Читать книгу Ryker as die tempelkore - Maretha Maartens - Страница 8
Psalm 38
ОглавлениеPsalm 38 is ’n boete- of skuldbelydenispsalm, een van die sewe skuldbelydenispsalms in die boek Psalms. Die ander ses psalms van sondeberou waarin die psalmskrywer vergifnis van God vra, is Psalm 6, 32, 51, 102, 130 en 143. Vyf van dié sewe skuldbelydenispsalms is deur Dawid geskryf.
WAT PSALM 38 OOR GOD SÊ
(DIE TEOLOGIESE TEMA VAN PSALM 38)
Sê vir my wat ek van U moet weet, Here, my God, want ek het gesondig. En noudat ek U ken en liefhet, weet ek dat die grootste smart van die verloste sondaar die smart van sonde is.
Die teologiese tema van Psalm 38 raak elke verloste sondaar. Die Heilige Gees het Dawid gedring om dié boodskap vir die geloofsgemeenskap van alle tye te gee: God is my heil. God is jou heil.
God is die Een wat die verloste wat gesondig het, weer met sy nabyheid en teenwoordigheid kan seën. God is die Een wat die skeidsmuur (skeiding, verwydering) wat deur my sonde tussen my en Hom gekom het, kan wegneem.16 God, teen Wie ek gesondig het, is my hoop, my toevlug, die Een wat weer aan my lig en vryheid en blydskap kan gee.
Langs die psalmis se naam staan daar geskryf: By die gedenkoffer (1953-hersiening). In ander vertalings lees ons: “To bring remembrance” (King James Version), “For remembrance” (Geneva Bible), “To bring to remembrance” (English Revised Version) en “To cause to remember” (Young’s Literal Translation of the Holy Bible). Psalm 38 was ’n psalm waarna die psalmskrywer kon terugkeer om die smart wat sonde veroorsaak, in herinnering te roep. Maar dit is ook ’n psalm vir die geloofsgemeenskap: Laat elkeen onthou dat God alleen die toevlug is van die gelowige wat gesondig het. God is ons heil.
Psalm 38: ’n Gebed in krankheid
1.’n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer [om te kan onthou]
Ek is bang vir u toorn, Here. Moet my nie verder oor my sonde straf nie
2.O HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
3.Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
4.Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
5.Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ’n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
Ek is in groot nood, Here. U weet waarna ek smag
6.My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
7.Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
8.want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.
9.Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.
10.Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.
11.My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.
Ek is alleen; my teëstanders glo dat dit verby is met my
12.Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;
13.en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.
Op U wag ek in my nood; ek glo U sal my help
14.Maar ek is soos ’n dowe: ek hoor nie, en soos ’n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.
15.Ja, ek is soos ’n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;
16.want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!
17.Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!
Ek ken geen vrede meer nie, ek bely my sonde
18.Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.
19.Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
20.Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.
21.En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.
Moet my nie verlaat nie, Here. U alleen is my heil
22.Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
23.Maak tog gou om my te help, Here, my heil!
WANNEER NUWE-TESTAMENTIESE GELOWIGES GESONDIG HET
Wanneer ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges gesondig het, word Dawid se ervaring met sonde ook ons ervaring. Sy gevoel van godverlatenheid word ons gevoel van godverlatenheid. Sy smagting na versoening met die God wie se wil hy verontagsaam het, word ons smagting:
Here, ek is bang vir u toorn. Moet my nie verder oor my sonde straf nie (vgl. Ps 38:1-5).
Ek ly, ek kry swaar. Dis nag in my lewe. U weet alles; U weet waarna ek smag (vgl. v. 6-11).
Ek voel van God en mens verlate. My teëstanders glo dat dit verby is met my (vgl. v. 12-13).
Op mense se leedvermakerige woorde, op mense se raad keer ek nou my rug. My hoop is net op U, Here. U sal my gebed verhoor. U sal U oor my ontferm (vgl. v. 14-16).
Ek is stukkend, Here. Al waaraan ek dink, is my sonde. Ek bely dit voor U, want ek smag daarna om weer in u teenwoordigheid te leef (vgl. v. 17-21).
God van my heil, help my tog gou (vgl. v. 22-23).
Wie nie ’n gebed soos hierdie bid nie, sal nooit vrede ken nie.
Maar as ons ’n gebed soos die gebed van Psalm 38 bid, sal God, wat genadig is, ons vergewe.
SONDEBELYDENIS IN DIE SKADU VAN DIE KRUIS
Die Nuwe-Testamentiese gelowige bely sy/haar sonde in die skadu van die kruis en in die lig van Jesus Christus se opstanding uit die dood. As verloste sondaars sing ons die lofsang van Sagaria:
Geloofd sy die Here, die God van Israel,
omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,
en ’n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg.
So het Hy dit eeue gelede al deur sy heilige profete vir ons vooruit gesê
dat Hy vir sy volk redding sou gee
dat Hy getrou aan sy verbond met Abraham sou bly,
dat sy volk, verlos uit die hand van hulle vyande, Hom sonder vrees sou kon dien,
afgesonder en gereinig, binne sy wil, so lank hulle leef.
Hy het die opgaande Lig vir ons geword, die Lig wat uit die hoogte na ons gekom het,
om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit,
om ons voete op die pad van vrede met God te plaas.17
Besprekingsvrae |
1.Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?
2.Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?
3.Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?
4.Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe verander dit, en hoekom sê jy so?
5.Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?
6.Wat wil jy vir die Here sê?
VOETNOTAS
16Jesaja 59:2
17Lukas 1:68-79