Читать книгу Die naamlose - Mariel le Roux - Страница 4

Twee

Оглавление

“My God, Lena, wat se ding is dit dié?” Dis Pa wat my wakker skree.

Buite, kan ek sien, is dit nog skemerdonker. Die boonste luikie van my kamervenster is oop. Dit moet baie vroeg in die oggend wees. Ek spring uit die bed en hardloop kaalvoet die gang af, na Pa en Ma Bella se kamer toe. Dis waar die lamp brand en waar ek Pa en Lena se stemme hoor. Die plankvloer is koel onder my voete. Ek weet die planke kraak net in die middel van die gang, daarom hou ek teen die muur langs. Ek maak nie ’n geluid nie.

“Dis ’n katkoppie, baas.” Dit klink of Lena wil huil.

“Vat weg! Vat weg die bliksemse ding!” skree Pa weer.

“Wag net, baas, die nooi-goed bloei kwaai, ek moet eers die nageboorte uitkry. Gee net ’n bietjie kans.” Lena is baie bang en benoud, ek kan dit aan haar stem hoor.

“Ek sê vat weg die gedrog!” sis Pa tussen sy tande deur.

“Jissis, baas!” Lena praat skielik so hard en ongeduldig dat ek wip soos ek skrik.

“Moenie jou stem vir my verhef nie, meid. Hou jou op jou plek. Ek gee jou nou ’n snotklap, voor jy weet waar jy is. Ek sê maak ’n plan met die ding wat so steun.”

Ek kruip agter die gangkas se sykant weg. Lena stap naby my verby met iets in ’n opgerolde handdoek in een hand en ’n blaker met ’n kort kersie in haar ander hand. Die vlammetjie flikker soos Lena se hand skud. “Jirre God, help my, asseblief, my Koning, die baas het mal geword,” bid sy hardop. Sy stap by die badkamer in, maar ek kan nie sien wat sy daar binne doen nie.

Ek druk my rug plat teen die muur toe Lena weer in die gang is. Sy het die blaker met die kers en die handdoek in die badkamer gelos. Sy sal my nie in die donkerte sien nie, want die gang is wyd en die kas is groot. Sy stap weer by Pa en Ma Bella se kamer in.

Ek het gisteraand al geweet dinge loop nie reg nie. My ma het vroeg gaan lê met ’n pyn op haar kruis. My pa het baie ontevrede gesê: “Dis nog drie maande voor jou tyd. Jy moet om godswil nie nou staan en skeef donner nie, Bella. Die rivier het afgekom, die drif is vol, mens kan na g’n kant toe deur nie.”

Ek was al in my bed. My slaapkamer is net langs Pa en Ma Bella se kamer.

“Loop haal vir Lena as dit tyd word, Wilhelm.” My ma het sag gepraat, maar ek het haar gehoor. Dis al wat sy gesê het. Ek het eintlik geskrik toe sy so sê, want sy praat gewoonlik nie terug as Pa so onbeskof met haar is nie. Gewoonlik bly Ma Bella stil; sy sal hom partykeer ’n kwaai kyk gee, maar dis al.

Dit reën al dae lank. Sonder ophou. Eers het die kloof tussen ons en oom Daan se plaas afgekom en daarna die rivier. Grootvlei lê tussen oom Daan se plaas aan die onderkant en die rivier aan die bokant. Die drif deur die rivier is toe onder water. Ons is vasgekeer. Daar is geen manier om op die dorp te kom nie. Dis nie nou reëntyd by ons nie. Hier reën dit in die winter. Dan hang die mis swaar oor die rivier en die ryp lê wit op die gras voor die huis.

“Dis freak weather,” het Moos gister by die agterdeur vir my en Lena gesê toe hy kom seker maak het dat die houthoop onder die kombuisvenster toe is onder die seil. “True act of God, sê ek julle.”

“Wat beteken dit, Lena?” Moos is Lena se man.

“Hoe moet ek weet?” Lena het haar vingers styf oor al twee haar oë gedruk. Sy maak altyd so as sy dink. “Dit staan in die Bybel, Carli-kind, hier op aarde sal ons net ten dele verstaan. Hulle het vergeet om daar in die Skrif by te sit dat ons vir Moos glad nie sal verstaan nie.” Lena se hele voorkop was vol plooie van dink. Toe los ek maar.

“Oom Moos praat Hoog-Ingels,” het Wimpie my al lankal vertel. Wimpie is my beste maat op die plaas. “Die oompie het in die agterplaas van die Joodse dokter op die dorp grootgeword. Sy ma was die housekeeper daar. Die dokter het gaan vrou vat doer gunter in Jodeland. Dié dat sy g’n dooie woord in onse taal kon sê nie. Toe moes oom Moos maar die Rooitaal leer gooi.”

Dis ’n hele rukkie stil in die kamer voor Lena benoud praat: “Die nageboorte sit vas en die bloed spuit, baas.” Ek kruip stadig nader totdat ek om die deur tot op Pa en Ma Bella se bed kan sien. My ma lê op haar rug op die bed met haar bene wyd oop. Sy het haar naghemp aan, maar verder is sy kaal. Sy het nog die hele tyd niks gesê nie. “Hou die lig nader, baas,” sê Lena, “ek sien sleg.” Pa lig die lamp op en toe sien ek die yslike rooi, nat kol wat vinnig groter word tussen my ma se bene. Dis bloed. Dis bloed wat uit Ma Bella se lyf uit loop. Tot haar voete is al rooi en nat. Sy begin skielik snaakse steungeluide maak en kom effens regop. Sy sak weer terug en haar nek val skeef, half van die matras af. Lena skrik en los die wit string-ding waaraan sy getrek het tussen Ma Bella se bene en gee twee treë tot by my ma se kop.

Toe skree Lena hard. “Jirretjie God, baas, nooi Bella het uitgegaan!” Ek skrik en spring terug sodat ek weer agter die gangkas se sykant kan wegkruip. Ek verstaan nie wat aangaan nie. Ek weet net ek wil nie verder kyk nie, daarom knyp ek my oë styf toe. Dis net ’n klein rukkie voor Pa se skoensole op die planke dreun toe hy by my verby hardloop. Hy hardloop in die donker gang af tot by die voordeur en uit in die reën. Hy skree en vloek die Here se naam. Hy hou aan en aan tot hy so ver van die huis af is dat ek hom nie meer kan hoor nie.

Ek kan Lena hoor huil daar by Ma Bella in die kamer. My ma is doodstil. Ek sluip op my tone nader en loer om die deur. Lena lê dwars oor Ma Bella se bors en skud op en af terwyl sy aanmekaar kerm. Sy is ’n groot vrou en my ma is heeltemal weggesteek onder haar lyf. Dit maak my baie bang, maar ek gaan nie in die kamer in nie. Netnou kom Pa terug. Hy raak maklik onbeskof.

Ek voel vasgekeer in die donker gang en begin treetjie vir treetjie terugsluip na my kamer toe. By die badkamer se deur kan ek die opgerolde handdoek se punt oor die wasbak se kant sien hang. Dis die patrone wat die kersvlammetjie op die vloer maak wat my laat stilstaan by die deur. Toe skrik ek groot. Daar kom geluidjies uit die handdoek. Dit moet die katkoppie wees wat wakker geword het.

Ek is nuuskierig en loop stadig tot by die wasbak. Toe hoor ek dit weer. Sagte steungeluidjies kom uit die toegerolde handdoek. Ek lig die los flap op. My hele lyf bewe. Ek wil skree, maar daar kom niks by my mond uit nie. Ek wil weghardloop, maar my bene wil nie roer nie. Voor my in die wasbak lê die katkoppie. Dit lyk baie soos ’n babatjie, maar ook nie regtig nie. Dis ook nie ’n katjie nie. Dis ’n klein, klein lyfie met twee beentjies, twee armpies en ’n snaakse koppie wat heeltemal plat is bo-op. Voor, op die kante van die koppie, sit twee groot ronde uitpeulogies. Dis ’n mannetjie-katkoppie. Uit sy neusie en mondjie kom borreltjies skuim.

Ná ’n rukkie bewe ek nie meer so baie nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wil baie graag aan hom vat. Ek voel jammer vir hom. Ek sit my hand saggies op sy lyfie en vryf versigtig oor sy magie wat op en af roer. Sy velletjie is warm en nat en kreukel onder my hand. Eers toe ek my hand oplig, sien ek in die kers se lig daar is rooi slym aan my vingers. Net toe klap die voordeur hard. Dit moet Pa wees wat die deur agter hom toegeruk het, want die wind is stil.

Ek pluk die punt van die handdoek weer terug oor die katkoppie en hardloop tot in my kamer. Onder die komberse byt ek op my hand sodat ek nie moet huil nie.

Pa loop weer in die gang af tot by Lena en Ma Bella in die kamer. “Ruk jou reg, Lena,” sê hy, “jy sal die meisiekind wakker maak met jou gegrensery. Nog ’n histeriese vroumens is die laaste ding wat ek nou wil sien. Jy moet gou speel. Lê uit die nooi en maak ’n plan met die gedrog in die badkamer. Dit moet ook in die kis kom. Ons sal nog vandag die kis in die grond moet kry, die pad dorp toe sal nie voor oor drie dae oop wees nie en teen daardie tyd sit ons met ’n vrotspul.”

’n Rukkie nadat Pa klaar met Lena gepraat het, kom hy weer by my kamerdeur verby. Hy stamp met sy voete op die vloer. Hierdie keer hoor ek hom kombuis se kant toe stap. Hy laat die sifdeur hard toeklap toe hy uitgaan op die agterstoep.

Lena se swaar voete slof-slof ná ’n tydjie stadig in die gang. Dis ’n rukkie stil. Toe hoor ek haar in die badkamer vroetel. Ek hoor water loop.

Die komberse druk my op my bed vas en ek staan saggies op. Ek hoor Lena met die katkoppie praat. “Jy moet saam met jou mamma-goed gaan, my liefie. Asseblief maak gou, hou op borreltjies blaas,” sê sy. Ek loer om die badkamerdeur. Lena kniel by die bad se rand. Daar is water in die bad getap. Sy hou die katkoppie se lyfie, wat nog in die handdoek toegerol is, met haar een hand vas. Met haar ander hand hou sy sy koppie onder die water. Agter Lena drup water uit die kraan wat nie behoorlik kan toedraai nie. Sy sing vir hom: “… laat, o laat die kindertjies na My toe kom.”

My bene begin vanself hardloop. Ek raas niks, want ek hou weer teen die muur langs. Tot onder in die gang hardloop ek en uit by die voordeur waar Pa net ’n rukkie tevore ingekom het. Dit begin lig word. Die lug is rooi agter die koppies oorkant die rivier. Ek hardloop met die tuinpaadjie tot anderkant die groot adamsvyeboom waar ek opgooi totdat my mond bitter is. Toe hardloop ek rivier toe. Ek hou verby die turksvylaning en verby die laaste wingerdstokke. Nog voor ek by die grensdraad kom, maak die rivierklippe my voete so seer dat ek moet gaan sit.

Dis lank ná brekfistyd toe ek weer die voordeur oopstoot. Niemand het eers agtergekom dat ek weg was nie. Ek gaan trek my dagklere in my kamer aan en loop kombuis toe. Lena was skottelgoed. Pa sit by die kombuistafel met ’n koppie koffie voor hom. Hy kyk nie op toe ek inkom nie. Dis Lena wat haar hande aan haar voorskoot afdroog en voor my kom staan.

“Jou mamma-goed is vannag gesterwe, Carli-kindjie. Liewe Jesus het haar kom haal. Julle gaan ook nie meer ’n babatjie kry nie.” Sy ruik na boerseep.

Ek sê niks, ek kan nie praat nie. Toe draai ek om en loop na Pa en Ma Bella se kamer toe. Die bed is kaal; selfs die matras is afgehaal.

Die hele oggend kap-kap dit in die skuur. “Moos maak vir jou mamma-goed ’n doodskis, Carli,” sê Lena toe sy sien ek luister by die agterdeur na die geluid. “Ek het ouderling Koos Galant laat vra om die begrafnis te kom hou. Mens kan darem sowaar nie net die kis in die gat sit, omdraai en aangaan met die lewe nie. Ons begin vanmiddag drie-uur met die diens. Sampie-hulle grawe die gat onder die peperboom.”

Koos Galant is die ouderling van die Sendingkerk, die kerk vir die bruin mense. Hy begrawe al die plaasvolk van die buurt wat doodgaan.

Ek wonder waar Ma Bella en die katkoppie is.

Pa was klaar dik gedrink toe Koos Galant die Bybel oopmaak. Ek het my pa die hele oggend dopgehou. Hy was kort-kort by die sideboard. Lena het hom seker ook gesien, want toe ons vroeër almal onder die peperboom bymekaar was, het sy agter haar hand tussen haar tande deur vir Moos aangesê om ’n stomp vir Pa nader te rol om op te sit. Toe Pa sit, gaan staan Moos agter hom sodat Pa sy rug teen Moos se knieë kan stut. En toe Pa later aan die slaap raak, hou Moos vir Pa aan sy skouers regop. Elke keer as Pa se kop vorentoe val, buk Moos vooroor tot sy mond by Pa se oor is en dan sê hy hard: “Praise the Lord!” Pa skrik elke keer wakker, maar sy oë bly net ’n rukkie oop.

Die houtkis wat Moos gemaak het, staan ’n entjie van die gat af op ’n paar bakstene met drie vangrieme onder die boom van die kis deurgetrek. Die deksel is met spykers vasgekap. Ek en Pa is al wit mense langs die graf.

“Waar is die buurt se groot Christene van onderkant die grootsloot dan?” Dit was Dora wat vroeër so vir Lena en Moos gevra het nog voor Koos die Bybel oopgemaak het. Ons het onder die peperboom gestaan en wag vir die volk van oom Daan se plaas wat nog op pad deur die wingerd was. Oom Daan het verskoning saam met Koos Galant gestuur. Hy het ’n koei wat sukkel om te kalf, het hy laat weet.

“Mens kan seker altyd ’n koei aan’t kalwe sit as jy ’n verskoonsel nodig het.” Ek het aan Lena se stem gehoor dat sy vies was. Dora het net gesnork en niks verder gesê nie. Sy bly ook op Grootvlei en help vir Lena in die huis.

“Where there’s a will there’s a way,” het Moos gesê. “As die ouderling en die plaasvolk hier kan staan, kan die base seker ook ’n plan maak om deur die waters te kom.”

Koos Galant klap die Bybel met ’n slag toe nadat hy Psalm drie-en-twintig gelees het. Hy praat sommer verder uit sy kop uit. Hy praat soos Oudominee Sondae van die preekstoel af praat terwyl hy vorentoe en agtertoe wieg op sy skoene, ook nes Oudominee. Net, Koos het nie ’n preekstoel nie, hy staan in die modder. Hy sê dis vandag vir hom ’n bie-sonderse eer om nooi Bella-goed te ruste te lê onder die omstandighede uit die hand van die Almagtiege Vader wat héérs oor die elemente.

Ons het nie baie kerk toe gegaan nie, maar so ’n paar keer in die laaste tyd het Oudominee op die plaas met Pa en Ma Bella kom praat oor sensuur en nog ander groot woorde waarvan ek glad niks verstaan het nie. Die Sondag ná Oudominee op die plaas was, is ons dan altyd dorpskerk toe. Ons het gewoonlik in een van die agterste banke in die kerk gaan sit, naby die paadjie as daar sitplekke oop was. As Oudominee ná die diens die seën klaar uitgespreek het en sy arms begin stadig afsak na sy lyf toe, het Ma Bella my vinnig in die gangetjie tussen die banke deur voor haar uitgestoot. Sy het my twee skouers soos ’n stuurwiel vasgevat en my om die grootmenslywe voor my in die paadjie laat kronkel. Sodra ons by die traptreetjies af was en ons ons voete in die straat gesit het, het ons twee so vinnig as wat ons kon, kafee toe gedraf. Ek weet nie waar my ma al die geld gekry het nie, maar by die kafee het sy vir ons altyd ’n vars witbrood gekoop, en twee stokkielekkers – een vir my en een vir Wimpie. Ma Bella het die witgeel stokkielekkers gekoop wat soos room lyk. Dit is vir ons die lekkerste.

Wimpie het elke keer as ek vir hom sy stokkielekker gegee het, agterdeur toe gekom om vir Ma Bella te kom dankie te sê. Hy het geweet om te wag tot Pa nie naby was nie, want ek het vir hom gesê die lekkers was my en my ma se geheim. “Baie dankie, nooi Bella, die battermilk vlywer sakkers is my vywerit,” het Wimpie elke keer gesê. Hy probeer Engels praat soos Moos, maar sy woorde klink snaaks. Moos sê Wimpie moet aanhou try, hy kort net ’n bietjie polish, dan sal hy soos die Queen herself klink.

Die lekkers moes ons wegsteek vir Pa, maar die brood het op Ma Bella se skoot voor in die lorrie in die bruinpapiersak huis toe gery. Ek kon die brood die hele tyd ruik. My ma het die kans kafee toe gevat, want sy het geweet my pa sou nooit daar voor al die mense by die kerk vir haar wegry nie.

Pa sit elke Sondag as ons kerk toe was, die hele pad plaas toe en skel oor Oudominee wat nog lekker sy gat gaan sien, al praat hy so heilig daar uit die hoogte uit. Pa sê as ons almal eendag voor die troon staan om geoordeel te word, sal daar nie plek vir skynheiligheid wees nie. Gesalfde ofte not.

Ek is later moeg gestaan langs die graf, maar Koos Galant hou aan en aan oor die sondes van ons tyd, oor die doodsengel wat op die uitkyk is vir verlore siele, oor die drankduiwel en die wellustigheid waaraan die jonges hulle vergryp en waarná die moeders en die vaders die vrugte van hul kinders se vlees moet versôre. Dora, Lena en die vrouens van oom Daan se plaas huil later hardop. Dis die geluide van ’n nagmerrie.

Eers toe die huilery ou Koos se stem doodmaak, hou hy op met praat. Toe skree hy hard bo almal uit: “Amen. Drie keer: amen, amen, amen!” En daarna sit hy in met “Naa-der, my-hy God, by-hy U, stee-heeds naa-der by …” Toe die laaste versie klaar gesing is, sê hy: “Stof is die nooi-goed en tot stof sal die nooi-goed wederkeer. Ons sal nou oorgaan tot die teraardebestelling.”

Die ses jongmanne van Grootvlei tel die kis drie aan ’n kant met die rieme op. Hulle stap eers heeltemal eenkant toe. Toe hulle weer naderkom, is Moos en Lena se drie seuns, Janneman, Karools en Jafta, aan die een kant van die gat en Dora en oorle’ Klaas se drie seuns, Sampie, Pieta en Wimpie, aan die oorkant. Sampie gee die hele tyd orders van hoe hulle moet maak. Hy het vir Wimpie en Jafta aangesê om die middelste riem aan die punte te vat, want hulle is die jongste. Hulle armpies is maar dun. Wimpie is net ses weke ouer as ek en Jafta ’n jaar.

Die kis skuif gevaarlik na die een kant toe toe Sampie se voete in die modder gly. “Die nooi is ongerus.” Lena praat met Dora. Hulle staan agter my. Toe vat Lena my skouers in al twee haar hande vas. Die ses manne laat die kis stadig in die gat sak, totdat die modder langs die kante boontoe borrel. Toe trek hulle die rieme uit.

Pa kom skielik van die stomp af orent, maar hy val dadelik weer vooroor op sy knieë. Moos en Sampie help hom op en vat hom weerskante onder sy arms. Toe sleep hulle hom huis toe.

Janneman gaan haal droë grond met ’n skopgraaf agter die skuur onder die afdak en kom hou dit voor sy knieë uit langs die gat. Die vrouens en die kinders vat elkeen ’n hand vol grond op die graaf. Lena gee vir my ’n rooi malva wat sy in die pot op die voorstoep gepluk het. Die malva was die hele tyd in haar baadjie se boonste knoopsgat. Ons stap al in die rondte om die gat. “Gooi op Mamma-goed se kis, Carli-kind,” sê Lena vir my. En op die katkoppie s’n, wil ek sê, maar my tong wil nog nie praat nie.

Toe Moos en Sampie weer by ons onder die peperboom aankom, dra hulle ’n paar grawe oor hul skouers. “Laat ons uit die pad kom,” sê Dora en sy stoot my dieper onder die boom in.

“Dis tyd om die graf toe te gooi, Carli.” Lena se stem klink na huil. Sy kom staan styf agter my rug en vou haar arms om my skouers. Koos Galant vat ook ’n graaf en help vir Moos, Sampie en Janneman om die hoop grond aan die kant van die gat op die kis te gooi. Die modder spat lelik onder in die graf met die eerste paar sooie. Ons bly doodstil staan terwyl die manne spit en gooi, spit en gooi. Die kis is gou heeltemal toe en die gat is later vol, maar hulle hou aan tot al die grond op die graf opgestapel is. Sampie en Moos slaan-slaan om die beurt met die agterkante van die grawe op die los grond, totdat die hopie vas en modderig lyk.

Dora en Lena begin aanstap na die hekkie toe. Ek kan nie roer nie. My bene wil nie loop nie. Sampie sien dit. Hy kom tot voor my en sonder om iets te sê, tel hy my op. Hy hou my styf teen sy bors vas en dra my huis toe. Sy lyf voel lekker warm.

Die dag ná die begrafnis sit ek by Lena langs die grootsloot. Dit reën nie meer nie en die son skyn warm. Lena was die lakens waarop Ma Bella gebloei het. Sy is op haar knieë langs die wasklip. Op en af, op en af knie sy met haar twee hande die rooierige skuim uit die wit lap uit.

“Jy moet praat, Carli, of ten minste huil om jou siel skoon te kry. Nog nie ’n traan het uit jou twee oë gekom of ’n woord oor jou lippe vandat jou mamma-goed na Liewe Jesus toe is nie. Jy dwaal hier droogoog rond, soos ’n gees wat verdwaal het in die hiernamaals.”

Ek wil vir haar sê ek kan nie praat nie, my tong is swaar, dit voel te groot vir my mond, maar ek kan nie. Ek het al voor die spieël aan die binnekant van my klerekas se deur probeer praat, maar dis net borrels wat by my mond uitkom. Soos by die katkoppie met sy slymerige borrel-bekkie.

Die werf lyk anders sonder Ma Bella. Ek kyk kort-kort om te sien of sy nog nie met haar naaldwerk op die agterstoep uitgekom het nie. Laas week, voor dit begin reën het, het ek by haar by die tafel op die agterstoep gesit terwyl sy besig was om ’n nuwe randjie vir ’n babakombersie om te hekel. Sy het die kombersie opgelig en vir my gewys. “Dit was jou kombersie, Carli. Ek maak die nuwe randjie maar weer geel, want geel werk vir dogtertjie- en seuntjie-babatjies.”

Ek het ’n kans gevat. “Die nuwe baba sal ’n nuwe hond moet kry.” Ek wou net kyk wat Ma Bella sou sê. Ons het nie meer ’n hond op die werf nie. Maar my ma het niks gesê nie. Sy het net haar hare oor haar gesig laat sak en gesnuif. Ek was jammer dat ek van ’n hond gepraat het. Dit het Ma Bella hartseer gemaak.

Pa het my hond op my vyfde verjaarsdag geskiet. Dis lank terug, want ek word een van die dae sewe, maar ek onthou alles goed. Ek en Ma Bella het op die agterstoep partytjie gehou toe Pa met die geweer by ons verbystap bloekombos toe. My ma het vir my ’n tennisbeskuitjie-koek gesmeer met lae gekookte kondensmelk en rooi konfyt tussen die lae beskuitjies. Sy het net een verjaarsdagkersie gehad, maar sy het dit vyf keer aangesteek sodat ek dit een keer vir elke jaar kon doodblaas. Dis toe die kersie die vyfde keer brand dat Pa by ons verbygestap het.

“Donnerse hond het ’n skaap doodgebyt,” het hy so in die verbyloop gesê. Ek het dadelik geweet wat kom.

“Dis nie Nero nie!” het ek geroep en agter Pa aangehardloop. Ma Bella het my van agter ingehaal voor ek by hom kon kom. Ons was amper in die bloekombos. Sy het my teen haar bene vasgedruk en my kop weggedraai, want ek dink sy wou nie hê ek moes sien hoe Pa vir Nero skiet nie. Ek het losgeruk en so vinnig ek kon weer agter Pa aangehardloop. Net toe ek langs hom kom, het die skoot geklap. Ek was te laat. My ore het gesing van die knal. Nero het twee keer geruk. Toe het hy stil bly lê langs die dooie skaap wat lelik gebyt was aan die nek.

“Nero gaan nou na Liewe Jesus toe, Carli,” het Ma Bella saggies in my oor gesê, “ek sal vir Moos vra om hom agter die skuur te begrawe.” Die volgende oggend was daar twee dooie skape, hierdie keer binne-in die kraal.

“Dis ’n jakkals se werk, baas,” het Moos vir Pa by die kombuisdeur kom sê. “Die vuilgoed het ’n gat onder die kamp se ogiesdraad deur getonnel. Baas sal die jakkalsjagter met sy honde moet laat kom. Hierdie veld se jakkalse is te skelm vir ons en hulle is lankal te slim vir die strikke.”

Pa is met die lorrie in die buurt af en het die jakkalsjagter gaan roep. Sy windhonde het die jakkals sommer daardie middag nog tot in ’n erdvarkgat onder ’n klomp karoobossies ingejaag. Op die werf kon ons die honde hoor tjank toe hulle die spoor kry. Ek en Wimpie het skelm op die skuur se dak geklim om te kyk. Die honde het op ’n streep deur die veld gehardloop, tjank-tjank, sover hulle gaan. Halfpad tussen die grootsloot en die grootpad moes die jakkals in die gat ingekruip het, want die honde het daar op ’n bondel bly maal en verskriklik geblaf.

“Hoe gaan hulle hom nou weer daar uitkry?” wou ek weet.

“Nou sal een van die foxterriers agter die jakkals in die gat inkruip en die wêreld vir hom warm maak. Sodra hy nie meer kan uithou nie, sal hy moet boontoe kom. Dis wanneer die jakkalsjagter sy kans kry om te skiet, en. …” Wimpie het brêgherig verduidelik.

“Oukei, oukei, ek weet dit.” Ek het hom stilgemaak. Hy kan hom tog so slim hou.

“Nou hoekom vra jy as jy weet?” Wimpie het hom vervies. “Meisiekinders is almal simpel.”

Dit het nie lank geduur voor ons die skoot gehoor het nie. Toe sien ons hoe die perd met die jakkalsjagter op sy rug al in die rondte draai in die stofwolk wat die honde uitgetrap het. Ons moes vinnig koes toe Ma Bella op die agterstoep uitkom en na ons roep. Sy het seker die skoot tot in die huis gehoor.

Ek het daarna elke oggend ná brekfis by die hopie grond agter die skuur gaan kyk of Liewe Jesus al vir Nero kom uithaal het. Op die vierde dag kon ek van ver af sien die hopie grond is half plat. Ek het na Wimpie geroep, maar hy was oorkant die grootsloot by hulle huis en het my nie gehoor nie. Toe sluip ek stadig nader. Ek was bang dat ek dalk vir Liewe Jesus sal sien terwyl Hy vir Nero uithaal. Maar dit was heeltemal anders. Nero was half in die gat en half bo-op die grond. Daar was swerms en swerms vlieë. Stink vrot het hy daar gelê. Nero het geruik soos die afval wat Lena een slagdag buite in die son vergeet het. Ek het huis toe gehardloop en heelpad geskree en gehuil. Ma Bella het gesê dit moet oom Daan se volk se honde wees wat hom uitgegrawe het.

Liewe Jesus het te lank gewag om vir Nero te kom haal, toe word my hond vrot. “Sal hy met so ’n stink lyf in die hemel kan inkom?” het ek vir Ma Bella gevra toe sy vir Sampie gestuur het om weer vir Nero te gaan toegooi. “Sal Liewe Jesus nog kom?”

Ma Bella het net geknik, niks gesê nie. Toe is ek en sy af rivier toe. Ek weet nie of Liewe Jesus ooit gekom het nie. Die gat het toe gebly.

Van toe af het Pa, elke keer as Ma Bella weer oor ’n hond vir die werf gepraat het, op haar geskel. Die laaste keer het hy baie onbeskof geraak. Dit was net voor my sesde verjaarsdag, amper ’n jaar nadat Nero vir Liewe Jesus onder die grond gaan wag het.

“Wilhelm, kom ons kry vir Carli ’n hondjie vir haar verjaarsdag.” Ma Bella het mooi gevra. Hulle was die aand in hul slaapkamer besig om reg te maak om te gaan slaap.

“Wanneer gaan jy verdomp ophou met jou gesanik oor ’n hond vir die meisiekind? Ek is gatvol vir jou kak.”

Toe is Pa by die agterdeur uit en het ek die lorrie oor die werf hoor ry. Hy het die volgende oggend net voor melktyd eers teruggekom. Pa het baie keer weggery van die werf af as hy en Ma Bella baklei het.

“As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” Lena sing terwyl sy die lakens een vir een uit die blouselwater lig. Sy sing dieselfde versie oor en oor. Ek moet aan die een punt van die laken vashou terwyl sy dit om en om draai totdat daar nie meer water uit die lap drup nie. Dan skud sy die laken oop en gooi dit op die bleikklippe.

Laatmiddag, nadat ek en Lena die lakens van die klippe af opgetel het en al haar aandwerk klaar was, onthou sy van die eiers in die hoenderhok. “Genade, Carli, amper maak ek nou ’n groot fout. As die eiers nie huis kry voor donker nie, het ons môreoggend neste vol roereier. Jy ken Mister Leghorn-haan se pote. Hy trap alles wat in sy pad kom flenters.”

Ek is bly daar is nog werk, want nou moet sy nog ’n bietjie langer by my op die werf bly.

Ma Bella het altyd lang stories met die haan gesels wanneer ons die eiers uitgehaal het. “Hallo, Mister Leghorn, staan asseblief bietjie opsy dat ons kan verbykom. Kyk jy nog mooi na jou harem henne?” het sy gesê as hy ons nie by die hekkie wou laat inkom nie. Die Leghorn-haan is die voorkraaier op die werf. Hy het al een keer vir Ma Bella ’n bloedstreep al teen haar maermerrie af geskop van beduiweldgeit, maar sy het gesê sy vergewe hom maar, want hy is die beste kuikenmaker langs die rivier.

Pa sit by die kombuistafel toe ons met die eiers van buite af inkom. Hy lê met sy kop op sy arms op die tafel en snork. Voor hom staan die brandewynbottel en ’n leë glas. Op die rand van die glas sit ’n tros vlieë.

“Ek sal Moos kry om jou pa-goed in die kooi te kom sit, Carli,” sug Lena. Sy vee met die agterkant van haar hand die grys haartjies van haar voorkop af. “Drank bly maar ’n vark.”

Toe Pa in die bed is, gaan Lena saam met Moos na hul huis toe oorkant die grootsloot. Dit is al sterk skemer buite. Ek bly op die agterstoep staan totdat hulle agter die bloekombos wegraak.

In ons buurt bly die wit mense aan die onderkant en die bruin mense aan die bokant van die grootsloot. Die sterk stroom water in die grootsloot kom van ’n groot dam af en elke boer kry ’n waterbeurt. Dan mag hy sy sluise in die sementwal van die sloot ooptrek en sy landerye natlei of die water in sy eie dam laat inloop. Die plaasvolk se huise is tussen die grootsloot en die grootpad gebou. Al die plaasvolk wat doodgaan in die buurt word in ’n begraafplaas op Grootvlei, anderkant die grootpad langs die kwarrie-gat, begrawe. Almal bymekaar. Daar is al ’n klomp grafte. Vir die wit mense werk dit anders. Elke plaas het sy eie familiekerkhof, waar net die boer en sy familie begrawe word. Grootvlei se familiekerkhof is agter die beeskraal onder die groot peperboom in ’n draadkampie. Dis waar ons gister vir Ma Bella en die katkoppie begrawe het.

Gisteraand ná die begrafnis het Lena vir haar ’n ou matras uit die buitekamer gaan haal en dit voor my bed gegooi. “Vannag kyk ek na jou, Carli-kind,” het sy gesê, “maar dit sal nie ná vannag kan aanhou nie, dié buurt se mense praat gou.” Ek het agter haar rug gaan lê en eers wakker geword toe sy vanoggend opgestaan het. Ons twee het die hele nag op die matras op die vloer geslaap. Ek weet nie waaroor die mense sal praat nie.

Toe ek weer terug in die kombuis is, sluit ek die agterdeur. Dis sterk skemer en ek trek die blaker wat op die kombuistafel staan nader en steek die kort kersie daarin op met ’n vuurhoutjie uit die dosie wat altyd langs die stoof gehou word. Die dosie moet presies op dieselfde plek waar dit gelê het, teruggesit word langs die stoof vir Pa om môreoggend die fynhout eerste brand te maak in die kaggel van die houtstoof. Sodra die vlammetjies mooi opslaan, sal hy die stompies, wat Lena saans inbring van die houthoop af, by die vlamme instoot. Die houthoop is langs die agterstoep onder die kombuisvenster. Een vir een sal Pa die stompies by die bek van die kaggel indruk sodat die vlamme deurentyd goed lug kry. Bewaar die een wat die vuurhoutjies wegvat. Die hel is dan los. Net so los soos wanneer die stompies nat geword het op die houthoop. As die nat hout se rook by die stoof se deurtjie uitborrel, vloek Pa die hele werf wakker. Dis Moos se werk om te kyk dat die hout toe bly onder die seil.

Ek is bang vir die groot stil huis wat sommer nou-nou pikdonker gaan wees. En ek moet toilet toe gaan. Maar die toilet is in die badkamer waar die katkoppie sy borreltjies onder die water geblaas het. Ek kan amper nie meer knyp nie en stap tot voor die badkamerdeur met die blaker in my hand. Die vlammetjie van die kers laat alles op en af wip en die kraan drup aanhoudend. Dit maak my nog banger. In my kop hoor ek kort-kort die katkoppie se geluidjies. Ek bly doodstil staan, al klop my hart in my ore. Miskien sal die bang weggaan.

Ons het tot verlede jaar nog nie ’n toilet of eers ’n bad in die huis gehad nie. Bedags moes ons in die kleinhuisie langs die hoenderhok ons dinge gaan doen. Dit was grillerig om so op die plank oor die diep gat met jou kaal boude te gaan sit. Lena moes al die ou koerante opskeur en die stukke papier aan ’n draadhaak agter die kleinhuisie se deur ophang. Die koerantpapier was eintlik net bedoel om te gebruik wanneer ons toiletpapier opgeraak het, maar die toiletpapier was maar amper altyd op. As Ma Bella toiletpapier op Pa se winkellysie geskryf het, het hy dit nooit gebring nie. Net as sy self dorp toe gegaan het, het sy vir ons toiletpapier oor die toonbank van die Handelshuis bestel. Dan het Pa dit betaal, maar die hele pad huis toe het hy daaroor geskel. Snags het ons kamerpotte gebruik. Dit was baie beter as om kleinhuisie toe te gaan. Onder elke bed in die huis was ’n pot. Ons het dit net in die nag, of as ons siek was, gebruik. Lena of Dora het soggens die potte in die kleinhuisie gaan leegmaak.

Voor ons die badkamer gehad het, het ons nie elke aand gebad nie. Ma Bella het toe altyd vroegaand op Saterdae en gewoonlik weer Woensdae vir ons in die groot koperpot water op die stoof warm gemaak. Sodra die water warm genoeg was en die kole in die stoof nog gegloei het, het ons gebad, net daar voor die stoof in ’n groot sinkbad. Eers ek, dan my ma en as ons klaar was, het my pa sy voete in die water skoongespoel. Hy het nie nog gebodder met ’n waslap en seep nie. Hy het sy broekspype opgerol en sommer so staan-staan die een voet met die ander een skoongetrap. Die tussenin aande het ek en Ma Bella net ge-top en ge-tail in die waskom. Dit het so aangehou tot een Maandag. Dora en Lena was op die agterstoep besig en ek en Wimpie het in die bloekombos gespeel toe Pa met die lorrie voor die agterdeur stilgehou het. Hy het die flap oopgemaak en skuur toe gestap.

“Ons baas het hom sweerlik die naweek voor sy kuiergas vir sy huis se geriewe geskaam.” Lena het haar nek gerek om op die bak van die lorrie te kon sien. “Dis mos badkamergoed wat daar uitsteek. Kyk, Dora, daar is ’n spierwitte lêwwetrie en ’n bad en ’n wasbak en als.”

Pa was dorp toe om vir antie Gertie terug te vat. Sy het die vorige Vrydagmiddag saam met Pa op die plaas opgedaag om vir die naweek op Grootvlei te kom kuier. Antie Gertie antwoord die telefoon by die Handelshuis op die dorp.

Moos en Sampie is geroep om te kom aflaai. ’n Pragtige wit porseleinbad en ’n wasbak en ’n toilet met ’n tenk en ’n ketting was agter op die lorrie. Ook ’n klomp pype, bakstene en sakkies sement. Die volgende oggend het ’n bouer met sy span uit die dorp gekom en heel eerste ’n gat begin grawe langs die huis. Die gat was later baie groot en baie diep.

“Dis ’n septic tank vir die afloopwater,” het Moos ons vertel toe ek, Lena en Dora op ’n boomstomp naby die werkery gaan sit en kyk het hoe die bouer en sy twee handlangers dieper en dieper in Grootvlei se grond in grawe. Moos het geweet van septic tanks, want waar hy in die dorp grootgeword het, het elke huis ’n septic tank gehad.

“Lady Gertie se twee dik boude het seker agter die plank afgehang en teen die skurwe bakstene agter haar geskuur met elke sitting.” Dora was vol lag toe sy dit vir Lena sê.

“Kan moeilik wees om te mik as jy nie die gat kan sien nie,” het Lena laat hoor. Toe lag hulle dat daar trane oor hul wange loop.

“Ek dink sy was skytbang vir die daddy-long-legse, die ou suurpruim. Maar as mens so baie tee sit en uitsuip die hele dag, moet jy mos weet jy sal kort-kort moet draf om te gaan water afslaan.” Lena wou nog verder praat, maar sy en Dora het te veel gelag.

Ma Bella was omgekrap toe Pa dié Vrydag met antie Gertie op die plaas aankom. Sy het niks van die kuier geweet nie. Ek moes op die sofa in die voorhuis gaan slaap sodat antie Gertie my kamer kon kry. My ma het amper die hele naweek in die tuin gewerskaf of anders het sy voor die agterdeur gesit met haar naaldwerk. Ons twee was ook die Saterdag en weer die Sondag lang tye by die rivier. Ma Bella het haar niks uitgesit om met antie Gertie te praat nie. Sy het antie Gertie skaars gegroet toe Pa die Maandagoggend die lorrie opstaart om haar weg te vat.

Toe Ma Bella die goed sien wat van die lorrie afgelaai word, het sy voor Pa gaan staan en hom gevra waar die geiser dan is. Hy het sy rug op haar gedraai, en so met sy agterkant na haar toe bly staan terwyl hy onbeskof met haar gepraat het. “Sien jy geld op my rug groei?”

Ma Bella het niks gesê nie, maar later, toe Pa weg was stalle toe, het sy vir my gesê ons sal nog ’n kopergeiser kry om warm water te maak al moet sy op haar kop staan daarvoor. Maar dit het nie gebeur nie. In die kraan bokant die bad is net koue water. Al die warm water moet uit die kombuis aangedra word.

Pa snork in Pa en Ma Bella se kamer dat dit klink of hy gaan verstik toe ek maar weer voor die badkamerdeur omdraai. Die bang wou nie weggaan nie. Ek draf terug kombuis toe. My nood is baie groot. Die kers se vlammetjie waai amper dood toe ek om die hoek in die gang kom en ek moet bakhand keer.

In die kombuis sien ek die slopemmer aan die binnekant van die agterdeur staan. Dis die emmer waarmee Lena die plante op die stoep natgooi. Toe Ouma Sarie nog gelewe het, was dit haar kamer se nagpot.

Ek trek my broek af, en gaan sit met my boude op die rand van die emmer. Dis moeilik, want die rand is dun en ek kan nie lekker my sit kry nie. Dit voel al of ek gaan inval. Ek kyk om toe ek geluide agter my hoor. Dis Pa. Die laaste pie loop teen my been af toe ek opspring voor ek klaar is.

“Wat de hel gaan nou hier aan?” skel Pa. Hy sit eers die lamp, wat hy uit die kamer saamgebring het, op die tafel neer en toe kom hy tot by my. Ek kan sy brandewynasem ruik. Toe hy die emmer omskop, val hy self amper om. “Saam met jou ma gekerm oor ’n badkamer en nou kom pis jy in die kombuis!” Pa klap my teen my kop dat ek binne-in die pie op die vloer val. “Sies, wat se vieslikheid is dit?” Hy skree op my. “Nou was jy eers die vloer en dan loop was jy jou lyf behoorlik in die bad.” Sy tong sleep.

Toe Pa omdraai en na die sideboard toe stap, slinger hy so dat hy teen die tafel vasloop. Hy moet nog baie dronk wees van vroegaand se drinkery. Hy maak die sideboard se deure oop en moet laag buk om die brandewynbottel, wat Lena aspris diep onder in die kas gebêre het, uit te haal. Hy verloor sy balans en val op sy knieë op die vloer, maar hy staan vloek-vloek op. Die bottel hou hy hoog in die lug. Toe Pa weer regop is, sit hy eers die bottel op die tafel neer en toe haal hy ’n skoon glas van die rak bo die sideboard af. Die deure van die kas skop hy met sy hak toe. Toe gaan sit hy by die tafel. Hy het die brandewynbottel in een hand en die glas in die ander een. Hy skink bietjies-bietjies van die drank onder in die glas en slaan dit elke keer met een sluk weg. Net so skoon. Ek tel. Hy doen dit vyf keer voor ek klaar is met die vloer. Toe ek by hom verbystap badkamer toe met die blaker met die kort kersie in my hand, skop hy na my bene, maar hy skop mis. “Gaan was jou, die hele wêreld stink na pis om jou.”

Ek wens Ma Bella was hier om vir my water warm te maak in die groot koperpot. Maar sy en die katkoppie lê onder die peperboom onder die modder. Hulle wag vir Liewe Jesus.

Ek het net in die koue water in die bad gaan sit toe ek die deurknop hoor draai. Dis Pa. Hy staan in die badkamer se deur en kyk vir my. Ek voel skaam en hou my hande voor my kaalgeit. “Jy hoef nie toe te hou nie, die molle stoot nog nie eers nie,” lag hy onbeskof en met die uitgaan ruk hy die deur toe. Die wind wat die deur maak, waai die kers se vlammetjie dood.

Ek klim vinnig uit die water en voel in die pikdonker vir die handdoek wat ek op die bankie langs die wasbak neergesit het. Dankie tog, ek vat dit gou raak. By die deur moet ek weer voel vir die deurknop. Ek gebruik die handdoek om die knop vas te vat, want my hande is nat. Die knop draai maklik en ek pluk die deur oop en hardloop in die donker na my kamer toe.

Lena bêre altyd my nagklere onder my kopkussing. Ek kry dit en trek dit sukkel-sukkel oor my nat lyf aan. Pa snork al weer in Pa en Ma Bella se kamer toe ek onder my komberse inklim. Die trane loop sommer vanself by my oë uit en ek trek my kop toe. Ek huil oor Nero, oor Ma onder die modder saam met die katkoppie en ek huil oor die donkerte. Ek huil oor ek bang is vir Pa en vir die molle wat nog nie stoot nie en ek huil omdat ek nie weet wat dit beteken nie.

Ek is bly toe die vakansie verby is. Ma Bella is twee weke ná Nuwejaar dood. Wimpie het elke dag vroeg werf toe gekom, maar ons het nie baie gespeel nie. Ons het die meeste van die tyd net naby mekaar gesit. Partykeer was ons in die koelte onder die adamsvyeboom in die tuin, partykeer agter die skuur onder die afdak of onder die wilgerbome langs die dam agter die beeskraal. Ons het nie eers baie gepraat nie, ons het net gesit. Lena en Dora was in die huis. Hulle het die huis skoongemaak en kos gekook.

Ek het weggebly van Pa af. Hy het sommige dae al soggens, net nadat die volk vir melktyd ingeval het, die sideboard oopgesluit, die brandewynbottel uitgehaal en sy eerste dop geskink. Dan het hy die bottel net daar in die kombuis op die tafel neergesit en was hy kort-kort deur die oggend in die huis. Elke keer het hy ’n dop brandewyn weggesluk. Amper elke middag so vieruur se kant het Pa lankal op sy arms op die tafel gelê en snork en dan het Lena vir Moos geroep om hom in die bed te sit. Moos moes al Pa se aandwerk doen. Hy het die diere versorg, die volk se wyn gegee en die skuur en die kelder se slotte elke aand toegedruk voor hy oor die grootsloot huis toe is. Pa moes self weer in die oggend oopsluit, want niemand het gewaag om die bos sleutels uit sy broeksak te haal nie. Niemand sou ook waag om deur die dag wyn in die kelder te gaan steel nie, want Pa het gesê hy weet presies hoe lank die vat moet hou en as dit voor die tyd leeg raak, sal almal maar saam moet boet. Daarom het die drinkers mekaar dopgehou.

Ek het Pa elke nag in die badkamer in die donker hoor pie en winde breek. Dan, het ek geweet, sal hy in die gang af by my kamerdeur verby loop kombuis toe. Hy sal die lamp op die tafel aansteek en die sideboard oopmaak. Die nag se geluide klink deur ons hele huis, want ons huis is nie te groot nie. Ons het net twee slaapkamers, die voorhuis, die badkamer, die spens, die kombuis en die wye gang. Op die voorstoep is die stoepkamer en om die huis se hoek aan die hoenderhok se kant is die buitekamer. Ons huis het nie meer ’n eetkamer nie, want ek slaap in die ou eetkamer. Lena het my vertel dat die sideboard en die eetkamer se tafel al baie lank gelede in die kombuis ingedra is.

Ek was een middag ná skool nog besig om my kos by die kombuistafel te eet toe Lena my begin aanjaag. Dora het skottelgoed gewas en Ma Bella het bietjie gaan lê. “Toe, toe, toe, roer jou, jy moet klaar eet, Carli, ek wil die vloer onder die tafel skoonmaak,” het sy gesê, “die middag stap aan.” Sy het met die besem in haar hand langs my kom staan. Toe word ek vies. Ek het my bord kos gevat en op die agterstoep by die tafel gaan sit. “Ekskuus, kindjie, ek wou jou nie wegjaag nie.” Sy het agter my aangekom, die besem teen die stoep se muur staangemaak en langs my kom sit. Dora het ook uitgekom. Lena het gesug en toe met Dora gepraat. “Dit bly darem maar sleg so sonder eetkamer hier in Grootvlei se huis. Ons bly onder mekaar se voete in.”

“As vrekkerigheid dodelik was, Lena, was hier nou net ’n klomp spoke op hierdie werf,” het Dora gesê.

“Voorwaar, voorwaar,” het Lena geantwoord.

“Waarvan praat julle?” Ek het nie verstaan nie. Toe verduidelik Lena vir my.

“Die eetkamer van die plaashuis moes ’n slaapkamer word net voor jou pa gebore is. Ouma Sarie wou opsluit ’n babakamer hê. Die voorhuis was te klein, daar kon nie meer meubels inpas nie, daarom is die sideboard en die eetkamer se tafel in die kombuis ingedruk. Hierdie een,” sy het met haar vingers op die agterstoep se tafel gedruk, “was eers die kombuistafel. Die oubaas het daardie tyd gepraat van nog ’n kamer aanbou aan die agterkant van die huis, maar ounooi Sarie wou nooit kopgee nie. Dis net ’n vermorsing van bakstene en sement, elkeen het tog sy lêplek, het sy glo gesê. Daar het nooit iets van ’n aanbouery gekom nie. Moos het die storie by die plaasvolk gehoor toe ons hier op Grootvlei aangekom het. Ons sukkel al hierdie jare so aan. Die kombuis is so vol, g’n mens kan behoorlik in al die gate kom om skoon te maak nie.”

“Nou het ons twee darem ook nie dun latlyfies wat maklik buig nie, Lena,” het Dora gelag, “maar dis dêm ongemaklik om te staan en skottelgoed was vandat ons baas die kombuistafel enige tyd van die dag as ’n bar counter gebruik. Dit raak darem net te handuit as die slimstories van die pêlle om die tafel begin baard kry soos die bottel sak. Sulke tye maak ek my skaars, want dit voel partykeer of ek nie my bek langer sal kan hou nie.”

Hulle het by my bly sit en gesels tot ek klaar geëet het, niks meer haastig nie.

“Ek wil bad voor jy saans huis toe gaan,” het ek die oggend ná die kouewaterbad vir Lena gesê.

“Dankie tog, jou tong is t’rug,” het Lena uitgeroep. “Natuurlik. Jy soek ’n bietjie warm water, anders skuim die seep sleg, nè, Carli-kind.”

Ek het haar niks gesê van Pa se dinge die vorige aand nie. Van toe af kry Lena my badwater elke middag reg. Sy kom sit by my op die bankie langs die bad en sy help my om my hare en my lyf te was. Sy help my ook om my af te droog en my pajamas aan te trek. Sy praat nie van molle wat nog nie stoot nie en ek vra ook nie.

Ek het elke oggend ná die begrafnis gaan kyk of die grondhoop onder die peperboom nog toe was, tot die laaste dag van die vakansie. Ek was nie seker wanneer Liewe Jesus vir Ma Bella en die katkoppie sou kom haal nie. Maar die grond het toe gebly, hoewel dit sleg verspoel het toe die leivoor drie dae ná die begrafnis oorgeloop het. ’n Diep sloot het langs die graf ingesak. Ek het vir Lena geroep om te kom kyk.

“Daar is ’n ongerustheid onder hierdie hoop grond,” is al wat sy gesê het.

Drie weke voor Ma Bella dood is, toe dit Kersfees was, was die hel goed los in Grootvlei se huis. Vroegoggend op Kersdag, toe die plaasmense almal voor die agterdeur gestaan het om hul Kersliedjies te sing, het Pa in die bed gebly met ’n migraine. “Migraine se gat,” het Dora vir Lena op die agterstoep agter haar hand gesê, “eerder ’n babelas op hierdie heilige dag, sou ek sê.”

Moos, Lena, Dora en al ses hulle seunskinders het voor die agterdeur al die versies van “Betlehems Ster”, “Kom herwaarts, getroues” en “Stille nag” gesing en ek het saamgesing. Dora is die plaas se voorsinger. Sy trek partykeer baie, veral met die “steher” van “Betlehems Ster”, maar niemand waag dit om voor haar uit te sing nie. Sy sal daardie een ’n doodskyk gee. Ma het gehuil, ek kon sien hoe haar skouers skud, al het sy haar gesig agter haar hare probeer wegsteek. Toe die singery verby was, het almal in ’n ry ingeval en vir my en Ma Bella hêppie-hêppie met die hand kom sê. Toe het hulle plaatkoek, wat Dora gebak het, en wat ek met versiersuiker en hundreds and thousands versier het, en gemmerbier wat Ma Bella gemaak het, gekry. Lena en Dora het die eetgoed uitgedeel, ’n groot stuk koek vir elkeen en twee bottels gemmerbier vir elke huis.

Ons Kerstafel het Ma Bella al vroeg die oggend in die kombuis gedek. Lena het die vorige week die huis se beste tafeldoek uitgekook totdat dit spierwit was. Dora het ’n hoender geslag en dit die vorige dag gaargemaak. Dit moes oornag buite in die siffie staan om koel te bly. Die rooi jellie en die vla het Ma Bella self die aand voor Kersfees gemaak en toe dit ’n bietjie afgekoel was, het sy doeke oor die houers gebind en ek het saam met haar gestap tot by die drinkwatertenk. Daar het Ma Bella op ’n druiwekissie gestaan en die houers op die tenk gesit. Die doeke keer dat die katte nie die jellie en die vla op die tenk kan opvreet nie. Dis koeler op die tenk as in die siffie en dis die enigste manier om die jellie te kry om styf te word en om seker te maak dat die vla nie suur word nie. Die volgende oggend moet die houers dan altyd in nat lappe toegedraai word en moet dit in die koelte in die spens bly tot etenstyd.

Ons beste borde uit die gangkas was opgevryf en by drie sitplekke met messe, vurke en lepels gedek. Ma Bella het ook ’n glas by elke bord gesit vir ons gemmerbier wat nog in die water van die grootsloot in ’n emmertjie aan ’n ketting gehang het. Op die laaste minuut voor ete sou my ma dit gaan uithaal sodat dit lekker koud kon bly. Maar die mooiste vir my was die groot, ronde blompot met die rooi malvas daarin. Ma Bella het haar spykertjieplaat onder in die pot gesit en die blomme daarin gesteek. Toe het sy dit in die middel van die tafel gesit. Sy het twee van ons nuwe kerse weerskante van die blomme in die spykers ingedruk. Alles was klaar.

Pa het so teen twaalfuur, lank ná al die plaasmense al by hul huise terug was, uit die slaapkamer gekom. Ma Bella het toe net met ons emmertjie gemmerbier van die grootsloot af ingekom. Pa het die sideboard oopgemaak, die brandewynbottel uitgehaal, die sideboard se deurtjies weer met sy hak toegeskop, die glas by sy sitplek opgetel en toe vir die tafel staan en kyk. Ma Bella het doodstil in die agterdeur bly staan en ek het agter haar weggekruip. Ek het net effentjies om haar sy geloer om te sien wat gaan gebeur. Mens kon die moeilikheid voel kom. Pa het hard op sy stoel gaan sit en met sy voorarms alles voor hom op die kop van die tafel uit sy pad gestoot, alles na die middel van die tafel toe. Die tafeldoek het half oor die blompot gedruk en die kerse het al twee uitgeval. Alles op die tafel het sommer lelik natgespat en was op ’n hoop en deurmekaar.

“Hêppie Krismis,” het Pa gesê. Hy het ’n dop geskink, sy glas gelig, vir ons gekyk en lelik gelag.

Ma Bella het niks gesê nie. Sy het spens toe gestap en ’n mandjie van die rak afgehaal. Sy het vir ons twee kos ingepak. Toe het sy ons swemgoed in ’n sak gedruk, vir my gestuur om ’n handdoek te gaan haal, toe my hand gevat en ons is by die voordeur uit.

Ek en Ma Bella het lekker Kersfees op die rivier se wal gehou. Sy het eers vir my die Baba-Jesus-storie vertel. Daarna het ons Kersliedjies gesing. Toe het ons eers geswem en toe geëet en toe weer geswem.

Ons moes al amper huis toe gaan en het weer ons dagklere aangehad toe my ma haar hand in haar rok se sak steek. Sy het ’n pakkie uitgehaal. Dit was toegedraai in die sagte papier wat die vorige jaar in my nuwe skoolskoene-doos was.

“Ek het vir jou ’n presentjie gemaak,” het Ma Bella gesê. Ek het my asem so lank opgehou toe ek dit oopmaak, dat ek ampertjies omgeval het. “Jy moet maar versigtig werk, dit kan maklik breek.”

Dis die mooiste prentjie van gedroogde blommetjies wat ek nog ooit gesien het. Ma Bella het self die blommetjies deur die jaar gedroog en dit toe op ’n stuk karton vasgeplak, soos ’n ruikertjie. Ek het dit by die huis in ’n skoendoos gesit en nou nog, elke aand voor ek gaan slaap, kyk ek daarna.

Gister het Lena vir my gesê: “Môre is dit vroeg opstaan, Carli, die skool vat weer vir die nuwe skooljaar. Ek sal jou skoolbrood kom regkry en kom kyk dat jy netjies is. Jy moet jou skooltas en jou potloodblikkie agtermekaar kry, sodat jy nie hier op die laaste moet rondhol nie.”

Ek is die volgende oggend, toe dit nog skemerdonker buite is, wakker. Ek hoor Pa in die kombuis vroetel, maar ek bly in my bed. Ek sal wag tot ek vir Lena hoor. Pa word al knorriger, veral soggens. “Bly uit jou pa-goed se pad uit,” is Lena se raad elke keer as Pa begin skel.

“Maar ek het niks gedoen nie, Lena.” Pa was nog nooit baie vriendelik met my nie, maar nou voel dit baie erger.

“Jou pa rou oor jou ma, Carli, dit maak so met mans. Hulle sukkel om te huil en dan raak hulle maar so half bedonnerd omdat hul trane agter hul oë versteen en druk op hul breine.”

Ek weet nie so mooi nie, Pa was nog maar altyd so.

Die plaasskool vir die wit kinders van die buurt is op die plaas langs ons s’n, nie aan oom Daan se kant nie, maar aan die dorp se kant. Verlede jaar was my eerste jaar in dié skool. Ons kan in die plaasskool bly tot standerd vyf, maar van standerd ses af moet almal dorpskool toe gaan en in die koshuise gaan bly. Ek stap sommer skool toe, want dis nie ver nie. Toe Ma Bella nog hier was, het sy, as dit gereën het in die winter, vir Sampie gevra om my met die fiets weg te bring skool toe. Ek kon haar reënjas aantrek en Sampie het die jas weer huis toe gevat nadat hy my afgelaai het. As dit nog gereën het wanneer die skool in die middae uitgekom het, was Sampie weer by die hek met Ma Bella se reënjas. Hy het my altyd gehelp om die reënjas aan te trek en dan het hy my weer voor op die fiets huis toe gelift. Dit was baie lekker.

Net as die wind baie sterk gewaai het, het Pa partykeer die lorrie in die oggend uit die skuur getrek en my gaan aflaai, maar dan was hy altyd eers onbeskof met Ma Bella. My pa het gesê ek sal niks oorkom van ’n bietjie wind nie, en my ma was bang ek sal weer steek in die ore kry soos elke vorige keer as ek in die wind geloop het.

As Pa op die wind-dae gewen het, het Ma Bella saam met my tot by die skool gestap. Dan het sy vir my wattepluisies in my ore gesit en moes ek haar spesiale warm wolmus op my kop sit en haar spesiale warm baadjie aantrek, al is dit hopeloos te groot vir my. Ma Bella het die baadjie ná haar ma, my ouma Maria, dood is, vir haar gehou.

Dis ’n pragtige baadjie uit annerland. Annerland wat soos ’n stewel lyk, waar my ouma en my ma eers gewoon het. Ma Bella se ouma het die baadjie self vir my ouma Maria gemaak. Dis ’n pragtige baadjie wat gemaak is van dik lap met rooi, donkerblou en groen blokkies daarop. Ma Bella het gesê mens noem dit ruitjieslap. Die hele baadjie is van die bont lap, behalwe die bosak, die kraag en die omslaanstukke van die moue, wat net donkerblou is. Op die bosak het Ma Bella se ouma met rooi borduurgare ’n M uitgewerk, vir “Maria”. Onder die M het sy drie rooi rosies aan een groen takkie borduur. Ek kan eendag die baadjie kry as ek groot is, het my ma my belowe.

As Ma Bella op die reëndae gewen het, moes ek spring, want Pa was altyd haastig. Dan het ons ’n es voor die skool gegooi met die lorrie dat die stof getrek het sodat Pa weer op die plaas kon kom. “Maak gou, Meisiekind,” het hy altyd gesê as ek die lorrie se deur oopmaak om uit te klim, “alles staan mos verdomp stil as ek my gat draai.” Pa noem my nooit Carli nie, hy noem my Meisiekind. Ek en Pa groet ook nooit. Om die waarheid te sê, Pa praat net met my as hy skel. Pa het my nog nooit gesoen nie.

Ma Bella het baie na annerland verlang. “Eendag-op-’n-reëndag gaan ek en jy vir my familie kuier, ver, ver anderkant die water,” het sy oor en oor gesê. Partykeer het daar trane oor haar wange geloop en dan het ek ook hartseer gevoel, al het ek nie geweet waaroor nie.

Nou weet ek nie hoe die lopery skool toe gaan werk as dit reën of as die wind so sterk waai nie.

Lena stap die oggend toe die skool weer begin, saam met my tot ’n ent anderkant die sementbrug. “Totsiens, Carli-kind, jy moet mooi luister vir Juffrou,” sê sy toe ons by die grensdraad kom. Sy trap die draad vir my oop en ek klim deur. Toe gee sy vir my my skooltas ook deur die draad aan. Ek stap alleen verder met die paadjie al langs die draad tot by die grootpad en toe verder tot by die skool.

Dit voel of almal vir my kyk toe ek by die skool aankom. Al die kinders van die buurt weet my ma is dood en miskien weet hulle ook sy wag nog vir Liewe Jesus onder die peperboom. Gelukkig lui Meneer die skoolklok net toe ek die speelgrond se hekkie agter my toemaak.

Met skriflesing en gebed bid die skoolhoof vir my: “Liewen Heer, bewaar asseblief vir Carli Botha wat nou sonder ’n moeder teen die stroom van die lewe moet beur. Behoed haar van die kwaad.” Ek weet nie waar die stroom is nie, en ek weet ook nie van watter kwaad hy praat nie, maar ek is bly toe hy klaar is.

Op die eerste dag van ’n nuwe kwartaal moet ons altyd mondeling praat oor die vakansie. Ek hou niks daarvan nie, want ons gaan nooit weg van die plaas af vir vakansies nie, Pa sê dis vir kwaadgeld en buitendien het ons ’n huis en kos op die plaas. Waarvoor moet ons geld, wat hy in die sweet van sy aanskyn verdien het, loop uitmors op huurgeld in ander bliksems se sakke, het hy elke keer gesê as Ma Bella gevra het of ons nie vir ’n vakansie see toe kon gaan nie.

Ons klas praat in die ry af, van voor na agter. Toe my beurt kom, bly ek sit. My ore suis en dit voel of ek wil omval. Ek hoor Juffrou se stem. “Toe, Carli, dis nou jou beurt.”

Ek staan op en nog voordat ek weet wat ek wil sê, begin my mond sommer vanself praat. “My ma en die katkoppie wag vir Liewe Jesus onder die peperboom agter die beeskraal. Ma Bella is eerste dood. Die katkoppie wou nie ophou borreltjies blaas nie, maar my pa het gesê hy moet saam met my ma in die kis kom en Lena moet ’n plan maak. Toe hou Lena die katkoppie se gesiggie onder die water totdat hy klaar geblaas het. Nou wag hy saam met my ma onder die peperboom. Ek weet nie hoe Liewe Jesus hulle onder die hoop grond agter die beeskraal gaan uitkry nie, want die kis is diep onder in die gat en is seker nou al vir altyd vasgesuig in die modder. Die vangrieme is ook al weer gebêre in die skuur. Sampie en Janneman het dit onder die kis uitgetrek voor hulle die kluite en die modder in die gat teruggegooi het.” Toe gaan sit ek, want my bene het skielik verskriklik begin bewe.

Juffrou sit met haar hand oor haar mond toe ek opkyk. Haar oë is groot en sy skud haar kop. Die klas is tjoepstil.

Die naamlose

Подняться наверх