Читать книгу Gabriella en die Hertog van Harte - Marga Jonker - Страница 4

1

Оглавление

Lucky Luke

Robert tik met sy potlood teen sy kop. Flip, hy weet nou wraggies nie meer wat mnr. Bester van die negatiewe reguitlyn gesê het nie. Hy raak so vies vir homself as hy dagdroom, maar mnr. Bester kan mens regtig in ’n koma in verduidelik.

Graad 10-meetkunde begin nou vir hom al hoe meer na fisika vir ruimtereisigers voel. Hy het geen plan om deel te wees van ’n ekspedisie na Mars nie. Hy wil eendag met perde boer, maar hy wil darem goed vaar in die eksamen.

Mnr. Bester het ’n krakerige stem soos ’n oupa, want hy ís al ’n oupa. Hy moes eintlik al afgetree het, maar die skoolhoof van Hoër Landbouskool Perdeberg, mnr. Nortier, het verlede jaar die dag toe die skool sluit, aangekondig: “Wiskundeonderwysers is so skaars soos hoendertande. Baie dankie aan mnr. Bester wat nog ’n jaar by ons sal aanbly.”

Robert se pa is ook ’n wiskundeonderwyser op sy tuisdorp, Wellington, so veertig minute se ry van Hoër Landbouskool Perdeberg af. Sy pa help hom met wiskundeprobleme by die huis. Net soms raak hy ongeduldig: “Jy kan by my kom skoolgaan as ek die hele tyd vir jou alles moet herhaal. Het jy geslaap in die klas of moes jy weer gaan uithelp by die stalle?”

Robert was in graad 1 toe sy ma hulle verlaat het om in Nederland te gaan woon en werk.

Dit was maar erg nadat sy ma en pa geskei het. Al wat gehelp het, was perdry, en oom Boet se plaas het sy groot liefde geword. Hy het nou sy eie merrie, Toska, wat daar op stal staan.

Maar nou gaan dit goed met hom en sy pa. Sommer ekstra goed vandat sy pa met Alida getrou het. Sy is sowaar ’n bonus-ma, soos die dominee die dag van die troue gesê het.

“’n Reguitlyn met ’n negatiewe gradiënt loop van links bo na …” Mnr. Bester hou op praat toe ’n geklop hom onderbreek. Hy kyk kwaai na die oop klasdeur.

Daar staan ’n blonde outjie, ’n graadagt, met sy blou plaasoorpak aan. Hy is rooi in die gesig en sy asem jaag. Die graadagts moet seker Landbou prakties hê, want dan dra die leerders blou oorpakke.

Die hele klas se koppe draai na die outjie wat nog steeds dringend teen die klas se oop deur klop. “Tikki, Tikki, Tikki!” Die hele klas groet die blonde outjie asof hy pas ’n drie gedruk het.

“Ja, Tikki, wat is dit tog?” vra mnr. Bester. “Jy beter ’n baie goeie rede hê om hierdie les te onderbreek, die manne was vasgevang in my interessante analise van môre se meetkunde-eksamen.”

“Ons is steeds vasgenael, Meneer!” sê Koedoe.

“Die graadagts is altyd so buite orde,” kla Pikkie kamstig.

“Ja, stap sommer binne-in ons meetkundeles in. Nee, man, Tikki, nee, man!” raas Buffel met ’n breë glimlag.

“Tikki! Tikki! Tikki!” koor die klas weer.

“Ja toe, julle, bly nou stil, gee die outjie ’n kans,” sug mnr. Bester.

“Meneer, die studente-meneer roep vir Lucky Luke. Daar’s probleme by die stalle.”

“Luke, Luke, Luke,” fluister die graad 10A’s soos een man.

“Nou waar is mnr. Smit dan?”

“Meneer, mnr. Wieletjies, ag ek bedoel mnr. Smit, is saam met die veearts na die koeie in die onderste kamp en ons moes die perde versorg, en toe het Duke uit sy stal gebreek en nou hardloop hy in die kamp voor die stal rond.”

“Tikki, mnr. Smit sal nie daarvan hou as jy hom mnr. Wieletjies noem nie!” berispe mnr. Bester die graadagtseun, maar sy oë glinster. Almal weet van mnr. Smit se bynaam.

Mnr. Bester raak ernstig en kyk na Robert. “Lucky Luke, Duke is seker weer ’n mal perd vandag, gaan doen jou fluister-ding.”

“Hy moet gou kom, Meneer, Duiwi is in Duke se stal en ons kan nie by hom uitkom nie. Daardie hings is baie moeilik. Hy jaag ons weg en die staldeur sit vas en Duiwi kan nie uit nie.”

“Beware of the Duke of Death!” sê Prins Charles met ’n spookstem.

“Nee, toe nou, kyk hoe haak julle uit. Grappies op ’n stokkie. Al wat ek sê, is daardie perd is te temperamenteel vir ’n skool. Ek sê ons moet hom verkoop voor iemand seerkry of Lucky Luke sy wiskunde dop!” sê mnr. Bester. Hy loer half moedeloos na die onklaar verduideliking op die bord en knik dan na Robert se kant toe.

“Ja, ja, toe, Lucky, weg is jy. Polla, skryf vir hom sy huiswerk af.” Polla is die top-wiskundeleerder in graad 10 en Robert se goeie vriend. Tussen Polla en sy pa sal hy darem nie heeltemal agter raak nie.

Gabriella en die Hertog van Harte

Подняться наверх