Читать книгу As jy 'n ster sien verskiet - Maya Fowler - Страница 5

3

Оглавление

Ma is besig om die stoep te skrop toe ek by die huis kom. Dis nogal ongewoon vir haar, dié skoonmaakbesigheid. Sy swaai haar kop lekker rond; sy’t oorfone aan. Ek weet nie hoe sy dit regkry om met toe oë te skrop nie, maar dis aan die gebeur. Ek sê jou, dis flippen irriterend. Dis die soort gedrag waarvan ek vroeër gepraat het. En sy’t ’n tulband aan. Ek meen, wie trek so aan? Wíl sy ’n reject wees?

Ek skud my kop en swaai uit voor ek by die trap kom. Ek kan maar weer die kombuisdeur gebruik.

Dis amper etenstyd, en daar’s potte op die stoof. Een van die plate sis onder ’n verdikte tamatie-en-uiesous. Ma se kombuis is altyd vieslik. Sy hou daarvan om te kook, maar die kombinasies is vreemd. Ongelukkig glo sy nie aan resepteboeke nie. “Te styf,” sê sy. “Mens moet vryyyy wees.”

Sy glo kookboeke is voorskriftelik en lê kreatiwiteit aan bande. Maar ek moet erken, sy probeer hard.

Ek loer in die ander pot. Lyk na hoenderrepies in witsous, met baie groenrissie, murgpampoentjies en aartappels. Die tamatie-en-uiesous in die eerste pot is net vir ons twee, want Wayne kan nie meer tamaties eet nie. Die suur brand sy mond.

Ma koop alles vars by Mark vir die Huisvrou (ons noem dit “Vark vir die Muis”, dis ’n familiegrap). Geen blikkieskos meer nie. Dit moet gesond wees, vir Wayne.

Ná vyf gooi die berg sy skadu oor ons, want ons is so na aan hom. Daar’s nog genoeg lig, net nie son nie.

Ek skuif buitentoe, want ek het lug nodig. Hierdie huis het hoë plafonne en groot vensters, maar dit voel net nooit genoeg nie. Ek gaan lê op die gras, maar spring dadelik op toe die twee honde naderkom. Die basset kom slobber op my en die wanna-be-labrador lek my in die gesig. Bolloks en Bitterbal is hulle name. Ga. Ek hardloop kraan toe, spoel af en gaan klim in die vyeboom agter in die tuin.

Ek het nog ’n halwe banksakkie rookgoed, van dieselfde klomp wat my in die moeilikheid laat beland het. Die goed sit in my jeanssak, saam met die Rizla-papiertjies en die sigaret-aansteker.

Soos ek sê, ek’s nie so mal daaroor nie. En ek vrek eerder as om my ma te laat sien, want sy sal op een of ander siek manier trots voel op my. Sy sal sê: Ja, dis reg so, erken jou gevoelens. Neem ’n ou ietsie, want dis goed vir die senuwees en jy’s deur ’n rowwe tyd.

Al dié goed is waar, maar hulle kom van myself af. As hulle van haar af gekom het, sou ek hulle opfrommel en plattrap.

Stemme dwarrel by die huis uit.

“Nee, ek weet nie waar sy op die oomblik is nie, maar maak jou tuis, hoor. Kyk ’n bietjie rond. Dalk buite,” sê my ma.

Verdomp. Wie’s dit tog nou? Ek’s nie lus vir nog onderwysers nie. Maar hier kom die besoeker by die kombuisdeur uitgestap. Dis Lucy, een van my drie soort-van pelle by die skool, en my gunsteling van die lot.

Lucy het donkerbruin krulhare wat sy in ’n bob laat sny het. Ongelukkig het sy ’n haarkapper met slegte oordeelsvermoë gekies. Dié het haar hare eers reguit geblaas en toe gesny. En toe’t die krulle teruggespring en die hele kapsel laat krimp. Sy lyk soos ’n madeliefie in ’n kinderprent – blomblare wat in alle windrigtings staan om ’n ronde gesig met ’n groot glimlag. Lucy het nog altyd gesukkel om op skool in te pas, maar die nuwe haarstyl het dit definitief erger gemaak. Wat is dit met ons en ons hare?

Lucy draal op die grasperk rond op soek na my. Sy’s tog so on-skuldig, dis skoon oulik. Sy’s mal oor boy bands, al is hulle so flippen passé. Sy luister nog na Westlife en al daai goed, maar haar nuwe ding is die Jonas Brothers, wat vir my belaglik is, want die meeste van hulle fans is omtrent tien jaar oud. Wat my betref, ek hou weer van The Killers en so aan, maar solank sy my nie dwing om na haar goed te luister nie, gee ek nie om nie.

“Haai, Riekie, is jy hier?” fluister sy.

Ek tik met my voet teen ’n boomtak om die blare te laat ritsel. Sy kry die boodskap en kom diékant toe, haar gesig ’n groot glimlag. Nog rêrig kind, dié een. Maar soos ek gesê het, ek dink dis cute.

Sy kyk op na waar ek sit, begin dan klim. Dis net knieë en elmboë.

“Haai, Lucy,” groet ek. Ek lê teen ’n tak.

“Hallo! Wat maak jy?”

“Nie veel nie. Jy?”

“Nou net klaar met tennis.” Sy sug.

By ons skool word almal gedwing om ten minste een sportsoort te doen; vir Lucy is dit tennis. Probleem: sy’s in, soos in die tiende span, wat ’n prestasie en ’n half is in ’n skool van onder die 450 mense. Ek het hulle al gesien. Hulle staan daar en trek hulle oë op skrefies teen die son terwyl hulle die rakette rondswaai asof hulle ’n vlermuis probeer vrek klap. Shame, party van hulle staan die hele uur daar sonder om een keer kontak te maak met ’n bal.

Ek reken ek’s min of meer in dieselfde liga, dus het ek swem gekies. In my geval meer versuip as swem, maar dit was my somersport. Darem een regmerkie op die lys.

Lucy trek ’n gesig. “Jy weet, die skool is net nie dieselfde sonder jou nie.”

“Dankie.” Ek skuif meer regop en vroetel met my banksakkie.

Lucy snak na haar asem. “Riekie, moet net nie vir my sê dis . . .”

“Ja, is ook,” antwoord ek en begin ’n zol rol.

“Maar jy sal . . .” Haar oë is enorm groot.

“Ek sal wat? Geskors word?”

Ek snuif en lek die Rizla. Daar’s hy. Lucy kyk weg terwyl ek aansteek.

“So, hoe gaan dit met jou boetie?” vra sy.

Ek hoes. My keel brand, my oë traan.

“Dis nogal erg, Luce.”

“Jinne, Riekie, dis so aaklig. En so vreeslik ongelukkig – kanker op so ’n jong ouderdom!”

“Nes jy daar sê,” piep ek.

Die rook brand in my keel. Nou toe nou, die mense glo Ma se storie. Ek trek my oë skrefies teen die rook.

“Jy weet, baie mense onthou nog vir Wayne. Wanneer was hy in matriek, soos in, vyf jaar gelede?”

“Ses,” sê ek terwyl ek uitblaas.

“Riekie, ek moet net vra. Móét jy dit doen?”

“Jip.”

“In elk geval, ná al die jare gaan almal nog te kere oor hoe oulik hy was . . . uhm, is.”

“Hmmm.” Ek maak my oë toe. “Nie dat enige van hulle die drumpel hier deurtrap nie.”

“Wel, ek’s hier. Ek het net aangeneem hy rus. Maar ek sal gaan inloer. Shame, kanker. Dis nie asof dit vigs of so iets is nie.”

My keel trek toe en my oë spring oop. Ek sit regop.

“Wat? Meen jy as dit Aids was, was dit vir jou ’n probleem? Soos in, dan sou jy nie kom kuier het nie? Asof jy dit kan kry net deur na iemand te kyk? Of dieselfde lug in te asem?”

“Jô, skuus, man, ek het niks daarmee bedoel nie.”

Ek gluur haar steeds aan.

“Nee, nee! Natuurlik dink ek nie sulke goed nie!”

Ek het geweet sy sou dit sê, want Lucy vrek daaroor om mense te gee wat hulle wil hê. Sy’s ’n oulike chick, maar sy kan dit nie hantéér as iemand vir haar kwaad is nie. Dit gaan haar nog eendag in die moeilikheid laat beland. Dit gebeur al klaar op klein maniertjies. Soos aan die begin van die jaar toe sy amper haar belangrike wiskundetoets gedop het omdat daai loser Riaan Smit haar gecharm en gepleit het dat sy sy handboeke moet oortrek. Toe sit sy daar, heelmiddag en heelnag, met plastiek, skêr en kleeflint, net om Riaan happy te maak. Dit het haar vir ewig gevat, want dit moes als perfek wees, sien. Maar toe wou sy die wiskunde-onnie ook gelukkig maak. Sy’t probeer swot. Maar sy’t letterlik nie ’n oog toegemaak nie, en teen die tyd dat sy die toets moes skryf, was haar brein soos maaskaas.

Ek begin ’n bietjie rustiger voel.

“Jy weet, Lucy, ek wil net vir ’n tydjie van als vergeet. Dis hoekom ek hier bo kom sit het. In elk geval, jy weet ek rook nie regtig nie, maar noudat ek dit doen, wil ek nie die ervaring staan en mors nie.”

“O, oukei, sure.” Sy skuif op haar tak om haar sit te probeer kry. Haar bene hang en swaai rond soos ’n langbeenspinnekop s’n.

Skielik is dit vir my skreeusnaaks, en daar gaan ek aan die lag.

“O, freak, Lucy, verbeel jou iemand kom nou hier aan. Al wat hulle sal sien, is twee voetjies wat tussen die blare uitsteek. Dis so snaaks!”

“Ja, en hulle sal rookdampies sien uitkom aan jou kant.”

Lucy begin ook lag. “Riekie, jy’s flippen getik, weet jy.”

Voor ek kan keer, glip dit uit. “Ha-ha, Mal Riekie en Crazy Daisy!”

Ek voel onmiddellik aaklig, want ’n klomp mense trek haar siel uit oor haar haarstyl. Maar noudat ek sien hoe sy glimlag, besef ek dat ek die enigste een is wat die ooreenkoms met ’n madeliefie sien. Dit was als net in my eie kop, sjoe.

Bolloks, wat verslaaf is aan die geluid van lag, het onder die boom kom staan en opkyk. Haar fluweelore raak amper aan die grond en haar voorkopvelle is in ’n frons saamgetrek. Sy krap aan die boom, probeer daarin klim en kreun: “Ie-hie-ie-ie . . .”

Dit laat ons twee in die boom soos maniakke lag. Ek moet my sye vashou, want ek het my al amper in ’n spasma in gelag. Met dié laat val ek die joint in my skoot en begin gil. Ek het nie werklik tyd om daaroor te dink nie, maar die gedagte flits deur my kop dat ek soos Michael Jackson klink.

My arms swaai, ek probeer desperaat om my balans te behou, maar kort voor lank duik ek deur die lug. Hoekom drink en bestuur as jy kan rook en vlieg? het iemand ’n slag gesê. Dan land ek, doef! Ek word dadelik begroet met ’n gehyg, ’n geslobber en – nog erger – ’n gelek.

As jy 'n ster sien verskiet

Подняться наверх