Читать книгу Die naamlose - Mariel le Roux - Страница 5

Drie

Оглавление

Ma Bella was tog soms vrolik, selfs uitgelate, maar net wanneer ons twee alleen was of by die rivier gekuier het. By die huis het sy selde gelag, min gepraat as Pa naby was. Dis op die rivier se wal waar sy uit haar dop gekruip het. Ons twee het baie keer ’n hele middag daar deurgebring, veral op Sondae. Dan het sy vir my stories vertel. Stories van haar ver land, van haar mense daar in die vreemde wêreld, van haar ma, my ouma Maria met die donker siekte wat so dikwels oor haar gespoel het, en van Bruno, my ouma se oudste broer, wat hierdie land as krygsgevangene binnegekom het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Bruno wat verkies het om in Suid-Afrika aan te bly, en na wie toe my ouma en my ma gestuur is. Dit was ’n laaste toevlug, ’n laaste desperate poging van die familie in Italië om my ouma uit die swart put te red waarin sy beland het. Net ’n rukkie lank, het die familie met Bruno ooreengekom. Hier in die land van sonskyn, het hulle gedink, sou daar genesing vir hul Maria wees. Hulle het gehoop dat sy vertroos sou word deur die nabyheid van haar oudste broer. Die boer op ’n wingerdplaas in Suid-Afrika. Hulle het nie geweet dat hy as ’n arbeider op oom Daan se plaas gewerk het nie. Hulle is nooit opsetlik mislei nie, maar hy het hulle ook nooit reggehelp nie. Sy trots het hom gekeer. So dink ek.

Ma Bella het vertel van haar tante Sophia, haar ma se ouer suster, en van Alessandro, tante Sophia se seun wat net ’n paar maande voor my ma gebore is. Sy het vertel van die yster wat Alessandro aan sy been moes dra omdat hy polio gehad het. Hulle was groot maats. Hulle het saam met die straat se kinders in die middae op die plein langs die kerk gespeel, hulle was saam in die skool en hulle het in dieselfde groot familiewoning gebly. My ma het uitbundig gelag as sy vertel het van al die kattekwaad wat sy en Alessandro aangevang het. Sy het my vertel van haar jongste oom wat sy nooit geken het nie. Sy naam was Mario. Hy is vroeg in die oorlog doodgeskiet. Al die stories van Ma Bella se verlange het ook myne geword op die rivier se wal.

“Ek het in Suid-Afrika uitgespoel,” het my ma soms ingedagte vir my gesê, “my skip het hier gestrand.” Ek was te klein om die tragedie in haar verhaal te begryp, maar ek kon haar vertellings amper woordeliks onthou. Sy moes dit so dikwels vir my herhaal.

Ma Bella was ’n mooi vrou met donker hare wat in ’n deurmekaar bos krulle partykeer amper haar hele gesig toegehang het, dit was haar sluier waar agter sy kon skuil. Haar oë was swart en groot en dikwels vol trane. Was dit verlange, frustrasie, hartseer? Ek weet nie. Ma Bella se trane het my magteloos gelaat. Ek kon haar nie help nie. Ek het baie keer gewonder of my ma ook bang was vir my pa. Ek was altyd bang vir hom.

Nooit, nooit kan ek een oomblik van deernis, van liefdevolle aanraking tussen my ouers onthou nie. Net maar altyd die stampe, die kru taal, die afjakke van Pa. En Ma Bella se stilte. Sy het nooit vir my vertel wanneer dinge tussen hulle so erg begin skeefloop het nie. Maar Dora hét, baie, baie jare later. Toe dit eintlik nie meer saak gemaak het nie.

Op die wal van die rivier het my ma met my Italiaans gepraat, waar my pa nie kon hoor nie. Sy het vir my haar liedjies gesing, dit vir my geleer. En sy het haar herinneringe met my gedeel, sy het oor en oor dieselfde verhaaltjies vertel sonder dat ek of sy daarvoor moeg geword het. “Jy moet my taal leer, want eendag-op-’n-reëndag,” het sy gesê, “wanneer ons vir my familie gaan kuier, moet jy met hulle kan gesels.” Dié gedagte het Ma Bella altyd vrolik gemaak. “As dit vir jou lekker is in my land, dan bly ek en jy sommer vir altyd en ewig daar,” het sy soms in my oor gefluister.

Maar Ma Bella het nie geweet dat sy my alleen by Pa sou moes los nie. Dat sy nie ’n keuse sou hê nie. Toe die ontydige reën, die kloof en die drif deur die rivier haar in die steek gelaat het.

Die naamlose

Подняться наверх