Читать книгу Talia vat grond - Melissa Scharneck - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Smeer botter op een kant van 4 snye brood.

Rasper kaas.

Plaas 2 snye brood met botterkant onder, sit kaas op.

Plaas oorblywende stukke brood bo-op (botterkant bo) en toast.

(Onthou dat jou snackwich toaster se buitekant ook warm word – moenie dat dit teen die koord lê en die krag kortsluit nie.)

Ek is nou eenmaal nie ’n oggendmens nie. Ek het tyd nodig om aan die nuwe weergawe van die lewe gewoond te raak. Die eerste daglig voel soos ’n flits wat om middernag op my skyn. Dis ’n bliksem waarvoor ek net nooit gereed is nie.

Ek lyk darem nie té sleg nie, dink ek terwyl ek ’n paar groot hoepeloorbelle insit. Ek probeer hard om op ’n Maandag na iets te lyk. Ek maak my hare reguit, sit grimering aan en dra klere wat pas. Dit klink dalk nie na veel nie, maar vir iemand wat die ander ses dae van die week soos ’n kleurblind weeskind lyk (met hare so na aan ’n afro as wat ’n wit mens kan kom), is dit ’n noemenswaardige prestasie.

“Is daar tamatie op my brood?” vra Louisa uit die badkamer.

Sy vra elke oggend, al weet ek baie goed dat sy nie tamatie op haar brood eet nie. Ek wonder gereeld tot watter mate sy kompulsief is.

Ek eet ook nie tamatie op ’n toebroodjie nie. Dit maak die brood nat en pap en laat my gril.

“Nee, kaassmeer.” Ek sit twee piesangs in haar skooltas.

“Dankie, Ma.”

Waterbottel. Selfoon. Sleutels. Merkboek. Vraestelle. Handboeke. Beursie. Penne. Dagboek. Nié sigarette nie. Ek dink ek het alles.

Ek kan nie wag om uit die huis te kom nie. Alles is oortrek met stof wat die wind oor die naweek ingewaai het. En dis nog nie eers seweuur nie, maar die hitte wurg my klaar.

Petrol in die kar sit. Krag koop. Louisa aflaai.

Ek móét probeer om naweke meer produktief te wees, anders put ’n Maandag my uit nog voor dit begin het. Die res van die week is nooit ’n piekniek onder die reënboog nie, maar daar is iets omtrent Maandae …

Die dag by die skool is soos enige ander Maandag. Personeelvergadering, saal, sportverslae, klasgee, klasgee, klasgee, pouse, klasgee, klasgee, pouse. Niks buitengewoons durf ooit gebeur nie.

Die laaste periode sit ek in die grasvierkant met die graadtwaalfs wat hulle groepmondeling oefen. Dae soos vandag gooi petrol op my brandende begeerte om Vuurkloof se stof van my skoene af te kry. Dis so warm en kurkdroog dat dit voel asof jou vel gaan kraak.

Ek weet nie eintlik wat my besiel het om die klas buitetoe te bring nie. Behalwe vir die hitte het ek al gehoor die hoof hou nie daarvan as die klasse buite sit nie. Gelukkig het hy my nog nooit daaroor aangespreek nie.

My hele klas sit onder die bietjie koelte wat die boom in die vierkant bied. Gewoonlik sou hulle wyd versprei in hulle groepies sit, maar vandag is die skaduwee almal se vriend. Niemand gee om om onder mekaar se voete op die droë gras te sit nie. Dis seker hoe dit in ’n oorlog gaan, wanneer mense ’n gemeenskaplike doel het en sosiale verskille misgekyk word.

Ek maak asof ek merk, maar eintlik luister ek na die kinders om my. Amper niemand oefen hulle mondeling nie, hulle gesels te lekker. Praat oor allerhande dinge: musiek, puisies, klere, sport, ander kinders. Dinge van die jeug. Dit voel asof ek baie meer as net twaalf jaar ouer as hulle is.

Baie dinge het verander vandat ek by Hoërskool Vuurkloof in matriek was; baie dinge is nog presies dieselfde. Net nie ek nie. Ek kan skaars die meisiekind van destyds in my gedagtes herken. Sy sou my vervloek het as sy in die toekoms kon sien.

Dit sou haar grensloos irriteer as sy kon sien wat nou in my lewe aangaan – die groot gemors. Die waansinnige manier waarop ek net meer en meer goed uitkrap en rondgooi en geen plan het om te begin skoonmaak nie. Sy sal nie verstaan dat mens weet waarmee jy bly sit as die gemors eers skoongemaak is nie. Ek wil nie weet wat oorbly nie, so die gemors is welkom.

Daardie weergawe van my het haar eie storms gehad, maar hulle was anders. Hulle het haar skoongewas, het weggebreek wat onnodig was. As sy geweet het die storms wat kom, sal alles verpletter, sou sy dalk anders gewees het – meer versigtig.

“Jy gaan die afkondigings mis, mevrou Prinsloo!” roep Andries Gouws uit een van sy klasvensters. Sy klas is op die tweede verdieping, aan die grens van die grasvierkant.

“Jy sal my sekerlik in kennis stel as iets spesifiek op my van toepassing is, meneer Gouws?”

Ek glimlag toe ek opkyk, raak omtrent oombliklik verblind. Andries het ’n geel hemp aan met groen strepe en ’n blou das met rooi kolle.

“Ek’s ’n kak PA!” skree hy terug.

Amper dertig matrieks se koppe ruk op. Onderwysers by Hoërskool Vuurkloof vloek nie. Hulle ken eintlik geen vloekwoorde nie. Hulle weet nie van seks of dwelms of drank nie. Hulle ken geen droom of teleurstelling nie, hulle is maar net daar – soos skoolbanke, stof en klokke wat lui.

“Wat? Ek het gesê ‘swak’. Nare kinders,” sê hy streng vir hulle.

Maar ek sien die effense blos wat oor sy gesig trek voor hy wegdraai van die venster af.

Onder die mans by Hoërskool Vuurkloof is Andries Gouws sonder twyfel my gunsteling. Hy het ’n vreemde sin vir humor en hy kry dit altyd reg om my te laat lag. Hy is een van die min mense in die personeelkamer wat nie snaaks na my kyk nie. As hy na my kyk, kyk hy lank en aandagtig, asof ek sy aandag van die hele wêreld aftrek. Dan bloos ek, dan lag hy, dan lag ek.

Die huistoegaanklok lui. Dis ’n geskarrel soos die kinders hulle goed wegpak en uit die klas verdwyn.

Almal behalwe Celia le Roux, die meisiekind wat my so na aan die hart lê. Wie se stiefpa Vrydagmiddag doodgery is. Deur die vreemde vrou in die vreemde kar.

“Wat’s fout, Celia?” vra ek terwyl ek my eie boeke in my sak sit.

Alles is seker fout, maar ek vra tog. Ek vermoed die ou dronk bliksem het hulle met ’n klomp ekstra skuld gelos. Die ma ken ek nie, maar ek het al gehoor sy suip net so. Celia is gelukkig die enigste kind.

“Niks, juffrou. Ek sit so ’n bietjie vas met die opstel wat ons Vrydag gekry het. Ek’t gewonder of ek dalk vanmiddag ’n draai kan maak?”

Ek kyk op na haar. Sy het mooi geword. In my eerste jaar by Hoërskool Vuurkloof was sy in graad agt. Sy was toe al lank, maar mens kon sien daar is nie sorg by die huis nie. Die hare was vol koeke en haar skoolrok was nooit skoon of gestryk nie.

Intussen het sy nog langer geword, geleer hoe om haar blonde krulhare in toom te hou en self haar skoolrok te was en stryk. Waar sy nou voor my staan, is sy skoon en netjies.

Ek tel my swaar sak op en sit die band oor my skouer. “Kom so drieuur. Jy kan my dan vertel wat fout is.”

Ek weet sy kry nooit minder as ’n A vir haar opstelle nie en ek glo nie vir ’n oomblik dis dit wat haar pla nie. Ek betuig nie simpatie met haar stiefpa se dood nie. Celia hou nie daarvan as mense haar jammer kry nie.

Ek gaan haar mis as sy die skool verlaat. Sy het nog nooit iets gesê oor haar toekomsplanne nie. Ek brand om te weet wat sy wil doen, maar ek vra nie. Daar is seker nie geld vir veel nie.

Net voor drie hoor ek die tuinhekkie oopgaan. Dis altyd die stilste tyd van die middag in die Prinsloo-huis. Louisa en Rudi trek hulle so halfdrie voor die TV neer, en vandag het albei genadiglik in die sitkamer aan die slaap geraak. Wat ook al ek en Celia gaan bespreek, kan gedoen word sonder twee kinders wat ons afluister.

Die stiptelike klop aan die voordeur is nie so ritmies as wat dit gewoonlik is nie.

“Kom in. Ek is in die kombuis!” skree ek terwyl ek die laaste bietjie skottelgoed wegpak en twee glase uithaal vir koeldrank.

Ek hoor die stadige voetstappe in die gang. Toe ek omdraai, staan Celia in die kombuisdeur. Sy is doodsbleek. Dit lyk asof sy gaan opgooi.

“Jy lyk nie lekker nie. Is jy siek?” vra ek en stoot ’n glas rooi aanmaakkoeldrank na haar kant van die tafel.

Sy kom sit, maar kyk my nie in die oë nie. “Nee. Ek weet nie hoekom ek gevra het om te kom nie. Ek sukkel nie regtig met die opstel nie, ek het gelieg. Toe voel ek te sleg om nié te kom nie.”

Almal doen maar iets as hulle senuweeagtig is, hakkel of peuter met knope of vryf hulle oë. Ek kom agter dat Celia snuif. Sy snuif-snuif heeltyd en blaas haar neus met ’n verbleikte geel sakdoek versier met blommetjies wat eenmaal wit was.

“Dit gaan seker dol by die huis?” vra ek, skielik self onrustig. Dit voel asof benoudheid uit haar straal en deur elke vierkante sentimeter van my kombuis trek.

“Dit gaan altyd dol by die huis, erger as ’n malhuis.” Sy vat ’n sluk koeldrank, blaas dan weer haar neus.

Ek het al lang stories oor haar ouerhuis gehoor. Dinge waaroor ek nog nooit uitgevra het nie. Celia het glo in die laerskool ’n paar keer flou geword van honger. Ek weet nie of dit waar is nie, maar as sy na my toe kom, sorg ek altyd vir iets te ete. Ek haal die laaste paar winkelkoekies uit die pakkie, sit die bord tussen ons neer.

“Mis jy vir oom Piet?” vra ek, sonder om te weet of sy hom ooit oom genoem het. Ek hou nie daarvan om haar onder kruisverhoor te sit nie, maar ek kan sien sy gaan nie self praat nie, al wil sy. Te trots om ’n slegte dag in die openbaar te hê.

Sy lag, maar dis ’n bitter roggel. Vir die eerste keer vandat sy by die kombuis ingestap het, kyk sy op na my. ’n Gal-kyk wat nie pas by haar mooi oë nie.

“As hy maar vroeër gevrek het, was ek nie vandag hier nie.”

Haar woorde skok my nie. Piet Buys was ’n vuilgat. Hy het met Celia se ma getrou toe die kind nege was. Baie Vuurklowers sê hy was sedertdien nie vir ’n dag nugter nie.

Daar was ook gerugte dat hy sy vrou en kind slaan, maar ek het nooit kans gesien om Celia daaroor te vra nie. Dalk omdat ek self so ’n goeie pak slae kon vat. As ek haar ooit gevra het, wat sou ek aan die saak kon doen? Ek wat myself nie eers van James kon red nie.

Sou ek dit oor my hart kon kry dat Celia in ’n kinderhuis opeindig omdat ek by die welsyn gaan kla het? Sou ek self met Piet Buys gaan praat het? Sou ek hom dalk self omgery het?

Ek vat ’n sluk van my rooi koeldrank en wag.

My eie man sou my slaan en slaan tot ek nie kon opstaan vir ’n paar uur nie. Dan sou hy om verskoning kom vra. Aanvanklik was dit heel indrukwekkend, maar na ’n paar jaar het hy net gesê: “Jy weet ek bedoel dit nie.”

Selfs dít het mettertyd opgehou. Teen die einde van ons huwelik het hy nooit meer om verskoning gevra nie. Ek dink hy het dit geniet om my te slaan, hy het dit vir die lekker gedoen. Hy het niks nodig gehad om hom kwaad te maak nie.

Aan die begin het ek hom altyd geglo as hy kom jammer sê het. Geglo dis die waarheid, dat dit nie weer sal gebeur nie. Ek kan vandag nie glo dat enige mens so ’n swaap kan wees nie, maar ek was. Dis dalk hoekom ek so skaam is oor die feit dat hy my geslaan het: omdat dit meer van mý sê as van hom.

Ek kyk na Celia oorkant die tafel en wonder wat die probleem is. Die man is dood; daar is min wat hy uit die graf aan haar of haar ma kan doen. Dalk is dit geld. Ek het glad nie ’n oorvloed nie, maar wat ek het, is ek bereid om te deel as dit haar las ligter sal maak.

“Ek is nogal goed met probleme oplos – ander mense s’n, nie my eie nie. So vertel laat ek hoor,” sê ek.

Celia se mond gaan oop asof sy wil begin praat, dan weer toe asof sy haarself stop.

Ek wil vir haar sê dat ek al baie kak gesien het en dat die lewe my ook al stomgeslaan het, maar ek wag in stilte.

Toe sy uiteindelik wegtrek, skok dit my só dat dit voel asof ek haar uit ’n ander vertrek hoor praat. Haar woorde klink blikkerig. Sy praat soos ’n nuusleser, oënskynlik sonder gedagte of emosie.

“Piet het my verkrag, baie keer. Regtig baie, gewoonlik so drie maal ’n week. Ek weet nie eers of die laaste paar jaar as verkrag gesien kan word nie. As mens ophou nee sê en baklei omdat jy weet dit werk nie, dan sê jy dalk ja?

“So ’n jaar terug moes ek ’n aborsie hê. Piet het my na so ’n snaakse ou man toe gevat, nie ’n dokter nie. Ek onthou ek het baie gebloei. Die ou man het gesê ek sal nou nie meer kinders kan hê nie, maar dit pla my nie. Ek is net bang ek het Aids. Ek het gehoor Piet is partykeer van die kroeg af weg saam met van die prostitute wat daar rondstaan. Hy was nie een vir condoms nie.”

Sy snuif weer ’n keer en vee aan haar neus met die verbleikte sakdoek.

“Ek raak in die nag papnat gesweet wakker so bang is ek. Ek het nodig om getoets te word. Ek kan nie na die kliniek toe gaan nie, al daai tannies het kinders by die skool en ek skaam my dood as hulle stories begin versprei dat ek ’n slet is. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek … ek wil nie doodgaan nie. Ek wou nooit vir enigiemand vertel nie, maar ek kan nie langer so aangaan nie. Ek kry nie geëet nie, en ek slaap ál slegter.”

Dis stil, doodstil, terwyl haar woorde by my insink. Ek kan nie help om in my gedagtes Piet Buys se vet, harige lyf bo-op Celia te sien nie. Hoe vernederend moes dit nie vir haar gewees het nie, keer op keer op keer …

Arme Celia wat so rietskraal is. En wat nou omtrent net uit hare en benerige ledemate bestaan, besef ek met ’n skok. Hoekom het ek nooit raakgesien dat sy so baie gewig verloor het nie? Natuurlik net aan my eie probleme gedink.

Daar is ’n duisend dinge wat ek wil vra, maar my brein en my mond wil nie saamwerk nie. Wanneer het hy daarmee begin? Nadat hy met Celia se ma getrou het, toe Celia nege was? My eie kind is nou nege. Sekerlik kon Piet Buys dit nie oor sy hart kry om ’n dógtertjie te verkrag nie?

“Here …” prewel ek vir ’n god aan wie ek nog nooit genoeg aandag gegee het in my lewe nie. Vir ’n god wat glo die mensdom beskerm. Ek weet nie watter een nie, dalk almal. My ma glo net in een, maar ek roep alle gode aan om Celia se storie te hoor. Om hulle te vra hoe hulle dan van die kind vergeet het. Om hulle te verskree …

Ek hou my oë op die lemmetjiegroen tafeldoek, ek sien elke vesel daarvan, en ’n oliekol wat ek nog nooit opgelet het nie. Toe ek Celia se ouderdom was, het ek al by twee seuns geslaap, en ek het meisies geken wat baie gewilder was. Vigs was daar, maar eintlik ook nie, en ek het niemand geken wat verkrag is nie. Almal wóú dit doen, ék wou dit doen. Ek kan nie dink hoe dit moet wees om iemand se lyf teen jou wil in jou eie lyf te voel inboor nie.

Alles maal deur my kop. Ek wonder hoe Piet dit gedoen het. Ek wonder wat Celia gedoen het om hom te probeer keer. Ek wonder of hy haar seergemaak het. Ek wonder hoe Celia se ma, in hulle klein huis, nie agtergekom het wat aangaan nie.

Maar ek durf nie vra nie.

Dis alles te veel vir my. Celia is verkrag, herhaaldelik, en ek kan niks vir haar doen nie. Ek weet nie hoe om énigiets reg te maak nie, nooit nie. Nie vir haar nie en ook nie vir myself nie. Hoekom sou die noodlot hierdie kind na my toe stuur as ek nie eers myself kan help nie?

Die lewe sal aangaan, dit wag nie vir toestemming van jou af nie.

Dit het my ma eenmaal vir my gesê. Dalk het die alleswetende Dalena Vorster-Swart geweet so ’n dag sal kom waarvoor ek hoegenaamd nie gereed is nie.

Ek wil nie in hierdie posisie wees nie. Ek wil in my eie kokon van mismoedigheid bly sit. Ek wil nie weet dat ’n pragtige kind, dalk die ouderdom van my eie dogtertjie, onder my neus verkrag is nie. Ek wil nie voel ek moet ander mense se kinders red nie. Ek wil nié!

Ek verwens Piet Buys in die hel in terwyl ek my sweterige handpalms aan die groen tafeldoek afvee. Die bloed wil uit my are bars en dit voel asof die woede deur my vel gaan peul.

Ek kom agter dat ek nie na Celia kyk nie, ek kyk na niks. As ek tog net iets kan sê wat haar sal verseker dat dit oukei is dat sy my vertel het, dat alles oukei gaan wees … Maar daar is niks. Ek kry niks gesê nie.

My hart breek vir Celia. Vir die manier waarop sy skaam is hieroor, asof dit háár skuld is. Ek is ook skaam. Omdat James my gemoer het tot my lyf dit nie meer kon vat nie. Omdat hy my belieg en verneuk het.

In stilte rou ek vir alle vroue wat deur hulle borste en baarmoeders tot die dood gevonnis is. Vroue wie se genitalieë afgebrand word, wat vrot van binne omdat hulle siele so vermink is dat hulle lýwe dit nie meer kan vat nie.

Ek rou vir Eva en Rooikappie en elke donnerse vrou wat dit durf waag het om nie instruksies te volg nie. Ek rou vir myself, vir my dogter, vir Celia. Vir die toekoms wat hierdie wêreld, hierdie lewe ons bied.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd – so lank dat ek nie kan onthou hoe lank nie – is ek kwaad. Daar is ’n woede in my wat soos ’n ketel wil-wil kook en ek wens dit kóók. Ek wens dit wil kook en oorkook. Ek wens dit verbrand elke Piet Buys, elke James Prinsloo, elke wolf of slang wat al ooit ’n vrou se lewe hel gemaak het. Hulle moet brand tot mens die duiwels kan sien wat onder hulle vel skuil!

Toe ek uiteindelik opkyk, sien ek dat Celia ’n koekie eet.

“Skielik starve ek,” sê sy met ’n moeë glimlag.

“Het jy jou ma vertel?” is al waarmee ek vorendag kan kom.

“Ek het nie regtig die punt gesien nie. Berta is nie stupid nie, sy het geweet wat gaan saans in my kamer aan. Nadat dit die eerste maal gebeur het … Sy het niks gesê nie, net aangegaan asof dit nie gebeur het nie. Sy kon dit hoor, rúik. Ek het geskree vir haar om my te help daai aand. Dit sal niks verander om met haar te praat nie. Ek het nog net vir juffrou vertel. Dis niemand se besigheid nie.”

Terwyl ek vir ons nog koeldrank aanmaak, oordink ek die moontlikhede.

Celia is reg – ons kan nie kliniek toe gaan nie. Van Vuurkloof se grootste skinderbekke werk daar. My jare lange huisdokter is ook vervang met ’n nuwe mannetjie van Pretoria. Al tel die nuutheid in sy guns, wil ek nie vir Celia na iemand toe vat wat sy weer in die dorp kan raakloop nie. Vuurkloof is te klein vir geheime.

“Kom ons ry môre ná skool deur Leliefontein toe. Daar is ’n goeie kliniek, en die mense sal ons nie ken nie. Dan gaan eet ons sommer daar êrens middagete,” stel ek voor.

Sy kyk verbaas van haar koeldrankglas op.

“Dis baie moeite. Ek wil nie hê juffrou moet te veel moeite doen vir my nie. Ek hou nie van lastig wees nie.”

“Jy was nog nooit lastig nie. Pak vanaand vir jou klere in wat jy môre ná skool kan aantrek.”

Celia, wat ek vyf jaar gelede leer ken het toe sy seker alreeds verkrag was, begin huil. My bors kriewel, my keel trek toe en my neus brand. Ek moet net keer of ek huil saam.

Toe staan ek maar op en gaan sit my arms om haar.

Kort ná Celia weg is, kom haal Rudi se pa die kinders vir hulle laatmiddagkuier langsaan.

Mark Greene is in sy vroeë veertigs. Rudi se ma is dood met sy geboorte en Mark het nie weer getrou nie. Hy is ’n ordentlike pa vir die kind en vandat ek en James uitmekaar is, het ons huisvriende geword. Oppervlakkige huisvriende – nie een van ons stel belang in ’n verhouding nie. Ons speel partykeer skaak, of kyk ’n fliek saam met die kinders, en ons braai soms op ’n Saterdagmiddag.

Die huis is stil en ek besluit om nie vandag te gaan stap nie, ek tap eerder ’n bad water. Ek doen dit nooit nie, en ek het nodig om dit vandag te doen. Ek het nodig om iets te doen waarvan ek hou.

Terwyl ek in die stomende bad lê, dwaal my gedagtes. Ek ken soveel mense wat sukkel met die lewe dat ek begin vermoed ons trek mekaar aan.

Maggie wat nie kan praat oor haar dooie man nie.

Mark wat sy kind alleen grootmaak omdat hy sy vrou ná nege jaar nog so baie mis dat hy nie na ander vrouens kyk nie.

Celia wat herhaaldelik verkrag is deur haar stiefpa. Wat ’n agterstraataborsie moes deurmaak.

My ma wie se man destyds spoorloos verdwyn het en haar met drie klein kinders gelos het.

My dogter wat nie kan verstaan hoekom haar pa haar nie wil sien nie.

En ek wat nie weet hoekom ek ’n man gekry het wat my vergruis het nie.

Is ons die vergete mense? Is dit ons karma? Het ons vreeslike slegte dinge gedoen in ander lewens? Of gebeur alles regtig met ’n doel?

Wat kan moontlik regverdig dat daar van ’n mens verwag word om sulke dinge te oorleef?

Talia vat grond

Подняться наверх