Читать книгу Dis koue kos, skat - Marita van der Vyver - Страница 7

Kry al die bestanddele bymekaar

Оглавление

Laatnag, 9 Julie 1998

Johannesburg

Bernard jou Bliksem!

En dan praat ek nie eens van daardie skynheilige slet wat kamtig my vriendin was nie!

Ek kan nie glo hoe blind, doof, stom en onnosel ek was nie! Ek kan nie glo hoeveel uitroeptekens ek gebruik nie! Wat de fok het van my skryfstyl geword?!?

Saam met my huwelik in duie gestort, blykbaar.

As kosskrywer behoort ek tog te weet dat uitroeptekens so oordeelkundig soos brandrissies gebruik moet word.

Hulle se ’n vrou wéét wanneer haar man haar bedrieg. Wie’s “hulle”?!? Waarom het ék niks vermoed nie?!? Almal om ons het blykbaar lankal snuf in die neus gekry – maar as een van my kwaadwillige kollegas my nie kom wakker skud het nie, het ek dalk nog maande lank in my gekkeparadys lê en droom. Nee, verkeerde beeld. In my gekkekombuis staan en kook.

“Hulle sê” ook die pad na ’n man se hart loop deur sy maag. Miskien waar, maar die pad na sy bed loop deur sy ballas. Dit het A pas weer bewys. Jissis, Bernard, sy kan nie eens ’n eier kook sonder dat die dop kraak nie! Wat de donner eet julle wanneer julle saam is? Of verraai ek nou net weer my stiksienigheid met so ’n vraag? In die eerste verruklike maande van verlief wees en wellus kan mens seker sonder kos lewe. Ek het dit self ook gedoen, lank lank gelede, as tiener en jong vrou. Die eerste ruk saam met jou was ’n waas van sigarette en onderdrukte hongerpyne en seksuele ekstase. Ja.

Maar as die aanvanklike jagsgeit oorwaai, word mens wel weer honger. Jy sal sien.

Daardie laaste toneel in Woman of the Year, waar Spencer Tracy se vrou vir hom ’n fiasko van ’n ontbyt maak, was vir jou nog altyd skreeusnaaks. Maklik om vir sulke onbeholpenheid op die silwerdoek te lag – veral as die onbeholpe kok soos Katharine Hepburn lyk – maar in die regte lewe sal so ’n grappie gou verflou. Jy sal sien.

“Hulle sê” ook die een wat bedrieg word, is dikwels die laaste wat weet. Niemand so blind soos hulle wat nie wil sien nie, nè. Die vernedering, Bernard, die ondraaglike gedagte dat soveel mense my bejámmer het omdat hulle iets geweet het wat ek nie wóú weet nie. Dis amper erger as die uiteindelike gewaarwording van die bedrog wat gepleeg is.

Jissis, nee, ek kan nie so naïef wees soos ek nou klink nie! Jy weet tog ek was nog altyd skepties oor die ideaal van lewenslange monogamie. Behalwe miskien vir swane en tortelduiwe. En waarskynlik ook net omdat hulle nie lank genoeg lewe om voor seksuele versoekings te swig nie. Maar mense? Soos Minette graag sê, bigamy is having one husband too many; monogamy is the same. (’n Bietjie bitterbek, het ek altyd gedog, terwyl ek nog gedog het ek’s gelukkig getroud.)

En vir mans soos jy, miskien veral vir mans soos jy wat dikwels ver van die huis af moet werk en vele nagte alleen in hotelkamers moet deurbring, vir julle moet die versoeking soms onweerstaanbaar wees. Daarom het ek my lank gelede voorgeneem, as ek ooit moes hoor dat jy iewers langs die pad ’n eennagstaning elders gehad het, jou tentpenne vir ’n paar uur rondom ’n ander vrou ingekap het, sou ek sorg dat ek dit oorleef. Ek sou jou knaters met ’n stomp mes wou afsny, natuurlik, maar ek sou ons verhouding aan die gang hou. Ek sou nie toelaat dat ’n nag of drie van afwisseling, nuuskierigheid, opwinding – kies jou eufemisme, skrap wat nie van toepassing is nie – ’n langdurige huwelik, ’n gesamentlike huishouding en jare van gedeelde ouerskap verwoes nie.

As dit kom by die dinge van die lyf, mag mens maar jou trots sluk. Mans het nou eenmaal die gewoonte om hulle geslagsdele in enige beskikbare gat te druk, blitsige verligting te soek, sonder die geringste oordeelsvermoë. In die afgelope kwarteeu het vroue ook in al groter getalle begin om hulle lus soos hulle dors te les. As jy in ’n woestyn ronddwaal, kan jy nie bekostig om kieskeurig te wees oor water nie. Jy drink wat jy kry. Ek weet waarvan ek praat. In my jongvroudae was ek ook soms in daardie woestyn. Dit gaan oor die lyf en niks anders as die lyf nie. As jou kop begin praat – of, die gode behoed jou, jou hart! – is jy in die moeilikheid. Dan druk jy die paniekknoppie, skop die noodruit uit, maak dat jy wegkom.

Daarom kan baie vroue, en selfs heelwat mans, deesdae ’n huweliksmaat se lyflike ontrouheid vergewe.

Maar as dit gaan oor die dinge van die hart . . .

Wat jy gedoen het, jou bliksem, kan nie weggegrinnik word as ’n seksuele oomblik in die wind nie. Nee. Dit was nie net ’n ondeurdagte knippie in die donker of ’n roekelose naai teen die niet nie. Nee. Jy en A het weke lank, máánde lank – meer as ’n jaar? jissis, hoe moet ék nou weet? – ’n geheime verhouding vertroetel. Julle moes die mense naaste aan julle belieg en bedrieg, dag ná dag, week ná week, maand ná maand.

Hoe de fok het julle dit reggekry?!?!?!?!?!?!?!?!?

Na die hel met skryfstyl, na die hel met valse ordentlikheid van my kant af, na die hel met jou en A albei! Ek bedoel dit, ek hoop julle gaan hel toe hiervoor. Wat my betref, ek is klaar daar. Ek luister opera en ek drink whisky en ek huil, dwarsdeur die nag, nou al drie nagte lank. Ek het die opera en die alkohol nodig om die trane te laat vloei, want bedags moet ek alle emosie wegsteek, ter wille van die kinders. Hulle dink jy’s net weer op een van jou werkreise.

5 OPERAS MET VROUE IN HULLE LIEFDE VERLAAT

Mozart se Don Giovanni (arme Elvira)

Verdi se Rigoletto (arme Gilda)

Donizetti se Lucia di Lammermoor

Bellini se Norma

Puccini se Madama Butterfly

My whisky word warm, laat ek eerder my ewige lysmakery los en verder drink, van Clara.


Nog ’n nag, 13 Julie 1998

Galbitter in Gauteng

Die storie van A, dis waaroor ek vannag sit en tob, terwyl Cio-Cio-San so lieflik liries oor haar ontroue Pinkerton treur. Ja, ek luister steeds aanmekaar opera. Gewoonlik verkies ek blues, soos jy weet – as jy nog enigiets van my weet – maar die afgelope week is ek blouer as blou, te blou vir blou, nou soek ek die bloedrooi van opera. Oordrewe emosies en bloedige eindes, dis wat ek nou nodig het.

En ek vergryp my aan whisky en sjokolade, nag ná nag, asof ek myself in ’n alkoholiese, obese, belaglike Butterfly wil verander, net om dóódseker te maak dat jy nooit na my sal terugkeer nie.

Die storie van A, B en C. Dis nie dat ek aspris kripties wil wees nie. Ek kan letterlik nie haar naam skryf sonder om fisiek naar te word nie, daarom noem ek haar A. Sy herinner my aan die onderduimse Anne Baxter in All about Eve. (Gróót jaar gewees vir aktrises daardie, soos jy al meermale opgemerk het, Baxter en Bette Davis in All about Eve, Gloria Swanson in Sunset Boulevard . . .) Die hemel hoor my, as daar iéts in ons verhouding is wat ek gaan mis, wat ek rééds mis, is dit al daardie klassieke films wat jy my leer waardeer het, wat ons so gereeld saam gekyk het, wat ’n soort geheime taal tussen ons geword het. In ’n wêreld waar ’n woord soos “Rosebud” vir die meeste mense niks oproep nie, behalwe miskien ’n blomknop, was ons twee rare voëls van eenderse vere.

Was?

Nou het jy ’n nuwe leerling gekry met wie jy al die oorbodige kennis kan deel wat jy in jou jare as rolprentresensent vergaar het. Miskien moet ek vir haar ’n kort lysie voorstel, net as inleiding, wat dink jy?

5 KLASSIEKE FILMS WAT ’N FLIEKVLOOI SE NUWE NOOI MOET KYK (1 VIR ELKE DEKADE)

Eisenstein se Battleship Potemkin (Russies, 1925)

Fritz Lang se M (Duits, 1931)

Orson Welles se Citizen Kane (Amerikaans, 1941)

Kurosawa se Seven Samurai (Japannees, 1954)

Ingmar Bergman se Persona (Sweeds, 1966)

Mens moet iewers begin, of hoe? Op die oomblik weet sy net mooi niks van rolprente ouer as dertig jaar nie. Ek dink nie sy het al ooit enigiets in swart-en-wit gekyk nie – en beslis nie klanklose films nie.

En om te dink dit was ék wat hierdie kulturele uilskuiken by ons huis ingenooi het, deel van ons gesinslewe en ons vriendekring gemaak het, selfs aanvanklik met jou gestry het – kan jy glo? – toe jy nie jou arms so geesdriftig soos ek vir haar oopgooi nie.

“Jy kry haar jammer,” het jy my beskuldig. “Jy wil haar voer en versorg soos ’n afvlerkvoël of ’n weggooikat. Ons is nie die donnerse Dierebeskermingsvereniging nie, Clara!”

Waarom het jy so heftig gereageer, Bernard? Het jy iewers waarskuwingsligte sien flikker waarvoor ek heeltemal blind was? Want selfs al wás sy ook ’n afvlerkvoël – en dis nie hoe ek haar beskou het nie! – dan was sy beslis nie die eerste en seker ook nie die laaste van my “charity cases” nie. Dis hoe ek is. Kan nie help nie. Gee my ’n beseerde dier of ’n ongelukkige mens en ek sal hulle probeer vet voer. Sy was die enigste een teen wie jy ooit beswaar aangeteken het.

Of miskien, in die lig van die morsige treinongeluk wat gevolg het, sou dit wyser wees om hierdie soort liefdadigheidswerk te staak. Beware of young girls, soos Dory Previn gesing het ná haar man deur die jong Mia Farrow afgevry is. Too often they crave to cry at a wedding and dance on a grave . . .

Al wat ek kan sê om myself te verdedig, is dat ek onnosel genoeg was om van haar te hou. Ja, rêrig, erewoord. Sy was so ooglopend ambisieus, so oorywerig entoesiasties toe sy by Eva begin werk het, sy het my aan ’n jonger weergawe van myself laat dink. Ek en Minette het ons oë vir mekaar omgedop elke keer as sy een van haar blink idees soos ’n towertapyt voor die redakteur oopsprei. Been there, done that, het Minette soms hoorbaar gemompel, maar niks kon hierdie jong joernalis se geesdrif demp nie. So opgewonde was sy oor elke idee dat jy die stof en die gate op die ou mat misgekyk het en saam met haar begin glo het dat dit dalk in ’n vlieënde voorwerp kan verander. En sy is nie onnosel nie. As sy bloot mooi en blond was, sonder die nodige breinselle, sou ek nie die moeite gedoen het om haar huis toe te nooi en vir haar kos te kook en ure lank na haar klaagliedere oor haar katastrofiese liefdeslewe te luister nie.

Sou hierdie hele nagmerrie my dalk gespaar gebly het?

Nee, laat ek dit nou maar erken, dis moontlik dat my rol as koppelaar heeltemal oorbodig was. Ons werk al drie in dieselfde gebou, jy sou haar in elk geval die een of ander tyd opgemerk het, sy’s nie juis die soort meisie wat mans lank miskyk nie, is sy? Ek het die wiel van die noodlot miskien net ’n klein stampie gegee. Alles ietwat gouer, ’n bietjie makliker, laat gebeur as wat dit in elk geval sou gebeur het.

Dis wat ek moet glo, in hierdie stadium, om nie hara-kiri te pleeg in woede en wanhoop nie.

Ons hét al drie in dieselfde gebou gewerk. Dis wat ek nou moet skryf, want op die oomblik werk ek nie, nie daar nie, nie by die huis nie, nêrens nie. Ek het siekverlof gevat, ’n gewone winterverkoue wat ek deur blote wilskrag in ernstige griep verander het, want ek sien nie kans om terug te gaan kantoor toe nie. Nie nou al nie. Miskien nooit weer nie. Hoe gaan ek dit regkry om saam met haar in die teekamer te sit terwyl ek weet dat al ons kollegas oor ons gaan skinder die oomblik as ons uitstap? Of alleen saam met haar in ’n hysbak te beland of, nog erger, in die vrouetoilet in haar vas te loop? Mens is so verdomp weerloos in ’n toilet! Hoe behou jy jou waardigheid in sulke omstandighede?

Intussen kruip ek stert tussen die bene by die huis weg, so pateties passief soos ’n hond wat ’n slegte pak slae gekry het. Slof rond in my oudste slaapklere en pantoffels en eet obsessief sjokolade. Die seuns begin onraad vermoed, hulle ken my nie so nie. Wel, hulle weet vir my is enige verskoning ’n goeie verskoning om my aan sjokolade te vergryp, maar gewoonlik eet ek net die beste sjokolade om my buie te verbeter, terwyl ek nou soos ’n sprinkaan vreet wat voorkom. Fabriekvervaardigde sieksoet gemorskos. Nóg iets wat saam met my huwelik en my skryfstyl opgefok is. My smaaksintuig. My tong waarop ek altyd so trots was. Wat my jare lank gehelp het om my brood en botter te verdien, no pun intended, as restaurantresensent.

Ons was gelukkig, Bernard, ek en jy. Ons het in ons armer en jonger dae baie meer gereeld uitgegaan as ander armrige jong mense. Jy is betaal om te gaan fliek en ek is betaal om te gaan eet, hoe gelukkig kan ’n couple nie wees nie. Tot ons kinders gekry het en te moeg geword het om saans uit te gaan. Nou, vermoed ek, herlewe jy daardie sorgvrye dae saam met jou jong en kinderlose geliefde.

Dis veral Nicolas wat vreemd begin optree. Hy was mos maar van altyd af meer ingestel op die onderstrominge in verhoudings. En hy’s amper ’n tiener, dit word al hoe moeiliker om hom met swak toneelspel te flous. Vir Sebastian kan ek nog paai met “aag, wat, jong, Ma voel net nie lekker nie”, maar Nicolas se donker oë boor dwarsdeur my elke keer wanneer ek vir hulle lieg. Paula is te klein om enigiets te verstaan, maar sy weet ook êrens is ’n skroef los. Ek het haar nie vandeesweek crèche toe geneem nie. Ek het nie die krag om my gesig te was en aan te trek nie. En ek wil eerder nie weet wat die crèche-tannies sal sê as ek vroegoggend in my flennie-pajamas met my whisky-asem en my sjokolade-besmeerde smoel uit die kar moet klim nie.

Dis die arme Sindiwe wat die kastaiings uit die vuur moet krap. Nou moet sy nie net poets en was en stryk nie, sy moet boonop kinderoppasser speel. En omdat Paula aanvoel dat iets verkeerd is, is sy baie veeleisender as gewoonlik, wat beteken dat Sindiwe sukkel om haar gewone werk klaar te kry. Die huis lyk soos ’n muisnes en die wasgoedmandjies loop oor. Nie dat dit my juis pla nie, die morsigheid pas nogal by my gemoedstoestand. Maar Sindiwe het gister streng voor my kom staan, so met haar hande op haar breë heupe gestut, en gevra wanneer ek die dokter gaan sien oor my “siekte”. Ek kon hoor hoe sy die woord met aanhalingstekens belas. Sy’s ’n wyse vrou, daardie een, jy kan haar niks vertel van mans wat wegraak en kinders wat alleen groot gebid moet word nie. Háár lewe is ’n opera wat myne soos ’n oppervlakkige musiekblyspel laat lyk. Ek wou my kop op haar groot bors laat sak en my hart uithuil.

Maar ek het nie. Ek het my soos ’n blerrie mêrrim gedra en my trane weggeknip. As dit teen volgende week nog nie beter gaan nie, het ek gelieg, sal ek dokter toe gaan. Sy het haar kop geskud en gemompel: “If Mister returns, it will be better.”

If Mister returns.

Wanneer gaan jy die moed hê om vir die kinders te vertel jy kom nie terug nie? Jy kan tog waaragtig nie verwag dat ék dit moet doen nie? Hulle noem dit nie verniet breaking the news nie, besef ek nou. Daar sal skerwe en skade wees. Ja, goed, ek sal daar wees om die skerwe op te tel, ek tel immers al jare lank alles agter jou en die kinders op, maar jy sal self die breekwerk moet doen. En as daar nog enige regverdigheid in die lewe is – was daar ooit? – sal hierdie verpligting ten minste ’n sigbare kraak in jou veragtelike selfversekerdheid veroorsaak.

Van die ma van jou kinders


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Tue 21/07/98 05:17

To: Marita van der Vyver [marita10@iafrica.com]

Subject: S.O.S.S.O.S.S.O.S.

Ag jirre tog wat nou? Ek sit in die donker in my deurmekaar kombuis en wag vir die dag om te breek. Alles anders in my lewe is gebreek so waarom nie die dag ook nie. Pasop vir selfbejammering, Clara, vermaan ek my aanmekaar, dis bloot ’n minder bloederige vorm van selfmutilasie. Los nie sigbare letsels soos ’n tiener wat haar arms met ’n skeermeslem bekrap nie, maar dis waaragtig nie iets wat vriende en familie graag aanskou nie. Not a pretty sight. Onthou dit. Ek is moeg en moerig en moedeloos verby. En nou moet ek nog ’n fokken volmaakte dag in Afrika aandurf. Gee my krag. C


Vroeë oggendure, 21 Julie 1998

Johannesburg

Goeiemôre Bernard

Nee, nie goeie môre nie, ek wens jou die mislikste môre van jou lewe toe. Tot dusver het ek my nog net verbeel ek verag jou. Nou wéét ek dit.

Egskeiding het so banaal geword. Elke dag hoor kinders oral op aarde dat hulle ouers se paaie gaan skei. Dit het gerieflik geword, vir ons as onverantwoordelike volwassenes, om te vergeet watter oorweldigende ramp dit vir ’n kind kan wees. Tot dit die dag met jou eie kind gebeur.

Ek sal nooit, so lank ek lewe, ons seuns se gesigte vergeet ná jy gisteraand hier was om hulle te vertel wat jy moes vertel nie.

Seker nie nodig om te by te voeg dat niemand in die huis veel geslaap het nie. Ek het Sebastian hoor huil, ek het Nicolas hoor troos, ek het albei van hulle ure lank hoor rondrol in hulle beddens. Selfs Paula wat te klein is om te verstaan en vir wie ons voorlopig maar moet aanhou lieg, volgens jou, het ’n rare nagmerrie gekry. Gillend wakker geskrik en by my kom inkruip en die res van die nag so wild geskop en geslaan dat ek nie ’n oog kon toemaak nie. Met watter monsters sou so ’n amper-driejarige dogtertjie in haar drome baklei?

Ek het dit toe tog teen alle verwagtinge in reggekry om my te “gedra” gisteraand. Ter wille van die kinders het ek jou kil maar beleef behandel. Ek het nie in jou gesig gespoeg toe jy by die voordeur instap nie; ek het nie borde of ander breekware na jou gegooi nie; ek het nie giftige sampioene in die risotto gemeng nie; ek het my skerpste mes gebruik om die braaihoender op die tafel te sny, nie om jou in die rug te steek nie. Ek het weliswaar al hierdie aksies oorweeg. Geweeg en te lig bevind. Ek sal jou nie vermoor nie, het ek besluit, dis ’n te maklike uitweg vir jou en ek wil nie hê my kinders moet wees grootword nie. Pa vermoor en ma in die tronk, siestog. Nee, ek sal ’n erger manier vind om jou te straf. Wag maar, jy sal sien.

O, jy was nice, natuurlik, so nice dat ek kon kots. Die bedagsame, bekommerde, lieftallige eggenoot en vader. Aantreklik en humoristies, Cary Grant se moses, soos ek jou soms gespot het, toe ons nog op spotterme was. Ek het my gewone rol as versorger van die innerlike vervul, vir almal ’n smaaklike en gebalanseerde maaltyd verskaf, selfs die seuns se geliefde sjokolademousse tafel toe gedra – asof dit ’n feestelike geleentheid was! – en my so gou moontlik uit die voete gemaak sodat jy kon sê wat jy moes sê.

Ek het die versoeking weerstaan om agter die kombuisdeur te staan en afluister. Maar ek het tog my ore gespits, terwyl ek my derde skelm whisky voor die wasbak afsluk, en snertse niksseggende bla-bla uit jou gladde mond hoor val. Nie julle skuld nie . . . verskriklik lief vir julle . . . as ek en Mamma mekaar nie gelukkig kon maak nie, kan ons ook nie vir julle gelukkig maak nie . . . beter vir almal van ons . . .

Wie sê ons kon mekaar nie gelukkig maak nie? As jy so danig ongelukkig was, hoekom het jy dit nie gewys nie? Plaas van om jou stukkie skelm geluk in ’n ander bed te gaan soek? En as jy nie uitgevang is nie, bespiegel ek vanoggend, hoe lank sou jy nog aangehou het om hierdie dubbele lewe te lei? Ag fok, nou’s dit weer die vraagtekens wat handuit ruk! Ek kan nie meer ’n sin skryf sonder om dit met ’n vraagteken of ’n uitroepteken te bekroon nie! Sien wat ek bedoel?

Nicolas en Sebastian het onheilspellend min te sê gehad. Hulle was klaarblyklik in ’n toestand van skok, jy moes dit tog gesien het, maar nee, g’n spoor van kommer op jou gesig toe jy my groet nie, net blatante verligting: “Hulle het dit goed gevat. Hulle gaan oukei wees.”

Goed gevat? Oukei? As jy die res van die nag in hierdie huis deurgebring het, sou jy jou geskaam het vir jou aangeplakte optimisme. Maar jy kon nie wag om weg te kom nie. Jy wou net jou gewete troos, kyk of ons almal “oukei” is, jou skamele trooswoorde soos as in die wind strooi, en so gou moontlik terug na jou jong blonde geliefde vlug.

Die geliefde het toe by Eva bedank en ’n pos by jou koerant aangevra, het jy my vanaand meegedeel. Jy’t dit soos ’n heldedaad laat klink, asof ons hier te doen het met die selfopoffering van ’n Rageltjie de Beer. Al wat sy en Rageltjie de Beer gemeen het, is dat albei hulle klere uitgetrek het, maar beslis nie om dieselfde rede nie. Haar bedanking beteken bloot sy gaan nader aan jou en verder van my wees – hoeveel heldemoed kan dít nou verg? – maar ons is almal steeds in dieselfde gebou vasgevang. Ek sal dit nie kan vat nie. Ek sal ’n ander werkplek moet soek. Nie net ’n ander werkplek nie – ’n ander huis, ’n ander stad, ’n ander lewe. As ek aan reïnkarnasie geglo het, het ek myself nou doodgemaak sodat ek van voor af kon begin, maar met my soort luck sal ek terugkom as ’n Franse gans. Dan word my bek oopgesper en kos in my keel afgedwing en ek word geslag en my lewer beland op die bord van ’n restaurantkritikus of ’n kosjoernalis.

Herinner my aan ’n stukkie graffiti wat ek lank gelede iewers raakgelees het. Is life worth living? It depends on the liver. Nee, dan bly ek maar liewer ek. Tot tyd en wyl.

Dis vyfuur in die oggend en ek smag na ’n glas whisky. Om die dranklus te flous, het ek ’n sigaret aangesteek, die hoeveelste een in hierdie eindelose nag. Ja, ek het weer begin rook, ná meer as ’n dekade sonder nikotien, is dit nou nie pateties nie? Dertien jaar, om presies te wees. Ek het opgehou toe ek swanger was met Nicolas en dit reggekry om nooit weer te begin nie – tot tien dae gelede. Dis net nog iets waarvoor ek jou nooit gaan vergewe nie, Bernard jou Bliksem. Maar ek reken die kinders sal beter cope met ’n rokende, stinkende, hoesende ma wat darem nog min of meer helder kan dink as met ’n dronklap wat oor haar voete val en die kos verbrand.

Ek gril vir myself.

“Jissis, maar jy lyk sleg,” sê ek vir die gehawende vrou met die tandeborsel in die mond wat ek soggens in die badkamerspieël sien. “G’n wonder jou man het hom uit die voete gemaak nie.” En dan spoeg hierdie vreemdeling my woorde terug in my gesig, saam met die skuim van haar tandepasta.

Bernard, Bernard, Bernard. Ek wonder of dit is wat hulle ’n cri de coeur noem. Of bloot ’n vervloekende inkantasie?

Clara


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Sun 02/08/98 23:25

To: Marita van der Vyver [marita10@iafrica.com]

Subject: S.O.S.S.O.S.S.O.S.

Ek wil vir haar skryf daai doos van ’n dief wat my man gesteel het ek wil haar op een of ander manier bykom. Skel en skreeu en skop en byt. Séérmaak. julle skrywers sê mos altyd mens moenie jou kritici antwoord nie dit gee hulle net onnodige mag oor jou mens moet eerder waardig stilbly. Maar sy’s nie my kritikus nie sy’s my ek weet nie wat de fok sy is nie en ek is in ieder geval laaankal by waardigheid verby. ’n Vrou wat te dooslik en onnooslik was om agter te kom dat haar man verlief raak op haar vriendin en nou snags deur die huis slof in skaapvelpantoffels en met haarself praat en wanhopige hulpkrete oor internet stuur. Keer my voor ek myself verder verneder deur die doosdoosdoos te smeek om my man vir my terug te gee! C


3 Augustus 1998

Op kantoor, Goudstad

Brief aan A

Hoe anders moet ek begin op hierdie blou Maandag? Liewe gewese vriendin wat my man genaai het? Heil die leser? Beste kollega? Maar beste impliseer goed, beter, beste. Beste beteken beter as iets anders, en ek weet waaragtig nie waarmee jy die beste kan wees nie, behalwe miskien skynheiligheid en agterbakse gedrag.

Seks? Jy’s mooi, jy’s tien jaar jonger as ek, jy’t ongetwyfeld ’n beter lyf – maar dit maak jou nie noodwendig ’n beter seksmaat nie. Soos Minette op ’n keer ’n jong man kortgeknip het wat dit gewaag het om haar “tannie” te noem: “Tannie? Luister, boet, hierdie tannie kan vir jou ’n blowjob gee wat jou hare saam met jou voël sal laat regop staan.” Ja, pasop vir ons “tannies” as dit by bedsake kom.

Die bed is een van die min plekke op aarde waar ervaring en mededeelsaamheid steeds meer bevrediging verskaf as blote entoesiasme en egoïsme. Maar dis nou ook nie asof jy ’n maagdelike tiener is nie, nè. Op amper dertig moes enkele onskuldige twintigjariges jou seker ook al “tannie” genoem het. Was jy so geskok soos ek toe dit die eerste keer gebeur het?

Nee, hel, waarom probeer ek nou nice wees met jou? Asof ek jou met small talk en “tannieskap” aan my kant sal kry! Ek wil jou nie aan my kant hê nie, ek wil jou so ver moontlik van my hê, verkieslik heeltemal uit my en my man en my kinders se lewe, maar ek’s bevrees daarvoor is dit te laat.

Ek het my soos ’n hond met ’n lam onderlyf teruggesleep werk toe. Terug na hierdie enorme gebou waar soveel koerante en tydskrifte daagliks, weekliks, maandeliks, uitgebroei word. Die wete dat jy en my man (ja, hy is steeds my man, al woon én werk hy nou saam met jou) op ’n ander verdieping iewers onder my besig is met julle eie duistere broeiwerk, konkelwerk, samesweerdery, steek my verskriklik dwars in die krop. En moet my asseblief nie beledig deur dit af te skryf as blote jaloesie wat sal oorwaai nie. Ek weet wat jaloesie is.

Of dalk het ek net gedog ek weet.

Ek het al voorheen ligte aanvalle van hierdie vieslike siekte gekry. Enkele kere, in my jonger dae, vóór Bernard, selfs ernstige aanvalle. Veral saam met James, ’n man wat te mooi en te ydel en te selfsugtig vir enige vrou was. Ek het jou van hom vertel, onthou ek, omdat ek jou wou troos oor jóú verhouding met ’n mooi en ydel en selfsugtige lover wat nie uitgewerk het nie. Wat was sy naam nou weer, die vent oor wie jy soveel krokodiltrane in my kombuis gestort het? As dit nie vir dié bliksem was nie, het ek jou dalk nooit jammer gekry en huis toe genooi nie, het ons dalk net vriendelike kollegas in ’n vrouetydskrif se redaksie gebly, het jy dalk nie …

Hier gaan ek al weer. As, as, as. Ek maak myself mal, dwaal in eindelose sirkels om elke enkele ding wat ek die afgelope jaar of twee gedoen of gesê het – of erger, nie gedoen of gesê het nie. Nie gesien of gehoor het nie. Terwyl alles volgens jou seker so bestem was, written in the stars, jy glo mos aan sulke snert. Gerieflik, nè, nou hoef jy nie skuldig te voel oor enigiets nie, dis Jupiter wat in Venus was. En my man wat in jou was. Waarom maak dit so séér elke keer as ek daaraan dink?

Na James het ek ’n soort immuniteit teen jaloesie verwerf. Hoe meer onseker ’n vrou van haar eiewaarde is, hoe makliker word sy die prooi van jaloesie. Die Evangelie van Eva en ander vrouetydskrifte. Ek het werk gemaak van my onsekerheid, ’n muur van selfvertroue om my gebou, baksteen vir blerrie baksteen, jare lank. Ek het ’n intelligente, sensitiewe, kunssinnige man getrou, ’n kenner van rolprente en musiek en boeke, en ons het drie gesonde en gelukkige kinders in die wêreld gebring, hoe geseënd kan ’n vrou nie wees nie. Ek kon my passie vir kos en vir woorde in ’n beroep omskep, kosskrywer vir koerante en tydskrifte word, betáál word om te kook en te eet! Hoe geseënd kan ’n vrou …

Selfs wat die uiterlike betref, het ek geleer om van myself te hou. Dwarsdeur my tienerjare en tot in my twintigerjare het ek nooit enigiemand geglo wat my “Mediterreense voorkoms” aantreklik vind nie. Ek het bly hoop ek gaan een oggend my oë oopmaak en ontdek – o, die vreugde! – dat ek oornag lank en slank en sportief en blond geword het. Teen dertig het dit oplaas tot my deurgedring dat dit nooit gaan gebeur nie. Ek het weer eens na Eva se raad gegryp. Eva en Cosmopolitan en Elle en Glamour en al hulle pragtige papiersusters. Maak die meeste van wat jy het, nie van wat jy nie het nie. Ek het my donker vel en my rojale kurwes begin beklemtoon, geleer om klere te dra wat my voorkoms vlei eerder as om al daardie lang, skraal, blonde modelle op die modefoto’s te probeer naboots, en dit het waaragtig gewerk. As ek dink aan al die jare wat ek gemors het in die verkeerde outfits. Die afgelope dekade het ek oplaas gemaklik in my eie vel begin voel, tuis in my eie lewe, oukei oor wie en wat ek is.

En hier bars jy by my lewe in, ’n cliché van lang, skraal, sportiewe, blonde skoonheid, en ek voel nie eens bedreig nie, want ek is mos oukei, al is my bene miskien ’n bietjie kort en al neig my boude miskien na plomperigheid en, en, en … En sowaar, my intelligente, sensitiewe, kunssinnige man val vir jou. Soos enige breinlose bastard sou, enige lieplapper wie se voël harder werk as sy verstand, enige man wat …

Soos enige man sou?

Hulle kan tog nie almal sulke dose wees nie! Of kan hulle? As dit gaan oor toegang tot ’n begeerlike vroulike doos, is hulle dalk almal verdoem tot ewige doosagtigheid.

Hoor hoe bitter klink ek. Alles waarin ek geglo het – intelligensie en eerlikheid in intieme verhoudings, wedersydse respek tussen geslagte, liefde-tot-die-dood-ons-skei – alles het die afgelope maand verdwyn, spookasem wat in die yskas gelos is en klam geword het, daar’s niks oor nie. Net hierdie galbitter smaak in my mond, ek vermoed dit moet een van die newe-effekte van jaloesie wees, dat selfs my gunsteling-geregte vir my soos aalwynsap smaak. Sjokolade is al wat ek nog kortstondig kan proe, hoe soeter en goedkoper hoe beter, my enigste oorblywende smaaksensasie, dis ’n katastrofe. Vir my om my smaaksintuig te verloor, is soos ’n verspringer wat sy voete verloor, ’n operasangeres wat haar stem verloor. Van opera gepraat, ek is nou by Verdi se Otello. Van slagoffers in hulle liefde verlaat tot slagoffers van jaloesie. Hoewel ek die sterkste identifiseer met die siniese Iago. E credo l’uom gioco d’iniqua sorte … Inderdaad, op die oomblik glo ek die noodlot speel met ’n mens, van die wieg tot die graf. Vien dopo tanta irrision la Morte! En ná soveel sotheid kom die dood!

Ek het gedog ek weet wat jaloesie is – maar niks, niks in my vorige lewe, kon my voorberei op die intensiteit van wat ek nou beleef nie. Ek voel of ek my tong met ’n vleismes uit my mond wil slag, net om nie langer hierdie bitterheid te proe nie.

As ek ’n greintjie trots oorgehad het, sou ek jou nooit hierdie brief laat lees het nie. “Ag, shame, sy suffer rêrig,” sal jy vir Bernard sê. “Die arme vrou,” sal Bernard vir jou sê. Die lááste ding wat ek van julle wil hê, is bejammering. Wat ek wil hê, weet ek nie. Miskien net ’n behoorlike besef van die verwoesting wat julle saai? Ek het nie ’n keuse nie, ek moet my tot jou rig, want Bernard het totaal onbereikbaar geword. Verblind deur die glans van jou blonde hare, verdoof deur die beloftes wat jy in sy oor fluister, heeltemal betower deur wat jy ook al aan hom doen. In die bed, seker, want in die kombuis is jy hopeloos. Behalwe as ons praat van seks op die kombuistafel, of langs die wasbak, tussen die koffiemasjien en die vuil skottelgoed. My fliekvlooiman het te veel films met onwaarskynlike sekstonele in stomende kombuise gesien, die jeugdige Jessica Lange met meel besmeer in The Postman Always Rings Twice, Glen Close waansinnig van wellus in Fatal Attraction, dit bly sy langdurigste fantasie, soos jy seker ook al agtergekom het. Ek wou nooit eintlik saamspeel nie, ek sal eerder op ’n tafel eet as naai, en vuil skottelgoed laat my wellus verdwyn soos seepskuim in vetterige water.

Jy’s klaarblyklik anders. Jy’t jouself graag aan Bernard beskryf as “die wêreld se swakste kok”, met so ’n suggestiewe soort spoggerigheid wat ek te onnosel was om te begryp. Ek kan miskien nie kook nie, dis wat jy eintlik wou sê, maar ek weet hoe om mans op ander maniere op te stook …

Dus skryf ek nou aan jou, my gewese vriendin, want my man is besig om weg te dryf in ’n see van wellus. Ek staan op ’n hawemuur en waai my arms wild om hom te waarsku, maar hy voel nie die stroom wat hom al hoe dieper insleep nie. Dit gaan sy einde beteken, hierdie sinlose jagsgeit, die einde van sy huwelik, die einde van sy gesinslewe, die einde van alles behalwe miskien melerige seks op ’n kombuistafel.

En hoeveel keer kan mens in meel rondrol voor dit ook vervelig raak? Wag, hier’s nog ’n lysie vir jou, om jou fliekopvoeding ’n stap verder te voer.

5 FILMS MET ONGELOOFWAARDIGE VRYTONELE

From Here to Eternity (1953, daardie branders wat so aanmekaar oor die vryers breek)

The Postman Always Rings Twice (1981, daardie kombuistafel)

Last Tango in Paris (1972, mens kan beter dinge met botter doen)

Max Mon Amour (1986, Charlotte Rampling en ’n groot aap)

King Kong (1931, Fay Wray en ’n baie groot aap)

Jou gewese vriendin

Clara


10 Augustus 1998

Op kantoor, Goudstad

Bernard

Toe ek vanoggend by my kantoor instap, my kop dof ná nog ’n nag van opera, whisky, sjokolade en sigarette, skrik ek my babelaas skoon weg toe ek die seëllose, stempellose wit koevert op die toetsbord van my rekenaar sien lê: Clara Brand, Redaksie van Eva, in getikte letters, geen verdere adresaanwysings nie, klaarblyklik met die hand afgelewer, deur iemand in dieselfde gebou.

Ek kon nie glo dat jy jou eindelik verwerdig het om een van my briewe te beantwoord nie. Jy was nog nooit een om ondeurdagte emosies op papier uit te stort nie. Dit kan dalk later teen jou gehou word.

Resensies was iets anders. Wanneer jy oor ’n rolprent of ’n toneelstuk of selfs die simpelste TV-program moes skryf, was jou woorde altyd weldeurdag. Selfs wanneer die onmoontlikste spertye soos die spreekwoordelike swaard skaars ’n haarbreedte bo jou kop gehang het. Onmoontlike spertye het jou beter laat skryf, het jy soms beweer, die spanning van die tikkende horlosie het jou verstand verskerp. Dis die verskil tussen ’n joernalis en ’n akademikus. Nog een van jou bewerings.

Maar die emosies in jou persoonlike lewe wou jy nie “resenseer” nie. Jy kon darem daaroor praat, wat meer is as wat baie ander mans kan sê, en vir my was dit meestal voldoende. Nou weier jy om met my te praat, behalwe oor wanneer jy die kinders kan sien, wanneer jy jou boeke kan kom inpak, al die praktiese en prosaïese reëlings wat getref moet word om die ruïne van ons verhouding ’n skyn van ordentlikheid te gee. En ek het ’n oorweldigende behoefte om op ’n ander vlak met jou te praat, om te verstaan wáárom jy doen wat jy doen, wat in jou kop aangaan, wat van jou hart geword het. Missing in Action, vermoed ek, daardie bloedpomp in jou borskas.

Ek het met jou getrou omdat ons kon kommunikeer, omdat ons verskeie passies gedeel het en ander by mekaar aangeleer het, omdat jy die enigste man is met wie ek ooit uitgegaan het wat eerder ’n goeie rolprent as ’n goeie rugbywedstryd sou gaan kyk. Oukei, nie altyd nie, soos alle wit mans in Suid-Afrika het jy ’n ding oor rugby. Selfs my moffie-vriende in hierdie land kyk rugby. Soos ek al jare lank, sonder sukses, aan verbaasde buitelanders probeer verduidelik.

Daarom het ons ook soms op ’n Saterdagmiddag saam TV-rugby gekyk, albei effens geamuseerd deur ons onverklaarbare gedrag, terwyl ons ’n bottel goeie wyn deel. Wanneer ons rolprente kyk, het jy dikwels hardop kommentaar gelewer, asof jy reeds besig was om jou resensie uit te dink, selfs lank nadat jy opgehou het om resensies te skryf. Jy het opgehou omdat jy bang was jy verloor jou passie, dis hoe jy dit gestel het, omdat plesier besig was om plig te word. Eintlik, dit het ons albei geweet, omdat jy besluit het die kunsredaksie is ’n doodloopstraat vir ’n ambisieuse koerantman soos jy. Jy wou die korporatiewe leer klim, vinniger “bo” uitkom, waar “bo” ook al was, en daardie leer het in die vuil water van die politiek gestaan. Kantoorpolitiek, natuurlik, maar vir ’n koerantman soos jy het dit ook landspolitiek beteken. “Regte” politiek, sake van die dag, dis waaroor jy moes skryf, eerder as oor rolprente, teater, musiek.

Dis toe jy begin verander het. Nee, dis nie ’n verwyt nie, dis te laat daarvoor, en buitendien, ek besef dit nou eers, noudat ek terugkyk. As lid van die politieke redaksie moes jy baie meer rondreis, gedurende die parlementsitting was jy kort-kort in die Kaap, en die laaste jaar of wat was daar boonop die emosionele uitmergeling van die WVK, waarvan jy goddank nie ’n permanente getuie moes wees nie. Ons het albei gesien wat daardie ervaring aan party van ons kollegas in die pers gedoen het. Minette werk saam met my by ’n vrouetydskrif – waarvoor sy vroeër haar intellektuele neus sou optrek en haar spottende oë sou omdop – omdat die WVK haar tot ’n senu-ineenstorting gedryf het. Omdat selfs ’n siniese persvrou soos sy nie sinies genoeg was vir wat sy dag ná dag dáár moes aanhoor nie.

Ieder geval, jy het ook verander toe jy wegbeweeg het van die kunswêreld na die “werklike” wêreld. Jy het wegbeweeg van my en die kinders, eers bloot fisiek, omdat jy so gereeld uitstedig was, afwesig by skoolkonserte en sportwedstryde, maar geleidelik ook op ander maniere. Jy het nie meer jou werk met my bespreek nie. Miskien omdat jy my wou beskerm. Miskien omdat ek nie genoeg belang gestel het nie.

Niks wat ek jou nou vertel, is nuut nie – al het ons nooit daaroor gepraat nie. Maar dís waarom die koevert op my toetsbord my ’n paar oomblikke van bewende hoopvolheid besorg het. Uiteindelik weer ’n poging tot kommunikasie! Het ek gedog. As jy op daardie oomblik by my kantoor moes instap, sou ek jou moontlik alles vergewe het.

En toe sien ek dis nie jy wat die briefie in die koevert geskryf het nie.

Dis jou nuwe geliefde wat my wanhopige brief aan haar beantwoord het. Jy weet waarvan ek praat, sy maak dit duidelik dat sy daardie brief met jou gedeel het, “soos ek alles met hom deel”. Verskoon my dat ek gou gaan kots. Haar toon is selfvoldaan simpatiek, die waardige wenner wat die klaende verloorder troos. Wat tussen julle twee gebeur het, deel sy my goedgunstig mee, moet nie beskou word as die einde van ’n huwelik of ’n gesin of enigiets nie (gaan vertel dit vir my kinders wat elke aand wil weet wanneer hulle weer hulle pa sal sien), maar as “die begin van iets beter”.

Vir ’n ongelooflike en absurde sekonde het ek gedog sy bedoel ’n menage à trois. Ek en jy en sy almal saam, soos lede van die Bloomsbury Circle of ander boheemse Europese siele – en lywe, moenie die lywe vergeet nie – of erger, dat ek soos ’n onderdanige Moslem- of Zoeloe-eggenote moet aanvaar dat my man ’n tweede vrou gevat het.

Toe besef ek nee, ek word nie ingesluit by daardie “iets beter” nie. Al wat sy bedoel, is dat jy en sy iets beter sal hê as wat ek en jy ooit gehad het, en tant pis vir my of die kinders of enigiemand anders wat in die proses seerkry. Daar was nog ’n sin of drie, maar ek kon nie verder lees nie, die woorde het wasig geword voor my oë. Nie weens trane nie, o nee, dit was woede en verontwaardiging wat my tydelik verblind het. Ek was so kwaad dat ek nie asem kon kry nie. Ek moes by die kantoor uitvlug om onder in die straat ’n sigaret te gaan rook. My masochistiese manier om my longe net nog meer te straf.

Minette het my daar aangetref, één kyk gegee, en my na die koffiekroeg op die grondvloer gesleep. As hulle whisky bedien het, het ek ’n dubbele dop bestel. Ek moes tevrede wees met ’n cappuccino. Ek het vir Minette die brief gewys.

As A my briewe vir jou kan wys, kan ek hare seker ook vir iemand anders wys.

“Die fokken bitch,” het Minette gesê. Net dit, niks anders nie. “Die fokken bitch.”

Ek het niks om by te voeg nie.

Clara


13 September 1998

Stil Sondag in Suburbia

Liewe Nita

Wie sou nou kon dink, toe jy skaars twee maande gelede sak en pak hier weg is, dat my eerste brief aan jou in jou nuwe tuiste ’n treurmare oor my “verbrokkelende huwelik” sou wees? Getik op my sukkelende ou skootrekenaar, terwyl ek uitkyk oor my verwaarloosde tuin. Things are falling apart, voorwaar, the centre cannot fucking hold.

Goddank vir telefone. Al is dit onbekostigbaar duur om Skotland toe te bel, kan mens dit darem nog in noodgevalle doen. En die afgelope twee maande het my ganse lewe een groot noodgeval geword. Dankie tog ek kon jou bel en vertel wat aangaan, so oor duisende kilometer heen op my sus se skouer huil, anders moes ek nou die hele droewige sage hier neerskryf. Ek het nie die krag daarvoor nie, ek het die meeste oggende skaars die krag om my tande te borsel, om die smaak van die vorige aand se whisky en sigarette uit my mond te skrop voor ek werk toe ry, ek het ’n regte voëlverskrikker geword.

My beenhare moet geskeer word en my wenkbroue moet gepluk word en my snor moet gebleik word, moenie lag nie, ek oordryf nie, ek is in ’n toestand! My hare kort ’n knip, dringend, en dis nie al wat ’n knip kort nie as ek nou vulgêr wil wees. Maar ek wil nie, nee, ek wil nie eens dink aan seks nie, dit het ’n donnerse doodloopstraat geword waaruit ek sweerlik nooit weer gaan ontsnap nie. En dan bly ons maar liewers diplomaties stil oor die gewig wat ek aangesit het. Ander vroue teer uit ná liefdesteleurstellings, verloor hulle eetlus en word bleek en fragiel soos kerse in die wind, maar ek kry dit reg om binne twee maande meer gewig op te tel as toe ek my kinders verwag het. Pateties, nè.

Dis die innerlike wat saak maak, sal jy my probeer troos, nie die uiterlike nie. (Nee, jy sal nie sulke snert kwytraak nie, jy wéét hoe lewensbelangrik die uiterlike vir ons sogenaamde bevryde vroue geword het.) Maar as my uiterlike nie juis die aptyt prikkel nie, dan is my innerlike waaragtig genoeg om as purgeermiddel te dien. ’n Vullisdrom vol verfoeilike jaloesie en wrewel en wanhoop en moenie vergeet van die dronkenskap en brassery nie, al sewe doodsondes, dis wat jy in my binneste sal vind. Ek dink darem nog nie daaraan om iemand dood te maak nie. Wel, ek moet erken ek wens soms iemand wil namens my van my man se lover ontslae raak, sê nou maar soos in Hitchcock se Strangers on a Train. Kan jy gló wat ek skryf?

Jy’s die enigste mens op aarde teenoor wie ek kan erken hoe opgefok ek eintlik is, my liewe sus. Vir my kinders moet ek voorgee dat ek oukei is, vir my kollegas en vriende, wel, hulle kan sien dat ek nou nie juis ’n voorbeeld van diep innerlike vreugde is nie, maar ek kry dit tog reg om die stank van my wanhoop vir hulle weg te steek. Om die deksel soort van op die vullisdrom te hou. Net nou en dan snags of douvoordag is ek besope of babelaas genoeg om die deksel vinnig op te lig en vir arme Marita ook so ’n virtuele snuif op internet te gee. Ek vermoed sy gaan binnekort ophou om my e-pos oop te maak, siestog, ek sou dit lankal gedoen het as ek sy was.

Verder vermy ek my vriende, weier alle uitnodigings, antwoord nie die telefoon nie. By die werk sonder ek my af in my proefkombuis waar ek na bulderende operamusiek luister terwyl ek bak en brou. Die musiek dien as afskrikmiddel vir indringers, werk beter as traangas, glo my. Verdi se La Traviata oor en oor, Violetta se hartverskeurende “Addio del passato”, vaarwel aan die verlede, die rose het reeds verwelk … Ek hou ’n hele verskeidenheid van Violettas in my proefkombuis aan, Callas, Tebaldi, Sutherland, en terwyl hulle een vir een singend sterf, kook ek snikkend voort. As iemand sou vra waarom my oë rooi is, kan ek altyd die uie of die brandrissies beskuldig.

Ek proe nie meer aan die geregte wat ek vir Eva se kosblaaie optower nie. Dit sou nutteloos wees, want alles smaak vir my eenders. Solank dit goed lyk op ’n foto, het ek wat my betref my plig vervul. En ek het lankal geleer dat selfs ’n bak hondekos smaaklik kan lyk op ’n foto; al wat nodig is, is die regte bykomstighede en beligting. Onthou jy hoe ek altyd beklemtoon het dat kos met liefde en geesdrif gemaak moet word? Dan kan selfs die eenvoudigste gereg ’n feesmaal wees? Nou ja, met al die bitterheid wat op die oomblik in my binneste opgaar, kan selfs ’n feesmaal nie anders as ’n fiasko wees nie.

En soos die wrede noodlot dit wil hê, moet ek juis nóú die grootste feesmaal van die jaar kook. Toe ek vanoggend met die hond gaan stap (wat ek weke laas gedoen het, die arme Tjoklit is besig om so vet en onfiks soos sy ounooi te word), merk ek dat die jakarandaboom onder in die straat pers spatsels begin wys. Vir my elke jaar die teken dat ek my met Krismiskos moet bemoei. As jy by ’n maandblad werk, lewe jy mos altyd drie maande vooruit, vanweë die sperdatums. In November vier ons Valentynsfees en in Februarie gedenk ons Moedersdag. Daarom moet jou ousus binne die volgende week in aller yl ’n paar geskikte resepte vir ’n onvergeetlike Kersmaal vind. Dit word vir my elke jaar ’n erger marteling. Nie die maal nie (wel, ja, dit ook, saam met onaangename familielede en selfs meer onaangename skoonfamilie), maar hierdie vervroegde poging om iets oorspronkliks en verbeeldingryks vir Eva se lesers op te tower (maar nie té oorspronklik of té verbeeldingryk nie, dan word dit volksvreemd) wat nie te veel moeite, tyd of geld kos nie. Met bestanddele wat lesers van Naboomspruit tot Nababeep maklik in die hande kan kry.

Ek wens ek kon sê kom ons onthou ’n slag dat die Kind waarom die hele fees veronderstel is om te draai, in ’n stal gebore is. Kom ons smeer dik snye tuisgebakte brood met skaapvet, soos die herders wat die stal besoek het, en sluk dit af met ’n gebraaide lamstjoppie as ons uitspattig wil wees. En basta met al hierdie aangeplakte pretensie van opgestopte kalkoene en twintig bykosse en tafels vol pronkende poedings.

Intussen sit ek alleen op die stoep van my huis wat vanoggend so leeg soos ’n skulp voel. As ek my oor teen ’n venster druk, sal ek sweerlik die see deur die vertrekke hoor suis. Ek sit op die stoep, ja, soos ouma sonder oupa, geen menslike geluide om my nie, selfs ’n poepende oupa sou nou nogal welkom gewees het, en ek staar uit oor my tuin waar selfs die voëls onverklaarbaar ophou sing het. Hulle sê mos diere weet instinktief wanneer aardbewings en ander natuurrampe aan die kom is. Dalk het hulle ook ’n aanvoeling vir menslike rampe soos egskeidings en moeders wat vir die eerste keer ’n kinderlose Sondag moet deurbring. Dalk swyg die tuinvoëls uit simpatie en respek vir my, soos mans in die ou dae hulle hoede afgehaal het wanneer ’n begrafnisstoet verbyry, want Bernard het vanoggend die kinders kom haal om die dag saam met hom en A deur te bring.

Na my mening is dit gans te vroeg vir die kinders om hulle pa nou al saam met “die ander vrou” te sien. Sy teenargument is dat hulle reeds die ander vrou ken (omdat sy my vriendin was!) en daarom nie bedreig sal voel nie. Ek wonder watse verwronge lesse oor lojaliteit en vriendskap ons kinders uit hierdie ervaring gaan leer. En tog kon ek nie weier nie, hulle het my almal in ’n koor staan en smeek – selfs Paula – vermoedelik opgesteek deur hulle agterbakse pa. Maar ek kan mos ook sien, elke liewe dag, hoe hulle hom mis. En ek wil hulle nie méér laat ly as wat hulle reeds ly nie. So, ek het hulle laat gaan.

Wel, om heeltemal eerlik te wees, iewers diep in hierdie vullisdrom wat my binneste geword het, is daar ook die perverse hoop dat hulle vanaand wanneer hulle terugkom, teenoor my gaan bieg dat hulle niks meer van die verfoeilike A hou nie, dat hulle nooit weer hulle pa saam met A wil sien nie, dat hulle dalk selfs, wie weet, niks meer van hulle pa hou nie …

Clara

PS: DIESELFDE AAND, AMPER MIDDERNAG

Dit het nie gewerk nie. Dit het só nie gewerk nie! Soos Nicolas sou sê. Lang storie kort: Die kinders het in ekstase teruggekeer van “’n fantastiese dag saam met Pappa-hulle”. Heeltemal hyped-up van te veel suiker, hamburgers en milkshakes by McDonald’s, woeste elektroniese speletjies in die een of ander “games arcade”, ure van inkopies en verbruik, verbruik, verbruik. Al my Gebooie oor die Grootmaak van Kinders in ’n enkele dag verbreek deur my moedswillige eggenoot. Paula het histeries begin huil toe haar pa wou groet en ek is gedwing om haar uit sy arms los te skeur. Wat my natuurlik soos die skurk in die verhaal laat voel het. Wat de hel het van regverdigheid geword? Hallooo?!? Is daar iemand daar bo wat luister??? Niemand wou die pampoensop hê wat ek vir aandete gemaak het nie, almal was te vol gemorskos geprop. Nicolas en Sebastian het soos soldate op speed oor ’n elektroniese speletjie gebabbel: Toe skiet ek daai ou … blaas ek die hele gehou op … drie op een slag soos in morsdood … dit was cool, nè …

Ná ek vir Paula ’n slaaptydstorie gelees het, terwyl haar oë toeval, wou sy slaperig weet: “Hou jy van Nanas, Mamma?”

Nanas is wat sy Anaïs noem, omdat die naam vir haar te moeilik was om uit te spreek toe sy jonger was.

Soos dit nou vir my ook te moeilik geword het om uit te spreek.

Wat kon ek sê wat die kind nie sou traumatiseer nie? Toe mompel ek maar hmm, ek hou van haar – en ek dink, soos ek van motorongelukke en hospitale en musiek met Hawaïse kitare hou. En my liefste Paula-kind knik en sug: “Ek hou ook van haar …”

Nou weet ek hoe die arme Caesar gevoel het. Selfs jy, Brutus, selfs jy.

Ag, liewe hemel, skryf tog vir my oor Edinburgh en hoe jou huis lyk en hoe jou kinders aanpas in hulle nuwe skool en enigiets, net wat jy wil, maar skryf asseblief. Ek het kontak met normale mense nodig, ek weet ek het, maar ek sien nie kans om my normale vriende met hulle normale lewens in die oë te kyk nie. Dis makliker so op ’n afstand.


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Fri 02/10/98 22:58

To: Marita van der Vyver [marita10@iafrica.com]

Subject: S.O.S.S.O.S.S.O.S. (steeds!)

Die mooiste mooiste maand se moer. Soos die lentebloeisels van die bome grond toe dwarrel so val stukkies van myself aanmekaar af stukkies vel en vleis en binnegoed. Verskoon die melodramatiese metafore ek luister steeds snags na Puccini dis seker besig om my brein aan te tas. En ons is nog nie eens “amptelik” aan die skei nie die eintlike opera het nog nie begin nie (soap opera is seker ’n beter woord) ons is nou eers by die ouverture. Daar gaan waaragtig niks van my oorbly teen die tyd dat ons by die slottoneel in die skeihof uitkom nie ’n verskrompelde stuk stomp dis al wat ek gaan wees g’n kans dat ek ooit weer bloeisels of blare of selfs net ’n onvergeetlike ete gaan voortbring nie. Ek wens iemand kan my help jirre want ek weet nie meer hoe om myself te help nie.


16 Oktober 1998

Laatnag by die huis

Bernard

Ek is bang, Bernard. Hierdie huis het nog altyd vir my so veilig soos ’n fort gevoel, hoë muur, diefalarm, hond buite in die tuin, man langs my in die bed. Nou’s die man weg en alles word broos en breekbaar. Minette is laas week in haar eie slaapkamer gevange geneem deur ’n inbreker met ’n balaklawa en ’n vuurwapen. Nee, ek kan nie daaroor skryf nie, my keel trek toe van vrees.

Dalk is jy reg, dalk moet ons die hele sage so gou moontlik agter die rug probeer kry eerder as om die pyn en lyding uit te rek. En tog talm ek, wil ek skreeu hokaai, briek aandraai, nou foeter ons te vinnig teen die bult af. Mens kan mos nie ’n verhouding van vyftien jaar soos ’n verkeersoortreding hanteer nie. Verskyn in die hof, betaal die boete, skeur die kaartjie op. Skeur die huweliksertifikaat op. Fluit-fluit, alles is uit.

Minette se hande en voete is vasgebind met haar eie springtou – wat sy skaars ’n week vantevore gekoop het omdat sy wou fiks word voor sy met ’n kickboxing-kursus begin. Die kickboxing, het sy gedog, sou haar leer om haarself te verdedig ingeval sy op straat aangeval word. Toe word sy in haar eie bed oorrompel, g’n kans om ’n enkele skop te gee nie, sy kon nie eens skreeu nie, die inbreker het ’n kussingsloop in haar mond geprop en sy’t amper in haar eie kots verstik. Maar sy’s nie verkrag nie, sy’s nie ernstig beseer nie, sy’s nie dood nie. Ons lewe in ’n land waar mens dankbaar is om bloot te bly lewe nadat iemand jou intiemste ruimte binnegedring het.

Dis nie dat ek jou wil terughê nie, Bernard. Daar is nou eenmaal dinge wat ’n vrou nie kan vergewe nie. Nie eens ter wille van haar kinders nie. Of maak dit my ’n slegte ma om so iets te sê? Vrugtelose vrae, totale tydmors, want jy wil klaarblyklik nooit weer by ons woon nie. Ek sal net eenvoudig moet leer om my vrees te beheer. Die polisie glo hy wou haar verkrag nadat hy gekyk het wat hy in die res van die huis kan steel. “Roof was die hoofmaal,” sê Minette, “en verkragting die poeding. Dis wat my gered het.” Iets het hom onverwags laat vlug voordat hy sy poeding kon opeis, niemand weet wat nie, ’n alarm wat êrens anders afgegaan het, ’n motor wat voor die huis stilgehou het, iets. “’n Wonderwerk,” sê Minette. “Hierdie siniese slet glo weer aan wonderwerke.”

Maar ék glo nie meer aan wonderwerke nie. Hierdie huis het te groot en gevaarlik geword. Ek weet nie hoe om die kinders te beskerm nie. Ek moet bieg ek voel soms afgunstig as ek dink aan kinderlose egpare wat skei. Dit moet tog seker makliker wees vir hulle? En ander kere dink ek weer dis nog net my kinders wat my aan die gang hou. Dis om hulle onthalwe dat ek soggens opstaan eerder as om heeldag in ’n hulpelose homp te lê en huil. Dan wonder ek hoe op godsaarde enigiemand ’n egskeiding oorleef sonder kinders. Dis net snags terwyl hulle slaap dat ek my kan oorgee aan my emosies, en dan’s ek gewoonlik so pootuit na ek die hele dag lank moes probeer om nie voor hulle oë uitmekaar te val nie dat ek nie eens meer genoeg energie het om te huil nie. Weke laas ’n traan gestort, behalwe wanneer ek uie skil. Begin my nogal bekommer. Gewoonlik laat enige sentimentele toneel uit enige simpel movie my trane vloei, jy weet dit tog, honde wat seerkry, kinders wat verdwaal, moeders wat sterf … En as movies nie werk nie, dan het musiek dit nog altyd vir my gedoen.

Wel, nie meer nie. Al die Violettas op aarde kan snikkend saam sterf, tutto, tutto fini, or tutto, tutto fini, dis húlle probleem, nie myne nie. Miskien kry elkeen van ons ’n jaarlikse kwota trane, soos eise van ’n mediese fonds, en as jou kwota opgebruik is, moet jy wag tot volgende jaar voor jy weer kan huil. Of siek word.

Of miskien is ek bloot nie meer dáár nie. Vanaand aan tafel het dit my weer getref dat ek omtrent die hele maaltyd buite my eie lyf deurbring, asof ek iewers naby die plafon sweef en afkyk op hierdie donkerkopvrou met die dowwe oë en die drie kindertjies wat sit en pasta eet. Ons eet aanmekaar pasta en pizza, fabriekpasta en vrieskaspizza, kan jy glo, ek het geen beginsels meer oor nie. Ek probeer maar net die vitamiene en proteïene skelm inglip, ’n paar ertjies of flentertjies vis saam met die gekoopte pastasous, ’n paar vars tamaties of oorskiethoender op die ontvriesde pizza. As ek dink hoe ek jare lank gesukkel het om vir hulle “interessante” maaltye te berei, hulle aan nuwe smake en geure bloot te stel, die wonderwêreld van kos vir hulle oop te sluit. En al wat hulle eintlik wou hê, aand ná aand ná aand, was fabriekpasta en vrieskaspizza.

Ek sal vir my ’n ander werk moet soek, nè. Ek kan nie vir Eva se lesers preek oor goeie eetgewoontes as ek my eie gesin met kitskos aan die lewe hou nie. Intussen eet my kinders pasta sonder om te kla, skuif net die vermomde ertjies en vis eenkant toe, en baklei met mekaar. Nicolas en Sebastian baklei oor Gameboy-speletjies, skaatsplanke, krieketspelers, die kwaaiste onderwysers, die mooiste juffrou, die regte manier om jou vurk vas te hou, oor alles en oor niks. Elke keer as een sy mond oopmaak om iets te sê, neem die ander een bloot uit beginsel die teenoorgestelde standpunt in. En as Paula ’n woord probeer inkry, baklei albei saam teen haar.

Dit het jou tot raserny gedryf, onthou jy? Waar kom die idee vandaan dat dit góéd is vir gesinne om saam aan tafel te sit, wou jy dikwels weet. Waarom kan ons nie soos ’n Amerikaanse gesin met skinkborde voor die TV eet nie? (Dan sal die kinders oor die TV-program baklei, vermoed ek.) Dit moet vir jou ’n hemelse verligting wees om elke aand in vrede saam met A ’n bord kos te geniet. Aan die ander kant, as A die kos moet maak, sal daar nie veel wees om te geniet nie, nè.

En as julle klaar geëet het, kitskos, wegneem-etes, afgelewerde disse, dalk selfs die odd tuisgemaakte slaai? Sy’s erg oor slaaie, as ek reg onthou het sy dit selfs oorweeg om vegetaries te word, siestog, en jy was nog altyd ’n vleiseter wat enigiets groen in jou bord met effense wantroue bejeën het. Ieder geval, as julle klaar aan julle gesonde blare geknibbel het, wat doen julle dan om die lang aand om te kry? Behalwe seks, bedoel ek nou. Mens kan tog nie élke aand ure lank …

Of kan mens?!?

Wat ek wil weet, is of julle soms styf teen mekaar op die rusbank sit om saam na ’n klassieke swart-wit-rolprent te kyk? Ek het gisteraand, vir die eerste keer vandat jy weg is, weer ’n Hitchcock-fliek gekyk. Jou plek op die rusbank was leeg, leeg, leeg, maar ek kon my tog verbeel ek hoor jou stem. Jou brokkies interessante inligting oor Strangers on a Train, soos dat Hitchcock se dogter die rolletjie van die heldin se bebrilde sussie vertolk, die soort trivia wat ’n mens net by ’n maniak soos jy kan leer. En vir ’n verandering het ek nie Hitchcock se gewone blitsige verskyning in sy eie rolprent gemis nie! Die passasier wat met ’n double bass op die trein klim, onthou jy? En soos elke enkele keer wanneer ons daardie video saam gekyk het, het die mallemeuletoneel teen die einde my asem weggeslaan. Die dolle spoed, die opruiende musiek, die vindingryke kamerahoeke. My hart het vinniger geklop, ek het besef ek is nog dáár, ek het darem nog nie heeltemal verdwyn uit my eie lewe nie. Dit het my getroos.

5 HITCHCOCK-FILMS WAT ’N LEWELOSE VROU WEER LEWEND KAN LAAT VOEL

Notorious (vir Cary Grant en Ingrid Bergman se soen wat 3 minute duur)

Vertigo (vir die toneel in die toring, albei kere)

North by Northwest (vir 2 Amerikaanse monumente, Mount Rushmore en Cary Grant)

Psycho (vir die storttoneel, natuurlik, en die musiek)

The Birds (vir die voëls, wat anders)

Miskien het ek net ’n versadigingspunt met Puccini en Verdi bereik. Dalk is ek oplaas gereed om weer blues te begin luister en outydse movies te kyk. Sonder jou. Fok jou. Ek kán dit op my eie doen.

Ek gaan hierdie whisky klaar drink, die diefalarm aanskakel, in die bed klim en hoop ons word almal môreoggend lewend wakker. Stadig maar seker sal ek leer om op my eie te fliek, te slaap en te lewe. Skoppend en skreeuend.

Clara


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Sun 22/11/98 10:30

To: Griet Swart [swartgriet@hotmail.com]

Subject: Sondag in suburbia (nog een)

Hallo Griet

Ek skryf vanoggend vir jou want dit voel asof jy die enigste wese in die wêreld is wat my huidige vlak van waansin sal verstaan. Sonder om te oordeel. Ek onthou jy’t op ’n keer vertel hoe jy jou “toekomstige gewese man” se huis dopgehou het terwyl julle besig was om te skei, doelloos om en om die straatblok gery het, of verby vriende se huise en gunsteling-restaurante gecruise het in die hoop dat jy sy motor iewers geparkeer sou sien. ’n Paar jaar later het dit vir jou ’n amusante staaltjie oor irrasionele gedrag geword. Ek het saam met jou daaroor gelag, ietwat ongelowig, want ek het jou ná daardie onsmaaklike hoofstuk in jou lewe leer ken. Vir my was jy ’n nogal bewonderenswaardige enkelma, min of meer emosioneel stabiel, soms effens neuroties soos almal van ons – maar beslis nie die soort nutcase wat haar amper-eksman sal stalk nie!

Dit was toe ek nog gedog het ek is gelukkig getroud. Nou het ek self ’n nutcase geword. Erger as wat jy ooit was, daarvan is ek vanoggend doodseker.

Ek het laas nag in my kar voor my amper-eksman se lover se huis aan die slaap geraak. Dit was die eerste keer dat die kinders die nag daar deurbring en ek was gek van angstigheid oor hulle, wat hulle eet, hoe laat hulle bed toe gaan, of iemand sal onthou om vir Paula ’n storie te lees, sê nou een van hulle word siek in die nag … (Aan die ander kant het ek heimlik gehoop iets gaan verkeerd, iets ernstig maar nie dodelik nie, sodat Bernard kan besef sy lover sal nie ’n goeie stiefma wees nie. Ek skaam my morsdood om dit te erken. Dat jy jou kinders ’n ongeluk kan toewens omdat jy kwaad is vir jou man.)

So gek het ek geword dat ek in die loop van die nag na A se huis gery het. Ek het ’n entjie laer in die straat geparkeer, weg van enige ligte, en soos ’n doos na die hoë muur rondom haar huis sit en staar. Kon natuurlik glad nie sien wat agter die muur aangaan nie, kon net so goed ’n byeenkoms van sataniste of pedofiele gewees het, maar ek kon my net nie wegskeur nie. Solank ek fisiek naby hulle kon bly, sou hulle oukei wees. Soos vroeër wanneer ek ’n nag in ’n vliegtuig moes deurbring. Altyd gevoel ek durf nie aan die slaap raak nie, ek moet die loods telepaties help om die vliegtuig in die lug te hou. Gelukkig darem van dié delusion ontslae geraak. Vandat ek saam met kinders reis, is ek meestal so moeg dat ek op ’n stuk plank in ’n stormsee aan die slaap kan raak. Soos laas nag weer gebeur het. Ek het aan die slaap geraak, darem nie op ’n plank in die see nie, maar op ’n stuurwiel voor my man se lover se huis.

Dis meer as net irrasionele gedrag. Dis lewensgevaarlik om vroualleen in die middel van die nag in ’n Johannesburgse straat in ’n kar te lê en slaap! Asof jy vrá dat iemand jou keel kom afsny! Jou verkrag en vermoor, jou handsak steel en met jou kar wegry. En dan praat ek nie eens van die nadoodse vernedering as Bernard my lewelose liggaam daar voor sy lover se huis moes aantref nie. Toe ek wakker skrik en besef hoe idioties ek opgetree het, het ek so begin bewe dat ek glad nie die kar aan die gang kon kry nie. Toe dog ek vir ’n paar afgryslike minute dat ek my man en sy lover sal moet gaan wakker klop sodat hulle die kar kan kom stoot. Wat my amper laat wens het iemand wil gou my keel kom afsny. Nadoodse vernedering is after all verkieslik bo regstreekse, lewende in-die-grond-sink-skaamte.

Die enigste positiewe gevolg van hierdie insident is dat ek so pas die besoekerskaartjie van ’n “briljante terapeut” uit die dieptes van my deurmekaar handsak gaan grawe het. My kollega Minette het die kaartjie weke gelede al aan my afgesmeer. Dis die ou wat haar weer op haar voete gehelp het ná die WVK haar emosioneel platgeslaan het. Maar ek het gevoel wie is ek nou om te kla oor ’n ontroue eggenoot, kyk net hoe ly ander mense in hierdie land, ruk jou reg, Clara Brand! Wel, nou weet ek ek kan my nie regruk nie, nie op my eie nie, ek het hulp nodig. Ek wil nie die res van my lewe so in stukke rondlê soos Humpty Dumpty nie, ek wil op ’n bed slaap, nie op ’n stuurwiel nie, ek wil nie snikkend en singend sterf soos Violetta en Mimi en Madama Butterfly en al daardie tragiese soprane nie.

Ek wil oorlewe, soos jy, dis wat ek wil doen. Sodat ek eendag soos jy kan terugkyk na hierdie tydperk van tydelike waansin en opera. Grappige staaltjies daaroor kan vertel vir my vriende wat sal sukkel om my te glo, want ek is dan so ’n sterk vrou. Is ek nie?

Nie op die oomblik nie, helaas, en dit voel of ek nooit weer enigiets anders as ’n patetiese swakkeling sal wees nie.

Ek het enkele dae gelede eindelik ’n prokureur gaan sien, so nou het ek ’n prokureur en binnekort ’n terapeut asook ’n groeiende versameling leë drankbottels langs die agterdeur, soos die meeste hedendaagse skeiende vroue. Vir ander is dit miskien ’n groeiende versameling pilboksies in die badkamerkassie, of ’n groeiende versameling skerp messe of selfmoordplanne of daggazolle. Something’s gotta give. (Profetiese titel van die laaste onvoltooide film van Marilyn Monroe, ingeval jy nie geweet het nie. Ons was nie almal vervloek om saam met rolprentresensente te lewe nie.) Beteken die prokureur en die terapeut dat ek nie meer “in denial” is nie? Beteken dit dat ek “vordering maak”? Nou hoekom voel dit dan of ek al verder teruggly teen ’n modderige heuwel? Wie’s dit wat gese het you fall in love, but you have to climb out? Waar kom al hierdie verdomde vraagtekens vandaan? Is te veel vraagtekens ’n meer verskoonbare stylfout as te veel uitroeptekens???

Jy mag maar eerlik wees, Griet. Nie oor my skryfstyl nie, spaar my dit, maar oor my gemoedstoestand. Moet net nie vir my valse hoop gee nie. Die donkerste uur is net voor dagbreek, daai soort crap. Dis donners donker hier om my en ek is doodseker dit gaan nog donkerder word.

Ek gaan Kersfees op my eie deurbring, by die huis in Johannesburg, want Bernard wil saam met die kinders in die Kaap gaan vakansie hou, soos ons elke jaar gemaak het, en ek glo hy sal beter geselskap vir hulle wees as hulle bedrukte ma. As ek net dink aan al daardie uitbundige Gautengers en opgeruimde Mpumalangers wat so verskriklik hard probeer om hulle jaarlikse vakansie by die see te geniet, wil ek by voorbaat my hare uit my kop trek van irritasie. Nee wat, dan hou ek eerder my hare hier in Johannesburg tussen al die ander depressiewe siele wat nie by die see of oorsee kan gaan vrolikheid fake nie. Misery seeks company. Soos jy seker sal weet.

Intussen wens ek jou en jou dogter ’n geseënde Kersseisoen toe.

Van jou vriendin en mede-enkelma (altyd gedog dis nogal ’n cool woord, so ’n lekker onafhanklike klank, maar skielik lyk “enkelma” vir my soos die treurigste woord in enige taal).

Clara


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Fri 25/12/98 11:05

To: Nita Patterson [nitap@yahoo.com]

Subject: Vreeslik ver van Betlehem

Liefste Nita

Dankie dat jy gisteraand gebel het. Jou oproep het gehelp om my deur een van die langste en alleenste nagte van my lewe te kry. Ek weet nie wat my besiel het om die kinders saam met Bernard weg te stuur nie! Ek het gedink aan hulle, aan hoe lekker ’n vakansie by die see vir hulle sal wees, maar ek het nooit gedink aan hoe ek sonder hulle gaan cope nie.

Dis een van die vangplekke van ma-wees. Dit staan daar, iewers in die fynskrif wat niemand ooit lees nie, in daardie kontrak wat jy met jou eie bloed teken die dag as jy geboorte skenk. Dat jy van nou af altyd eerste aan jou kind(ers) sal dink, maar dat dit nie altyd goed vir jóú sal wees om eerste aan jou kind(ers) te dink nie. Sela.

Hulle het darem ook vanoggend gebel. Uit Hermanus waar hulle uithang in die peperduur klere wat hulle pa se lover vir hulle gekoop het. Die seuns het albei beweer hulle mis my, maar die gemis was hoorbaar ondergeskik aan die opgewondenheid oor die busvrag vol presente wat hulle by A en B gekry het. Paula, daarenteen, het dadelik tranerig geraak. “Ek verlang, Mamma.” Toe’s ek verskeur tussen ’n vieslike soort leedvermaak (a! so Bernard en sy “Nanas” het dit nog nie reggekry om my enigste dogter om te koop of af te rokkel nie!) en ’n verskriklike verdriet dat ’n driejarige kind op Kersdag so ver van haar ma moet wees.

Wat eet jy? wou jy weet. Die vraag wat ons mekaar elke Krismis gretig vra en nog gretiger antwoord. En toe kry jy gisteraand net so ’n stamelende ontwyking van jou ousus. My Oukersaandmaal, as jy nou rêrig wil weet, was twee van Bernard se beste bottels verouderde wyn wat ek sonder skroom uit sy “kelder” gesteel het. Daar’s nie genoeg plek in A se huis om so ’n spul kosbare bottels te bêre nie, dus word die skat steeds hier bewaar. Ek het die Kanonkop en die Buitenverwachting met groot (leed)vermaak op my eie gedrink, saam met ’n boks handgemaakte Belgiese sjokolade. My Krismisboks aan myself. Vanmiddag eet ek wat ook al oorbly in die yskas en koskas, laas week se kaas saam met eergister se brood, en te hel met die res. Ek gaan nie swig onder die druk om feestelik te eet en vrolik te verkeer nie.

Pateties, ek weet, maar laat my nou maar toe om pateties te wees. Ek het jare lank elke Kersseisoen gebak en gebraai en geswoeg en gesweet asof my lewe daarvan afhang – en wat het dit my in die sak gebring? Hier sit ek vingeralleen op Kersoggend met vetrolle om my maag, ’n man wat troos soek in die arms van ’n vrou wat nie ’n eier kan kook nie, en kinders wat dink die hoogtepunt van aardse genot is ’n hamburger by McDonald’s.

En tog was dit gisteraand goed om te hoor van jou gesin se eerste tradisionele “wit Kersfees” in ’n Skotse sneeulandskap. In Kalifornië vier ons ambisieuse ouboet en sy Amerikaanse glanstydskrifgesin ’n rooklose, vetvrye en moontlik ook vreugdelose Krismis. (Hulle sal seker ook vanaand bel, wanneer dit oggend is by hulle.) In Stilbaai eet ons pa dikmond saam met sy tweede vrou en haar kinders, want sy eie kinders en kleinkinders is vanjaar almal elders. United States, United Kingdom, United Colours of Benetton in Hermanus. Van ek vir Pa vertel het dat ek en Bernard “van tafel en bed geskei” is, bejeën hy my met agterdog. Asof dit my skuld is dat ek nie my man aan my tafel of in my bed kon hou nie. En soos ek vanoggend voel, ís dit waarskynlik my skuld.

So, hier sit ek op my stoep in Egoli en snuif aan die rook van die eerste vleisbraaivure wat reeds agter die hoë mure in die tuine rondom my gestook word. In die sonnige Suid-Afrika braai ons selfs op Kersdag. Wel, sommige van ons. Ek wonder of dit die rook is wat my oë so laat traan. Ek het so lanklaas gehuil dat ek seker dankbaar moet wees vir die vet trane wat nou op my skootrekenaar drup. Maar dit kan nie goed wees vir die toetsbord nie, so laat ek liewers groet.

Van jou verlangende sus

Clara


From: Clara Brand [aandiebrand@hotmail.com]

Sent: Thu 31/12/98 23:41

To: ???

Subject: Oujaarsaand in Egoli

Draft – Continue composing this message

O fok, ek is verloooore! As my kinners my nou moet sien, sal hulle my noooooit weer wil sien nie! Weet nie eens vir wie ek hierie brief skyrf nie. Griet? Minette? Marita? Major Tom to ground control? Is enigiemand nog daar?

Ek en Bernard het geglo in betsekopname (beste kopname? be-stek-op-name!) op die laaste aand van die jaar. Ons het altyd saam ’n bottel vonkelwyn oopgemaak en teruggekyk na die beste oomblikkke van die afgelope amper 400 dae en ’n heildrink gedronk en voorentoe gekyk na die nuwe jaar. Ons het lankal te sienies nee sinies geword vr nuwejaarsvoornames. Maar ons het planne gemaak. Terwyl ons vinkelwyn drink. Vonkelwyn dronk. My brein se spell check wil nie vannag werk nie en my skoortekenaar se spell check werk net in ’n ander taal. Ja, ek moet die rekenaar op my brief skryf, ek bedoel die brief op my rekenaar skryf, want niemand sal my besope handskrif kan lees nie. Nou sit ek op my eie met ’n bittel vinkelwyn voor die TV en wag dat middernag aangekondig word voor ek uitpass, of andersom, wat ook al eerste gebeur.

Ek WOU nie op my eie wees nie, geweet dis skoorsoek ná ek laas week Kersdag alleen deurgebring het, maar almal wat ek ken, is by die see of oorsee, behalwe Sindiwe, en ek kon tog nie vir haar vra of ek saam met haar in ’n sjebien in Soweto kon gaan uithang nie, kon ek? Sy sal buitendiende nie oujaarsnag in ’n sjebien deurbring nie, sys gans te ordentlik, baie ordentliker as haar “mêrrim”, sy sal eerder by ’n handeklappende soort kerkdiens wees. Ieder geval, ek het my laat ompraat, oor die foon, deur Minette (ja, jy, Minette, wat ook by die see is), om na haar suster se paartie in Melville te gaan. Belowe, Minette, cross my heart, ek sal daar wees.

En ek WOU daar wees, selfs gebad en hare gewas en als, maar ek het bietjie te vroeg (baaaie te vroeg) begin whisky drink om my moed te gee vir my eerste paartie as enkelvrou in meer as vyftien jaar, so teen die tyd dat ek my moes grimeer, was ek so gesope dat ek my lipstiffie heeltemal skeef aamgesmeer het. Toe ek in die spieeeel kyk, weet nie waarom al die ekstra letters so aanmekaar inglip nie, toe lyk ek soos ’n hanswors met ’n te groot rooi smoel. Toe maak dit my so sad dat ek begin huil en toe smeer al my maskara af en toe lyk ek soos ’n kruis tussen ’n hanswors en daai muishonde met die swart strepe om die oë. Toe huil ek eers. As die paartie ’n fancy-dress was, kon ek gegaan het as The Weeeping Woman of Prague, dis ’n boek wat jy dalk ken (Marita? ag, wie de hel ook al), maar toe ek my enigste paartierok aantrek, kon ek die zip nie opgetrek kry nie want ek het te vet geword van al die verdriet.

Toe besluit ek te hel met die paartie en kom drink verder voor die TV. As my man my nou moet sien met my maskara op my wange en my lipstiffie op my ken en my enigste paartierok wat oopgaap agter, sal hy ’n hofbevel kry om die kinners van my weg te neem. Nee, hy sallie, want hy sallie weet wat om met hulle te maak as hy dag en nag vir hulle verantwooordelik moet wees nie. Kon hoeka hoor toe die seuns vroeg vanaand bel, dank die gode toe ek nog nugter was, dat dit nie meer vir hulle so fantasties by hulle pa is nie. Hulle was vies oor die een of anner iets wat hy nie vir hulle wou koop nie, ha, so val die bliksem in sy eie slaggat, en hy was vies oor hy en Nananas wou uitgaan, maar hulle kon nie ’n babysitter kry nie. Op oujaarsaand is dit altyd ’n plobreem, ek kon hulle gewaarsku het as hulle my gevra het, maar hulle het nie.

Intussen het my “bestekopname” (konsentrasie, Dlara) (fok, ek kan nie eens meer my eie naam spel nie) my nie laat beter voel oor my lewe of enigiets anners for that matter nie. Die beste oomblikke van die afgelope jaar? Daar moes tog goeie oomblikke gewees het voor ek gehoor het van my man se skelm naaiery maar ek kan niks onthou nie, alles het weggeraak in ’n waas van wanhoop. So sad. Hoe gaan daai song van Lou Reed nou weer? Toe dog ek as ek dan nie kan agtertoe kyk sonner om te huil nie, moet ek seker maar voorentoe kyk. En toe besluit ek om op te hou drank. Nee, nie ophou drank nie, drank saam met kos is een van die hoogtepunte van ons wetterse samelewing, maar drank saam met drank (en sigarette en selfbejamering) is gevaaarlik vir ’n vrou wat haar kinners alleen moet grootmaak. O dis so sad ek gaan nou dadelik nog ’n bietjie huil. So vir die eerste keer in jare het ek ’n nuwejaarsvoorname. Ek gaan ophou drink sonder kos. Ek belowe plegtig aan myself en wie ook al hierie brief lees dat ek nie meer in die middel van die nag en tussen maaltye sal drink nie. Nie whisky nie.

En om seker te maak dat ek moreogggend onthou wat ek nou belowe, gaan ek hierie brief ommiddellik print en teen die TV-skerm plak. Eks in elk geval nie meer lis om na al daai glimlaggende gevrete op die skerm te kyk nie. As hulle agter die brief weggesteek is, hoef ek net te luister tot ek Auld Lang Syne hoor voor ek uitpass. Sal ons ou kennisse ooit vergeet. Daars een ou kennis wat ek wens ek kan vergeet, wens in fact ek het haar nooit ontmoet nie, want sy vier vanaand oujaaarsaaand saam met my amper eksman en my darem nog huidige kinders. Hoewel ek hulle seker ook gaan verloor as ek nie sokkies en my rok se zip optrek nie.

Gelukkkige nuwe jaar van jou dronk en verdrietige vriendin

Clara

Dis koue kos, skat

Подняться наверх