Читать книгу Blits 2: Operasie Hoërskool - Nadine Blom - Страница 6
Оглавление
“Jissie, ou perd, ek sê vir jou iets is nie reg met daardie Harry-dude nie. Veral toe ek hom vang grou in die sand soos ’n hond, toe clutch my diff eers,” vertel ek vir Zander voor ons die volgende golf vat.
“Hy klink soos ’n weird ou, ek moet sê, maar net een vragie: Wat is ’n diff?”
“Dis jou brein, ou – jou kop, jy weet. As jy clutch, dan haak hy bietjie; dan’s hy bietjie gemuf.”
“Oo,” sê Zander. Dan slaan hy weer oor na sy gunstelingtema: “Eish, jy moet die meisies in my klas sien.”
Ek voel my irritasie bou. “Jinne, is dit al waaraan jy kan dink – girls? Kan jy nie hoor hoe ernstig hierdie ding is waaroor ek met jou praat nie?”
“Bly jy maar stil, Mister Casanova,” kap Zander terug. “Jy het jou oog nie sommer op wie nie. Eers was dit Minkie die blink môrester en nou is dit sommer die hoofmeisie.”
“Ag, kyk wie praat! Minkie is in elk geval terug huis toe. Besides, dit doen mos nie skade om te kyk nie. Maar dis nie nou die punt nie. Die punt is Harry. Waarmee is hy besig?”
“Jissou, Hannes,” vererg Zander hom. “Kan jy ons nie vir een minuut uit die moeilikheid hou nie? Daai perlemoendiewe het amper ons dood gekos. En vandag was dit weer die matrieks. Ek dink nie ek sal ooit weer my reputasie kan herstel nie. En nou wil jy nóg moeilikheid gaan staan en uitdink!”
Ek wil iets sê, maar Zander gee my nie kans nie. “Ek gaan sommer die volgende wave vat. Cheers vir eers.” Hy voeg die daad by die woord en kies die pad van die minste weerstand. Soos altyd.
Ek bly nog vir ’n ruk in die water sit bo-op my board en wonder hoe ek hierdie ding gaan hanteer sonder my brother in arms. Dan vat ek die volgende wave en ry hom tot op die strand. Ek sal wel by die antwoord uitkom, maar los gaan ek nie los nie. Zander moet maar weer goed word.
Ek sleep my surfboard uit die see en skud die soutwater uit my ore. Vat dan dieselfde roete terug huis toe, seelangs. Ingedagte stap ek en fluit die nuwe Martin Garrix tune.
“Wat de …” Vir ’n oomblik dink ek my oë bedrieg my toe ek ’n groep polisiemanne met honde sien rondstaan, presies op die plek waar die noedelfiguur vroeër gegrawe het.
’n Prentjie begin in my brein vorm aanneem. Die raamwerk is daar, maar die detail moet nog ingevul word. Harry het definitief iets hiermee te doen. Ek weet dit nou. Ek besluit om die info vir myself te hou en stuur ’n skietgebedjie op dat dit die regte ding is om te doen.
“Haai! Wat maak jy hier?” praat ’n stem agter my. Ek swaai om. Die stem kom van ’n man met biceps wat lyk of hy mure inmekaar kan slaan. Hy het ’n vaal SAPD-uniform aan en sy een hand rus op sy pistool.
Voor ek kan antwoord, hoor ek ’n bekende stem: “Kalmeer, Van Zyl, dis een van Melkbos se helde – Hannes Joubert.”
Oom Renaldo kom skud my blad. “Wil jy vir my sê julle het nog nooit ontmoet nie?” vra hy vir die man in uniform. “Hannes, dis kaptein Van Zyl.”
Ek steek my hand uit en groet die polisieman. “Middag, Kaptein.”
Dan kyk ek weer na oom Renaldo. “Dis lekker om Oom weer te sien.”
Vir ’n oomblik is daai krapperige gevoel terug. Ek voel kaptein Van Zyl se oë op my. Hy lyk agterdogtig.
“Stap jy dikwels hierdie pad, Hannes?” vra hy met ’n streng gesig.
“Hannes is ’n ou surfer en Melkbos-local. Hy ken Melkbos beter as wat jy die palm van jou hand ken.”
Ek kry lekker, want ek is seker oom Renaldo hou ook nie baie van Van Zyl nie. Hy het hom sommer nou goed op sy plek gesit.
“Hannes, ons is besig met ’n ondersoek, maar ons kan nie meer as dit sê nie,” sê oom Renaldo. “Hoe meer inligting ons weggee, hoe moeiliker kry ons die boewe vasgetrek. Ons sukkel al klaar soos dit is. Maar ek wonder net: het jy vandag enigiets vreemds gesien gebeur hier rond?”
Nou moet ek mooi dink. Oom Renaldo is my geheime wapen.
“Nee, Oom. Ek was nou die hele tyd in die water. Wat gaan aan?”
Ek kan sien oom Renaldo wil my vertel, maar iets hou hom terug.
“Ons het ’n oproep gekry dat ons gou moet kom kyk wat hier aangaan. Niks ernstigs nie,” sê hy en kyk weg. Something’s up. Oom Renaldo sê vir seker nie alles nie.
Dan verbreek Van Zyl die stilte: “Nou toe, maak dat jy by die huis kom, Hannes. Dit raak donker en jy wil nie in die moeilikheid kom nie.”
Hoekom klink daai stelling vir my meer na ’n dreigement as enigiets anders?
“Oom … Kaptein, dan groet ek eers.”
“Tot siens.”
Ek gryp my longboard en vat die pad huis toe.
Melkbos se koue aandlug gryp my aan die keel. Kyk, vreemder weer as die weer in hierdie dorp kry mens sekerlik nêrens nie. Ek maak die voordeur oop en glip sag soos ’n dief by die huis in. Ek ruik Pa se spaghetti bolognaise. Dis duidelik sy beurt om kos te maak. As dit by kosmaak kom, verstaan ek rêrig nie my pa nie. Ek bedoel, hy kan vir Gordon Ramsay laat les opsê, maar tog kies hy om elke keer dieselfde gereg te maak wat eenvoudig genoeg is vir ’n sesjarige om te bemeester.
My surfboard klak-klak teen die trappe soos ek opstap. Ek het Gina se kamer geërf toe sy Stellenbosch toe is om te gaan studeer. Dis lekker. Dis amper asof ek my eie huis het. Sommer ’n five-star suite!
Ek mis my ouma se skril stemmetjie wat my roep om die lekker kos te kom eet wat sy altyd spesiaal vir my maak. Ouma is Bora-Bora toe vir ’n eilandvakansie, op soek na die Spaanse held van haar drome. My oupa het haar laat belowe dat sy sal aanbeweeg ná sy dood en sy het besluit om nou haar belofte gestand te doen, voor dit te laat is.
Ek sukkel uit my wetsuit uit en vat ’n warm stort. Die warm water brand soos lawa op my yskoue lyf. Die see gaan nog van my ’n stuk frostbite maak. En as as die see my nie kry nie, gaan dit sekerlik Pa se ongoddelike spaghetti wees wat my hartversaking gee. Net solank dit nie kaptein Van Zyl is wat my laaste asem kom haal nie …