Читать книгу Talia vat grond - Melissa Scharneck - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Sit pot met water op die stoofplaat.

Sit sout en 4 eiers in die water.

Wag tot die water kook, wag dan nog 7 minute.

Haal pot af van stoofplaat.

Gooi kookwater af en tap koue water in.

Wag tot eiers afgekoel het en haal doppe af.

(Onthou dat jy nie bloot die eiers in die mikrogolf kan sit nie – dit sal ontplof.)

My naam is Talia Prinsloo en ek dink nie meer alles gaan oukei wees nie. Daar is fout met my. Fout met my lewe. Ek weet nie meer hoe om sin te maak van enigiets nie.

Tien jaar terug, toe ek negentien was, het ek getrou. Dis waar ek my eerste fout gemaak het. Met sterre in my oë en hoop in my hart het ek almal se waarskuwings, veral my ma s’n, geïgnoreer.

Nege jaar terug het ek swanger geraak en ’n dogter gehad. Louisa. Dit was die laaste hoop wat hierdie lewe my gegee het. As dit nie vir daai meisiekind was nie, het ek lankal moed opgegee. Een van die dooie mense geword wat net asemhaal.

Daar is min dinge wat so baie beteken soos die hoop dat daar iets beters wag. Of dit nou hier is, of in ’n plek agter die wolke wat jy eers bereik wanneer jou tyd vir getuienis lewer verby is. Dis dáárdie hoop wat my bly ontwyk.

My klaskamer, waar ek nou voor die venster staan en uitkyk, is pynlik netjies. Elke dag word dit skoner. Elke handboek, leesboek en werkboek op sy plek. Opstelle in hulle hokkie en witbordpenne in hul bak. Geen stof of papiertjies wat rondlê nie. Alles hiér is altyd reg.

By die huis is dit anders. Net vanoggend het ek verby brood gestap wat al van Dinsdag af in die toaster staan. Daar is soveel wasgoed dat ek ’n broek moes aantrek wat lankal te groot is. Dalk nog ’n nommer uit my swangerskap, ek kan nie onthou nie. Ek het tred verloor.

Die kinders werk so hard aan hulle opstelle dat dit met tye voel asof ek alleen in die klaskamer is. Al wat ek hoor, is die blou penne wat oor die velle papier krap en die waaiers wat die warm lug sirkuleer. Die matrieks is nie gewoonlik so stil nie, maar dis bloedig warm en dis al laat in die dag. Na tweede pouse is daar nog net een periode voordat hulle huis toe gaan vir die naweek. My af periode.

Die kinders se moedelose moegheid smeer aan my af. Ek is dankbaar dat ek die laaste periode af het. Een van die min genades wat vir my bestem is.

Net buite my venster op die derde verdieping staan ’n reuse-akkerboom. Ek kyk baie deur die takke na die stil pad voor die skool. Na die doodgewone huise van doodgewone mense wat oorkant die pad staan.

Vir al die doodgewoonheid van Vuurkloof, wat my gewoonlik my eie vel wil laat afkrap, is Hoërskool Vuurkloof darem nie te sleg nie. ’n Mooi gebou, mooi klaskamers. Nie veel om oor te kla wat die estetiese betref nie.

My gedagtes kronkel om die straat se hoeke en draaie en ek wonder watter koers ek sal kies. Ek het besluit dat ek gaan stap. Stap en stap en stap.

Ek praat nie van ’n staptog vir vigswesies of ’n soortgelyke welwillendheidsdaad nie. Ek verstaan nie die logika daaragter nie. Kry elke stapper ’n borg om vir die wesies geld of ’n kombers te gee? As dit die geval is, waarom géé hulle nie net die geld of die donnerse ou kombersie nie? Ek kan nie verstaan hoekom mense hulleself so geredelik martel nie.

My stappery sal nie ’n hoëprofielstorie wees nie. Sommer net ek wat rondloop in die suburbs. Net ek wat een voet voor die ander sit en doen wat gedoen moet word.

Ek identifiseer nie met stappers nie. Ek het nie ekstra tyd in my dae wat gevul moet word nie. Ek het nie ’n sosiale impuls om te skinder met vriendinne terwyl ek stap nie. Ek het geen begeerte om die wêreld te probeer oortuig dat ek aangepas genoeg is om tyd te maak vir oefen nie.

Ek wil stap omdat ek geskei is.

Dalk dink mense ek stap omdat ek ’n nuwe man wil vang? Laat hulle so dink. Dit sal my bydrae tot die pretensie van suburban vroue wees.

Laas jaar Maart het ek uitgevind my man het ’n buite-egtelike verhouding – met ’n man. James het klaarblyklik baie van die jong man gehou. Nou nie genoeg om nié aanvanklik hul verhouding vurig te ontken nie, maar genoeg om dele van sy anatomie in die mannetjie te druk.

Dit was die begin van die einde.

Uiteindelik het ek my man gevra om sy goed te vat en te loop. Dit verbaas my nog steeds dat ’n homoseksuele verhouding my daartoe gedryf het, want nie een van die ander dinge wat hy aan my gedoen het, kon dit ooit regkry nie.

Dalk is dit omdat ons op ’n klein dorpie woon en die manlike minnaar so ’n publieke vernedering was. Dalk is ek tog iemand wat te veel omgee wat ander mense van my dink.

Ek moes seker uit die staanspoor meer omgegee het oor wat ék dink. Nou is dit al wat oorbly, ek en my angstige verwyte wat heeldag en aldag met mekaar opgeskeep sit.

Agter my laat val iemand ’n pen. Die hele klas is oomblikke lank onrustig. ’n Paar kinders sug, voete skuif op die houtvloer, en dan werk almal weer voort.

Buiten my getroude status moes ek nog ’n paar dinge prysgee. Een daarvan is my pakkie sigarette elke dag. Die egskeiding het my nie platsak gemaak nie, dit het my donnerse sak gevat en daarmee weggehardloop.

En dís die eintlike rede vir my stappery: Ek het al drie kilogram opgetel vandat ek ophou rook het. Aangesien ek soveel gewig verloor het sedert James uitgetrek het, kom mens dit nie eintlik agter nie, maar ek is eerder maer en wanaangepas as vet en wanaangepas.

Ek het ook gelees dat oefening ’n mens gelukkig maak, en ek het ’n brandende begeerte om te voel hoe dít voel.

Toe ek wegdraai van die venster af, dwaal my oog na Celia le Roux. Haar pen gly gemaklik en egalig oor die papier. Wat sal sy te sê hê oor die eenvoudige opstelonderwerp? Sy sal dit waarskynlik meer diepte gee as wat dit verdien. In die vyf jaar wat ek al juffrou speel, het ek nog nie ’n kind teëgekom wat kan skryf soos Celia le Roux nie.

Met my intrap by Hoërskool Vuurkloof was sy een van die eerste kinders wat in die personeelkamer bespreek is.

“ ’n Mens sou nie dink dié kind sal akademies so presteer as jy in ag neem wat by die huis aangaan nie. Die ma en stiefpa het glo albei ’n drankprobleem, en volgens die laerskoolonderwysers word die kind erg verwaarloos. Daar’s blykbaar selde kos in die huis, maar die welsyn sien nie genoeg fout om haar daar uit te haal nie.” Die skoolhoof tydens my eerste personeelvergadering.

Van toe af kry ek Celia jammer. Ek het self nie met geld grootgeword nie, maar my ma het gesorg vir die nodige. Daar was nooit ’n tekort aan kos in ons huis nie, en veral nie aan liefde nie.

Daarom het ek Celia een middag gevra of sy Louisa sal oppas terwyl ek dokter toe gaan, vir ’n bietjie sakgeld, en sy was dadelik bereid. Later het sy Louisa begin help met haar huiswerk, en nou is dit niks vreemds as Celia tydig en ontydig by ons huis opdaag nie.

Die interkom kraak. “Aandag vir die afkondigings,” dreun die skoolhoof se stem.

Die kinders sug en begin boeke en penne in hulle tasse druk.

“Alle leerlinge in graad agt en nege moet in die grasvierkant aanmeld vir ’n uniforminspeksie, wat deur die prefekte behartig sal word. Die onderwysers moet asseblief in die personeelkamer byeenkom vir ’n kort vergadering.”

Die pouseklok lui. Ek groet die graadtwaalfs en loop met swaar voete na die beige kamertjie met die ongemaklike stoele.

Mense in die personeelkamer praat net oor ander mense in die personeelkamer. En almal het ’n plek wat so eie aan hom of haar is dat ek net kan aanneem dat hulle daarop gepie het toe niemand kyk nie.

Hulle het ’n kýk wat hulle vir my bêre vandat almal uitgevind het van James se lover. Ek dink almal wag in spanning vir “iets” om te gebeur. Dit was laas jaar Maart, dis nou al hierdie jaar Februarie, en hulle wag nog steeds. Dalk wag ek ook nog.

Mense wat in die openbaar aan skerwe val, dra nie my goedkeuring weg nie. My dinge is my eie. Ek het nie nodig dat ander mense daarna moet kyk om dit waar te maak nie.

Dalk dink hulle ek is bang om ’n enkelma te wees, of omdat mans van nou af gaan dink ek soek ’n pa vir my kind, of omdat vrouens gaan dink ek soek hulle mans. Ek weet nie wat hulle dink my vrese is nie. Dis nie een van daardie dinge nie. Nie laas jaar Maart nie en ook nie hierdie jaar Februarie nie.

Ek was bang oor wie brood sou koop as my geld opraak. Ek was bang oor my en Louisa se veiligheid as skelms by die huis sou inbreek. Ek was bang oor dinge soos elektriese gereedskap wat breek, gras wat groei, en om niemand te hê om mee te praat nie. Elke dag se dinge het my bang gehad.

Tot ek besef het James het in elk geval nooit daai dinge uitgesorteer nie. Selfs ons geselskap het jare terug al opgedroog. Jare voor die jong man homself met James opgesaal het. Lank voor ek die eerste keer by die dokter moes uitkom.

Dis benoud in die personeelkamer. Ek voel dadelik ongemaklik. Die spul kollegas het ’n fisieke uitwerking op my.

Die plek ruik snaaks. Toe ek klein was, het my ouma altyd gesê die inhoud van ’n sekere kas (wat verbode was) ruik soos die dood. Ek het gewonder hoe die dood ruik en het eendag die kas oopgemaak. Daarin was klere van haar seun wat jonk gesterf het. As dít is hoe die dood ruik, ruik die personeelkamer ook so – oud en muf.

Ek gaan sit op die stoel tussen my vriendin Maggie en Alet Steenkamp (wat nie my vriendin is nie). Alet maak so ’n snaakse geluid, asof daar snot in haar keel is. Dis hoe sy groet. Ek doen nie die moeite om self ’n snotgeluid te maak nie. Ek het nie die energie nie.

“Ek haat niks méér as om my kosbare rooktyd hier te moet mors nie,” mompel Maggie langs my. “Ek wonder wat is vandag nou weer so fokken apocalyptic dat ons moet vergader.”

Maggie en Alet is albei agt-en-dertig, maar dis al wat hulle in gemeen het. Alet Steenkamp laat my dink aan Voortrekkervroue. Nie op die kaalvoet-kappie-manier nie, maar omdat ek vermoed sy doen graag dinge soos pere inlê, kouse stop en kinders baar. (Sy hét nog geen kinders gebaar nie, maar ek dink as sy lostrek, sal daar geen brieke aan die vrou wees nie. Nie dat sy baie tyd oorhet nie.)

Hoekom hou ek nie van Voortrekker-Alet nie? Sommer nie.

Dalk omdat ek nie kouse kan stop of enige begeerte het om pere in te lê nie. Dalk omdat een kind vir my genoeg is. Dalk omdat Alet nie rook of drink nie, en sy is sekerlik ’n rapsie preuts. Moontlik omdat ek weet sy laat haar mond met haar weghol. Miskien omdat haar kêrel van baie jare ook onlangs ’n affair gehad het en ek doodbang is dat sy met my sal probeer “identifiseer”.

Die ander mense hou van Alet, of so dink ek. Niemand sê eintlik ooit dat hulle dink iemand anders is ’n doos nie. Daarvoor is Vuurkloof te klein – in hierdie dorp kan mens nie vyande bekostig nie. Ek het eintlik geen idee hoe almal oor Alet voel nie, miskien is hulle bloot sonder ’n opinie oor haar. Dalk is dit veel erger. As ek moet kies, moet mense eerder dink ek is ’n doos as om regdeur my te kyk.

Eintlik hou ek uit die hele spul vrouens net van Maggie en die klomp wat in die kombuis werk. Die mans is vir my onsigbaar. Elkeen van hulle kan vlerke groei en wegvlieg, ek sal nie eers agterkom nie. Almal behalwe my vriend, Andries Gouws. As hy vlerke kry, sal ek dit raaksien.

Almal sit stil, duidelik geïrriteerd, en luister na die hoof se verslag oor ’n eerstespan-rugbyspeler wat dronk geword het in die kleedkamer na ’n vriendskaplike wedstryd teen die buurdorp.

Rugby in Februarie is buitengewoon, maar in Vuurkloof is rugby ’n kultuur wat gelyk is aan godsdiens. Die eerste span hou nooit op met oefen nie. Eers wanneer die outjies se lywe nie meer behoorlik wil werk nie, mag hulle rus.

Die skoolhoof praat en praat en ek hoor later net ’n gedreun. Neem darem kennis van die besluit dat die oortreder eerder nie geskors moet word nie, die span sal sukkel sonder hom. Hy sal uitskryfwerk kry.

Dan spreek die hoof die onderwysers vry om in vrede aan te bliksem vir die laaste paar minute van hulle pouse.

Maggie sny ’n lyn na die boom buite die personeelkamer.

“Was dit nou nodig om die hele fokken pouse te praat oor daai klein kont?” sis sy. “Wie suip alleen in die kakhuis? Dis vieslik. As dit nou een van die debatspanseuntjies was, was hy in sy moer in, maar nee, rugbyspelers kan mos wegkom met moord!”

Pouse is amper verby en die onderwysers vat hulle pouse baie ernstig, veral die rokers. Ek het die laaste periode af, so dit pla my nie regtig nie.

Maggie het skaars haar sigaret aangesteek toe die klok weer lui. Sy vat ’n paar diep trekke voor sy die sigaret dooddruk.

“Ai, laat ek aangaan,” sug sy. “Ek sal vanaand vir jou kom koffie maak, dan drink ons sommer ’n glasie wyn. Dit ís darem Vrydag.”

Ek kyk haar agterna toe sy wegstap. Sy is gewoonlik swaar belaai met boeke en vraestelle, maar vandag is dit net haar groot bruin handsak wat oor haar skouer hang. In hierdie hitte kan mens nie bekostig om meer as die nodige met jou saam te dra nie. Alles en almal is vrekkerig en droog, net reg om te knak.

Maggie se man is dood, sewe jaar terug. Voor ek haar geken het. Sy het nog nooit, nie eers een maal, na sy dood verwys nie. Ek kan nie dink dat sy al ooit in soveel woorde vir my gesê het dat hy gesterf het nie.

Wat ek wel weet, weet ek net omdat Alet Steenkamp graag skinder. Sy het my vertel dat Maggie se man twee of drie jaar na hulle troue ’n reusehartaanval op kantoor gehad het. Hy was dood voor die ambulans by hom kon uitkom. Alet het dit nie uit besorgdheid oor Maggie gesê nie. Sy het dit net gesê om iets te hê om te sê – dis hoe sy is.

Ek stel nie belang om Maggie uit te vra nie. Dis duidelik dat sy nie daaroor wil praat nie, en ek het geen begeerte om in haar wonde te krap nie. Behalwe vir my skottelgoed was en my kombuis opruim, het sy nog nooit ’n oorlas van haarself gemaak wat mý rou plekke betref nie. Partykeer wil mens net kan praat met iemand sonder dat hulle elke moesie op jou gat ken.

Ek kyk na Maggie se vermorselde sigaret in die asblik. Ek is bly ek het opgehou rook. Twee weke later en drie kilogram swaarder dink ek glad nie meer daaraan om die stompie uit die asblik te grou en dit te rook nie.

Net nou die dag het ek ’n swart kolletjie op my lip gesien en toe dadelik gedink aan kanker. Die kolletjie het ná die volgende glas wyn verdwyn, maar die kommer kon ek nie wegspoel nie. Snaaks hoe bang mens word soos die jare verbygaan. Bang vir kanker en Aids en vet en mense en die son. Bang vir alles. Bang vir leef.

My voete sweet in my sandale en na ’n vinnige rondkyk om seker te maak dat al die klikbekke verdwyn het, skop ek hulle uit. Ek gaan sit op die bankie onder die boom. Al het die kinders nie toegang tot die personeelkamer se tuintjie nie, is dit nie aanvaarbaar om jou skoene uit te trek of enigsins gemaklik te lyk nie.

Die hoof regeer die skool met ’n ystervuis en alle onderwysers moet te alle tye ongelooflik ordentlik (verkieslik gepynig) voorkom. Hulle hoef nie noodwendig ordentlik te wéés nie, maar dit moet lýk of hulle ordentlik is. Ek breek nie gewoonlik die reëls nie, maar dis lekker om vir ’n slag my tone onder die droë gras in te boor.

Ek hoor ’n geluid by die ingang van die personeeltuintjie en my kop skiet op, maar dis net die tuinier wat in ’n klipharde blombedding probeer skoffel. Nie Andries nie, besef ek afgehaal. Dit lyk nie asof hy vandag hier gaan kom sit nie, en ek weet nie hoe goed die alleensittery vir my geestestoestand is nie.

Andries is ook die laaste periode op ’n Vrydag af. Dis altyd pret as hy saam met my hier sit, maar dit gebeur nie baie nie. Nie genoeg nie. Hy is altyd besig met iets, gewoonlik werk. As ek ooit met Andries vergelyk word wat werk betref, sal die skoolhoof seker ’n stok in my oog moet druk om seker te maak ek leef nog.

Daar is ’n stel opstelle in my sak én ’n spul toetse, maar ek weier om myself daaraan bloot te stel. Môre sal ek weer moed hê en hard werk. Vandag wil ek net kaalvoet onder die boom sit en asemhaal en kyk na my tone.

Die minute word ’n periode en toe ek myself kom kry, hoor ek die huistoegaanklok lui. My konsep van tyd is verlore. As dit nie vir klokke en horlosies was nie, het ek dalk vir ewig in dieselfde posisie, op dieselfde plek, bly sit.

Ek wou altyd ’n kind hê, maar ek het nooit gedink ek sal iemand soos Louisa kry nie. Iemand vir wie ek die spreekwoordelike berg sal verskuif – met ’n teelepel.

Louisa is die garing wat my ledemate aan mekaar vashou. Baie ouers hoop dat hulle kinders groot dinge sal doen, die wêreld sal verander. Sy het reeds die wêreld verander – vir my.

Sy is in graad drie by Laerskool Vuurkloof, maar sy is slimmer as die meeste graadagts in Hoërskool Vuurkloof. Ek kan nie dink dat ék enigiets daarmee te doen het nie, maar omdat ek ’n aangenome kind is, wonder ek soms of my biologiese ouers dalk geniaal is. Dit slaan mos ’n generasie oor. Ek is seker ek het dit iewers gelees.

Ek mis my ma. Nie my bloedma nie, my regte ma – die een wat my aangeneem het. Sy het net gistermiddag kom koffie drink, maar ek mis haar al klaar weer. Ek het haar baie nodig. Meer as wat iemand wat binnekort dertig gaan word haar ma eintlik nodig moet hê.

Laerskool Vuurkloof is groot, maar aansienlik minder indrukwekkend as Hoërskool Vuurkloof. Elke dag moet ek ’n paar minute in die parkeerterrein wag vir Louisa en Rudi. Rudi is ons buurman se seun. Hy speel in die middae by Louisa terwyl sy pa by die werk is.

Al die ander graaddries kom eenuur uit, maar Louisa en Rudi bly tot net na halftwee. Die laerskool het ’n storieklub begin vir die kleintjies wie se ouers hulle eers later kan kom haal.

Terwyl ek in my karretjie sit en wag, hoor ek die ma’s om my gesels. Al waaroor hulle ooit praat, is hulle kinders en hulle mans.

Sarel se cholesterol is weer deur die dak. Ek is seker hy vreet gemorskos by die werk.

Jannie het wragtig gister weer ’n krieketbal deur die kombuisvenster geslaan.

Die hond is verstop.

Ek het lankal besef dat ek niks het om vir hulle te sê nie. Ek het niks om oor te kla wat Louisa betref nie. En wat James betref, het ek net niks oor nie. Daar is niks oor hom in my wat wil uit nie. Ek klim nooit uit om te gaan gesels nie. Ek sit in die kar en sweet, met my radio wat sagte musiek speel, waarna ek nie luister nie.

Dan sien ek my meisiekind en haar beste vriend aangeslenter kom en my dag word ’n bietjie beter. Sy is ’n mooi dogtertjie, en teen die tyd dat sy by die kar kom, het sy lankal haar lang donker hare losgemaak en haar skoene uitgetrek. Louisa het haar nog nooit vreeslik aan reëls gesteur nie.

“Ek is doodhonger,” sê Rudi toe hulle inklim.

“Ek ook,” sug Louisa terwyl sy haar in die voorste sitplek vasgordel.

My bogemiddelde antisosiale neigings hou my nou al ’n jaar lank uit buitemuurse aktiwiteite by die hoërskool. Anders weet ek nie wat ek sou doen nie … gunste en gawes bedel net om nasorg vir my kind te kon bekostig?

Ons middagroetine is altyd dieselfde. Ek tel die kinders op. Hulle eet middagete, doen huiswerk, kyk ’n bietjie TV, raak soms aan die slaap. Staan dan op en gaan kuier langsaan vir ’n uur wanneer Rudi se pa by die huis kom.

Dis dan wanneer ek wil gaan stap, in dié uur. Dit gee my nou al die laaste jaar kans om in vrede donker en depressief te wees. Nou gaan ek die boosheid op die pad vat. Ek doen nie die “mal ma”-ding nie. Ek spaar die introspeksie en soortgelyke kak tot ek alleen is.

“Hoe was skool?” vra ek terwyl ons die kort entjie huis toe ry.

“Ag, oukei. Ek en Rudi meng ons nie met die semels nie, so daar gebeur nooit meer iets fun nie,” antwoord Louisa.

“Ja, want die semels is bang vir jou,” lag Rudi van die agtersitplek af.

My ma het Louisa vertel van die semels, die varke en die dinamiek tussen die twee. Die semels, soos my meisiekind hulle gedoop het, verwys na ’n groepie graaddries wat so ’n paar weke gelede weer eens vir Louisa gevra het of sy haar nie skaam omdat haar pa ’n moffie is nie. Louisa het met die vuis losgetrek onder die vier. Soos die skoolhoof die voorval geskets het, klink dit asof ek haar moet aanmoedig om ’n rofstoeier te word.

Dit was nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie. Sal seker ook nie die laaste wees nie.

“Watse storie het julle vandag gelees?” vra ek.

“Rooikappie.” Louisa rol haar oë. “Ou Dumpling is soos, ’n honderd jaar agter die tyd. Sy dink ons is vier.”

“Moet haar nie dit noem nie,” sê ek.

“Weet tannie hoe sy lyk?”

Rudi klink so opreg verbaas dat ek maar die teregwysing laat vaar.

Vroegaand, ná die gestap, sit ek by die kombuistafel met my elmboë tussen ’n stapel borde en ’n spul onoopgemaakte rekeninge. Die kombuis is nooit meer skoon nie. Ek moes die huishulp ook laat gaan, kort voordat ek my sigarette opgeoffer het. Nou is die kombuis pal vuil en ek rook nie, maar ek lê ook nie meer snags wakker en wonder wanneer gaan die bank ons meubels kom opskryf nie.

Ek moes ’n klomp dinge verander. Ek stort meer as bad, ek was my hare met kommin sjampoe, ek ry minder rond, ek eet minder, ek koop sonneblomolie in plaas van olyfolie. Maar dit pla my nie. Ek en Louisa oorleef.

Nie ek of sy het al doodgegaan van ontbering nie. En as ons kan oorleef wat ons reeds oorleef het, sal ’n tekort aan geld ons nie onderkry nie. Wat ek egter haat, is dat ek elke keer moet kies watter stuk van myself ek bereid is om te verloor. Sodat ek kos en krag kan koop. Sodat mense tog net nie moet sien ons sukkel nie.

“Kan ek nog water bytap?” skree Louisa uit die badkamer.

Ek gee nie om as sý bad nie. Ek offer juis dinge op sodat sy nie hoef nie. Sy hou daarvan om in die bad te lê en lees. Daar was ’n tyd toe ek dit ook gedoen het.

“Ja! Wat wil jy eet?” skree ek terug.

Water loop, daar is ’n gewoel en gewerskaf, en dan: “Jy maak mos eiers. Ek hou van eiers.”

Gelukkig is my dogter nie moeilik om tevrede te stel nie. Gelukkig is die resepte wat so onverklaarbaar in my posbus opdaag, nie duur óf moeilik nie. Eenvoudig genoeg vir my afwesige energievlakke.

Kort ná ons ete van gekookte eiers en toast gaan Louisa kamer toe met haar storieboek.

’n Rukkie later klok Maggie in. Soos gewoonlik wil sy my skottelgoed was. Ek het nie meer die krag om met haar te stry nie. As sy dit nie van tyd tot tyd kom doen nie, het ek en Louisa seker lankal uit papierborde begin eet.

“Het jy gehoor van Piet Buys?” vra Maggie terwyl ek die bottel wyn oopmaak wat sy saamgebring het.

“Wat?”

“Hy’s dood. ’n Kar het hom vanmiddag omgery. Nie eers gestop nie, net weggejaag.”

Maggie klink nie spyt nie. Ek is ook nie. Niemand het eintlik van Celia le Roux se stiefpa gehou nie. Piet Buys was ’n vet, olierige luis.

“Waar?” vra ek. “Was hy dronk soos gewoonlik?”

“Voor die apteek, in heldere daglig. Hy was glo besig om oor die straat te stap met sy boksie kopseerpoeiers in die hand. Die mense wat dit gesien het, sê dit was ’n jong vrou, maar hulle het haar nie herken nie, so sy kan nie ’n Vuurklower wees nie.”

Vuurkloof is klein. Die naaste winkelsentrum, fliek of plek wat sushi verkoop, is ’n honderd kilometer weg. Die mense hier het niks om te doen nie behalwe visvang, braai en skinder. En ek dink regtig almal ken mekaar.

“Arme Celia,” sê ek toe Maggie by die kombuistafel kom sit. Al vermoed ek die kind sal beter af wees sonder haar stiefpa in haar lewe.

“Hopelik het hy ’n polis of twee gehad wat hulle kan help.”

Maggie gesels oor dit en dat terwyl ons die bottel wyn leegmaak, maar my gedagtes bly terugdwaal na die skielike dood van Piet Buys. Ek kan nie dink dat hy die tipe mens was wat ’n lewenspolis sou hê ter wille van sy familie nie.

Dis kort voor tien toe Maggie huis toe gaan.

Ek stort vinnig en klim pligsgetrou in die bed. Ek lê gewoonlik lank wakker, maar ek het niks anders om te doen nie. Dit voorspel net treurigheid.

My ma sê dis omdat ek nooit nodig gehad het om gered te word nie dat James vir hom so ’n bleeksiel gekies het om ’n affair mee te hê. Alle mans wil glo die redder wees, anders voel hulle nie soos mans nie.

Ek weet nie aldag hoeveel logika daarin lê nie. Dalk wil James nie soos ’n man voel nie. Mans wat soos mans wil voel, kies sekerlik nie vir hulle ’n ander man om lief te hê nie? Die homoseksuele verhouding is een van die vele dinge wat ek nooit verwag het toe ek op James verlief geraak het nie.

Die jong man wat hy nou naai, is beeldskoon. Sy engelgesig lyk asof hy te broos is vir hierdie lewe. Soos iemand wat nie sonder hulp oor die weg sal kan kom nie. Ek hoop hy dink nie hy gaan daardie hulp by James kry nie.

My ma is gewoonlik reg (oor alles), maar sy maak ’n fout as sy dink dat ek nog nooit gered wou word nie. Ek het al baie redding nodig gehad, maar dit het nie in James se broek gesit om dit te doen nie. Mans soos hy sien net kans vir vlak poeletjies. Hulle kom haal jou nie in ’n storm uit die see uit nie.

Talia vat grond

Подняться наверх