Читать книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver - Страница 5

3. Jou naam is jou naam is jou naam

Оглавление

Jy’s nie rêrig na ’n meermin vernoem nie.

Maar dis nou eenmaal wat die meeste mense dink as hulle hoor jou naam is Ariel. Almal ken mos Walt Disney se meermin met die bos vlamrooi hare.

En nou lyk dit boonop of jou hare ook eendag die kleur van vuur gaan wees. Ek sê “eendag”, want op die oomblik het jy nog nie eintlik wat mens hare kan noem nie, net so ’n sagte kuikendons wat oranje gloei as die son daarop skyn. Dit maak jou bietjie van ’n alien tussen ons, want niemand anders in die huis het eens ’n skynsel van rooi hare nie. Veral aangesien jy in hierdie stadium meer soos iets uit die buitenste ruimte as soos ’n normale mens lyk.

Moenie vir Mana sê ek het dit gesê nie!

Nie eens as jy dertien is en lankal nie meer soos ’n Space Invader lyk nie.

Mana glo jy is beeldskoon. Met jou oranje kuikendons en al.

Volgens Mana het sy ’n besproete rooikop oupa gehad wat wêreldberoemd was (Mana oordryf mos altyd) vir sy vreesloosheid en sy vlammende humeur. Jy het blykbaar die oupa se hare en sy vreesloosheid geërf, hopelik nie die humeur ook nie. Ons het klaar heeltemal genoeg vinnige humeure en tienerhormone en ander plofstowwe in hierdie gesin, dankie.

Daar’s rêrig nie plek vir ’n beduiwelde babasussie ook nog nie.

Oor jou ma

En noudat ons oor name praat, laat ek verduidelik waarom ek ons ma Mana noem, want dit lyk of jy dalk nie die kans gaan kry nie.

Mana wil mos altyd anders as ander ma’s wees, daarom is my pa ’n gay mode-ontwerper en Tibo se pa ’n proefbuis, en daarom het sy my en Tibo van kleins af aangemoedig om haar op haar naam te noem.

“As jy jou kinders leer om jou Mamma of Pappa te noem, probeer jy op ’n kamtig lieftallige manier respek afdwing. Terwyl dit eintlik heeltemal ondemokraties is, want die kinders kry nie ’n keuse nie, of hoe?”

Dis nie ék wat so sê nie, dis ons ma.

Maar nou hoor ek hoe sy vir Die Baba koer. Mamma se blom. Jy’s jou pappa se prinses. Kom dat Mamma jou ’n klapsoen gee.

Wat het nou van demokrasie geword?

Dalk is dit net omdat sy ouer word. Dalk dink sy nie meer dis sleg vir mens se gesondheid om normaal te wees nie. Dalk omdat Beyers die eerste man is wat haar rêrig gelukkig maak. Nie dat hy veel kompetisie het nie, soos hy self erken. Tibo se pa is ’n proefbuis en my pa ’n absolute sweat skattebol, maar nou eenmaal nie gemaak om ’n vrou gelukkig te maak nie. Behalwe as hy vir haar klere ontwerp.

Maar in Mana se geval het klere ook nie gehelp nie.

“Enige vrou wat bereid is om ’n skildery se prys vir ’n ontwerpersrok te betaal, moet haar kop laat lees!” (Weer ons ma.)

Mana glo jy moet elke dag aantrek asof jy na ’n Fancy Dress paartie gaan waarheen niemand behalwe jy genooi is nie. Jy moet al jou klere in ’n hoop op die vloer gooi en met toe oë rondkrap tot jy ’n rok en ’n trui en ’n hoed en ’n paar skoene gevind het en dan dra jy al hierdie goeters bymekaar, hoe bonter hoe beter, niks hoef bymekaar te pas nie, nie eens die skoene nie.

Eenkeer het Mana met ’n onpaar skoene by die skool opgedaag om my onderwysers te ontmoet …

Nee, ek hoef nie vir jou te beskryf hoe verskriklik dit is om ’n “kunstenaarma” te hê wat geheel en al anders is as al jou klasmaats se ma’s nie. Ek kan maar net hoop haar klerestyl sal ook bedaar noudat sy ’n man gekry het wat haar gelukkig maak. Anders, wel, wat kan ek sê, my liewe sussie, behalwe my innigste, innigste simpatie?

I feel your pain.

Gister moes ek mos help om ’n kaal tak in ’n Kersboom te verander, maar al wat ek eintlik kon doen, was om te keer dat Mana heeltemal oorboord gaan. Een jaar het sy ’n kaal tak in al die kleure van die reënboog geverf en haar ou verfkwasse daaraan opgehang.

“’n Reënboogboom vir ’n reënboognasie,” het sy dit genoem.

Ek moet erken dit was nogal lekker om ons ma se verfkwasse ’n slag op ’n ander plek as in haar hare te sien. Maar ek sou so graag net ’n gewone denneboom met silwer balle en goue sterre en stringe gekleurde liggies wou gehad het. Net één keer.

’n Ander jaar het sy ’n draadboom met groot strikke van toiletpapier versier. Die leë kartonbuisies van die toiletrol het sy onder die strikke opgehang. Dit was nou rêrig ’n laagtepunt in die kuns van Kersversiering.

Hierdie keer het sy en Beyers saam op ’n “Afrikaboom” besluit (hulle kan tog só voorspelbaar wees) en die tak met ystervarkpenne en tarentaalvere versier. Ek wou eers weer kla, maar toe onthou ek die verfkwasboom en die toiletpapierboom, en toe besluit ek vere en ystervarkpenne is after all nie so erg nie.

Die nare waarheid is dat Kersfees maar ’n vervelige affêre kan wees in ’n huis waar die kinders te oud (of te jonk) is om aan Kersvader te glo, so miskien moet ek dankbaar wees ons ma sorg minstens vir interessante versierings.

Alle name is nie eenders nie

Maar ek dwaal al weer af. Jy’s nie na Disney se Ariel vernoem nie, sê Beyers, hoewel ek seker vir die res van my lewe aan jou sal dink as my meermin-sussie. Jy’s na Shakespeare se Ariel vernoem. Die een is ’n meermin, die ander ’n soort towergees wat in ’n boom vasgekeer is, take your pick, al twee moontlikhede klink in elk geval vir my baie beter as om na ’n dooie ouma vernoem te word soos ek.

Ek weet nie of Beyers nog ’n akteur sal wees teen die tyd dat jy dertien is nie. Hy kla dis al hoe moeiliker vir ’n middeljarige wit akteur om aan die lewe te bly in hierdie land, maar hy weet ook nie eintlik wat anders om te doen nie. Maar selfs al word hy ook ’n helikopter pilot, hy sal altyd mal wees oor Shakespeare, daarvan is ek doodseker.

En oor gedigte. Niemand kan ’n gedig voorlees soos jou pa nie! Selfs Tibo en Amos vergeet hulle hou nie van “digkuns” as Beyers vir ons gedigte lees nie.

En dit bring ons by die derde Ariel in hierdie prentjie, die perd waaroor ’n vrou met die naam Sylvia Plath ’n beroemde gedig geskryf het. Kort voordat sy haar kop in ’n gasoond gedruk het om dood te gaan.

Goed, dit klink seker nie so great om ’n perd se naam te kry nie. Maar ek dink darem nie dit was die perd se skuld dat die digter selfmoord gepleeg het nie. En glo my, selfs ’n perd se naam is interessanter as ’n dooie ouma s’n.

Ek weet, hierdie einste Shakespeare het geskryf ’n roos met enige ander naam sal ewe lekker ruik en wie’s ek nou om met Shakespeare te stry. Maar my eie persoonlike ervaring het my geleer dat hy in hierdie geval verkeerd was. Sorry, Shakespeare.

Hoe kry jy jou naam in ’n geskiedenisboek?

Ek was jare lank vies vir Mana oor sy my so ’n vervelige naam gegee het. Mens sou mos darem dink iemand wat nie daarvan hou om “normaal” te wees nie, sou ’n bietjie meer verbeelding kon gebruik om vir haar dogter ’n naam uit te dink.

Ek het vir myself ’n hele string name uitgedink, die een mooier as die ander, meeste so effens Franserig. Fabienne was altyd my gunsteling. En Camille. En Chloe en Zoë en Anaïs en ag, sommer ’n spul ander, ek meen hóé moeilik kan dit nou wees om beter te vaar as Hanna?

Maar Mana Minnaar was só gretig om haar ma se naam te laat “voortleef in die geskiedenis” dat sy besluit het om my haar nooiensvan eerder as haar getroude van te gee. Goed, sy was bitter kort getroud, skaars lank genoeg om vir my geboorte te wag. En Gavin Taylor was nooit juis wat jy ’n betrokke pa sou noem nie, so hy was min gepla dat ek nie sy van gekry het nie. Maar nogtans. Soos gewoonlik het niemand mý mening gevra nie!

Dis hoekom ek ’n vaal en vervelige Hanna Minnaar geword het, in hierdie huis ook bekend as Hanna Hoekom, eerder as ’n fabelagtige Fabienne Taylor.

En dan praat ons nie eens van die totaal onregverdige druk wat ek van kleins af gevoel het om hierdie naam te laat “voortleef in die geskiedenis” nie! Wat de duiwel gaan ek doen om my naam eendag in ’n geskiedenisboek te kry?

Ek droom daarvan om ’n skrywer te word, maar Afrikaanse skrywers word nie noodwendig wêreldberoemd nie, en ek vermoed Mana het iets groters in gedagte. Dat ek soos Jeanne d’Arc hemelse stemme moet hoor en op ’n brandstapel moet sterf?

Nee dankie, sê hierdie gansie. Dan wil ek liewer Fabienne Taylor wees. Wat miskien nooit beroemd sal word nie, maar minstens ’n lekkerder (en ’n langer) lewe sal lei.

Jy kan aan enigiets gewoond raak

En tog wonder ek partykeer of almal van ons nie maar iewers langs die pad ontevrede is met die naam wat ons gekry het nie.

Sharon dink haar naam is “common”. Sy sê as haar ma so trots is op haar Afrika-herkoms, kon sy mos maar vir haar ’n ordentlike Afrika-naam soos Zindzi of Thandi of so iets gegee het.

En Yann sê sy ma was sommer net “pretentious” om sy naam so snaaks te spel. Dis eintlik net ’n doodgewone Afrikaanse Jan wat bietjie opgetert is.

En Amos verpes sy naam, hy sê dit klink soos Job of een van daai ouens uit die Bybel, en as sy ma en pa dan nou ’n Bybelnaam móés kies, waarom nie iets meer algemeen soos Daniel of Josua nie?

So dis seker ook moontlik dat jy nie altyd so gelukkig is met Ariel nie.

Miskien het ander kinders jou al oor die meermin-storie gespot. Ek glo nie hulle sou jou oor die towergees of die perd gespot het nie. (Die meeste kinders weet van Walt Disney, maar nie eintlik van Shakespeare nie. En beslis nie van Sylvia Plath nie. Miskien moet jy dankbaar wees daaroor.)

Dalk het jy selfs al gewens jy’t eerder ’n doodgewone dooie ouma se naam gekry.

Wat ek geleer het, is dat mens aan enigiets gewoond kan raak, selfs jou eie naam.

Ek begin byvoorbeeld gewoond raak aan hierdie gelapte gesin waarin ek gedruk is sonder dat iemand my mening gevra het. Ek begin selfs gewoond raak aan die skreeulelike huis waarin ons almal deesdae saam moet woon.

Sommige dinge is totaal onregverdig

Bygesê, die huis is bietjie rustiger as gewoonlik, want Yann het saam met ’n paar van sy pelle langs die see gaan toer. Hulle het iemand se pa se kar geleen en slaapsakke en swemklere en ’n kitaar en baie bier ingepak en surfboards op die dak vasgemaak. Niks kos saamgeneem sover ek kon sien nie. Hulle hoop blykbaar hulle gaan langs die pad fantastiese meisies ontmoet wat hulle gaan voer.

Ek kan ongelukkig nie saam met my maats gaan toer nie,

“Nee, jy’s te jonk,” sê Mana.

“Nee, dis te gevaarlik vir meisies,” sê Beyers.

Totaal onregverdig, natuurlik, maar nou ja. My maats hou in elk geval almal klaar saam met hulle ouers vakansie. Op allerhande fantastiese plekke langs die see. Een of twee kinders in my klas hou selfs oorkant die see vakansie. Petroné se beste maat, Marilu, het in Oostenryk gaan ski. Kan jy glo. Saam met haar skatryk pa en sy baie jonger tweede vrou.

“Dis duidelik Marilu se pa probeer haar met ski-vakansies omkoop,” sê Mana. “Om hom te vergewe dat hy haar ma vir ’n jonger vrou gelos het.”

Mana is moontlik reg, maar weet jy wat? Terwyl ek hier in my kamer lê en sweet en luister hoe Die Baba iewers in die huis huil en my twee jonger boeties mekaar met bloedstollende gille op die stoep probeer vermoor, sou ek nogal nie omgegee het om ’n skatryk pa te hê wat my ma gelos en my met ski-vakansies omgekoop het nie.

Oor jou avontuurlike ousus

Ek het gedink ek gaan my naam verander die oomblik wanneer ek agtien word. Maar noudat agtien nie meer so verskriklik ver is nie, voel my naam nie meer so verskriklik erg nie. Die laaste paar maande het baie dinge verander, en dis nie net oor jy die sewende lid van ons gelapte gesin geword het nie.

Kort na jou geboorte in daardie winterstorm op die berg het ek ’n storie geskryf, nie oor ’n fabelagtige heldin met ’n fantastiese naam soos Fabienne of Camille nie, maar oor ’n doodgewone meisie soos ek met ’n doodgewone naam wat vasgevang is in ’n alles-behalwe-doodgewone gesin.

Wel, eintlik het ek oor ons geskryf. Oor jou ma en pa, Mana en Beyers, en oor jou drie ouer broers, Yann en Amos en Tibo, en oor jou ousus Hanna.

’n “Outobiografiese geskrif” soos my Afrikaans-juffrou dit sou noem.

Nee, ek het dit nie vir juffrou Liebenberg gewys nie, dis darem net te persoonlik. En sê nou net sy was so impressed dat sy vir ander onnies of selfs vir ander kinders daarvan vertel het! Yann se reputasie as een van die coolste ouens in die skool sou mos vir ewig geknak wees as almal moes hoor hy’t ’n hele vakansie lank saam met sy gesin Krabbel gespeel en konsert gehou.

So op die oomblik bêre ek my storie maar eers in ’n laai. Alle skrywers het glo so ’n geheime laai waarin hulle stories hou wat hulle nog eendag wil publiseer.

Wie weet, miskien is my storie al gepubliseer teen die tyd dat jy hierdie woorde lees? Ek het klaar ’n titel uitgedink. Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.

En snaaks, elke keer as ek die titel so in my verbeelding op die voorblad van ’n boek sien, dan dink ek Hanna is after all nie so ’n vervelige naam soos ek altyd gedink het nie. As Hanna iemand is wat ongelooflike avonture kan belewe, al is die avonture dan nou meer in haar kop as in die ware lewe, dan moet ek miskien tog maar Hanna bly?

En as ék dit kan regkry om vrede te maak met my naam, kan enigiemand dit doen. Dis eintlik al wat ek oor name wou sê.

Swemlesse vir ’n meermin

Подняться наверх