Читать книгу Gabriella en die Hertog van Harte - Marga Jonker - Страница 5

2

Оглавление

Een troue te veel

Gabi staar afgetrokke deur die studeerkamervenster. Klaus en Claudia is besig om hulle goed uit Klaus se tuinwoonstel te dra en agter op ’n sleepwa te pak. Hulle vertrek vandag om hulle permanent op Safari Lodge te gaan vestig. Claudia se ouers het dié gasteplaas in die suide van Namibië aan hulle gegee as trougeskenk. Die perde gaan later. Gabi kan haar drie ryperde en Donnabelle hou, maar die res van die stoet gaan skuif.

Dit is al meer as ’n jaar sedert daardie vakansie toe Klaus en Claudia mekaar ontmoet het, dink Gabi. Sy, Nali en Lea is nou in graad 9 en woon al twee kwartale in die nuwe deel van die hoërskoolkoshuis.

Gabi sug. Die skool het laas week gesluit en die Julievakansie lê voor. Sy stut haar elmboë op die tafel en druk haar hande teen haar wange. Só sit sy al heeloggend mistroostig by die groot studeerkamertafel. Stapeltjies papiere lê in netjiese hopies gerangskik. Sy kan nie glo haar lewe het die afgelope ses maande so verander nie.

“Wat? Klaus het ’n meisie?” het Lea uitgeroep toe Gabi verlede jaar die nuus breek. Dit was aan die begin van die tweede kwartaal van hulle graad 8-jaar.

“Ooee, vertel dadelik alles! Wat is haar naam? Hoe lyk sy?” het Nali aangedring.

Gabi, Nali en Lea is al van laerskool af saam in Windhoek Gimnasium se kosskool.

Die middagson het hulle koshuiskamer warm gebak. ’n Piepklein waaiertjie in die middel van die kamer het hulle dapper probeer koel waai.

“Dit het alles op ’n doodgewone oggend op die plaas begin, ná ’n groot ontbyt,” het Gabi vertel. Sy het kruisbeen op haar koshuiskamer se bed gesit en haar donkerblonde bob met ’n skud van haar kop uit haar gesig geswaai.

Lea Pretorius het haar bene voor haar uitgestrek. Sy het haar gunsteling-balletuitrusting van pienk voetlose balletkouse by ’n helderpers balletrompie en neongroen leotard aangehad.

“Daar kan ook niks op julle plaas gebeur as mens nie eers Thuti se ontbyt gehad het nie. Hmm, hy kan darem lekker kosmaak,” het sy verlangend gesê.

Lea se ouers woon in Windhoek. Haar ouers bedryf ’n gastehuis en hulle verkies dat Lea, haar suster en broer in die week op kosskool is.

“Wil jy droom oor Thuti se kos of moet ek van Claudia vertel?” het Gabi gevra.

“Nee, vertel, vertel! Met al die mans op julle plaas sal dit lekker wees om ’n tannie daar te hê,” het Nali gesê.

Nali Shikonda se pa en ma woon ook in Windhoek. Hulle is leiers van ’n sendinggemeente en reis baie vir hulle kerk.

“Klaus se meisie is seker te jonk om ’n tannie te wees,” het Lea gelag.

“Ja, hy is meer soos my broer as my oom, en Claudia is jonger as hy,” het Gabi gesê.

Klaus is Gabi se oorlede ma, Gail, se jonger boer. Gabi was vyf jaar oud toe haar ma verongeluk het. Ná haar dood het Klaus haar pa op Big Sky kom help met haar ma se perde.

“Asseblief, ek wil die storie hoor. Vertel nou klaar, Gabi,” het Nali geneul.

“Wel, ons staan toe op die stoep, ná die groot ontbyt, gereed om met die dag te begin, en toe kom hierdie meisie aangery.”

“Op ’n perd?” het Lea gevra.

“Neeeee! Met haar bakkie,” het Gabi gesê.

“Ek meen maar net, dalk was sy op een van daardie honderd-kilometer-uithouritte wat julle so ry. Wat het sy daar kom maak? Het sy verdwaal?” het Lea gewonder.

“Nee, sy het na die perde kom kyk. Sowaar, om nie een nie, maar vier Nooitgedachtperde by ons te kom koop vir haar besigheid. Haar passie vir die Nooitgedachters het haar en Klaus bymekaar gebring,” het Gabi opgewonde verduidelik.

Nooitgedachters is ’n kleiner soort perd, ’n Suid-Afrikaans geteelde ras, maar nie ’n ponie nie. Dit is ’n uitstekende sportperd vir jonger ruiters en ’n gewilde kinderryperd.

“Dit moes natuurlik hulle auras gewees het wat mekaar aangetrek het. Liefde met die eerste ontmoeting,” het Lea droomverlore gesug en vir hulle ’n stukkie oor mense met geel auras voorgelees uit haar boek.

“Dalk, Lea, was dit net normale liefde en romanse – boy meets girl, jy weet,” het Nali gesê, oortuig dat daar ’n ander verklaring vir Klaus en Claudia se vriendskap moes wees as energievelde en auras.

“Ek weet net dit was darem nie ’n blitsromanse nie. Hulle het nie soos sepiesterre op TV in mekaar se arms geval nie,” het Gabi verduidelik.

“Claudia het vir ’n week in ons gasteplaashuisie gebly om te besluit presies watter vier perde sy wil hê vir haar perdesafariplaas,” het Gabi verduidelik.

“Het sy haar eie plaas?” wou Nali weet.

“Ja, soort van. Dit is ’n familiebesigheid. Haar ouers het ’n paar gasteplase en die een plaas, Safari Lodge, spesialiseer in perde-uitrittoere. Claudia bestuur die lodge. Sy het elke aandete saam met ons geëet en ons het tot laat saans gesels. Ons het haar almal gemis toe sy weg is. Klaus het elke aand vir haar e-posbriewe geskryf. Die laaste naweek van die vakansie is hy Safari Lodge toe om vir haar te gaan kuier.”

“Hoe romanties,” het Nali gesug.

“Geel auras, beslis,” was Lea se uitspraak. “Mense met geel auras is vriendelik, liefdevol en entoesiasties. Hulle het ’n spesiale gawe om te kan kommunikeer.”

Volgens Lea kon sy van kleins af kleure om alles sien, van mense en plekke tot diere en selfs getalle. Dit was vir haar wonderlik om boeke in die biblioteek te ontdek oor wat die kleurskaduwees beteken.

“Ek weet nie hoe geel haar aura is nie, Lea, maar sy is briljant met perde. Sy het so pas ’n boek oor die wilde perde van Aus geskryf. Sy is ’n natuurbewaarder en perdeliefhebber, sy is dié één vir Klaus,” het Gabi daardie middag vir Lea vertel. Min het sy toe geweet wat Claudia se koms nog alles vir haar eie lewe sou inhou.

Claudia se lag klink oor die werf op. Sy en Klaus het die bank wat hulle gedra het langs die sleepwa neergesit en sit en rus nou daarop. Hulle lyk koddig so op ’n sitkamerbank buite op die werf.

Gabi sluk; haar keel brand. Sy kan nie wag dat Lea en Nali opdaag nie. Hulle kom vir twee weke by haar kuier.

“As Lea en Nali eers hier is, sal die huis nie meer soos ’n vreemde planeet voel nie,” het sy gister teenoor Thuti Garoep, Big Sky se sjef, gekla.

“Gabi, ons almal moet gewoond raak aan Patricia, sy is darem regtig nie so aaklig nie,” het Thuti paaiend gesê.

Gabi het gesug. “Jy sê maar net so omdat jy ’n ouderling is in jou kerk. Jy praat altyd net goed van mense, Thuti.”

“Hoekom probeer jy nie ’n paar van my gewoontes aanleer nie?” het hy glimlaggend geantwoord.

“Ek kan daardie vrou nie verdra nie. Sy is só irriterend.”

Gabi vroetel lusteloos met die papiere op die tafel. Gekleurde skuifspelde hou foto’s van perde aan afskrifte van inskrywings in die Nooitgedacht-stoetboek vas. Sy het die registrasiesertifikate van al die perde wat nog ooit op die plaas geteel is, georden, geskandeer en in elektroniese lêers geplaas. Nou kan sy met die klik van ’n knoppie dadelik die naam van elke perd wat aan Big Sky behoort het, oproep. Sy kan sien watter perde al dood is, watter tans op die plaas is en watter perde verkoop is. Dit was drie dae se werk. Alles om haar ma se geliefde Donnabelle se vullens te probeer opspoor.

Gabi sug weer en staar deur die venster. Klaus en Claudia laai nou die bank op die sleepwa. Hulle lag en skerts vrolik met mekaar. Hulle lyk nie bedruk of hartseer om te vertrek nie. Gisteraand was hulle laaste aand hier en almal het vir oulaas saam aandete geëet.

“Huisgesin, gesin, familie …” weerklink die woorde deur Gabi se gedagtes asof sy dit hardop sê.

Sy het geen idee wat sy, haar pa en Patricia gaan wees wanneer hulle drie van môre af alleen saam in hierdie huis woon nie, maar hulle gaan definitief nie ’n familie wees nie, en nog minder ’n gesinnetjie. Dankie tog vir Lea en Nali wat op pad is.

Sy wens met haar hele hart dat die afgelope ses maande nie gebeur het nie; dat Patricia net ’n droom was.

Dit was die eerste dag van die eerste kwartaal van graad 9 toe sy die eerste keer die onheilspellende nuus oor Patricia vir haar maats vertel het. Klaus-hulle is die vorige week getroud en Lea en Nali kon bars van nuuskierigheid oor die groot bruilof.

“Ons wil nóú weet van die troue! Vertel! Hoe was dit?” wou Nali weet. Hulle was besig om in hulle nuwe koshuiskamer in te trek.

“Die troue was mooi, ja, maar daar het iets aakligs gebeur,” het Gabi met ’n begrafnisstem begin.

Lea het ’n gilletjie gelos. “Nee! Wat? Vertel!”

Nali was net so ontsteld. “Dit was dan veronderstel om so ’n wonderlike, pragtige troue te wees?”

“Dit was by die Rotshama Rivieroord langs die Oranjerivier, wat aan Claudia se ouers behoort – dis ’n beeldskone plek. Ek het vreeslik uitgesien na die dag en om my strooimeisierok aan te trek …” Gabi het stilgebly en gefrons.

“En toe?” Lea het op haar tone begin balanseer van ongeduld.

“Ons luister, Gabi!” het Nali geknik.

“My pa het … verlief geraak op Claudia se neef se meisie.”

“Wat!?” Lea se mond het oopgehang.

Nali het haar asem ingetrek. “Nee, nooit! Jou pa is te stil en besadig, ek glo dit nie!”

“Net voor die kerkdiens het ons Claudia se familie ontmoet. Claudia se neef Jurgens en sy vriendin, Patricia, was ook daar. By die onthaal het ons saam met Jurgens-hulle aan tafel gesit. Dit is waar die moeilikheid begin het. Patricia het langs my pa beland en hulle het nie een oomblik ophou gesels nie. Die arme Jurgens en ek het net na hulle gestaar.”

“Awkward!” het Nali gesê.

Lea het geril. “Awkward verby!”

“My pa en die vrou was soos twee magnete, hulle kon nie ophou glimlag en praatjies maak nie. Hulle het die troue totaal vir my bederf.”

“En nou, is daar iets tussen hulle?” wou Lea weet.

“Gelukkig is sy weer terug Londen toe vir haar werk. Sy’s ’n fotograaf. Sy het van die foto’s geneem vir Claudia se perdeboek. Dalk sien ons haar nooit weer nie,” het Gabi hoopvol gesê.

“Was daar darem ouens met potensiaal vir ’n bietjie romanse?” wou Nali weet.

“Ek weet nie, ek het die hele aand met ’n naar kol op my maag gesit. Ek moes my pa en dié vrou dophou soos ’n prefek op pousediens.”

“Terrible, Gabi! Wat ’n ramp!” Lea het op die bed neergeval.

Van Gabi se hoop dat sy Patricia nooit weer sou sien nie, het niks gekom nie. Hier sweef sy nou in hulle huis op Big Sky rond soos ’n reusemuskiet. Probeer gedurig met haar wat Gabi is praatjies maak. Gabi het niks vir haar te sê nie. Patricia, die internasionale model en nou fotograaf van beroep. Wat dink sy gaan sy hier op die plaas doen om haar besig te hou?

“My pa gaan nou verloof raak aan daardie vrou,” het sy ses weke ná Klaus-hulle se troue ontsteld aangekondig.

Lea het haar asem ingetrek. “Die een wat jou pa soos ’n magneet aangetrek het?”

“Wag! Die een wat haar kêrel gelos het om met jou pa te gesels op die troue?” het Nali met ’n frons gevra.

“Regtig!? Vertel! Maar eers …” Lea het haar lang ligbruin hare agtertoe geskud, haar bene gekruis en haar hande gevryf. “Sit so in die jogaposisie en haal diep asem, dit sal jou kalm hou.” Sy wou juis haar nuwe jogategnieke en Dalai Lama-filosofieë met Gabi en Nali deel.

Nali het ’n geel blommetjieknippie in haar mieliestronkvlegsel ingedruk. “Jy klink nie beïndruk nie. Ek dog jy sê jou pa is droewig en eensaam? Kom, ek sal saam met jou die asemhalingsoefeninge doen. Lea is nogal reg oor die oefeninge, dit help mens ontspan.”

“Ek hét gedink my pa gaan dalk eensaam wees wanneer Klaus en Claudia trek, maar …” Gabi se stem het begin bewe.

“Raak nou eers kalm en haal diep en stadig asem. Asem in deur jou neus en blaas hard uit deur jou mond,” het Lea voorgestel.

“Jou pa gaan baie alleen wees op Big Sky as Klaus en sy vrou trek en jy hier by die skool is. Jy moet eintlik bly wees hy het iemand ontmoet, man,” het Nali haar probeer troos.

“Ja, maar ek wou darem nie gehad het ’n vroumens moes hom soos ’n tsoenami tref nie. Hoekom kon dit nie eerder iemand soos Claudia wees nie?”

“Asem in, asem uit. In deur jou neus, uit deur jou mond. Waarom dink jy sy is soos ’n tsoenami?” wou Lea weet.

“My pa is ’n stil mens en hierdie vrou praat verskriklik baie. Hy sou nooit in haar belanggestel het as sy nie eerste met hom begin gesels het nie. Hy was net daar soos ’n vakansieganger op ’n rustige strand en sy het soos ’n aardbewing onder die see uitgekom en soos ’n reusebrander oor hom gebars. En oor my.”

“Goed, kom ons haal weer asem. Herhaal dit ses keer. Asem in deur jou neus, uit deur jou mond,” het Lea oordrewe kalm gesê.

“Is sy ’n Barbiepop-mens?” het Nali gevra. “Voel jy dalk sy is nie opreg nie?”

“Haar hare staan donker en krullerig soos ’n swart donderstorm om haar kop. Sy is niks soos ’n Barbie of ’n pop nie, eerder soos ’n spinnekop! Sy wikkel en spin met haar stem en hande ’n web vir my pa. Sy is dodelik!”

Lea en Nali het geskok na haar gestaar.

“’n Reusebrander én ’n spinnekop. Dit klink baie erg.” Daar was ’n besorgde klank in Nali se stem.

“Ek dink jy moet die Dalai Lama se boek oor vrede en vredeliewendheid lees,” het Lea voorgestel.

Nali het bekommerd na Gabi gekyk. “Ek weet nou nie van die Dalai Lama se lewensfilosofieë nie, maar jy sal dalk ter wille van jou pa iets moet doen wat vir jóú meer vrede kan bring.”

“Genade, Nali, jy klink nou asof jy in Lea se snaakse boeke begin glo.” Gabi se stem was kwaai. “Ek sal julle sê wat ék dink ek moet doen. Ek moet liewer karate gaan neem dat ek ’n ninja kan word en haar met een hou kan optjop!”

Lea en Nali het na mekaar gekyk. Toe sê hulle gelyk: “Asem in deur jou neus en blaas uit deur jou mond.”

Dit was vier maande gelede. Daar was ’n klein blitstroue vroeg in Maart. Patricia en haar pa het in Londen gaan wittebrood hou. En ná die vakansie het haar pa se nuwe vrou met haar berge klere, hoëhakskoene en juwele in Big Sky se plaashuis ingetrek.

Gabriella en die Hertog van Harte

Подняться наверх