Читать книгу Engel in die teater - Naretha Franken - Страница 4
2
ОглавлениеIn die teekamer mors Gerhard ’n klomp melk op homself en vloek binnensmonds. Sy hande bewe toe hy die melk met sy sakdoek probeer afvee. Sy verlede staan skielik voor hom. Lilani Verwey, klein en fyn met potblou oë en die pragtigste kuiltjies … verraaier, bedrieër en almal se liefling.
Hy boor met sy duime in sy oogkasse. So lank het hy dit weggesluit – die prentjies in sy kop, die stemme wat skree en verwyt. Net die haat het hy gekoester … die haat teen blondekoppe, blou oë en mense wat dink hulle kan die wêreld om hul pinkies draai. En vandag is alles skielik weer terug. Uiteindelik het die gesiglose suster Engeltjie ’n gesig, en voel dit of die noodlot hom teister met ’n identiese vreemdeling.
Die saadjie van veragting teenoor die kamstig wonderlike suster Engeltjie is al geplant kort nadat hy hier begin praktiseer het. Min het hy geweet dat sy uiteindelik sy hele verlede gaan kom vol staan. Sy is toe presies net soos hy gedink het. Sal ’n suster wat laat kom in teater nie jammer wees nie? Nee, nie sy nie. Klim op haar pedestal asof die teater aan haar behoort en dink sy kan met haar mooi glimlaggie alles regmaak!
Met een teug is sy koppie tee in en dan stap hy met lang treë terug teater toe. “Ruk jou reg!” berispe hy hom toe hy die teaterdeur met ’n bietjie te veel krag oopstamp.
Sy wag hom in soos ’n skim uit die verlede, teaterjas en handskoene in die hand. En weer lyk dit vir hom asof sy vir hom lag, asof sy hom tart.
Die operasie verloop foutloos maar in doodse stilte. Tussen Engela, Johan en Linda Visagie word net met hul oë gekommunikeer. Engela kan nie help om te wonder of al dokter De Beer se operasies onder sulke onuithoudbare omstandighede verloop nie. Dit lyk of selfs Johan maar katvoet is vir hom.
In die herstelkamer is dit ook Johan wat sy kop eerste skud. “Heng, maar dit was vinnig.”
“Regtig? Dit het vir my soos ’n ewigheid gevoel. ’n Mens kan nie –”
Engela sluk haar woorde vinnig. Gerhard de Beer het die kamer binnegekom. Hy wissel ’n bruuske woord of twee met Johan terwyl hy sy teaterjas loswikkel, en dan is hy weer daar uit.
Die res van die oggend se teatergevalle is dokter Mulder s’n en verloop veel geselliger. Omdat hy ’n man is wat lief is vir grappies en gesels, is daar sommer gou weer ’n gemaklike atmosfeer in die teater.
Die teekamer is vol verpleegsters toe Engela en Linda kort ná elf daar instap en Engela haar moeë lyf in die naaste stoel neergooi. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe.
“Hoe lyk dit dan asof die teater suster vanoggend ondergekry het?” Sy herken Lien Breedt se diep stem hier naby haar oor en glimlag sonder om haar oë oop te maak.
“Jy spot nog! Dit was baie erg, en terselfdertyd wonderlik om terug te wees.” Sy sit regop en maak haar oë stadig oop. “Miskien was dit maar die senuwees wat ook ’n bietjie geknaag het.”
“Kan ek vir suster ’n koppie tee skink?”
“Dankie, Lien, dit sal lekker wees, maar dis darem nie nodig dat julle my so bederf nie.”
Lien oorhandig die beker tee en maak haar dan met ’n ondeunde glimlaggie styf langs Engela tuis.
“Waarmee is julle verpleegsters weer vanoggend besig?” Engela weet al uit ondervinding: As Lien se ogies so lewe, is daar iewers ’n slang in die gras. “Kom! Uit daarmee. Julle lyk glad te geheimsinnig.”
Een verpleegster giggel, ander kyk kamstig verbaas-onskuldig na mekaar, maar dan val Lien tog met die deur in die huis.
“Dis dokter De Beer … wat dink suster van hom?”
Engela merk die afwagting op hulle gesigte en laat haar blik vlugtig oor hulle gaan. Dan lag sy.
“Verbeel ek my … nee, sowaar nie. Julle is almal halsoorkop verlief op die man.”
“Ons stry nie, maar komaan, sê nou … wat dink suster van hom?”
“Wel …” Haar oog vang Linda s’n en sy voel hoe haar maag ’n draai maak. “Hy is uiters bekwaam, en miskien is hy ook aantreklik, maar ek verkies dokter Kotzé.”
“Aaa!” kom dit in ’n koor van die jong verpleegsters.
“Wat? Julle het my opinie gevra. Ek dink dokter Kotzé is net so aantreklik, indien nie nog meer nie, en hy is definitief baie vriendeliker as Beertjie.”
“Beertjie? Beertjie!” Die verpleegsters bars almal uit van die lag.
Matrone kom voor die teekamerdeur tot stilstand en glimlag. Wanneer laas het die hospitaal gelag? Dan plak sy egter haar matronegesig op en loer by die deur in.
“Wat gaan hier aan? Het julle nie werk om te doen nie? Mens kan julle tot wie weet waar hoor.”
’n Paar “jammer, matrones” volg, dan maak hulle op ’n streep verskoning en verdwyn die gang af. Engela glimlag toe sy en matrone Filander alleen is.
“Jammer, matrone, die klomp het my hier in ’n hoek gehad.”
“Hoe was jou eerste oggend terug in teater?”
“Onder die omstandighede, goed. Ek kon my oë nie glo toe ek die vernuwings sien nie. Dis alles wonderlik.”
Matrone lag opgewek. “Dokter De Beer het ons arme teaters net een kyk gegee en toe seker besluit – hiér werk hy nie. Die raad het hom eenparig bygestaan en siedaar … ons het vandag moderne teaters.”
Engela dink terug aan die twee operasies wat hy die oggend gedoen het, so blitsig vinnig. “Wel, hy ís ’n briljante chirurg.”
“Ek verneem so, ja! Die dorpenaars het baie vinnig vertroue in hom gekry. Dit bring my by my storie. ’n Dame het gebel, baie deurmekaar. Blykbaar het iemand op ’n mes geval … hulle bring hom in. Sal jy seblief gaan help in ongevalle.”
“Ek gaan dadelik. Het hulle gesê hoe ernstig dit is en wanneer hulle hier sal wees?”
“Nee, geen idee nie. Die vroutjie was waarskynlik te geskok.”
Dis drie bebloede mense wat vyf minute later by ongevalle se deur instrompel. Engela neem dadelik die erg geskokte seuntjie by die huilende vrou, haar eie skrik versteek agter ’n gerusstellende glimlag. Dis die kind wat die meswond het. Sy kan maar net stilweg bid dat die ouers nie met die vervoer van die seun nog meer skade aangerig het nie.
“Wie is julle huisdokter, mevrou?” vra sy rustig terwyl sy die kind op die ondersoekbed neerlê en die liggroen steriele verpakking oopskeur. Dis duidelik dat die outjie sukkel met sy asemhaling, daarom koppel sy hom dadelik aan die respirator. Die grysblou kleur van sy gesiggie toon dat daar longskade kan wees. Hy haal baie vlak en vinnig asem en verloor kort-kort sy bewussyn.
“Ons was nog laas by ou dokter De Beer. Nog voordat hy oorlede is. Julle moet hom help! Hy is ons enigste kind. Asseblief, suster, kry tog net ’n dokter.”
Engela gee opdrag dat albei ouers ’n kalmeermiddel gegee word, en vra hulle dan om bietjie eenkant toe te staan sodat die verpleegpersoneel hul werk behoorlik kan doen.
Toe Linda Visagie net toe die saal binnekom, stuur Engela haar om dokter De Beer te kontak. “Vra vir dokter Kotzé en Mulder om te kom assisteer. Laat weet vir mevrou Gouws by X-strale dat ons op pad is en vra dat matrone hulp stuur.”
Met geoefende hande het Engela die bloeding gestop en die outjie gestabiliseer, en sy vee nou sagkens die haartjies van sy voorkop weg terwyl hulle wag vir die dokters.
“Wat is sy naam, mevrou?”
“Dries! Hy is al wat ons ooit sal hê, suster.” Die ma begin opnuut huil.
“Ek belowe dat ons alles in ons vermoë gaan doen om hom veilig te hou, mevrou. Dokter De Beer is ’n wonderlike chirurg en ek weet hy sal alles doen vir klein Dries. Wat het dan gebeur?”
Al vraend kry sy die nodige inligting en toe mevrou Gouws laat weet dat sy gereed is by X-strale, maak sy dadelik die bed se rem los.
“Ek neem hom gou vir X-strale, mevrou. Sal u saamstap of liewer hier wag?”
Dit is weereens die arme Linda wat moet verduidelik.
“Wat sê jy, verpleegster, waar’s my pasiënt?”
“Suster Matthee wou nie verdere tyd verspil nie, dokter. Die mes sit nog in die outjie se bors en dit lyk nie goed nie.”
“Hoe durf sy? Hoe kan sy sommer net … hoe kan sy reëlings tref nog voordat ek die pasiënt gesien het?”
Linda bewe so groot soos wat sy is. So kwaad het sy dokter De Beer nog nooit gesien nie.
“Ek sal haar …” Die res van sy sin bly in die lug hang toe hy met lang treë die gang af stap.
Engela gewaar hom op pad terug van X-strale af. Haar gesig helder op van verligting.
“Dankie tog, dokter is hier. Dinge lyk nie goed nie. Ek is bevrees dat dokter dadelik sal moet opereer. Die lem het sy linkerlong net-net getref en daar is interne bloeding. Hulle stuur die X-strale direk teater toe. Ek het solank bloed getrek, ek glo die outjie sal bloed nodig hê, sy hemoglobien is baie laag. Dokter Kotzé en dokter Mulder is …” Sy hap in die lug toe sy eindelik besef hoe die man voor haar se gesig lyk.
Hy is woedend. Sy neusvleuels tril liggies en daar is ’n spiertjie onder sy oog wat liggies spring.
“Wie het jou gevra om namens my besluite te neem?” Hy spoeg die woorde uit. “Wie de hel dink jy ís jy? As jy ’n dokter wou word, hoekom het jy dan nie vir een gaan leer nie. Ek –”
Engela voel hoe die bloed in haar gesig opstoot, hoe skok en skaamte gelyktydig oor haar neersak. “Maar ek –”
“Nee, laat ons twee mekaar mooi verstaan, suster Matthee. In hierdie hospitaal en veral met my pasiënte gee ék die opdragte en neem ék die besluite. Ek sal my nie deur jou laat voorskryf nie. Die gebruik is, as jy dit nog nie weet nie, dat ’n dokter eers ’n pasiënt ondersoek alvorens daar besluite geneem word. Of het jy dalk ander opleiding as die res van ons gehad?” Sy oë is koud, sy hande gebal.
Dit voel asof sy stem tot in haar diepste wese sny en dit verg al haar wilskrag om staande te bly voor hom. Hy sien hoe sy vir ’n oomblik inmekaarkrimp en dit vul hom met bitter lekkerkry.
“Ek waarsku jou: As jy ooit, maar ooit weer reëlings tref aangaande my pasiënt sonder my opdrag, sal ek nie vir my dade verantwoordelik wees nie.”
Vir ’n oomblik sak haar blik voor syne, oorweeg sy dit om net daar om te draai en weg te stap, maar terselfdertyd besef sy dat daar belangriker dinge as haar ego is wat nou voorkeur moet geniet. Sy kyk hom weer waterpas in die oë.
“As u nie omgee nie, dokter, hier is ’n pasiëntjie wat dokter se hulp nodig het. As dokter dit nodig ag, kan dokter my later verder uitvreet, maar nou moet ons asseblief eers aan die pasiënt aandag gee.”
Vir ’n oomblik is dit stil tussen hulle en toe Gerhard eindelik wel sy oë oor sy pasiënt laat gaan, is dit met skok. Die bruin kykers swiep vir ’n oomblik op na die bloues en dan tree die dokter in Gerhard na vore.
“Kom!”
Hoe gelukkig kan ’n mens soms wees. Dat ’n mes jou bykans kan deurboor en tog kom jy so lig daarvan af. Dit is wat Gerhard aan die twee wagtende ouers verduidelik.
“Baie dankie, dokter! Ons is so bitter dankbaar vir wat julle vandag vir ons gedoen het.” Die pa skud Gerhard se hand en vee met sy linkerhand die trane van sy wange.
Engela sluit stil by hulle aan en neem die ma se hand in hare.
“Vir jou ook, suster. Baie dankie! Kan ons hom nou sien?”
“Suster kan julle gou neem. Ons gaan hom vir eers onder verdowing hou, maar u is welkom om vir ’n rukkie te bly.”
Engela luister verbaas na die sagte stemtoon waarin Gerhard die ouers aanspreek. Sy knik en stap dan voor hulle uit na die hoësorgafdeling waar klein Dries vir ’n paar dae sal bly.
In haar hart is sy dankbaar dat ’n dokter van Gerhard se kaliber hom hier kom vestig het. Hy was vandag absoluut briljant. Was dit ses maande gelede, sou hulle klein Dries per ambulans of helikopter oorgeplaas het na een van die groter hospitale in Kaapstad.
Hoe sy egter so vinnig aan die man se verkeerde kant beland het, slaan haar totaal dronk.
Die Sondagoggend raak sy vroeg wakker en besluit om na die kerk se oggenddiens te gaan. Daar aangekom, ná die eerste kort gebed, herken sy die profiel skuins voor haar. Vir ’n oomblik verstil haar hande waar sy besig was om haar Bybel en gesangeboek in die rakkie van die bank voor haar te skuif. ’n Ligte rilling gaan deur haar.
Vir die eerste keer kry sy die geleentheid om hierdie nuwe dokter van hulle van naderby te bestudeer, sonder sy deurdringende blik op haar. Die wit jas het vanoggend plek gemaak vir ’n netjiese hemp en das, en sowaar … hy is deksels aantreklik. Die effense lang, maar sterk neus … die sterk vierkantige ken … die bos welige, donker krulhare wat net-net oor sy kraag kruip. Nege uit tien, soos die juniors sou sê.
Die diep kepe langs sy mond lyk vanoggend minder prominent en sy wens vir ’n oomblik dat sy nou ’n kykie in daardie donker oë kon kry. Sou hulle ook vanoggend sagter en meer menslik wees?
Sy kyk gesteurd op toe iemand aan haar skouer tik. Dis Johan Kotzé wat vir haar glimlag en beduie dat sy moet opskuif in die kerkbank.
“Dit lyk darem of die hospitaal goed verteenwoordig is vanoggend,” fluister hy in haar oor en beduie met sy ken na Gerhard se kant toe.
Sy glimlag en vee ’n lastige haarsliert uit haar gesig. “Miskien het die hospitaal dit nodig.”
“Dis nie altemit nie.”
Van die diens kan Engela later niks onthou nie. Met die opskuif vir Johan het sy direk agter Gerhard beland en sy kon toe glad nie die predikant sien nie. Haar oë het op die donker krulle voor haar gebly en haar gedagtes het wye draaie geloop.
Johan wag ná die diens dat sy deur die kerkhekkie stap. “Wat doen ons liewe sustertjie vandag? Het sy al planne, of kan ek haar dalk nooi vir middagete?”
Engela gaan staan vir ’n oomblik en dink. “Ek het ’n beter idee. Kom ons pak ’n piekniekmandjie, dan ry ons Struisbaai toe. Mens mag nooit so ’n heerlike dag in die huis sit nie.”
“Sien jy, jy’s nog slim ook. Nou toe, kom!” Hy kry haar vrolik aan die arm beet en trek haar saam met hom.
“Waarheen nou?”
“Ek sien nie daardie skedonk van jou hier nie, ek gee jou ’n lift huis toe.”
“Jy sal haar nooit weer so noem nie! Sy is ’n lady, vyf-en-dertig jaar oud, en sy verdien respek.”
Hy lag. “Ek sal dit onthou.”
Dit word ’n verruklike dag. Hulle geniet mekaar se geselskap en Johan word ’n wonderlike tonikum ná die week se spanning. Hulle lag en baljaar soos twee kinders in die see totdat sy later uitgeput op haar strandhanddoek neerval.
Haar lyf is net lekker warm gebak toe Johan hom nat-nat by haar aansluit en sy blonde kuif oor haar uitskud. Sy gil en sit regop.
“Sjoe, dis lekker,” proes hy en droog sy gesig af. “Wanneer laas het ek iets so geniet?”
“Dis hopelik suiwer te danke aan die goeie geselskap,” spot sy, maar is dadelik spyt oor haar uitlating toe die glimlag van sy gesig verdwyn.
Sy uitdrukking is ernstig toe hy voor haar hurk en haar hand in syne neem. Met sy duim vryf hy saggies oor haar handpalm.
“Jy’s doodreg, Engeltjie. Dis wonderlik om jou hier by my te hê.”
“Ek het net ’n grappie gemaak, dokter Kotzé.”
“Ek weet, suster Matthee, maar ek is ernstig. Sal dit baie verwaand van my wees as ek sê dat ek jou graag beter wil leer ken?”
Haar blik swig voor syne. Hoeveel keer het sy nie al daardie woorde gehoor nie. Johan is ’n baie gawe mens en sy geniet sy geselskap, maar sy weet by voorbaat dat hy nie die een gaan wees wat haar hart sal verower nie.
Sy verwens haar. Hoekom kan sy nie soos enige ander meisie verlief raak nie? Sy wil ook graag trou en kinders hê. Verdomp, sy word al amper dertig. Tog help dit nie om vir haar eie hart te lieg nie.
Sy kyk weer op in sy oë, sien die afwagting in hulle.
“Jy sê niks. Ek wil –”
Sy sit haar vingers op sy lippe. “Ons kan vriende wees, Johan, maar moet asseblief nie te veel verwag nie. Ek is nie goed met verhoudings nie en ek wil jou baie beslis nie verkeerde indrukke gee nie.”
“Is daar iemand anders?”
Sy skud haar kop. “Nee, nie eers naastenby nie.”
“Nou, dan is daar mos hoop vir my.” Hy lag, in sy noppies.
“Ek voel gevlei, maar ek wil jou regtig glad nie vals hoop gee nie. Ek was laas op my rekeningkunde-onnie verlief. Dit lyk nie vir my of die liefde vir my bedoel is nie.”
“Jy’s seker nie ernstig nie.” Hy lyk opreg verbaas, en sy lag saggies.
“Dan, suster Engeltjie, is dit tyd dat ons daaraan werk.” Sy vingers gly sagkens oor haar wang. “Vir eers … net vriende. Belowe my net dat jy ons ’n kans sal gee en my sal sê as my kanse verbeter. Deal?”
“Deal.”
Hy trek haar regop. “Kom ons gaan braai ons tjoppies, voordat Struisbaai se suidoos opkom en ons sand eet pleks van vleis.”
“So terloops,” vra hy dan terwyl hulle oor die sand aanstap na die braai-area, “wat het geword van die ou wat jou daardie eerste oggend in teater gebel het?”
“Eduard? Verdomp, ek wil nou nog sy nek omdraai wanneer ek hom in die hande kry.” Sy beduie woes met haar hande. “Nee wat, ek het hom sommer daardie selfde aand goed laat verstaan dat hy maar ander weiveld moet gaan soek. By my gaan hy nie regkom nie.”
Hulle loop ’n oomblik in stilte voordat sy skrams opkyk na hom. “En jy, Johan? Hoe is dit moontlik dat ’n gawe, aantreklike ou soos jy nog sonder ’n leiband is?”
Hy lag vir haar uitdrukking. “Maklik. Ek het al die tyd vir jou gewag.”
“Komaan, daar moet iemand, êrens wees.”
Hy trek sy vingers deur sy nat hare en vir ’n oomblik kan Engela sweer dat hy verleë is. “Daar was iemand, maar dis lankal verby. Ons het van standerd nege tot in my vierdejaar uitgegaan. Toe, een oggend, is sy net weg. Ons het een van ons gereelde onderonsies gehad en toe het sy blykbaar net besluit dat sy nou genoeg gehad het. Ja … en dit was dit.”
“En dink jy nog soms aan haar?”
“Nee wat. Dis ou koeie daardie. Ons het in elk geval te veel baklei.”
Hulle kom by die braai-area en gou is hulle weer aan die skerts en lag.
Maandagoggend sien Engela weer heeltemal kans vir die wêreld. Dit blyk ’n bedrywige operasiedag te wees, en aangesien dokter De Beer se pasiënte weer eerste op die lys is, maak sy dubbel seker dat alles eksie-perfeksie is.
Kort ná sewe word die eerste pasiënt die teater binnegestoot, gevolg deur Johan, wat uitgelate groet.
“Goeiemôre, skone dame. Nog nie besluit om vir my lief te word nie?”
Linda kyk verras op van waar sy besig is. Het sy reg gehoor … moet wees, want suster Engeltjie lyk skielik soos ’n oorryp tamatie.
“Jy moenie laf wees nie …” Engela kyk verleë na Linda wat hulle grootoog aanstaar. “Hy is sommer verspot, hoor.”
“Hoe lyk dit, grootman,” gesels Johan dan met die seuntjie op die trollie. “Dink jy nie ook die tannie sal die perfekte vrou vir my wees nie?”
Die outjie glimlag en knik half skrikkerig terwyl hulle hom oortel op die teatertafel. Engela stamp Johan speels op die skouer.
“Hou op met jou nonsens! Netnou kom hy –” Hulle hoor die swaaideure en haar oë dra die boodskap aan Johan en Linda oor: Nie ’n woord nie!
Gerhard groet kortaf. Engela wag dat hy klaar skrop, hou sy teaterjas gereed, en sy handskoene.
“Suster!” Die stemtoon voorspel niks goeds nie en sy weet instinktief waar sy fouteer het. Haar tong klap saggies. Sy is sommer vies vir haarself.
“Jammer, dokter.” Sy kry blitsig die regte grootte handskoene.
“Slaap jy nog, suster? As jy nog lus is vir naweek hou, moet jy liewer met matrone gaan praat. ’n Teatersuster se kop kan nie vol muisneste wees nie.”
Sy voel hoe hitte in haar gesig opstoot en is dankbaar vir die masker wat sy reeds aanhet.
“Jammer, dokter. Dit sal nie weer gebeur nie.”
Sy voel Johan se vraende blik op haar toe sy tafel toe stap, maar kyk nie op nie.
Dis teen die einde van die tweede geval, toe hy pas die wond toegewerk het, dat dokter De Beer se skeen ’n tweede bloukol van Engela se trappie kry.
Die bruin oë blits op haar neer. “Ek wil hierdie ding nie weer in my teater sien nie. Is dit duidelik, suster Matthee?”
Sy wonder of sy hom beleef moet antwoord en of sy liewer haar mond moet hou. Dat hy weereens beduiweld is, is seker, en sy het geen begeerte om weer onder sy tong deur te loop nie. Tog glip die woorde uit voordat sy kan keer.
“Ek is jammer, dokter, maar ek kan nie. Daar is –”
Toe bars die orkaan los. Gerhard ruk die masker van sy gesig af en druk sy vinger amper teenaan haar neus.
“Jy tart my, sustertjie, jy tart my, maar ons sal sien hoe lank jy nog jou staffie hier swaai. Jy is bederf, verwen tot in die afgrond in.”
Hy draai om, stap driftig ’n entjie weg en kom dan weer terug. Engela kyk nie op nie.
“Ek is nie een van jou danige aanhangers nie, hoor? Hou jou glimlaggies vir dié wat daarvoor val.” En daarmee storm hy by die swaaideure uit.
Linda, wat die onderonsie met groot oë aanskou het, begin sommer bewe en byt op haar onderlip, maar ’n snik ontsnap in elk geval. Engela se oë blink ook toe sy opkyk na waar Johan soos ’n wasbeeld staan.
Ongeloof en verbasing wissel mekaar af op sy bleek gesig. “Waaroor sou dít nou gaan?” sê hy stil.
“Hy is ’n … ek wens ek kon …” Linda se vuiste bal. “Hy is ’n uiterste buffel, Engeltjie! Hy het nié die reg om so met jou te praat nie.”
“Los liewer.” Engela kyk vraend van die een na die ander. “Waarom sou die man my so haat? Ek kan die absolute walging in sy oë sien. Ek ken hom dan van geen kant af nie. Ek het geen benul waaroor dit kan gaan nie.”
Hulle neem die pasiënt deur na die herstelkamer, maar Engela se kop is elders. Sy draai na Johan.
“Ek is jammer, maar só kan ek nie aangaan nie. So gou ek die geleentheid kry, gaan ek hom trompop loop en vra wat sy storie is, anders moet matrone my terugsit in die sale.”
“Miskien is hy verlief op jou,” spot Johan en knipoog vir Linda.
“Dink dokter regtig so?” vra Linda verbaas en kry ’n vuil kyk van Engela.
“Nou is julle totaal die kluts kwyt.” Engela is sommer vir Johan ook kwaad. “Hoe kan dokter enigsins oor so iets spot?”
“Bedaar, Engela, ek trek net jou siel uit.”
“Wel, dis baie onvanpas!”
“Ek’s jammer. Jy’s reg, dit was ongevraagd.” Hy stap na haar, slaan sy arms om haar en gee haar ’n stywe druk. “Is ek vergewe?”
Sy kan nie help om te glimlag nie.
“Ek is darem bly om te sien daar is ’n bietjie vuur in jou.” Hy draai na Linda. “Het jy geweet ons suster Engeltjie kan ook kwaad word?”
Linda skud haar kop, steeds onseker oor wat nou eintlik aan die gebeur is. “Ek verstaan van sy buie en giere net mooi niks,” sê sy verslae. “Wat sou die man makeer? Hy was soms mislik met Marlene ook, maar darem nooit so buite homself nie. Hy gee nie eers vir jou kans om te verduidelik nie, dan val hy jou al weer aan oor iets anders.”
“Wel, een ding is seker, hy kan of wil my nie verdra nie.”
As dokter De Beer ’n ander teatersuster vir die volgende operasie verwag het, het hy hom lelik misgis. Dis weer dieselfde klein figuurtjie wat sy jas en handskoene vir hom aantrek. Met genoeë merk hy dat die trappie wel verwyder is en een mondhoek krul effens opwaarts agter sy masker. Sy oë ontmoet Johan s’n en hy lees die vraagtekens daarin. Op hul beurt antwoord sy bruin kykers: Hou jou hier uit. En Johan besluit dat dit veiliger sal wees om dit daar te laat.
Engela skuif stil langs Gerhard in. Die eerste instrument word sonder huiwering in sy hand geplaas, so ook die tweede, maar toe sy hand weer voor haar oopgaan, wag hy tevergeefs.
“Skêr!” Sy gee die skêr aan. Oomblikke later wag sy hand weer tevergeefs, ’n hand wat so gewoond geraak het daaraan om net te ontvang.
“Suster!” Die kake agter sy masker span. Sy tart my, dink hy, en voel opnuut hoe die bloed in hom begin kook.
“Jammer, dokter, maar ek kan regtig nie sien wat u doen nie. As u net so gaaf sal wees om te vra wat u nodig het, sal dit nie ’n probleem wees nie.”
Aan die bopunt van die tafel knipoog Johan vir Linda.
Dis met groot verligting dat Engela later na haar kantoor toe stap om die nodige verslae agtermekaar te kry. Sy vra op pad een van die kombuispersoneel om vir haar ’n koppie tee te bring en val dan uitgeput in haar stoel neer, weereens dankbaar vir die privaatheid van ’n kantoor. Sy het intussen uitgevind: Gerhard het natuurlik sy eie kantoor. Hare was glo net vir hom so lekker gerieflik naby die teaters, dié dat sy hom daar aangetref het.
Wat ’n dag! Sy voel hoe die spanning uit haar vloei toe sy ’n tydjie lank op haar arms lê en haar oë sluit. Sy is besig om ’n skeelhoofpyn te ontwikkel. Dit kan ook nie juis anders nie, met soveel spanning. Sy voel gestroop van alles waaroor sy seker is wanneer sy dink aan daardie man. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om hom te bel, maar besluit dan dat die regte geleentheid nog sal opduik. Sy moet net geduldig wees.
In die weke wat volg, is daar nie juis ’n verbetering in die verhouding tussen Overberg Hospitaal se hoofchirurg en sy teatersuster nie. Tog is dit asof dokter De Beer besluit het om eers sy wapens neer te lê. Net die nodigste word gepraat en dis duidelik dat hulle mekaar so ver as moontlik vermy. Engela het besluit om liefs die vrede te bewaar, terwyl dit hou.
Van die feit dat hulle twee die hoofonderwerp van bespreking geword het, is hulle onbewus. Vir die junior verpleegpersoneel het die verhouding tussen suster Engeltjie en die twee nuwe dokters soos hul eie hospitaalsepie geword. Linda Visagie, wat saam met hulle werk, is skielik die middelpunt van belangstelling.
Matrone kom met ongeloof van die stories te hore. Sy kan nie glo dat dinge so ver gevorder het nie, en dit reg onder haar neus. Toe sy op ’n dag met Engela praat nadat sy haar ’n paar dae nie gesien het nie, moet sy fokus om die skrik van haar gesig af te hou. Die kind het nóg maerder geword en is duidelik nie haarself nie.
Dokter De Beer is tog altyd ’n perfekte heer en matrone Filander kan nie dink dat daar al ooit ’n pasiënt was wat oor hom gekla het nie. Waarom sou hy dan nou die arme Engeltjie met soveel minagting behandel? Sy besef dat sy sal moet ingryp, maar hoe?