Читать книгу Vlug na Santorini - Malene Breytenbach - Страница 5
3
ОглавлениеErika het Athene toe gevlieg en van daar vlieg sy per Airbus na Santorini se internasionale lughawe. Die vliegtuig na die eiland is vol vakansiegangers – vrolik, vlugvoos, sommige kekkelend soos ’n klomp hoenders. Uit die lug sien sy met ’n ruk van haar hart die ongelooflike blou Egeïese See en die kurwe van die eiland onder haar. Landarms vou om die caldera. Spierwit passasierskepe dryf soos spikkels op die blou water. Die wit geboue van die ingerygde dorpies sit soos ’n kors op die bruin hoogtes vasgeplak. Sy is so opgewonde om weer hier te wees. Dit voel amper soos ’n soort tuiskoms.
Sy het haar reëlings in Kaapstad vinnig afgehandel en voel bevry. Nadat sy vir hom die redes uitgespel het, het haar baas ingestem dat sy twee maande lank van die werk mag weg wees. Sy sal egter vir ’n maand onbetaalde verlof moet neem. Haar Clifton-huis word verhuur en sy kry ’n goeie inkomste daaruit. Haar motor sal by Connie se huis staan en Connie sal nou en dan daarmee ry.
Erika sien geweldig uit na die vakansie. Haar tannie Helena was verheug toe sy haar laat weet het sy kom kuier, en het belowe om haar by die lughawe te kom haal.
Sy het haar probeer netjies maak na die vlug, maar weet sy lyk verkreukel en vlugvoos in haar denims, blou bloes en tekkies. ’n Mens lyk so as jy ver in ekonomiese klas gevlieg het, dink sy meewarig. Sy kon besigheidsklas gevlieg het, maar dit is ’n onnodige uitgawe. Sy kan daardie ekstra geld beter gebruik.
Die vliegtuig land en die passasiers tou uit. Toe Erika by die deur uit is en met die trappe afloop tot op die teerblad, voel sy die somerson op die aarde neerbak. Sy sien ’n privaat straler daar naby staan wat lyk soos die vliegtuie waarmee vername mense in die flieks vlieg. Dit is spierwit, met die naam Atlantis in groot donkerblou letters op die romp geverf. Drie mense klim by die trappe af, waarvan een ’n besonder lang man is. Hy dra ’n netjiese ligte linnepak in die hitte en met sy lenige lyf, breë skouers en blink donker hare wek hy die indruk van ’n aantreklike man, al kan Erika nie sy gesig mooi uitmaak nie. Hy lyk vir haar na ’n besoekende filmster, maar hy dra ’n aktetas. Waarskynlik een of ander ryk sakeman. Een van die sogenaamde Griekse magnate?
Sy is gefassineer en wens sy kan hom goed bekyk, maar voor hom loop ’n fris man wat soos ’n lyfwag lyk. Haar skouersak gly af en val op die grond. Die inhoud spat uit. Vies en verleë hurk sy om alles op te tel en in haar sak terug te prop.
Sy loop vinnig na die lughawegebou. Haar tannie wag seker al vir haar.
“Juffrou! Juffrou!” klink ’n stem skielik hard agter haar op.
Roep iemand háár? Sy draai om. Die fris man wat voor die aantreklike man geloop het, kom vinnig na haar aangeloop met iets in sy hand. “Jou paspoort, juffrou.”
Hemel, dit moes op die grond agtergebly het nadat sy haar goed opgetel het. Amper was sy in ’n groot penarie.
“Baie dankie,” sê sy glimlaggend en neem dit by hom. Hy glimlag breed vir haar, sy oë vol openlike bewondering. In haar gehawende toestand voel sy nogal gevlei.
Die ander mans kom ook oor die aanloopbaan aangestap. Nou kan sy die mooi man in die ligte linnepak duidelik sien. Sy is oombliklik so betower dat sy in haar spore vassteek en na hom staar. Hy knik vir haar en sy kom tot verhaal. Hemel, wat moet hy – hulle almal – dink as sy hom so staan en aangaap? Sy maak mos ’n gek van haarself. Hulle is nou naby mekaar en sy sien dat hy ’n sterk gesig met donker oë het.
“Toeriste moenie hulle paspoorte verloor nie,” spot hy. “Daarsonder sal jy nie ver kom nie.”
Sy Engels is goed, maar daar is ’n effense aksent. “Ek belowe dat ek dit nie weer sal doen nie,” spot sy terug, draai om en stap vinnig aan na die lughawegebou. Sy kom agter haar hart bons soos ’n verliefde tiener s’n. Wat gaan met haar aan? Kyk hoe oorreageer sy. Tog, dit is seker die mooiste man wat sy nog in lewende lywe gesien het, en hy straal manlikheid uit. Wie sou hy wees? Watse sakeonderneming of lugredery is Atlantis?
Sy kry haar bagasie en loop met haar trollie deur tot in die aankomssaal. Kyk rond of sy weer die mooi man sien, maar hy en sy lyfwagte is nêrens. ’n Lang, aantreklike middeljarige vrou in ’n geblomde rok wuif vir haar. Sy herken haar tannie Helena en loop haar tegemoet.
“Welkom, my liewe kind!” roep haar tannie uit en omhels haar. “Dis so lekker dat jy vir ons kom kuier.”
Erika voel sommer geborge. “Dis heerlik om hier te wees. Dankie dat tannie my kom haal het.” So spring sy die los gemaal vry van massas mense wat met openbare vervoer na hulle bestemmings moet ry.
Haar tannie beskou haar ondersoekend. “Jy het darem sowaar mooi geword, Erika. Jy lyk op ’n druppel water soos jou oorlede ma, behalwe dat jy blou oë en blonde hare het. Dit het jy van die Moody’s gekry. Ek het altyd gedink jy gaan lank en skraal wees, soos ek en jou pa. Kom, jy is seker moeg van die lang reis.”
Hulle loop deur die massa mense na buite. Erika sien ’n groot wit Porsche Cayenne ’n entjie weg geparkeer staan. “Haai, kom tannie my met daardie beskeie ou motortjie haal?” grap sy.
Haar tannie lag. “Nee, my liewe kind, dis Paul Michelakis van Atlantis se ou motortjie.”
Die groot viertrek ry by hulle verby. Erika kan niemand binne sien nie, want die ruite is donker.
“Wie is hy en wat is Atlantis?” vra sy.
“Atlantis is ’n groot maatskappy wat ’n skeepsredery, ’n lugredery en eiendom op die eilande en in Athene besit. Hy is die kroonprins. Sy pa is die bekende magnaat Petros Michelakis. Jy sal nie weet wie dit is nie, maar almal in Griekeland weet wie hulle is. Petros Michelakis is soos Ari Onassis wat later met Jackie Kennedy getrou het.”
“Nou toe nou.” ’n Man ver bo haar vuurmaakplek.
Hulle loop na ’n parkeerterrein en reguit na ’n swart bussie met Guest House Antoniou in wit op die deur geverf. Helena maak dit agter oop en hulle laai Erika se groot tas en handbagasie in.
“Ek stuur gewoonlik my handlanger, Spiro, om mense by die hawe of lughawe te gaan haal, maar ek moes darem self my broerskind kom verwelkom,” glimlag Helena.
“Baie dankie. Ek voel regtig welkom.”
Hulle klim in en Helena ry tussen die vele motors, busse en taxi’s by die lughawe uit. “Hoe gaan dit met Sophia en Yannis, tannie Helena?” vra Erika.
“Baie goed, dankie. Hulle werk hard by die nuwe argeologiese terrein langs Akrotiri. Yannis is nou doktor Antoniou. Ek is so trots op hom. Sophia beplan ook om haar doktorsgraad in argeologie te kry. Hulle weet jy kom kuier en sal jou kom groet. Jy moet gaan kyk wat hulle daar doen. Dis vreeslik interessant. Hulle het al wonderlike oudhede ontdek en dit maak opslae. Mense noem Yannis die nuwe Marinatos. Professor Spyridon Marinatos was mos die argeoloog wat die Minoïese Akrotiri ontdek en opgegrawe het.”
“Ek sal dit graag wil sien. Ek dink dis vreeslik opwindend om ’n argeoloog te wees wat kultuurskatte ontdek.”
“Veral hier in Griekeland is dit ’n lekker beroep. Hier is nog soveel om te ontdek. Dit hou nooit op nie.”
Dit neem ’n rukkie voordat Erika weer gewoond raak dat hulle aan die “verkeerde” kant van die pad ry. Hier is dit aan die regterkant in plaas van aan die linkerkant soos in Suid-Afrika. Wingerde verskyn aan weerskante van die pad, klein en vaalgroen in die dorre landskap. Hulle ry tussen grysgroen heuwels deur en die huise en ander geboue word al meer. Die meeste geboue is witgekalk.
“Jy onthou seker nog van jou vorige besoeke dat ons nie na Fira gaan nie, maar na Oia,” sê haar tannie.
“Ek onthou hoe mooi dit is, met ’n asemrowende uitsig oor die caldera.”
Erika verlustig haar in die bekende plekke wat weer verskyn, maar nou sien sy meer tavernas, winkels en besighede as in die verlede. Die dorpe wat eens afsonderlik was, loop nou aaneen. Uiteindelik draai Helena af in ’n straat van witgekalkte huise, gastehuise en hotelle en ry tot in ’n doodloopstraat, waar sy parkeer.
“Ons loop van hier af. Voertuie kan nie verder by Oia inry nie. Jy onthou seker?”
“Ja, ek onthou.”
Hulle kry haar bagasie en loop met ’n smal paadjie tussen wit mure deur. Erika se tas wip op die keistene. Uiteindelik kom hulle by ’n blou hek met Guest House Antoniou in groot wit letters daarop geskilder. Helena maak dit oop en hulle gaan in. Erika herken met ’n gevoel van lekkerkry weer die binneplein vol potte met blomme en struike, suurlemoenboompies, rankende jasmyn en rooi bougainvillea. ’n Soet blomgeur hang in die lug. Onder blou en wit sambrele staan tafels en stoele met blou-en-wit gestreepte kussings.
“Ag, dis nog net so mooi soos destyds!” roep sy verruk uit.
Helena lag. “Welkom tuis.”
Oorkant die binneplein is nog ’n blou hek. Helena maak dit oop en lei Erika by trappe af. Erika gaan staan en verkyk haar aan die uitsig. Onder hulle lê die blou caldera. Links en regs is die wit geboue van die aaneenlopende dorpies en in die verte sien sy die arms van ’n windmeul en die blou koepels van ’n kerkie.
“Jy bly weer waar jy en jou pa laas gebly het,” sê Helena.
Erika se hart krimp ineen. Ja, hulle was hier na haar ma se dood en hulle het nog gerou.
“Dis nog net so mooi en lekker soos ek onthou,” sê sy vir haar tannie.
“Ek is bly. Pak uit, verfris jouself en kom daar na my huis toe, dan maak ek vir jou ietsie te ete en te drinke. Jy kom eet jou maaltye by my. Maria is nog hier – jy sal haar seker onthou: my assistent wat met alles help, van skoonmaak tot kook. Spiro is haar seun. Hy was laas nog op skool. Hulle twee is met die bakkie weg om te gaan voorrade aanskaf. Die gastehuise is almal vol bespreek. Dis eintlik nooit leeg nie, behalwe soms buite seisoen. Ek sien jou nou-nou.”
Aan die voorkant lyk die wooneenheid soos ’n huisie, maar agter is dit ’n grot wat in die berg ingegrawe is. Binne is dit heerlik koel in Santorini se hitte. Die klein witgekalkte stoepie het ook stoele met blou kussings en op die wit tafel staan ’n potplant met rooi blomme. Erika sit haar bagasie in die een slaapkamer neer, waar alles ook wit en blou is. Die beddegoed is pragtig geborduur en alles lyk silwerskoon. Die badkamer is ook spierwit met blou handdoeke. Daar is ’n klein kombuisie waar sy en haar pa vir hulle tee en koffie gemaak het en versnaperinge in die yskas gebêre het. Sy sien daar is tee, koffie en suiker, melk in die yskas en ’n glasbak met koekies.
Erika pak uit, stort en trek skoon aan. Sy sal vir Connie laat weet dat hier nog ’n kamer in haar eenheid is waar sy kan kom bly. Dit voel vir Erika asof sy die stres en angs saam met die stof van haar afgewas het en net kan ontspan. Hier sal sy weer haar lewensvreugde terugkry.
Terwyl sy na haar tannie se huis loop, dink sy aan die imposante Paul Michelakis van Atlantis. ’n Man soos ’n Griekse god. Sy grinnik vir die geykte vergelyking, maar hy is sowaar uitsonderlik. Sy sal hom seker nie weer sien nie, maar sy sal hom beslis onthou. Hy sal weer in haar drome verskyn.
Erika tref haar tannie aan in die sitkamer vol swaar ou meubels, kleurvolle kussings, baie ornamente, blomme in potte en koperlampe wat van die plafon afhang. Helena sit by ’n koffietafel met ’n skinkbord stomende koffie en die Griekse koekies waarvoor Erika destyds so lief was: diples, gemaak met baie neute.
“My gunsteling!” sê Erika. Dit laat haar terugdink aan haar ma se lekker kos, die baklava wat sy altyd gemaak het, die moussaka, die dolmades, die frikkadelle, die Griekse gebak.
“Kom, jy is seker honger en dors. Ons eet oor ’n uur middagete wanneer Maria en Spiro terug is. Die kos is in die oond. Ek het moussaka gemaak. Julle kon laas nie genoeg kry daarvan nie – maar ek moet erken, ek het ’n besonder lekker resep.”
Erika gaan sit om te eet en drink. Terwyl sy haar in die heerlike smaak van die koekies verlustig, kom sy agter dat Helena haar ondersoekend aankyk.
“Jy het my iets vertel van probleme wat jy opgedoen het en daarom kom jy hier kuier. Ek het gedink dit gaan goed met jou na jou pappa se dood. Jy het mos ’n goeie werk. Ek weet hy was nie ’n arm man nie en hy moes jou goed nagelaat het. Waarom en vir wat vlug jy?”
Erika is verplig om haar die hele verhaal van Cas te vertel. Haar tannie luister fronsend en sonder om haar in die rede te val. Toe Erika klaar is, sug sy. “Ja, mans kan baie probleme veroorsaak as hulle nie goeie, hardwerkende broodwinners is nie. En ’n man wat sy hand vir ’n vrou oplig, is ’n onding. Daardie nare vent moet sommer tronk toe gaan, maar hulle kom gewoonlik daarmee weg. Die ding is net, die slagoffer is dan getraumatiseer.”
“Dis waar,” erken Erika meewarig. “Ek is half bang vir mans deesdae. Ek het so ’n skok weg en is so ontnugter.”
Helena kyk haar skewekop aan. “Foeitog, maar mooi mense soos jy word makliker geteiken as die vales. Daardie trauma moet darem naderhand vervaag. Glo my, ek weet wat dit is om deur mans geteiken te word.”
Erika kan dit glo, want in haar kop was haar tannie se skoonheid omtrent so legendaries soos Helena van Troje s’n. Sy is steeds op haar ouderdom ’n besonder aanvallige vrou, al word sy grys en is daar plooitjies om haar oë.
“Dis goed dat jy daar weggekom het,” sê Helena. “Daardie man sal besef jy is regtig weg en hy kan niks aan jou doen nie. So ’n niksnuts. Wel, hier kan jy ontspan en weer sterk word. En dan, wanneer jy van die trauma herstel het, kan jy teruggaan.”
“Dis so lekker om weer hier te wees. Ek kan nie genoeg dankie sê vir tannie se gasvryheid nie.”
Helena glimlag teer. “My liewe kind, ons is familie en familie staan mekaar by. Ek was so lief vir jou ma en pa en ek is vir jou ook lief. Jy is ’n beeldskone mens en ek gun jou net die beste in die lewe. Ware liefde – standhoudende en ewige liefde, nie die soort wat suur word nie.”
“Ek dring natuurlik aan om vir my verblyf te betaal, tannie Helena.”
Haar tannie kyk haar geskok aan. “Liewe hemel, ek sal dit mos nooit aanvaar nie! Jy is my gas. Jy is familie. Jou ma is oorlede en ek is nou jou nuwe ma.”
“Dankie,” sê Erika, so aangedaan dat haar oë brand.
Maria en Spiro kom by die blou hek in met sakke vol kos.
“Maria, jy onthou mos vir Erika, die dogter van my broer, James Moody, en sy vrou, Eudora?”
Maria glimlag breed. “Ja, Erika is nie iemand wat mens maklik vergeet nie. Daarvoor is sy te mooi. Welkom by ons.”
Spiro, wat Erika skat agtien of negentien jaar oud kan wees, bloos bloedrooi toe sy hom groet. Hy is so die kluts kwyt dat sy verbaas en geamuseer is. Toe sy hom laas gesien het, was hy nog ’n seun.
Nadat Maria en Spiro die voorrade weggepak het, dek Maria vinnig die eetkamertafel en bring Griekse slaai met fetakaas en die stomende moussaka, wat heerlik ruik. Helena skep vir Erika ’n groot porsie van die lamsvleis-en-kaassousdis in en gee vir haar die slaai aan. “Smaaklike ete!”
Erika smul terwyl hulle al etende gesels, meesal in Grieks, wat sy hier en daar verstaan, maar hulle praat vinnig en haar Grieks is verroes.
“Spiro vertel dat sy vriend Jim Murray, ’n Amerikaner wat ’n vreeslik oulike boekwinkel hier in Oia begin het, daaraan dink om binnekort terug te keer na die VSA. Nou is die besigheid te koop.”
“Ek gaan hom mis,” sê Spiro treurig. “Ek het soms in die winkel gaan help en dit was lekker.”
“Waar is die winkel?” vra Erika.
“Nie ver van hier af nie,” antwoord Spiro. “Heavenly Book Den.” Sy wange word rooi en hy kyk skamerig na haar. “Ek kan jou gaan wys as jy wil. Voordat dit verdwyn en iemand ’n gastehuis van die perseel maak.”
“Dit sal gaaf wees. Kan ons môre gaan? Vandag wil ek net rondloop en alles weer bekyk. Hier is sulke heerlike winkeltjies en boetiekies. Ek wil gaan kyk of dié wat ek onthou, nog daar is.”
Spiro kyk na Maria en Helena. “Kan ek haar môreoggend gaan wys? Ek sal nie lank wegbly nie.”
“Ja, doen dit gerus,” sê Helena. “Ek weet Erika is lief vir lees en boeke, soos haar pa.”