Читать книгу Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5
Twee
ОглавлениеJerusalem
Woensdag 12 Julie 2006
Al geluid wat die stilte in die lugtige lokaal verbreek, is die gekras van houtskool oor papier. Die geur van dennebome voor die groot raam versmelt met dié van verf en boetseerklei. Daar is maar ses studente by die Woensdag se vroegoggendklas. Marc glimlag met die meisie wat hulle vanmôre as ’n model gebruik. Sy is baie jonk. Eintlik nog ’n tiener. Maar dis vir hom duidelik dat sy volkome op haar gemak is. Haar weerbarstige rooibruin krulhare is hoog agter haar kop vasgebind om haar delikate profiel bloot te lê. Sy dra ’n eenvoudige, vloeiende wit jurk wat elke kontoer van haar lenige jong liggaam blootstel. Sy gaap en strek haar hande bo haar kop uit voor sy weer haar posisie inneem.
Marc beweeg ongemerk na ’n plek waar hy ’n goeie uitsig op Yusuf by sy esel het. Yusuf is een van sy Arabiese studente en geweldig talentvol. Hulle het mekaar die vorige jaar ’n stuk beter leer ken toe Yusuf met hom kom gesels het oor die feit dat hy, wat uit ’n vroom Moslem-geslag kom, kort tevore die Christelike geloof aanvaar het.
Hy staan stil na die jong man se werk en kyk en voel hoe die haartjies op sy voorarm orent kom. Die werk is besonders goed. Met deernis merk hy hoe sterk sy eie invloed daarin sigbaar is. Deur Yusuf se oë kyk hy na die meisie op die stoel. Sien hy die ligte beweging van haar asemhaling teen die sagte materiaal van die jurk. Hy glimlag effens toe hy sien hoe die jong man se hand om die houtskool liggies bewe, hoe sweet teen sy hemp se rug uitslaan.
Moeiteloos en met ongelooflike helderheid vlieg sy gedagtes na tien jaar gelede, na toe hy nog in Suid-Afrika was. As gevolg van sy fenomenale talent het Simon, sy onderwyser by die kunsskool op Stellenbosch, hom by sy eie huis op Blaauwklippen net buite die dorp privaat onderrig gegee. Daar het hy ook Simon se vriend, die Joodse Baruch, ’n kunsdosent aan die plaaslike universiteit, leer ken. Tussen hom en Baruch het ’n vertrouensverhouding ontstaan en hy het voordat hy besef het dat hy self van Joodse afkoms is, baie van die Jode geleer. Toe Baruch kort daarna in ’n tragiese motorfietsongeluk dood is, het dit Marc aangespoor om Israel toe te gaan en met Baruch se suster kontak te maak. Op presies dieselfde tydstip het hy ontdek dat hy ’n Jood is en het sy besoek aan Israel ’n reis na sy eie wortels geword. Noudat hy ingedagte na Yusuf se werk staan en kyk, onthou hy helder hoe hy vir die eerste keer ’n naakmodel moes skilder.
Stellenbosch
Mei 1996
Die son breek helder deur toe hy sy fiets langs die houthuis op Blaauwklippen staanmaak. Dis skaars drie-uur. Hy is vroeg, want dis Vrydag, die skool kom twee-uur uit.
In die ateljee sit die meisie op die mat saam met Simon en Baruch en koffie drink, en hy wonder hoeveel hulle haar van hom vertel het. Sy kyk hom ’n paar oomblikke lank ondersoekend aan, maar toe glimlag sy ontspanne en druk haar vingers deur haar kort blonde hare. Sy het ’n sakkerige bruin hemp aan wat tot oor die knieë van haar jeans hang. Dis vir hom moeilik om na haar kaal voete te kyk en na haar ekspressiewe skraal hande. Ná ’n rukkie voel hy die klam sweet onder sy arms.
In die een hoek van die ateljee, langs die groot venster, is ’n groen skerm wat hy nog nie tevore opgemerk het nie. Baruch gee ’n beker koffie aan en lê ongemerk sy hand ’n paar oomblikke op sy skouer. Met die roer voel hy dat daar heelwat meer suiker in is as wat hy normaalweg drink. Baruch glimlag onderlangs vir hom toe hy opkyk, maar sê niks.
“Ons moet aan die gang kom, mense, die son daal nou-nou op ons neer.” Toe Simon praat, staan die meisie op en strek haar soos ’n kat uit wat geslaap het. Dan verdwyn sy agter die groen skerm.
“Marc,” Simon neem hom aan die arm, “ek wil hê jy moet vandag net lyntekeninge met houtskool maak. Oor en oor totdat jy die gevoel kry van waarmee jy werk.”
Hy wil nie sy kop draai om te sien waar Baruch is nie, maar hy kan hom agter in die ateljee hoor beweeg. Dit troos hom. Hy vat die houtskool so styf vas dat dit tussen sy vingers breek.
Die meisie kom agter die skerm uit en gaan op die houtkombuisstoel sit. Sy is naak. Sy strek haar bene effens en leun met haar arms oor die leuning van die stoel, haar kop agteroor. Die son val skuins oor haar gesig en haar gepunte borste. Die tepels is lig-ligbruin. Hy sien die lig oor haar spoel. Dis asof haar vel gloei. Hy sien die skoon lyn van haar buik en haar heupe deurloop tot by die brug van haar voet. Hy sien die ligte polsing van haar keel. Sy sit baie stil, gebaai in die sonlig wat deur die venster oor haar stroom.
Hy ontwyk haar helder oë wat reguit na hom kyk. Hy lig sy hand om te begin teken, maar sy vingers het dom geword. Hy is bang hy laat die houtskool val. Sweet loop onder sy arms af en teen sy rug, en pêrel op sy voorkop.
Hy is bewus van Simon wat hom staan en dophou. En van Baruch agter in die ateljee. Toe begin hy teken. Versigtig. Die eerste lyne is hopeloos onwaardig. Hy sien dit onmiddellik. Sweet loop uit sy hare in sy oë en hy vee dit met die agterkant van sy hand weg. Maar algaande vloei sy vertroue terug. Sy hart hou op ruk in hom. Hy vergeet van die meisie wat saam met hulle op die mat koffie gedrink het.
Die skoonheid van lyn, van lig en skadu, van ronding en tekstuur, van komposisie, verbyster hom.
’n Groot, geluidlose roep gaan van hom af uit tot God, die Skepper.
Hy vee oor sy gesig en weet nie van die houtskool wat hy daarmee afsmeer nie.
Die eerste tekening is swak. Hy haal dit van die esel af sonder om na Simon te kyk en sit ’n skoon vel op.
Hierdie keer is sy vingers sekerder en die lyne vaster. Maar ook dié een frommel hy op. Dis eers met die derde poging dat hy diep asemhaal, gemakliker kan staan en wéét dit wat hy neerpen, is wat hy sien.
Hy kom nie agter Simon het die twee velle versigtig oopgevou, glad gestryk en op die tafel langs hom neergesit nie.
Die meisie draai haar effens meer na die son toe, trek haar bene op en slaan haar arms daarom. Haar gesig raak stralend. Dit laat hom aan Rembrandt dink. Hy kom skaars agter dat Simon haar steeds van posisie laat verander. Hy teken sonder om een maal moeg te word. Hy vergeet van tyd. Van Simon en Baruch. Van die model.
Kort ná vyf laat Simon haar aantrek. Dit het skielik kouer geword.
Hy sluit sy oë, meteens doodmoeg. Langs sy esel lê die middag se sketse opmekaar gestapel. Hy en Simon kyk sonder om te praat daarna. Later kom Baruch ook by hulle staan. Die meisie het in die kombuis verdwyn, hulle hoor haar daar met koppies kletter.
Simon sit die eerste en die laaste tekeninge naas mekaar op die werktafel neer. Hulle kyk daarna. Die verskil is geweldig.
“Sien?” vra Simon stil.
Hy knik, want hy verstaan.
“Wil jy koffie drink?”
“Nee dankie,” sê hy vinnig toe hy die meisie uit die kombuis sien kom, “ek moet ry.”
Baruch kom saam met hom buitentoe.
“Sy sal Dinsdag weer kom,” sê hy.
Hy knik.
Baruch grinnik effens. “Daar’s houtskool aan jou gesig.” Hy vee dit met sy duim af en Marc bly hom stilswyend aankyk. Hy voel gedreineer.
Toe klim hy op sy fiets en ry huis toe. Rondom hom verkleur die hemele sodat die populiere wasig-koper teen die aandlug word. Maar hy sien dit nie. Hy hoor nie die swerm voëltjies wat laag oor sy kop verbyvlieg nie. Hy dink hoe die lig op die meisie se vel gegloei het. Hy sluk …
Marc stap tot by Yusuf. Toe hy aan sy arm raak, skrik hy en kyk op. “Kan jy ’n oomblik agterbly ná die klas?”
“Seker, Meneer.”
Toe die ander studente oppak en die lokaal die een ná die ander verlaat, kom Yusuf by hom staan waar hy die dag se werk in ’n kas toesluit.
“Jou werk is goed, Yusuf, baie goed.”
Yusuf bloos van plesier. “Dankie, Meneer, komende van u is dit ’n geweldige kompliment.”
Gedurende die afgelope akademiese jaar het hy Yusuf beter leer ken as van die ander studente, maar hy kon die jong man nie oortuig om hom buite klasverband op sy naam te noem nie. In sy kultuur, het Yusuf telkens gesê, is daar nog respek vir ’n meerdere.
“Ek sien ook dat jy meer op jou gemak raak met lewende modelle …”
Yusuf se gesig raak opnuut warm. “Vandag was nou ook nie so maklik nie. Chava kon byna net sowel nie klere aangehad het nie.”
“Ja, ek het ook gedink ek moet die jong dame ’n bietjie daaroor aanspreek.”
“Ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Ek waardeer dit dat Meneer weier om met naakmodelle te werk. Ek neem aan Meneer kry seker heelwat kritiek hieroor? Daar moet sekerlik ’n prys aan verbonde wees.”
Marc knik. “So is dit. Maar laat ek terugkom na die punt; jy het werklik talent, Yusuf.”
“Ek het die afgelope jaar soveel geleer. Ek kan die Here nie genoeg dank dat ek in u klas beland het nie.”
“Waar jy ook al uitgekom het, jou talent sou tog te voorskyn gekom het.”
“Nee, ek glo nie so nie. In u eie werk kan ek die lig van die Almagtige herken, ek het van daardie lig oorgeneem.”
“Dit is nie van my wat jy dit oorgeneem het nie, dis omdat jy Hom self ken.” Marc kyk hom ’n oomblik stil aan voordat hy vra: “Hoe gaan dit by die huis?”
In ’n gesprek wat hulle vroeër in die jaar gehad het, het Yusuf hom vertel dat hy hom tot die Christendom bekeer het terwyl die res van sy familie steeds stoere Moslems is.
Yusuf gee ’n droewe laggie. “Nie aldag maklik nie. My ouers is gelukkig nie fanaties gelowig nie. My pa is ’n dokter en my ma ’n onderwyseres. Hulle het ons grootgemaak volgens die goeie riglyne wat daar in Islam is. Jy weet, soos om jou geloof te bely, gereeld te bid, te vas, barmhartigheid teenoor medegelowiges te betoon en so aan. Toe ek die ware God in Jesus Christus leer ken het, het die manier van lewe waarmee ek grootgeword het, my baie gehelp.”
“Dit kon nogtans nie maklik gewees het nie,” sê Marc, denkende aan die omstandighede toe hy en Rivkah haar ouers moes vertel dat hulle Yeshua as die Joodse Messias leer ken het.
Yusuf is ’n rukkie stil, skud dan sy kop. “Nee …” sê hy, “dis mos nie maklik om jou ouers seer te maak nie. Ek probeer nou maar so min moontlik daaroor te praat. Net stil my pad loop.”
“Islam aanvaar Jesus ook as ’n profeet, is dit nie?”
“Ja, hulle sien Hom as ’n profeet. Soos hulle Noag of Abraham of Mohammed sien. Hulle glo ook dat Maria sy ma was. Om te glo dat Jesus God is, soos die Christene en julle Messiaanse Jode glo, sal die onvergeeflike sonde wees, want daarmee sê julle dat Allah nie die enigste God is nie. Ook om Jesus die Seun van God te noem is ’n geweldige sonde vir Moslems – om die koepel van die Omar-moskee staan immers geskrywe: God het geen seun nie.”
“Dit verbaas my altyd in hoe ’n mate die ultra-Ortodokse Jode en die Moslems se siening oor party van hierdie dinge met mekaar ooreenstem.”
“Halfbroers. Al wil die meeste van ons aan albei kante dit nie weet nie.”
“Maar dit moet vir jou moeilik wees.”
“Baie moeilik. So, nou praat ons maar nie oor geloofsake nie. Ek het respek vir hul heilige dae en ek daag nie hul manier van doen uit nie, hulle is my ouers.”
“En jou ander familie?”
“Wel … ek is ’n enigste kind en gelukkig bly ons in Oos-Jerusalem, waar mense nie so fanaties is soos in Nablus of Ramallah of Hebron en daai plekke nie. Die familie maak maar asof hulle dit nie weet nie. En natuurlik maak die feit dat ek ’n kunstenaar is dat hulle maar net hul koppe skud en anderpad kyk. Daar is ander dinge wat vir my moeiliker is as die familie se reaksie.”
“Soos?”
“Soos jihad …”
“Heilige oorlog,” sug Marc. “Ek kan glo dat dit nie ’n maklike onderwerp in jul huis moet wees nie.”
“My ouers het ook ’n yslike probleem daarmee. Ek weet. Aan die een kant roep die Koran die gelowiges op om op Allah se manier te veg teen dié wat teen hulle veg. En dit terwyl daar gesê word die Koran verbied geweld. Maar dan weer sê dieselfde Koran dat dié wat ontken dat Allah die enigste god is, doodgemaak moet word. Dis nou die ‘Saterdag-mense’ – Jode – en die ‘Sondag-mense’ – Christene – as hulle nie bereid is om hulle aan Islam te onderwerp nie. Hierdie gruwelike dinge wat die terroriste aanvang, die selfmoordbomdraers byvoorbeeld, is ’n verskriklike verleentheid vir my vroom ouers. Dit veroorsaak spanning tussen ons, selfs al praat nie een van ons daaroor nie.”
“Wat is hul houding teenoor die Staat van Israel?”
Yusuf skud sy kop. “Ag, dis natuurlik ook iets wat baie spannning veroorsaak. Ek weet vir seker dat hulle niks anders wil wees as die Israeli-burgers wat hulle is nie, maar tog ontken hulle dat Israel reg het op wat hulle Palestina noem.”
“En Jerusalem?”
Yusuf fluit saggies deur sy tande. “Dís nou ’n teer puntjie. Hulle sê God het die verbond met Ismael gemaak – die seun wat Abraham by Hagar gehad het?” Hy kyk na Marc, wat knik. “Nié met Isak nie, nè? Vra jy ’n Moslem vir wie Abraham hier op die Tempelberg in Jerusalem vir Allah wou offer, sal hy vir jou sê Ismael. Dus, die land is die Palestyne s’n – nié die Jode s’n nie.”
“Maar Jode het tog van alle tye af in Palestina gewoon. Ek bedoel, hier was altyd Joodse teenwoordigheid. Dit moet hulle tog erken.”
“Hulle voel die Sioniste is indringers. Die land moet van hulle weggeneem word, met jihad weggeneem word, en aan die regmatige eienaars teruggegee word. Dis vir hulle ’n heilige oortuiging, Meneer.” Hy kyk Marc ’n rukkie stil aan voordat hy sê: “Ek het self dikwels probleme met Israel se besetting van die Wesoewer en met die IDF se gewelddadige optrede.”
Baie antwoorde kom by Marc op, maar hy keer hulle en sê: “Ek glo jy het, Yusuf.”
“Weet Meneer wat die naam Hisbollah beteken?”
Marc skud sy kop. “Het dit nie met Allah te doen nie?”
“Dit beteken letterlik ‘God se leër’. Fanatiese jongmense is bereid om hulself daarvoor op te blaas en dosyne Israeli’s met hulle saam te neem. Nee, ek weet my ouers sal nie onder ’n ekstremistiese Islam-regering wil leef nie. Ek weet hul burgerskap in ’n demokratiese Israel is vir hulle baie werd.”
“Sal hulle dit voor ander Moslems sê?”
Yusuf skud sy kop. “Nee. Teen die agtergrond van Israel se besetting is dit onmoontlik vir hulle om so iets vir mede-Arabiere te sê.”
Marc sug. “Is daar hoop vir ons, Yusuf?”
Die jong man kyk hom reguit in die oë. “Nee, Meneer, nie op menslike vlak nie.”
Op pad na die personeelkamer ’n paar minute later, piep Marc se selfoon net toe hy dit aanskakel. Dis ’n boodskap van Rivkah wat sy al meer as ’n uur tevore gestuur het: Hisbollah massiewe katyusha-aanval Galil. Blykbaar 2 reserviste ook ontvoer.
In die personeelkamer is die nuus ook al bekend. Groepies personeellede is in intense gesprekke gewikkel. Hy sluit hom by twee kollegas aan.
“Net ná nege gebeur,” vertel Avner. “Blykbaar was daar ’n geweldige katyusha-missielaanval in die weste van Galil.”
“Hisbollah?”
“Ja, maar dit lyk nou of dit ’n beplande offensief was om die aandag af te lei van wat regtig aan die gang was. Twee IDF-voertuie wat die Libanese grens aan ons kant gepatrolleer het, is in ’n lokval gelei. Twee soldate, reserviste, is ontvoer en ’n hele paar ander beseer. Ons weet nog nie hoeveel of hoe ernstig nie.”
Marc fluit saggies. “Dan kom hier mos nou groot moeilikheid.”
“Vir seker. Dit reën blykbaar katyushas oor die kibboetse en moshavot in die noorde. Maar ons het nou net gehoor dat IDF-stralers ’n brug in die suide van Libanon opgeblaas het.”
“Dis natuurlik in ’n poging om die terroriste te probeer keer om dieper in Libanon in te vlug met die soldate wat hulle ontvoer het,” sê Miryam, wat by hulle kom staan het. Sy het pas haar jaarlikse maand lange verpligte reserwediens in die weermag agter die rug. “Jy kan seker wees dat ons artillerie al die Hisbollah-stellings langs die grens hel gee.”
“Dink jy Hisbollah kry wapens uit Iran?”
“Ag, jy weet dit mos! En dit vloei sonder moeite deur Sirië Libanon toe. Albei daai lande voorsien Hisbollah van strategiese advies en alle ander steun wat hulle nodig mag hê,” sê Avner vies.
Miryam knik. “Dis dieselfde met Hamas. Hul hoofkwartier is in Damaskus. Hulle kry ook militêre hulp uit Iran en smokkel dit deur Egipte in.”
“Julle reken dus ons gaan dalk aan twee fronte veg: die Libanese grens én in Gasa?” Marc kyk na Avner.
“Wel, waarskynlik. Kyk, Gilad Shalit is nes vandag se twee soldate binne internasionaal erkende Israelse grense langs die Gasastrook ontvoer. Dit het die IDF Gasa weer laat binnegaan.”
“Ja, maar nie nét as gevolg van die ontvoering nie. Hulle het ook ingegaan om die installasies te vernietig wat kassam-vuurpyle lanseer, en Hamas-terroriste en hul aanvoerders by te kom. Die IDF is dus klaar besig daar,” sê Miryam.
“Ek verstaan Hisbollah het minstens 13 000 langafstandvuurpyle op die Libanese grens.”
“Presies,” val Miryam hom in die rede. “Hulle kan Haifa, Tiberias en Hadera met redelike noukeurigheid haal. Ek reken die IDF gaan hulle eerste buite werking probeer stel.”
“En Libanon? Sekerlik sal ons nie hierdie ontvoerings net laat verbygaan nie?”
“Wel, ek reken Libanon gaan ’n hengse prys betaal oor hy nie Hisbollah op sy eie grondgebied kan beheer nie en toegelaat het dat hulle dit gebruik om Israel aan te val. Veral nie nadat ons ses jaar gelede na die internasionaal erkende grense teruggetrek het nie,” sê Avner. “Dit kan beteken dat Libanese infrastruktuur soos kragsentrales en so aan gebombardeer sal word.”
“En dis ook baie, baie moontlik dat Sirië se steun aan Hisbollah en Hamas sal beteken dat die IDF Sirië, en spesifiek Damaskus, gaan aanval.”
“Dit beteken volskaalse oorlog.” Avner klink somber.
“Môre is die 17de van Tammuz,” sê Marc sag.
Die ander twee knik bekommerd.
“Onlangs het Mahmoed Ahmadinejad van Iran gesê die bestaan van ’n Sioniste-regime, soos hy ons noem, is die basiese probleem in die Islamitiese wêreld. Daar moet gemobiliseer word om hierdie probleem te verwyder. Volgens hom is daar vandag ’n sterk wil om die Joodse staat te elimineer en ’n wettige Palestynse regime oor die hele Palestina te vestig, soos hy dit noem. Hy meen ons bestaan is die grootste bedreiging in die streek,” sê Avner ná ’n rukkie.
“Daardie man gaan ’n tweede Holocaust inlei,” ril Miryam. “Ek verstaan hy sê Allah praat direk met hom.”
Dis stil tot Marc weer praat. “Wat Ahmadinejad sê, is een ding, maar HaShem, die Ewige van Israel, het gesê: ‘My Naam sal vir ewig in Yerushalayim wees.’”
Sy twee sekulêre kollegas kyk hom stil aan.
“Mag dit waar wees,” sê Miryam gedemp.
Donderdag 13 Julie 2006
Die dag breek somber en bewolk, vreemd vir Jerusalem in Julie. Dis asof die grys wolke, wat in ’n roukleed oor die stad hang, ook onthou dat dit die 17de van Tammuz is. Dis die dag in 566 v.C. toe Nebukadnesar se leërmag wat die stad omsingel het deur die mure van Jerusalem gebreek het. Drie weke later, op Tisha B’Av, is die tempel vernietig. Die drie weke tussen die 17de van Tammuz en die 9de van Av is tradisioneel ’n swaarmoedige tyd waarin Jode oral diep bewus raak van wat hulle verloor het en hoe hul reg op bestaan gedurig bedreig word.
Maar dié dag het ’n ekstra somber betekenis. Dit het intussen bekend geword dat agt jong soldate die vorige dag in die aanval op die Hummer-patrollie langs die Libanese grens gesterf het. Hul begrafnisse het reeds begin. Die drie ontvoerdes word steeds vermis en is in die hande van Hisbollah- en Hamas-terroriste. Die ganse noorde van die land word voortdurend deur vuurpylaanvalle geteister. Inwoners van plekke soos Nahariya, Safed en selfs so ver suid soos Rosh Pina bevind hulle vir die eerste keer weer in bomskuilings sedert Israel ses jaar gelede uit Libanon onttrek het.
In reaksie op die aanval wat hulle nie uitgelok het nie, het Israel ’n massiewe militêre veldtog op see, land en in die lug geloods. Hul mikpunte is die vrylating van die ontvoerde soldate, om die lanseerplekke van die katyusha-rakette te verwoes en sodoende Israeli’s wat in die noorde woon weer veilig te laat voel. Vir die meeste mense word dit ook duideliker dat die Hisbollah-aanval en ontvoering van die twee soldate opsetlike uitlokking tot vyandelikhede was.
Nadat hy by die universiteit klaar is, haal Marc ’n bus na Oos-Talpiot om sy ouma te gaan gelukwens met haar 80ste verjaardag. Vanjaar val dit op die vasdag van die 17de van Tammuz en sy het gevra dat dit asseblief nie gevier moet word nie. Nie voor die tyd óf daarna nie. En noudat die oorlogswolke donker in die lug hang, is daar by haar duidelik nie sprake van nie.
Ruwth is teleurgesteld dat Rivkah en klein Yhoshi nie saamgekom het nie. Sy is gek na die baba, haar eerste agterkleinkind. Maar hulle het die vorige nag bitter min geslaap met Yhoshi wat van oorpyn gehuil het en vanmôre nog koorsig was, en hulle het besluit Marc moet maar alleen gaan.
Ofer, Ruwth se seun, en sy vrou, Shoshana, is ook daar. Die somberheid van die dag en die dreiging van ’n uitgerekte oorlog hang oor hulle. Dis veral vir húlle erg traumaties aangesien Bibi, hul jongste, wat op negentien pas die eerste van die drie jaar van sy diensplig voltooi het, sonder twyfel opgeroep sal word. Hulle het ook ’n oproep van David gehad om te sê dat hy opgeroep is. Hy het pas ’n opleidingskursus as helikoptervlieënier iewers in die suide voltooi. As reservis is hy normaalweg in ’n noordelike eenheid en sy ouers het nie die minste twyfel dat hy hom binnekort in Libanon sal bevind nie.
Marc neem nie veel aan die gesprek deel nie. Ofer, wat die halfbroer is van sy ma, Mara, het hom met sy eerste koms Israel toe in 2002 soos ’n eie seun ontvang en was vir hom van onskatbare steun. Veral omdat hy as enigste kind grootgeword het sonder enige ooms en tantes of neefs en niggies. In daardie tyd, en nou steeds, het David, die oudste van Ofer en Shoshana se twee seuns, vir hom soos die broer geword wat hy nooit gehad het nie. Omdat hulle nie ’n volle twee jaar in ouderdom verskil nie, het hulle heelwat dinge saam gedoen.
Veral toe Marc met sy basiese opleiding in die IDF besig was, was David ’n ware ouer broer vir hom. Hy het hom nooit laat voel dat hy so kunstenaarverfynd was dat hy nie ook ’n goeie soldaat kon wees nie. Maar hy het ook nie gemaak asof hy nie weet hoe swaar dit vir Marc is om opleiding te ondergaan waarmee hy nog nooit op enige manier te doen gehad het nie.
Hy dink nou aan die keer toe hulle met ’n besonder strawwe oefening besig was. Onder skerp geskut moes hulle “gewonde” makkers uit ’n “vyandelike” gebied gaan haal, letterlik ’n ander swaar manskap onder vyandelike vuur oor die skouer na veiligheid dra. Tragies is daar dié dag een van hulle, waar Marc by was, noodlottig gewond.
Dié aand het David, wat in daardie stadium by ’n regspraktyk in Jerusalem gewerk en die nuus gehoor het, al die pad na Marc se basis iewers in Galilea gekom om hom by te staan. Marc was buite weste getraumatiseer en het nie geweet waar om met sy ellende heen te vlug nie. Sy Hebreeus was nog nie goed genoeg om selfs ’n betekenisvolle gesprek met iemand te voer nie. Hy het eenvoudig in die kaserne op sy bed gaan lê met sy arms oor sy kop. En meteens was David daar. Hy het niks gesê nie. Nie ’n woord nie. Maar hy het by hom gesit met sy hand op sy skouer totdat Marc weer beheer oor sy emosies gekry het. Toe het David die bier uitgehaal wat hy saamgebring het en hulle het dit gedrink. Dié dag het Marc hom soos ’n broer liefgekry.
Ruwth skud haar kop. “Sal ons nooit vrede hier hê nie?”
“Ek glo ons is in die moeilikste situasie sedert die Yom Kippur-oorlog van ’73.” Ofer sug. “En daarmee saam het ons ’n regering wat bitter min ervaring het en geneig is tot arrogansie. Amir Peretz weet regtig niks van oorlog af nie,” sug Ofer. “En Dan Halutz is so groen in sy pos as kan kom.”
Ruwth kyk bekommerd na haar seun. “Ek dink dis rampspoedig om ’n minister van verdediging soos Amir Peretz te hê wat niks van oorlog af weet nie. En Dan Halutz, wat van die lugmag af kom, as stafhoof van die IDF.”
Ofer knik. “Ek hoop nie sy plan is om alles in Libanon onder bomme te steek nie. Ons het die infanterie nodig om in te gaan. Die Vader weet, ons het nou die ervaring van Shaul Mofaz, ons ou man van verdediging, broodnodig – én Bogie Ya’alon, wat die IDF so uitstekend hanteer het.”
“Ja, en Bogie is mos sommer op vervroegde pensioen gesit oor hy nie ten gunste van die onttrekking uit Gasa was nie,” sê Ruwth verontwaardig. “En dit ten spyte van die feit dat hy Israel se beste taktikus in die terreuroorlog van 2000 tot 2005 was.”
Ofer knik. “In die toesprake wat hy gehou het nadat hy gedwing is om af te tree, kon ’n mens duidelik sien hoe goed hy die bedreiging begryp waarmee Israel te doen het. Iets wat ek eerlik nie van die Olmert-regering kan sê nie.”
Toe daar ’n stilte kom, vra Marc so gelykmatig moontlik: “Yhoshi was gisteraand en vannag so siekerig dat ons nie by televisiekyk uitgekom het nie. Het hulle al iets van die ontvoerdes gehoor … en wat van die beseerdes?”
Ofer en Shoshana kyk na mekaar.
“Is dit die laaste nuus wat jy gehoor het?” vra Ofer.
Marc se maagspiere trek saam. “Wat dan nog?”
“Daar is agt soldate in die aanval dood.”
“O, nee!”
Sy oom knik. “Hulle het nou ook die name bekendgemaak van die twee wat ontvoer is. Eldad Regev en Ehud Goldwasser. David het ons vanoggend gebel om te sê hy is opgeroep en om van Ehud te vertel. Hulle het mekaar verlede jaar redelik goed leer ken toe hulle in die Galil saam reserwediens gedoen het. Sal jou interesseer om te weet dat sy ouers in Suid-Afrika woon.”
“O so?”
“Dis reg, ja. Hy is maar een en dertig, getroud met ’n baie oulike vrou wat ons ook al ontmoet het. Ek het haar naam vergeet …” Hy kyk hulpsoekend na sy vrou.
“Karnit,” sê sy sag.
“Ja, Karnit. Pragtige meisiekind. Udi, soos hulle hom noem, is omgewingsingenieurswese aan ’t swot aan die technikon in Haifa. Baie begaafde ou, sanger, fotograaf. Ek weet hy het die hele Australië op ’n motorfiets platgery.”
“Wat vir my so hartseer is, is dat David sê gister was Ehud se laaste dag van reserwediens, die laaste patrollie,” sê Shoshana. “Dit was ’n gewone roetine-patrollie, twee Hummer-jeeps met vyf soldate elk. Op ’n burgerlike pad, binne ons landsgrense. Hisbollah het letterlik elke internasionale wet oortree, maar daar kraai nie ’n haan na nie.”
“Ek neem aan daar’s ook geen nuus oor Shalit nie?”
Ofer skud sy kop. “Hamas dring aan op ’n uitruiling van gevangenes – honderde Palestyne in Israelse tronke vir Gilad Shalit.”
“En dit sal Israel nie maklik doen nie.”
“Nee. Dit bring ons weer by die ou, ou dilemma. Anders as by die vyand, is menselewens vir Israel soveel werd dat byna enige prys betaal sal word om één soldaat te red. Maar in die verlede het die vrylating van Arabiese gevangenes ’n vloedgolf van terreur losgelaat wat die lewens van baie meer Israeli’s gekos het as die soldate wat bevry is. Dié keer is die situasie nog ernstiger, want Hamas beheer die Palestynse owerheid. Enige vrylating van gevangenes sal Hamas se hand net sterk en die boodskap uitstuur dat terreur betaal.”
“Verskriklik as dit jóú kind se lewe is wat op die spel is,” fluister Shoshana.
“Tien maande nadat ons laaste soldaat Gasa verlaat het, nadat ons daardie een en twintig pragtige nedersettings vernietig het, is die leër terug daar,” sê Marc. “Presies wat Sharon se kritici gesê het sal gebeur.”
“Ek hoor hierdie militêre operasie in Gasa heet ‘Summer Rain’.” Ruwth skud haar kop meewarig. “Vir my sal dit die trane wees van die 8 000 Tora-onderhoudende pioniers wat verlede somer daar gestort is toe dieselfde soldate hulle uit hul huise weggeskeur het.”
Hulle gesels nog ’n rukkie, maar dan moet hulle gaan. Ofer bied aan om Marc huis toe te neem en hierdie keer neem hy die aanbod geredelik aan. Hy het ’n dringende verlange na sy vrou en kind.
Maar eers wil Ofer vir sy seuns en al die ander jong gelowige soldate bid.
Hulle staan in ’n nou sirkeltjie en hou mekaar se hande vas. “Ons Vader in die hemel, mag hulle U werklik ken in hierdie dae en u stem duidelik hoor. As U met hulle praat, mag hulle weet dis U wat praat en hoor wat U sê hulle moet doen. Here van die leërskare, Bewaker van Israel, wees U hul Beskermer wat liggaam, siel en gees betref. Laat hulle tog van u teenwoordigheid bewus wees en beskerm die eenhede waarin hulle en ander gelowiges dien. Vir die hele IDF, Ewige van Israel, sprei u tallit oor hulle en bewaar hulle. In die naam van Yeshua vra ons dit, Adonai.”
Rivkah het donker kringe onder haar oë en Yhoshi is steeds huilerig toe Marc by die huis kom.
“Hy het vandag nog niks geslaap nie. Ek dink hy mis jou,” sê sy.
Marc neem die baba by sy vrou. Toe die kleintjie sy natgeswete koppie in die holte van sy nek en skouer lê en die laaste snikke geleidelik bedaar, ril hy onwillekeurig. Hy voel die kind se traannat gesiggie teen sy nek. Toe hy na Rivkah kyk, sien hy ook in haar oë dit wat hy nie in woorde kan omsit nie. Hy steek sy hand na haar uit en haar vingers krul om syne.
“Hy’s nie meer koorsig nie.”
“Nee, gelukkig nie. Ek het stroop by die apteker gekry.”
“Jy moet in die bed kom. Ek sal hom aan die slaap maak.”
Sy knik. “Ek maak net gou vir ons iets ligs om te eet.”
Hy dink daaraan dat sy ook vandag niks geëet het nie en heeldag alleen by die siek kleintjie was. Hy slaan sy arm om haar en hou haar saam met die kind styf vas.
“HaShem,” pleit hy in sy hart en laat sak sy gesig in haar hare, “laat hierdie verskriklike woede wat nou losgebreek het, ons asseblief nie ook uitmekaar ruk nie. Bewaar hulle wat ek liewer as my eie lewe het, asseblief.”
“Jy’t gehoor van die agt soldate van gister?” vra sy gedemp.
Hy knik.
“Verskriklik.”
Hy sus Yhoshi teen sy skouer en praat kalmerend met hom. Die kind raak byna onmiddellik aan die slaap, sy een handjie styf om Marc se hemp geklem. Marc maak die vingertjies versigtig los en lê hom neer. Hy trek die raam bokant sy bedjie toe. Die lug is koeler as die vorige aande. Dit was die hele dag bewolk.
Rivkah het die tafel voor die venster gedek. Marc glimlag toe hy sien sy’t kerse aangesteek, al is dit nog lig buite.
“Het ons iets om te vier?” vra hy.
“Miskien.” Sy bloos effens.
Sy bring vir hulle elkeen ’n bord van die ligte visgereg wat sy gemaak het en hy vra nie verder uit nie. Hulle eet dit saam met ’n groot bak heerlike somerslaai en vrugte. Hy vertel haar van die gesprek in Ruwth se woonstel.
“Ses jaar nadat ons uit Libanon weggehardloop het en elf maande nadat ons die setlaars uit Gasa geruk het, is ons nou terug op albei plekke. Rakette val voortdurend in die noorde en in die suidweste.”
Rivkah haal haar skouers in ’n siniese gebaar op. “En hoe ’t ons op dié jammerlike plek beland? Toe ons eensydig uit Suid-Libanon onttrek het, het ons Hisbollah ’n oorwinning gegee wat hulle nie verdien het nie. En dít het Hamas en die ander Palestynse terreurorganisasies aangemoedig om te glo dat hulle ons ook uit Gasa sou kon verjaag. En for that matter ook uit Israel self. Toe ons verlede jaar uit Gasa padgegee het, het ons bewys dat hulle nie verkeerd is nie.”
Marc knik. “Ja, so is dit. Nadat die IDF uit Libanon weg is, het hulle gedreig dat Hisbollah met die volle mag van die IDF te doen sal kry as hulle enige aanval loods, maar ons het nie veel gedoen omtrent die voortdurende katyusha-aanvalle in die noorde nie.”
“Minimaal. Ek dink die terroriste het lankal agtergekom hoe hol daardie dreigement is, veral onder die Olmert-regering. Ons soldate word in lokvalle gelei, doodgemaak en ontvoer. Maar ek glo die gort is nou gaar.”
Toe alles ná ete opgeruim is, skop hulle hul skoene uit en sak behaaglik in die twee groot stoele voor die venster neer. Sy kyk na hom oor die klein ruimte wat hulle skei. Haar oë is baie donker en haar vel gloei in die laaste lig wat deur die venster oor haar val.
“Ek dink ek is swanger,” sê sy.
Hy maak rasendsnel berekenings in sy kop en trek toe sy asem skerp in. “Natuurlik.”
“Ek het gehoop oor ek Yhoshi nog voed … maar nou is ek ’n week …”
“En jy is altyd …”
Sy knik. “Presies op die dag.”
Hy haal diep asem. Hulle kyk mekaar ’n paar oomblikke stil aan. Toe staan hy op, gaan na haar toe en berg sy kop in haar skoot. Sy trek haar vingers deur sy digte krulhare.
Toe hy eindelik sy gesig oplig, is haar oë nat. “Ek het dit nie verwag nie.”
“Ek ook nie. Met die oorlog, ek …”
Hy neem haar gesig in sy hande. “HaShem maak nie foute nie.”
“Ek weet, maar …”
“Wat?” vra hy sag.
“Ek wil ook … my deel doen.”
Hy sak terug op sy hurke. “Ons het mos nou die aand oor jou deel gepraat.”
“Ek weet. Maar ek wou tog gaan help, op die een of ander manier.”
“Nou is dit uit jou hande uit, my lief.”
“Nie noodwendig nie,” sê sy.
Marc byt sy onderlip vas en wag totdat sy asemhaling rustig is voordat hy praat. “Ag, kom, ons weet nie eens vir seker nie.”
“Ek weet vir seker,” sê sy gedemp.
Hy staan op, trek haar uit die stoel op en hou haar styf vas totdat hy voel sy ontspan. Toe soen hy haar lank en hard.
“Ek het jou lief,” sê hy teen haar gesig.
“Marc …”
“Hmm?”
“Het jy daaraan gedink dat jy ook opgeroep sal word as daar regtig oorlog kom?”
“Ek het,” sê hy.
“Gou ook, jy het maar pas in Februarie reserwediens gedoen.”
“Ek weet.”
Haar arms sluit om sy rug. “Ek is bang,” sê sy.
Hy hou haar stywer vas en antwoord nie. Hy weet waarvan sy praat.
Erev Shabbat
14 Julie 2006
Rivkah het ’n vriend en buurman vir die Shabbat-maal oorgenooi. Sy vrou is op die oomblik by haar ouers in die VSA, want haar pa is ernstig siek. Simcha is ’n F-16-vlieënier in die lugmag en hulle vra hom uit oor die gebeure van die afgelope drie dae.
“Ek kom Woensdagoggend terug van ’n roetine-oefensessie en toe ek oor die aanloopbaan na die parkeerarea taxi, hoor ek oor die radio zanek! … spring! Ek kon nie dink wat aangaan nie, want toe ek beswaarlik ’n uur gelede weg is, was alles doodkalm op die basis. Maar toe ek uit die vliegtuig klim, hoor ek daardie ander swaar dreuning van vegvliegtuie wat met ’n vol vrag bomme opstyg. Dis ’n baie dieper dreuning as die ligter en vinniger opstyg van oefenvlugte. Toe sê ek vir myself: Hier’s probleme.”
Rivkah skep vir hom nog ’n paar snytjies van die gebraaide skaapboud in. Hy maak sy slaaibord ook weer vol.
“Ek hardloop toe sommer reguit eskader toe en daar blêrskree die luidsprekers: ‘Alle vlugbemanning na die opdraglokaal.’ Van die eskaderbevelvoerder kry ons toe net ’n kitsrapport: Twee soldate ontvoer, katyushas val in die noorde. Alle opleidingsvlugte opgeskort. Almal moet onmiddellik gereed maak, prosedure en aanvalstaktiek check.”
“Hoe laat was dit toe?” vra Marc terwyl Simcha met mening aan sy tweede porsie wegval.
“Net voor tien. Hulle was nog besig om ons te brief toe die majoor wat my formasieleier is daar instorm. In sy jeans nog. Hy het nie eens geweet wat aangaan nie, net gehoor hy moet dadelik kom. Hy kry opdrag en ons werk uit wat ons gaan doen. Daai majoor is baie gepla dat ons nie foute maak nie. Hy’t al gesien dat ’n fout die dood van onskuldige burgerlikes kan kos …” Hy neem ’n hap van die heerlike vleis.
“Hoe so?” vra Rivkah nuuskierig.
“ ’n Vriend van hom, ’n helikoptervlieënier, het eenkeer ’n letter in ’n naam verkeerd gelees. Dit het gemaak dat hy ’n verkeerde teiken aangeval en ’n hele Arabiese gesin uitgewis het. Hy was nie van plan om self so iets oor te kom nie.”
“Dit moet erg wees om te weet jou fout het onskuldige mense se dood veroorsaak.” Marc leun oor om Simcha se wynglas aan te vul.
“Ek dink nie mens kom ooit daaroor nie. Dié majoor het seker gemaak ons hoor hom. Toe blaas die sirene al en weg is ons.”
“Wat? Vlieg julle toe dadelik in die rigting van Libanon?”
“Reguit vir die Libanese kus. Van daardie hoogte af lyk alles ongelooflik klein, Israel in die suide, Sirië in die ooste. Ek moes myself knyp om te onthou waarmee ek besig was, dit het alles so verskriklik vinnig gebeur …”
Rivkah kyk na Marc en knipoog ongemerk. Dis duidelik dat Simcha weer alles beleef en ’n bietjie van hulle vergeet het.
“As daar twee bomme ’n paar sekondes uitmekaar van elke vlerk af val, skommel ’n vliegtuig geweldig. Ons vlieg so hoog dat dit moeilik is om uit te werk presies waar elkeen van jou bomme sal val, maar ek kan wel die ontploffings sien.”
Hy bly stil en neem ’n groot sluk van sy wyn.
“Wat gaan deur ’n mens se kop wanneer jy ná so ’n sending terugvlieg?” vra Rivkah.
Hy glimlag afwesig. “Wanneer daai geweldige skoot adrenalien uitgewerk is wat jy aan die begin kry, wonder ek altyd of ek regtig die slegte ouens bygekom het en nie dalk tog burgerlikes ook nie. Ons … het mos al gesien dat Hisbollah niks daarvan dink om burgerlikes as menslike skilde te gebruik nie.”
“Hoe lank duur so ’n missie nou?” vra Marc belangstellend.
“Ons was halfvyf weer terug by die basis.”
“Wat was jul teiken toe? Of hoor julle dit nie ná die tyd nie?” vra Rivkah.
“Nee, ons hoor. Ek was verlig dat dit ’n Hisbollah-buitepos was. Waarskynlik nie eens beman nie.”
“Ek vergeet nooit daardie verskriklike vergissing die laaste keer toe ons in Libanon was nie …”
“Jy bedoel by Kfar-Kana?”
Sy knik.
“Wat was dit nou weer?” vra Marc. Toe Rivkah half ergerlik na hom kyk, kom die ou gevoel van nie weet wat aangaan nie, nie regtig Israeli wees nie, weer mislik by hom op.
Maar Simcha skyn geen sulke gedagtes te hê nie, want hy antwoord hom gewoonweg. “Met een van ons laaste operasies in Libanon in 2000 het die artillerie per ongeluk ’n vlugtelingkamp gebombardeer. Meer as ’n honderd mense is dood. Dit het gelei tot internasionale druk wat die hele operasie tot stilstand gedwing het. Dié dat die fokus dié keer nie is hoeveel sukses ons met ’n missie het nie, maar eerder met hoeveel presisie ons die teiken tref. Om die teiken te tref is wat van jou verwag word, om te mis is onaanvaarbaar. Mens word nie gelukgewens wanneer jy ’n opdrag suksesvol uitgevoer het nie. Maar jy kan doodseker wees jou harsings sal waai as iets verkeerd gegaan het. Dis ’n baie, baie duidelike boodskap bo van die eskaderbevelvoerder af tot by die groenste vlieënier. Één fout kan ’n hele oorlog in gevaar stel.”
“Klink gesond,” sê Marc.
Simcha knik en drink sy glas met ’n laaste genotvolle slukkie leeg. “Dit maak bepaald die hele opset alles minder roekeloos en trigger-happy.”
“Maar jy was tog vanmôre ook uit?” vra Rivkah, wat die tafel afgedek het en voor elkeen ’n bordjie vrugte neersit.
Simcha begin ingedagte aan sy appel skil. “Ek is gisteraand al ingeroep en het sommer vannag op die basis geslaap. Edi is tog nie by die huis nie. Die nag was maar kort, want ek het laat eers daar aangekom en halfses was ek en die majoor al in die lug en ’n paar uur later was ons bokant Beiroet.”
“Hoe lyk dit daar?”
“Die skade is goed sigbaar. Ons kan die gate in die aanloopbaan sien. Daar’t ’n dik rookwolk oor die stad gehang, van die groot brandstoftenks het nog gebrand.”
Rivkah klik haar tong. “Ek’s jammer vir die arme mense van Beiroet. Dis soos premier Seniora van Libanon sê: Hulle is altyd die laaste om te hoor wat aangaan en die eerste om te boet.”
“Dis reg, ja. As mens terroriste huisves, moet jy sulke dinge verwag.”
“Het julle ’n teiken in Beiroet gehad?”
Simcha skud sy kop. “Nee. Ons is daarvandaan oos na die Bekaa-vallei toe. Dis mos naby die Siriese grens en ek het maar ’n versigtige oog op die waarskuwingstelsels gehou wat my moet sê as ’n missiel afgeskiet word. Ons verwag nie moeilikheid van Sirië se kant af nie, maar mens weet nooit. Ons het twee teikens gehad. Die een kon ons heeltemal verwoes, die tweede het ons ook getref, maar nie uitgewis nie. ’n Ander formasie het dit later gedoen.”
Toe hulle ná ete ontspanne in die woonkamer koffie drink en die Shabbat-stilte in die Ou Stad rondom hulle geniet, sug Simcha. “Dis moeilik om te glo dat ek vanmôre twee ton plofstof oor Libanon laat val het en hier sit ons rustig en koffie drink.”
“Dis Israel,” sê Rivkah gedemp.
Ná Havdalah bel ’n vriendin uit Hatzor HaGlilit in die noorde. Marc is besig om Yhoshi te bad. Toe sy klaar gepraat het, kom Rivkah op die kant van die bad sit om hom te vertel.
“Y’hudit sê die katyushas reën letterlik oor Safed en Rosh Pina. Hatzor HaGlilit is al twee keer getref. Sy sê dis ’n aaklige geluid wat die goed maak. Iets soos poom, poompoom, poom … poom en ’n geweldige slag wanneer dit die grond tref. Alles in die omgewing skud en beef. Sy sê toe die eerste een val, het mense in die strate uitgestorm, of dié wat in verdiepings bly, op hul balkonne. Hulle kon die rookwolke sien en die brand in die droë bos. Party mense het nog koffiebekers in die hand gehad. Party het ontsteld oor ’n selfoon gestaan en skree om vir familie of wie ook al te vertel wat aangaan. Dit was amper soos ’n karnaval. Mense het glad nie die gevaar besef nie.”
“Ek verstaan heelwat mense kom suide toe, na familie of vriende toe.”
Sy knik. “Dis reg. Maar sy sê toe die tweede katyusha dieselfde heuwel tref, was dit ’n ander storie. Mense het besef dis nie speletjies nie. Party het die bomskuilings wat hulle van 2000 af nie weer gebruik het nie en pakkamers van gemaak het, so vinnig hulle kon begin leegmaak. Sy sê sy en Yuri sit nou daar met ’n groot rugsak vol goed wat hulle reken hulle nodig sal hê as hulle ’n lang tyd in die bomskuiling moet bly. Hulle is nie seker wat hulle moet doen nie. Na haar ma-hulle in Tel Aviv toe gaan, of by die huis bly.”
“Klink nie goed nie.”
Marc het Yhoshi uit die bad getel en in ’n groot handdoek toegedraai. Die kleintjie gil verontwaardig. Rivkah neem hom by Marc en vryf sy ruggie behendig totdat hy tot bedaring kom. Hy kyk na sy pa met sy yslike bruin oë nog blink van trane. Oor sy krulkop kyk Rivkah na Marc.
“Dis oorlog,” sê sy.
Hy lees die ander onuitgesproke woorde in haar oë. En ek is swanger.
Stellenbosch
Saterdag 15 Julie 2006
Hierdie keer sit Hannes saam met Mara voor die televisie vasgenael. Hulle kyk na die onrusbarende oorlogstonele wat oor BBC op skotteltelevisie uitgesaai word. Die bomwerpers wat skreeuend oor Suid-Libanese stede skeer. Katyushas wat op Haifa reën. Bloedjong Israeli-soldate in olyfgroen uniforms, Hisbollah-milisie in gehawende T-hemde en jeans. Swaar Merkava-tenks wat soos enorme oerdiere deur feitlik onbegaanbare gebied ploeg. Swart rookwolke wat oor Beiroet hang.
Toe twee Israeli-soldate in beeld kom, elk met ’n tallit oor die skouer en hul M-16-gewere swaaiend teen die rug, fluister Mara skaars hoorbaar: “Dis Sabbat daar vandag.”
Hannes neem haar koue hand langs hom op die rusbank in syne. “Wat het Marc vanmôre gesê? Verwag hy om opgeroep te word?”
“Hy’t gesê hy dink nie so nie, maar ek glo niks meer wat hulle vir my sê nie. Kyk hoe lyk dit daar, hoe kan hy nié opgeroep word nie?”
Daar kom beeldmateriaal van ’n Merkava wat in vlamme staan.
“Hulle sê dan altyd dié goed is onvernietigbaar,” sê Mara.
Asof om haar vraag te beantwoord, verskyn ’n senior militêre offisier in beeld. “Hisbollah gebruik Russies vervaardigde Metis-M-tenkafweerprojektiele,” sê hy. “Hisbollah is nie ’n milisie nie, dit is ’n infanteriebrigade met al die ondersteuningseenhede van ’n moderne leër. Hulle het van die wêreld se mees gesofistikeerde tenkafweerprojektiele. Hierdie projektiele is aan Sirië en Iran verkoop, wat dit na Hisbollah deurgesmokkel het. Hierdie wapen het Israel se swaarbewapende Merkava-tenk, wat onder die beste ter wêreld tel, kwesbaar gemaak.”
“Marc is sover ek weet nie in ’n tenkbrigade nie.” Hannes kyk vraend na Mara.
Sy skud haar kop. “Hy’t vanmôre gesê infanterie.”
“Lyk nie of daardie nuwe minister van verdediging van hul voetsoldate gaan gebruik nie. Hy gooi net bomme.”
Mara antwoord hom nie en hulle kyk ’n rukkie in stilte na die ontstellende tonele van verwoesting voor hulle.
Skaars 24 uur nadat Hisbollah-terroriste Israel tot aggressie uitgelok het deur ’n oorgrensaanval waarin twee soldate ontvoer is en agt gesterf het, het die IDF met ’n volskaalse lugaanval op Libanon begin. Paaie, brûe, lug- en seehawes is bestook. Libanon lê aan skerwe. Die grootste deel van Suid-Libanon, waar dié terreurgroep hul hoofkwartier, skole en klinieke het, is tot ’n puinhoop gereduseer.
“Ek sou sê dis heeltemal buite verhouding,” sê Hannes.
“Wat?”
“Om vir die ontvoering van twee soldate ’n hele land te gaan bombardeer!”
“Luister,” sê Mara, wat onthou wat Marc hieroor gesê het, meteens kwaad, “as ’n mens van buite verhouding praat, moet jy daaraan dink dat die verlies van 10 Israeli-soldate gelykstaande is aan 500 Amerikaanse troepe. Hoe dink jy sal die VSA reageer as Mexiko ’n verrassingsaanval doen op van hul soldate wat die grens patrolleer en 500 sneuwel?”
Hannes kyk verbaas na sy vrou. “Ek het nie só daaroor gedink nie.”
“Dan moet jy nóú so begin dink!”
“Is jy nou vir my kwaad oor die oorlog?”
“Ek’s jammer,” sê sy gedemp, “ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ek weet.” Hy vryf haar hand. “Dis ook nie vir my lekker om dit te sien nie.” Hy druk die afstandbeheerder se knoppie en die beelde op die skerm verdwyn.
“Moenie!” sê sy vinnig. “Dis vir my beter om te weet wat aangaan.”
“Is jy seker?”
Sy knik. “Dit maak my hartseer en kwaad. Oor die lewens wat verwoes word – nie net oor mense doodgemaak word nie, maar ook dié wat vermink word, wat alles verloor wat hulle het. Hul ideale en drome wat daarmee heen is. Ek’s kwaad vir Israel se regering, wat nie ’n oorlog kan aanpak en klaarmaak soos die vorige ou strydrosse … soos Sharon dit in sy tyd gedoen het nie. En vir Libanon se regering, wat toelaat dat hul grondgebied vir terroristebedrywighede gebruik word. Ek’s kwaad vir Hisbollah, wat haat aanblaas en enige middel gebruik om hul doel te bereik. En … vir twee nasies wat albei uit dieselfde voorvader gebore is, maar nie met mekaar kan saamleef nie.”
“Jy’s welsprekend vanaand,” sê Hannes sag en streel haar hare.
Mara laat haar kop teen sy skouer sak. “En ek is kwaad oor my kind daar doodgemaak kan word,” fluister sy.
Hannes staan op en skakel die televisie beslis af. Hy kom weer langs haar sit. “Hoe lank is Marc en Rivkah nou getroud?” vra hy, deels om haar aandag van die oorlog af te lei.
“Drie jaar.”
“Kan dit wees? Dit voel soos verlede jaar.”
“Tyd vlieg,” sê sy.
“Dit was darem ook ’n tyd waarin baie dinge gelyk met jou gebeur het.”
Sy knik. “Marc wat oornag ’n Jood geword het. Israel toe is. Met ’n Israeli gaan trou het …”
“En jy wat jou biologiese ma vir die eerste keer ontmoet het.”
Sy vryf ingedagte oor sy hand wat op die bank se leuning rus. “Ja, op vyftig vir die eerste keer van aangesig tot aangesig met my eie ma.”
“Jy het tog altyd geweet jy’s aangeneem, of hoe?”
“Ek het. Maar ek het natuurlik nie geweet dat Pappa waarlik my eie pa was nie.”
Haar gedagtes gaan terug na ’n dag toe haar pa ernstig siek geword en haar hospitaal toe laat kom het. Dit was ’n jaar of wat ná die dood van haar aanneemma, Margriet. Dié dag het hy haar vertel dat hy inderdaad haar eie pa is. Dat hy in 1954, tien jaar ná sy troue met Margriet, vir ses maande in Duitsland gaan werk het. Daar het hy ’n verhouding met ’n meisie gehad wat swanger geraak het. Sy wou die baba laat verwyder, maar hy wou nie. Omdat Margriet nie kon kinders hê nie, wou hy graag die baba aanneem. Direk ná die geboorte. Margriet het daarvoor kans gesien. Sy was daardie baba.
“Ek is jammer ek het Margriet nooit geken nie. Sy moes baie moed gehad het om vir so iets kans te sien,” sê Hannes.
Mara knik. “Ja, sy het. Haar enigste voorwaarde was dat niemand ooit moes weet dat hy die pa was nie. Dit moes soos ’n gewone aanneming lyk. Hulle is Duitsland toe vir die bevalling en het twee weke later met die … met my teruggekom.”
“Niemand het dit ooit bevraagteken nie?”
“Hulle het vertel hulle het die baba deur ’n agentskap in Londen aangeneem. Om te sê dat dit in Duitsland gebeur het, sou my pa te veel met die baba verbind.”
“En jy?” vra Hannes sag en vryf haar vingers tussen syne.
Sy skud haar kop en praat nie. Sy sien haar pa se gesig voor haar dié dag in die hospitaal. Sy bleek hande wat die laken so styf vashou. Op 82 was hy steeds ’n aantreklike man. Sy kon haar voorstel hoe hy byna 50 jaar tevore moes gelyk het. Hy het na haar gekyk. “Jou … eie ma leef nog, Mara. Sy is Joods … Ruwth …” Sy stem het gebreek en dit het ’n rukkie geneem voordat hy verder kon praat. “Jy is Joods. Jy, en daarom Marc ook.” Sy was stil van skok.
“Mara?” vra Hannes ná ’n rukkie. Hy ken die storie, maar hy wil haar laat praat. Dit laat haar altyd beter voel.
Sy sug. “Ek kon dit nie vir Marc wegsteek dat hy en ek albei Joods was nie. Veral nie omdat sy ouma aan sy pa se kant ook ’n Jodin was nie.”
Hannes skud sy kop. “Wat ’n wonderbaar verwikkelde storie.”
“Ja, eintlik is dit. Die verskil is net dat sy Joodsheid Marc van die begin af soos ’n handskoen gepas het. Vir my het dit geen betekenis nie.”
“Hoekom nie?”
Dis lank stil voordat sy sê: “Oor ek nie aan Ruwth as my ma dink nie, miskien.”
“Wat is dit wat jy haar nie vergewe nie? Dat sy ’n aborsie wou hê?”
“Ek dink nie so nie. Dis meer dat ek nie kans sien vir hierdie … Joodsheid nie. Marc het daarmee byna ’n volslae vreemdeling geword. Hy het alles waarmee hy grootgeword het, sy geloof, alles, agtergelaat. My enigste kind.”
“Daarvoor kan jy Ruwth darem beswaarlik kwalik neem.”
“Ek weet nie. Sy het wat my betref wel daarmee te maak. Toe Marc in 2002 vir die eerste keer Israel toe is, het my pa Ruwth se besonderhede vir hom gegee.”
“Het jou pa en Ruwth dan nog al die tyd met mekaar kontak gehad?” vra Hannes ietwat verbaas.
“Volgens hom nooit persoonlik nie, maar hy het haar wel deur ’n prokureur op hoogte gehou van my en Marc.”
“En jou pa het gereken dat dit ná Margriet se dood reg is om vir Marc sy eintlike ouma se telefoonnommer in Israel te gee?”
“Wel, dis seker redelik. Maar wat my kwaad gemaak het, was dat sy hom daar met aandag oorweldig het. Én met haar sogenaamde Messiaanse geloof.”
“Maar hy het tog nie vir Rivkah deur Ruwth leer ken nie, het hy?”
“Nee, hy het nie, maar sy het ook niks gedoen om die verhouding te ontmoedig nie. Inteendeel, sy het dit aangemoedig. Sy was daarop ingestel om hom Joods te maak.”
“Dis darem effens onredelik, Mara, hy is immers Joods.”
“Ag, net in naam. Dis eintlik sy wat dáár van hom ’n Jood gemaak het. En dis veral dít wat ek teen haar het,” sê Mara driftig.
“En toe oupa Lukas ook nog hoog in sy tagtigs na sy vroeëre geliefde in Israel wou terugkeer, was dit sout in jou wonde?”
Sy glimlag flou. “Eintlik, ja.”
“Maar hy is dood voordat dit kon gebeur.”
Sy knik.
“Eintlik behoort jy simpatie met Ruwth te hê, weet jy. Sy het in haar lewe al soveel verloor.”
Sy kyk op na hom. “Weet jy wat?”
Hy trek haar kop teen sy skouer aan. “Wat?”
“Daar kom dae dat ek na haar verlang … om haar te ken. Maar dan is daar weer tye dat ek nog baie kwaad is vir haar.”
“Sy is wel later getroud, nè? Of ja … natuurlik, Ofer is tog haar seun. En dan is daar nog Uri, wat in Amerika woon. Twee halfbroers, dus.”
“Ek sien vir hulle eintlik meer kans as vir Ruwth.” Sy gee ’n droë laggie. “Ek wou nog altyd so graag ’n broer gehad het.”
“As ons in Desember vir hulle in Israel gaan kuier, sal dit in minder emosionele omstandighede wees as met die troue. Dan kan jy en Ruwth dalk gepraat kry oor die dinge wat jou so seermaak.”
Sy sug. “Wie weet.”