Читать книгу Engel in die teater - Naretha Franken - Страница 3

1

Оглавление

Die oggendson is reeds geniepsig. Buiten die reëlmaat van haar tekkies op die teerpad en die veraf geblaf van honde is dié deel van Bredasdorp nog aan die wakker word. Die vier maande wat sy weg was en nie gedraf het nie, het haar sleg gemaak, besef Engela toe sy teen die laaste deel van die bult begin swaarkry.

Aan die bopunt, waar die pad weer gelyk word, gaan sy vir ’n oomblik staan om asem te skep. Haar keel brand van droogheid en haar bene voel behoorlik soos rubber. Daar’s geen genade van ’n boom se koelte of ’n briesie nie. Toe sy weggespring het, was die idee glad nie om tot hier te kom nie – maar haar voete het seker haar hart gevolg. Alles om haar is so wonderlik bekend. Dís waar sy hoort, waarheen sy so bitterlik terugverlang het daar in die vreemde.

Haar blik gaan stadig oor die dorp aan haar voete, haar geboortedorpie wat skielik besig is om uit sy nate te bars. Met die nuwe ontwikkeling teen die kus op is daar nou byna dubbeld soveel inwoners in die kontrei as vroeër. G’n wonder daar moes drastiese veranderings aan die Overberg Hospitaal gemaak word nie.

Sy begin stadig, hande in die sye, aanstap oor die hospitaalparkeerterrein. Voor haar vertrek was tagtig persent van die aanbouings en verbrekings reeds voltooi. Hoe welkom was die skenking uit wyle dokter De Beer se boedel nie! Met sy afsterwe is sy praktyk aan sy kleinseun bemaak en ’n groot bedrag is aan die hospitaal geskenk, met die voorwaarde dat elke sent daarvan aan die opgradering van die gebou en geriewe spandeer word.

Die hospitaalgebou lê skitterwit in die vroeglenteson. Die twee nuwe vleuels is voltooi en pas goed by die historiese boustyl van die ou gedeelte. Hier en daar sien Engela nog vernuwings wat onbekend is – en tog ís alles so heerlik vertroud.

Voor ’n bordjie waarop staan “Suster Engela Matthee” steek sy met ’n glimlag vas. Sal sy daardie dag ooit vergeet? Dit was drie jaar gelede, so twee weke voor haar verjaarsdag, toe sy die oggend met ’n vaart agter ’n pasiënt aangehardloop het, ’n sakkie vergete pille in die hand. Sy het haar reggemaak om na hom te roep, maar haar woorde het in haar keel gestol toe sy die laaste trappie mistrap. Haar knieë, haar arms, haar heupbeen, tot haar linkerwang was nerfaf. Sy het ’n goeie meter op die teer geskuur en reg voor die pasiënt se voete tot stilstand gekom.

Die arme man het groter geskrik as sy. Twee weke later, op haar verjaarsdag, is hierdie parkeerplek, naambord en al, amptelik aan haar oorhandig. Sy het dit immers met haar bloed gekoop.

Vanoggend staan daar egter ’n wit dubbelkajuitbakkie geparkeer. Wie kan die eienaar wees? Definitief nie iemand wat sy ken nie, daarvan verseker die Kaapstadse registrasienommer haar.

Die voorportaal is stil en koel, soos gewoonlik. Ver weg hoor sy die gegons van ’n bedklokkie en ’n teetrollie wat rinkel. Sy trek die steriele reuk van die hospitaal diep in haar longe in. Sy is tuis.

Die glimlag in haar oë versag toe sy die gryskop agter die toonbank gewaar. Oom Kosie is al deel van die hospitaal vandat sy as klein dogtertjie saam met haar pa op sy saalrondtes gegaan het. Getrou elke dag op sy pos.

Hy is nou diep ingedagte, sy bril voor hom op die lessenaar, en totaal onbewus van haar totdat sy haar hande van agter oor sy oë skuif. Sy voel hoe hy verstyf. Twee gerimpelde hande neem hare en trek dit stadig van sy oë af terwyl hy na haar draai. Die frons tussen sy oë verdwyn geleidelik en Engela sien hoe daar lewe in die dowwe blik kom.

“Engeltjie?”

“Hallo, oom Kosie. Wat sit en worstel oom so op oom se eie?” Sy glimlag toe hy hopeloos te vinnig vir sy ouderdom orent kom.

“Mintag, my kind, is dit regtig jy? Waar was jy al die tyd? Ek het al begin wonder of jy nou daar oor die waters gaan bly.”

Hy trek haar aan haar skouers nader en sy kry ’n stewige klapsoen. Dan laat hy sy oë gretig oor haar gaan, van haar nommervier-tekkies tot haar kroontjie.

“En sowaar nie ’n duim groter nie.”

Engela lag. “Ek dink nie ’n mens groei nog op agt-en-twintig nie, oom.”

“Ja, toe nou maar, jy weet wat ek bedoel. Jy lyk pragtiger as ooit.”

Hy skarrel rond om vir haar plek te maak om te sit, beduie dan na die stoel in die hoek agter die toonbank.

“Kom sit, kom sit. Hoe gaan dit nou met jou ma? Ai, ek het so baie aan haar gedink. Wanneer het julle teruggekom?”

Engela lag vrolik. So ken sy hom, vra ’n duisend vrae op ’n slag terwyl hy sy papiere organiseer om sy hande besig te hou.

“Dit gaan goed met Ma. Sy is nog redelik moeg, die behandelings het behoorlik haar kragte getap, maar die paar dae in Wildernis het haar goed gedoen. Ons tweetjies het net mooi niks gedoen nie. Net heeldag gelees en DVD’s gekyk.”

“Ek wou sê jy is darem glad te bruin gebrand vir iemand wat sopas teruggekom het van Switserland. En sê my bietjie …” Die bekende, stout laggie. “Jy het nie dalk jou hart daar oorkant gaan verloor nie?”

“Nee, oom Kosie, daarvoor is ek te slim.”

Hulle lag saam en Kosie voel sommer twintig jaar jonger. Hy kan darem nie verstaan dat die jongetjies van die kontrei so treurig is nie. Engeltjie moes lankal ’n gawe ou gehad het. Iemand met sterk maar sawwe hande. Iemand wat vir haar kan goed wees.

Sy oë raak blink. Hy kan die dag toe sy gebore is so goed onthou. ’n Klein stukkie mens, maar so perfek. Voor hom het sy grootgeword, en met daardie paar viooltjieblou oë en kuiltjies kon sy van dag een af met hom toor. Vandag nog. Tog is sy nie net klein en fyn met ’n mooi gesiggie nie. Nee, sy’s pragtig van binne ook. Spontaan en warm, en sy lag altyd.

“Oom Kosie?”

Engela se hand gaan blitsig na oom Kosie se pols, maar dan skud hy sy kop skamerig en sit regop.

“Oom sal my mos laat skrik! Voel oom orraait?”

Hy gee weer sy laggie en vryf met een hand deur sy yl haartjies. “Ek is eenhonderdpersent, my kind. My gedagtes het net so ’n bietjie in die verlede gaan dwaal.”

“Waarsku my net asseblief volgende keer voor oom besluit om ’n memory trip te vat! My hart het amper gaan staan.”

Hy vroetel weer met sy papiere en kyk dan doelgerig op. “Was jy al deur die hospitaal?”

Sy skud haar kop. “Nee, maar liewer nie vandag nie. Ek is nou nie juis aangetrek vir hospitaalbesoek nie. My bene het my sommer net vanself hierheen gebring. Ek is eintlik veronderstel om te draf, en kyk waar sit ek.”

“Wanneer begin jy weer werk?”

“My eerste skof is Woensdag. Ek kan nie meer wag nie! Oom sal nie glo hoe ek na die plek verlang het nie. Nie eers die heel beste klinieke of hospitale in Switserland kom naby ons hospitaal nie.”

“Hoor, hoor!” lag oom Kosie. “Dan wil ek nie eers hoor wat jy Woensdag gaan sê nie.”

“Nee maar nou’s ek behoorlik nuuskierig. Vertel bietjie. Wat het alles gebeur hier in my afwesigheid? Wie is weg en wie is nuut?”

Sy sien dat die ou man hom regmaak vir ’n behoorlike geselsie, maar dan lui sy foon en hy beduie dat sy hom vir ’n oomblik moet verskoon. Op haar beurt beduie sy dat sy tog gou ’n bietjie gaan rondkyk en dat sy nou weer sal terug wees.

Die gange is skemer en besonder stil vir hierdie tyd van die oggend. Maar dis beter so, Engela hoop om ongesiens ’n bietjie te kan rondloer. Sy wil veral ’n draai gaan maak by haar kantoor, gaan kyk of dit die veranderings kon oorleef.

Matrone se kantoor is leeg en Engela draai teleurgesteld op die drumpel om. Sy sou graag vir haar wou hallo sê. ’n Entjie verder op in die gang gaan sy weer staan. ’n Opgewondenheid bruis deur haar toe sy sien dat haar stukkie heiligdom behoue gebly het. In netjiese goue letters pryk haar naam steeds op die kantoordeur. Net nog een van die baie voorregte van ’n kleiner hospitaal.

Sy was destyds besig met verdere studie en het gewens dat sy net êrens ’n rustige plekkie kon kry om te studeer wanneer sy nie besig was met pasiënte nie. In haar soektog het sy toe op dié ou plekkie afgekom, wat vroeër as pakkamer gebruik is. Dit het deur die jare half vergete geraak en Engela het toe by die matrone gaan smeek of sy nie die goed wat daarin gestoor was, kon oordra na die ander pakkamers nie. Dan kon sy dit vir haarself in ’n kantoor omskep. Om als te kroon was dit gerieflik naby die teaters.

Met kinderlike afwagting stoot Engela die deur effens oop en loer na binne. Op die oog af lyk alles nog dieselfde. Tog ruik dit skoon en vars en is die gordyne oopgeskuif.

Dan word die deur onverwags deur ’n ander hand wyer oopgestoot en kan sy die man wat verby haar skuur net stomverbaas agternastaar. Hy praat kortaf: “Dis nog nie besoektyd nie, dogter, en allermins ’n plek om rond te dwaal.”

Met groot oë staar sy na die oortreder terwyl hy sy wit jas uittrek, dit oor die stoel hang – háár stoel! – en dan sy lang lyf agter die lessenaar tuis maak.

Toe die frons op sy breë voorkop verdiep en die donker oë gesteurd opkyk, besluit sy om liewer spore te maak, terug na oom Kosie toe.

“Wie was dit?” vra sy sommer met die intrapslag aan oom Kosie.

“Wie?”

“Die beer daar in my kantoor.” Sy beduie in die gang af en herhaal sy woorde spottend: “Dis nog nie besoektyd nie, dogter, en allermins ’n plek om rond te dwaal.”

Oom Kosie gooi sy kop agteroor en lag lank en heerlik. Hy is skoon hees toe hy weer praat. “Dit kan nét Gerhard de Beer wees.”

Hy proes-proes eers weer en wei dan met smaak uit. “Hy is nou ou dokter De Beer se kleinseun. Onthou jy dat hy sy praktyk aan die kleinseun bemaak het? Nou, dit is nou die uwe. Nogal ’n knap chirurg. Die mense het baie gewonder en bespiegel oor wat so ’n bekwame dokter op so ’n klein plekkie kom maak, maar ek sê vir jou vandag … dokter De Beer het ons ’n groot guns gedoen. Daardie jong man het al wonders vir hierdie hospitaal verrig vandat hy hier aangeland het.

“Die eerste paar weke het die vroulike geslag hom blykbaar oorval by sy spreekkamers, maar soos wat hy besiger geword het, en die ander dokters hom ál meer begin gebruik het, het hy sowaar ’n groot aanwins vir Bredasdorp geword. Hy kan blykbaar toor met ’n skalpel.”

“Wonderlik. Net jammer sy maniere laat hom in die steek.”

Oom Kosie glimlag. Hy kan verstaan dat Gerhard dié ene vandag vir ’n kind aangesien het. Met haar poniestert agter deur haar pet getrek, haar tennisrokkie en tekkies sonder sokkies lyk sy vir hom ook niks ouer as dertien nie. Dié gedagte sal hy egter maar vir homself hou.

Engela snak na asem toe sy op haar horlosie kyk. “Genade, hoe kan dit al so laat wees!” Oom Kosie kry ’n vlugtige soen op sy voorkop en dan draf sy daar uit met ’n vlugtige “Sien oom Woensdag!”

Met ’n laggie waai hy vir haar. “Ja, totsiens, jong!” En dan vir homself: “Van Woensdag af sal die plek ook weer lewe kry.”

Matrone Filander is opreg bly om Engela die Woensdagoggend te sien. Hulle gesels ’n rukkie oor Engela se reis en oor die verwikkelinge by die hospitaal, en dan loop die gesprek na die nuwe personeel.

“Ek verstaan hier is nogal heelwat nuwe gesigte?”

“Ja, so met ’n nuwe jaar is daar mos maar altyd veranderings. Meisies maak klaar met hul opleiding en soek werk. Ander vra vir ’n verplasing, en dan is daar dié wat gaan trou of swanger raak. Ons was gelukkig, die nuwe meisies is almal regtig oulike kinders. Twee is van hierdie kontrei. Van Deventer se ouers bly hier op die dorp en Neethling s’n boer hier na Rivier se kant toe. Suster Mkani is al ’n ou hand, het sewe jaar in Caledon se hospitaal gewerk. Sý het nou voorwaar ’n slag met ouer pasiënte.”

“Enige nuwe dokters?” vra Engela ongeërg. Sy brand om meer omtrent ’n sekere dokter uit te vind, maar wil darem nie nuuskierig klink nie.

Matrone glimlag en vir ’n oomblik wonder Engela of sy nie haar gedagtes kan lees of dalk met oom Kosie gesels het nie. Haar oë blink skielik te veel na Engela se sin, maar dan knik sy haar kop en wei lustig uit.

“Dokter De Beer se kleinseun het toe begin. Wonderlike chirurg, en regtig iets vir die oog … hy’t die vroue van Bredasdorp se hormone heel deurmekaar gehad daardie eerste paar weke.”

Engela roep die beeld weer op wat heel dikwels die laaste drie dae by haar kom spook het. Sy moet erken … hy was nogal nie onaansienlik nie. Sy wonder of hy haar sal herken as die dogter wat hy so kwaai aangespreek het. Sy besef dat sy matrone se volgende woorde gemis het en probeer vinnig om op te vang.

“… Kotzé, daar van Namakwaland. Pragtige mens. Ek is mal oor daai aksent.”

“Ja-nee. Die Namakwalanders is sulke gasvrye mense.” Sy hap na ’n strooihalm en voel hoe haar gesig warm raak asof sy op heterdaad betrap is.

“Nou toe, jonge dame, laat ons jou aan die werk kry.” Matrone beduie vir Engela om voor te stap. “Ek het jou tot Vrydag toe in die kindersaal ingedeel. Maandag kan jy weer in teater begin. Dit gee jou darem ’n bietjie tyd om jou voete te vind. Suster Du Plessis het nou twee dae verlof gevra en die kindersaal bars juis uit sy nate.”

Engela is verlig. “As ek moet eerlik wees, voel ek nogal ’n bietjie dom vanoggend. Miskien is die kindersaal net wat ek nodig het.”

Matrone glimlag. “Vier maande is lank, maar darem nie lank genoeg om tien jaar se ondervinding te vergeet nie. Jy sal gou regkom. Kom, ek gaan stel jou voor aan die nuwe gesigte.”

Engela hou dadelik van verpleegster Neethling. Haar donker krulle is hoog op haar kop gestapel en hang dan saggies na onder. Haar donker oë is wakker en sy verwelkom Engela vriendelik.

“Ek het al so baie van suster gehoor, aangename kennis, en welkom terug.”

“Dankie, jong. Jy sal my maar vandag moet help, ek is behoorlik verroes.”

“Ons sal vir suster gou weer in ’n roetine kry. Suster Wanda wag al vir ons om oor te gee. Gelukkig is dokter De Beer en dokter Bruwer al klaar met saalrondtes, dit maak dit ’n bietjie makliker.”

Engela kan nie help om teleurgesteld te wees nie. Sy sou hom graag van aangesig tot aangesig wou ontmoet het.

Wanda se groet is ook hartlik en matrone Filander sê saaklik: “Tussen julle twee sal julle seker vir suster Matthee aan die nuwe gesigte bekend stel, nè? Ek moet by my kantoor kom, daar wag ’n berg lêers.”

“Dankie, matrone. Ek sal vanmiddag weer inloer as ek vandag oorleef.” Engela draai met ’n glimlag na die res van die verpleegpersoneel wat aangestap kom om haar te groet.

Die oggend vlieg verby. So tussen die werk deur het sy die meeste van die personeel gegroet en die nuwe gesigte ontmoet. Sy voel weer soos ’n verpleegster, en gereed vir nuwe uitdagings.

Dis eers teen elfuur dat sy haar trompop loop teen ’n harde borskas. In haar poging om nie die bakkie met die spuitnaald te laat val nie, verloor sy haar balans en voel al hoe sy grond toe tuimel toe twee stewige arms haar opraap en weer netjies terug op haar voete sit.

“Oeps!” Sy glimlag, rooi in die gesig. “Dit was amper. Dankie!”

Vir ’n paar oomblikke staar die mooiste paar blougroen oë wat sy nog by ’n man gesien het haar verbaas aan. Dan glimlag die welgevormde mond skeef en verhelder die gesig.

“En jy moet suster Engeltjie wees.”

“Suster Engela, ja.” Sy steek haar hand uit en hy omsluit dit met syne sonder om sy oë vir een oomblik van haar gesig af te haal. Sy blik swiep vlugtig oor haar gesig en sy weet dadelik dat sy vir ’n paar dae ’n spesiale aanhanger gaan hê.

“Raai ek reg dat u dokter Kotzé is?”

Hy knik: “Hulle was reg. Jy ís pragtig, die naaste aan ’n engel wat ek nog gesien het.”

“Moet asseblief nie alles glo wat u hoor nie, dokter.” Sy trek haar hand stadig uit syne en beduie dat hy moet saamstap. “Het u na u pasiëntjie kom kyk? Ek dink nie hy voel vanoggend te lekker nie.”

Sy het die onderwerp met opset verander om hom kans te gee om tot verhaal te kom. In die kindersaal gaan sy langs ’n bed staan en neem die seuntjie se hand in hare.

“Kyk wie het vir jou kom kuier. Dokter wil net gou kyk hoe dit met die ou nare borsie gaan. Miskien sal hy vir jou ietsie gee, dan voel jy sommer gou-gou beter. Wat dink jy?”

Bertie skuif ’n bietjie hoër op teen sy kussings en knik. Sy wangetjies lyk koorsig en voordat Johan Kotzé sy oë van die suster oorkant hom kan wegskeur, begin die outjie hewig hoes.

“Ag nee, met daardie hoes moet ons dadelik ’n plan maak.” Johan kyk op na die suster oorkant hom en sy sien die besorgdheid in sy oë.

Nadat hy die knapie deeglik ondersoek het, gaan hulle uit gang toe en vra Johan dat sy moet reël dat daar X-strale van die seuntjie se bors geneem word, en dat sy medikasie aangepas word.

“Reg so. Ek sien dokter dan vanaand weer. Ons sal laat weet as daar verwikkelings is.”

Hy stap ’n paar treë weg, draai om asof hy iets wil sê, bedink hom en verdwyn om die hoek. Oom Kosie en die matrone was reg … dokter Kotzé lyk na ’n gawe man en sy hou van hom, as persoon en as dokter.

Vir dokter Gerhard de Beer het die dag verkeerd begin, en toe hy ná ’n vermoeiende teaterlys boonop ’n nota onder sy ruitveër aantref, is hy baie na aan ontplof.

“Hierdie is my gereserveerde plek; parkeer asb. in die toekoms elders!”

Hy lees weer die fyn geskrewe woorde en voel hoe die bloed in sy nek opstoot terwyl sy blik vlugtig oor die swart letters op die geel bordjie voor sy motor gaan.

Hy is sommer goed keelvol hiervoor. Al waaroor enig-iemand nog die hele dag praat, is “suster Engeltjie”. Selfs matrone is opgeskeep met “suster Engeltjie”. ’n Mens sou sweer die plek behoort aan die verdomde vroumens! En van wanneer af het ’n teatersuster in elk geval ’n gereserveerde plek vir haar motor?

Met ’n vaart trek hy in sy motor weg en laat die twee verpleegsters wat hom deur die teekamervenster dopgehou het, grootoog na mekaar kyk. Hy het dié Engela nog nie eens ontmoet nie, maar hy weet: Daar is níks wat hom meer irriteer as iemand wat dink sy of hy is die son, die maan en die sterre self nie.

Sy ontvangsdame by sy dorpspreekkamer groet vriendelik, maar moet vandag tevrede wees met net ’n kortaf kopknik. Die afspraakboek maak die lewe ook nie vir hom makliker nie, en teen laatmiddag voel dit asof hy teen die mure kan uitklim. Die ganske Bredasdorp het skynbaar vir suster Engeltjie op die brein.

Terwyl hy later weer die bult uit ry vir sy hospitaalrondtes, wens hy dat hy dié sogenaamde Engeltjie in die hande kan kry om vir goed van haar ontslae te raak. Dit is reeds besoektyd en hy parkeer sonder huiwering weer tussen die geel strepe voor die nou al bekende bordjie. Vir ’n oomblik tuur hy daarna en lag dan honend.

“Ons sal nog sien wie hierdie geveg gaan wen, ‘suster Engeltjie’. Ons sal sien.”

Sy gedagtes is so aan die stoei met die engel van die hospitaal dat hy byna teen Johan Kotzé vasloop. Hulle groet en gaan dan op hul onderskeie weë.

“Gerhard!” Hy draai in antwoord terug na Johan, wat reeds aan die onderpunt van die trappe staan.

“Het jy haar al ontmoet?” vra Johan.

De Beer voel hoe sy nekare swel en trek sy skouers vierkantig. “Wie?”

“Die oulikste dingetjie op twee bene,” kom dit met ’n breë glimlag.

Gerhard besluit dat hy heeltemal genoeg gehad het vir een dag, lig sy hand tam op in ’n groet en stap woordeloos aan.

Hoe hy dit regkry, weet nugter alleen, maar toe Engela Maandagoggend haar teaterklere aantrek, het sy die baas van die wit dubbelkajuitbakkie nog nie met ’n oog gesien nie. Sy het gehoor dat hy sy saalrondtes vroegoggend en weer ná besoektyd saans doen. Dit was blykbaar boonop sy af naweek.

Ten spyte van die nota onder sy ruitveër moes haar rooi kewertjie Donderdag- en Vrydagoggend ’n ander heenkome vind. Vanoggend se rondte het sy egter gewen.

Tussen haar en die twee verpleegsters aan diens kry hulle die teater al geselsend gereed. Engela voel amper uitbundig opgewonde oor al die nuwighede. Sy was verheug om te sien hoe baie die teaters opgegradeer is. Dit voel of sy vanoggend in een van Switserland se peperduur privaat hospitale is.

Sy groet Johan Kotzé vriendelik toe hy saam met Marlene Louwrens die teater binnekom. Sy het hom die laaste paar dae heelwat te siene gekry en moet erken dat sy nogal baie van hom hou. Sy vat die teaterlys by haar groot vriendin Marlene en haar oog val dadelik op die eerste geval. “Keisersnee – dokter De Beer.” So, die dag van ontmoeting het uiteindelik aangebreek!

“Ek kom ontvang net gou julle baba,” sê Marlene en fluister dan in Engela se oor: “Sterkte, ek is bly dis vanoggend jy en nie ek nie. Hy is glad nie in ’n goeie bui nie.”

Engela frons en wil net iets vra toe ’n verpleegster van die deur se kant af na haar roep. “Suster, daar is telefoon. Dis blykbaar dringend.”

Engela voel hoe ’n doodse angs haar beetpak … haar ma! Ten spyte van al die uitstekende behandelings wat sy gekry het, is sy steeds siek. Sy kyk vlugtig op haar horlosie, besef dat die tydsberekening fataal is. Maar sy sal nooit deur hierdie operasie kan konsentreer as sy nie weet nie. Die teatertelefoon is half om die hoek en sy sal van daar nie kan sien as dokter De Beer arriveer nie. Maar sy moet antwoord.

“Suster Matthee, goeiemôre.”

“Engela! Dis sowaar jy. Ek het ’n yslike kans gevat, gesê dis dringend, net om seker te maak hulle doen moeite. Hoe gaan dit? Ek het jou selfoonnommer êrens verloor … ek móés jou net weer opspoor.”

Engela luister onthuts terwyl verligting nietemin oor haar spoel.

“Eduard, is dit jy?”

“Surprise, surprise!”

“Eduard, ek’s vreeslik jammer, maar ek –”

“Hoe gaan dit nou met jou ma? Ek dink so baie aan julle, en noudat ek en Jolandie finaal opgebreek het … ek moet met jou praat …”

“Eduard, luister. Skryf gou my nommer neer, dan bel jy my vanaand ná agt. Hulle wag vir my in teater, as ek nie nou gaan nie, is ek in diep moeilikheid.”

“Ag jammer man, ek wou jou nie in die moeilikheid gehad het nie!” Sy hoor hoe hy rondskarrel vir ’n pen en trippel self rond van haastigheid. Moes hy juis nóú bel!

“Goed, gee gou jou nommer.”

Sy sê die nommer haastig en sit die foon neer nog voordat hy behoorlik gegroet het.

In die teater is almal gereed, die pasiënt reeds op die tafel, toe Gerhard de Beer met ’n frons opkyk. “Is ons nie ’n bietjie min vanmôre nie?” Sy oë beweeg vlugtig oor die operasietafel en mis nie die vinnige blik wat die verpleegster en Johan Kotzé wissel nie.

“Suster sal nou –” probeer verpleegster Linda Visagie verskoning maak, maar net toe stamp Gerhard sy voet teen iets langs hom. Sy skrik die res van haar woorde weg toe hy met verbasing na die trappie langs hom kyk en toe weer sy oë op haar laat rus.

“Wat de joos is dit?”

Johan loer om die tafel vanwaar hy besig is met die narkosemasjien en lig sy skouers.

Engela is net betyds om Gerhard se vraag te hoor. Half uitasem en aan die sukkel om ’n handskoen aan te kry klim sy op haar trappie.

“Dis myne.” Die blou oë bokant haar masker lag vir ’n oomblik in Gerhard s’n en gaan dan vergoeilikend oor die res van die personeel. “Jammer julle moes wag, dit was dringend. Ek is nou reg.”

Gerhard voel hoe verbasing en woede mekaar in hom afwissel toe die blou oë weer in syne vashaak. Ten spyte van die trappie moet hy steeds effens afkyk na haar.

’n Onheilspellende stilte hang oor die teater. Selfs die tortelduif in die boom buite die venster het sy eentonige gekoer gestaak. Die blik in Gerhard se bruin kykers raak koud met die besef van wie hier langs hom staan. Tog swig die bloues nie voor die aanvallende bruines nie. Hulle lag vir hom en dit bring hom nog meer van stryk. Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel Gerhard hoe sy hande effens bewe toe Engela die eerste instrument in sy hand lê. Toe sy oomblikke later opkyk na Johan, knipoog hy vir haar.

Ná die roetine-keisersnee is Gerhard reeds op pad by die deur uit toe Johan hom terugroep. “Gerhard, ek dink nie julle het al ontmoet nie.” Johan wink vir Engela, wat by die pasiënt in die herstelkamer besig is.

Nou vir die oomblik van waarheid. Waar sy vanoggend nie kon wag om die verbasing op Gerhard se gesig te sien wanneer hy haar as die dogter in die kantoor herken nie, voel sy nou nogal skrikkerig. Tog stap sy hom met ’n breë glimlag tegemoet terwyl sy haar masker stadig aftrek.

“Engela … dokter Gerhard de Beer.” Aan Johan se stem kan sy hoor hy is geamuseer.

Sy steek haar hand na Gerhard uit. “Aangename kennis, dokter. Ek het al soveel van u gehoor, ek is bly ons kan uiteindelik ontmoet.”

Hy skud haar hand vlugtig, draai dan om en loop sonder ’n woord uit. Engela kyk verbaas na Johan wat half ongemaklik eenkant staan.

“Het ek iets verkeerd gesê, of gedoen?” Hierop was sy nie voorberei nie! “Het jy gesien hoe bleek het hy geraak?”

Johan lig sy skouers. Iets is inderdaad nie reg nie. Hy kan verstaan dat Gerhard se wind uit sy seile is – syne was ook toe hy die eerste keer in daardie viooltjieblou oë gekyk het en daardie kuiltjies so mooi vir hom gelag het – maar Gerhard was nou net blatant onbeskof.

“Ek het jou gewaarsku,” laat Marlene hoor vanwaar sy besig is om die nuwe baba in ’n kombersie toe te wikkel. “Ek dink dit was die vinnigste keisersnee wat ek in my lewe nog gesien het. Het julle gesien –”

“Dit kan jy weer sê. Weet jy wat hom so beduiweld gemaak het, of is dit maar sy manier?”

“Vra vir dokter Kotzé … dokter De Beer kan maar redelik mislik wees, maar so het ek hom nog nooit gesien nie.” Marlene kry ’n ligte kleurtjie toe sy sien dat Johan nog daar rond is. “Jammer, dokter, ek het nie bedoel om disrespekvol te wees nie.”

In die herstelkamer staan Engela nog ’n oomblik by die pasiënt om seker te maak dat sy haar bewussyn ten volle herwin, en keer dan terug na die sterilisators.

“Dit wil voorkom of die mense reg was.”

Sy kyk vraend op na Johan wat hom met dié woorde weer by haar aangesluit het.

“Wat bedoel dokter daarmee, as ek mag vra?”

“Dat jy ’n buitengewone persoon is.”

“Ek het dokter al gewaarsku om nie alles te glo wat die mense praat nie.”

“Ek kon nie anders nie … ek het dit pas met my eie oë gesien.”

Sy loer fronsend na hom.

“Jy is ’n briljante teatersuster.”

“Baie dankie, dokter.”

“Ek bedoel dit.”

“Maar wat dink dokter was dokter De Beer se probleem? Was dit omdat ek laat was? Hy kon tog nie sy voet só seer gestamp het teen my trappie nie? Dit het gelyk of hy ’n spook gesien het toe dokter ons bekend stel.”

Hy vryf vinnig met sy wysvinger oor haar neus. “Moenie jou te veel aan hom steur nie. Ek dink ek weet wat hy makeer.”

“Dokter?”

“Wees jy maar net jouself. Kom, die volgende pasiënt is hier.”

Engel in die teater

Подняться наверх