bloot materiaal en weefsel wat ons verwerk nie. Hulle het ook sielkundige letsels of vrese. Jy is bang dat so ’n besering jou loopbaan sal benadeel. Ek kan jou vrees verstaan. Jy is nie die eerste pasiënt wat met dié vrees voor my sit nie. Ek verseker jou dat ons al mense wat moedeloos was, gelukkig hier weggestuur het.”
Adela knik. Ja, hy is gewoond aan die ydelheid van beroemdes. Miskien keur hy dit heimlik af, maar hy maak terselfdertyd ook sy bestaan daaruit om daardie ydelheid te bevredig. “Ek sal jok as ek sê ek is nie bang vir permanente skade of dat ek nie kwaad is oor wat met my gebeur het nie. Ek voel heeltemal uitgelewer aan die genade.”
Die skerp oë versag. “Dit is natuurlike reaksies, juffrou Morgan. Jy is nie bloot hier omdat jy mooier gemaak wil word of jou natuurlike voorkoms wil verbeter nie. ’n Ramp het jou getref. Maar ons kan daardie ramp se skade beperk.”
Sy woorde laat haar sommer veel beter voel. “Jy kan my gerus Adela noem, dokter, aangesien jy my heeltyd gaan sien.”
Sy wenkbroue wip op. Hy glimlag, maar sy bespeur ’n sweem van onwilligheid.
“Goed, Adela, hoewel ek gewoonlik nie op voornaamterme met my pasiënte is nie.”
“Jy behou ’n professionele afstand,” sê sy skerper as wat sy bedoel het en kry dadelik skaam toe hy afkeurend na haar kyk.
“Ja, maar ek sal jou Adela noem as jy wil. Eintlik ken ek jou lankal. Ek het jou in meer as een rolprent gesien.”
Verstom gaap sy hom aan. “Kyk jy graag na periode-films?”
Hy grinnik meteens. “Jy sal dit seker nie glo nie, maar ek hou nogal van Jane Austen se goed. Dit is na alles fyn sosiale kritiek. Ek kyk ook graag na enigiets waarvan Sam Williams die regisseur is. Hy maak nie snert nie.”
“Wel, dis ’n verrassing.”
Sy grinnik verdwyn. “Dink jy dan dokters stel nie in die kunste belang nie?”
“My broer, Vernon, is ’n dokter en hy stel in die kunste belang. So waarom nie jy ook nie?”
Hy kyk haar sedig aan. “’n Man moet darem wye belangstellings hê.” Hy staan op. Sy blik gaan oor haar pols en enkel in gips. “Een van die dae loop jy weer, is jy perdfris en reg vir die verhoog en kameras.”
Sy moet hom vertrou. Terselfdertyd moet sy haar afstand behou en nie emosioneel deur hom begogel word nie. Pasiënte kan tog so maklik op hul dokters verlief raak, en hy is juis uitsonderlik aantreklik.
“Goed, ons doen vanmiddag skanderings,” sê hy. “Dan sal ek jou wond behoorlik ondersoek. Dit is voorlopig al.”
Hy loop na die deur en kyk uit. “Nurse Donaldson, you may fetch Miss Morgan now, please.”
Net nadat hulle uit is, staan James ingedagte voor sy lessenaar, hand teen die ken. Ja, die skade aan Adela Morgan se mooi gesig is erg, maar hy kan dit hopelik so behandel dat dit uiteindelik net ’n byna onsigbare strepie sal wees.
Hy het nou sowaar oorboord gegaan. Hoekom het hy haar vertel dat haar skedel perfek is, plus al die ander komplimente, veral dat haar kaak en mond goed gevorm is? Wat op aarde het hom ingevaar?
Dat sy ’n volmaakte voorbeeld van die vroulike geslag is, is waar. Om aan haar te vat en so teen haar te sit was glad nie onaangenaam nie. Selfs steurend. Hy vermoed sy het dié uitwerking op die meeste mans. Hulle wil daardie pragtige lyf seker in hul arms in trek en haar natuurlike rooi, vol mond soen.
Hy vermoed sy is besonder intelligent. Hy het iewers gelees dat sy haar dramagraad op Stellenbosch met onderskeiding geslaag het en rolle kan vertolk wat hoë vereistes stel.
Hy kan dit nie ontken nie: sy is ’n merkwaardige vrou.
Sy wek begeerte by hom wat hy moet onderdruk. Gelukkig het hy al geleer om sy ware gevoelens weg te steek en sy aangetrokkenheid tot pasiënte te beheer. Dit gaan mos gou verby. Hulle kom en hulle gaan. Hulle word bloot sy produkte, en hy voel goed wanneer hy aan hul vereistes voldoen en hulle gelukkig gemaak het.
Die probleem is net hy was nog nooit tevore só sterk tot enige van sy pasiënte aangetrokke nie. Dis die feromone wat werk. Damn it!
Hy moet net altyd in gedagte hou dat sy presies die soort mens is wat nié by hom pas nie: ’n bekende aktrise.
Doen hy dit, behoort hy veilig te wees.
Verpleegster Jackie Donaldson neem Adela terug na haar suite. Sy gesels al die pad.
“Die operasiesale en X-straaleenheid is in die oostelike vleuel. Vanmiddag neem ek jou soontoe. Nou sal middagete in jou suite bedien word. Daar is ’n eetsaal waar pasiënte kan gaan eet wanneer hulle so voel, maar die meeste van julle verkies om weg te krui . . e . . . privaat te wees.”
Adela glimlag vir die blaps. Die verpleegster is nie katterig nie, maar sy praat baie en haar tong hardloop met haar weg, dan is sy verleë. Die soort mens wat nuuskierig en oplettend is en daarom ’n bron van inligting.
Terwyl hulle in die hyser is, vra Adela haar uit oor die ander mense op hul verdieping. “Hoeveel van hulle is daar?”
“Daar is vier: ’n man en drie vroue.”
“’n Man ook?”
Jackie Donaldson giggel. “Ja, sy neus is skeef geslaan in ’n boksgeveg, nou moet dokter Beresford dit weer regstel. Hy werk aan die man se ore ook. Dié is blomkool geslaan. Verder is hy nogal nie lelik nie.”
Adela lag. “Arme man. En die ander?”
“Een vrou het ’n gesigontrimpeling ondergaan wat misluk het, nou word dit reggetrek. ’n Ander een se borste het ongelyk gesit, want die borsvergroting wat sy by iemand anders laat doen het, het lelik geflop. Die derde een wil net eenvoudig jonger lyk, en dokter moet haar plooie regtrek en uitstryk. Dokter Beresford moet mos ander plastiese chirurge se brouwerk regmaak. Hy is bekend daarvoor.”
Nee, dit is seker nie mooi om te lag nie, maar skielik kan Adela haar nie bedwing nie. Sy skud van die lag toe die hyserdeur oopgaan. Haar wang kry eintlik seer.
“Moenie vir iemand sê ek praat oor die pasiënte nie, asseblief,” smeek Jackie Donaldson. “Hulle sal my so gou afdank dat ek op my gat in die pad gaan sit.”
“Nee . . . nee, ek sal nie . . .” kry Adela so deur die lagbui uit.
Toe Jackie haar in die gang af stoot, kom twee mans in wit uniforms met ’n kostrollie verby.
“Hulle lewer die middagetes af,” sê Jackie. “Almal het fiemies. Die een vrou is ’n vegetariër, die man wil vleis hê, die ander twee eet seker soos voëltjies, want hulle is brandmaer.”
“Ek het nie te veel fiemies nie,” sê Adela oor haar skouer. “Ek moes my kosvoorkeure aandui. Ek eet net nie vetterige kos of te veel stysel nie. As ’n mens alles matig doen, het jy nie probleme nie.”
“Wel, jy eet blykbaar gesond, want jy het ’n fantastiese figuur.”
Hulle is net by haar kamer toe die deur langsaan oopgaan en ’n fris man, met pofferige oë bokant neusdekking en ’n skoongeskeerde kop, in ’n handdoekstofjapon uitkom. Hy kyk verbaas na Adela. Daar is ook wonddekking oor sy ore. Nogtans straal hy ’n ruwe soort manlikheid uit.
Adela skat hom in die veertig.
“Oh, hullo,” groet hy in ’n grinterige stem. “Jy is flenters, hè, maar mooi. Ek is Jack Benson. Wie is jy?”
“Adela Morgan. Aangename kennis.”
Sy blik talm op haar, gaan na verpleegster Jackie, en weer terug na haar. “Is jy nie daardie filmster wie se gesig so vreeslik geskend is nie?”
Adela sug ergerlik. “As jy van my praat, ek is ’n aktrise, nie ’n filmster nie, en my gesig is nie so erg geskend dat dit nie kan herstel nie.”
“Ag, nou ja, mense oordryf mos vreeslik, veral in die pers.”
“Verskoon ons asseblief,” sê die verpleegster.
“Oukei, ek wou eintlik net sien of die kos al kom. Ek is vaal van die honger.”
Jackie maak die deur oop. Hulle gaan in. Toe die deur agter hulle toe is, sê Adela: “Wel, nou het ek die man met die skewe neus en blomkoolore ontmoet.”
Jackie giggel. “Ja, soos ek gesê het, hy’s nie heeltemal lelik nie, nè? Sy oë het omtrent uitgepeul toe hy jou sien. Dit gebeur seker heeltyd met jou.”
“Ag, nee, nie regtig nie. Ek is ook honger. Ek hoop ek kry binnekort kos.”
“O ja, ek sal daarvoor sorg.”
Jackie help Adela eers na die badkamer en gaan roep toe die kelners. Adela het net by haar tafel gaan sit toe hulle inkom met ’n geurige bord kos en ’n bak mengelslaai. Die hoenderborsie, rys en groente word vars en aantreklik aangebied, en lyk nie naastenby so vervelig soos gewone hospitaalkos nie.
“This looks delicious,” sê sy vir die kelners.
“Would you like some wine with your food, Miss?” vra die een.
“Nee, dankie, net bruiswater. Ek dink nie ek moet alkohol gebruik terwyl ek medikasie kry en vanmiddag ’n gesigskandering ondergaan nie. Bedien julle altyd ons kos op dié vloer?”
“Ja, juffrou,” sê die lang, maer een. “Ek is Simon, en dit is George.”
Die kort, ronde George glimlag vir haar. “Bly te kenne, juffrou Morgan. Mag ek so voorbarig wees om jou handtekening te vra?”
Adela glimlag terug. “Met plesier.”
Hy haal ’n notaboekie en pen uit sy sak. Sy teken haar naam.
Hy kyk ingenome daarna voordat hy die boekie weer in sy sak steek. “Dankie, ek versamel handtekeninge vir my meisie. Hier kom mos gereeld beroemde mense na ons kliniek.”
“Geniet jou maaltyd, juffrou Morgan,” sê Simon. “Jy kan enige tyd iets bestel, en ons bring dit dadelik. Ons twee werk op dié vloer.”
“Dankie Simon en George, ek gaan die kos verslind.”
“Ek sien jou tweeuur vanmiddag,” sê verpleegster Jackie. “Ek gaan ook gou eet. Maar as jy my enigsins voor dan nodig kry, moenie huiwer om my te roep nie.”
Terwyl Adela alleen eet, wonder sy oor die vroue op haar verdieping. Jackie het haar nuuskierig gemaak.