Читать книгу Vlug na Santorini - Malene Breytenbach - Страница 7
5
ОглавлениеErika neem haar rugsakkie en gaan dwaal in die besige straatjies van Oia rond. Sy loop met die baie trappe op en af, verlustig haar in al die winkeltjies en stalletjies met poskaarte, skilderye van die eiland, krale en juwele, erdewerk en klere. Al geniet sy dit om na die kleurryke verskeidenheid van die soewenierwinkels te kyk, verbaas sy haar vir die hoë pryse. Sy koop vir haar ’n paar handgemaakte leersandale by ’n klein boetiek en probeer vergeet van haar onlangse aaklige ondervindings. Elke keer as sy aan Cas dink en hoe hy haar rondgepluk het, gaan sy aan die bewe. Nou stoot sy dit weg; bêre dit diep in haar agterkop en haal dit nie uit nie.
Môre gaan Spiro vir haar die boekwinkel wys. Daarna wil sy Fira gaan verken. Sy sal al met die klipstraatjie Nikalaou Namikaou daarheen stap. Dis ’n hele entjie – maklik tien kilometer. Sy sal in Fira ronddwaal en die winkels soek wat sy onthou. Daar was wonderlike juweliers. By een het haar pa vir haar ’n goue kruisie met ’n robyn aan ’n fyn goue kettinkie gekoop.
Terwyl sy loop, dwaal haar gedagtes onwillekeurig terug na die mooi man in die ligte linnepak. Waar sou hy nou wees? Wat doen hy? Naderhand sal sy seker van hom vergeet …
Sy kom by die Grieks-Ortodokse kerkie van Panagia met sy blou koepels. Onthou dat sy en haar pa hier was. “Panagia” beteken Maria. Hulle het gekom om kerse vir haar ma te brand. Sy kry ’n knop in haar keel en besluit om in te gaan, weer na die fresko’s, die goue kandelare en ikone te kyk, en aan haar ma en pa te dink. Dit is koel binne en daar is ander toeriste. Sy probeer om haar nie aan hulle te steur nie.
Erika kyk op haar horlosie. Sy het lank rondgedwaal en dit is seker tyd om terug te gaan na tannie Helena toe. Van hier af is daar die wonderlikste uitsig op die verstommend mooi sonsondergang. Sy dink terug aan die sonsondergange van Clifton. Nee, sy gaan nie nou daaraan dink nie. Sy is nou op Santorini en sy gaan elke oomblik geniet.
Toe sy by die gastehuis aankom, sit haar tannie onder die prieel op die stoep met ’n bottel witwyn en twee glase voor haar op die tafel. Sy glimlag verwelkomend. “Ha, jy’s terug. Ek het vir jou gewag. Maria maak kos. Sy wil jou verras met iets lekkers. Ons moet na die sonsondergang kyk. Yannis en Sophia kom môreaand, dan maak ék weer spesiale kos vir ons. Hulle sien baie daarna uit om jou weer te sien. Gaan sit jou sakkie neer, dan kom drink jy ’n lekker glas wyn saam met my.”
Erika maak soos sy sê en kom sluit weer by haar aan. Helena skink vir haar, hulle klink glase en Erika teug aan die wyn. “Heerlik. Anders as ons Suid-Afrikaanse wyn.”
“Ja, dis ons eilandwyn, gemaak van druiwe wat in vulkaniese grond groei. Ons het nogal ’n florerende wynbedryf. Ons bekendste druiwe is die assyrtiko-kultivar. Hierdie witwyn is ’n Athiri-versnit.” Erika luister met een oor, maar haar gedagtes dwaal kort-kort na die man in die linnepak. Sy wil nie ongeskik wees nie en probeer konsentreer.
“Ons mense van Oia word Apanomerites genoem omdat Oia eers Apano Meria genoem is. Dit het ’n ruk geneem voordat ek as ’n ware inwoner geklassifiseer is.”
“Ekskuus? O, ja. Nou is tannie al so ingeburger.” Konsentreer, Erika. “Ek moet sê, tannie praat darem nog verbasend goed Afrikaans.”
“Ja, darem, maar my kinders praat net Engels en Grieks. Kan jy nog Grieks praat?”
“So ’n bietjie, maar vandat Mamma dood is, het ek baie vergeet. Tannie moet my asseblief weer leer hoe om die belangrikste soort goed vlot te sê. Die politesse, soos die Franse dit noem.”
Haar tannie lag. “Ek sal jou met plesier leer.” Sy teug aan haar wyn en kyk dromerig na die lug wat karmosyn begin verkleur. “Hier wil ek bly tot in lengte van dae. Ek is so lief vir Santorini.”
Erika dink skielik dat dit dalk lekker kan wees om ’n jaar of wat hier te kom woon. Sy sal nog met die gedagte speel.
Ander gaste van die gastehuis kom verby en groet vriendelik, maar gaan na hul eie eenhede. Tannie Helena het gesê sy maak nie vir hulle aandetes nie; sy bedien slegs ontbyt. Dit klink nie vir Erika na ’n stresvolle lewe nie. Haar tannie sien daar goed uit en lyk rustig en gelukkig. Tog wonder Erika of sy nie eensaam is sedert haar man se dood nie. Sy wil nie vis nie, maar dalk het haar mooi tannie ’n spesiale vriend?
’n Spesiale vriend. Sy sug. ’n Man wat jy kan liefkry en bewonder. Iemand met dryfkrag, innerlike sterkte, ’n aantreklike uiterlike en ’n goeie humorsin, wat jou met hartstog én teerheid kan liefhê. Wat romanties is en jou kan wegvoer na die hoogtes van ekstase waarvan jy in liefdesverhale lees.
Sy hoop sý kry een of ander tyd so iemand.
Iemand heel anders as Cas.
* * *
Paul staan langs die swembad op die terras voor sy huis in Fira, met ’n glas ouzo in die hand. Hy kyk peinsend uit oor die caldera in die rigting van die sonsondergang. Vanaand het hy nie lus vir mense nie, maar Manos gaan oorkom vir ’n drankie en ’n ligte ete.
Hoeveel keer het hy nie al dié sonsondergang bewonder nie? Hy sal nooit daarvoor moeg word nie.
Sý kyk seker ook nou met daardie hemelse oë na dieselfde sonsondergang. Dis mos wat almal hier doen. Dalk drink sy ook ’n lekker drankie. Wie sou by haar wees? Haar ma? En wie anders? Hy hoop nie daar is ’n man nie. Hy raak sommer omgekrap as hy dink dat daar ’n man in die prentjie kan wees. Een wat haar soen. Wat aan haar raak.
Liewe hemel, Paul Michelakis, jy raak jaloers oor ’n vrou wat jy nie eens ken nie. Ruk jou reg!
“Hallo,” hoor hy. “Ek het goeie nuus.”
Hy draai om. Manos kom met ’n breë grinnik op sy groot gesig aangestap.
“So? Watse nuus? Wat het jy uitgevind?” Hy probeer lakoniek klink, maar dink sy opgewondenheid slaan deur.
“Daar is ’n vrou wat ’n gastehuis in Oia het. Sy is al lank hier, maar kom oorspronklik van Suid-Afrika af. Haar naam is Eléni Antoniou.”
“Ja? Is sy nie dalk familie van doktor Yannis Antoniou, die argeoloog, nie?”
Manos haal sy skouers op. “Weet nie. Ek kan uitvind. In elk geval dink ek die mooi meisie is daar. Sal ek gaan kyk?”
Paul vat ’n groot sluk van sy ouzo. “Ja, gaan kyk sommer môre. Moenie eers kantoor toe kom nie.”
Manos kyk geamuseerd na Paul. “Haastig, nè?”
Paul grinnik terug. “Waarom sal ek gras onder my voete laat groei? Dis nie hoe ons Michelakisse grootgemaak is nie. My pa sê altyd: As jy ’n geleentheid sien, gryp dit aan – anders spring iemand anders jou dalk voor.”
* * *
Erika volg vir Spiro by die trappies af. Sy het pas die grootste ontbyt geniet wat sy in jare geëet het en sy dink sy moet dit afstap. Hy lyk skamerig in sy noppies dat sy saam met hom loop. Sy hoop nie hy raak verlief op haar nie, want al hou sy van hom en is hy nie lelik nie, laat hy beslis nie haar hart vinniger klop nie. Hy is buitendien te jonk vir haar.
Daar is wel ’n man wat ’n vuur in haar sal kan aansteek … Nee, sy moenie eens aan hom dink nie. Sy sal hom seker nooit weer sien nie. Tog, hy is hier iewers. Onder dieselfde hemel, maan, son en sterre as sy.
Die nou gangetjies en trappe is vol mense. Sy en Spiro moet behoorlik by hulle verbyskuur. Erika kyk om en sien ’n groot, bonkige man wat bo die ander uittroon. Is dit nie die man wat haar paspoort by die lughawe opgetel het nie? Dit lyk asof hy reguit na haar kyk, maar toe verdwyn hy by ’n winkeltjie in. ’n Rillinkie trek by haar ruggraat af. Waarom is hy hier?
Moenie laf wees nie, betig sy haarself. Hy mag mos enige plek op die eiland wees.
Tog is sy ongemaklik. Sy vergeet egter skoon daarvan toe Spiro voor ’n witgekalkte trap gaan staan en sy afkyk na ’n ingang met die naam Heavenly Book Den in donkerblou letters op ’n klipboog bokant die deur geverf. Dit lyk soos die ingang na een van die huise, maar toe hulle deur die boog loop, trek Erika haar asem in.
“Dis soos ’n hobbit-huisie,” sê sy. Spiro kyk haar onbegrypend aan.
“Die klein mensies in Tolkien se Lord of the Rings,” verduidelik sy. “Wonderlike boeke en wonderlike flieks.”
“O, ja,” sê hy, maar dis duidelik dat hy nie die boeke gelees of die flieks gesien het nie.
Binne is dit soos ’n groot grot met rakke en rakke vol boeke. Hier is dit stil in vergelyking met die rumoer van die toeristewinkels buite. ’n Lang, maer man met skouerlengte bruin hare staan agter ’n toonbank.
“Haai, Spiro,” groet hy met ’n vraende blik na Erika.
“Haai, Jim. Ek het vir Erika gebring om na jou winkel te kyk. Sy bly by ons … by Eléni Antoniou se gastehuis, eintlik. Erika, dit is Jim Murray, die eienaar van die winkel.”
“Aangename kennis,” glimlag Erika. “Jou boekwinkel is iets besonders.”
Hy kom agter die toonbank uit en skud haar hand. Hy staar so verwonderd na haar dat sy verleë raak. “Ja, ek het dit tien jaar gelede begin. Ongelukkig moet ek nou terugkeer na die VSA. Daar is te veel verpligtinge, familiesake en ander goed, wat my dwing om terug te gaan na Chicago. Ek sal nog vanjaar die winkel moet verkoop. Dis ook my huis. Ek is behoorlik ingegrawe in die vulkaniese rots, in die bodem van Santorini.”
Hy praat met ’n swaar Amerikaanse aksent.
“Dis jammer. Watter verskeidenheid boeke.” Sy kyk belangstellend na die rakke, die hoek waar vier gemakstoele om ’n tafel staan, die toonbank met ’n koffiemasjien en yskas. Alles is kleurvol: die bloue en rooie, witte en groene van die kussings, die mat onder die stoele en tafel, die gordyne voor twee vensters. Juweelkleure, dink sy. Niks is vaal nie.
“Het julle lus vir cappuccino?” vra hy.
“Dit sal lekker wees, dankie,” sê Erika. “Ek gaan na jou boeke kyk. Ek is ’n boekwurm.”
Jim Murray lag. “Doen dit gerus. Boekwurms is altyd welkom. Spiro ken van cappuccino maak. Sal jy dit asseblief doen, Spiro? Zizi, my assistent, is uit.”
Terwyl Spiro doenig is by die koffiemasjien, bestudeer Erika die boeke. Sy sien bekende skrywers se name, goeie literatuur, Bookerpryswenners in een rak, Nobelpryswenners in ’n ander rak, reisverhale, digbundels, kinderboeke, ’n hele rak vol tweedehandse boeke, nuwe en tweedehandse slapbandboeke en ook heelwat Griekse boeke.
“Jy het ’n absolute skat hier,” sê sy ingenome. “Jy gaan my heeltyd sien. Ek is ’n bibliofiel van formaat.”
Jim kom staan langs haar. “Ja, ek moet sê, dis die verskeidenheid wat hierdie winkel gewild maak. Ek het self die rakke ingebou, en soos jy sien, is hulle propvol.”
“Cappuccino is gereed!” roep Spiro.
Hulle gaan sit op die stoele om dit te drink. Mense kom in en kyk na die boeke. ’n Groot wit langhaarkat kom ingestap en vly haar teen Jim se been aan.
“Ja, ou Cassandra, waar was jy gewees?” sê hy en streel die kat, wat hoorbaar spin.
“Sjoe, dis ’n mooi kat,” sê Erika. Sy steek haar hand na Cassandra uit. Die kat kom nader en laat toe dat sy haar streel en haar agter die ore krap.
“Is jy lief vir katte?” vra Jim.
“Ja, baie. Ek het tot ’n jaar gelede een gehad, maar hy is dood. Ek het vreeslik getreur.”
Jim lyk meteens hartseer. “As ek weggaan, sal ek Cassandra hier moet los. Miskien sal iemand haar aanneem. Sy is ons winkelkat, ons gelukbringer. Dit voel nie vir my asof ek haar hier van haar lekker tuiste moet wegneem na ’n woonstel iewers in ’n vreemde land nie.”
Die kat loop weg, spring op die toonbank, strek haar uit en kyk met groot groen oë na die mense. Erika teug aan haar koffie; dink watter heerlike klein oase hierdie winkel is.
“Doen die winkel goed?” vra sy reguit.
Jim knik. “Goed genoeg. Mense weet daarvan en oorsese mense kom hierheen. Ons is al goed geadverteer deur verskeie artikels in publikasies. Ek het ’n permanente assistent – Zizi. Verder het ek temps wat vir die lekker hier kom aflos, soos Spiro. My huis agter die winkel is klein, maar gerieflik. Daar is twee slaapkamers en soms kom skrywers by my oorslaap wanneer ons ’n boekbekendstelling hou. Ek het so verlief geraak op Santorini toe ek dit die eerste keer besoek het dat ek net eenvoudig hier moes kom bly.” Hy sug. “Maar nou het die sand deur die uurglas geloop en my tyd is amper verby.”
’n Kort, ronde meisie wat Erika in haar twintigs skat, kom in met twee bottels melk en ’n pakkie in haar hand. “Hallo, ek het koekies en vars melk gebring.”
“Dit is Zizi Papadopoulos, my assistent,” sê Jim en stel Erika aan haar voor.
Sy groet Erika vriendelik en diep kuiltjies verskyn in haar wange toe sy glimlag. “Wat van ’n koekie? Vars gebak?” vra sy.
“Nee dankie, ek moet nog my groot ontbyt verteer,” grap Erika.
“Haai, Spiro,” groet Zizi en praat Grieks met hom.
Erika hou sommer van haar, veral toe sy vir Cassandra ’n bakkie melk skink en haar van die toonbank aftel om dit te drink.
Erika drink haar koffie klaar en koop ’n boek by Zizi. Toe sy betaal, sê sy vir Jim dat sy gou weer sal terugkom. “En dankie vir die heerlike koffie.” Sy kyk na Spiro. “Ek stap nou Fira toe. Dankie dat jy my hierheen gebring het.”
Sy groet en loop uit. Skrik amper toe sy weer die groot man van die lughawe sien. Hy verdwyn egter in ’n sygangetjie. Hy kon tog nie vir haar gewag het nie? Sy verbeel haar allerhande dinge. Cas se teistering het haar getraumatiseer.
Erika stap vinnig al met die keisteenpaadjie langs. Sy kyk af na die diepblou caldera en vergaap haar aan die witgekalkte huise teen die hang, die balkonne en terrasse en blou dakke. Dis warm, maar sy geniet die son. Teen die tyd dat sy by Fira aankom, verskeie winkels bekyk het en met tye oor die caldera gestaar het, is sy sowaar weer honger.
Sy onthou die restourant wat haar pa se gunsteling was en waar hulle die lekkerste Griekse kosse geëet het: Ouzeri. Uit sentiment gaan sy nou soontoe. Dit is langs die Grieks-Ortodokse katedraal en dus maklik om te vind. Daar is tafeltjies waar ’n mens kan sit om die asemrowende uitsig te geniet.
Ha, daar is dit. Maar sy sien dit is vol. By elke tafel sit daar mense. Ag nee. Miskien kan sy anderdag hierheen kom. Sy sal intussen ’n ander eetplek soek. Nou is sy behoorlik honger en dors.
Sy skrik toe die groot man van die lughawe skielik weer verskyn. “Hier gaan jy nie vandag plek kry nie,” sê hy. “Hier is te veel toeriste.”
Nou wéét sy dis vir haar wat hy teiken. Sy is tegelykertyd woedend en bang. “Is jy besig om my te agtervolg?” sis sy vir hom.
Hy lyk skaam. Draai sy palms na bo in ’n gemaak hulpelose houding. “Ek is jammer, maar iemand het my gestuur om jou te vind.”
“Iemand? Wie is die iemand?” Maar haar hart gaan wild aan die bons. Sou dit daardie mooi man wees? Die Michelakis van Atlantis?
“My baas, meneer Paul Michelakis,” bevestig hy haar vermoede. “Hy wil jou graag ontmoet. Kan ek jou aan hom gaan voorstel?”
Erika staar hom in ongeloof aan. Daardie asemrowende man stuur iemand om háár te soek? Hy wil haar leer ken? Sy kon hom nog glad nie uit haar gedagtes kry nie. Dit voel soos ’n wonderwerk wat besig is om te gebeur.
“Is jy seker dis vir mý wat jou baas wil ontmoet?”
“O, ja, die mooi meisie van die lughawe. Ek is Manos Spiridis, sy lyfwag en … e … regterhand.”
“Ek is Erika Moody.” Sy vermoed egter hy weet reeds wie sy is, want hoe het hy geweet om haar in Oia te gaan soek? Hoe het hy haar enigsins opgespoor?
Hy steek sy hand, so groot soos ’n beer se poot, uit. Sy skud dit. “Bly te kenne,” sê hy. “Meneer Michelakis se huis is net hier anderkant. Ek is seker hy sal jou graag op middagete wil trakteer. Die restourante is so vol. Dis mos hoogseisoen.”
Erika huiwer. Dit klink darem te roekeloos om sommer na die man se huis te gaan. Sy wil hom baie graag weer sien, maar só maklik gaan sy dit nie vir hom maak nie.
“Dankie, maar nee dankie. Ek gaan nie sommer na die huis van ’n man wat ek van geen kant ken nie. As hy my wil sien, kan dit by ’n openbare plek wees.”
“Jy hoef nie bang te wees nie, julle sal nie alleen wees by sy huis nie. Daar is ander mense ook.”
Erika loop ’n ent weg van die restourant en hy volg haar. Sy is in die versoeking. “Waarom stuur hy jou om my te soek? Hoekom doen hy dit nie self nie?”
Die groot beer van ’n man lyk weer skaam. “Meneer Michelakis is ’n baie besige sakeman. Hy het nie tyd vir so iets nie. Daarom stuur hy my. Ek werk mos vir hom en hy vertrou my.”
Weer huiwer sy. Wat as sy hierdie geleentheid laat verbygaan en sy sien hom nie weer nie? Sy sal mos spyt wees. So ’n uitsonderlike man loop jy nie elke dag raak nie. “Nou goed,” willig sy naderhand in. “Maar ek gaan hom net ontmoet. Ek gaan nie vir hom kuier nie.”
Manos blom behoorlik. “Dankie, ek is seker dit sal reg wees. Laat ek hom net asseblief by die kantoor bel. Hy kan huis toe gaan, dis nie ver van sy werkplek af nie.”
“Jy kan my mos na sy kantoor neem.”
“Nee, dis sy privaat sake. Hy sal nie wil hê ek moet ’n nuwe vriendin na sy kantoor bring nie.”
Erika is agterdogtig en weifel weer. ’n Nuwe vriendin, nogal. Hoeveel vriendinne sou die man hê? As sy by sy kantoor aankom en daar is ’n spul werknemers en sekretaresses, gaan sy mos verleë wees.
“Nou goed dan.”
Hy haal ’n selfoon uit sy sak, skakel ’n nommer en praat so vinnig Grieks dat sy skaars verstaan wat hy sê.