Читать книгу Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Drie

Оглавление

Jerusalem

Sondag 16 Julie 2006

Toe Marc dié Sondagoggend met die Ben Yehudastraat langs loop, sou mens nie sê dit is die begin van die lang somervakansie nie. Weinig van die gewone vakansie-uitgelatenheid is sigbaar. Oral sien hy mense in groepies staan en praat, bekommerde uitdrukkings op die gesigte. Dis die vyfde dag van die Libanon-oorlog en dis duidelik dat Jerusalem in skok verkeer.

Hy het Yhoshi by hom. Dis bloedig warm en hy trek besorg die sonskerm van die stootwaentjie laer af, sit die laphoedjie wat die kleintjie afgepluk het weer op sy kop en gee vir hom sy bottel vrugtesap. Hy sien hoe rooi die gesiggie is, maar die kleintjie waai vrolik vir hom. Vanmôre doen hy die weeklikse inkopies, want Rivkah is by die ginekoloog. Om te bevestig waarvan hulle albei byna heeltemal seker is. Die inkopiesak aan die stootkarretjie is al vol en hy wil nog vir Rivkah rose koop. Om dit te vier waaraan hulle tot nou toe nog nie regtig met blydskap gedink het nie. Maar nou moet hy eers met die kind uit die son kom.

Hy koop die Jerusalem Post en gaan een van die vele koffiewinkeltjies binne. Dis ietwat koeler, maar dis duidelik dat die lugreëlaar nie goed werk nie. Hy kyk hulpsoekend om hom rond. ’n Vreemdeling wat by ’n ander tafeltjie sit, knik vir hom.

“Hou maar uit,” sê hy. “Stel jou voor jy sit in ’n tenk op die Libanese grens.”

Marc glimlag flou, voel sy maag draai. Hy het al in ’n tenkafdeling reserwediens gedoen. As hy opgeroep word, hoop hy van harte dis nie waarheen hy sal gaan nie, want hy kan hom voorstel hoe ’n Merkava in dié soort temperatuur sal voel. Hy troos hom daaraan dat hy eintlik in die infanterie is. Hy het gisteraand gehoor David is reeds in Libanon. Hy wens hy het kans gehad om hom te groet. Bibi is in Gasa. Hy stoot die sonskerm van die stootwaentjie terug. Yhoshi het aan die slaap geraak, sy donker haartjies nat van die sweet teen sy gesiggie geplak. Marc vee dit versigtig terug. Die kleintjie sug net en slaap verder. Die gedagte aan Rivkah, aan die sterk moontlikheid van ’n tweede baba, laat hom duisel.

Hy bestel vrugtesap en luister na die gesprekke rondom hom. Dit gaan hoofsaaklik oor die oorlog. Hy sug en vou sy koerant oop, maar daar word hy met dieselfde feite gekonfronteer.

Hisbollah het al meer as 800 vuurpyle oor die noordelike deel van Israel afgevuur. Israelse vliegtuie het al meer as 1 000 gevegsvlugte oor Libanon uitgevoer en maak dit vir Hisbollah moeilik om sy arsenaal uit Sirië en Iran aan te vul. Hulle is besig om die vyand se beheerposte en vuurpyllanseerders in Suid-Libanon, wat in die aanvalle op Israel gebruik word, te vernietig. Die ganse noorde van die land is onder krygswet. ’n Geskatte miljoen mense is deur die leër aangesê om tuis te bly en nie te gaan werk nie. Diegene naby die Libanese grens is beveel om in bomskuilings te bly of, as hulle dit nie het nie, in redelik veilige vertrekke binnenshuis.

Hy vou die koerant mismoedig toe.

By die buurtafeltjie hoor hy ’n man aan die kelnerin sê dat hulle uit Sde Eliezer kom. Hy weet dis in die noordelike deel van die land langs die Libanese grens geleë.

Die tafeltjies staan so dig teen mekaar dat Marc, vreemd aan sy teruggetrokke natuur, oorleun en groet. “Shalom. Julle het seker erg onder katyushas deurgeloop.”

Die bleek jong vrou kyk na hom en glimlag moeg. “Inderdaad. Ons het ’n tweeling van agtien maande en dit het net onmoontlik geword om langer in ’n bomskuiling of ’n klein gangetjie sonder ’n buitemuur of vensters met hulle te bly.”

Die man, jonk, Ortodoks, met ’n oop gesig, hou sy hand na Marc toe uit. “Shalom. Gelukkig woon my ouers hier in Romema. Hulle het vir ons plek gemaak. Dis maar baie beknop, want nog familie het uit die noorde gevlug.”

“Ten minste kan ’n mens met die kinders buitentoe gaan. Ma is nou met hulle in Onafhanklikheidspark,” sê sy vrou sag.

“Wat het van die besighede geword?” vra Marc.

“Alle sakeondernemings, fabrieke, kantore, banke, poskantore is beveel om te sluit,” vertel die man. “Hatsor,’n supermark in die klein winkelsentrum op ons naaste dorp, het Vrydagoggend vir ’n paar uur oopgemaak vir mense om te kry wat hulle vir Shabbat nodig het. Dit was chaos.”

“Dis mos vakansietyd, daar is seker ook nie veel toeriste nie.”

“Ag, daar het niks van toerisme oorgebly nie. Jy weet, in die somer is al ons hotelle volgepak, want die mense kom uit die stad se hitte na die Galil se heuwels vir koelte.”

“Die boere maak ook mos oral Zimmer frei’s beskikbaar vir dié tyd van die jaar. Maar daar gaan niks aan nie. Niks. Dis baie erg vir die ekonomie,” sug die vrou.

“Kiryat Shmona is ’n spookdorp,” laat ’n bejaarde vrou van ’n ander buurtafel hoor. “Die paaie is stampvol motors, almal op pad suide toe … Tel Aviv of Jerusalem toe. En die verkeer staan byna doodstil, want daar’s oral tenks wat ook dieselfde pad moet gebruik.”

“En dié wat nie hier blyplek kan kry nie, vat die pad Eilat toe,” vul haar dogter aan.

“Eilat? In dié hitte?” vra Marc. “Ek sien dis vandag 47 °C daar!”

“Liewer die son as ’n katyusha.”

“Ek hoor voortdurend oor die radio oproepe vir gesinne in die suide of in die middel van die land om mense uit die Galil in te neem,” sê die eienaar, wat by hulle kom staan het.

“Hoe lank kan die oorlog nou aanhou? Is dit die moeite werd om pad te gee?” vra die dogter.

“Dit moet jy die Benzaken-gesin daar by ons vra. Hulle het Vrydag uit Hatsor padgegee om onder die rakette uit te kom en by familie in Tel Aviv gaan bly. Op Shabbat is hul huis in Hatsor heeltemal vernietig. Voltreffer-katyusha.”

“Op Shabbat het daar ook ’n raket in Meron geval. ’n Ouma en haar vierjarige kleinseun albei op die plek dood,” vertel die bejaarde dame.

“Die shul in Carmiël is ook gisteroggend getref, maar die diens het tien minute vroeër klaargemaak en daar was niemand binne toe die aanval gekom het nie.”

“Die hand van HaShem …” sug die ouer vrou.

“Ek verstaan Peretz het ná die aanval op Haifa gedreig om ’n burgerlike woonbuurt in Beiroet te bombardeer. Dis blykbaar ’n bekende Hisbollah-vesting. Volgens Dan Halutz bly die meeste van die terroristeleiers daar. Hassan Nasrallah ingesluit.”

“Peretz! Halutz!” Marc se buurman gooi sy hande wanhopig in die lug. “Wat weet dié twee here van oorlog af? Waar is Mofaz en Ya’alon en Sharon tog?”

“Arik, wat ons uit Gush Katif gegooi het?” vra die ander man sinies.

“Hy kon ten minste oorlog maak.”

“Het julle vanoggend in die Jerusalem Post gesien wat Ahmadinejad oor ons te sê het?”

“Wat?”

Die man haal die koerant uit sy aktetas en soek die plek op. Toe lees hy: “As die besettersregering,” hy kyk oor sy bril, “dis nou ons hier in Jerusalem, Sirië aanval, sal dit gelykstaande wees aan ’n aanval op die hele Islamitiese wêreld en die regime in Jerusalem sal self ’n vernietigende aanval in die gesig staar.”

“Die kêrel mag soos ’n aap lyk, maar hy is nie een nie. Hy is die mullahs se mondstuk. Daar moet rekening gehou word met sy uitlatings.”

“Dis soos jy sê. Voor die Holocaust het niemand Hitler se soortgelyke opmerkings ernstig opgeneem nie.”

Dit word stil by die drie tafels rondom Marc.

“Wat reken julle kan ons nou verder verwag?” vra iemand ná ’n rukkie.

Maar Marc het genoeg gehoor. Hy betaal die kelner, trek die sonskerm weer versigtig oor die slapende seuntjie en stap uit in die helder lig.

Buite bel hy Rivkah, maar net haar selfoon se antwoorddiens is aan. Nog voordat hy egter die bloemiste bereik, bel sy terug.

Hy gaan ’n winkeltjie binne om van die straatgeraas buite te ontsnap.

“En?” vra hy.

“Einde Februarie.” Haar stemmetjie is klein.

Hy wens hy was by haar om haar in sy arms toe te maak, want hy ken daardie stemtoon.

“Ek het jou lief,” sê hy.

“En ek vir jou.” Hy hoor hoe emosioneel sy is.

“Wat is dit?” vra hy.

“Niks.”

“Nie niks nie.”

“Dit lyk sleg met Libanon.”

“Dis nie ons eerste oorlog nie.”

Sy’s ’n oomblik stil, voor sy sê: “Dit was anders.”

“Hoe anders?”

“Vir my …”

Hy besef wat sy bedoel, dat sy nie deel daarvan is nie, en hy sê vinnig: “Ons sal regkom, Rivkah.”

“Gee jy om as ek by Shlomit gaan inloer? Re’uven is in Haifa.”

Hy besef dat sy swaer ook opgeroep is, al kan hy weens ’n besering in 2002 se Defensive Shield-oorlog nie meer aktiewe militêre diens doen nie. Hy is waarskynlik in Haifa om die opruimingswerk ná die herhaalde katyusha-aanvalle op die stad te bestuur.

“Natuurlik nie. Kuier lekker, ek sal Yhoshi solank bad.”

“Daar is kos vir hom in die yskas. Wat doen hy?”

Marc kyk na sy seuntjie. “Hy’t nou net wakker geword.”

“Soen hom vir my,” sê sy sag.

Hy koop ’n bos van twintig rooi rose vir Rivkah en toe hy huis toe stap, is daar ’n onbeskryflike vreugde in sy hart. Groter as al die onsekerheid.

By die huis gee hy gou die ekstatiese Shmu’el iets te ete, neem Yhoshi op die arm en vat die pad Kotel toe. Toe hulle bo-aan die lang ry treetjies kom, tel hy Yhoshi op sy skouers en galop met hom ondertoe. Die skommelende kind op sy skouers skater van plesier en gryp in sy pa se krulhare.

Hulle kom albei uitasem op die plein voor die Kotel aan. Marc tel Yhoshi af en sit hom op die grond neer. Op onseker beentjies waggel hy dadelik in die rigting van ’n paar duiwe wat op die grond aan ’n oopgebarste granaat sit en pik. Toe hulle opvlieg, kreet hy gefrustreerd en pluk die kippah wat Marc vir hom by die huis opgesit het van sy kop af en gooi dit neer.

’n Yeshiva-student wat verbyhaas, steek in sy vaart vas en tel dit op. Hy hou dit na die seuntjie met die lang donker krulhare uit wat hom wantrouig aankyk. Die student laat vaar sy dringende missie vir eers en hurk by die kind. Hy glimlag gerusstellend met hom en hou die kleurryke, gebreide kippah na hom uit. Maar Yhoshi ignoreer dit en steek sy handjie na die jong man se swart breërandhoed uit. Dié aarsel effens, maar toe laat sak hy sy kop sodat Yhoshi die hoed kan bykom. Hy neem dit met albei handjies stewig vas, huiwer net ’n oomblik en sit dit toe op sy eie kop. Die hoed sak oor sy oë. Dit laat die student grinnik en hy kantel die hoed effens sodat die twee groot bruin oë onder uitloer. Yhoshi lag hard, leun vorentoe en hou sy mondjie om gesoen te word. Die jong man kyk vlugtig na Marc vir goedkeuring, toe trek hy die kind teen hom aan en soen hom op albei wangetjies sodat die hoed afval en oor die grond rol. Die wondermooi tafereel teken homself in Marc se geheue af.

Hy bedank die student, gee sy hoed terug, tel die protesterende Yhoshi op, druk sy kippah terug op sy kop en stap met hom deur die ingang na die mansafdeling by die Kotel. Die lug het effens koeler geword, maar daar walm steeds hitte uit die klippe op. Dis nog redelik stil by die muur, want dis nog nie tyd vir die aandgebed nie. Drie soldate, arms om mekaar geslaan, staan dig teen die muur en bid. Die eeue oue klippe rys voor hom op en bokant teen die blou lug roer ’n landsvlag lui.

Yhoshi het opgehou kriewel, asof hy, klein soos hy is, die heiligheid van die plek verstaan. Marc hou die kind se kop teen sy skouer aangedruk en buk met sy voorkop teen die louwarm stene. “Abba, U het dit goedgedink om ons in hierdie tyd en in hierdie omstandighede nog ’n kind te gee.” Hy sug en soen die kleintjie se vingertjies. “Ek loof u Naam daarvoor, want U het vir elke ding ’n vasgestelde tyd. Wees ons genadig. Maak my vrou rustig en gee my die wysheid wat ek nie het nie.”

’n Ruk staan hy woordeloos. Die andersins woelige Yhoshi lê rustig met sy kop teen sy pa se skouer. Bokant hulle swerm klein voëltjies tjirrend langs die muur op en af. Verder weg galm die stem van ’n muezzin oor die Kotel.

Ineens skiet die woorde van ’n Psalm hom te binne en terwyl hy ligweg op sy voete wieg, prewel hy die woorde wat hy so goed ken in Hebreeus:

“Laat my elke môre u liefde ondervind,

want in U stel ek my vertroue.

Wys my die pad wat ek moet loop,

want my hoop is op U gevestig.

Red my van my vyande, Here,

want by U skuil ek […] ”

Op sy terugtog gaan hy ’n oomblik aan die bopunt van die eerste ry treetjies staan om voor hom uit te kyk. Yhoshi wriemel om neergesit te word en hy laat hom gaan. Die lug oor Jerusalem het rosig pienk geword. Vir die soveelste keer vandat hy hier kom woon het, staan hy ontroer en kyk na die kleurskakering van die muur, die sagte bruin en die donker room, die skadu’s wat oor die Joodse begraafplaas teen die Olyfberg begin val, die helder wolke …

Hy raap sy protesterende seun weer op en hardloop met hom die laaste treetjies uit. Dit laat Yhoshi opnuut van plesier gil. In Tiferet Yisra’el, die smal drukgang terug na die Hurvah-plein, krioel dit van mense. Mans en vroue in sober swart-en-wit Ortodokse drag, omswerm deur hul spruite aan die hand en in stootwaentjies, yeshiva-studente en toeriste met maar een bestemming voor oë – die Kotel. Toe Yhoshi die plein sien, wurm hy hom weer skoppend uit sy pa se arms. Marc sien daar is nog ’n halfuur voor eet- en slaaptyd en hy besluit om die kleintjie nog ’n rukkie op die grasperkie tussen die ander kleuters los te laat. Self gaan sit hy op die lae muurtjie aan die rand van die speelterrein waar hy Yhoshi goed onder oë kan hou, maar ook al die interessante figure kan dophou wat heen en weer oor die plein op pad is.

Hy kyk op toe hy vaagweg musiek hoor. Om die hoek van die Hurvah-sinagoge se bouval, kom ’n ou Joodse man met sy viool spelend aangestap. Sy dun grys baard en oorkrulle beweeg in die ligte bries. Die yl klanke van die viool verdwyn byna in die plein se geluide. Hy beweeg met stadige danspassies wat sy swart manelpunte laat wip. Dit is duidelik dat hy skaars van sy omgewing bewus is. Die kinders staak hul spel en kom aan die rand van die park staan. Yhoshi kom na Marc toe, leun met sy warm lyfie teen sy bene. Hy bekyk die ou man met verwondering.

Twee jong meisies wat verbyloop, bly staan. “Fiddler on the roof!” roep die een hom toe.

Die ou man gaan staan ook. Hy kyk stip na die twee skraps geklede toeriste. Toe buig hy, stram van jare, potsierlik voor hulle. “Shalom,” sê hy hees, “Bru’chim ha’ba’im l’Yisra’el.” Dan druk hy weer sy viool teen sy skouer vas en dans traag verder op die treurige note wat sy gehawende strykstok uit die snare trek. Die meisies skud hul koppe en loop verder.

Yhoshi sug en kyk op na sy pa. “Abba,” sê hy. Toe tel hy sy beer van die bank af op, druk hom styf vas en waggel weer terug na sy speelplek.

Marc trek sy sketsboek en houtskool uit sy skouersak, en teken haastig die maer ou man in sy swart manel en hoed wat stadigaan in Tiferet Yisra’el af verdwyn. Toe hy klaar is, begin hy ook die ontmoeting van vroeër die middag tussen Yhoshi en die yeshiva-student skets. Hy werk kwistig met houtskool en pastel. Hy teken die yeshiva-student se laggende oë agter sy groot bril. Yhoshi met die hoed wat oor sy oë val. Die vingertjies wat die hoed vasvat. Die rondewangprofiel van die kleintjie wat ’n soen aanbied. Hy vergeet byna om die kind op die grasperk in die oog te hou.

Heelwat later kyk hy op toe twee mense langs hom kom staan. Dis ’n middeljarige swart man en ’n fyn wit vrou met ’n bos rooi hare. Hulle verlustig hulle openlik in die skilderagtige toneeltjie van fraai geklede Ortodokse kindertjies wat op die gras speel terwyl hul ma’s met babas in stootwaentjies ’n wakende oog hou.

Albei is in byderwetse sportdrag geklee. Marc besluit dis sonder twyfel buitelandse toeriste en gaan voort met sy tekening. Maar toe praat hulle meteens Afrikaans met mekaar en die houtskool in sy hand raak stil.

Hy kyk op, vang die vrou se oog en kan homself nie keer om te vra nie: “Suid-Afrika?”

Die twee kyk verras na hom, knik. “Ja, Kaapstad.” Die vrou hou onmiddellik haar hand uit. “Jy?”

“Oorspronklik Suid-Afrika, maar ek woon al vier jaar hier. Marc Krige.”

“Henok en Sarah Kambungu.”

“Is julle met ’n toergroep hier?”

“Ons was dapper, of dalk dom genoeg, om op ons eie te kom. Nie geweet ons gaan ons in ’n oorlog vasloop nie. Ons het Woensdag aangekom, dieselfde dag wat die oorlog begin het.” Die man glimlag verleë.

“Erg, ja,” sê Marc. “Het julle darem al iets van die land kon sien?”

“Wel, ons kon natuurlik net in ’n suidelike rigting beweeg. Ons was van Donderdag af in Eilat, vanoggend eers teruggekom.”

“Waar bly julle?”

“Gastehuis naby Jaffa-poort.”

“Christ Church,” sê sy vrou. “Werk jy hier?”

“Nee, ek woon permanent hier, ek het nou Israelse burgerskap … en is met ’n Israeli getroud. Daar’s my seuntjie.” Hy wys na Yhoshi, wat ’n ander kleinding se speelgoedtrekker afgevat het en daarmee in hul rigting aankom. “Laat ek net eers hierdie saak uitsorteer.”

Hy hurk by Yhoshi en neem die speelding by hom af, gee dit vir die ander huilende kind terug. Toe tel hy Yhoshi, wat verontwaardig aan die gil gegaan het, op en kom met hom terug na die twee Suid-Afrikaners, wat geamuseerd toekyk. Hy haal ’n beskuitjie uit sy sak en toe hy daarmee stilte bewerkstellig het, kan hy weer praat.

“Hoe lank bly julle?” vra hy.

“Wel, ons terugvlug is eers vir 17 Augustus bespreek, maar nou met die oorlog is ons ’n bietjie onseker oor wat ons te doen staan. Mense sê vir ons oorloë hier is gou verby.”

“Wel, dit is regtig alles baie onseker.” Hy aarsel ’n oomblik. “Maar … Luister, ek is aan die universiteit verbonde en ons het nou vakansie. My vrou en ek het ’n plan gehad om na ’n kibboets by Tiberias te gaan vir twee weke, maar dit is natuurlik ook voorlopig van die baan. Miskien kan ek julle ten minste hier in Jerusalem ’n bietjie rondwys of iets.”

Onmiddellik nadat hy dit gesê het, kry Marc spyt oor sy voortvarendheid, maar toe is dit te laat.

“Ag, maar dis darem veel gevra …” protesteer die man halfhartig.

Marc skud sy kop. “Nee wat. Dis net dat ek waarskynlik ook enige oomblik opgeroep kan word.”

“Natuurlik.”

Hulle kyk mekaar ’n paar oomblikke onseker aan. Marc besef dat hy nou eenmaal daarin getrap het en dat hy dit net sowel die moeite werd kan maak. Hy sê: “Wil julle nie ’n aandjie oorkom na ons toe nie? Ons woon net hier anderkant.” Hy wys in die rigting van hul woonstel. Hy dink vinnig, besef dat vanaand waarskynlik nie die beste aand is nie. “Wat van môreaand miskien?”

Henok kyk na sy vrou en sy knik. “Ek dink dis goed.”

“Ek sal julle bel by Christ Church as ek net eers by my vrou gehoor het of dit goed is so, dan spreek ons af.”

“Ek het die nommer hier.” Sarah krap in haar handsak.

“Ek het dit ook,” keer Marc haar. “Ek het nou julle van vergeet.”

“Kambungu, kamer 26.”

Marc sit Yhoshi op die bank neer en skryf die van en kamernommer neer. “Sal ons dan so afspreek?”

Die ander twee knik.

“Goed, dan bel ek julle.”

“Hierdie oorlog …” sê Henok net toe Marc wil wegdraai. “Hoe ernstig is dit?”

Daar is iets in die man se stem en in sy gesig toe Marc na hom kyk wat hy nie kan peil nie. Iets meer as die gewone vrees vir oorlog.

“Dis moeilik om te sê. Dit is die vyfde dag vandag en wat my bekommer is dat die gevegte erger word. Hisbollah het byvoorbeeld vandag vyf langafstandvuurpyle op Haifa afgeskiet. Een het ’n werkswinkel getref waar treine herstel word. Agt mense is daar dood en dertien gewond. Daar is petrochemiese raffinaderye in daardie omgewing …”

Henok knik. “Ek het vanmiddag in die Jerusalem Post gesien. Haifa is ’n groot stad?”

Marc knik. “Derde grootste in die land.”

“Mens kan seker verwag Israel sal vergeldingstappe doen?”

“O ja. Ek dink die weermag sal nou Hisbollah-stellings en infrastruktuur in Suid-Libanon bombardeer en spesiale see-, lug- en landmagte instoot. Wat uiteraard ’n stroom vlugtelinge noordwaarts sal laat padgee, Beiroet toe.”

“Hoe groot is die moontlikheid dat Sirië en Iran hierby betrokke kan raak?”

“Ek reken aansienlik. Hulle hoop dalk dat dit die globale Islamitiese jihad teen Israel en die Weste aan die gang sal kry.”

“Sou jy sê so ’n geweldige reaksie van Israel ná die ontvoering van twee soldate is geregverdig?” vra die vrou.

Marc merk dat die man sy hand kalmerend op haar arm lê en hy hou sy eie stem rustig, al word sy nek warm.

“Hoe sal enige ander land reageer as burgers in meer as twintig stede en dorpe voortdurend blootgestel word aan rakette op hul huise, skole, hospitale, treine, fabrieke en so aan? Is Israel dan nie ook daarop geregtig om sy mense teen oorlog te beskerm nie?”

Sarah glimlag flou. “Wel, seker. Daar is beslis feite waarvan ek nie bewus was nie.”

Haar man neem haar aan die elmboog. “Kom,” sê hy, “dit word etenstyd by Christ Church.” En vir Marc: “Jy sal ons dan laat weet van môreaand?”

“Ek sal.”

Marc het Yhoshi net aan die slaap toe hy Rivkah by die voordeur hoor. Hy maak die babakamer se deur sag toe en kry haar voor die bos rooi rose wat in ’n emmer op die kombuistafel staan. ’n Oomblik kyk hulle mekaar stilswyend aan. Dan neem hy haar in sy arms en hou haar styf vas. ’n Rukkie bly sy so teen hom staan.

Toe sug sy en fluister teen sy bors: “Die rose is pragtig.”

Hy lag en soen die kant van haar gesig. “Jy ook.”

“Regtig?” vra sy gedemp.

Hy lig haar gesig na hom toe en soen haar lank en vol op haar mond. “Niemand is mooier as jy nie.”

Sy woel haar kop weer teen sy bors en hy trek die doek los waarmee haar hare agtertoe vasgemaak is sodat dit in haar nek en teen sy gesig val. Hy asem die soetheid daarvan in en trek haar stywer teen hom vas.

“Ek is bly,” sê hy.

Sy bly stil.

“Rivkah?”

Sy sug weer, maak haar uit sy arms los en skud haar hare agtertoe. “Slaap Yhoshi?”

Hy knik.

“Ek wil na hom toe gaan.”

Hy laat haar gaan.

Toe sy nie dadelik terugkom nie, gaan loer hy by die kinderkamer in. Sy staan by die traliebedjie met albei hande op die houtreling na die slapende kind en kyk. Toe sy opkyk, sien hy haar mond bewe.

Hy kom agter haar staan. “Kom,” sê hy sag, “ek gaan tee maak.” Sy verstyf net ’n oomblik, dan gaan sy saam met hom.

Sy sit op die hoë stoeltjie langs die toonbank terwyl hy vir elkeen ’n glas kersietee maak.

“Jy wou tog dat ons gou weer ’n baba moes hê,” sê hy met geveinsde rustigheid toe hulle met glase walmende rooi tee oorkant mekaar sit.

Die ritueel van sy teemakery het ’n kalmerende effek op haar. “Natuurlik. Maar nie só gou nie. Nie nóú nie.”

Hy raak liggies met sy hand aan hare, wat op die toonbank lê. “Die oorlog is in die noorde, dis baie onwaarskynlik dat dit Jerusalem toe sal kom.”

“Dis nie waaroor dit gaan nie.”

Hy besef waaroor dit gaan, maar verkies om dit nie te laat blyk nie. “Waaroor gaan dit?” sê hy dan.

Sy haal diep asem en haar neusvleuels tril effens. “Dit gaan daaroor dat daar oorlog in my land is en ek my deel wil doen.”

Toe hy wil praat, lig sy haar hand vinnig. “Moenie vir my sê my deel is om my kinders groot te maak nie, ek weet dit. Maar ek is ook ’n soldaat en ’n opgeleide paramedic.”

“Jy sal nie opgeroep word nie.”

“Dit weet ek ook! Ek hoef nie opgeroep te word nie, ek kan vrywillig my diens aanbied.”

“Rivkah … jy het ’n baba van nog nie ’n volle jaar nie en jy is byna twee maande swanger.”

“Ek weet!” Haar oë verdonker. “Maar geen oorlog hier duur ooit lank nie, ook nie hierdie een nie. Ek wil, ek móét met iets help. Al bestuur ek ook net ’n ambulans, soos met Defensive Shield.”

Hy wil vir haar sê: Dink daaraan dat toe jy met ons eerste baba swanger was en aanhou werk het by MADA, jy op twee maande ’n miskraam gehad het. Maar hy weet dis nie iets waaroor hy nou moet praat nie.

Hy sê: “Toe was jy nie getroud met ’n baba nie.”

“Marc! Dis uiters vir ’n paar dae, miskien ’n week of twee, dan is Hisbollah platgeslaan.”

“Rivkah, asseblief, hoe op aarde het jy gedink om dit te wil doen? Wat van Yhoshi?”

“Maar jy …”

Hy kyk haar stomverbaas aan. “En dit kom nie by jou op dat ék opgeroep sal word nie?”

“Ja, ja, maar …”

“Maar wat?”

“Dalk nie so gou nie. Dalk is die oorlog dan al oor.”

“En dalk nie.”

“Jy verstaan nie.”

Toe word hy kwaad. “Nee, ek verstaan presies. Ek het nog die hele tyd verstaan. Wat jy eintlik wil sê, is dat ek geen gevoel vir die land het nie. Dat wat hier aangaan my nie raak soos dit jou raak nie. Dat ek nooit regtig ’n Israeli sal wees nie, nog minder ’n soldaat in murg en been soos jy.”

“Dis nie wat ek gesê het nie!”

“Is dit nie?”

Shmu’el, wat die hele tyd by hul voete gesit het, het al hoe meer begin bewe, hoe hewiger hul stemtoon geword het. Hy gaan meteens histeries aan die blaf en die volgende oomblik tik iemand liggies aan die voordeur. Voordat Marc die paar tree van die oopplankombuis af kan gee, gaan die deur oop.

Daar staan die rabbi, Rivkah se pa, swart hoed in die hand, verleë laggie om sy mond. “Ek kom toe sommer in.”

Dis duidelik dat hy onmiddellik die gelaaide atmosfeer aanvoel, want hy bly stil en kyk van die een na die ander.

Rivkah is dadelik op haar voete. “Abba,” prewel sy en kom na hom toe.

Hy soen haar en kyk vraend na Marc.

Maar dié weet ook nie hoe om die situasie te hanteer nie en maak ’n onbeholpe skouerbeweging.

“Ek was hier by rabbi Raysman en ek dag ek kom kyk gou of my kleinseun nog wakker is.”

“Hy slaap al,” sê Rivkah met ’n klein stemmetjie. “Kom sit, Abba, ek gaan tee skink.”

Chaim kyk hulle ondersoekend oor sy teeglas aan toe Rivkah terugkom. “Het iets gebeur?”

Marc ontwyk sy skoonpa se oë en laat dit aan Rivkah oor. Sy aarsel ’n oomblik lank voordat sy antwoord. “Daar het, Abba.”

“Sou dit van belang wees dat ek weet?”

“Ek dink so, Abba.”

Chaim kyk na Marc. “En jy, Marc, dra dit jou goedkeuring weg dat ek weet?”

“Ja, Abba, ek glo … dat ons u miskien nodig het.”

Sy twee volwasse kinders se oordrewe onderdanigheid bring ’n geamuseerde vonkeling in die rabbi se oë. Hy stryk nadenkend oor sy baard, haal sy bril af en begin die lense met ’n wit sakdoek poets.

“Ek luister,” sê hy en kyk na sy skoonseun.

Marc weet sy skoonpa beskou hom as die priester van sy huis. Hy kan dit nie aan Rivkah oorlaat om hul probleem te verduidelik nie.

“Abba, ons het vandag bevestiging gekry dat Rivkah weer swanger is.”

Dié aankondiging tref die rabbi beslis onkant. Sy mond val oop van verbasing en hy kyk van die een na die ander. “En moet ek aanneem dat julle dit as ’n ramp beskou dat HaShem, geseënd is Hy, soveel guns aan julle wil bewys?”

“Nee,” sê hulle gelyk.

“Wel,” hy lig sy hande in ’n hulpsoekende gebaar, “waarom dans julle dan nie van vreugde nie?”

Marc kyk na sy vrou, maar sy skoonpa het hóm onder oë. “Marc?”

Marc huiwer, onwillig om Rivkah uit te lewer, maar nie seker hoe hy dit kan vermy nie.

Chaim snap sy penarie en draai na sy dogter. “Het jy ’n antwoord vir my, Rivkah?”

Sy sluk, maar toe kyk sy hom reguit aan. “Ek het, Abba. Natuurlik is ek bly. Dis net, dis so gou … en ek voel dat ek ook iets kan … wil doen. Ek bedoel met die oorlog. As dit op enige ander tyd was … maar nou voel dit vir my ek kan nie net by die huis sit nie terwyl …” Sy veg verbete om kalm te bly, “ terwyl ander met hul lewe betaal.”

Haar pa se stem verander van toon. “Ek weet hoe lief jy die land het. Ek weet hoe goed toegerus jy is om te kan help. Ek kan my voorstel hoe gefrustreerd jy moet voel om niks te kan doen nie. Ek voel self gefrustreerd oor my eie onvermoë om ’n bydrae te lewer.”

Marc merk hoe haar mond versag en hy wens hy kan sy arm om haar sit en haar teen hom vashou, maar hy besef dis nie die juiste oomblik daarvoor nie.

“My kind, jy moet besef dat daar in elke fase van ’n mens se lewe ’n plek is wat die Ewige vir jou berei het. Dis die plek wat Hy vir ons bepaal het en ons moet ons daarby neerlê as ons van sy seën wil deel word.”

Maar Rivkah gee nie sommer die stryd gewonne nie. “Abba, ek het nie gedink om as ’n soldaat te gaan veg nie. Net om iewers in die noorde as ’n paramedic of ambulansbestuurder of wat ook al te gaan help.”

“Swanger … en met ’n baba?”

“Die oorlog kan tog nie lank duur nie.”

Haar pa skud sy kop. “Nee, liefling, dit is nie waar jou plek is nie. Jou plek is hier om die Shabbat-kerse aan die brand te hou vir jou man, wat beslis opgeroep sal word as dit enigsins langer aanhou, en by jou kind.”

Rivkah byt haar onderlip. Sy sê niks verder nie.

Chaim kyk na Marc. “Ek neem aan dis waaroor die struweling was?”

Marc knik. “Min of meer,” sê hy ontwykend.

“Ek glo julle sal dit uitgestryk kry. Dink daaraan dat dit die vyfde dag van die dae van ontsetting is, ’n tyd van geweldige geestelike gevaar vir Israel. Ons moet mekaar vashou, nie verteer nie.”

Hy sit sy bril weer op. “Kom, laat ons HaShem loof dat Hy julle waardig geag het om nog ’n kindjie aan julle toe te vertrou.” Hy neem hulle albei se hande in syne soos sy gewoonte is. “Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam. Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal.”

Toe hy klaar gebid het, trek hy Rivkah op die armleuning van sy stoel neer en slaan sy arm om haar middel. “Ek het jou dit al vertel toe jy klein was, maar ek gaan dit weer doen. Toe Imma en ek ná jou geboorte op jou naam besluit het, was daar twee redes waarom ons jou dié naam gegee het. B’resheet sê vir ons dat Rivkah baie mooi was, en ons kon sien hoe mooi jy sou word.”

“Abba-a-a!” Rivkah se wange vlam verleë.

“Nee, luister mooi. Ons het jou ook so genoem omdat Rivkah die bruid van Yitz’chak se hart was. Die Tora sê spesifiek hy het haar liefgehad. Sy was vir hom ’n troos ná sy ma se dood. Ons lees hy het haar gebring na die tent van Sara, sy ma. Rashi sê vir ons dit beteken dat al die seën wat weggegaan het ná Sara se dood, teruggekeer het toe Yitz’chak sy bruid in die tent gebring het, want sy was ’n waardige opvolger vir sy ma. Daar is verskeie Midrash-tekste wat sê dat die Shabbat-kerse gedurende Sara se lewe van een Erev Shabbat tot die volgende bly brand het. Ná haar dood het die wonder opgehou, maar toe Rivkah daar kom, het dit weer begin. Kan jy glo dat HaShem jou bestem het om nou in hierdie bitter dae van Israel vir jou man en jou seuntjie die Shabbat-kerse brandend te hou?”

Ná ’n paar oomblikke knik sy.

“En Re’uven se naam?” vra Marc belangstellend.

“Re’uven se naam …” Chaim se gesig verteder. Hy haal weer sy bril af, stryk oor sy baard. “Marc, Hadassah en ek het drie jaar lank vir ’n baba gewag, lank vir ’n Ortodokse paar. Hadassah se vriendinne en haar twee susters het die een baba ná die ander gekry, so ook die vroue van my medestudente in die yeshiva, net by haar het niks gebeur nie. Sy het stiller en stiller geword. Ek het dag en nag vir haar by HaShem ingetree, soos Yitz’chak vir Rivkah gedoen het. Toe sy eindelik swanger raak, het ons vreugde nie perke geken nie. Sonder om haar te sê, het ek HaShem, geseënd is Hy, gevra vir ’n seuntjie. Omdat dit altyd goed is om ’n gesin met ’n seun te begin. Maar om die een of ander rede was Hadassah vas oortuig dat dit ’n dogter sou wees. Maar toe is dit ’n seun en ons noem hom Re’uven, soos Lea met haar eersteling gedoen het. Re’uven beteken: Kyk, dis ’n seun.”

“Wonderlik,” sê Marc.

Die rabbi lag. “Daar is niemand soos die Ewige van Israel nie. Het Hy nie vir Yirmeyahu gesê nie: ‘Kyk, ek is Adonai, die God van alle vlees, sou enige ding vir My te wonderlik wees?’”

“Dit was ’n baie moeilike geboorte,” sê Rivkah gedemp.

“Baie moeilik, die dokter het gesê daar sou nooit weer ’n baba wees nie en ons het dit aanvaar.” Hy lag verleë. “Duidelik dadelik Yirmeyahu se boodskap vergeet! En toe kom ons tweede wonderwerk vyf jaar later.”

Chaim staan op, trek sy dogter teen hom aan en hou haar vas. “HaShem seën jou, my dogter van Sion. Hy ken jou hart en jou liefde vir sy land.”

Marc stap met hom saam tot by sy motor.

Langs die pad sê hy huiwerig: “Abba, ek wou netnou iets gevra het, maar ek het ’n bietjie gek gevoel om dit te doen, want teen hierdie tyd behoort ek sekerlik al te weet wat dit beteken.”

“Ek het ’n gevoel dit het iets met Judaïsme te doen?”

Marc knik.

Chaim gaan staan: “Marc, seun van my, jy moet nooit skaam wees om daaroor te vra nie. Jy weet mos ek is baie bewus daarvan hoe jonk jou Joodsheid is. Daar is so ontsettend baie vir jou om te leer en by aan te pas. En onthou, ek weet mos my dogter dink dat daar niks is wat sy nie weet of kan doen nie. Dit kos heelwat om in haar teenwoordigheid vrae te vra.”

Marc grinnik verleë.

“Wat wou jy vra?”

“U verwys soms na die Midrash en ek het nog nooit regtig duidelikheid gehad oor hoeveel waarde mens daaraan en aan die Talmoed moet heg nie.”

“Kyk, ons moet te alle tye bewus wees van die feit dat die Midrash-literatuur gegrond is op ’n bepaalde woord of ’n spesifieke uitdrukking in die Hebreeuse teks en dat daar daarom min of meer ’n denkbeeldige storie geskep is om die bepaalde woord of uitdrukking te illustreer. Begryp jy?”

Marc knik.

“Dit beteken nie noodwendig dat die storie waar is nie. Die groot rabbi, Sha’ul ben Gamliel, Paulus, dissipel van Gamaliël, het op ’n keer vir een van sy dissipels gesê, na aanleiding van wat ons in Titus lees, dat hulle hul nie langer moet besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie.”

“Dit geld ook die Talmoed?”

“Ja. Ons behoort baie versigtig te wees wanneer ons die Midrash-literatuur en die Talmoed benader, want hulle bevat dinge wat nie altyd met die waarheid in die Tora strook nie.” Hy kyk na Marc en daar kom ’n wonderlike lig in sy oë. “En nou weet ek ook dat dit dikwels ook nie strook met die Gees van Messias Yeshua nie. Maar ons kan dit eenvoudig ook nie ignoreer nie, want die Midrash-literatuur help ons om die ongewone en buitengewone woorde en uitdrukkings van die Heilige Skrif te onthou. Ons moet egter nooit, ooit die waarheid met gelykenisse vermeng nie.”

“Dankie, Rabbi, vir die uitstekende uitleg.”

Chaim lag. “Plesier.”

“Hoe ernstig dink u is die Libanon-situasie?”

“Baie ernstig, dink ek. Ek weet nie of ons leiers teen die stryd opgewasse is nie. Ten spyte van vrome verwysings na die Tora, ken hulle nie die Ewige van Israel nie. Maar ék weet wie ons Beskermer is, en jy weet dit ook.”

Toe hy al in die motor sit, draai hy die ruit af.

“Marc.”

“Abba?”

“As jy opgeroep word, sal ons na hulle omsien. Jy hoef nie bang te wees nie.”

Laataand berig die televisie van voortdurende vuurpylaanvalle in Bo- en Wes-Galilea. Tiberias is getref. Daar kom nog ’n laat berig oor katyushas wat vir die eerste keer op Afula in die Jisreëlvallei geval het.

Marc en Rivkah kyk veelseggend na mekaar. Van die Jisreëlvallei voorspel die Ou-Testamentiese profete dat dit die toneel sal wees van die laaste oorlog van die geskiedenis – Armageddon.

Rivkah sug en leun teen Marc se skouer aan.

“Ek is jammer oor vanaand,” sê sy.

“Ek verstaan.”

“Dankie.”

Ná ’n rukkie sê sy gedemp: “Ek is bly oor die baba.”

“Ek weet dit, maar ek besef ook dis baie gou en dis in ’n moeilike tyd.”

Sy kruip stywer teen hom aan. “Ek is jammer dat dit geklink het asof ek dink jy het nie die land lief nie.”

Hy soen haar op die wang. “Dis niks.”

“Is jy ook bly oor die baba?”

Hy soen haar weer. “Ek is bly, bly, bly! Miskien is dit ons dogtertjie wat net so mooi soos haar ma is.”

Haar arms gaan om sy nek. “Ek wil nie dat jy opgeroep word nie,” fluister sy.

“Regtig nie?”

Sy skud haar kop driftig sodat haar hare oor sy gesig waaier. “Ek het jou so lief.”

Hy staan op en dra haar bed toe en vergeet dat hy haar wou sê van die Kambungu’s se voorgenome besoek.

Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel

Подняться наверх