Читать книгу Bloedfamilie - MS Burger - Страница 5
ОглавлениеSere in die mond
Sere in die mond
Ek het nie gedink ek sal weer ’n verhaal oor my ma skryf nie. Maar so gebeur dit toe dat ek een naweek my woonstel regpak, afstof en sommer van ’n klomp snert en sentiment ontslae raak en daar, geliasseer tussen my derdejaarsielkundeaantekeninge wat vinnig op pad asblik toe was, kom ek op ’n verhaal oor haar af. “Elke hond kry sy dag,” is die titel. Ek het dié verhaal destyds op my ou rekenaar met die swart-en-wit skerm getik. Al wat ek daarvan oorhet, is hierdie weergawe met ’n paar korreksies in pen bygekrap. Die karakters en storielyn kan ek egter goed onthou.
Twee dogters kuier vir ’n vakansie by hul ma. Die oudste dogter is ’n eerstejaarstudent, oorgewig en stil op ’n onvriendelike manier. Sy dra elke dag dieselfde swaar swart langbroek en ’n los Indiese hemp. (“Daardie klere gaan nog aan jou vasgroei. Ek sal jou betaal om net één maal ’n rok aan te trek. En as jy net ’n bietjie maerder is, hoef jy nie heeltyd sulke sakkerige ou goed te dra nie.”) Die jongste dogter sonbad meestal in die tuin, agter die wasgoedlyn, en praat ook nie juis veel nie. (“Jy gaan velkanker kry.”) Hulle ma, volgens die verhaal, lyk goed vir haar ouderdom: skraal, met slegs ’n aanduiding van ’n magie wat om haar middel uitsak. Haar wit bermuda is hard en skerp gestryk. Sy doen altyd moeite om die vellerigheid om haar nek agter ’n kragie weg te steek, of om haar hand half voor haar keel te hou wanneer sy praat. Asof sy eintlik wil kug. Dit, sowel as van haar ander gewoontes – om direk ná ete skottelgoed te was, om saans voor die televisie aan die slaap te raak, om ’n snytjie roosterbrood en tee vir middagete te eet, om te sug wanneer sy gaan sit – het ek later teen my sin met eensaamheid begin assosieer.
Ek gaan lê op die rusbank, dink ’n oomblik na, sien hoe vaal my woonstel se kantgordyne is, die vensters dof van nog ’n somer se reën. (“Ek kry sommer die horries as ek sien hoe vuil dié plek van jou is.”) Toe begin ek die verhaal lees:
“Kom hier, my kind! Ja, ja, kom hier.”
Die oudste dogter sit in die sitkamer en blaai deur ’n Huisgenoot. Die jongste dogter het pas met Piz Buin Faktor 2 en ’n handdoek by die agterdeur uit verdwyn. Aan die wasgoedlyn hang die ma se sykouse soos spookbeentjies.
“Kom, Ma se liefste kind. Kom na Mammie toe.”
Die ma buk, tel die woelende malteserpoedel op en druk haar gesig in die hond se moplyfie. Minnie blaf en lek haar gesig. Die ma lag.
Van waar die oudste dogter sit, kan sy tot buite op die grasperk sien. Teen die sitkamermuur, half agter die voordeur, hang ’n poskaartgrootte prent van ’n biddende Madonna in ’n raam van goue blare. Sy het ’n stomp voorkop, bultende oë en ’n besonder lang kakebeen. Toe die dogter en haar suster albei op laerskool was, het hulle dit een Kersfees vir die ma gegee.
“Ag, hoor hoe praat sy met haar ma, hoor net!”
En Minnie praat te heerlik – jip-jip, grrrrrjip. Die dogter kyk gesteurd van haar Huisgenoot af op en sug.
Die ma buk, Minnie soos ’n nat trui oor haar arm, en vryf die swart steekbaard wat om haar voete begin kerm en spring. “Kyk hoe jaloers is dié een nou. Kyk nou net! Toe nou, Maxi, bedaar tog, ou jaloersie,” paai sy.
Die ma, met Minnie steeds onder die arm, gaan sit op haar pastelgroen sitkamerstoel en Maxi wip op haar skoot. Sy kreun onder die spartelende gewig van albei honde, maar lag steeds. “My liefste en soetste kinders. Ja, ja, wag nou. Stadig!”
“Fokken fur balls,” mompel die dogter, maar maak seker die ma kan haar nie hoor nie.
Elke oggend gaan stap die ma met haar twee honde langs die see tot by die akwarium.
“Wil jy nie met jou sussies gaan stap nie?” vra sy gereeld vir die oudste dogter. “Hulle loop tog so soet aan hulle leibandjies, jy weet. Jy kan sommer een van my ou sweetpakbroeke leen; dit behoort jou darem te pas.”
“Nee.”
“Toe nou, die oefening sal jou goed doen. Jy en jou suster is dieselfde. Ewe lui. Sit ook net heeldag.”
Tot hier was dit glad nie vir my nodig om iets te versin nie – ek kan ’n verhandeling oor my ma se emosionele verknogtheid aan haar honde skryf.
“Hulle is altyd bly om my te sien en vergewe altyd alles,” sou sy sê terwyl sy hulle optel, op hul snoete soen en toelaat dat hulle haar in die gesig lek. Dit was nou die vrou vir wie ons piksoentjies moes gee om nie haar lipstiffie te smeer nie, wat so nou en dan vlugtig, asof sy skaam was, aan my hare sou raak en my hand sou los sodra ons aan die anderkant van die straat was.
Uiteindelik, en dit is die waarheid, het ek ’n allergie vir hondehare ontwikkel, wat ek pligsgetrou ’n paar paragrawe later by my verhaal ingewerk het.
Die oudste dogter se oë krap en jeuk en word rooi, haar gesig plomp asof sy baie gehuil het.
Die ma is uiters moerig hieroor en hou vol dat die allergiese reaksie veroorsaak is deur die dogter se slierterige hare wat in haar oë hang.
“Sny tog net jou hare, dan sal jy ook sommer beter lyk en voel,” is die ma se raad.
Die volgende deel van die verhaal was grotendeels ’n verdigsel. Minnie klim op die steekbaardteef se rug en begin met toe ogies teen haar pomp. My ma gooi hulle van die oopplankombuis af met ’n glas water.
“Nee, nee,” skree die ma. “Hou op!”
Glas kletter oor die teëlvloer, druppels spat.
“Wat is dit?” vra die oudste dogter, lam geskrik. “Wat het gebeur?”
Die honde wurm tjou-tjou onder die sitkamerbank in, en die ma boender woes met ’n besem agter hulle aan. “Hou op, hou nou op!”
Die oudste dogter besef sy moet iets doen voor die ma ernstige skade met haar besem aanrig.
“Dis nie so erg nie,” mompel die dogter gemoedelik. “Toe maar, dis nie so erg nie.”
“Bly stil, bly jy net stil!” huil die ma, sak op haar knieë en loer onder die bank in.
Vir Maxi is die groot, kwaai oë net te veel en sy skarrel onder die bank uit, gly-gly om die hoek in die agterdeur se rigting. Die jongste dogter gil toe die hond oor haar kaal rug hardloop.
Toe die ma verder vorentoe leun en haar hand paaiend na Minnie toe uitsteek, skuif haar bril oor haar neus en val. Een van die lense klik oor die vloer. Haar oë word kleiner.
“Dit ook nog,” snik die ma.
Die dag daarna skeer die oudste dogter haar hare borselkop.
“Was dit nou regtig nodig?” vra die ma en praat vir die res van die vakansie skaars met haar.
A, daardie grimmige stiltes van haar wat ek gereeld moes deurleef. Niemand kon stilbly soos my ma nie.
Die verhaal het egter gaan staan toe Minnie, maer soos ’n geknoopte bol wol, aan kanker gevrek het.
“Maxi soek heeltyd na haar, heeltyd,” het my ma destyds oor die telefoon gehuil. “Sy is so verlore, ek weet nie wanneer sy ooit weer mens gaan word nie.”
Ek maak die venster op ’n skreef oop en skakel die lamp aan. Nadat ek nog ’n glas wyn geskink het, lees ek weer deur my verhaal. Nie sleg nie, glad nie sleg nie, dink ek, effens trots. Dalk ’n bietjie lomp en debuutagtig, maar ek is seker dit kan reggestel word. En daar en dan, moedig of moedswillig, dalk al effens dronk, besluit ek om nog een allerlaaste keer ’n verhaal oor my ma te probeer skryf.
Ja, ja, al my vorige pogings het tot vervelige, terapeutiese relase verwater, dit weet ek. Maar ek moet nog een maal probeer, sommer nóú alle verhale en aantekeninge oor my ma soek en deurkyk vir iets wat met ’n paar los herinneringe gekombineer kan word vir ’n laaste herskryf. Daarna sal ek dit laat rus.
In die slaapkamer maak ek my kasdeure oop. ’n Paar kouse val uit, ’n trui en ’n rugsak. (“Hier sal ’n kat nie eens haar kleintjies kry nie.”) Terwyl ek delf in my laai waarin ek my korrespondensie bêre, onthou ek hoe ek in ’n oomblik van bedonnerdheid, voordat ek vir ’n paar jaar oorsee gedros het, al my ma se briewe aan my verbrand het. Dit was vir my eie beswil, het ek destyds geredeneer, ’n lekker groot vuur gemaak en sommer briewe van ou geliefdes en skoolvriende bygeneuk, asook ’n Kimberley-skouprogram van 1982 wat deur P.W. Botha geteken is. Ek is nou spyt oor die verlore briewe, en P.W. se handtekening kon dalk iets werd gewees het. Al korrespondensie van my ma wat behoue gebly het, is ’n paar verjaardagkaartjies wat sy by die DBV gekoop het, elkeen versigtig onderteken met “Liefde, Ma”. Niks meer nie. Ek wonder wanneer ek opgehou het om haar Mamma te noem.
Ek versaak my klerekas en soek verder. Gelukkig lewer my lessenaar gou ’n verrassing op, ’n verhaal sonder titel, in pen en in ’n duidelike en stadige handskrif geskryf.
“Eet tog nou vir ’n slag ordentlik, my kind, nou-nou is jy weer so maer soos ’n kraai,” por my ma reeds aan my suster nog voordat ons behoorlik aansit vir ete.
“Julle eet mos van alles, nè? Ek ken julle kinders ook nie aldag nie. So vol fiemies as julle lus het. Sal een van julle asseblief vir ons die sjampanje oopmaak? En moenie dat die prop skiet nie; dit mors net.”
Die liggies aan die plastiekgroen Kersboom in die hoek van die sitkamer werk lankal nie meer nie. Dis die idee wat tel, sê my ma gewoonlik terwyl sy die boompie versier. Vir Kersfees het ek vir my ma ’n kasset van Dean Martin gegee en vir my suster Quality Street-sjokolade, wat sy nie oopgemaak het nie. My ma het vir ons elkeen vyftig rand gegee en vir my ’n foto van Dean Martin in die Huisgenoot gewys soos hy aan die einde van sy lewe gelyk het. Van die drank, het sy opgemerk. Die bottel sug toe ek die prop met my duime uitwerk.
“Oppas dat jy nie mors nie,” sê my ma terwyl ek die drie glase vol skink. “En versigtig nou, dis my beste glase. Toe nou, Sussie, gee vir my jou bord dat ek vir jou kan skep.” Ek merk hoe die vel om my ma se boarms verlep toe sy my suster se bord neem, en ek kyk weg.
Die huis ruik na voosgekookte kos en hondeasems. Net voordat ons begin eet, lui die telefoon en my ma skuif haar stoel krapperig agteruit.
“Dis jou pa,” sê sy aan niemand in die besonder nie toe sy terugkom, en ek staan op.
“Happy Christmas, my kind, van almal hier!” My pa praat aanhoudend en hard en op die agtergrond hoor ek ’n helse lawaai, klappers wat skiet en mense wat gil.
“Happy Christmas vir julle ook.”
“Hou jy darem lekker vakansie? Jy’s nie weer siek nie, is jy? Ek sal vir jou sê, dis hier so warm dat ons in die swembad boer.”
Hy was nooit iemand wat alleen kon wees nie.
“Roep gou vir Sussie dat ek met haar ook kan praat.”
Hulle praat gewoonlik nie lank nie. Nie oor die telefoon of andersins nie. My suster kom sit weer, net so stil soos wat sy opgestaan het.
“Wel, geseënde Kersfees en smaaklike ete,” sê my ma. “Ek hoop nie die kos is nou koud nie.”
Ons eet in stilte, met net die skerp geluide van messe en vurke tussen ons.
“Kom, jy eet soos ’n voëltjie; hierso, skep vir jou nog.”
My suster lig haar hande en skud haar kop, maar my ma gee reeds die bak aartappelslaai aan. “Toe nou, Sussie.”
“Nee dankie, nie nou nie,” sê my suster en druk die bak weg.
My ma stoot die aartappelslaai terug.
“Wat is dit met jou!”
“Ek het genoeg gehad,” sê my suster, kry die bak met albei hande beet en skuif dit oor die tafel sodat die tafeldoek frommel.
My ma gryp die ander kant van die bak. Die aartappelslaai doen ’n paar rondomtalies tussen my ma en my suster – ou Verergdheid en klein Desperaatheid wat mekaar nou aangluur – links, regs, links regs. ’n Mes val. Ek merk hoe baie my suster se hande soos my ma s’n lyk. ’n Vurk klingel agterna, ’n glas sjampanje wieg op ’n dun steeltjie, eers na die een kant toe, dan die ander kant, en kantel toe met ’n blikgeluid om. Sjampanje stroom deur die ertjies in my suster se bord en stol in ’n dik, naar souserigheid van mayonnaise en blatjang. My ma trek haar asem so hard in dat dit deur haar neusvleuels fluit, haar lyf ’n uitroepteken. Ek proes toe my suster die gemors met haar poedinglepel en servet probeer opdam. ’n Vlek het intussen soos ’n woeste silhoeët oor die tafeldoek uitgesprei.
“Wat maak jy? Ag nee, Sussie, ek het jou mos gesê, man!”
’n Aartjie op my suster se voorkop bult en toe rooi hale in haar nek begin krap, spring sy op. Haar stoel klap teen die terracottateëls. Die honde het intussen hul snoete in die aartappelslaai gedruk en morsig begin vreet.
“Sien jy nou,” sê my ma vir my met haar kraakbeenlippe, “dit was nie nodig om te lag nie.”
Dit is toe dat ek opstaan en langs die see, tot ver verby die akwarium, gaan stap.
Terug by die huis, sien ek deur die oop voordeur my ma het voor die televisie aan die slaap geraak met haar honde op haar skoot. Toe sy die traliehek hoor, gaan haar oë oop, net om dadelik weer toe te rol. Die son skyn in plasse oor die vloer. Ek sien sy het lipstiffie aangesit.
“Jy raak nou lekker cheeky, nè. Waarheen het jy verdwyn? Jy moenie so lank wegbly sonder om te sê waar jy gaan nie. En kyk tog of Sussie beter voel; sy is al vir ure doenig in die badkamer.”
Ek klop liggies en aanhoudend aan die badkamerdeur totdat sy antwoord.
“Kom tog nou uit, man. Jy’t dit mos nie aspris gedoen nie.”
Die water rommel toe sy die badprop uittrek en kort daarna die toilet twee maal ná mekaar spoel. Net voordat sy haar kamerdeur agter haar toetrek, sien ek hoe dun haar skouers deur haar T-hemp druk en hoe los haar broek om haar middel en heupe vou. Bamboesbeentjies, ’n rugstring van klippies, ’n treurende lyf.
Dié verhaal speel in die tagtigerjare af. Ons kon destyds nie geweet het nie. Ons kon nie.
“My hele familie was nog altyd skraal,” het my ma aanvanklik gesê, halftrots.
By die huis het my suster in haar kamer weggekruip en onophoudelik na The Carpenters geluister – “talking to myself and feeling old”. Nadat sy by die skool flou geword het, het die skoolhoof my ma ingeroep. Maar dit sou nog ’n paar maande neem voordat my suster, haar hare dof en plat teen haar kop gekam, armoediglik maer saam met my en my ma in die enigste psigiater in Oos-Londen se spreekkamer gaan sit en wag het. My ma was desperaat om iemand te blameer. Jy het nooit. Dis jy wat. Ek het mos gesê. Hoekom het jy nie? En hou tog op om daai donnerse musiek heeltyd te speel.
Ons gesin praat nooit oor dié tyd nie, die tyd toe Mamma se oogappel ’n bietjie ver van die boom af geval het.
Saam met die vorige verhaal tik ek die teks op my rekenaar oor en verander so hier en daar iets. Toe ek daarmee klaar is, is dit halftwaalf.
Nou is dit my boekrak se beurt, waar ek na ’n bloemlesing soek wat aan my ma behoort het. My ma wou dié bloemlesing een vakansie gedurende ’n hewige huisskoonmaaksessie weggooi en ek het gevra of ek dit mag kry. Sy was ingenome dat ek die boek wou hê, ek kon dit sien.
Hoërskool Grens, Queenstown, 1956, toegeken vir Geskiedenis, is op die eerste bladsy in sierskrif geskryf. Ek blaai vir die soveelste maal deur die boek op soek na ’n teken, ’n onderstreepte woord, ’n vingermerk of ’n ingevryfde voutjie by ’n gunstelinggedig. Die papier is skilferig. Soos altyd kry ek net ’n silwer sigaretpapiertjie en ’n servet met ’n goue en groen blomrandjie wat soos klokke lyk, plat gepars tussen Uys Krige se “Lied van die Fascistiese bomwerpers”. In die middel van die servet is ’n afdruk van ’n lipstiffiesoen. ’n Klein dogtertjie se skatte.
Onder my lewe se administratiewe rompslomp wat op die telefoontafeltjie vergader het – advertensies, aanwysings na verlede jaar se werkspartytjie, telefoonrekeninge en onoopgemaakte vensterkoeverte – vind ek ’n Croxley-eksamenblok waarin ek lank gelede ’n nota gemaak het met die doel om dit in ’n latere teks of gedig oor my ma te dramatiseer en te mismaak.
Wolfgang Schleidt, ’n Oostenrykse dierkundige, het ’n kalkoenhen bestudeer wat al haar kuikens doodgepik het. Dit is ’n rare verskynsel onder kalkoene, aangesien die henne daarvoor bekend is dat hulle hul kuikens verbete teen enige vyand sal beskerm. Volgens Schleidt het kalkoene ’n eenvoudige senustelsel en registreer hulle ’n vyand as enige bewegende voorwerp wat nie die rollende kloek-kloek-geluide van ’n kalkoen maak nie. Met ander woorde, alles wat nie na ’n kalkoen klink nie, is ’n vyand. Waarom dan het die kalkoenhen haar kuikens as vyande gesien en hulle doodgepik? Uiteindelik het hulle die rede bepaal: Die kalkoenhen was doof en kon haar kuikens nie hoor nie.
Die potensiële simboliek hiervan moes my destyds beïndruk het. Ek gooi die nota verleë weg, trek ’n trui aan en gaan sit voor die rekenaar. Die venster laat ek oop sodat die bedompigheid uit die gordyne kan trek.
“Fotoverhaal” was die verhaal waarvoor ek die meeste hoop gehad het, onthou ek toe ek die dokument op my rekenaarskerm oopklik. Dit moes ’n paniese geskiedenis van my ma en dié se direkte familie wees wat my verhouding met haar in ’n meer historiese en gemoedelike perspektief sou stel. Elke inset was veronderstel om op ’n foto gebaseer te wees, maar die projek het ’n mank aanvang gehad. Ek het nie soveel foto’s van my ma gevind soos ek gehoop het nie, en sy was nie juis tegemoetkomend met stories oor haar kinderjare nie. “Hy was ’n vark,” het sy van haar stiefpa gesê en ek het nie weer gevra nie. Ek het wel op ’n paar klasfoto’s en die ondervyftiennetbalspan se foto afgekom, waar ek my ma links in die voorste ry herken het.
Haar skooluniform het sakkerig tot op haar knieë gehang, selfs al was dit om haar middel met ’n gordel ingevat. Sy was kaalvoet. Haar bene dun en sonder rondings. Haar arms soos stokkies. Sy het opgekyk, haar hare stylloos en prakties geknip om ’n smal gesig en haar oë op skrefies getrek soos sy glimlag. Sy het gelukkig gelyk.
Dan was daar die ateljeefoto waar ’n jong ouma Sofia op ’n stoel tussen twee van haar dogters sit. Van my ma se broer was daar slegs een foto met ’n vergeelde riffelrandjie. Hy het by sy pa gebly, het my ma verduidelik toe ek vra waarom ek hom nooit ontmoet het nie. Die foto was so klein dat ek skaars kon sien hoe hy lyk.
Oor ouma Sofia se eerste man (my ma se pa) is daar nooit gepraat nie. “Ek het hom nie geken nie,” sê my ma toe ek vra. Ek kon nie een foto van hom opspoor nie. Niks, hy het net verdwyn. Al wat ek van hom weet, is dat my ma se nooiensvan Du Toit is. My ma is laat weet van sy dood kort nadat sy haar derde jaar aan die Universiteit van Stellenbosch begin het. Eers twee weke later het sy haar verloofde vertel haar pa is onlangs in Kaapstad, slegs ’n driekwartier se ry van Stellenbosch af, begrawe.
Daar is een foto van ouma Sofia se tweede man. Sy gesig is vierkantig en sy skouers breed. Blykbaar het my ma en haar suster hom eenmaal teen die kombuismuur vasgedruk en hom goed gedonner. Nadat my ma hom met ’n vurk gegooi het, is sy na ’n koshuis in Queenstown gestuur. “Deesdae is dit glo so swart daar dat ’n mens nie kan leef nie,” is al wat sy ooit oor Queenstown gesê het.
Ouma Sofia het ek ontmoet toe ek ses jaar oud was. Tot op daardie stadium het my pa se familie ons lewe oordonder en was ek onbewus daarvan dat my ma ook ’n ma gehad het. My nuwe ouma het vir my ’n legkaart van Winnie the Pooh gegee en my op my tweede naam genoem, wat my bang en vreemd vir haar laat voel het. Sy het na sigarette geruik. My suster was twee jaar oud en kon later nie onthou dat sy gehuil het toe die vreemde vrou met die grys hare haar wou optel nie. Ouma Sofia was ’n verkoopsdame by ’n skoenwinkel en het my vertel sy kon twintig persent afslag op skoene kry. Nadat sy weg is, het my ma ’n foto van ouma Sofia op my spieëltafel gesit.
Destyds het ek my ook na my pa se fotoalbums gewend – die ou tipe albums met dik, swart bladsye waarop ’n mens hoekies moes plak en dan die foto’s monteer – om my karige verhaal te red. Sommige van die hoekies was los en van die foto’s het verlore geraak. By elke foto het my pa met ’n wit pen ’n byskrif aangebring, soos “Ek en Pieletjies in die armie”, “Ek, Mammie en Pappie by my Citroën”, “My girlfriend Rieta”. Op latere foto’s het my ma verskyn. Hy en sy staan langs mekaar as deel van die Matie-gimnastiekspan. Op die agtergrond, skuins verby haar neus, steek die naambord van Beaufort-Wes se streeksbiblioteek uit en die bus se dakrak is gestapel met gimnastiektoerusting.
“Ons het altyd pleisters oor ons nipples geplak as dit koud is sodat dit nie deur ons leotards wys nie,” sê my ma vir my. “Dit lyk tog so lelik. Jy moet dit ook maar onthou, veral met die klere wat jy deesdae dra.”
Dan stap my ma en pa hand aan hand, skynbaar onbewus daarvan dat hulle afgeneem word – hy steeds in die helfte van dieselfde sin, sy wat wegkyk, haar bene vasgevang in die plooie van haar romp. Agter op die foto is ’n adres wat ek as deel van my verhaal neergeskryf het: Sunbeam Photo Co, Box 4264, Cape Town. Phone 20714.
“In al die groot stede was daar fotograwe wat jou foto sommer so op straat neem,” het my ma verduidelik, “en dan het hulle vir jou ’n nommer gegee en jy kon dit later by hulle studio gaan koop as jy wou. Baie keer was hulle sommer orig. Hier kan jy sien hoe vies jou pa was, want hulle het ons al twee keer daai dag afgeneem.” Sy het gelag terwyl sy my vertel het. “Ek was maar elke keer ’n sucker en het die foto’s gaan koop.”
My pa was haar eerste kêrel. Hulle het saam studeer en was albei goed in sport. Hy het vir haar ’n eekhorinkie present gegee wat haar potlode tot op die lood gekou en soggens vroeg op haar maag kom lê het. Aan die begin van haar tweede jaar het hulle verloof geraak. Sy ouers het haar soos ’n dogter aanvaar. Sy pa was groot en statig en het nooit sy humeur verloor nie. Ná die troue het sy hom “Pappie” genoem. Dit was vir haar ’n vreemde woord. Haar skoonma het haar leer naaldwerk doen en kook, maar van ’n breipatroon kon sy nooit sin maak nie. Dit is nou haar lewe, het sy gedink, en die vrouens van die buurt oorgenooi vir ’n Tupperware-partytjie. Sewe jaar later, ná ’n huwelik waaruit twee dogters gebore is, het prokureurs op 20 Maart 1971 in Oudtshoorn hul egskeidingsdokumente gefinaliseer. Sy het vir haar skoonma geskryf: Ek het hom nie meer lief nie.
Dit is die enigste paragrawe uit “Fotoverhaal”, met sy fundamentele gebrek aan agtergrondinligting, wat ek in my nuwe dokument herskryf. Waar ek verder vir stories moet soek, weet ek nie. Dalk is daar iewers ’n verhaal oor ’n geluid of ’n reuk, ’n sug of parfuum, ’n nota op my hand geskryf, ’n skildery, ’n droom wat ek te moeg is om te droom?
Ek gaan badkamer toe, spoel my gesig af, staan ’n oomblik voor die badkamerspieël. Roesvlekke waar my oë moet wees, tandepastakwyl in my hare. Iemand sê my naam en daar, net dáár, toe ek my oë teen die skerp oggendlig skreef, sien ek dit. Maar veral as ek op ’n sekere manier glimlag, of wanneer ek ongeduldig is en my mond trek. My stem wat met hare verwar word oor die telefoon. Jy klink nou nes. Ek kan nooit te gerus wees met so ’n nessie van doringdraad in my agterkop nie.
Ek druk my vingers in my mond en rek my mondhoeke. My tong spartel en my keel ruk. Terselfdertyd mismaak ek my oë deur my onderste ooglede met my duime afwaarts te rem. In die flou badkamerlig lyk my gesig grotesk. Geleidelik verdwyn my ma. Ek kan hoor hoe sy haar huissleutels op die tafelblad neersit. Dit het vir dae net daar gelê nadat sy weg is.
Ek gaan lê op my bed, moeg ná die nag se werk, maar bly wonder of ek iets vergeet het. Ná ’n ruk verval ek in ’n ligte slaap waaruit ek spartel om wakker te word. My kop voel swaar en my mond is seer. Met my tong voel ek oor die riwwe aan die binnekant van my wang. Saam met my eerste koppie koffie sluk ek ’n paar pynpille en lees my nuwe verhaal oor my ma. Hoe verder ek lees, hoe onsekerder voel ek. Later hou ek op lees, stap badkamer toe en kyk weer in die spieël. ’n Anemiese gesig en wit seertjies in my mond – my lyf kon nooit yster inhou nie. Ek was nooit sterk genoeg nie. Vir oulaas lees ek my laaste paragraaf deur voordat ek dit delete.
Wat die dogter haar duidelik voorstel, is die ma se slaappienk kopvel wat deur haar dun, gekleurde hare skyn, sy wat die ma aan die keel neem en haar kop teen die muur stamp en stamp totdat die ma se bril skeef oor haar neus val. Die ma sak tot op haar knieë. ’n Strepie bloed en snot loop teen haar gesig af, volg die groewe om haar mond en deurweek haar bloes se netjiese kragie. Haar lippe krul soos sy probeer praat. Die dogter leun nader tot by die ma se oor, waar sy stront en haarsproei ruik. Toe nou, toe nou, dis nie so erg nie, sê sy en verstewig haar greep. Onder die vellerigheid voel sy hoe die lugpyp kraak en deur die stembande sny. Toe sy stil raak, neem die dogter haar ma se willose lyf in haar arms, wieg haar liefderik, hou haar vir ’n lang ruk net styf vas.