Читать книгу Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10) - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Jerusalem

2 tot 3 Junie 2016

25 tot 26 Iyar 5776

In die skemering herken Marc, op pad na die Kotel vir die Ma’ariv, byna nie sy skoonpa nie. Eers toe hy gaan staan en behoorlik na die figuur op ’n bankie aan die bopunt van die trappe kyk, is hy seker dis hy. Chaim sit ineengedoke daar; die swart hoed laag oor sy voorkop getrek, hoof tussen sy hande gesak. Marc huiwer om na hom te roep omdat hy nie seker is of Chaim dalk bid nie. Hy draai effens weg uit die gedrang wat met die trappe afgaan Kotel toe en wag ’n rukkie.

Asof hy van Marc se teenwoordigheid bewus word, lig Chaim stadig sy kop en kyk op. Marc sien ontsteld dat sy oë betraan is.

Hy gaan tot by hom. “Abba …?”

Toe hy sy skoonseun herken, kom daar ’n droewe trek om Chaim se mond. “Shalom, Marc.”

Marc gaan sit langs hom op die bank en lê ’n hand op sy arm. “Shalom, Abba. Het u …? Is daar …?”

Chaim skud sy kop. “Lo. Dis die land, die land wat my bedroef …”

Dit neem Marc ’n paar oomblikke om te begryp waarvan hy praat. “Tel Aviv Pride,” sê hy.

Chaim sug swaar as antwoord. “Dis nie dat ek ’n probleem met sondige mense het nie. Lo. Ek is self ’n sondaar wat net deur Adonai se genade vergewe is. Ek het ’n probleem daarmee om uitdagend trots te wees daarop dat jy die mitzvot van Adonai vertrap.”

Chaim lê sy hand oor sy oë. “Hoe lank sal Hy dit toelaat? Israel, wanneer sal jy hoor? Wanneer sal jy bereid wees om te luister? Wanneer sal jy jou bekeer en voor die Ewige kom op die wyse waarop Hy wil hê dat jy kom – in opregte ootmoed en met ’n hart van berou en teshuvah? HaShem se am segulah, jy wat sonde góéd noem. Het jy die woorde van die prediker vergeet? ‘Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig, hulle al twee is vir die Here ’n gruwel.’”

Marc het stil na hom gesit en luister. Hy kyk uit oor ’n groepie yeshiva-studente wat teen die trappe op gehardloop kom, hul peyot wapperend onder hul hoede uit. Hy sien die drie bejaarde Charedim met wit baarde op die bors wat versigtig aan die handreling in die middel vashou om nie deur die stormloop meegesleur te word nie. Dan stuur hy sy blik in die rigting van ’n jong pa wat sy vrou help om die baba se stootkarretjie teen die trappe af te bring.

Toe sê hy: “Ek is juis op die oomblik besig om Yechezk’el te lees waar die profeet die volk hoofstuk ná hoofstuk waarsku oor HaShem se toorn weens hul ontheiliging van die Shabbat deur hul wellus. Veral hul blatante afgodery en die feit dat hulle die afgode vereer deur hul kinders as offers te verbrand. Só ver gaan ons genadiglik nog nie.”

Chaim kyk na hom. “Nie?”

“Wat bedoel u …?”

“Ons is een van die lande met die hoogste aborsiesyfers ter wêreld. Ons het al byna meer kinders vermoor as wat in die Shoah gesterf het.”

Marc trek sy asem verskrik in. “Dit … is so, ja. Ek het nie so daaraan gedink nie.”

Die rabbi slaan sy hand oor sy oë. “Wat sal Adonai, baruch Hu, doen om sy uitverkorenes te reinig?” vra hy byna fluisterend. “Sê Yechezk’el dit nie duidelik genoeg vir jou nie?”

Die wind het opgekom en waai die nagloed van die snikhete dag teen hul gesigte aan.

Chaim sug lank en diep. Toe staan hy op. “Kom, laat ons gaan bid,” sê hy vir Marc.

Eers toe hulle al halfpad teen die lang ry trappe af is, gaan hy staan. “Hoe gaan dit met Chaya?” Daar het ’n sagte lig in sy oë gekom.

Marc slaan impulsief sy arm om die ouer man se skouer. “Tov me’od, Abba. Sy is pragtig!”

Nog ’n woeste windvlaag waai byna Chaim se hoed en Marc se kippah van hul koppe af. Albei gryp inderhaas daarna voordat hulle met die stroom mense wat nou nog digter geword het, verder af na die Kotel toe gesleur word.

Dit is duidelik dat dít wat so swaar op rabbi Cohen se hart lê vele ander harte ook aangeraak het, want daar word hartstogtelik by die Kotel gebid. Marc staan agter sy skoonpa, wat nog ’n oop plekkie by die muur bekom het. Hy kyk op teen die enorme stene, na die twee duiwe wat in een van die gleuwe sit. Hy kyk op na die blou lug bo. Sy skoonpa se woorde bly by hom: Wat sal Adonai doen om sy uitverkorenes te reinig?

Die hitte van die dag slaan van die stene onder sy voete op en gloei uit die muur. Marc voel die sweet in sy hare vorm. Toe hy die donker krulhare van sy voorkop terugvee, raak sy vingers klam daarvan.

Sy gedagtes keer terug na wat hy die oggend weer in Esegiël 22 gelees het van God se toorn oor Jerusalem se verskriklike sonde. Woorde kom by hom op, ’n paar sinsnedes: “Stad van skande en chaos … My heilige dinge het jy geminag en my Shabbatot ontheilig … Mý het jy vergeet, spreek die Adonai Tzva’ot … Hulle verkrag my wette en ontheilig my heilige dinge … Tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie … Hulle maak hul oë toe vir my Shabbatot … Ek word onder hulle ontheilig …”

Hy dink aan wat dae lank al in Tel Aviv aan die gang is met Gay Pride. Hy onthou Natan se gesiggie gisteroggend toe hy opkyk van die koerant se voorblad waarop een van die parades in kleur uitgebeeld is. “Abba, wat maak ál hierdie mense? Dis mos nie nou Purim nie. Is dit hansworse van die sirkus?” het hy gevra.

Sy keel trek toe en hy onthou die byna laaste woorde in daardie hoofstuk van Esegiël. Dit was die profeet se verskriklike weergawe van wat die Allerhoogste vir hom gesê het toe Hy op die punt staan om die land aan haar vyande oor te gee: “En Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.”

Hy sien voor hom hoe Chaim se skouers ruk van die huil en sy eie gesig word nat van trane terwyl hy die bekende Aleinu-gebed bid. Selde was die woorde vir hom só betekenisvol soos op hierdie aand. “Omdat ons op U vertrou, Adonai Eloheinu, mag ons spoedig die heerlikheid van u mag aanskou. Wanneer U die gruwel van die aarde sal verwyder en alle afgodery verban sal wees, wanneer die ganse aarde volmaak sal wees onder die koningskap van die Almagtige en ál die mensekinders u Naam sal aanroep en ál die goddeloses van die aarde hulle tot U sal wend. Mag ál die bewoners van die aarde tot die besef kom en weet dat elke knie moet buig en elke tong moet trou sweer aan U. Adonai Eloheinu, mag hulle die knie in aanbidding voor U buig en u Naam die eer en verheerliking bring. Mag hulle die juk van u Koninkryk opneem en mag U spoedig u koningskap oor hulle bevestig in alle ewigheid. Die Koninkryk behoort aan U en in alle ewigheid sal U in heerlikheid regeer. Soos dit in u Tora geskrywe staan: Adonai regeer tot in ewigheid. En soos daar gesê word: ‘En Adonai sal Koning wees oor die ganse aarde.’ Daardie dag sal Adonai die Enigste wees en sy Naam die Enigste.”

“Laat dit so wees, Adonai!” prewel hy.

Krakow/Jerusalem

27 Junie tot 2 Julie 2016

21 tot 27 Sivan 5776

Die lugreëling in die vliegtuig is koud. Henok trek die dekentjie hoër teen sy vrou se keel op, versigtig om haar nie wakker te maak nie. Hy glimlag effens, verteder toe hy sien dat sy tóg tekens toon van ouer word. Die blonde, lenige, altyd-jeugdige Sarah het verlede jaar 60 geword. Dit het haar laat besluit om haar onderwysloopbaan aan die einde van die jaar te beëindig. Hy’t geweet dis vir haar geen maklike besluit nie en hy het gewonder hoe dit hul verhouding sou raak.

In die jare sedert hy ontdek het hy is Joods, hy sy beroep in Suid-Afrika opgegee en Israeli kom word het, is hul huwelik aan hewige toetsing blootgestel. Sarah het nie die diepe vervulling verstaan van wat sy Jood-wees vir hom beteken nie. Of in sy liefde vir Israel gedeel nie. Sy het hom verwyt vir sy verslawing, ’n skrille kontras teenoor sy andersins nugter denke. Vir haar was dit ’n absolute bedreiging vir hul rustige getroude lewe van meer as twintig jaar. Sy het dit vir hom duidelik gemaak dat sy géén bedoeling het om in Israel te kom woon nie. Sy het met haar beroep in Suid-Afrika voortgegaan en in hul meenthuis in Kaapstad aangebly asof hy enige dag sou terugkom.

Die gedurige herdenking van die Holocaust in Israel het sy as heeltemal oordrewe beleef. Sy’t selfs die volle omvang daarvan betwyfel. Geglo dit was nie werklik so erg nie. By die Israel/Palestina-kwessie het sy haar oor die algemeen aan die Palestynse kant geskaar en haar doof gehou wanneer Henok vir haar die ware toedrag van sake probeer verduidelik het. By haar seldsame besoeke het sy haar so ver moontlik by haar eie siening van sake bepaal. Tog het die leefwyse van Chaim en Hadassah, Rivkah se ouers, sowel as dié van Marc en Rivkah self, ’n soort bekoring ingehou wat sy alleen met sinisme kon weerstaan.

In 2015 was sy maar één maal by Henok in Israel en toe net vir tien dae. Hy het selfs begin vrees die einde van hul goeie jare saam was moontlik in sig. Hy het met hartseer getwyfel of sy ooit permanent saam met hom in die knus woonstel in Rehavia sou woon. Dus was hy verbaas toe sy laat weet het dat sy dié somer Israel toe wil kom.

Hy het met mening opgeruim, kruideniersware aangevul en blomme gekoop. Toe hy die dubbelbed met ’n nuwe duvetstel oortrek, het hy geweet hoe hy haar die laaste maande gemis het.

’n Blye verwagting, so onverwags dat dit hom verbaas, het in hom posgevat.

Die aand ná haar aankoms was dit Erev Shabbat en uiteraard is hulle na die Cohens se familiesamekoms genooi. Dit sou Sarah se eerste ontmoeting wees met Chaya, Marc en Rivkah se fraai kleinste, wat nou byna drie maande oud is. Én met Re’uven en Shlomit sonder Yaniv, wat ’n paar maande gelede in ’n terreuraanval gesterf het. Dit was vir Henok duidelik dat die verwelkoming van die Shabbat saam met hierdie mense wat die afgelope jaar soveel skakerings van pyn en vreugde meegemaak het, Sarah diep geraak het.

Terug by die woonstel het sy by hom buite op die balkon kom sit. Die nag was swetend warm. Onder hulle was Jerusalem Shabbat-stil uitgestrek. Tussen ’n paar wolkslierte het ’n maan wasig aan die horison gehang.

Hy het sy hand uitgesteek en hare daarin geneem. Hy’t die skraal wit vingers in sy groot swart hand toegevou. In ál die jare sedert hulle saam is, het dit hom steeds met ’n soort verwondering vervul.

“Ek is bly jy’s hier,” het hy eenvoudig gesê.

Sy het flou geglimlag. “Dit was vir my hartseer vanaand.”

“Re’uven en Shlomit, ken.”

“Daar is soveel pyn in hul oë. Maar ek was ook vir Marc en Rivkah jammer.”

“Hoekom sê jy dit?”

“Ek kon sien dit was vir hulle swaar om gelukkig te wees met hul nuwe baba terwyl Re’uven en Shlomit ’n kind verloor het.”

Dit het hom laat sug.

Sy was ’n rukkie stil voor sy weer gepraat het. “Maar tog … dit was asof die pyn en die bly-wees op die een of ander manier saamgesmelt het tot één emosie daar by die kerse, die wyn en die challah.”

Hy het geglimlag en haar vingers vlugtig teen sy mond gedruk. “Dit is die essensie van Jood-wees, Saartjie. In jou diepste pyn kan jy nog die blydskap van Shabbat gewaarword. En in jou groot geluk vergeet jy die pyn nooit heeltemal nie. Dis waarom ’n bruidegom op sy blyste dag ’n wynglas stukkend trap om hom aan die Tempel se verwoesting te herinner.”

Dit was ’n ruk lank stil. Uit ’n aangrensende woonstel kon hulle die fyn note van ’n vioolkonsert hoor. Iewers het kinders gelag.

“Henok …”

“Hmm?”

“Jy wonder seker hoekom ek nou na ál die tyd weer Jerusalem toe gekom het?”

Hy moes grinnik. “Ja, wel.”

“Daar is iets wat ek graag wil doen. Moet doen. Ons saam.”

“Nu?” Hy was onseker oor wat om te wagte te wees.

“Ja,” het sy geknik.

“Nou spreek die woord, dan doen ons dit. Al kos dit ook die helfte van my koninkryk,” het hy roekeloos belowe, want in die skrale lig van die straatlampe was haar oë soos hy haar vroeër geken het: donker skadu’s en haar mond ’n sagte kurwe.

“Ek wil Auschwitz-Birkenau toe gaan.”

Hy het verbaas haar hand laat gaan. “Auschwitz-Birkenau?”

Sy het haar bene opgetrek, haar arms daarom geslaan en weer geknik. “Ek weet dis nie vir jou ’n geheim dat ek nog altyd met die Holocaust gesukkel het nie. Veral die verskriklike ophef wat voortdurend hier in Israel daarvan gemaak word.”

“Never to forget,” het hy ingedagte opgemerk toe sy asemskep.

“Presies. Die ewige gehamer daarop, asof geen ander volk op aarde soveel gely het nie.”

“Waarom is dit nóú vir jou belangrik om dit te weet?” het hy gevra en sy hart het swaar begin klop.

Sy het hom nie onmiddellik geantwoord nie. Maar toe het sy sag gesê: “Omdat ek by jou wil kom bly. Ek … mis jou verskriklik noudat ek nie meer werk nie. Maar …”

“Maar?”

“Maar hierdie … ding kry ek moeilik vat aan. Dis soos ’n klip in my maag wanneer ek daaraan dink dat ek hier sou woon en altyd daaraan herinner moet word. Ek wil graag gaan kyk wat dit dan is wat ’n volk se psige nou reeds meer as 70 jaar nog so kan manipuleer.”

Hy het nie dadelik gereageer nie, want haar woorde het hom seergemaak.

“Sou dit meer as die helfte van jou koninkryk wees om my daarnatoe te neem?” het sy gevra toe hy stilbly.

Die besluit was onmiddellik vir hom duidelik. “Wanneer wou jy gaan?”

“Gou.”


Die “gou” het binne enkele weke gekristalliseer sodat hulle nou op pad Krakow toe is vir ’n paar dae waartydens hulle dan die toer na die twee uitwissingskampe sal onderneem.

Hulle het Amsterdam toe gevlieg en van daar is hulle nou met ’n KLM Cityhopper-vlug op pad Krakow toe. Dit was die laaste vlug uit Schiphol, en baie laat. Hulle sou nie vóór elfuur land nie. Dan was daar nog ’n redelike lang rit per taxi van die lughawe na die hotel in die stad toe. Hy verstaan dat sy gespanne is en dat die dag vir haar lank geword het. Dus is hy eintlik dankbaar dat sy effens weggedommel het.

Henok kyk deur die venstertjie van die vliegtuig die donker nag in. Hy dink daaraan dat hy haar liefhet en dat as hierdie besoek haar verder gaan verbitter teenoor die land en teenoor sy Jood-wees, hy baie genade sal nodig hê om dit te verwerk. Teruggaan sal hy nooit weer nie.


Toe hulle op hul eerste oggend in Krakow deur die hotelkamer se vensterraam na buite kyk, sien hulle hoe die ou geboue aan die oorkant van die straat goudbruin in die môreson verkleur. Die bome met hul nog nuwe somerblare staan byna weerloos teen die donker gesteentes afgeteken.

Toe hulle kort ná ontbyt met die toerbussie deur die stad ry, val die bome hulle ook dadelik op wat oral langs die strate nog in volle bloei staan. Daar is dieproos pruime en wit amandels wat voor die waardige ou geboue met hul rooi teëldakke en fraai hoë torings staan.

Henok se hart is swaar met ’n voorwete van wat op hulle wag. Dis nie sy eerste besoek aan Auschwitz-Birkenau nie. Meteens vind hy die uitbundige groen van die Europese somer skrynend onvanpas by dié vooruitsig.

“Dis somer,” sê hy sag.

Sarah reageer nie daarop nie. Haar hande lê styf saamgevat in haar skoot. Haar mond is strak. Sy draai haar kop weg van hom af en kyk deur die venster na die Poolse landskap wat verbygly. Hy bid sonder dat hy daarvan bewus is vir die onmoontlikheid dat die dag wat voorlê hulle genadig sal wees.

Te gou staan hulle buite die so bekende woorde Arbeit Macht Frei in sierlike draadletters bo die ingang na Auschwitz. Henok dink met verlange terug aan sy vorige besoek ten tyde van die March of the Living toe die groep volledig uit Jode bestaan het. Hy het wel hierdie keer daarin geslaag om ’n toer met ’n beperkte getal van 25 mense te bespreek, maar die grootste deel van die groep is Amerikaanse toeriste wat nogal luid op alles kommentaar lewer.

Miskien is hulle ook nie só lawaaierig nie, dink hy skuldig. Dis meer dat Sarah se reaksie hom senuagtig maak.

Agter ’n groot netjiese grasperk waar dig beblaarde bome lang skadu’s gooi, kry hulle die eerste gesig van die bruin siersteengeboue met hul rooi teëldakke. Hulle stap langs die omringende hoë heinings wat bolangs elektries bedraad is. Toe hulle deur die hek gaan, lê die lang rye baksteenbarakke voor hulle.

“Ek het altyd gehoor dit was sulke bedenklike strukture waarin hulle die mense aangehou het, maar hierdie is goed geboude dubbelverdiepingkasernes!” mompel Sarah en kyk hom amper verwytend aan.

Die gids het haar egter gehoor en sy verduidelik vinnig dat hierdie die barakke van Auschwitz I is. Voor die oorlog was dit die Poolse weermag se kasernes. Auschwitz II en die Birkenau-vrouekamp se voorafvervaardigde geboue was eintlik vroeër perdestalle wat opgerig is tydens die stryd teen die Sowjetunie. Maar van dié geboue is daar nog net ’n paar oor in Birkenau. Die Nazi’s het bykans alle bewyse vernietig voor hulle gevlug het. Die barakke wat hulle hier besigtig, is behou en dien nou as die museum.

Hulle stap verby die eerste klomp enkelverdiepinggeboue na die groter kasernes verder aan. By een van hulle neem die gids die toergroep na binne. Toe hulle met die breë trappe na bo gaan, weerklink hul voetstappe hol op die barre sement. Buite was die sonnetjie al redelik warm, maar hier binne slaan die koue teen hul bene op. Een van die toerlede giggel senuagtig.

“Creepy,” sê iemand.

Henok dink rillend aan hoe dit moes gewees het tydens die langdurende Poolse winters wanneer die temperatuur ver onder vriespunt gedaal en dit hewig gesneeu het.

Hulle kyk na die primitiewe waskamers van sement en staal, en die oop rye toilette sonder enige verskansing vir selfs die geringste privaatheid. Henok merk sydelings hoe Sarah haar onderlip vasbyt. Hy weet hoe belangrik privaatheid vir haar is. Maar hy weet van beter as om ’n opmerking daaroor te maak. Hy voel self hoe sy hart saamtrek aan die gedagte hoe verskriklik dit vir die vroue moes wees.

Verslae staan die groep in die vertrek waar die hare van die mense wat vergas is in yslike stapels lê.

Dan kom hulle by die vertrek gewy aan die duisende kinderslagoffers van die Holocaust. Daar is groot swart-en-wit-foto’s, klere en ander aandenkings. Dit val Henok op dat ’n toeris, die ma van twee jong kinders, hul skouers impulsief styf vashou. Haar kneukels slaan wit deur.

Die herinnering aan sy eie klein Patrick wat in die afgryse van Kassinga gesterf het, kom weer by hom op. Die seuntjie in die rooi jassie en steweltjies is meteens voor hom. So geweldig dat hy sy oë toeknyp.

Hierna is daar die kamer wat die onmenslike verhongering in die kamp uitbeeld. Uitgeteerde liggame met hol oë kyk na die kamera. Die aangrypende beeldhouwerk van ’n vel-en-been-mens laat sommige in die groep beskaamd hul oë neerslaan.

Later staan hulle voor een van die groot vertoonrame waaragter half verroeste blikke van soveel jare gelede in ’n enorme stapel lê.

“Zyklon B-houers,” verduidelik die gids.

“Dit is waarmee die mense vergas is?” vra iemand.

Die gids kyk af. “Dis reg,” sê sy sag.

Dan is daar die raam waaragter tientalle gebedsjaals met die wit en blou of wit en swart bane en tossels aan die some opgevou lê. Die lig wat deur die klein venstertjies bo in die muur val, laat die syagtige voue sag glim. Henok se keel brand so geweldig dat hy met sy vuis teen sy mond druk om sy emosies te beteuel.

Hy voel Sarah aan sy arm druk. “Is jy oukei?”

“Nee,” prewel hy.

Sy vat sy arm stywer vas en toe hy na haar kyk, sien hy dat sy bleek is.

Hy skud sy kop. “Dis goed,” sê hy gedemp, maar voel magteloos hoe sy oë vol trane skiet. Hy draai weg van haar af en stap agter die groep aan.

Die gids se blik ontmoet syne vir ’n oomblik. Hy sien deernis daar. Miskien besef sy hy is ’n swart Jood.

Die volgende uitstalling is veel meer ontstellend, maar Henok het nou weer sy emosies onder beheer. Hy kyk stil na die lang ry vertoonvensters waaragter tallose kunsledemate, krukke, opgeboude skoene, metaalrugstutte en elke ander moontlike hulpmiddel te sien is. Die groep het byna heeltemal stil geword. Selfoonkameras flits gedurig.

“So báie?” vra ’n tiener in die groep.

“Meer as ’n miljoen en ’n half mense het hier gesterf,” herinner die gids haar.

Toe hulle al aanstap, bly Sarah nog ’n rukkie staan.

Hulle loop langs die chaos van honderde bekertjies, teepotjies en kommetjies van emalje; langs die massas kamme en borsels; verby die berge skoene van elke denkbare soort.

Elkeen van hulle was aan iemand se voete wat hulle nooit weer sou aantrek nie, dink Henok. Hy sien ’n paar fyn sandaaltjies en wonder hartseer hoe jonk die draer daarvan moes gewees het. Skaars ’n tiener seker, anders het sy nie by dr. Mengele se keuring verbygekom nie.

Die versameling brille bring duidelik by die groep groot emosie op. Henok merk gesigte met trane op die wange. Die luidrugtigheid wat hom vroeër in die dag geïrriteer het, het heeltemal stil geraak.

Agter die volgende lang vertoonvenster met stapels bagasie, koffers en tasse van elke vorm en grootte wil iemand by die gids weet waarom elke bagasiestuk so opmerklik met wit ink gemerk is.

“Die mense is aangesê om ál hul bagasie duidelik met naam en adres te merk sodat hulle weer hul besittings sal herken wanneer hulle uit die ‘stortkamers’ terugkom.”

“Maar hulle het mos nie weer teruggekom nie,” sê die seuntjie vir sy ma.

Sy slaan haar arm om sy skouer en skud net haar kop.

Henok merk ’n kleinerige leerkoffer heel voor waarop in groot wit letters geskryf staan: Klara Sara Goldstein, Rote Kreuz-Gasse 5. Hy byt sy onderlip vas en kyk nie na Sarah nie.

By die volgende vertoonvenster hoor Henok sy vrou haar asem skerp intrek. Babaklere. ’n Fraai wit satynrokkie en truitjies met patrone in gebrei. Piepklein skoentjies. ’n Aangetrekte pop waarvan die kop af is. Sarah kyk hom bleek aan, haar mond weerloos van ellende, maar sy sê niks nie. Hy voel na haar hand, maar sy druk dit vinnig in haar broeksak.

Hy besef sy veg teen die ontroering wat haar wil oorweldig en hy dwing nie aanmerkings op haar af nie.

Eindelik is hulle buite en adem almal verlig die vars buitelug in. Voor hulle strek die lang ry barakke aan elke kant van die pad uit.

Henok se binneste trek benoud saam toe hy besef die gids is met hulle op pad na Blok 11 toe. Hy neem Sarah aan die arm en kyk af in haar gesig.

“Is jy moeg?” is ál wat hy kan dink om sy emosie te formuleer.

“Nee!” sê sy vinnig, maar toe verslap haar mond effens. “Dis baie interessant.”

Hy haal diep asem. “O.”

Voor hy iets verder kan sê, begin die gids oor haar mikrofoontjie praat.

“Dis die berugte Blok 11,” sy wys na die wit geverfde nommer by die ingang. “Auschwitz I se gevangenis. Die gevangenes van Auschwitz I en van Birkenau is hierheen gebring om gestraf te word vir wat die Nazi’s as ernstige oortredings beskou het. Dinge soos sabotasie in die Auschwitz-fabrieke of poging tot ontsnapping. Politieke gevangenes van buite die kamp is ook hier aangehou terwyl hulle verhoorafwagtend was. Die Gestapo se hof was in hierdie gebou.”

Sy neem die groep linksom die gebou. Hulle gaan staan voor ’n muur wat tussen Blok 10 en 11 loop. Teen ’n groot gedeelte van die muur is kranse gelê.

“Dit is die muur van die dood,” sê sy. “Hier is die gevangenes onmiddellik tereggestel nadat hulle in die hof skuldig bevind is.”

Henok kyk op na die bome met hul diepgroen blare wat bokant die muur teen die blou lug uittroon en hy snak na sy asem wat kort word in sy keel. Hy doen dit sag, want Sarah staan styf teen hom aan. Hy durf nie na haar kyk nie; al voel hy haar ril.

Die gids wys na betonversperrings wat voor elk van die kelderverdiepings se vensters gebou is. “Dit was om te verhinder dat die gevangenes in die kelderverdiepings na buite kon kyk.”

“Maar hulle sou tog kon hóór wat gebeur!” roep ’n vrou ontsteld uit.

“Hulle sou,” sê die gids gedemp. “Ek wil net sê dat een van hierdie selle dié is waar vader Maximilian Kolbe, die Poolse priester wat aangebied het om die plek van ’n veroordeelde Pool in te neem, gelaat is om van honger en dors te sterf.”

“Vertel vir ons die storie,” vra ’n man in die groep wat dit kennelik al gehoor het.

Die gids glimlag toegewend.

“Daar was ’n reël hier in Auschwitz waarmee die Nazi’s enigeen wou ontmoedig wat die gedagte gehad het om te ontsnap. As iemand wel daarin geslaag het om weg te kom, is tien ander in sy barak uit vergelding doodgeskiet. In 1941 het ’n man skynbaar uit vader Kolbe se kelderverdieping ontsnap. Die aaklige ironie van die storie is dat die lyk van die sogenaamde ontsnapte later in een van die kamp se latrines gevind is. Verdrink. Daar was dus geen rede vir die verskriklike vergelding nie. Maar ál die ander mans in die kelderverdieping is nietemin na buite geneem.”

Die jong gids trek haar asem in en roep toe dramaties so hard dat almal ruk van die skrik.

“‘Die vlugteling kan nie gevind word nie! Julle gaan hiervoor betaal! Tien van julle sal in die bunker sonder kos of water toegesluit word tot julle dood is!’” Haar stem keer terug na normaal. “So het kommandant Karl Fritzsch geskree.”

Haar gesig verkleur voor sy verder vertel: “Natuurlik het dit die gevangenes met angs vervul. Hulle het geweet ’n paar dae in daardie vertrek sonder kos en water laat jou binnegoed opdroog en jou brein soos vuur brand.”

Die mense luister stil.

“Die tien mans is uitgesoek. Een van hulle was Franciszek Gajowniczek. Hy was daar omdat hy die Poolse ondergrondse beweging gehelp het. Hy kon homself nie keer nie en het wanhopig uitgeroep,” weer die dramatiese stem: “‘My arme vrou! My arme kinders! Wat sal van hulle word?’

“Toe vader Maximilian die verskriklike kreet hoor, het hy stil vorentoe gestap. ‘Ek is ’n Katolieke priester,’ het hy gesê, ‘ek sal in sy plek gaan. Ek is oud. Hy het ’n vrou en kinders.’”

Die man wat die storie aangevra het, kan nie langer stilbly nie. “Toe die kommandant hom hoor praat, het hy gegil: ‘Wat sê die Poolse vark daar?’”

Die gids glimlag flou. “Dis reg. Vader Maximilian het natuurlik Pools gepraat. Hy het hier gesterf, terwyl Franciszek Auschwitz oorleef het.”

Hulle stap nog verby Blok 21 met die effens verweerde aanduiding bo die ingang: Chirurgische-Abt. Eintritt Verboten.

“Hier is baie van die grusame eksperimente op mense uitgevoer,” vertel die gids voor hulle verder gaan.

Verby die paradegrond waar die gevangenes baie ure op aandag moes staan om oor en oor getel te word, stap die toergroep. In reën, in sneeu, in die blakende son, dag vir dag moes hulle daar aantree. Die galg waar mense ten aanskoue van die hele kamp opgehang is. Ná die Neurenberg-verhore is die kampkommandant ook hier gehang.

Van daar stap hulle terug na die toerbussie om na Birkenau te ry.

Dit duur dan ook beswaarlik vyf minute voor hulle daar aankom. Hulle stap deur die ingang en ’n ent langs die spoorlyn op. Toe hulle omdraai en terugkyk, lê die so bekende toneel van Birkenau voor hulle. Die rooi baksteenpoort met sy toring bo-oor die deurgang vir die treine en die spoorlyn met die verweerde dwarslêers wat daarvandaan na die Birkenau-kamp lei. Weer klik die kamera’s onafgebroke.

Die groep loop met die grondpad verder. Onder hul voete knars die gruis in die stilte. Verder op langs die spoorlyn staan daar een van die houtspoorwaens waarin die gevangenes vervoer is. Daar is hier en daar gleuwe tussen die houtsparre waardeur dié wat daar teenaan gestaan het, miskien ’n bietjie vars lug sou kon inasem.

“Daar was ongeveer 70 tot 80 mense in een wa,” verduidelik die gids, “vir dae lank.”

“Daar kan mos nie so baie bankies inpas nie!” sê ’n seuntjie, verleë teen sy ma aangedruk.

“Daar was nie bankies in nie. Hulle moes op die grond sit, styf op mekaar. Of staan,” antwoord die gids oor haar mikrofoontjie.

“Daar’s nie vensters nie,” sê die kind weer sag.

Niemand antwoord hom nie en die groep stap sonder om te praat verder.

Kort daarna staan hulle voor die swart verbrande ruïnes van die krematorium. Hulle luister na die klein blonde gids se afgryslike relaas. Behalwe vir hierdie een, was daar ook nog drie ander krematoriums in Birkenau. Toe dit begin duidelik word dat die Duitsers die oorlog verloor, het die kampkommandant in November 1944 die opdrag gegee dat die gaskamers en krematoriums vernietig moes word,” vertel sy. “Op 20 Januarie 1945 het die SS alles opgeblaas wat nog oorgebly het. Hulle het alles probeer vernietig wat kon verklap wat daar gebeur het. Die een waarvoor ons nou staan, Krematorium II, was tussen Maart 1943 en November 1944 in gebruik. Dit het ’n gaskamer bevat en vuuroonde om lyke te verbrand.”

“Altesaam vyfhonderdduisend Joodse mans, vroue en kinders is hier in Krematorium II met Zyklon B-gas vermoor en hul lyke is daarna verbrand. Ook die lyke van Joodse en nie-Joodse gevangenes wat in die kamp gesterf het, is hier verbrand. Volgens die berekeninge van die Duitse owerheid kon daar elke 24 uur 1 440 lyke in ’n krematorium veras word.” Sy sluk effens. “Maar die getuienis van oorlewende inwoners dui daarop dat die getal veel hoër was.”

“Is dit net Jode wat hier vergas is?” vra iemand.

Die gids skud haar kop. “Nee. Verreweg die grootste meerderheid was wel Jode, maar ook Poolse politieke gevangenes en sigeuners is hier om die lewe gebring. Behalwe die vier en soms vyf krematoriums wat tussen 1943 en einde 1944 in werking was, is baie lyke ook op brandstapels in slote verbrand.”

“Brandstapels?” prewel iemand geskok.

Die gids knik. “Ja. Die mense is tot op die rand van ’n diep sloot gebring, beveel om ál hul klere uit te trek en is dan van agter geskiet sodat hulle in die sloot geval het. Soms is die liggame net met grond toegestoot. Soms is dit daar in die slote verbrand.”

“En as iemand nie dood was nadat hy geskiet is nie?”

“Dan … ek weet nie. Jy kan self dink …”

“Grusaam,” fluister ’n vrou. “Ek kan nie glo dat mense so iets aan ander kan doen nie.”

Die gids skud haar kop. “Dit was voor die krematorium op groot skaal oorgeneem het. Maar selfs daarná het dit nog voorgekom dat hulle … dit gedoen het as die krematorium nie kon voorbly nie.”

Henok kyk nie na Sarah nie, maar hy het haar langs hom haar asem vinnig hoor intrek.

Hulle stap deur die gras wat nog nat is van die vorige nag se reën en gaan in by die deure van een van die oorblywende slaapsale van Birkenau. Daar is dit koud en donker. Deur die gleuwe tussen die bakstene in die swak geboude mure syfer die daglig van buite deur. Aan albei kante van die lang gange is daar sementslaapbanke in drie lae bo mekaar gebou met houtplanke tussenin.

Henok ril by die gedagte aan hoe verskriklik koud dit in die lang, nat winters daar moes gewees het; hoe skamel die klere was met byna geen sprake van beddegoed nie.

“Hier het meestal tot tien of meer mense op een so ’n bank geslaap,” vertel die gids.

“Op ’n oppervlak van 1,5 m by 1,5 m?” Die persoon wys na die houtbanke. “Tien mense? Dit kan nie wees nie.”

“Dit was,” sê die gids.

“Nee …” prewel iemand.

“Ja. En almal het probeer om op die boonste bank uit te kom. Diarree was algemeen en … mense kon nie maklik by ’n toilet uitkom nie. Soos julle kan sien, was die planke wat die lae skei, nie dig teen mekaar nie. Die mense wat op die onderste banke geslaap het …”

“Verskriklik!” fluister ’n vrou voor hulle.

Toe voel Henok hoe Sarah se hand onder sy regterelmboog deurkruip en hoe haar vingers aan sy baadjie klem. Hy kyk steeds nie na haar nie, maar sy linkerhand vou om hare.

Die gids vestig hul aandag op ’n kennisgewing teen een van die dakvensters bokant die gang: Sauberkeit = Gesundheit.

“Om skoon te wees is gelyk aan gesondheid,” verduidelik sy die Duits aan die groep. “Vir die Jode wat gedwing is om in hierdie vieslike barakke te leef, moes dit vreeslik gewees het om dit elke dag te lees, want in hierdie hel was dit onmoontlik om skoon te wees. Daar is van hulle verwag om luise van hulself af te trek, want ’n ander waarskuwing het gelui: Een luis op jou sal jou dood beteken.”


Laatmiddag, op pad terug, toe net nog hulle twee van die groep oor is, keer die gids haar na Henok. “Ek het gewonder,” sê sy huiwerend, “of u dalk sou belangstel. Hier in Krakow is ’n bejaarde man tans op besoek. Hy is ’n familielid van die Joodse dokter wat as assistent van Mengele in Auschwitz-Birkenau gewerk het. As u wil, kan ek moontlik met hom reël om môre met u te gesels. Hy sal u heelwat meer kan vertel as wat ek vandag kon.”

Voor Henok kan antwoord, praat Sarah. “Dit sou ek graag wou doen.”

Hy kyk verbaas na sy vrou. “Sou jy?”

“Heel graag,” sê sy.

Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10)

Подняться наверх