Читать книгу 'n Ver plek vir Zilla - Margaret Bakkes - Страница 4
Hoofstuk 2
ОглавлениеVan die agterste sitplek in die luukse motor hou Zilla die twee mense voor haar dop. Daar word nie veel gepraat nie, net af en toe ’n enkele sin. As die twee profiele dan na mekaar gedraai word, val die ooreenkoms Zilla telkens op: fynbesnede, donker, smeulend. Amalia het ondanks haar ouderdom ’n sagte, roomkleurige vel wat styf om hoë wangbene span. Die digte swart hare is los en laag in haar nek saamgevat. Met hulle ontmoeting vroeër vanmiddag het die ouer vrou haar ingetoë gegroet en in korrekte maar geaksentueerde Afrikaans gepraat.
“Piero sê hy het jou nodig, Zilla. Dankie dat jy bereid is om saam te gaan. Alles is vir ons baie, baie swaar.”
Sy kon nie anders as om ’n diepe bewondering en jammerte vir Piero se ma te voel nie. Sy het geweet die vrou voor haar is in alle opsigte ’n besonderse mens, iemand om mee rekening te hou.
Dis skemer toe hulle die Wes-Transvaalse dorp binnery. Dis ’n dorp soos die meeste klein dorpe: kerktoring prominent in die middel van die dorp, toiingrige sakegeboue met ’n paar hoërige nuwe geboue wat die onvermydelike supermark of kettingwinkel huisves. Hulle ry deur die dorp na wat duidelik ’n nuwer uitleg is met groot, mooi huise en tuine.
Zilla is egter totaal onvoorbereid op wat haar inwag.
Piero swaai by ’n ysterhek in wat verwelkomend oopstaan. Voor hulle strek ’n rylaan tussen rye formele bome deur. Aan weerskante sien Zilla groen grasperke, roostuine, struike wat gedissiplineerd hulle plek vol staan, marmerwit beelde, pilare en priële, kleurryke beddings wat sonder kurwes of kronkelings bydra tot die klassieke uitleg van die tuin. ’n Lang dubbelverdiepinghuis, met vensters en pilare reëlmatig gespasieer aan weerskante van die massiewe houtvoordeur, bevestig die indruk van weelde en welvaart.
Toe die motor stilhou voor die treetjies wat oploop na die wye stoep, gaan die voordeur oop en ’n man verskyn. Die lang figuur hardloop vinnig met die treetjies af en maak die deur vir Amalia Basson oop. Toe hy afbuk, kan Zilla nie sy gesig sien nie. Sy hoor egter ontroering in sy stem toe hy praat.
“Amalia, dis verskriklik. Ek is bitter, bitter jammer. Kom, ek help jou uit.”
“Hallo, Dawid.” Piero se stem klink dik en anders.
“Ek is so jammer, Piero. Ek het dadelik dorp toe gekom om hier te wag. Ek verwag Ma en Pa ook later vanaand. Hulle sal sommer in die hotel slaap.”
“Dis nie nodig nie, Dawid. Fiesole is groot. Hulle slaap hier.” Amalia se stem kom sag maar beslis.
Weer eens besef Zilla: die klein, brose Amalia kry wat sy wil hê.
Piero maak die deur vir Zilla oop en toe sy uitklim, hou hy haar ’n oomblik teen hom vas. Dis die eerste warmte wat sy die dag van hom kry en ’n weekheid oormeester haar. Hy neem haar arm en lei haar teen die treetjies uit.
Amalia en Dawid is reeds by die huis in. Voor sy instap, draai Zilla om en kyk na die tuin. Herfs het die struike en plante reeds met ’n kwistige hand gekleur en die wasigheid van die nadag lê oor alles.
“Dis pragtig, Piero.”
“Ja. My pa het my ma alles gegee wat haar hart begeer. Dit is ’n replika van die villa in Fiesole, net buite Florence, wat voor die oorlog aan haar ouers behoort het. Nou nie presies nie, maar min of meer.”
“Besit julle nog daardie villa?”
“Nee, dis verkoop. My ouma en my ma se suster het in ’n woonstel in Florence gaan bly ná my oupa dood is en Mamma Suid-Afrika toe gekom het. Dis waar ons bly as ons in Florence is. Ouma is natuurlik al dood, maar tannie Marinda bly nog daar.”
Zilla luister verwonderd en besef dat Piero in daardie ander wêreld net so tuis is as hier.
Die voorportaal is koel en ruim, met marmervloere en ’n marmertrap wat sierlik van twee kante af boontoe reik. Van Amalia en Dawid is daar geen teken nie.
“Mamma is seker na haar kamer toe. Laat sy en Dawid maar eers gesels. Sy sal graag met hom oor alles wil praat.”
“Ja. Is Dawid die neef wat op die plaas bly?”
“Ja. Hy bestuur Windhoogte al ’n ruk lank vir my pa. Nou is dit natuurlik syne. Hy het baie vir my pa beteken. Meer as ek.” Daar is ’n ligte bitterheid in Piero se stem wat Zilla laat opkyk.
“Hy het jou mos nie kwalik geneem dat jy nie wou boer nie?”
“Seker nie, maar elke man wil mos maar hê sy seun moet aangaan met wat hy begin het.”
Intussen het ’n swart vrou van iewers agter haar verskyning gemaak. Sy groet Piero handewringend.
“Ons sal hom almal mis, Katryn, maar nou moet ons maar rustig probeer wees om my ma se onthalwe. Dis Zilla. Het jy vir haar ’n plek reg?”
“Ek sal sorg. Juffrou Zilla moet maar saamkom.”
Sy stap agter die vrou aan met die trap op en met ’n lang gang links. Die vrou maak ’n deur oop en Zilla staan in ’n kamer in skakerings van blou. Toe sy die gordyne wegtrek, kyk sy uit oor die skemerige tuin.
“Karel sal die tasse bring. Juffrou moet maar net sê as daar iets kort.”
Toe sy uit is, staan Zilla verlore in die mooi kamer. Sy wonder ineens wat sy daar soek. Sy pas net so min in Piero en sy ma se wêreld as wat ’n bosduif in ’n vergulde kou pas. Haar wêreld is Kiepersol.
Sy is verlig toe daar ’n klop is en ’n ouerige man inkom en haar tas neersit. Sy hang die rok wat sy vir die begrafnis saamgebring het in die kas en dink wrang: die begrafnis van ’n man wat vir my ’n totale vreemdeling was.
Sy besluit om voorlopig in haar kamer te bly. Piero sal met Dawid wil praat, en met die res van die familie wat seker sal begin aankom. Sy was ’n dwaas om saam te kom. Sy sal moet leer om haar teë te sit teen Piero. Later gaan sy uit op soek na ’n badkamer. Sy kry een langs haar kamer, bad tydsaam en trek aan. Haar voorkoms gee haar selfvertroue: haar rok is die presiese kleur van haar oë. Sy is pas klaar of daar word aan die deur geklop. Dis Katryn.
“Juffrou kan maar afkom na die woonkamer toe. Almal is nou daar. Meneer se broer het ook gekom.”
Sy stap agter Katryn aan en toe sy met die trap afstap, wag Piero haar in die voorportaal in. Hy het ook verklee en lyk somber en vreemd in sy donker hemp en broek.
Sy staan by hom.
“Ek moes nie saamgekom het nie.” Hy weerspreek haar nie. “Jou pa se begrafnis is ’n familiesaak.”
“Jy is nou hier.” Sy stem is koud.
’n Gloed styg in Zilla se nek op en haar oë vlam pers. Kwetsende woorde dam in haar mond op, maar sy onthou betyds dat die man voor haar sy pa verloor het. Hulle is hier vir ’n begrafnis.
“Daardie deur links.”
Sy stap voor hom uit na waar sy stemme hoor en staan ’n oomblik in die deur van wat skynbaar die woonkamer is: ’n gesellige vertrek met diep stoele, baie skemerlampe en baie boeke. Daar is heelwat mense. Amalia sit langs ’n man op ’n bank. Toe Piero haar half nukkerig voorstel, weet sy dat dit sy oom is. Sou Jan Basson ook so gelyk het, groot en effens geset, met vriendelike oë?
Sonder om te vra, bring Piero vir haar ’n glasie sjerrie. Sy het meer lus vir ’n koeldrank, maar waag dit nie om dit te sê nie. Waarom is Piero so veranderlik? Netnou was hy nog warm met haar.
’n Man wat sy as Dawid eien, kom sit langs haar. Sy oë is vriendelik soos sy pa s’n. Piero se oë is stormagtig. Iets moes hom ontstel het.
“My neef Piero se goeie smaak was nog altyd bo verdenking. Dit is nog steeds, sien ek.”
“Dankie. Ek weet jy is Dawid. Ek is jammer oor julle verlies.”
“Dit is ’n groot verlies. Oom Jan het nog soveel gehad om te doen. Dis ongelooflik dat hy weg is. Ek glo nie ons besef dit al nie. Veral nie Amalia nie.”
“Ja.”
“Het Piero jou gesê? Die begrafnis is môremiddag op Windhoogte.”
“Dit sal goed wees as dit verby is. ’n Begrafnis is altyd swaar.” Helder onthou sy haar ma se begrafnis.
Hy sien hoe haar oë verdonker en dink: sy het waaragtig pers oë. Meelewende oë.
Dis ’n stil, formele ete en Zilla gaan kamer toe sonder dat sy eintlik weer met Piero gepraat het. Dis Dawid wat saam met haar na die voet van die trap stap nadat sy opgestaan het om nag te sê.
“Nag, Zilla. Eintlik ken ek jou al goed, want Piero praat dikwels van jou. Dis goed dat jy saamgekom het. Ek dink Piero is skoon van stryk af.”
Sy weet Dawid Basson probeer verskoning maak vir Piero se stugge gedrag.
Sy is reeds in die bed toe die klop aan die deur kom.
“Slaap jy nog nie?”
“Nee, Piero. Jy sien mos.”
“Kan ek inkom?”
“As jy moet. Maar dis al laat.”
“Ek moet, ja.”
“Wat skort, Piero?”
“Dit is wat ek vir jou moet vra. Dink jy ek het jou vir spek en boontjies saamgebring? En nou moet ek hoor jy is jammer dat jy gekom het. Het jy so min simpatie? Kan jy nie verstaan dat ’n mens iemand na aan jou nodig het as so iets jou tref nie? En jy is nader aan my as enigiemand anders, enige familie.”
“Ek is jammer, Piero. Ek het net skielik oorbodig gevoel. Ek het nie geweet of jou mense heeltemal verstaan waarom ek hier is nie.”
“Dit het niks met hulle te doen nie. As ek jou hier wil hê, is dit al wat belangrik is. En ek wil jou hier hê. By my. Nou en later en altyd.”
Sy weet met haar verstand dat die drif in Piero ook die drif van verlies en verdriet is. Sy wil die drif stuit, skanse opwerp teen die storm in die mens by haar. Sy dink aan die warrelwind wat op ’n dag deur die vallei getrek en verwoesting gesaai het. Sy wil nie hê dit moet so wees nie. Nie so nie.
Sy slaap die nag niks. Om haar hoor sy die stil huis en ’n enkele motor ver weg en sy weet dat alles verander het. Sy is by omdraai verby.
Katryn verskyn die volgende oggend met ’n ontbytskinkbord in Zilla se kamer. Omdat sy eers in die vroeë oggendure aan die slaap geraak het, het sy totaal verslaap. Aan die son wat skerp by die venster inskyn toe Katryn die gordyne oopstoot, besef sy hoe laat dit al is.
“Dawid het gesê ek moet maar vir jou iets bring. Hy en Piero is plaas toe om te sorg dat alles daar reg is. Daar sal baie mense op die begrafnis wees. Ons meneer was ’n groot man in die dorp.”
Ná sy aangetrek het, stap Zilla ondertoe. Die groot huis is stil en leeg. Met ’n kolkende gemoed stap sy in die tuin uit. Die skoonheid van die laatherfsoggend werk salwend, sodat sy later met ’n groter mate van innerlike kalmte alleen saam met Piero se tannie vir middagete aansit. Sy is ’n gemoedelike mens en Zilla voel dadelik tuis en meer normaal namate tannie An op haar rustige manier oor ditjies en datjies gesels.
“Amalia bly maar in haar kamer. Sy is baie kalm, maar ek dink die slag sal nog tot haar deurdring. Sy was baie afhanklik van Jan. Piero en Dawid is plaas toe om te kyk of alles reg is vir die begrafnis. Die VLV sorg vir agterna.”
Piero en Dawid kom kort ná middagete terug en nie lank daarna nie vertrek hulle kerk toe. Zilla bevind haar alleen in ’n motor by Dawid, met Piero en sy ma in Jan Basson se motor.
Dawid het dieselfde rustigheid wat Zilla vroeër by sy ma opgemerk het. Die kontras val haar al skerper op. Piero: vlammend, oorheersend, besitlik; Dawid, beheers, hoflik. Piero en Amalia is die vreemdelinge. Sy is baie tuiser by Dawid en by tannie An. Maar Piero het die vlam aangesteek, hy het besit geneem.
Die kerk is stampvol en ná die diens tou ’n lang stoet motors na die plaas vlak buite die dorp. Dis ’n ou plaashuis met ’n veranda en ’n uitgestrekte grasperk rondom. Tafels en stoele staan gereed onder sambrele en op die wye stoepe is vroue besig. ’n Fees, dink Zilla toe hulle by die huis verbyry na die kerkhoffie wat eenkant onder sipresse aangelê is.
“Dis waar ek woon,” merk Dawid op. “Windhoogte, al geslagte lank die Bassons se plaas.”
Die diens by die graf is kort. Toe Zilla uitklim, het Piero haar aan die hand geneem en sy staan nou langs hom en sy ma. Sy voel hoe hy haar hand in ’n klemgreep vashou.
By die plaashuis word dit dan ook ’n ware begrafnisfees, met ’n menigte mense in en om die huis. Zilla probeer by Piero bly, bewus van die spanning wat besig is om in hom op te laai. Benoudheid slaan in haar op. Soveel onbekende mense op die begrafnis van ’n onbekende man. En ná gisteraand is sy onlosmaakbaar verbonde aan ’n man wat in soveel opsigte ook ’n onbekende is.
Sy glip by ’n deur uit en staan ’n oomblik in die breë, donker gang. Dan kry sy koers deur die kombuis en by die agterdeur uit. Die laatmiddag lê reeds goud oor die werf en blink op ’n eendedam so tweehonderd tree van die huis af. Sy stap vinnig en gejaagd soontoe. Die eende op die water protesteer luidkeels as sy skielik op die wal verskyn.
Sy verlang ineens fel na haar pa en Kiepersol. Dié plaas is soos Kiepersol. ’n Mens sou rus vir jou siel kan kry, hier op Dawid Basson se plaas. En op die oomblik het sy rus bitterlik nodig. Want sy weet: sy het in ’n maalkolk beland.
Sy skrik toe iemand skielik langs haar op die damwal verskyn.
“Weggeloop?” Dawid Basson se stem terg.
“Ja. Ek ken tog niemand daar binne nie.”
“Ek ken weer omtrent almal. Ook rede om weg te loop.”
“Ek moes seker gebly het. Piero sal na my soek.”
“Piero en Amalia is reeds huis toe.”
“O.” Sy voel afgehaal. Sou hy haar wel gesoek het?
Dis of Dawid haar gedagtes lees. “Hy het seker aangeneem jy sal saam met my terugry. Ons het mos saam gekom,” sê hy.
“Ja. Ek is jammer as ek jou laat wag het.”
“Glad nie. Ons hoef nie nou al te ry nie. Om die waarheid te sê, ek sou die middag so kon omsit, hier op die damwal.”
“Dis ’n mooi plaas. Dis anders as waar ek vandaan kom, hierdie plat wêreld, maar tog vir my mooi.”
“Windhoogte is my lewe. Daar is vir my geen ander plek op aarde nie. Dis van kleins af so, toe ek elke vakansie hier kom kuier het. Ek en Piero verskil ’n jaar of drie, maar het lekker saamgespeel. Dikwels het hy binne gebly en ure aaneen geteken. Dan het ek die veld vol gedwaal en elke hoekie en grassie van die plek leer ken. Ná ek klaargemaak het, het oom Jan my gevra om die plaas vir hom te bestuur. Hy het soveel ander sakebelange gehad en omdat Amalia later nie hier wou woon nie, het dinge verwaarloos begin raak. In die drie jaar vandat ek hier is, kon ek darem die meeste goed weer regruk.”
“En nou is Windhoogte joune.” Sy is onmiddellik jammer nadat sy die woorde gesê het. Dis sake wat niks met haar te doen het nie.
Dawid kyk vreemd na haar. “Het Piero jou gesê?”
“Ja.”
“Hy het dit aan oom Jan voorgestel, maar ons sal maar moet sien. Piero sal natuurlik nooit kom boer nie, maar ek sou bereid wees om die plaas vir die res van my lewe vir hom te bestuur, as dit dan moet.” Daar is ’n skielike drif in sy woorde. “Ek wil net nooit hier weg nie.”
“Dis hoe ek oor Kiepersol ook voel.” Die woorde is vreemd hartseer. Het sy Kiepersol dan reeds afgesweer?
“Julle plaas?”
“Ja. In ’n vallei tussen die berge. Die mooiste plek wat ek ken.”
“Is jou ouers daar?”
“Net my pa en ’n tannie wat vir hom sorg. My ma is dood toe ek nog op skool was.”
“Ek is jammer.” Sy kyk op. Dis meer as woorde. Sy sien die begrip en deernis in Dawid Basson se oë. Asof hy meer weet as wat sy vir hom gesê het.
“Jy is die eerste meisie wat Piero huis toe bring,” verander hy skielik die trant van die gesprek.
“Ek kan dit beswaarlik glo.”
“Daar was al ander meisies, ja. Maar hy het hulle nooit Fiesole toe gebring nie. My maar net altyd van hulle vertel. Jy het iets wat my neef se voete blykbaar totaal onder hom uitgeslaan het.”
Sy kyk weg. Hy sien die hartseer op haar gesig en weet daar skort iets. Hy sal met Piero praat. Hy moenie hierdie meisiekind seermaak nie. Sy is anders as die meisies wat hy al in die stad by Piero ontmoet het. Vry en selfstandig, maar kwesbaar. Kwesbaar omdat dit Piero is.
“Ons moet seker ry.” Dis reeds skemer en Zilla voel hoe die aandwind deur haar klere begin sny.
“Ons moet seker. Maar ek wil nie eintlik nie.”
“Ek ook nie.” Sy kyk openhartig na hom. “Ek glo nie Amalia weet mooi wat ek hier maak nie. Ek weet self nie mooi nie.”
“Jy is hier omdat Piero jou hier wil hê.”
“Ja.”
Dis donker toe hulle op die dorp aankom. Met die stilhou kom Piero by die voordeur uit.
“Waar bly julle?” Aan sy stem weet Zilla dat hy ontsteld is.
“Ek het gaan stap op die plaas en Dawid moes my soek.”
“Ek het jou gevra om by my te bly.”
“Daar was te veel mense.”
“Dink jy dit was vir mý maklik?”
“Nee.”
“My ma kon jou afwesigheid ook nie verstaan nie.”
“Ek is jammer.”
“Jy het nie kom vakansie hou nie.”
“Hou nou maar op, Piero.” Dawid se stem kom ferm uit die donker. Zilla ys. Piero se ergerlikheid kan nou maklik ontvlam.
Tot haar verbasing draai Piero sonder ’n woord verder om, neem haar hand en stap die huis binne.
“My ma is in haar kamer. Maar sy het gesê dat sy vir aandete ondertoe kom. Ná aandete gaan oom Thys Pa se testament vir ons lees.”
“Ek hoort nie daarby nie, Piero. Dis privaat en persoonlik.”
“As jy my vrou was, sou jy by gewees het.”
“Maar ek is nie jou vrou nie, Piero.”
“Nie?” Sy oë is gloeiend op haar sodat sy moet wegkyk. “Maak maar soos jy wil.”
So sal sy Piero moet aanvaar. Een oomblik hartstogtelik besitlik, en net daarna weer koud soos sneeu en afsydig. ’n Mens raak moeg van uiterstes, van onvoorspelbaarheid.
Katryn bedien ’n ete waarvoor niemand eintlik aptyt het nie. Amalia sit stil en waswit aan die bopunt van die lang tafel. Dit tref Zilla dat sy en Piero se ma nog byna glad nie gesels het nie. Dis amper asof Amalia haar ignoreer. Dan betig sy haarself. Daar was nog nie tyd of kans nie. Dit is seker nie doelbewus nie.
Direk ná hulle klaar geëet het, staan Amalia op.
“Katryn sal koffie woonkamer toe bring,” kondig tannie An aan. “Ons kan sommer daar drink.”
Die laatherfsaand is koel en ’n groot vuur brand in die woonkamer. Die koffie staan gereed op ’n lae koffietafel voor die kaggel en dis tannie An wat begin skink en rondgee. Piero staan effens eenkant met sy oom en gesels en Zilla voel meer as ooit soos die vyfde wiel aan die wa. Sy loop sodra hulle met die testament begin. Dan kyk sy op en vind Amalia se donker oë op haar.
“Kom sit hier, Zilla.” Sy staan op en gaan sit op die bank langs Amalia. “Ek was nie ’n goeie gasvrou nie, maar jy verstaan seker.”
“Natuurlik. Ek wens net ek kon iets doen om te help.”
“As jy gehelp het om dit vir Piero makliker te maak, het jy genoeg gedoen.”
Zilla kyk verwonderd na Piero se ma. Sy het ’n onweerstaanbare sjarme. Al is haar gesig op die oomblik bleek en gespanne en haar oë hartseer.
“Ken jy Piero al lank?”
“Van die begin van die jaar af.”
“Jy studeer ook kuns?”
“Ja.”
“Maar jy is ’n boeremeisie?”
Die vreemde vraag verwar Zilla. Natuurlik is sy. Amalia weet dit mos. Maar sy weet dat die vraag nie om dowe neute was nie.
“My pa boer, ja, en dis wat ek ook later wil doen. Dit en skilder,” sê sy.
“Piero sal nie boer nie. Nooit nie.”
“Ek weet, ja.”
“Hy sal weggaan. Piero het sy oupa se talent, dit moet ontwikkel word.”
“Ja.”
Wat verwag die vrou moet sy hierop sê? Wat moet sy vir haarself hierop sê ná gisteraand? Dis byna ongelooflik dat ’n mens se lewe skielik so verwikkeld kan raak. Sy moet weg hier, so gou moontlik. Al moet sy met die trein terug. Sy sal môre navraag doen.
“Ek dink ek moet nou maar na my kamer toe gaan, as u my sal verskoon.”
“Nee.” Amalia se stem is beslis. “Ek wil hê jy moet bly. Jy moet weet hoe Piero se sake staan. En myne. Daar moet geen onduidelikheid vir jou wees nie, sodat jy weet wat jou te doen staan.”
’n Koudheid kom lê in Zilla se binneste. Amalia is op haar manier reg. Sy wat Zilla is, sal moet besluit. Sy sal self moet besluit sonder dat sy met iemand sal kan praat of iemand se raad kan vra. Want wat gebeur het, kan sy vir niemand sê nie. Sy kyk op in Dawid se oë. Dis byna asof hy gereed sit om tussenbeide te kom as hy sou sien die gesprek met Amalia ontstel haar.
“Nog koffie, Amalia?” Dawid se stem is hoflik.
“Nee dankie, Dawid. Wil Thys nie maar begin nie? Ek is dodelik moeg.”
“Ek sal hom sê.”
Zilla sien hoe Dawid se pa by ’n tafeltjie plaasneem en papiere uit ’n tas haal. Daar is stilte in die kamer en sy wens weer dat sy liewer kan gaan.
Sy hoor hoe oom Thys begin voorlees uit die dokumente op die tafel en dit word vir haar ’n betekenislose gedreun. Sy sit die gesigte om haar en dophou. Op nie een is daar veel uitdrukking nie. Dis byna asof dit hulle nie werklik aangaan nie. Mense wat heeltemal seker van hulleself en hulle posisie in die lewe is, dink sy. As sy self maar so seker was, so onaangeraak. As sy Piero en Amalia liefs nooit ontmoet het nie. Op Kiepersol was sy iemand wat vir haarself besluit en vir haarself gedink het. Sy voel anders hier, willoos en bedreig.
Piero luister na sy oom en die woorde vloei inmekaar. Dit gaan hom nie werklik aan nie. Hy weet dat daar vir hom voorsiening gemaak is en dat sy lewe vorentoe presies kan verloop soos hy dit sou verkies. Sy pa se dood bly in elk geval nog ’n onwerklikheid. Gisteraand saam met Zilla is ’n veel groter werklikheid.
Maar Zilla is anders hier. Sy is styf en eenkant, veral noudat hy haar borrelende warmte nodig het, byna asof sy hom nie glo dat hy dit bedoel as hy sê dat hy haar nie weer sal laat gaan nie. Veral nie nou nie. In die verlede het sy verhoudings met meisies hom min geraak. Hy het hom nie deur enige intimiteit gebind laat voel nie. Waarom dan so geraak voel deur gisteraand?
Dit was seker destyds met sy ouers ook so. Sy pa het hom dikwels vertel dat hy maar wild gelewe het, maar rustig geraak het toe hy sy ma ontmoet het. Maar sal Zilla hom rustig maak? Sy sal moet leer om haar hardkoppigheid te onderdruk. Daar kan sy beslis by sy ma leer.
Ook vir Dawid word die woorde ’n dowwe gedreun. Wat hy wou gehoor het, het hy gehoor. Sy pa het nooit professionele etiek oorskry en hom iets van sy oom se testament laat agterkom nie. Daar was altyd die onsekerheid dat Windhoogte onder die hamer sou kom. Hy sou dit nie kon koop nie, want hy het self niks nie.
En nou is die onsekerheid verby. Windhoogte is syne, met alles daarop om suksesvol verder te kan boer. Implemente, genoeg vee en ’n bedrag in die bank om gebeurlikhede die hoof te bied. Windhoogte sal die Bassons s’n bly. Hy sal oom Jan se vertroue in hom nooit skend nie. As hy ooit iets kan doen wat sal vergoed, sal hy nie huiwer nie. Teenoor Amalia of teenoor Piero. Want eintlik het hy Windhoogte aan Piero te danke – aan Piero wat nie daar wil boer nie.
Vir Amalia het alles oornag betekenisloos geword. Alles en almal, behalwe Piero. Met Jan weg, is die sin in haar lewe byna tot niet en alle rede om langer in hierdie dorp te bly, het verval. Om Jan se onthalwe het sy ’n kwarteeu lank in hierdie bar, kultuurlose wêreld gebly. Maar nou is Jan weg en kan sy terugkeer. Al die bande is nog daar, omdat sy elke jaar kon gaan kuier.
Sy hoef eintlik nie na Thys te luister nie. Sy weet dat sy vir die res van haar lewe alles sal hê wat sy nodig mag kry. Jan sou gesorg het. Sy weet in elk geval presies wat sy gaan doen. Sy het nie vandag geantwoord toe mense haar aangeraai het om nie dadelik besluite te neem nie. Dis nie ’n kwessie van besluit nie. Dis onafwendbaar.
Niemand sal haar keer om te doen wat sy moet nie. Ook nie hierdie onbeduidende meisietjie wat Piero om die een of ander vreemde rede saamgebring het nie.
Nadat Thys Basson klaar gelees het, pak hy die papiere tydsaam terug in die tas. Daar is algehele stilte in die kamer. Almal besef dat hulle nie regtig met aandag geluister het na die omhaal van gegewens en terme nie. Half skuldig wil niemand dit waag om kommentaar te lewer nie.
Die ouer man kyk na die gesigte om hom. Almal se lewens is geraak deur wat hy nou net gelees het. Selfs die vreemde meisie s’n – as Piero dit ernstig met haar bedoel. Maar dis duidelik dat niemand volkome helderheid het nie. Selfs nie An nie, wat gewoonlik meeleef as hy haar iets vertel. Hy sal dit maar kortliks opsom en vir elkeen spesifiek sê hoe Jan Basson se testament hom of haar individueel raak.
“Mense, hierdie testament wat deur Jan opgestel is, nie baie lank voor sy dood nie, raak ons almal. In die eerste plek, An, beteken dit dat ek en jy binnekort hiernatoe sal moet verhuis. Ek sal my praktyk verkoop en my hier kom vestig. Jan het my aangestel as eksekuteur en ook as trustee en bestuurder van al sy besittings en sakeondernemings. Dis ’n voltydse werk, daarom sal ons hier moet kom bly en sal my privaatpraktyk hier beperk wees.”
Hy sien hoe An se gesig verstrak en besef dat sy net gehoor het waarvoor sy gewag het: Dawid se aandeel in die erflating. Hy besluit om nie nou verder uit te wei nie.
“Verder was dit Jan se wens dat Windhoogte nooit uit die familie moet gaan nie. Hy het geweet dat Piero nie sin het in boerdery nie en het Windhoogte aan Dawid bemaak. Sou Dawid ’n seun hê wat wil boer, word dit syne. Indien nie, gaan dit na Piero se kinders toe. Jan het geweet Dawid is net so lief vir Windhoogte as wat hy was. Hy het ook met sowel Amalia as Piero oor hierdie besluit gesels en hulle het hom gesteun. Daarvoor is ons, as Dawid se ouers, hulle diep dankbaar.
“Wat Amalia en Piero betref, alle ander bates en inkomste gaan om die helfte na hulle toe. Slegs as die inkomste van sodanige bates nie voldoende is nie, mag hulle daarvan verkoop in oorleg met my. Jan het op ’n besondere wyse vir sy mense gesorg en ons sal sy sorgsaamheid nooit vergeet nie. My broer was ’n uitmuntende mens en ek sal alles in my vermoë doen om die vertroue wat hy in my en my seun getoon het, nooit te skend nie.”
Dis vir Zilla duidelik dat oom Thys diep bewoë is. Sy is vir die eerste keer jammer dat sy Jan Basson nooit leer ken het nie.
“Amalia, Piero, ek sal Jan se plek probeer vol staan. Julle moet na my toe kom in nood of krisistye. Dis goed dat ek en An ook nou hier op die dorp sal wees, naby julle en naby Dawid. Dit hoort so. An, ek sal vir jou ’n mooi huis hier bou, my vrou, en ons sal gelukkig wees.”
An Basson weet dat hierdie laaste woorde van Thys ’n pleidooi is: Ek weet dat dit nie vir jou maklik gaan wees nie, maar doen dit om my onthalwe. En sy besluit om hom dit nooit te verkwalik nie.
“Dankie, Thys,” Amalia se stem is rustig en stil, maar Zilla sien dat sy baie bleek is, met ’n eindelose vermoeidheid in die groot, donker oë.
“Jy is reg, Jan was ’n uitmuntende mens. Hy het vir ons almal gesorg. Dit was omdat Jan die mens was wat hy was, dat ek vyf en twintig jaar lank hier gebly het. Maar ek was altyd ’n vreemdeling, ondanks hierdie huis van my. Net by Jan was ek tuis. Hy was my wêreld. Maar nou is hy weg en niks hou my hier nie. Ek het saam met hom in hierdie huis gewoon en dit het aan die huis betekenis gegee. Alleen sal ek nie ’n dag lank hier kan bly nie.
“Ek wil hê, An, dat jy en Thys die huis oorneem. Ek sal heelwat van die goed saam met my neem. Wat oorbly, kan julle gebruik of verkoop. As jy nie in die huis wil woon nie, An, moet Thys maar besluit wat daarmee moet gebeur. Ek sal aan Thys ’n lys gee van die goed wat verskeep moet word. Want ek gaan permanent terug Italië toe, so gou moontlik. Ek hoop julle hou die huis, want ek sal seker eendag kom kuier, en dan sal dit goed wees as ek julle hier sou vind …
“Ek gaan oor ’n paar dae saam met Piero terug stad toe, want ek kan nie alleen hier bly nie. Julle sal tog ook eers teruggaan en Dawid is op die plaas. In die stad moet ons so gou moontlik ons sake gereël kry. Dit is nou lente in my land. Dit sal my troos om daar te wees. Primavera … met die heuwels om Firenze sag en groen en die lug so ’n besonderse blou. Dit was somer toe ek Jan ontmoet het. Ek onthou hoe bruin hy was en hoe groot …”
Dit is doodstil in die vertrek. Die ander kyk asof betowerd na Amalia, luister na haar mymerende woorde. Sy sit regop en hou haar hand na Piero toe uit. Hy staan op en gaan na haar toe.
“En jy kom saam met my, Pierino. Ons sal in Firenze bly en jy sal daar met jou studie voortgaan. Dis sinloos om hier te bly om ’n sogenaamde graad te voltooi. Wat beteken ’n graad aan ’n universiteit? Jy moet by die meesters kom, hoe gouer hoe beter. Daar sal jou talent tot sy volle reg kan kom. Ons vertrek dadelik, sodat jy in die somer kan begin. Jy sal my mos nie alleen laat gaan nie, Pierino?”