Читать книгу Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10) - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Krakow

3 Julie 2016

27 Sivan 5776

By die Best Western Hotel waar die Kambungus tuisgaan, meld ’n bejaarde man, kennelik in sy laat tagtigs, delikaat van bou, maar met ’n woeste bos vergrysde hare en ’n kenmerkende Joodse neus, hom die volgende môre teen teetyd aan.

Henok steek sy hand uit. “Henok Kambungu.”

“Yitzchak Szesztay. Shalom.” Hy kyk duidelik ietwat onseker na die groot swart man voor hom. “U is Joods?”

“Ek is,” sê Henok, al gewoond aan die vraag. Selfs al word dit nie altyd uitgespreek nie, is dit tog tydens die bekendstelling leesbaar op die ander se gesig.

“Ek het dit wel laat in my lewe agtergekom. My ma was ’n Etiopiese Jood en my pa ’n Ovambo uit Namibië.”

“Henok,” herhaal die ou man stadig, sy Engels swaar geaksentueer. “Moet dus na regte Chanok heet?”

“So is dit,” sê Henok verleë. “Dit is my vrou, Sarah.”

Hy neem Sarah se hand. “U is nie Joods nie?”

Sy skud haar kop.

“Sará is wel ’n Joodse naam.”

Sarah verkleur ligweg. “Dis eintlik Engels.”

Miskien het Yitzchak haar nie goed gehoor nie, want hy sê: “Chanok en Sará uit Yerushalayim, ’n voorreg.”

Hulle gaan die hotel se koffiewinkel in en Henok bestel elkeen se keuse.

“Wel,” sê Yitzchak toe hulle klaar is met die nodige gemeenplase, “ek begryp dat julle meer van Miklós Nyiszli se werk saam met dr. Mengele wil weet. ’n Joodse dokter en die assistent van een van die gruwelikste moordenaars van Jode … Die lewe lewer inderdaad vreemde vennootskappe op. Nie dat Miklós in die aangeleentheid veel sê sou gehad het nie. Tog is dit grieselrig om aan te dink.”

“Hoe was dr. Nyiszli aan u verwant?” wil Sarah weet.

“Sê tog maar vir my Yitzchak, Sará. Dis onnodig om so formeel te wees.”

Sy knik.

“Miklós Nyiszli was ’n broerskind van my moeder en byna 30 jaar ouer as ek. Ek self het hom maar een maal ontmoet. By ’n soort reünie van die weinig Shoah-oorlewende familielede in Boekarest. Boekarest is baie ver van Warskou af waar ek grootgeword het.”

“Van watter jaar is hy gebore?” vra Sarah.

“1901. Ek was 15 toe die oorlog tot ’n einde gekom het. Uiteraard het ek in daardie jare vreeslik baie van die Shoah te hore gekom …”

“Jy en jou familie was nie in die kampe nie?” val Sarah hom in die rede.

Hy skud sy kop. “My vader was ’n advokaat en die regsfirma waar hy ’n vennoot was, het ons – vir hom, my moeder, my en my suster – van ’n onderduik-adres op die platteland voorsien waar ons twee jaar lank wonderbaarlik verborge gebly het. ’n Groot aantal van ons wyer familie het egter in Auschwitz-Birkenau omgekom.”

Hul koffie word bedien en Yitzchak roer ’n rukkie ingedagte daarin voor hy verder praat.

“Om terug te keer tot Miklós. By die enkele familiesaamtrek waar ek hom te sien gekry het, wou hy self nie veel praat nie. Hy was duidelik nog uiters getraumatiseer. Maar tussen die familielede het ek soveel van sy storie gehoor dat dit my aangegryp het. Hy is in 1956 op 55-jarige leeftyd oorlede. Dit het my aangevuur om navorsing te doen oor die tydperk waarin hy verplig was om saam met Mengele te werk.”

“Hy het tog seker die keuse gehad om te weier …” prewel Sarah.

“Sekerlik het hy. Dan kon hy saam met sy vrou en dogter die oonde ingaan of op die een of ander gewelddadige manier aan sy einde gekom het. Mengele sou wel ’n plaasvervanger kon kry om dieselfde werk te doen.”

“Hoe kan ’n mens ’n dokter wees en mense vermoor?”

Henok laat Sarah ál die vrae vra wat sy moet vra.

“Die hart van die mens is in staat tot afgryslike wreedhede, Sará, maak nie saak te midde van hoeveel kultuur jy grootgeword het nie. Josef Mengele was ’n doktor in die filosofie en medisyne. Hy het hom in 1938 by die SS aangesluit. Hy is in 1911 gebore. Hy was dus 27 en nie ’n opgesweepte tienerjarige toe hy die besluit geneem het nie. Hy het willens en wetens gekies om dit te doen.

“In die SS het hy verskillende mediese poste beklee. Voor hy Auschwitz toe gekom het, het hy as dokter in die reserwe-infanteriebataljon aan die Oosfront diens gedoen. Hy is daar gewond en het toe aansoek gedoen vir diens in ’n konsentrasiekamp …”

“Hy het daarvoor áánsoek gedoen?”

“Dis reg, Sará, hy het daarvoor aansoek gedoen. Spesifiek vir Auschwitz. Hy het in Mei 1943 as dokter by die Sigeunerkamp in Auschwitz-Birkenau begin werk. Toe dié betrokke kamp in Augustus 1944 gesluit is, is hy tot hoofarts in Birkenau bevorder. Drie maande later het hy beheer oorgeneem van die SS-hospitaal waarby hy tot met die ontruiming van die kamp in Januarie 1945 betrokke was.”

“Ek het gedink hy was baie langer in Auschwitz. ’n Mens hoor gedurig soveel oor hom in Israel.”

Yitzchak skud sy kop. “Nie oor die lengte van sy verblyf nie, Sará, maar oor waarmee hy in daardie tyd besig was. Die hele tyd vanaf Mei 1943 het hy toesig gehad oor die keuringsproses van gevangenes wanneer hulle op die stasie aangekom het wat julle gister by Birkenau gesien het. Daar was hy in beheer, sowel as oor die reeds geregistreerde aangehoudenes. Mengele is hoofsaaklik berug vir die eksperimente wat hy uitgevoer het op vroue wat swanger was met meer as een kind. Die erflikheid van tweelinge en dwerge het hom blykbaar gefassineer. Dan het hy ook navorsing gedoen rondom ’n toestand wat as ‘noma’ bekend staan.”

“Wat is dit?” wil Sarah dadelik weet.

“Dis ’n soort gangreen wat die slymmembraan in die mond en ander gesigweefsel vernietig. Dit slaan toe onder ondervoede kinders in omstandighede waar sanitasie en higiëne gebrekkig is. Dit word die siekte van armoede genoem.”

“Ideale toestande daar vir hom om daaroor navorsing te kon doen,” sê Henok bitter.

Yitzchak knik. “Die slagoffers van noma is gewoonlik kinders onder die ouderdom van ses wat vasgevang is in die wrede omstandighede van uiterse armoede en chroniese wanvoeding. Uiteraard die omstandighede in die kamp. Dit is ’n geweldig pynlike toestand.”

Sarah draai haar kop weg en Henok sien hoe sy senuweeagtig haar romp reguit stryk.

“Hoe het dit gebeur dat dr. Nyiszli vir Mengele begin werk het?” vra Henok.

Die ou man sug effens. “Chanok, in die meer as 50 jaar wat ek Miklós se storie al aan die wêreld vertel, het dit in ’n groot mate soos my eie geword. Byna asof ek dit self beleef het.”

“Dan is dit ’n voorreg vir ons om na jou te luister.”

“Miklós, sy vrou, Margareta, en hul dogter, Zsuzsana, het in Mei 1944 in Auschwitz aangekom. Julle het die veewaens gesien waarin die mense vervoer is. ’n Mens kan jou beswaarlik die toestand voorstel van 70 tot 80 swetende lywe saamgepers in so ’n wa. Om nie te noem die stank van oorvol toiletemmers nie. Vier dae lank al op pad. Dit was die eerste transport van die sogenaamde Hongaarse Jode na Auschwitz.”

“Hoeveel mense sou altesaam in so ’n transport wees?” vra Sarah.

“Wel, daar was tot 40 van hierdie veewaens aan elke lokomotief gehaak …”

“Byna vierduisend. Kan dit wees?”

“Ja, Sará, dit kón wees. Ons weet uit ’n telegram gedateer 9 Julie 1944 wat uit Boedapest gestuur is – twee maande nadat Miklós en sy gesin in Auschwitz-Birkenau aangekom het – dat 437 402 Jode na Auschwitz gedeporteer is. Die Nazi’s het noukeurig boekgehou, weet jy?”

“Moeilik om te glo!”

Henok is nie seker of Sarah uit skok of sinisme reageer nie. Sy het dit egter sag gesê.

Yitzchak het dit in elk geval nie gehoor nie. “In ’n boek wat Miklós geskryf het, vertel hy dat daar in sy wa 26 dokters, agt aptekers, hul vroue en kinders en ’n paar ouer mans en vroue was – die ouers van sy kollegas. Almal Jode.”

Henok sis saggies deur sy tande.

“Op die stasie aangekom is die slotte van die deure oopgesluit en almal moes uit. Alles moes agtergelaat word; slegs handbagasie mog mee. Dit kon nie maklik gewees het vir mense wat so lank nie beweeg het om die meter en ’n half van die wa tot op die platform te spring nie. Mans moes hul vroue en kinders help terwyl die wagte op hulle skree. ‘Raus! Raus! Schnell!’”

“Vierduisend mense,” sê Sarah weer.

“Dit is waar Miklós dr. Mengele die eerste keer gesien het. Hy het hom so beskrywe: ’n Jong SS-offisier met blink stewels tot aan sy knieë en goue kokardes op sy epoulette. Dit was vir hom duidelik dat hy die een was wat die ander SS-manne opdrag gee. Miklós kon aan die eskulaap-simbool op sy arm sien dat hy ’n mediese dokter was. Ook dat hy in beheer van die keuring was …”

“Het die keuring dan daar op die platform al begin?” val Sarah hom in die rede.

“Die mans is onmiddellik van die vroue en kinders geskei. Enigiemand onder 14 jaar moes by hul moeders bly.”

“Dit moes geweldig traumaties gewees het,” sê Henok, “om summier van jou gesin weggeneem te word.”

“Dit was altyd ’n konsternasie. Maar die wagte het dan verduidelik dis net ’n kwessie dat hulle gaan stort en ontsmet word. Daarna sou hulle met hul gesinne herenig word. Miklós skryf dat hy in die tyd wat dit geneem het om vierduisend mense te skei, ’n kans gekry het om rond te kyk. Die eerste ding wat hy raakgesien het, het hom koud laat word. Dit was ’n enorme rooi baksteenskoorsteen, vierkantig van vorm en effens nouer aan die bopunt. Dit was deel van ’n formidabele tweeverdiepinggebou, ook van rooi baksteen, wat soos ’n soort fabriek gelyk het. Maar die skoorsteen was een wat hy nog nie tevore by ’n fabriek gesien het nie. Wat hom verstom het, was dat dit ’n kolom vlamme ’n paar meter hoog die lug in geskiet het.”

“Krematorium,” sê Henok gedemp.

Yitzchak knik. “Dit het hy byna onmiddellik besef. Hy het ook gemerk daar was ’n entjie verder nóg een. En oplaas het hy ’n derde agter die bome opgemerk. ’n Effense windjie het die rook in hul rigting gewaai en hy het geweet die mislike reuk is dié van hare en vleis wat brand.”

“O my genade,” kreun Sarah so sag dat net Henok dit hoor.

Yitzchak vee met sy oop hande die grys hare van sy voorkop af weg. Sy vingers bewe effens. “Miklós kon nie te lank wonder oor dié gesig nie, want die volgende stadium van die keuring het al begin. Mans, vroue en kinders moes in ’n enkel ry voor die SS-komitee, met Mengele as keurarts aan die hoof, verbyloop. Met ’n enkele handbeweging is die mense weer in twee groepe verdeel, sommige na links en die ander na regs. Miklós het gou agtergekom dat, behalwe die vroue met kinders onder 14 jaar, almal wat na links verwys is, hoofsaaklik ouer mense was en dié wat afgetakel, siek of baie moeg daar uitgesien het.”

“Hoe oud was sy eie dogter?” wil Sarah weet.

“Sy was 15. Hy kon sien dat Margareta en Zsuzsana na regs beduie word. Na die groep wat gelyk het asof hulle fiks genoeg is vir werk.”

“Kon enigeen nog fiks gelyk het ná so ’n reis?”

Yitzchak trek sy skouers op en beduie met sy hande. “Hoe dit ook al sy, dis hoe hulle verdeel is. Rooi Kruis-bussies het van die hoog bejaardes, dié wat ernstig siek was en gestremdes opgelaai, en het in dieselfde rigting as die links-gekeurdes verdwyn.”

“Wat het van Miklós geword?”

“Mengele het ál die dokters van die regterkantste groep gevra om na vore te tree. Daar was omtrent 50 van hulle. Hy het iemand gesoek wat aan ’n Duitse universiteit klaargemaak het, deskundige kennis van outopsies gehad het en bekend was met forensiese medisyne. ‘Jy moet onvervalste kwalifikasies hê,’ was sy woorde, “‘of anders …’ Hy het met sy hand oor sy keel beduie.”

“En dít was Miklós.”

“Dit was Miklós, Sará. Hy was die enigste een daar wat so ’n kwalifikasie gehad het. Hy moes presies uitlê waar hy studeer het, onder watter professor hy geleer het om outopsies te doen, watter owerheid hom toelating gegee het om forensiese medisyne te praktiseer, ensovoorts.

Blykbaar het sy antwoorde Mengele tevrede gestel, want hy is beveel om eenkant te staan terwyl die res van die groep aangesê is om na die kamp te marsjeer. Die linkerkantste groep is in ’n ander rigting geneem.”

Daar heers vir ’n rukkie ’n veelseggende stilte. Die kelner het met die koffiekan nader gekom en hul koppies weer opgevul.

Nadat hy ’n slukkie geneem het, praat Yitzchak weer: “Miklós vertel dat hy hom ’n paar minute byna alleen op die perron bevind het. Maar toe word die stilte verbreek deur gevangenes in gestreepte uniforms wat besig was om ál die bagasie wat in die waens agtergelaat is, uit die trokke te haal en in vragmotors te laai. Mengele het nog ’n paar opdragte aan SS-ondergeskiktes gegee, toe in sy Opel-motor agter die stuur gaan sit en vir Miklós beduie om in te klim. Hulle is deur ’n hek wat eerbiedig vir Mengele oopgemaak is die kamp in en met die middelste pad af tussen die rye barakke deur.”

“Dis nou Auschwitz of Birkenau?” wil Sarah weet.

“Birkenau. Waar julle gister laaste was en waar die krematorium was wat deur die Duitsers verwoes is.”

Sy knik.

“Hy is na die Schreibstube geneem om ingeskrywe te word.” Daar kom ’n vreemde trek om die ou man se mond. “In sy boek verwys Miklós na die mans wat daar agter ’n paar lessenaars gesit het. Almal in gestreepte uniforms en met kaalgeskeerde koppe. Hulle het intelligente gesigte gehad, skryf hy. Sonder ’n woord het hulle almal onmiddellik op aandag regop gekom.”

“’n Mens kan jou alleen maar voorstel watter professies hierdie manne voorheen beklee het. Advokate, prokureurs, dokters, onderwysers, professore.”

“Ken, Chanok, ken. Die room van Europa se Jode.” Yitzchak sug, stryk weer oor sy voorkop. “Miklós moes uiteraard al sy persoonlike details gee wat alles in ’n groot lêer vasgelê is voor hy ’n indekskaart gekry het. Daarna is hy deur ’n SS-offisier na ’n barak gebring. Hierdie keer was die aanwysing bo die ingang: Bad en Ontsmetting. Hy is volledig deursoek en moes ál sy klere uittrek. Sy kop is kaal geskeer en toe moes hy stort. Die kalsiumchloried in die water was so sterk dat hy ’n paar minute lank nie sy oë kon oopmaak nie.”

“Kan enigiets meer vernederend wees?” Henok skud sy kop.

Die ou man knik.

“Ken. Hy het egter nie ’n gestreepte uniform gekry nie, maar ’n ordentlike skoon grys hemp en swart broek. Sy skoene het hy wel teruggekry, maar eers nadat dit in ’n emmer met chloor geweek is. Hy sê hy kon nie help om te wonder wat van die vorige persoon geword het wat die klere gedra het nie. Een van die gevangenes het sy linkermou opgeskuif en baie handig en gou ’n nommer op sy voorarm getatoeëer. Dr. Miklós het ophou bestaan. Hy was nou eenvoudig nommer A8450, ’n konsentrasiekampgevangene.”

Henok laat sy asem stadig uit en skud sy kop.

Sarah kyk af op haar hande in haar skoot. “Het hy ook in een van die kasernes gaan bly?” vra sy gedemp.

“Ken, in die amptelike hospitaalkamp F se dokterskwartiere in Blok 12.”

“Watse soort hospitaal was dit?”

“Hospitaal?” Yitzchak lag smalend.

“Nu, die gebou was ongeveer 100 m lank, met ’n lang gang in die middel en drie lae slaapbanke. Dit was vol gepak met siek gevangenes. Toe Miklós daar aankom, het die sogenaamde blokopsigter, ’n krimineel uit ’n tronk in Duitsland, maar nogtans ’n Reichsdeutcher – die besef duidelik by Miklós tuisgebring dat die Auschwitz-konsentrasiekamp nie ’n werkskamp was nie, maar die Reich se vernaamste uitwissingsfabriek.”

“Fabriek …” herhaal Sarah sag, onbewus dat sy dit doen.

“Uit sý stories kon Miklós ’n duidelike prentjie kry van wat die lewe in die kamp beteken. Tienduisend gevangenes is in die primitiewe barakke saamgehok. Geleenthede wat vir slaap toegelaat is, was bitter weinig. En dan moes jy probeer om tussen die ander liggame op iemand anders se bene óf kop óf lyf gelê te kry.”

“Maar dis mos nie moontlik nie,” prewel Sarah.

’n Siniese laggie kom weer uit Yitzchak se mond. “Miskien nie vir jou en my nie, Sará, maar vir hulle was daar nie ’n ander moontlikheid nie.”

“Behalwe die oonde.”

“Behalwe die oonde, Chanok.” Hy sug effens. “Die blokopsigter het hom in besonderhede vertel van die weeklikse keuring in die barakke en kamphospitale waarna die slagoffers in vragmotors gelaai en na die krematorium ’n paar honderd meter daarvandaan gery is. Maar om terug te kom na die slaapgeriewe vir gevangenes. Die nagstilte in die kamp het soggens om drieuur geëindig. Die funksionarisgevangenes – m.a.w. dié wat gedwing is om saam met die blokopsigter te werk – het hul medegevangenes met knuppels wakker geslaan. Almal is dan uit die barakke gedryf om buite rye te gaan vorm. Of dit nou gesneeu of gereën het, het geen verskil gemaak nie. Dis hoe een van die onmenslikste items in die konsentrasiekamp dag ná dag begin het. Die Appell. Ek … wil nie eintlik daarop ingaan nie.”

“Maar hoekom was dit nodig?” Sarah kyk nie op nie.

“Hoekom? Niemand het geweet hoekom nie. Niemand het eens so ’n vraag gestel nie. In die konsentrasiekamp het niemand ooit die rede verstaan waarom mense op dié manier gemartel word nie. En van dié wat daaroor besluit het, het ook geen verduideliking gekom nie, Sará.”

Sy kyk op.

“Die een funksionaris sal hulle in rye van vyf elk laat staan met die langstes voor en die kortstes agter. Dan sal ’n ander funksionaris byvoorbeeld kom en die gevangenes met sy knuppel slaan tot die kortstes heel voor is en die langes agter. Dit kon vir ure aanhou tot die blokopsigter uiteindelik uit die barak te voorskyn kom – vol geëet, in ’n vars gewaste en gestrykte uniform. Baie seker van homself sou hy deur die rye gevangenes stap en elkeen goed bekyk vir enigiets wat hom dwars in die krop kon steek. Uiteraard was daar altyd iets. Dan sou hy met sy vuiste op die slagoffers toeslaan. Byvoorbeeld vir geen rede onder die son nie sou hy almal wat bril dra in die voorste ry begin takel tot hy hulle tot heel agter gedryf het. Hoekom? Daar is geen verduideliking hiervoor anders as sadisme nie, Sará.”

Yitzchak drink die res van sy koffie stadig. Sy hand bewe effens.

“Maar laat ons by Mengele se assistent kom. Nadat hy na die blokopsigter se relaas geluister het, het Miklós gereken wat ook al sy lot kan wees, dit nie érger kon wees as dié van die gewone gevangene nie. Hy het ten minste nie ’n gestreepte uniform gedra nie en hy kon snags in die dokterskwartiere op ’n bed met lakens slaap.”

“Daar was nie vir hulle Appell nie?” vra Sarah.

“Daar was wel reveille seweuur soggens. Die dokters, hy ook, en die hele hospitaalpersoneel moes buite die barak aantree. Die SS het die getal gekontroleer en dit het nie langer as twee tot drie minute geduur nie. Daarna het hulle ontbyt in die dokterskwartiere gaan eet.”

“Nie so sleg vir hom nie.”

“Miskien besluit jy later anders, Sará. Ieder geval, dis waar hy ál sy ander kollegas ontmoet het. Twee van hulle was professore – interniste – wat vanweë hul navorsing oor die hele Europa bekend was. In sy boek sê Miklós die ding wat hom vir die res van sy lewe sou bybly, was dié mense se uitkyk op hul omstandighede. Hulle het hul eie tragedie, die gevaar waarin hulle elke dag gelewe het, geïgnoreer. Sonder mediese toerusting, sonder die nodige medisyne, sonder dat hulle wonde behoorlik kon steriliseer, het hulle nogtans die verskriklike lyding van Auschwitz-slagoffers probeer verlig.”

“Hoe het mense hoegenaamd onder sulke omstandighede aan die lewe gebly?”

“Sará, dit is en bly ’n wonderwerk dat daar mense was wat oorleef het. Want selfs die fiksste liggaam kan ná vier of vyf weke van honger, vuil, insekte en die moordend harde arbeid ingee. Hierdie artse was merkwaardige dokters en buitengewone mense in ’n plek waar dit moeilik genoeg was om te onthou dat jy ’n mens is, laat staan nog dat jy ’n hoogs gekwalifiseerde dokter is. Dít het Miklós altyd benadruk.”

“Ek glo nie dat ek die moed sou gehad het om aan te hou nie,” skud Henok sy kop.

Yitzchak knik.

“Ek weet ook nie. Miklós se illusie dat hy outopsies in ’n moderne, volledig toegeruste seksiekamer vir Mengele sou kon uitvoer, is ook blitssnel verpletter. Die eerste ding wat sy aandag getrek het, was ’n houtskuur teen die kant van Blok 12. Daar was ’n ruwe tafel van onafgeskuurde planke, ’n enkele stoel met ’n houtkis daaragter. Hierin was afdelings wat instrumente vir die ontleding van lyke bevat het. Verder was daar ’n sinkemmer in die een hoek. Dit was ál wat in die skuurtjie was.”

Sarah ril sigbaar. “Dit klink soos iets vir diere.”

“Jode was vir hulle diere,” sê Yitzchak sonder meer. “Sy kollega het verduidelik dit was die kamp se enigste seksiekamer, maar dit was vir ’n lang tyd nie gebruik nie. Op daardie oomblik was daar nie ’n spesialis wat disseksies kon doen nie. Miklós het die aaklige gevoel gekry dat Mengele hom daarheen gebring het om dié seksiekamer weer aan die gang te kry.”

“O nee …”

“Van nature was Miklós kennelik iemand wat hom by omstandighede kon aanpas. Hy’t geweet hy het geen ander keuse gehad nie. Ál wat hy nie kon verstaan nie, was waarom hy sulke ordentlike klere gekry het terwyl daar van hom verwag sou word om in so ’n vieslike plek te werk. Hy’t besef daar moes meer agter dit alles skuil.”

Yitzchak haal ’n sakdoek te voorskyn en blaas sy neus ter syde. “Toe wys sy kollega hom iets anders deur ’n opening in die omheining. Daar sien hy ’n swerm naakte, donkerkleurige kindertjies rondspeel, kleurvol geklede vroue met mooi Kreoolse gelaatstrekke en mans met kaal bolywe.”

“Sigeuners?”

Die ouer man knik. “Dit was die Sigeunerkamp.”

“Die Nazi’s het sigeuners as ’n laer kategorie mens beskou en hulle was dus ’n bedreiging vir die suiwerheid van die Germaanse ras.”

“Dis reg, Sará. Om ’n lang storie kort te maak, hulle is toegelaat om hier as gesinne saam te woon. Daar was omtrent 4 500 van hulle. Hul enigste werk was om die naburige Joodse kampe te polisieer. En dié gesag het hulle met onvoorstelbare wreedheid uitgeoefen.”

Henok fluit saggies. “Is dit so?”

“Ken. Die sigeuners was nie sonder rede so bevoorreg nie. Hulle is vir eksperimente gebruik. Aan die hoof van die onderneming was ’n wêreldberoemde pediater, dr. Berthold Epstein. Hy was toe al vier jaar lank ’n gevangene. Die navorsing het veral gegaan oor tweelinge wat ná die geboorte van die vyfling in Kanada ’n gesogte onderwerp was.”

“En die suiwer Duitse ras het nodig gehad om grootliks aangevul te word.”

“Nachon.”

“Daarmee moes Miklós help?” vra Sarah sag.

“Nu, wat anders? Hy was dr. Mengele se assistent. Miklós noem in sy boek dat Mengele onvermoeibaar was. Hy was ure lank in die eksperimentele barakke in die Sigeunerkamp besig. En dan die ander helfte van die dag op die Joodse perron waar elke dag vier tot vyf transporte uit Hongarye gearriveer het …”

“Twintigduisend mense! Maar dis tog onmoontlik.”

“Niks van dié aard was in daardie tyd onmoontlik nie, Sará. Mengele het selfs nog tyd gevind om werk vir Miklós te laat aflewer. Die lyke het aangekom met blou ink op die bors gemerk,” hy beduie, “ZS – zur Sektion. Die eerste twee was bepaald ’n toets om te sien of hy sy werk na behore kon doen of nie. Dit was duidelik twee selfdood-gevalle, kon Miklós sien. Mengele het persoonlik opgedaag vergesel van twee hooggeplaaste SS-offisiere om die outopsie dop te hou. Miklós het, gelukkig vir hom, uitstekend gevaar. Danksy sy vroeëre werk vir die Instituut van Forensiese Medisyne het hy met elke denkbare sterftegeval – alle maniere van selfdood ingesluit – te make gekry. Hy het die toets geslaag. Hy sou voortaan Mengele se assistent wees.”

“Moes hy ál sy werk in daardie verskriklike plekkie doen?” wil Sarah weet.

Yitzchak skud sy kop. “Nee, ná die outopsie is hy aangesê om te wag. Mengele sou binnekort terugkom. Maar voor dit gebeur het, het Miklós iets anders omtrent ’n ander element van Auschwitz-Birkenau te wete gekom. Dit was terwyl hy gestaan en wag het dat hy ’n kolom van nagenoeg 200 mans in burgerlike klere voor die krematorium ’n ent verder sien aantree het. Van ’n kollega wou hy weet of dit die nagskof is wat kom oorneem. Toe het hy vir die heel eerste keer van die Sonderkommando gehoor.”

Henok knik. “’n Vriend van ons in Yerushalayim, rabbi Cohen, se vader was in Auschwitz en het my van die Sonderkommando vertel.”

“Was dit Jode wat gedwing is om vir die Duitsers in die kampe te werk?”

“Spesifiek in die krematorium. Sonderkommando beteken ’n kommando vir spesiale opdragte. Sy kollega het hom ’n paar besonderhede vertel. Hulle, het hy gesê, het goeie kos gekry om te eet, ordentlike burgerlike klere om te dra, het in gerieflike omstandighede gebly … en dit om die verskriklikste werk te doen wat daar in die kamp was om te doen. Hulle is nooit toegelaat om hul Kommando te verlaat nie. Elke drie tot vier maande wanneer daar gereken is dat hulle te veel geweet het, is hulle self die gaskamers in.”

Sarah trek haar asem skerp in. “Is dit ’n feit?”

“Alles wat ek hier vertel, is feite, Sará. Reg van die begin af toe daar begin is met die kamp in Oświęcim – die Poolse naam waarvan Auschwitz afgelei is – is niemand ooit toegelaat om lewend uit die Sonderkommando te kom nie. Daar moes niemand wees wat die wêreld kon vertel wat jare lank agter daardie verskriklike mure gebeur het nie. Dit is ’n feit, ja, Sará. Maar laat ons terugkom by Mengele se assistent. Die dokter het Miklós met sy Opel kom oplaai. Die enigste verduideliking wat hy hom op pad deur die enorme kamp gegee het – en dit sonder om sy kop in Miklós se rigting te draai – was: ‘Ek neem jou wel nie na die soort sanatorium waaraan jy gewoond was nie, maar jy sal dit leefbaar vind daar.’ Nu, so was dit inderdaad. Daar was ’n ruim binnehof met gras en potplante wat nogal ’n gesellige atmosfeer kon skep as dit nie was vir die rooi baksteengebou met sy rare vuurspuwende skoorsteen net daar langsaan nie. ’n Netjiese, byna luukse slaapkamer het op hom gewag. Toe is hy na ’n moderne, goed toegeruste seksiekamer en ’n elegant gemeubileerde dokterspreekkamer geneem.”

“Wow,” fluister Sarah.

Yitzchak kyk na haar en ’n siniese trek verskyn weer om sy mond. “Toe Miklós dít sien, het die verskriklike waarheid by hom ingesink. Sy lot was verseël. Hy het toe sonder twyfel gewéét waarom daar vir hom aanvanklik burgerlike drag gegee is. Dit was die klere van die Sonderkommando. Dit was ’n doodsvonnis.”

“Wow,” fluister Sarah weer sonder dat sy dit agterkom.

“Elke voorreg waaraan hy hom kon voorstel, is tot sy beskikking gestel. Ál verskil was dat dit deel van ’n krematorium in ’n vernietigingskamp was en sy enigste toekomsverwagting die dood was. Wat van sy vrou en sy dogter of enige van sy vriende geword het, het hy nie die vaagste idee gehad nie. Ook nie waar in die reusagtige gevangenis sy geliefdes hulle sou bevind nie – indien hulle nog gelewe het.”

“Hoe kry ’n mens dit reg om onder sulke omstandighede aan te hou lewe?” vra Sarah.

Yitzchak gryns. “Daar was wel vergoeding. By die eerste aandete het hy geproe dat die tee ’n goeie skoot rum weg het. Uitstekende sigare was ook vrylik beskikbaar. Hy kon gou voel hoe die alkohol sy pynlike gedagtes begin versag en geleidelik verdryf. Dit was vir hom ook duidelik dat dit dieselfde effek op die ander Sonderkommando-lede gehad het. En op die SS wat hulle bewaak het.”

Henok skud sy kop stadig. “Die sluwe Nazi’s.”

Die ouer man knik. “Een van die seerste dinge in sy boek is waar hy noukeurig uitlê hoe die uitwissingsprosedure presies gewerk het.” Hy vee weer met sy oop hand oor sy gesig en kyk deur die venster na buite. Hy bly ’n rukkie stil.

“Toe hy die eerste oggend vroeg uitkyk op die spoorlyn vlak voor sy venster, was daar ’n lang ry trokke op. ’n Nuwe transport. Dit het die SS ’n paar minute geneem om die deure oopgeskuif te kry voor die mense kon uitstroom … HaShem se uitverkore volk …”

Hy swyg ’n paar oomblikke. “Binne ’n halfuur was die keuringsproses afgehandel. Die linkerkantse ry het stadig in sy rigting aangekom.”

“Krematorium toe,” prewel Henok.

Yitzchak knik. “Wat hulle nie geweet het nie – of dalk vermoed het. Hoe sal ’n mens weet? Die vuurspuwende skoorstene was immers nie onsigbaar nie. Van sy kamer af kon Miklós haastige voetstappe hoor en bevele wat uitgeskree word. Dié geluide het uit die stookoonde gekom. Hulle was aan’t voorberei om die transport te ontvang. Toe kon hy die geruis van kragopwekkers en die gegons van enorme ventilators hoor wat aan die gang kom. Die temperatuur in die oonde is op die hoogste graad gebring. Daar was meer as ’n dosyn van die enorme waaiers – een vir elke oond wat almal gelyktydig aangeskakel is.”

“Dit moes groot gewees het as daar so baie mense gelyktydig ontvang is.”

“Chanok, die plek waar die lyke verbrand is, was uitgestrek. Sementvloer, witgekalkte mure, vol lig uit die groot vensters met tralies voor. Elke afsonderlike oond met ’n massiewe, blink gepoetste ysterdeur. Elke krematorium het ongeveer ses tot vyftien sulke oonde in ’n ry oor die lengte van die lang saal gehad.”

“Dis dus met opset … met ópset gebou om …” Sarah beduie met haar hande, maak haar sin nie klaar nie.

“Met opset gebou om die lyke van vergaste mense te verbrand.”

Sy trek haar asem stadig in en sluit haar oë ’n rukkie.

“Miklós het gestaan en toekyk hoe die ry links-gekeurdes binne vyf minute vorder tot by die hekke wat oopswaai om hulle in te laat.”

Hy is weer ’n lang oomblik stil voor hy verder praat. “Niemand in die hele wêreld kon weet wat volgende sou gebeur nie, want niemand wat daar binnegegaan het, het ooit teruggekom om te vertel nie. Maar binne die volgende paar dae het Miklós dit in die fynste detail geweet.”

“Maar … hoe kon mense so iets gló? Ná alles wat vooraf met hulle gebeur het. Ek bedoel die transport, die manier waarop die wagte …”

“Hulle moes dit glo, Sará. Wat sou jy gedoen het?”

“Ek … wel, ek sou nie gegaan het nie.” Sy besef die onmoontlikheid van haar stelling en sy bly stil.

Yitzchak doen nie die moeite om daarop te reageer nie. “Miklós skryf ontroerend hoe verwese en moeg die mense daar uitgesien het. Kinders half deur die slaap wat aan hul ma’s se rokke vashou. Pa’s met babas in hul arms. Hier en daar het ouers selfs ’n kinderwa gestoot. Een maal in die binneplein het die nuwe aankomelinge onmiddellik die waterkrane gesien. Hulle het dadelik met hul bottels, potte en panne daarop afgestorm om hul verskriklike dors te les. Die vorige vyf dae was daar feitlik geen water nie. En dit wat daar dalk nog was, was so besmet dat dit ondrinkbaar was.”

“Het die wagte dit dan toegelaat?”

Die SS-wagte, wat lankal gewoond was aan die toneel, het geduldig gewag tot almal hul houers volgemaak het. Alles om nie paniek te veroorsaak onder so ’n skare mense nie. Wanneer almal se dors geles was, kon die orde herstel word. Dan is hulle beduie om verder te gaan, nou weer in rye van vyf, met ’n gruispaadjie langs na ’n ondergrondse betonkamer. Bo die ingang het verskillende tale aangedui dis ’n stort- en ontsmettingsfasiliteit. Dié bord het diegene wat niks vermoed het nie, maar ook dié wat die ergste verwag het, gerusgestel. Hulle was eintlik blymoedig toe hulle met die trappe afgaan. ’n Voorreg, dag hulle, om vyf dae se vuil af te was.”

“O nee,” bibber Sarah.

Henok steek sy hand na haar toe uit, maar sy hou hare vasgeklem in haar skoot.

“Onder het hulle in ’n ruim, witgekalkte, helder verligte vertrek van omtrent 200 m lank uitgekom. Daar was pilare al met die middel langs en banke teen die mure aan beide kante. Bokant die banke was genommerde klerehangers. Orals was kennisgewings op om te sê mense moes hul klere in netjiese hopies vasbind, dit dan aan die hake ophang en die nommer op die klerehanger memoriseer sodat hulle sal weet waar om dit te vind as hulle van hul stort terugkom. Hul skoene moes hulle ordelik langs mekaar daaronder neersit.”

“Duitse ordelikheid,” sê Henok bitter.

“Presies. Dis wat die meeste mense seker gedink het. In werklikheid is dit alles gedoen sodat die Reich se burgers in Duitsland nie skoene sou kry wat onpaar is nie. Dieselfde het vir die klere gegeld – dit was belangrik dat die gebombardeerde Duitse volk dit in ’n goeie toestand sou ontvang. Nou, in die grootste gaskamers was daar ongeveer tweeduisend mense in die vertrek …”

“Kan nie!” roep Sarah

“Kón!” Yitzchak se mond verstyf. “Daar was tweeduisend mense op ’n slag. Oumense, vroue en kinders. Dan kom die SS-soldate by die trappe af. Die bevel word onmiddellik gegee. ‘Ontklee! Uittrek! Alles! Tien minute!’ Mense dag eers hulle het nie goed gehoor nie. Maar die bevel word herhaal. Dit het die bejaardes, mans, vroue en kinders mekaar sprakeloos laat aankyk. Dan was daar meteens nie meer twyfel nie. Iets vreesliks was op die punt om te gebeur.”

“Maar hoekom was daar geen verset nie?” wil Sarah weet.

“Jode het gewoond geraak aan situasies waarin hulle gedwing is om enigiets te doen, Sará. In elk geval, wat dink jy sou gebeur het as dié mense hulle verset het? Die SS was immers tot die tande gewapen. Nee, hulle het hul klere stadig begin uittrek. Die heel oues, die gestremdes en die geestelik versteurdes is deur lede van die Sonderkommando gehelp. Binne tien minute was almal naak. Hul klere was op die hangers en hul skoene was netjies neergesit. Elkeen het sy hanger se nommer in sy kop gehad.”

“Ek kan my dit nie voorstel nie,” prewel Henok.

“Nee, ’n mens kan nie. Miklós skryf verder die SS-manne het dan deur die massa na voor gedruk tot by stewige, baie wye eikehoutdeure. Hulle het albei oopgemaak. Die kaal mense het mekaar verdring om na binne te gaan, beskaam oor hul naaktheid. Miskien steeds hopend dat dit tog slegs is om ontsmet te word. In die chaos het kinders verskrik gegil en babas het histeries begin huil. Dit was soos vee wat by ’n kamp ingejaag word. Die vertrek was die helfte so groot soos die ontkleekamer.”

“Tweeduisend mense?”

“Dis reg. Jy kan dit in die museum in die Duitse annale gaan oplees as jy twyfel, Sará. Hier was nie banke of klerehangers aan hake nie. In die middel was groot vierkantige pilare. Dit was nie steunpilare nie, maar enorme toevoerpype met ’n soort raamwerk van gaasdraad teen die kante.”

“Vir die Zyklon B,”

“Nachon, Chanok.”

“Die gas?”

“Ken, Sará.”

Dis weer ’n paar oomblikke stil.

“Sodra almal binne is, kom daar nog ’n laaste bevel. ‘Sonderkommando heraus!’ En wanneer dié almal uit is, word die deure toegeslaan en onmiddellik gaan die helder ligte in die sogenaamde stortkamer af.”

“Verskriklik,” fluister Sarah met haar hand oor haar mond. “Ek sou dáár gesterf het. Oombliklik. Die verskriklike angs en histerie. Die kinders. Nee!”

Henok slaan sy arm om haar en sy sit inmekaar gebuk langs hom.

Yitzchak vee oor sy oë en maak sy keel skoon. Hy praat sagter toe hy voortgaan: “In daardie stadium sou ’n luukse Rooi Kruis-ambulans bo aangekom het. Twee SS-offisiere sou uitklim, een van hulle met vier groen blikke in sy arms. Hulle klim op die plat sementdak van die stortkamer en stap dan na die lae sementskoorstene. Eers nadat hulle albei gasmaskers opgesit het, verwyder hulle die swaar deksels oor die skoorstene. Dan maak hulle die blikke met ’n spesiale apparaat oop en gooi die kristalle blik vir blik deur die skoorstene met die toevoerpype na onder in die stortkamer. Sodra Zyklon B met lug onder in die toevoerpype in aanraking kom, begin dit onmiddellik verdamp. Die gas begin dan deur die gaasdraad syfer en binne sekondes vul dit die hele vertrek vol saamgehokte mense. Dit neem nie langer as vyf minute om tweeduisend van die vierduisend mense van ’n transport te versmoor nie.”

“Vyf minute is lank,” sê Henok.

Sarah sê niks. Sy kyk deur die venster na buite met haar lippe saamgepers.

“Miklós vertel dat die twee beule wat die dodelike gas afgelewer het, dan nog vyf minute wag om seker te maak hulle het die taak goed afgehandel. Dan steek hulle albei ’n sigaret aan en klim terug in die ambulans. Hulle is tevrede met die moord van duisende mense.”

Nie een van hulle praat nie.

“Hoe het hulle die lug skoon gekry sodat die Sonderkommando die lyke kon uithaal?” vra Henok ná ’n rukkie toe die stilte te swaar word.

“Suigwaaiers is ná 20 minute aangeskakel om die gas te verwyder. Die deure is dan oopgemaak en vragmotors is nader getrek. Een van die Sonderkommando-groepe het aangekom om die mense se besittings te laai – die netjiese bondeltjies klere wat hulle self gemaak het. Hulle het die klere van die skoene geskei. Alles moes ontsmet word. Daarna sou dit na verskillende verspreidingsentrums in Duitsland vervoer word.”

“Almal sê altyd die gewone Duitser het nie geweet wat aangaan nie. Hoe het hulle gedink waar kom die klere en goed vandaan?”

“Ek het nie ’n antwoord vir jou nie, Sará,” sê Yitzchak.

Hy haal diep asem.

“Wanneer die suigwaaiers feitlik ál die gifgas uitgesuig het, het daar tog nog tussen die lyke genoeg oorgebly wat ’n mens se dood kon veroorsaak. Daarom is daar ’n ander Sonderkommando-groep ingestuur met gasmaskers op en tuinslange om alles skoon te spuit.”

“Watter verskriklike gesig moes dit vir hulle gewees het om daar in te gaan.”

“Ken, Chanok, ken …” Hy trek sy asem in en begin weer. “Miklós beskryf dit in sy boek en ek het werklik geen sin om dit in besonderhede uit te lê nie. Al daardie lyke – nie oor die grond versprei nie, maar in ’n stapel in die middel. Makaber. Die gas versprei op die grond langs; dus het mense oor mekaar geklim om hoër te kom om asem te kry.”

“Mekaar vertrap om lug te kry,” prewel Sarah.

“In daardie stadium dink jy nie meer nie. Nie dat jy miskien net ’n minuut langer sal kan asemhaal as jy bo kom nie. Ál wat jy weet, is dat jy wil bly lewe. Die lyke was in mekaar verwring, met bloeiende monde en neuse. Die gesigte was onherkenbaar geswel. Tog het die lede van die Sonderkommando van hul geliefdes tussen die lyke herken. Miklós se grootste vrees was dat hy een van sy eie daar sou ontdek.”

“Was hy verplig om daarheen te gaan?”

“Dit was nie vir hom nodig nie. Maar hy het gevoel dis sy plig om daar tussen die dooies te wees. Dit was immers sy mense. En as hy op die een of ander ondenkbare manier ooit daar sou uitkom, sou hy vir die wêreld vertel wat hy gesien het. So het hy gedink,” Yitzchak sug.

“Die meeste sou hom nie glo nie,” sê Henok.

“Hulle sou nie. Dis nog nie die einde van dié gruwelike storie nie. Nadat die lyke met sterk strale water skoongespuit is, moes Duitsland immers nog uit die moord wins maak. Die klere was al weg; nou nog wat oor was. Die koppe is almal kaalgeskeer – die hare kon gebruik word in die vertraagde aksie-knaldoppies in bomme. Agt lede van die ‘tandartskommando’ het voor die oonde gestaan, elkeen met ’n beitel en ’n tang. Hulle het die lyke omgedraai, gesig na bo, monde oopgesper en goue tande en brûe uitgebreek.”

“Nee!” Sarah laat haar gesig in haar hande sak.

“Ken. Lede van hierdie Kommando was topklas-tandartse en chirurge. Mengele het hierdie spesialiste na vore laat kom onder die voorwendsel dat hy die kamp van tandsorg wou voorsien. Hulle het aansoek gedoen omdat hulle gedink het dat hulle op dié manier iets vir die gevangenes sou kon doen. In plaas daarvan het hulle – soos Miklós self – in die hel van die krematorium beland.”

Die wind het opgekom en die sagte groen blare van die boom voor die venster skuur ligweg teen die venster langs hulle aan.

Dit laat Sarah ril.

“Hierna word die lyke oorgegee aan die Kommando wat in beheer van die oonde was. Hulle plaas dit dan op spesiale staalrame, waarvandaan dit dan in die witwarm oonde laat kantel is. Bronne verskil, maar dit het ongeveer ’n halfuur geneem om ’n lyk tot as te verbrand. In Krematorium II was daar 15 oonde wat almal op dieselfde tyd gewerk het. Daar kon 4 400 lyke op ’n dag verbrand word. Ál vier krematoriums kon dieselfde produksie lewer. Tydens die somer van 1942 het tot 20 000 mense die gaskamers ingegaan en uiteindelik in een van die oonde geëindig. Ál wat oorgebly het, was ’n klein hopie as in die krematorium se binneplaas. Die menslike as is in vragmotors gelaai en twee kilometer verder in die verbyvloeiende water van die Vistula gegooi.”

“Kan ek …” Sarah se asem slaan weg en sy sluk vervaard, “kan ek … asseblief tee kry?”

Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10)

Подняться наверх