Читать книгу 'n Ver plek vir Zilla - Margaret Bakkes - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie argument tussen Zilla en haar pa duur reeds weke.
“Nee,” sê haar pa. “Volstrek nie. Hierdie brief sê jy het plek in die koshuis gekry en koshuis toe gaan jy. G’n ordentlike meisiekind loop bly op haar eie in ’n kamer nie. Dis moeilikheid soek.”
“Pa vertrou my nie.”
“Dis nie ’n kwessie van vertrou nie. Dis ’n kwessie van verstandig wees.”
“As ek moet koshuis toe, gaan ek nie. Vandat ek weet, sit ek in ’n koshuis. Ek is klaar met koshuise.”
“Jy is ’n hardkoppige meisiekind. Miskien moet ek jou daarby hou. Ek kan vir jou werk op die dorp kry.”
“Dan moet ek in tannie Kit se losieshuis gaan bly en Pa weet self hoe dit daar gaan. Definitief erger as by die plek waarvan Myra skryf.”
“Jy sal nog jou kop stamp, Zilla. Ek sien dit kom. Eers die uitheemse kursus en nou wil jy alleen by vreemdes gaan bly.”
“Dis nie vreemdes nie, Pa. Dis Myra se tannie wat al jare kamers aan studente verhuur. Sy bly naby die kampus en ek kan my ou skoene agternagooi dat ek daar plek gekry het. En wat die kursus betref, Pa het self gesê dis al wat Pa se ma altyd gedoen het, om stillewes van bakke rose te skilder. Is dit dan nou vir Pa so snaaks dat ek ook wil skilder?”
“Luister, Zilla. Van skilder het my ma menige dag vergeet dat daar kos op die tafel moet kom. Ek meen nou maar, ’n vrou het haar plek en dié ding wat jy wil doen, gaan jou net meer eiewys maak.”
“Pa jaag spoke op. Gee my nou net ’n kans om te bewys dat Pa verkeerd is.”
“Lyk my nie ek het veel van ’n keuse nie. Maar jy moet self die koshuis laat weet dat jy nie meer kom nie. En nie by my kom huil as die kamerstorie nie uitwerk nie.”
“Dit sal uitwerk, Pa sal sien. Ek sal beter kan leer so.”
Verlig pak Zilla Fourie later die middag ’n laaste paar goedjies in die nuwe stel tasse wat sy en haar pa die vorige week op die dorp gekoop het. Omdat Kiepersol ver van die dorp af is, moes sy vandat sy ses was koshuis toe gaan. Vir haar sal ’n koshuis altyd sinoniem wees met verlange en hartseer. Veral ná haar ma se dood het hierdie gevoelens haar lewe oorheers, sodat sy in die week verbete probeer uithou het om gedurende die naweke op die plaas weer asem te skep.
Dis nou al drie jaar en haar pa het nog nie weer getrou nie. Sy weet hy is eensaam en ook bekommerd oor haar en sy onvermoë om ma ook te wees. Sy klap die tas toe en hardloop na buite. Sy sien hom oor die groen kweek van die werf aankom en sy lang, krom figuur maak haar meteens hartseer. Sy sal hom nooit teleurstel nie. Hy het alreeds te swaar gekry in sy lewe.
“Ek maak vir ons koffie, Pa. Ek sal dit stoep toe bring.”
“Dit sal lekker smaak.”
Hulle sit aanvanklik sonder woorde hulle koffie en drink, elkeen besig met sy eie gedagtes.
“Ons moet maar vroeg ry. Pretoria lê nie hier nie.”
“Ja. En Pa moenie hartseer wees as ek weg is nie. Sodra ek klaar geleer het, kom ek terug. Dan kom doen ek die twee dinge waarvan ek die meeste hou: ek kom skilder na hartelus en ek kom help Pa boer.”
“Ag my kind, iemand sal lank voor daardie tyd met jou wegloop.”
“Die man wat my wil hê, sal op Kiepersol moet kom boer, Pa.”
“Ons sal maar moet sien, Zillatjie. Dalk besluit jy later anders. Kom maar naweke as jy kan. Ek het uitgevind Vrydag se middagtrein kom omtrent middernag op Poorthalte aan. Ek sal jou daar kom kry as jy laat weet.”
“Ek sal so dikwels kom as wat ek kan.”
“Sus Hes het laat weet sy kom volgende week. Sy sal weer laat skoonmaak van ’n kant af en die vrugte inlê. Sy sal seker ’n paar maande bly, tot een van haar kinders haar weer nodig het.”
“Dis goed, dan is Pa darem nie so alleen nie.”
Hulle kom die volgende dag teen die middag in die stad aan en kry Zilla se nuwe blyplek sonder veel moeite. Sy is aangenaam verras met die kamer en met die vrou wat hulle ontvang. Myra se tannie is ’n statige, ouerige vrou met helderblou oë. Die kamer is ruim met ’n groot noordevenster en die tuin buite die venster is welig en kleurryk.
Frans Fourie kyk tevrede rond. Dis anders as wat hy hom voorgestel het. Zilla sal aard hier. Dis darem waar, van ’n koshuis het sy genoeg gehad, arme kind. En dit lyk na ’n goeie vrou, hierdie tannie van Myra. Hy sal met ’n geruste hart kan terugry Kiepersol toe.
Myra maak haar die volgende dae touwys. Myra is ’n tweedejaar, maar hulle was kamermaats in die skoolkoshuis. Myra se ouers is stadsmense wat hulle dogter ’n plattelandse skoolopvoeding wou gee.
“Eintlik was ek in die pad, Zilla. Ma en Pa gaan dikwels uit. Dan weet hulle nie wat om met my te doen nie. Dit gaan maar so vandat my broer uit die huis is.”
’n Bietjie sinies, Myra Bredenkamp, maar ’n goeie vriendin. Kyk hoe het sy vir haar dié plek by mevrou Grabe gekry. Sy kan op haar staatmaak terwyl alles nog nuut is.
Zilla geniet die oriënteringsweek en toe haar klasse begin, voel sy byna glad nie meer vreemd nie. Die kursus boei haar uit die staanspoor. Sy was reg: haar kamer en haar kursus voldoen aan al haar verwagtings. Sy kan egter nie ontken dat sy soms baie na haar pa en na die plaas verlang nie.
Dis Myra wat Piero op ’n dag aan haar uitwys. Sy sou hom anders seker nooit eens raakgesien het nie, want hy is nie opvallend nie. Korterig, stewig, met iets uitheems in die donker gesig en hare.
“Hy is ’n senior student by Beeldende Kunste, Zil. Jy moes hom al daar rond gesien het. Glo die beste student wat die departement nog gehad het.”
“Wie is hy, Myra? Hy lyk soos ’n buitelander. En verwaand daarby.”
“Nogal, ja. Sy ma is glo Italiaans. Dis by haar wat hy sy talent gekry het. Piero Basson. Sy Italiaanse oupa was ’n bekende beeldhouer in die jare voor die oorlog.”
Sy sien hom ’n paar dae daarna in die klas vir grafiese kuns toe sy ’n verlore boek gaan soek. Hy is alleen by die steendrukpers en sy huiwer ’n oomblik. Hy kyk op en sien haar.
“Kom maar in, ek byt nie.”
“Ek was nie bang vir byt nie,” kap sy terug, half ergerlik oor die man se selfversekerdheid.
“So ’n kwaai meisie is seker vir niks bang nie?”
“Nee. Net vir die tokkelossie en vir Brolloks en Bittergal.”
Hy lag kop agteroor en toe sien Zilla haar boek. Sy raap dit op en draai verlig om.
“Waar gaan jy so haastig heen?” kom hy tot verhaal.
“Ek het gekry wat ek gesoek het.”
“Ek ook.” Sy kyk hom vraend aan. “Ek soek al my lewe lank na ’n meisie met pers oë. Regte, egte pers oë. En nou sal ek haar nie sommer weer onder my oë uit laat verdwyn nie.”
Zilla voel hoe sy bloos. Die man is persoonlik. Hy het niks te sê oor haar oë nie. En buitendien is hulle nie pers nie, net ’n ander kleur blou, het haar ma altyd gesê.
“Sê my wat is jou naam.” Die tergerigheid is weg uit sy stem en dit vang haar effens onkant, soos wanneer haar pa haar Kleintjie noem.
“Zilla Fourie,” antwoord sy teen wil en dank.
“En jy bly?”
“By mevrou Grabe.”
“Mooi. Loop nou maar. Ek weet nou wat ek wil weet.”
“Jy is voor op die wa,” kry sy haar baklei weer terug.
“En jy is parmantig. Gans te parmantig vir ’n eerstejaar.”
Sy verwens hom in haar hart en stap siedend met die trap af. Die Italianer is vermetel. Sy sal haar nie deur hom laat hiet en gebied nie.
Sy leer die middag vir haar eerste toets in kunsgeskiedenis en dit gaan maklik, want sy is geïnteresseerd. Eendag, weet sy, sal sy self gaan kyk. Na ’n Gotiese katedraal en na Bisantynse ikone en na Middeleeuse houtsneewerk. En die droom word ’n voorneme daar in mevrou Grabe se mooi kamer.
Teen skemer stap sy na die kitskoswinkel en koop ’n bakkie bredie en rys. Sy sien hom toe sy met die stoeptreetjies opstap. Hy staan teen ’n pilaar aangeleun.
“Beskaafde mense eet nie so vroeg nie,” sê hy in die verbygaan.
“Wie sê vir jou ek is beskaaf?”
“Ja, dis ook weer waar.”
Sy stap by hom verby, vies dat sy haar weer laat uitlok het.
“Moenie loop nie.” Nes vanmiddag, skielik ernstig en sonder spot, sodat sy bly staan. “Gaan sit daardie bakkie kos neer of gee dit weg, dan kom jy saam met my, asseblief.”
“Ek ken jou nie.” Sy sal hom op sy plek sit. Sou hy nou dink almal op die kampus weet wie hy is?
“Jammer. Onnosel van my. Piero Basson. Wil jy my ID-boekie sien?”
“Nee. Maar ek dink nie ek kan gaan nie.” Hoekom klink haar stem nie meer vasberade nie? “Ek skryf môre toets.”
“Waaroor?”
“Hoofsaaklik oor die Gotiek.”
“As jy saamkom, vertel ek jou alles wat jy moet weet. En dan vat ek jou sommer gou na die katedraal in Skinnerstraat toe en wys jou hoe dit werk.”
“Maar ek ken jou nie.”
“Jy het dit al gesê. Maar ’n mens moet êrens begin. Of hoe?”
In die studentekafee om die hoek koop hy vir hulle biefstuk en skyfies en ’n rukkie lank eet hulle in stilte. Zilla is bewus van die geroesemoes van stemme om haar, maar nog skerper bewus van die man oorkant die tafel. Sy kan nie aan een enkele rede dink waarom hy ’n aand in haar geselskap sal wil deurbring nie. Sy is ’n rou eerstejaar en hy is baie duidelik wêreldwys en ervare.
“Ek weet jy sit en wonder waarom ek jou genooi het.”
“Ja.”
“Dis eenvoudig. Omdat jy sonder aansit is. Dis deesdae ’n skaars eienskap by meisies. Ek weet voor my siel dat jy nie een keer ná ons ontmoeting in die kunsklas vanmiddag eens aan die moontlikheid gedink het dat ek jou weer sal wil sien nie.”
“Ek het nie. Waarom sou ek?”
“Juis.”
Sy speel effens verleë met haar servet. Wat wil die man hê?
“Sal jy omgee as ek kom kuier?”
“Miskien moet jy maar eers kyk hoe vanaand verloop. Dalk is jy hierna glad nie weer lus vir kuier nie.”
“Ek raak al meer oortuig dat ek weer sal wil kom kuier. Maar sê my, hoekom neem jy kuns?”
“Omdat skilder een van die dinge is wat ek móét doen. Ek het dit nodig.”
“En die ander dinge?”
“Boer. Ek is die enigste kind en ek gaan by my pa op die plaas bly sodra ek klaar is. Om te boer en te skilder.”
“Nè?” Sy vererg haar vir die spot in sy stem. Sy het immers bloot sy vraag beantwoord. “My pa het ook ’n plaas, maar boer is die laaste ding op aarde wat ek wil doen.”
“So verskil mense maar.” Sy wil hom nie uitvra nie.
“Sodra ek klaar is, gaan ek verder studeer in Florence. Dis waar my ma vandaan kom.”
“Ek wil ook gaan, eendag. Ek wil alles sien. Gotiese katedrale en ou skilderye. En nou moet jy my óf terugneem óf van die Gotiek vertel, soos jy belowe het. Anders dop ek môre.”
Toe Zilla ná elf in haar kamer kom, weet sy dat sy die aand vir die res van haar lewe sal onthou. Want dit was ’n éérste aand. ’n Aand waarin nuwe insigte en ervarings haar lewe by die waterskeiding tussen kind en grootmens gebring het. ’n Aand van gesprek, van kennismaking met iemand wat toegewyd is aan sy roeping. Vir Piero Basson sal sy vermoë om met klip en klei en hout te skep altyd eerste kom. En Zilla weet intuïtief dat sy persoonlike verhoudings daaraan ondergeskik sal wees.
Dit gaan baie goed met die toets. Die Gotiek is nie meer vir Zilla ’n woord in ’n boek nie, dis ’n lewende dimensie. Sy is minder verras toe Piero dié aand weer sy verskyning maak, en meer op haar gemak. Sy weet sy sal baie by hom kan leer.
Op ’n dag praat Myra met haar oor hom.
“Almal praat daarvan dat Piero Basson se rooi Fiat heeltyd voor tannie Grabe se huis staan. Maar dis natuurlik bekend dat hy ’n sagte plekkie vir eerstejaars in die Beeldende Kunste het. Hulle bewondering is glo presies wat sy ego nodig het. Maar hy los hulle sodra hulle begin agterkom dat hy ook maar mens is.”
“Moenie mislik wees nie, Myra.”
“Luister, Zilla, ek gaan nie toelaat dat daardie man met jou mors nie.”
“Dankie, maar jy is verniet bekommerd. Ek is nie ’n idioot nie en ek dink glad nie ek is die meisie na wie Piero Basson sy lewe lank gesoek het nie.”
“Nou dan verstaan ons mekaar.”
Toe Piero dié aand kom, is dit tog vir Zilla asof Myra se woorde iets van die glans laat verdof het. Sy weet dit sal nie moeilik wees vir die wêreldwyse Piero met sy uitlandse aantreklikheid om ’n meisie se voete onder haar uit te slaan nie. Maar hulle is mos net goeie maats. Hy het dan nog nooit eens aan haar geraak nie.
Sy besluit in elk geval op die ingewing van die oomblik om die naweek plaas toe te gaan. Dit sal goed wees om liewer vroegtydig die siklus te verbreek. As sy die naweek weg is, sal hy ’n ander kuierplek kry.
Dit tref haar dat sy eintlik nog min oor haarself gepraat het. Piero het nie eintlik uitgevra nie. Van homself het hy alles vertel. Sy pa het as offisier in die Suid-Afrikaanse weermag in Italië geveg en ná die oorlog ’n Italiaanse bruid huis toe gebring. Sy ma, Amalia Paolozzi, is die dogter van een van Italië se beste vooroorlogse beeldhouers. Ná haar pa se ontydige dood wou sy nie langer in die verwoeste Italië bly nie en sy is toe met Jan Basson getroud. Hy dra haar tot vandag toe nog op die hande. Sy kon dit nie hou op die plaas nie en hy het vir haar ’n Italiaanse villa op die dorp gebou. Dit het hom gepas, want baie van sy sakebelange was op die dorp. Piero bly in die gesin se woonstel in die stad en sy ouers gaan daar tuis as sy pa vir sake en sy ma vir inkopies stad toe kom.
Die prentjie is vir haar helder omlyn: vermoënde mense, stylvol en selfversekerd.
Sy vertel Piero dat sy weggaan vir die naweek.
“Kan ek jou neem?” vra hy dadelik.
Sy kyk verskrik na hom. Dit het sy nie verwag nie. “Dis ver. Byna driehonderd kilometer.”
“Net vier uur met ’n motor. Ons kan ry net wanneer jy wil.”
“My pa sal nie weet wat aangaan nie. ’n Mens kom nie sommer met ’n wildvreemde man op die plaas by hom aan nie.”
“Een of ander tyd moet hy tog weet van my bestaan.”
“Hoekom?”
Sy sien dat hy vreemd na haar kyk.
“Omdat ek gekom het om te bly.”
Sy voel hoe die bloed warm in haar nek opstyg en hoe haar hart onbedaarlik aan die klop gaan. Dan vererg sy haar ineens bloedig. Frans Fourie se meisiekind laat nie met haar speel nie. Sy weet mos van Piero Basson. Almal praat daaroor. Hy het net so min gekom om te bly as wat ’n stukkie kwik in staat is om op een plek te bly. “Moenie grappies maak nie!” sê sy skerp.
“Wat laat jou dink ek maak grappies? Jou vriendinne se skinderstories?” Daar is nie ’n sweem van lighartigheid in sy stem nie. As sy na hom kyk, sien sy dat die donker oë hard is. ’n Ander Piero. “Dié wat gesê het Piero Basson is ’n rokjagter? Gaan sê jy nou maar vir hulle Piero Basson het gekry waarna hy gesoek het. En wat hy het, hou hy.”
“Wie sê jy het my?” Sy is skoon die kluts kwyt.
“Ons gaan nie nou daaroor stry nie. Sê my net in alle eerlikheid, sal dit vir jou saak maak as ek hier uitstap en jy sien my nooit weer nie?” Hy dwing haar om na hom te kyk en sy oë eis ’n antwoord.
“Dit sal saak maak.” Haar stem is sag. Hy glimlag en sy gesig is meteens oop en lig.
Dié aand soen hy haar vir die eerste keer. Sy mond is ferm en koel, maar teen haar voel sy sy hartslag, sy warmte. As sy in haar kamer kom, weet sy dat dit regtig sal saak maak as hy nie weer kom nie.
Sy slaap die nag byna nie. Wat sý voel is een ding, maar haar pa het ’n skerp waarnemingsvermoë en onfeilbare mensekennis. Sy weet Piero is nie sy soort mens nie. Hy sal glad nie kan verstaan as sy so sonder waarskuwing met ’n wildvreemde man op die plaas aankom nie, sy wat eintlik nog nooit haar hart verloor het nie. Haar pa sal sê dis die kamerblyery.
Sy bel vroeg die volgende oggend huis toe. Haar pa is verheug om te hoor dat sy kom. “Ek sal op die halte wag, my kind.”
“Dis nie nodig nie, Pa. ’n Vriend bring my met ’n motor.”
“Volstrek nie. Ek weet hoe wild ry die studente.”
“Piero sal versigtig ry.”
“Piero? Wat vir ’n naam is dit?”
“Italiaans vir Pieter, Pa. Sy naam is Pieter Paul Basson.”
“Nou maar watse bynaam is dit dan?”
“Sy ma noem hom so. Sy is Italiaans.” Sy kom nou maar met die hele sak patats vorendag.
Die stilte aan die ander kant rek uit.
“Jy speel seker, my kind.”
“Nee, Pa, ek speel nie. Piero Basson bring my omdat hy Pa graag wil ontmoet.”
“Jy kon my darem vroeër gesê het, meisie.” Hy klink skielik vir haar oud.
Zilla se hart krimp ineen. “Ek het self nie geweet nie, Pa. Nie voor gisteraand nie.”
“Dan is daar seker niks aan te doen nie, hy moet maar kom. Maar glo my, Zilla, ek sal hom goed deurkyk. Jy is my kind en ek en jou ma het jou nie verniet na die beste van ons vermoë probeer grootmaak nie. Ek staan jou nie sommer aan enigeen af nie.”
“Hy is nie enigeen nie, Pa.”
“Ons sal maar sien. Julle sal dan seker so teen die late hier wees. Ek sal vir Hes sê. Die Italjaan moet maar in een van die buiterondawels slaap.”
Toe Zilla die telefoon neersit, kan sy nie help om te glimlag nie. Die Italjaan. Presies haar pa. Drie harde klippe: haar pa en Piero en sy. Sal hulle maal of sal een in die proses breek? Dalk sy, want sy is die kwesbaarste.
Soos ’n dief in die nag het die liefde haar bekruip. Want in die nag het dit ’n sekerheid geword: sy het Piero lief en sy sal haar nie maklik weer van hom kan losmaak nie. Ondanks die liefde bly sy egter getrou aan haar aard en so nugter soos altyd. Piero is nie gewoon en ongekompliseerd nie. Piero Basson is in die eerste plek ’n kunstenaar. Hy is ’n mens van vele wêrelde, en sy sal bereid moet wees om hierdie wêrelde saam met hom te betree.
Die laatson dam goud in die vallei op toe hulle van die hoofpad afdraai en tussen die berge inry. Zilla voel die bekende vreugde van terugwees. Dis asof sy alles vanmiddag met ander oë sien. Sy moet dit so vaslê, dink sy vlugtig, in breë, uitgesproke vlakke. Pers berge agter, geel son, groen voerlandjies. Sommer die naweek nog.
Sy weet nie dat Piero telkens vinnig na haar kyk en die vreugde op haar gesig sien nie. Sy weet ook nie dat dit hom ontsenu nie.
Hy trap die pedaal dieper in. Hy wil niks weet van hierdie plek en die skoonheid daarvan nie. Dit pas nie in sy lewenspatroon nie en Zilla sal haarself daarvan moet losmaak. Skilder en boer. Waar het jy nou al in jou lewe iets belaglikers gehoor? Maar hy stoot dié gedagtes opsy toe hulle die huis nader.
Kiepersol se kliphuis lê aan die voet van die berg. Die paadjie loop steil tussen groot aalwyne deur, tot teen die hoë stoep. Koelte lê reeds donker oor die grasdak toe die motor voor die deur stilhou. Teen wil en dank verstaan Piero waarom Zilla verknog is aan die plek.
Hy sien ’n lang, skraal man op die stoep uitkom. Zilla se pa, raai hy. Nog ’n faktor om mee rekening te hou. Dit kompliseer sake. Hy is self verbaas oor die oombliklike en onweerstaanbare aantrekkingskrag wat hierdie plaaskind vir hom gehad het. Dit is vir hom ’n uitgemaakte saak: hy het klaar gesoek. Omdat sy by alles nog self ’n skeppende mens ook is, is sy as ’t ware met die hand vir hom uitgesoek. Hy sal haar verder vorm tot sy heeltemal by hom pas.
Zilla is eerste by haar pa en groet met oorgawe. “Dit voel soos ’n leeftyd van ek laas hier was, Pa.”
“Is ook byna. Die bome begin al verkleur en jy is in die somer hier weg.”
“Dis Piero, Pappa. Piero Basson.”
Die twee mans groet sonder veel warmte.
Vreemdeling, dink Frans Fourie. Dit is ’n anderste soort mens wat by Zilla aanlê. ’n Mens sal maar moet sien.
Teen dié tyd is tannie Hes by. Sy groet vriendeliker, en terwyl Zilla en Frans binnetoe stap, neem sy Piero met sy tas na die buiterondawel.
“Maak jou maar tuis, mens. Sê as jy iets nodig het.”
Piero is verlig dat hy eenkant is. So in die huis, voortdurend onder die ou man se oë, sal dinge hom knel. Zilla se pa is anders as sy pa. Jan Basson is ’n wêreldburger; Frans Fourie is net regtig tuis hier tussen die berge. Hy sal nêrens anders aard nie. En Zilla? Sy was uitgesproke: sy wil terug plaas toe kom om te kom boer. Dit is vir hom ondenkbaar. Daar lê oorredingswerk voor, maar gelukkig is daar tyd. Teen die einde van die jaar sal sy gereed wees om saam met hom te gaan. Daar is geen rede waarom sy ’n graad moet hê nie. Sy sal baie meer van die skilderkuns kan leer as sy saam met hom oorsee gaan.
Vir Zilla is dit salig om by die huis te wees. Haar kamer onder die hoë grasdak is onmiddellik weer ’n hawe, sodat sy half onwillig is om uit te gaan na Piero toe. Sy moes vanaand eintlik op haar eie kon wees, met net haar pa. Môre sal daar tyd genoeg wees om vir Piero die wonders van Kiepersol te wys.
In die kombuis is tannie Hes en Sofie reeds besig met aandkos.
“Ek is bly tannie Hes is hier by Pa,” sê Zilla.
“Ja. Ons het gedink dat ek dalk maar hier moet intrek. Jou pa kan tog nie so sonder sorg wees nie. As my kinders my die keer nodig het, kan ek vir ’n rukkie weggaan. Ek is ook moeg vir die rondkuiery. Kiepersol moet nou maar my huis word.”
“Dis ’n goeie oplossing, tannie Hes. Ek sal nie so dikwels naweke kan kom as wat ek gedink het nie.”
“Nee, seker nie noudat jy ’n jongetjie het nie.” Zilla moet lag kry vir tannie Hes se ouderwetse uitdrukking. As Piero dit moes hoor! “Vry hy nou ernstig na jou, kind? Hy lyk dan vir my so half anders.”
“Hene, tannie Hes, ons sal maar moet sien.”
“Jou pa sê sy ma kom van anderland. Wat is sy nering, Zilla?”
“Hy neem ook ’n kunsgraad, tannie Hes. Nes ek.”
Tannie Hes sit die lepel versigtig langs die kastrol neer en draai haar stadig om tot sy vol na Zilla kyk. “Jy speel.”
“Ek speel nie. Hy is eintlik ’n beeldhouer. Piero se oupa aan moederskant was voor die oorlog ’n bekende beeldhouer in Italië. Piero het sy talent geërf.”
“En hoe gaan hy vir jou sorg?”
“Tannie Hes, daar is nog nie sprake van so iets nie. Sal vir jare ook nie wees nie, indien ooit.”
“Is ook so. Deesdae is trou mos uit die mode. Maar, Zilla, moenie dat die man jou jeug van jou steel nie.”
“Natuurlik nie, tannie Hes.” Die gesprek word vir Zilla al vreemder. Tannie Hes praat uit ’n ander wêreld.
Sy hoor haar pa die woonvertrek binnekom en stap soontoe. Hy wil weet hoe dit met haar toetse gaan.
“Goed, Pa. Ek bly baie lekker en die werk is interessant. Dit gaan goed met sowel die toetse as die praktiese werk.”
“Dan is ek bly. En die man?”
“’n Vriend, Pa.” Kry dit tog maar oor … “’n Beeldhouer. Hy studeer saam met my.”
“Zilla, hy is nie ons soort mens nie.”
“Hoe kan Pa dit nou al sê?”
“Ek is nie blind nie, my kind. Jy moet terugdraai. Nou.”
Zilla spring op. “Pa en tannie Hes is net dieselfde. Oordeel sommer. En maak daarby sonder rede afleidings.”
“’n Man ry nie om dowe neute byna seshonderd kilometer vir ’n meisiekind nie.”
“Vandag se mans is anders as wat Pa-hulle was.”
“Dis vir my duidelik.”
Toe Piero die woonvertrek binnestap, merk hy dadelik die spanning tussen Zilla en haar pa. Hy sien die blos op haar wange en die blink, ontstelde oë. Sou dit oor hom gaan? Hy maak asof hy niks agterkom nie.
Verras kyk hy in die kamer rond. Die hoë balke waarop die rietdak rus, gee ruimte en dimensie aan die vertrek, wat eenvoudig maar smaakvol ingerig is. Geweefde matte op die klipvloer, bokhaargordyne voor die groot vensters en ’n paar swaar, gemaklike stoele. Zilla sien Piero se belangstelling.
“Ek en my ma het die woonkamer kort voor haar dood saam beplan. Pa het ons Johannesburg toe geneem en ons vrye teuels gegee.”
“Dis mooi. ’n Vertrek waarin ’n mens rustig kan wees.”
“So het my ma ook altyd gesê. Sy het veral graag so gesit dat sy na die tuin kon kyk.” Sy is skielik dankbaar vir Piero se aanvoeling. Haar pa moet dit tog ook opmerk.
Sofie kom in om die tafel te dek. Dis ’n geelhouttafel wat uit ’n vroeëre geslag kom en Zilla voel tuis. Geel lamplig op die geel hout was altyd vir haar die warm essensie van by die huis wees, selfs ná haar ma se dood toe dit sy was wat aan tafel voor die kosskottels moes plaas neem en inskep.
Sy verlang skielik intens na haar ma. Sy sou hierdie situasie met Piero met begrip kon hanteer het. Nie soos tannie Hes en Pa wat onmiddellik bevooroordeeld is nie. Sy sou vir haar ma kon vertel het van die enkele keer, die vorige aand, toe Piero haar gesoen het. Van sy woorde: Ek het gekom om te bly. Sy sou haar ma kon gevra het: Bedoel hy dit, Ma? En hoekom voel ek soos ek voel, Mamma, so asof ek hom nie weer uit my lewe kan laat gaan nie? Is dit liefde, Mamma?
Sy weet nie dat haar pa haar hartseer dophou nie. So het hy haar dikwels gesien in die tyd ná sy vrou se dood. En saam met die hartseer is daar die vrees in hom. Wat gaan hierdie vreemde, onaanvaarbare man aan Zilla doen?
Hy is verlig toe Hes die kos inbring; hy het tog niks vir die man te sê nie. Hy sny die bruingebraaide skaapboud terwyl sy suster die res inskep: tuinvars groenbone, wortels wat soos murg in die mond smelt en vet bruin stampkoring. Piero pak sy bord kos met geesdrif en Zilla dink dat hy tannie Hes se hart beslis so sal vermurwe.
Die atmosfeer ná ete is egter nie minder styf nie. Tannie Hes gaan vroeg slaap en die gesprek tussen Frans Fourie en Piero bly stram. Dit strek nie veel verder as familie-uitleg en gemeenplasighede oor die boerdery nie. Ondanks sy gebrek aan belangstelling het Piero wel kennis van boerdery.
“Jy sê jy is al kind?” Piero knik. “Dan gaan jy seker eendag plaas toe?”
“Beslis nie, oom. En my pa weet dit. My neef sal dit erf.”
“Maar maak dit nie vir jou saak dat jou erfplaas vervreem nie?”
“Hoegenaamd nie, oom. Dis ek wat aan my pa voorgestel het dat Dawid Windhoogte moet kry. My pa se broer, Dawid se pa, is ’n prokureur. Dawid wil boer en het landbou studeer.”
“En jy dan?”
Piero lag. “Daar sal oorgenoeg vir my wees, oom.”
“Zilla sal plaas toe kom. Dit is van altyd af wat sy wil doen.” Byna soos ’n troefkaart kom die woorde. Hy sien nie die fyn laggie om Piero se mond nie.
Zilla voel hoe ’n benouenis in haar opslaan. Sy staan op. “Ek gaan koffie maak.”
Hulle sal haar uitmekaar pluk, die twee daar binne, dink sy ontsteld. Wat besiel haar pa? Wat het háár besiel om Piero plaas toe te laat kom? Dit was die bedwelming van die vorige aand. Haar verstand sê vir haar dat hierdie ding tussen haar en Piero nie kan hou nie.
Ná koffie bly haar pa steeds sit en dis Piero wat uiteindelik aankondig dat hy gaan slaap. Zilla waag dit nie om saam met hom buitentoe te stap nie en sy hoor hoe die rondaweldeur driftig toeklap. Piero is ergerlik en seker met reg.
Sy soen haar pa nag, ’n bietjie vies vir hom, veral as hy ’n verdere steekhoutjie kwytraak. “’n Man wat sy geboortereg vir ’n pot lensiesop verkoop, is nie te vertrou nie.”
“Ag, Pa, los nou maar.”
Die res van die naweek bly stram. Zilla se poging om Kiepersol se bekoring met Piero te deel, is redelik vrugteloos, en met die loop van die naweek verdwyn haar vreugde om tuis te wees. As Piero Saterdagaand sê dat hy die volgende oggend vroeg wil ry, verstaan Zilla. Hy is beslis nie met ope arms verwelkom nie. Dié fout sal sy nie weer maak nie. Voortaan kom sy alleen.
Maar dalk was dit tog goed dat hy gekom het. Piero weet nou beslis haarfyn hoe haar pa voel en wat haar situasie is. Nou kan hy weer gaan dink oor sy stelling dat hy gekom het om te bly.
Haar pa is omgekrap oor die vroegryery.
“As ek met die trein gekom het, sou ek ook maar vandag moes terug, Pa,” sê Zilla.
“Ja, maar vanaand eers.”
“Toe maar, Pa, volgende keer kom ek met die trein.” Haar stem is effens suurderig.
“Bly om dit te hoor, Zilla.”
Piero is heelpad stil en Zilla is nie van plan om eerste iets te sê nie. Eers toe hulle die buitewyke van die stad binnery, begin Piero praat.
“Jy dink seker dat jou pa my so die skrik op die lyf gejaag het dat ek van nou af sy kosbare dogtertjie met rus sal laat.”
“Jy hoef nie naar te wees nie.”
“Sê dit liewer vir jou pa.”
“Los nou maar my pa.”
“Vir hom sal ek los, maar beslis nie vir jou nie, Zillatjie. Dit moet jy nou maar weet. En onthou, dis jou pa wat begin het.”
Hy hou voor mevrou Grabe se huis stil en dra haar tas binnetoe. Hy sit die tas neer en stoot die deur doelgerig toe. Dan neem hy haar ewe doelgerig in sy arms. Dit is die eerste keer die naweek wat hy aan haar raak en toe hy haar soen, is dit met al die opgedamde drif en frustrasie en woede van die afgelope twee dae. Toe hy haar loslaat, staan sy hygend teen hom aan.
“Laat hom weet, Zilla, jy is myne. Nie meer syne of Kiepersol s’n nie, maar myne.”
Die heftigheid van sy woorde is buite verhouding, weet Zilla intuïtief. En saam met die opwinding van sy omhelsing kom ’n klein vrees. Piero Basson is ’n driftige, dwingende mens. Saam met hom sal geen reis eentonig wees nie. Saam met hom sal sy bergpieke bestyg, maar ook afdaal in die dieptes. Sien sy kans vir ’n lewenspad saam met hom? Of moet sy, soos haar pa gesê het, nou omdraai? En kan sy nog?
Met ’n woeste vaart trek Piero se rooi Fiat weg. Sy gemoed kook. Dat hy in hierdie situasie betrokke geraak het, is eintlik belaglik. Sy verstand maan hom om hom onmiddellik daarvan los te maak. Maar teen hom voel hy nog Zilla se liggaam. Hy sien die sagtheid van haar mond, die blos wat haar hartstog verraai, die gloed in haar oë. Sy het ’n vlam in hom geword wat nie geblus wil word nie. Hy sal haar nie laat vaar nie en hy sal nie toelaat dat Frans Fourie hom weer verneder nie.
Toe hy in die straat voor die woonstel stilhou, sien hy dadelik die liggeel Mercedes. Sy pa en ma het dus intussen gekom. Hy is effens verbaas. Eintlik het hy hulle eers teen die einde van die week verwag.
Toe hy die deur oopmaak, sien hy dadelik sy ma. Sy sit alleen in een van die diep stoele in die woonkamer en lyk vir hom nog kleiner en fyner as gewoonlik. Sy spring op toe sy hom sien en omhels hom vol vreugde. Soos so dikwels in sy lewe verwonder hy hom aan haar brose, donker skoonheid. As kind het hy gedink dat sy seker nooit oud sal word nie. Selfs vandag, op vyftig, het sy ’n tydlose skoonheid. Geen wonder dat sy pa steeds soos ’n verliefde seun reageer nie. Hy dink dat hy daarin na sy pa aard: toe sy pa uiteindelik sy hart verloor het, hoe onwaarskynlik en onprakties die keuse ook al was, was dit vir ’n leeftyd.
“Piero, caro. Waar was jy?”
“Weg vir die naweek, Mamma.” Hy antwoord in die vloeiende Italiaans wat hy van kleintyd af by haar gehoor het. “En Pa?”
Hy sien hoe haar gesig versomber. “Hy slaap. Dis waarom ons vanoggend gekom het. Pa is nie gesond nie. Ek het heelpad bestuur.”
Hy kyk verbaas na haar. Gewoonlik is dit sy wat met haar gesondheid sukkel.
“Ons het môre ’n afspraak by ’n internis. Ek het jou gister gebel, maar kon jou nie kry nie.”
“Ek was weg.”
“Ja.” Sy kyk skerp na hom. “Ken ons haar, Piero?”
Hy lag. “Mamma maak wilde afleidings. Vertel my eers van Pa.”
“Hy voel al die hele week nie lekker nie. Narigheid en pyne in sy bors en arm.”
“Daarvan hou ek nie.”
“Ek ook nie. Daarom is ons hier, hy natuurlik onder protes. Daar is môre ’n direksievergadering op die dorp.”
“Daar is altyd direksievergaderings.”
“Presies.”
“Ek sal hom môre neem. Ek het net die middag prakties.”
“Dis goed. Ek het jou nodig. Ek is bly jy is terug, Piero – ek het verlang.”
Hy dink daaraan dat sy die woorde op so ’n manier sê dat dit hom glad nie hinder nie. Haar liefde vir hom was nog altyd van so ’n aard dat dit hom vry maar tog geborge laat voel het. Hy het altyd gedink dat die meisie wat hy uiteindelik sou kies soos sy ma sou wees. En hoe heel anders is Zilla nie met haar aardsheid, wat so vreemd verweef is met haar intense skoonheidsbelewing en skeppingsdrang nie. Amalia Basson se skeppende vermoë is toegespits op haar verhouding met haar man en seun. Zilla moet nog leer om haar skeppende vermoë wyer te kanaliseer. En wie kan haar beter leer as Amalia self?
Piero kom die volgende dag glad nie by die universiteit nie. Die internis is nie tevrede voordat allerlei toetse gedoen is nie en Piero bly die hele dag by sy ouers, ook nadat hulle gehoor het dat sy pa se hart baie verswak is. By die woonstel aangekom, gaan sy pa dadelik bed toe, maar sy ma het klaarblyklik ná die ontstellende dag ’n behoefte aan gesels.
“Pappa sal sy lewe voortaan anders moet inrig, Piero. Jy moet ook met hom praat. Hy durf nie iets oorkom nie.”
Hy sien die vrees in haar oë en dink dat dit eintlik ironies is: sy was altyd die brose een. Nou is die bordjies sonder waarskuwing verhang. Albei sy ouers sal hulle in hierdie omstandighede meer op hom verlaat. Hy besluit om voorlopig niks van Zilla te sê nie.
Dis laataand voordat hy by haar kamer aanklop.
“Naand, vreemdeling.” Sy laat nie blyk dat die dag vir haar eindeloos was omdat sy hom nie gesien het nie.
“Jammer, Zilla. My ouers het onverwags stad toe gekom. Ek moes my pa vandag dokter toe neem.”
“Ernstig?”
“Redelik.”
Die eindeloosheid van die dag vervloei toe hy haar in sy arms neem. “Ek sal my ma moet sê van jou,” fluister hy teen haar oor.
Iets in sy stem laat haar terugstaan. “Jy sê dit asof dit ’n berg is waaroor jy moet kom.”
“Is dit nie? Dis dieselfde as vir jou met jou pa. Vir my ma is ek wat jy vir jou pa is. As dit net ek en jy was, sou dit baie eenvoudiger gewees het. As ek aan die einde van die jaar weggaan, moet jy saam. Daar anderkant kan niemand eise aan ons stel en ons van mekaar probeer weghou nie.”
“As dit maar so maklik was.”
“Jy dink nie ek is ernstig nie.”
“Maar dit kan mos nie, Piero. Ek moet minstens my graad voltooi.”
“Waarom? Watter waarde het ’n graad? Jy sal daar oorkant baie meer leer as wat jy ooit hier sal kan leer. Dis maar net om my pa en ma se ontwil dat ek vier jaar hier bly.”
“En dink jy nie ek behoort om dieselfde rede hier te bly nie?”
“Nie as jy my liefhet nie. Ek het gebly omdat ek jou nog nie gekry het nie. Nou is alles anders.”
Sy weet dat sy woorde net gedeeltelik waar is. Vir haar pa en sy ouers het niks verander nie. Die gedagte aan Piero se ma is meteens ’n bedreiging. Sal hierdie vreemde vrou van haar hou?
Die slaap ontwyk Zilla dié nag. Piero is ernstig. Sy weet hy sal dit nie daar laat nie. En dis onmoontlik.
As hy gaan, sal dit die einde van ’n unieke verbintenis in haar lewe wees. Want sy sal nie kan saamgaan nie. En oor duisende kilometers en baie jare heen kan geen verhouding hou nie. Sy sal daaroor kom, soos sy oor haar ma se dood gekom het, met net diep binne-in haar die seer naklank van ’n verlange wat nooit heeltemal uitgewis kan word nie.
Zilla sien Piero die volgende dag ook glad nie, en in ’n mate verwelkom sy dit, anders as die vorige dag. Sy het die saak in die nag met haarself uitgemaak. Daar is nie vir haar ’n toekoms by Piero nie. Dan moet die losmaakproses liewer dadelik begin. Maar sy is tog verbaas toe hy nie die aand opdaag nie. Sy ouers neem blykbaar al sy tyd in beslag, sodat hy nie eens by sy klasse uitkom nie.
Sy sien dadelik die rooi Fiat toe sy die volgende oggend klas toe stap. Dit hou met skreeuende bande langs haar stil. Toe sy na Piero se gesig kyk, skrik sy. Sy kleur is grys en die donker oë sit diep in sy kop.
“Klim in, Zilla.”
Sy gehoorsaam en hy trek dadelik weg. Eers toe hulle uit die oggendverkeer en buite die stad is, hou hy stil.
“My pa is oorlede. Gisteraand. Ek kon my ma nie los nie, maar sy slaap op die oomblik. Ek moet dadelik terug, want ek moet daar wees as sy wakker word. Ek neem my ma vanmiddag huis toe en jy moet saamkom. Ons begrawe my pa op die plaas.”