Читать книгу Bloedfamilie - MS Burger - Страница 4

Оглавление

’n Verraaier in ons midde

’n Verraaier in ons midde

Ek hou in die oprit voor hulle huis stil en wag dat die veiligheidshek oopgaan. Ná al die jare kan ek steeds nie die kode onthou nie. Langs die voordeur sien ek hoe yl die asaleas groei. Hulle kry te veel son, het ek destyds gewaarsku, en werk ’n paar teesakkies in die grond in. Maar my pa weet mos altyd van beter. Verwoerdburg, noem hy die voorstad waar hy en my stiefma bly.

Ek parkeer ’n ent weg van die ander motors, sodat ek nie vasgeparkeer word nie. Ek wil ry wanneer ek wil. Sulke familiebyeenkomste, met al die gekarring oor my huweliklose, bar lewe en patetiese loopbaan, het lankal vir my in suur affêres ontaard. Waar ek kon, het ek dit vermy. Vandag egter, is my pa se sewentigste verjaardag, en ter wille van die vieringe is ek vriendelik verplig om die familie te trotseer.

Hier is heelwat mense, selfs my Jesus-bedonnerde ooms en tantes van Burgersdorp, sien ek, waarskynlik lankal met ’n doppie in die hand en ’n pepermentjie in die kies – waar daar kos en drank verniet beskikbaar is, daar sal hulle wees. Ek en hierdie kerklike malles is nooit te gerus in mekaar se geselskap nie.

Dit is in Burgersdorp waar my pa se koloniale geskiedenis van sy ma se kant af sy onderbou het, en sentraal tot die familiesage is dié dorp se witgepleisterde Dopperkerk. ’n Klomp kerkgangers van hierdie omgewing het vroeg in die agtienhonderds begin mor omdat hulle gewetensbesware teen die sing van gesange gedurende kerkdienste gehad het. Gesange is nie as Skrifgetrou genoeg beskou nie en hulle wou slegs psalms, wat direk uit hul God se Woord berym is, sing. Hulle het so oproerig daaroor geraak dat die Graaff-Reinetse ring in 1842 aan hulle geskryf het: Zult gij de harten van Christus’ lichaam door uw vooroordeel en stijfhoofdigheid langer kunnen doorbooren en verscheuren door te weigeren om tot Zijnen lof en tot aller stichting te zingen?

Die klomp stijfhoofdiges bedank toe uit die Nederduitse Gereformeerde Kerk en stig die Gereformeerde Kerk, in die volksmond as die Dopperkerk bekend. Geskikte predikante is vanaf Nederland beroep om Donker Afrika uit die kloue van gesange te kom red en een van hierdie beroepe is deur my stamvader, dominee Posthumus, aanvaar. Ná ’n lang seereis het hy in 1869 met sy vrou en drie kinders op ’n ossewa in Burgersdorp aangekom, waar hy vir vyftig jaar gedien het. Gedurende die geboorte van hul vyfde kind is sy vrou oorlede. Oud maar selde koud, het hy sy volgende twee eggenote ook oorleef, en altesaam ’n kroos van twaalf verwek. ’n Regte mannetjieskat. Sy derde en laaste vrou was sestien jaar oud toe hy met haar getrou het. “Dit is maar hoe die ou mense was,” het my pa gesê toe hy my die storie vertel.

Vyf van dominee Posthumus se seuns het predikante geword, almal behalwe oom Dirkie wat klassieke musiek gespeel en later as kelner op ’n trein gewerk het. Vier van dominee Posthumus se dogters is met predikante getroud. ’n Trotse, godvrugtige nageslag, almal van hulle uitverkore (behalwe oom Dirkie) en die meeste van hulle met kerkbleek gesigte en lekker dik lewers (insluitende oom Dirkie). Regte Doppers. Stamvader Posthumus se oudste seun, my oupagrootjie, het by hom as predikant in Burgersdorp oorgeneem. My ouma is daar gebore.

My pa druk my teen hom vas toe ek hom gelukwens met sy verjaardag. Ek draai my wang toe hy my soen. Ek het vir hom ’n bottel Glenfiddich-whisky gekoop, wat hy dadelik oopmaak.

“’n Mens moet deesdae niks bêre nie,” sê hy terwyl hy vir hom skink. “Die hotnots steel mos alles. Sal nog eendag die goud uit jou tande ook steel.”

Nadat hy as onderwyser afgetree het, het sy baard lank en grys geword, sy wenkbroue ’n donderstorm, sy hande grof, sy vingernaels swart gevlek van pyptabak, en het hy soms vir dae aaneen dieselfde klere gedra. Sy lewensfilosofie het hy vereenvoudig tot die Here se wil, televisie kyk en ’n paar laataanddrankies. Gereeld wanneer hy met my praat, klink dit asof sy stem in die middel van ’n sug is. Dan bly ons albei maar net stil.

Ek skink vir my ook whisky en gaan groet die familie.

“My jinne, kyk nou net wie’s hier!”

“Wanneer laas het ons jou gesien?”

“Hoe gaan dit, kinta!”

“Lekker spekvet en gesond, nè!”

Ek glimlag dat my lippe later bewe, hou asem op terwyl ek een snor ná die ander soen en myself probeer red uit ’n paar omhelsings. Dit is natuurlik dieselfde selfvoldane spul wat my so graag agter my rug in hul dun twak- en slymstemme ’n kafferboetie noem.

“Ag, en wie is jy nou weer?” vra my semiseniele tannie Magriet.

“Dis Johan se dogter, Tannie.”

“Maar is sy nie nou die dag dood nie? So jonk, en wat dan nou van haar arme kindertjies?”

My neef lag en my pa stap buitentoe. “Ek gaan gou die vuur aansteek,” sê my pa. Ek wonder of hy skaam kry.

“Wil jy nie koffie hê nie, Magriet?” vra my stiefma en neem haar aan die arm.

“En ’n geseënde Kersfees vir julle ook,” sê tannie Magriet.

“Whê-whê-whê,” kerm ’n baba en trek genadiglik almal se aandag van my en tannie Magriet se gedisoriënteerde gesprek af.

“Hoor nou net,” sê my tannie, haar rooi gekleurde hare in ’n art nouveau-styl opgepof. “Sy wil ook hallo sê, wil sy nie? Wil sy nie . . .?”

Toe ek omkyk, is my neef se vrou besig om haar blou-geaarde bors uit te haal. “Whêêê-hê-hê-hê!” Toe raak dit stil soos die klein papbek sluk. Tshlik-tshlik-tshlik.

“Is sy nie pragtig nie? Is my baba nie die mooiste ding in die hele wêreld nie? Ja, Mamma, ja, Mamma . . .” Almal kir en brabbel saam.

Versigtig loer ek na die suigende dingetjie met die byna deurskynende ballonkoppie. Tshlik-tshlik-tshlik-tshlik, asof sy haar ma gaan leeg suig.

“Wil jy haar ’n bietjie vashou?” vra my neef se vrou terwyl sy haar bors terugdruk. “Kyk, sy lyk nes jou neef. Daar’sy, daar’sy . . .” En sy gee die kriewel-en-poep vir my aan.

Ek neem die baba by haar. “Ek is nie goed met kinders nie. Regtig nie.”

“Wag maar tot jy jou eie het, dan sal ons sien. Weet jy, twee vloere boontoe en twee vloere ondertoe het hulle my hoor skree toe dié kind kom. Die narkotiseur was mos nie betyds om my ’n epiduraal te gee nie. En vier drukke, vier drukke, toe’s die kind daar. Ek het nie lus gehad om heelaand in die koue kraamsaal te lê nie. Hulle het my sommer net so toegewerk, sonder verdowing, ’n mens voel nie eens die steke nie.”

Ek het hierdie storie al dikwels gehoor, en onthou ek het destyds vir haar ’n vaas donkeroranje rose kraaminrigting toe geneem. Ek was teleurgesteld dat die rose geen geur gehad het nie – tot vandag toe is ek nie seker waarom ek dit onthou nie.

Die kind se ogies pop stadig soos nagblommetjies oop.

“Oe, kyk hoe trek sy daai gesiggie.” Ek is nie seker of hulle van my of die baba praat nie.

“Uhm, ek dink sy’t gepoefie,” sê ek.

“Ag, dis jou bolip wat jy ruik, man,” sê my neef.

Die bekkie begin teen my hemp na ’n bors soek, maar ek help haar vinnig reg en lig haar koppie teen my skouer, waar sy vir ’n oomblik dobber voordat sy ’n straal dik gemors teen my rug af spoeg.

“Whê-hê-hê,” begin die kind huil nadat sy van haar suur lading ontslae geraak het. Seker haar oorlewingsinstink wat haar uiteindelik waarsku dat sy in my onbeholpe arms in lewensgevaar verkeer. “Whaaaaa!”

“Wil jy haar nie bad nie? Partykeer glimlag sy as sy bad.”

“Dalk nie nou nie.” Ek gee die ontstelde bondeltjie geluide aan haar ma terug.

“Volgende keer, volgende keer. Aag, sjoesj, sjoesj-sjoesj, my liefling, sjoesj.” En my neef se vrou neem die kind by my.

Ek gaan badkamer toe om die braaksel uit my hemp te was. Sommer my ouers se badkamer, sodat ek my ding in rus en vrede kan doen. Op my pa se bedkassie staan ’n halfgedrinkte bottel Bacardi Breezer en op die spieëltafel lê die Familiebybel. Van die bladsye is al los gelees en rimpelrig onder my vingers. Die Heere is mijn herder mij zal niets ontbreken val uit toe ek omblaai. Hij doet mij nederliggen in grasige weiden. Hij voert mij zachtkens aan eer stille wateren. Ek sit die Bijbel neer en maak die badkamerdeur agter my toe.

Die eerste inskrywing in die Bijbel is in 1902 gemaak, by die dood van my oupagrootjie aan my pa se kant. In vele geskiedenisboeke oor die Anglo-Boereoorlog word sy naam as een van die uitstaande voorbeelde van ’n groot ou hensopper genoem. Ja, hoewel God, die groot Afrikaner, aan die uitverkore volk se kant was, was my grootoupa Schoeman beslis nie. Gedurende die Slag van die Lamlendiges het my grootjie en sy hele kommando, tot De la Rey se moerigheid, met perde en gewere en al oorgegee, botweg geweier om verder mense te skiet. Ná ’n paar dae het die Britte sy plaas gestroop en afgebrand, hom daarna vrygelaat. Hy en my grootouma het vir die res van die oorlog in hul nagmaalshuisie in Pretoria gebly. Soggens het hy op die stoep gesit en sy beskuit in whisky gedoop en laatmiddag blykbaar te heerlik saam met ’n klomp mal Iere gekuier.

Die geskinder oor die hensopperstorie is iets wat my oupa Schoeman altyd probeer wegpraat het, maar waaraan my ouma se Posthumus-broers hom moedswillig sou herinner. Dit het my oupa nie gehelp om uit te wys hoe die gladdebek Posthumusse se heldedade gedurende die Slag van Stormberg beperk was tot Skriflesing en gebed op die dorpsplein nie, of tot psalms (tog net nie gesange nie) wat met sjerrieasems om oop grafte gesing is.

Verder was die Posthumus-broers gou om te verduidelik dat hul God van liefde vir seker my grootoupa Schoeman goed en deeglik teruggekry het vir sy ontrouheid teenoor die heilige volk. Volgens hulle was dit hul Here, natuurlik in sy groot, almagtige barmhartigheid, wat daardie middag my oupagrootjie en twee vriende in die voorkamer van sy nagmaalshuisie in Kerkstraat in klein, smerige stukkies opgeblaas het. Eintlik was dit my oupagrootjie wat ’n oopgesaagde liddietbom, sy enigste aandenking van die oorlog, as ’n asbak gebruik het. Een brandende vuurhoutjie. Kaboem! en dit was verby. Tussen die groen en geel dampe van die “klein kaffertjie”, soos die Boere ’n liddietbom genoem het, het my oumagrootjie stikkend gesien hoe haar man se baard aan die brand raak en steeds gegloei het toe hulle hom uitdra. Dit is in elk geval hoe my pa my dié storie vertel het, en dan het hy gewoonlik beskermend oor sy eie yl baard gevryf.

In die Bijbel het my oumagrootjie geskryf: Johannes Hendrik Schoeman (1874–1902). Sy kon haar nie sover kry om “generaal” voor sy naam te skryf nie. Nadat sy grafsteen ’n paar maal gevandaliseer is, het sy nie die geld of moed gehad om dit te vervang nie. Stuk vir stuk is die graniet met sy naam op, geliefde echtgenoot en al, afgebreek, verwoes, fyngemaal en deur die wind weggewaai.

Elke dood in die Schoeman-gesin is van toe af in handskrifte wat spookagtig baie dieselfde lyk, in dié Bijbel aangeteken. Johannes Hendrik, Johannes Gerhardus, Hendrik Johannes, Johanna, Hendrina Johanna, Johanna Maria. Name wat deur ’n latere generasie verwerk en gemoderniseer is tot Henry, Joanna, Jean-Henri, Hanro, Jo-Marié en Johandré.

In die badkamer spoel ek die kol op my hemp uit. My ouers gebruik al die jare nog dieselfde tandepasta, merk ek op, en my stiefma het spesiaal ’n gehekelde lappie oor die toiletbak gegooi. Toe gaan sit ek, trek my rug krom soos ek sukkel en steun, hou my asem op en druk om die harde stuk boerekak uit my lyf te kry. Ek en my alewige hardlywigheid – seker die stywe bloedlyne van ou God die hensopper, al die familiegal en -drek van jare wat in my derms verknoop is, dink ek tranerig. En hier sit ek nou, aan die suidelike strontput van Afrika, met my broek om my enkels omdat ’n paar ou donners geweier het om gesange te sing. My sluitspier word slap en ek maak my morsige gaatjie oop. Vandag skyt ek ’n rugbybal vir volk en vaderland.

Ek vee die bloedjies af, kyk na wat ek in die toiletbak gedoen het en trek die ketting. Ek moet die toilet ’n paar keer spoel voordat alles in ’n blou oerskuim van Jeyes Fluid verdwyn. Terwyl ek my hande was, merk ek skrams in die spieël hoe die rooklyne om my mond my gesig laat hang. Tyd se tragies geplooide stories.

My ouma was nie ’n mooi vrou nie, vertel my pa graag, maar sy was baie slim. Sy wou ’n dokter word, maar het tot die dag van haar troue ’n kamer met haar twee susters gedeel. Nadat sy met my oupa Schoeman getroud is, het hulle uit die heilige stam weggebreek en Pretoria toe getrek, waar hy sy lewe lank vir die staatsdiens sou werk.

Grootoupa Posthumus het aanvanklik geweier dat my ouma met die afstammeling van ’n hensopper en boonop ’n gesangesinger trou. Graaff-Reinet se Schoemans was net so ’n slegte spul verraaiers, het hy aangehou. Net die Schoemans van Vissershoek was ordentlike mense. Ten minste is ’n klomp van hulle in konsentrasiekampe dood. Maar toe my ouma en oupa dreig om weg te loop, het ou dominee Posthumus toegegee, mits my oupa ’n Dopper sou word. My oupa het hom nie twee maal laat nooi nie. In Burgersdorp het my ouma se Posthumus-broers op die aand voor hul huwelik daarop aangedring dat my oupa in Queen Victoria se gedenkfontein moes pis.

Ek onthou my ouma was ’n streng vrou met ’n bewerige stem, en dat sy lekker kon brandewyn drink. Gelukkig is ’n woord soos “alkoholis” in daardie dae nie so haastig gebruik nie. Haar hare was altyd kort, sy het Cameo-sigarette gerook en langbroekpakke met helder hemde gedra. Die laaste keer wat ek haar gesien het, was sy beenskraal en het skaars geëet. Op agt en sestig is sy dood, alleen en met ’n blou kring om haar mond ná ’n asma-aanval. Een van my duidelikste herinneringe uit my kinderjare is die bitter poeier tussen my tande elke keer wat ek my asmapompie moes gebruik.

Terug in die voorkamer sit my neef-hulle se dogtertjie voor die televisie en kyk na ’n kinderprogram terwyl hul seuntjie, ’n stewige knaap van seker so drie jaar oud, ’n potplant aan die blare deur die huis sleep.

“So, hoe oud is jy nou?” begin my neef nog voordat ek kan sit.

Ná ’n paar drankies is hy gewoonlik die eerste wat aan my begin karring. Ek neem een van sy Chesterfields en sien hoe dun en blink die mat in die voorkamer is, die blompatrone plek-plek weggetrap. In die kaggel is ’n paar skulpe, wat ons een skoolvakansie by Sedgefield opgetel het, gerangskik rondom ’n vaas met pouvere wat soos groen en blou vlammetjies wieg.

“Seker ook al in die dertigs, nè?” gaan hy voort. “Gaan jy nou nooit trou nie, jong?”

“Lyk ek vir jou soos ’n poephol?” Ek hoop ek het speels geklink.

“Noudat jy dit noem, jou mond lyk nogal soos ’n meerkatpoephol met al daai plooie, ha-ha,” en hy gee sy leë bierglas vir sy vrou om vol soet witwyn te maak. “Soos ek altyd sê, tyd wag vir niemand nie, veral nie vir julle vroumense nie. As jy nog wil kinders hê, sal jy moet begin, ou nig. Wat het van daai laaste boyfriend van jou geword, die ingenieur?”

“Ag, los haar uit, sy’s net slim om nie nou al te trou nie,” sê my stiefma. Sy kon nie kinders hê nie.

“’n Vrou van sestig het nou die dag ’n tweeling gehad.” My oom lyk beïndruk deur sy bydrae tot die gesprek, sy hande koninklik agter sy rug gevou. “Dit was in die koerante,” en hy kug om die slymerigheid uit sy ore te werk.

Ek druk my sigaret dood en sny vir my ’n stuk sjokoladekoek.

My neef kyk vermanend na my. “Ten minste eet jy genoeg vir twee, ha-ha.”

“Toe maar,” sê my tannie met die rooi hare, “ek was een en dertig toe ek met jou oom getroud is.”

“Hoe ouer die bok, hoe stywer die stok, sê hulle mos!” lag my neef se vrou.

“’n Bok is ’n bliksem, ja, ’n ou bliksem,” sê tannie Magriet.

Die potplant wat my neef se seuntjie rondsleep, skiet uit die bak los en gaan lê met verminkte, toiingrige wortels na bo, soos ’n uitgespoelde seekat.

“Jou klein helsempie!” skree my neef. “Jy soek nou al heeldag vir my en jy gaan vir my kry!”

Die kind gil en hardloop na sy ma toe. “Sies, man, moenie so met die kind praat nie.”

Die baba begin ook skree.

“Sit die plantjie in water, dalk groei die worteltjies weer,” sê ek vir my stiefma terwyl ons die grond en blare in ’n skoppie opvee.

“Ek weet darem nie,” sê sy. En: “Gaan kyk tog hoe ver hulle met die braaiery is. Het hulle nou eers die beeste gaan slag?”

Ek kan die braaivleis ruik. Bloed wat stadig stol en vasbrand.

Voor ete doen my oom ’n gebed, en ons word herinner aan dié wat nie vanaand met ons is nie – ouma- en oupagrootjie, Pappie en Mammie, en natuurlik my fokken gelukkige suster wat iewers in Londen rondflerts. Toe tannie Magriet “Stille nag” begin neurie, beëindig hy die gebed met ’n swaar “ámen”. Daarna stel ek ’n heildronk in op my pa. Ek praat van vriende en familie wat soos goeie rooiwyn en ou boeke is. Almal klap hande en my pa kry trane in sy oë.

“Hy huil deesdae so maklik,” fluister my stiefma vir my.

Die eerste keer dat ek my pa sien huil het, was op sy pa se begrafnis. Ek onthou ook hoe vreemd dit vir my was om te sien hoe my ma hom troos en sy hand vashou.

My oupa het van die werk af gekom en gekla oor ’n dronk kop, ’n bietjie gaan lê. Eers was my ouma nie seker of hy net diep slaap nie. ’n Paar uur ná my oupa se beroerte het my ouma voor in die Bijbel geskryf: Johannes Gerhardus Schoeman (1901–1969). Hy was die enigste pa wat sy ooit geken het, het my ma altyd gesê, selfs nadat sy van my pa geskei is. ’n Regte gentleman, het sy hom genoem, maar ook maar lekker kwaai met sy seuns. Nee, nooit met sy skoondogters of dogter nie. Vir hulle sou hy enigiets doen. Selfs as volwasse man en tot die dag van hulle dood, het my pa sy ouers as “Pappie” en “Mammie” aangespreek.

Ek het my ouma en oupa Schoeman se woonstelblok, waar ek as dogtertjie by hulle gekuier het, eenkeer in Pretoria gaan opsoek. Granada-woonstelle, op die sesde verdieping in die hoek, met ’n uitsig oor die Uniegebou, hier waar ek my eerste Brolloks en Bittergal-stories gehoor het. Voor die Uniegebou staan ’n kanon wat liddietbomme gedurende die oorlog geskiet het, het ek later uitgevind, en gewonder of my oupa dit geweet het. Duiwelsvurk en ’n sekuriteitshek het nou die woonstelblok afgesper, en ek was verbaas dat alles soveel kleiner gelyk het as wat ek dit onthou.

“Goed, mense, julle kan maar skep,” nooi my stiefma. “Hier is pap en roosterbrood en slaai.”

“As ek wil slaai hê, slag ek nog ’n bees, hug-hug,” lag my neef.

“Ek moenie te veel eet nie,” sê my neef se vrou terwyl sy vir haar en haar man opskep. “Ek moet nog van hierdie dik maag van my ontslae raak.”

“Oupa, kyk hoe sterk is ek!” skree my neef se seuntjie vanaf die stoepdeur terwyl hy die basterbrak aan haar voorpote die huis indra. “Kyk!”

“Is dit nie oulik nie, hy noem jou pa ‘oupa’,” sê iemand.

“Hei,” skree ek, “los die hond! Jy maak haar seer.”

Die snotneus kyk my nors aan. Slaap hierdie klein donner nooit nie?

“Ek sê lós!”

Hy gooi die hond neer.

“Jy gaan die kind verwar. Jy is nie sy oupa nie,” sê ek vies vir my pa.

“Ag, wat maak dit tog saak,” sê my pa.

Terwyl ons eet, bel my suster van Londen af. Ten minste het sy hierdie keer onthou my pa verjaar. Nadat hulle gepraat het, raak my pa sentimenteel en vertel ’n paar stories uit ons kinderjare. My suster, omtrent so drie jaar oud, het een vakansie op ’n stoel in ’n restaurant gestaan en skree: “Waar’s my bleddie pap?” omdat die kelner so stadig was. My pa dink steeds dit is hel snaaks. En hy vertel van hoe ek, een keer, in die tuin gebollie het, my skoen uitgetrek en my boudjies met my sokkie afgevee het. Later die aand vertel hy presies dieselfde storietjies. Dit is dan waarmee sy kinders hom gelaat het, ’n pap-en-drol-storie.

Van die jongeres staan om die vuur en bier drink, hand om die lyf, en ’n paar dans op die stoep. My pa doen sy simpel dansie en klap sy arms soos ’n veerlose kuiken. My neef probeer met my dans, maar ek wil nie. Sy hande raak te los ná ’n paar drankies. Ek vlug voorkamer toe.

My pa het teen die voorkamermuur self die rakke gemonteer waarop hy familiefoto’s en aandenkings van vorige vakansies uitstal. Ons het een vakansie, toe ek nog op universiteit was, die vertrek se mure ligpienk geverf. Ek kan die kwasmerke sien, en bo teen die dak skyn ’n stuk van die wit muur deur soos ons vinnig probeer klaarmaak het. Toe het ek nog vakansies huis toe gegaan. Dit was lank voordat my pa my ’n suiplap en ’n jagse klein teef sou noem toe hy my daardie nag by die hospitaal moes kom haal.

Die fotoalbums is op die gewone plek. Ek pak dit van die rak af en blaai van agter na voor deur een wat al flenterig gevat is. My pa word jonger, sy hare eers langer en dan weer korter. In ’n volgende album is sy liggaam sterker, my stiefma verdwyn en my ma hou weer sy hand vas. Dan word ek en my suster al kleiner en kleiner, raak die een ná die ander weg. In die laaste album het my pa en ma in twee mooi jong mense verander, hand aan hand en gelukkig.

Vroeër vandag het ek my ma gebel en haar aan my pa se verjaardag herinner. “O ja,” het sy gesê, “ek onthou nou. Sê maar vir hom geluk van my kant af.” Sy is ook nooit vir haar troueloosheid vergewe nie.

Ek gaan kombuis toe, draai die krane oop, druk my hande in die seperige water en begin die messe en vurke was. Ten minste is ek seker niemand sal my hier steur nie – die ou klomp is heeltemal te bang vir werk. Op die kombuistafel staan ’n vaas vol dik, rooi plastiekblomme. In die lig sien ek die blare is stowwerig.

“Julle!” roep my rooikoptannie in die gang af. “Ag, julle, kom help tog hier!”

Ek skrik, soos altyd wanneer daar ’n klomp ou mense met verskeie kwale bymekaar is, drafstap saam met die ander na my ouers se kamer toe.

“Die toilet is verstop,” sê sy. “Toe ek die ketting trek, toe loop alles sommer bo uit.”

“Dis nou vir jou ’n regte ou kakspul, nè?” sê my oom.

“Haai nee, hoor hoe lelik praat jy!” sê my stiefma. Toe: “Kry die mop en ou koerante, ag, hemeltjie tog.”

Stille wateren se moer, hier moet ek wegkom en vinnig ook. Laat hulle hul eie gemors skoonmaak. Voordat ek omdraai, beur tannie Magriet se groot grys kop verby my stiefma, haar oë stip op my gerig, asof sy my vir die eerste keer vanaand sien.

Sy kom staan styf teen my voordat sy praat. “Ek onthou jou nou,” en sy lag, verlig dat sy uiteindelik die klomp vae lettertjies sinvol in haar kop kon rangskik. “Haai, foeitog, ek onthou jou nou.”

Bloedfamilie

Подняться наверх