Читать книгу As jy 'n ster sien verskiet - Maya Fowler - Страница 4

2

Оглавление

Oukei, so wil jy hoor hoekom ek op ’n Dinsdagoggend by die huis sit, terwyl ouens soos Lyle Benade in die skool moet wees? Wil jy hoor hoekom hulle my uitgeskop het? Nou ja.

Dit het klein begin. Toe ek, glo dit as jy wil, my hare swart gekleur het. Ek’s ’n natural blonde, wat beteken dat dit nogal ’n drastiese verandering was. Hulle’t my by die skool gesê ek beter ontslae raak daarvan, maar ek was platsak, en my ma ook. Toe kry ek ’n finale waarskuwing, sien. Soos ’n geelkaart of iets. Teen daai tyd het die wortels al begin uitgroei, en mense het my Sebra begin noem. Dit het my soort van laat stres, jy weet?

Toe klim ek een aand ná kooroefening op die skoolsaal se dak om bietjie boom te rook. Ek het dit uit my ma se klein fluweelsakkie gesteel. Flippit, man, dit was maar net die tweede keer dat ek dit probeer het, en toe, kaboem, daar vang hulle my. Nou ja, dis toe neusie verby. Geskors. Kan jy dit glo? Oukei, oukei, nie heeltemal geskors nie. Net tydelik. Met helse waarskuwings. Maar dis erg genoeg. En dis hoekom ek nou bietjie van ’n blaaskans vat.

Nou soos ek gesê het, sit almal op die oomblik in die skool. Behalwe natuurlik ek, want ek mag eers teruggaan wanneer ek my wilde gedrag laat staan het en iets gedoen het omtrent hierdie swart boskaas.

Ek stap suutjies by Wayne se kamer verby, maar loop my in ’n versameling windklingels vas toe ek die agterdeur toetrek. Verdomp.

Ek los die deur oop. Ons sluit nie deure hier rond nie. Ek strompel teen die helling langs die huis af en laat rammel die hek agter my toe. Dan loer ek oor my skouer. Jissie, ek hoop regtig ek het hom nie wakker gemaak nie.

Die dennebome voor ons huis staan doodstil. Hulle gee ’n reuk af wat ek net as donkergroen en vars kan beskryf. Selfs al is ek nie mal daaroor om in hierdie huis op hierdie dorp te woon nie, laat dié geur my tuis voel, asof ek hier móét wees. En dis vreemd, want dis glad nie eens ’n Karooreuk nie. Ek ruik dit elke keer wanneer ek my venster oopstoot. Laas nag het ek Wayne se venster vir hom oopgemaak sodat hy ook kon ruik.

Ons huis staan aan die bopunt van Rothmanstraat. Soos die meeste huise hier rond is hy baie oud. Ouer as ’n honderd. En soos die meeste huise hier rond is hy wit geverf met groot houtskuifraamvensters (ook wit) en donkergroen hortjies. Ek noem dit navy-groen, en die mense wat my ken, verstaan.

Die huis sit op ’n helling. Daarom is daar ’n sementtrap wat van die stoep met sy wit-en-groen veranda afloop.

Die straat vat ’n draai tot waar hy in Cradockstraat inloop, naby die ou openbare swembad met sy groot groen hekke en wit pleisterswaan op die boog daarbo. Dit was eenkeer in ’n fliek, wragtig, ’n Hollywoodfliek, as jy dit kan glo. Die hele dorp was die fliek vol, maar wat ek die beste onthou, is die stuk waar Hilary Swank haarself teen die muur ophys. Sy’t ’n kort swart rompie aangehad, plus fantastiese swart skoene, wat sy moes uitskop. Sy’t ’n prokureur gespeel, en haar kliënt was daai dag in die swembad. Ek dink hulle moes spesiaal water intap daarvoor.

Ek het ’n frokkie en kuitlengte jeans van Mr Price aan, maar ek dink ’n kortbroek sou beter gewees het. Goeie hel, die son is nog nie eers halfpad in die lug op nie, maar hy probeer my al klaar droogsuig. Dis omdat dit einde Februarie is. Volgende maand dié tyd lyk dinge effens beter, en oor nog twee maande blaas ons in die oggendkoue spookasem uit.

Ek stap weg van die swembad af, dorp se kant toe. Suster Jones is waarskynlik al op pad, en ek’s nie lus vir haar besoek nie.

My voete knars oor die oranje dennenaalde wat die stowwerige sypaadjie vol lê. Ek stap en ek dink.

Dié boom waarmee hulle my gevang het . . . ek kon dit sommer net gekry het. Dit was nie nodig vir steel nie. My ma sou in haar noppies gewees het om dit aan my uit te deel, maar as dit van haar af gekom het, sou ek dit nooit gevat het nie. Sy rook baie; vra my om saam te rook. Watse soort ma doen dit? Ek wens sy was soos ander ma’s wat staan en bredies kook, of haar kinders rondry met River Trader-jeans en poolstoftops aan. Maar nee, sy lê in die huis rond, toegevou in pienk en oranje serpe of swart poncho’s met lang fraiings. En al wat sy ooit doen, is rook. Behalwe die kere, nou en dan, dat sy goed met verf besmeer.

Af en toe kry sy dit in haar kop om ander mense ook te leer om dit te doen. Die verwery, meen ek, nie die rokery nie. Dis ook maar goed, want die kontant wat haar kunslesse inbring, is nie te versmaai nie. Anders moet ons maar sien kom klaar met die geld wat my pa stuur, en dis nie veel nie.

My ma drink baie kamilletee. Sy sê dis vir haar senuwees. Sy kan nie sonder ’n koppie tee of ’n glas sap in haar hand klaarkom nie. (Net nie koffie nie, “dis sleg vir senuwees”.) Dit maak dat sy ten minste elke uur badkamer toe moet draf. Ek wonder of sy nie nog haar niere gaan verdrink nie. In elk geval, dis die klankbaan van ons huis. Spoel, spoel, spoel. Die hele nag deur.

Voorheen was dit drank. Ek dink dis hoekom my pa gewaai het – een van die redes, in elk geval. Maar op die ou end het sy dit reggekry om op te hou. Dit was ná Wayne haar deur die gesig geklap het. Moerse klap, daai slag. Wayne is my broer, en ek moet byvoeg, hy slaan nooit aan enigeen nie. Net daai een keer, nadat Ma tydens die kultuuraand by ons skool op die verhoog gestrompel het. Twee meisies was besig om “I know him so well” te sing, wat blykbaar uit een of ander musiekblyspel kom. Hulle sê dit was ’n groot treffer in die tagtigs. In elk geval, daar gryp Ma toe die mikrofoon by Cindy Havenga. Dié se mond val oop en haar oë rek dat sy soos ’n spook lyk. Ek het hard probeer om myself onsigbaar te maak, maar hier binne my was iets aan die gloei, want op daai stadium was Cindy die tierste teef op skool, en boonop het sy ’n stem soos ’n elektriese saag. Maar omdat sy so voor op die wa is, het sy altyd die hoofrol in die skoolrevue losgeslaan.

Nou in elk geval, Ma begin toe in die mikrofoon kweel: “Wasn’t it good? Oh, so good, wasn’t he fine, oh, so fine, isn’t it madness, he can’t be mine,” in ’n poging om tegelyk Svetlana en Florence (die twee karakters in die duet) te wees.

Die meisie wat die klavierbegeleiding gedoen het, het sommer vinniger en vinniger begin speel, en Elainé Els, wat nog met haar mikrofoon in haar hand gestaan het, het al harder gesing, want die kultuuraand was vir haar ’n oudisie, nes vir ou Cindy. Hulle’t so gemaak: kry plek op die program en staan voor by die kultuuraande sodat die hoof van die dramavereniging hulle kon raaksien.

Wel, die skoolhoof het gewag vir die liedjie om klaar te kry. Toe vat hy Ma aan die arm daar weg. Mevrou Tuff, die noodhulpinstrukteur, is daar uit met haar.

Toe ons by die huis kom, het Wayne aan die huil gegaan, wat baie ongewoon was vir hom. En toe bliksem hy vir Ma, one time, wat ek ook nog nooit gesien het nie. Dit was nie eers so hard nie, maar sy’t omgeval, en op die ou end was al drie van ons op die vloer, snot en trane. Daarna is ons ’n maand lank in die koshuis gestop, en toe Ma terugkom en ons kom haal, het sy net kruietee en Appletiser gedrink.

Ek kry so ’n steekpyn in my hart wanneer ek aan Wayne dink. Maar die gedagte aan daai wenkbroue laat my glimlag. Hy lyk of hy Jack Nicholson se liefdeskind kon wees. Verbeel jou ’n jong weergawe van ou Jack, met donker hare, helderblou oë en daai baie spesifieke wenkbroue.

Hy lyk nie meer so nie. Vandat hy terug is van Joburg af, is sy wange so hol soos die dood self. Die dood wat vir Wayne wag. Ons weet almal. Die dokters sê daar’s niks wat hulle kan doen nie. Hy’t te lank gewag. Daar’s pille wat jy kan vat as jy dit vroeg vang, maar laat die ding sy gang gaan en dit vreet jou op.

Ma wil nie hê mense moet weet nie, nou vertel sy hulle dis kanker. Sy sê mense het snaakse idees, en sy wil nie hê hulle moet simpel wees teenoor my by die skool nie. Of my behandel of ek die pes het nie.

Te laat.

Niemand weet eintlik die waarheid nie, maar ek het in elk geval nooit ingepas by die skool nie. Ek’s net nie soos die res van hulle nie. Soos, byvoorbeeld, ek hou nie eers van MXit nie. Watter ander veertienjarige kan dit sê? Nee, my selfoon is vir versiering meer as enigiets anders. Ek het hom met Hello Kitty-plakkers en goue sterre en goed beplak, wat eintlik veronderstel is om teen dié tyd benede my te wees, maar ek gee tog nie om nie.

Die hele selfoon-ding gaan maar net daaroor dat ek verkies om te lees of my eie ding te doen. Wie wil nou heeltyd aan ’n skerm vasgegom wees?

Dit laat my dink: die een ding wat ek van skool mis, is die Afrikaans-klas. Selfs Engels. Ek het altyd deurgeklits soos ’n vis, en die onnie het glad van my gehou. Dit was heeltemal anders as wiskunde, wat ek glad nie mis nie. Die probleem was: in wiskunde kon ek altyd voel hoe my brein in lood verander. Of ander kere was dit die teenoorgestelde probleem. My kop het heeltemal weggevlieg, by die venster uit en hoog bo-oor die skool, oor Spandauskop, tot hy dartel deur Tandjiesberg se holtes, deur die wolke spaander en iewers baie ver weg gaan land – ’n plek waar koëffisiënte nie nommers is nie, maar dwergies wat sakke goud uit geheime myne trek, en waar breuke flenters porselein is wat van hierdie wêreld na die volgende vlieg om aan reënboë en skoenlappers opgehang te word.

Maar ek was besig om van Wayne te praat. Dis erg. Teen dié tyd staan hy nie meer uit die bed op nie. Hy lê net daar en staar met sy leë oë na die berg. Hy kan nie meer toilet toe loop nie, maar hy’t lig genoeg geword vir my en Ma om hom saam daar te kry. Die dokter het gesê ons moet versigtig wees, Wayne het oop sere, ons moet seker maak om nie sy bloed op ons te kry nie, net ingeval.

Ek het dit nou al so ver as Caledonstraat gemaak. My mond is droog, so ek draai regs, Spar toe. Om Coke te koop voel vir my na waarskynlik die meeste pret wat ek vanoggend gaan beleef. Ek’s nie in die bui vir ’n rokery nie, ek’s nie lus vir musiek nie, op hierdie dorp is niks malls of flieks nie, en ek’s nie lus om ’n DVD te gaan uitneem nie.

Spar is soel, met die koel klanke van die Pet Shop Boys. Mense zoem en kasregisters biep. Ek loop verby die oop vrieskaste na waar die Coke is. Die koue slaan op na my. Ek’s sommer lus om in te klim. Ek kan my lekker tuismaak bo-op die Dairymaid-roomys, met my regterwang teen ’n bak gekleurde ysies, maar die Coke roep. Ek karring met die blikkies en dink dan: Waddehel, ek koop sommer ’n tweeliter vandag, hoekom nie?

Ek dra die bottel straataf na die engelpark toe. Die plek is vol rooi rose: ’n lappie grond tussen die stadsaal en die groot kerk. Die blombeddings is afgesper met sparre en hangende kettings wat die munisipaliteit silwer gespuit het. Die hele park is omhein deur ’n lae muur. Dis een of ander variant van beige geverf, wat na my mening nie die beste agtergrond vir rooi rose is nie. Hulle kon hier gerus gehou het by die tema van wit en navy-groen.

Ek gaan sit op ’n bank met die koue bottel tussen my knieë. Hy’s al klam van sy eie dou. Ek draai sy nek om, tsjjj. Die son slaan die lug wit soos wat ek gaan lê om te drink. As Wayne hier was, sou hy my geterg het oor ek op ’n parkbankie lê met ’n bottel teen die mond, maar ek’s alleen, en wie gee in elk geval om?

Ek lê en kyk vir die engel. Sy laat my altyd beter voel. Selfs al sit sy bo-op ’n oorlogsmonument. Iemand het my ’n slag vertel presies dieselfde engel sit in Kaapstad ook, op ’n monument in Adderleystraat, net daai een het twee soldate weerskante wat lyk of hulle iets bekruip. Het dit self nog nie gesien nie; dis net wat ek hoor.

“Haai, hoezit!”

’n Skaduwee sny my sonlig af en ek kom stikkend orent. Die koeldrank trek in my neus op, waar dit brand voor dit in strome begin uitloop. Ek hoes en hou my hand voor my gesig.

“Jis, is jy oukei?”

“Doodreg,” mompel ek, steeds besig om my keel te probeer skoonkry. Flippit, ek skaam my stukkend.

“Sorry, ek het jou laat skrik,” sê die ou.

Hy’t ’n ysie in die hand. Hel, plaas ek een van daai rooi suigstokkies gekoop het waarvan ek so hou. Maar dit sou my ma geïrriteer het, want die goed maak my tong rooi, en sy meen dit maak my lastig.

“Warm hier buite, hè?”

“Ja, is ook, maar dis altyd so,” antwoord ek.

Die ou fluit en steek sy hand uit na my. “Haai, ek’s Leroy September. Leroy beteken ‘die koning’.”

Hy lag vir sy eie grappie.

“Riekie Taylor.” Ek skud sy hand, wat vreemd voel, want wie maak nog so? Tensy jy ’n sertifikaat by die prysuitdeling kry of ’n nuwe sakevennoot ontmoet.

“Jy van hier?” vra hy.

“Jip. My lewe lank.”

Hy suig aan sy ysie, sy voorkop vol riwwe soos hy sy oë teen die son toeknyp, al het hy Oakleys op. Ek kan my indink hy kry warm met daai jeans en langmouhemp. En sulke lang, gepunte leerskoene. Hy moet liewer sandale dra in hierdie hitte.

“So, hoekom lê jy op ’n weeksoggend in die park rond? Want jy lyk of jy eerder in die wiskundeklas moet sit,” sê hy terwyl hy sy moue oprol.

O, wiskundeklas. Vir wat is almal so gepla met wiskunde? Dis asof dit die belangrikste ding is wat jy op skool kan leer, of die enigste rede om te gaan.

“Ek kan jou dieselfde vraag vra,” skerm ek.

“Nooit, man. Ek het ma’ net daai baby-face,” sê hy en fladder sy wimpers. “Maar ek’s al klaar met varsity en als. Drama.” Dan sing hy met ’n falsetto: “Dra-maaaa!”

“O,” sê ek en gaan lê weer. “Dit maak sin.”

“Wat meen jy?”

“Niks.”

Die son moker ons. ’n Vliegtuig vlieg hoog bo-oor ons verby. Dit sien mens nie aldag nie.

“Nou, wat maak jý hier?” vra ek.

Hy strek hom uit en gaap. Sy tong is heeltemal oranje van die ysie.

“Ha! As jy by die skool was, sou jy geweet het.”

Ek trek ’n suur gesig en kyk anderpad. Ek’s nie lus vir ’n preek nie. En glo my, teen hierdie tyd het ek al ’n paar gehoor. Blykbaar moet ek ’n plan maak, want volgens wet móét ek op skool wees. Kan jy dit effieng glo? Net omdat ek veertien is. Jy mag eers skool los wanneer jy sestien is, al het jy teen daai tyd nog net graad ses gemaak.

Almal sê dis so eenvoudig. Al wat ek moet doen, is my hare regmaak, respek aan die skool betoon, om verskoning vra en my soet gedra. En nee sê vir boom. Maar ek vertel nie vir Leroy dié goed nie.

“Ja, en ek’s nie vandag by die skool nie, so sê my net.”

“Oukei. Ek’s in ’n dramagroep, vir nou. Net tot ek famous raak en die TV slaat. Anyway, ons kom van Kaapstad af. Ons toer deur die hele land – skole. Ons leer julle ouens van Aids.”

Ek spring regop en laat amper die Coke-bottel val. Ek weet nie watter kant toe om te kyk nie. Dis nou al ’n ruk dat ek nie daai woord kan hoor en my dan nog normaal gedra nie. Ek onthou toe ons op skool daaroor gejoke het. Asof dit ’n veraf ding is wat nie een van ons kan raak nie.

“Hei, is jy oukei, Riekie?”

Ek antwoord nie, staar net na die engel. Na ’n ruk fluister ek: “Jy’s ’n bietjie laat.”

Toe vertel ek hom van Wayne.

As jy 'n ster sien verskiet

Подняться наверх