Читать книгу Die Poort 1: Bewakers - Nelia Engelbrecht - Страница 4
1
ОглавлениеDis so weird dat ek sommer ophou huil oor oupa Jacques.
Die swartkopvrou met die stootwaentjie het agter die groot eikeboom verbygeloop en toe kom net die stootwaentjie aan die ander kant uit. Sonder die vrou. Lyk of die baba in die waentjie net so verbaas is soos ek. Hy kyk rond; soek natuurlik sy ma.
Sy staan seker nog agter die boomstam. Sy moes vir oupa Jacques geken het, want hoekom anders sal sy by sy roudiens wees?
Mind you, almal in Bospoort het vir oupa Jacques geken, dié dat die kerk so vol was. Vandat ek kan onthou, was hy een van die dorp se dokters. Veral die weduwee-tannies was mal oor hom – sulke nice wewenaars soos hy is seker maar skaars op Bospoort.
Die kleintjie in die stootwaentjie swaai nou sy arms en skop met sy voete. Sy mond trek skeef. Hy gaan enige oomblik begin skree.
“Kali,” fluister my ma.
Dis my beurt om ’n wit roos op die kis agter in die lykswa te sit.
Baai, Oupa, jy was die beste oupa ooit.
Niemand het die hartaanval verwag nie. My pa het gedink hy en Oupa gaan nog vir baie jare saam in die praktyk werk. Maar ons het skaars by Oupa ingetrek, toe pak sy hart op.
Iets steek in my bors. Hart-seer. Dis asof ek nou eers die woord regtig verstaan. Voor ek kan keer, snik ek kliphard. Klomp mense kyk na my. My gesig lyk seker soos ’n pienk poffer. Ek kan dit nie help nie; my traankliere werk partykeer oortyd. Ek het seker al twintig tissues nat gehuil vandat ons by die kerk aangekom het. Dis totally embarrassing.
Zak sit sy arm om my skouers. Shame, hy lyk self sad, dan probeer hy my nog troos. Dis …
Voor ek klaar kan dink, trek die kleintjie in die waentjie los en begin skree. Sy ma is nog missing in action. Jeerlikheid, kan sy hom nie hoor nie? En is daar nie ’n tannie iewers wat hom kan gaan optel en stilmaak nie?
Maybe moet ek vir Zak se ma, tannie Esmé, vra – sy faff vreeslik oor kleintjies. Dis seker omdat net Zak, die laaste van haar vyf kuikens, nog in die nes is. Ek rek my nek. Waar is sy?
Net voor ek vir Zak kan vra waar sy ma is, maak die man van Avbob die lykswa se deur toe en gaan klim voor langs die bestuurder in. Ek moet wegkom, want as ek moet kyk hoe hulle met my oupa wegry om hom te veras, gaan ek weer van voor af begin huil.
Ek kry Zak se arm beet en begin loop. Om ons begin die mense in die rigting van die kerksaal stap vir die tee en begrafniskos. Tussen hulle sien ek Nomsa Chipunza se neongeel mini en die lang, skraal Tara McGonigal se bos bruin hare. Dié twee is van Zak se pelle wat die afgelope weke ook myne geword het.
“En nou? Waarheen gaan ons?” vra hy. “Ons het gesê ons kry vir Nomsa en Tara in die kerksaal.”
“Ons kan hulle netnou daar kry; ons moet net eers daardie kleintjie se ma soek sodat sy hom kan stilmaak.”
“Watter kleintjie? ”
“Die een wat so skree.”
“Ek hoor niks.”
Sowaar. Hy’t opgehou skree. “Wel, laat ek net gaan kyk. Dit het vir my gelyk of sy ma hom daar langs die boom gelos het.”
Toe nie. Daar is nie meer ’n teken van die ma of die kind nie. Sy het hom seker intussen weggestoot.
Zak vat my hand. “Kom, jou ma-hulle gaan wonder waar jy is.”
Sy gorgeous bruin oë is sag, sy hand groot en warm om myne. Ek leun vir ’n oomblik met my kop teen sy skouer. “Ek gaan my oupa baie mis.”
“Ek weet. Ek ook.”
“Hy het ons nog geleer fiets ry.”
“Ja, ek onthou.”
Stukkies van baie somervakansies flash voor my verby. Ek ruik Marmite-toebroodjies. Ons het dit altyd geëet in die boomhuis wat Oupa vir ons gebou het. Ek knip my oë. Ek moet tog net nie weer begin tjank nie.
In die saal laai Zak sy bordjie vol toebroodjies en worsrolletjies en koeksisters. “Gaan jy nie vir jou iets kry nie?”
Ek skud my kop.
“Jou ma het gesê ek moet kyk dat jy eet. Sy sê jy het gister laas geëet.”
“My ma moet bietjie van my case afklim, dis wat.”
“Jou ma worry oor jou. Sy weet hoe lief jy vir jou oupa was en dan is daar nog die trekkery ook. Jy mis seker jou pelle in Pretoria.”
“Nogal.”
Aimee. Van almal mis ek haar die meeste. Die trekkery het gesuck, al het ek van altyd af geweet ons gaan aan die begin van my graadelfjaar Bospoort toe trek sodat my pa my oupa se praktyk kon oorneem.
Ek het my ma-hulle omtrént ’n harde tyd gegee oor die trekkery, veral as ek ’n nice ietsie wou hê soos ’n Sissy Boy-jeans of ’n ou Gap-toppie. Ek moet sê, my pa het nogal geval vir die arme-Kali-wat-so-depro-is-act, maar met my ma het ek nie veel luck gehad nie.
Miskien was dit omdat my hart nie totally in die pity party was nie. ’n Groot stuk van my hart was al klaar in Bospoort by oupa Jacques. En natuurlik by Zak, my kleintyd se speelmaatjie wat intussen vreeslik sexy geword het.
“Ek gaan vir my sap haal – wil jy ook hê?” vra Zak.
“Seblief, ja.”
Van waar ek sit, kan ek my pa en ma aan die oorkant van die saal sien. Hulle staan met ’n klomp mense en gesels. Van almal herken ek net vir tannie Esmé en vir oom Lukas, Zak se pa, maar dit lyk of my ma-hulle almal ken – wat seker nie vreemd is nie. My ma en pa het al twee hier grootgeword.
“Die poort is oop.”
Ek skrik my amper besimpeld toe die ou tannie langs my skielik praat. Ek draai na haar toe. My nekhare rys en my lyf slaan hoendervleis uit.
Ek sweer iemand het haar iewers in ’n begraafplaas opgegrawe. Geel vel span styf bo-oor haar kop, en hier en daar klou bossies hare soos droë gras aan haar kopvel vas.
’n Vreemde, muwwe reuk hang om haar – soos die klam mure van ’n plek wat al jare lank toe staan. Aan die onderkant van die geel skedel lyk haar gesig soos ’n afgeblaasde ballon en tussen die plooie loer swart kraai-ogies vir my.
Sy leun nader. Ek ruik verlepte blomme.
“Jy het haar ook gesien,” sê sy. “Hulle het haar kom haal.” Spits geel tandjies hang aan tandvleis wat soos ou polonie lyk. Sy trek haar ogies nog kleiner. “Die stomme baba. Hy gaan nou sonder ’n ma grootword.”
Skielik gryp sy my hande. Ek kyk af. Kraaikloue klem my vingers vas. ’n Vreemde hitte styg op in my arms, my nek, my kop. Ek probeer my hande uit hare trek, maar my spiere wil nie na my brein luister nie.
“Ek weet nie wat Tannie …”
“Jy wéét,” val sy my in die rede. “ Jy sién. Nes ek.”
Voor ek kan koes, sit sy haar benerige hande oor my ore.
“En hoor, sal jy ook. Binnekort.”
Iets sterkers as die lamheid in my lyf laat my opspring. Daar is swart spikkels voor my oë. Shitters, hulle word al hoe meer. Ek skud my kop. Nou spring hulle nog heen en weer ook. Dan kom die teëlvloer vinnig nader en slaan my teen my skouer en die kant van my kop.
“Kali!”
Dis my pa se stem. Ek maak my oë oop. Hoekom hang hy so teen die plafon? Dan kry ek my breinselle in ’n reguit ry. Dit is ek wat op die vloer lê en na die dak kyk. My pa buk oor my.
My ma se gesig verskyn langs my pa s’n. Haar lang blonde hare hang langs haar gesig af. Sy kyk verwytend na my.
“Sien jy nou – ek het jou mos gesê jy moet iets eet.”
Hel, kan sy nie net vir ’n oomblik ophou moan nie? Ek kom regop en vat aan my kop. Ouch.
“Hier, drink bietjie van die sap.” Zak hou ’n glas lemoensap uit na my. Daar’s ’n vreeslike frons tussen sy beautiful oë.
Ek vat die glas by hom en drink. Ek stik amper toe ek agterkom daar staan ’n kring mense om my. Party – soos Nomsa en Tara – lyk geworried, maar die meeste lyk net nuuskierig. My wange word warm. Jeerlikheid, ek het sowaar flou geword. En my naam met ’n hengse plank geslaan.
Ek sukkel soos ’n dronk hoender regop. Eers toe ek weer op die stoel sit, onthou ek van die ou tannie. Die stoel langs my is nou leeg. Ek kyk rond, maar sien haar nêrens nie. Ek sal seker ook nie terwyl die laaste klomp nuuskierige agies nog om ons rondhang nie.
“Hier.” My ma druk ’n bordjie eetgoed in my hand. “Jy staan nie op voor jy alles geëet het nie.”
“Ek is nie honger nie,” brom ek.
My ma glimlag liefies vir die paar mense wat nog om ons staan. Dan blits haar blou oë na my kant toe. Sy leun nader. “As jy nou regtig voor al hierdie mense wil baklei, moet jy net sê,” fluister sy, vat haar hare agter haar nek saam en trek dit oor haar linkerskouer vorentoe.
Dié hare-ding beteken dat sy hoog de hel in is. Omdat ek nie ’n nog groter scene wil maak nie, steek ek ’n hele melktertjie in my mond. Dit keer sommer ook dat ek dalk iets sê wat ek nie moet nie.
Bospoort is ’n one horse town en nuus trek teen die spoed van wit lig. Dit vind ek die volgende dag by die skool uit.
Soos elke oggend vandat die skool vier weke terug begin het, kry ek en Zak vir Nomsa en Tara voor skool agter die houtwerksentrum.
“You won’t believe it, ” sê Nomsa, “daai simpele Nokwazi vertel vir almal jy was gister so heartbroken by die begrafnis dat jy sommer gefaint het en amper in die graf in geval het.”
Ek vervies my amper in ’n ander bra size in. “Daar wás nie eens ’n graf nie.”
“Dis wat ek vir haar gesê het, ja. Anyway, jy het darem mooi ladylike gefaint. Laas toe een van my aunties by ’n begrafnis uitgepass het, het almal haar groot pienk panty gesien. Ek sê jou, we were scarred for life.”
Nomsa is kastig ’n Afrika-prinses. Sy sê haar voorvaders was van die oorspronklike heersers van die Zimbabwe-ruïnes. ’n Vet liegstorie, as jy my vra.
Zak se vingers vleg deur myne. “Kali is altyd ’n lady,” sê hy vir Nomsa en glimlag vir my.
Die kyk in sy oë laat my melkkos en kaneelsuiker ruik, soos dié wat my ma in die winter maak.
Tara kom vorentoe en gee vir my ’n drukkie. “Ek is regtig jammer oor jou oupa,” sê sy sag. Nes Nomsa kan sy ook goed Afrikaans praat, al is hulle in die Engelsmedium-klas.
“Ebony en Ivory, my twee favourite girls,” sê iemand skielik agter my. Ek swaai om.
Die donker ou is skraler as Zak, maar enige tyd net so sexy.
“Leonardo!” Nomsa se vlegseltjie-hairdo kom net tot by die ou se bors toe sy hom ’n drukkie gee.
“Hoog tyd, pel, ek het al gedink jy bly vir altyd in Italië,” sê Zak toe hulle hande skud.
Dan is dit nou die famous Leonardo.
Nomsa het gesê hy is so slim dat die hoof maar anderkant toe kyk as hy die eerste paar weke van elke jaar afvat om in Italië rond te hang.
“Ek sien ons Irish beauty is nog net so mooi,” sê Leonardo en sit sy arm om Tara se skouers.
“En jou mond is nog net so glad,” antwoord Tara en lig haar een wenkbrou. Verbeel ek my, of bloos sy?
“Leonardo, dis nou Kali Theron,” sê Zak.
Die donker ou draai na my en kyk my op en af. “H’m, ek onthou jou. Dit was die Desembervakansie van 2007 – die jaar toe ons nie Italië toe was nie. Zak se ma het vir ons hotdogs gemaak en jy het ’n streep tamatiesous op jou wit rok gemors.” Hy kantel sy kop skeef. “Jy was so ’n Liewe Heksie-rige dogtertjie, maar gelukkig het jy jou neus intussen mooi ingegroei.”
“Net jammer jy het nie jou bakore ingegroei nie,” kap ek terug.
“Mooi so, Kali, sê hom,” kom dit van Nomsa.
“Moenie dié grootbek kop toe vat nie, jy was ’n baie cute dogtertjie, ” sê Zak en grinnik.
Die klok lui en terwyl ons vierkant toe stap, vra Zak vir Leonardo uit oor sy kuier by die familie in Italië.
Wat ’n arrogante vent. Ek onthou die dag waarvan hy gepraat het. Die simpele seunskind met die groot ore wat vir my gelag het toe ek op my nuwe rok gemors het. Die verleentheid toe ek huilend huis toe gehol het. En die res van die vakansie toe ek gemaak het of ek nie hoor as Zak my by die heining roep nie.
In die vierkant open die hoof en lees ’n hele lys afkondigings. Dan maak hy keel skoon. “Meneer en mevrou Spoelstra sal vir ’n paar dae nie by die skool wees nie. Gaan soos gewoonlik na hulle klaskamers toe – daar sal iemand wees om toesig te hou.”
“Ek hoop net hulle spoor haar gou op,” voeg hy by sonder om sy mond te beweeg.
Dis weird. Ek loer na Nomsa langs my. Het sy dit ook gesien?
Toe ons begin klas toe stap, wil ek haar vra, maar sy pyl op ’n groot, ronde meisie af. Nadat hulle vinnig gepraat het, kom sy terug na my en Tara.
“Julle sal dit nooit glo nie – Nokwazi sê mevrou Spoelstra het verdwyn. Die polisie soek al van gister af na haar. Shame, arme Meneer, hy kyk seker nou alleen na hulle kind. Nokwazi sê daar is nie oumas en oupas wat kan help nie. ”
“Ons het verlede jaar by mevrou Spoelstra lewensoriëntering gehad. Ek hoop nie sy het iets oorgekom nie,” sê Tara fronsend.
Skielik brand dit agter teen my nek. “Ouch!”
“En nou?” vra Nomsa.
“Ek dink iets het my gebyt of gesteek.” Net waar my haarlyn begin, brand dit soos vuur.
“Let me see,” sê Nomsa en kom nader.
Sy lig my poniestert op. “Mens kan nie lekker sien so onder die hare nie. Ek hoop nie dis ’n spinnekop wat jou gebyt het nie. Mens kry vreeslike giftige goggas. As hulle jou byt, val daar sommer gate in jou vleis in.”
“Nomsa!” Tara kyk kwaai na haar. “Is dit nou nodig om so graphic te wees?”
Dan kom Zak en Leonardo om die hoek. “Is daar fout, Kali?” vra Zak.
Ek vryf my nek terwyl Nomsa weer haar gogga-teorie vir Zak spin. Leonardo staan skuins agter Zak. Hoekom kyk hy so snaaks na my?
“Dalk moet jy na jou pa toe gaan dat hy kan kyk wat dit is,” sê Zak.
“Ons ander moet klas toe gaan,” sê Tara.
Om ons is die stoepe al byna verlate. “Ek gaan ook klas toe. Dit voel al klaar beter. Dit was dalk maar net ’n muskiet.”
“Hallo-o-o? Klink eerder of dit ’n perdeby op steroids was,” sê Nomsa terwyl ons klas toe stap.
Eers toe ons in die klas sit, strike dit my. Terwyl ons ons handboeke uithaal, fluister ek vir Tara in die bank voor my.
“Hoe oud is die Spoelstras se kind?”
“Ek weet nie. Hy kan nog nie loop nie – sy stap party middae by ons huis verby met hom in die waentjie.”
“Mevrou Spoelstra – het sy kort swart hare?”
“Ja. Is jy oukei? Jy’s baie bleek,” sê Tara, haar oë op skrefies getrek.
“Ek is fine.”
Die res van die dag hol my gedagtes heen en weer. Die vrou met die kind in die stootwaentjie – die een wat ek by die begrafnis gesien het – was dit dalk mevrou Spoelstra?
Nee, nou is ek simpel. Daar is tog seker baie vroue met kort swart hare wat hulle kinders in stootwaentjies rondstoot. Buitendien – wat daarvan as dit sy was? Sy kon net so wel daarna eers verdwyn het.
Ná skool stap ek en Zak saam huis toe.
“Het jy gister vir mevrou Spoelstra by my oupa se begrafnis gesien?” vra ek vir hom.
“Nee, hoekom?”
“Onthou jy die kleintjie in die stootwaentjie – die een by die begrafnis wat so geskree het?”
Zak glimlag. “Jy bedoel die een wat ek nie gehoor of gesien het nie?”
“Dit is nie my skuld as jy nie jou oë en ore kan gebruik nie. Anyway, ek dink dit was haar kind.”
Hy skud sy kop. “Kan nie wees nie. Nokwazi FM sê al heeldag vir almal wat wil hoor haar cousin wat by die polisie werk, sê die Spoelstras het sport afgerig by die skool en daarna die kleintjie by die dagmoeder gaan oplaai. Toe hulle by die huis kom, het juffrou Spoelstra gesê sy gaan met die kleintjie stap, maar ’n rukkie later kry Meneer toe net die kleintjie in sy waentjie op die stoep. Sy vrou was nêrens nie. Die polisie dink sy is ontvoer of iets.”
Ek gaan staan stil. “Jy bedoel sy het net verdwyn?”
“Dis wat Nokwazi sê.”
Dan was dit iemand anders by die begrafnis. ’n Ander vrou wat verdwyn het. Ag, bollie, ek moet nou end kry. Die vrou by die begrafnis het nie verdwyn nie. Sy het seker net vroeg huis toe gegaan omdat die kind so geskree het.
Ek en Zak groet en ek stap by hulle huis verby na waar Kristoffel, die dikste Corgi in die wêreld, vir my by die hek wag. Sy rooi tong hang uit soos hy lag toe ek hom vryf. “Ieeu, ieeu,” sê hy en spring soos ’n mal haas rond terwyl ons voordeur toe stap.
In die huis hoor ek my ma en pa se stemme van die kombuis se kant af. Dit klink amper of hulle stry.
“Hulle het ons verséker dit sal nie gebeur nie, Jacques. En nou hét dit.”
My ma klink heel uitgefreak. Waarvan praat sy?
“Daar is dalk ’n heel eenvoudige verduideliking, Ailene. Dalk ly sy aan postpartum-depressie en wou sy net vir ’n rukkie wegkom van alles af. Jong ma’s doen dit soms. Ek is seker sy is nie …”
My pa bly stil.
“Jy kan dit nie eens sê nie, kan jy?” vra my ma.
Ek en Kristoffel stap by die kombuis in. “Wat kan Pa nie sê nie?”
Hoekom lyk hulle so verskrik? Wat gaan aan?
“Niks nie. Ons praat sommer,” antwoord my ma vinnig.
“Is dit oor die onderwyseres wat gister verdwyn het? Het julle haar geken?”
My pa sit sy koffiebeker in die wasbak neer. “Ja, maar soos ek vir jou ma sê – sy het miskien net nodig gehad om bietjie weg te kom van die huis af. Môre, oormôre kom sy waarskynlik self terug.”
“Ons kan maar net hoop dit is nie …” My ma knyp haar lippe teen mekaar.
“Is nie wat nie?”
Stilte. Dan sê my ma iets, nog steeds met haar lippe so op mekaar, maar ek kan nie mooi hoor nie. Net toe ek wil vra wat sy sê, praat my pa.
“Ek moet terugkom by die spreekkamer.” Hy soen my ma op haar wang en gee my ’n vinnige drukkie voor hy by die deur uit verdwyn.
“Wat vroetel jy so aan jou nek, Kali?” vra my ma.
Ek het nie eens agtergekom ek vryf my nek nie. “Iets het my gesteek. Nomsa sê sy dink dit was ’n by.”
“Gelukkig is jy nie allergies daarvoor nie. ’n By het jou gesteek toe jy nog baie klein was. Behalwe dat jy geskree het dat hoor en sien vergaan, het jy darem niks daarvan oorgekom nie.” My ma het intussen nadergekom. “Draai om dat ek kan sien.”
“Dis nie nodig …”
“Hou stil,” val my ma my in die rede. “Dit lyk amper soos twee sirkels … ” Sy trek haar asem skerp in.
Ek draai om. Haar gesig is witter as die afdroogvadoek wat tussen ons op die tafel lê.
“Dit kan nie wees nie,” sê my ma sonder om haar lippe te beweeg.
“Wat kan nie wees nie?”
My ma se oë word nog groter. Sy gee ’n tree agteruit.
“Kali, ek moet … daar’s koue hoender in die yskas. Maak vir jou ’n toebroodjie. Ek moet iemand gaan sien. Ek is nou terug.”
“Ma!”
Voor ek kan keer, is sy by die deur uit. Terwyl ek die hoender uit die yskas haal, hoor ek die voordeur oop- en toegaan en oomblikke later haar kar wat langs die huis wegtrek.
Ek maak vir my ’n toebroodjie en sit by die kombuistafel en eet. Langs my staar Kristoffel na my met sy ag-gee-vir-my-ook, toe?-kyk.
“Nee, jy’s op ’n diet,” hou ek my hardegat. Terwyl ek verder eet, drool hy ’n plassie op die vloer, so lus is hy. My hart word sag. “Ag, oukei, maar net ’n stukkie, hoor jy?”
Ja, ek weet ek moenie, maar shame, hy’s my enigste seuntjiehond en hy raak seker moeg van die veearts se diet-hondekos.
Ouch, my nek brand nog steeds. Ek eet klaar en stap badkamer toe. Met my een hand lig ek my hare op terwyl ek met die ander een die handspieël vashou. Jig, dit lyk erg. Geen wonder my ma het so uitgefreak nie. Dit lyk soos twee rooi, opgehewe sirkels wat mekaar halfpad oorvleuel. Ek smeer van my ma se duur nagroom aan. Die koel salf laat dit minder brand.
My ma bly die hele middag weg en ek is al amper klaar met my huiswerk toe ek die voordeur hoor oopgaan. My ma en pa praat in die gang. Kristoffel se ore draai in hulle rigting.
“Kali?” roep my pa dan.
“Hier, in my kamer!”
My pa loer om die deur. “Jou ma sê my daar is ’n wond aan jou nek.”
Jisterday, sy kan darem oordryf. “Dis nie ’n wond nie. Iets het my net gesteek of gebyt. Ek het van Ma se gesigroom aangesit. Dit voel al klaar beter.”
“Nogtans. Laat ek net kyk.” Hy lig my hare op en raak saggies aan die bytplek.
My ma kom ook by die kamer in. Sy lyk erg gestress.
“Ek sal vir jou ’n pilletjie gee. Dit sal help,” sê my pa.
“Niks kan hiervoor help nie. Niks nie,” sê my ma terwyl haar lippe styf op mekaar bly.
My hart klop vinniger. “Hoekom sal niks kan help nie? Hoekom kyk julle so vir mekaar?”
Dit lyk of my ma wil antwoord, maar dan draai sy net om en stap uit.
“Wat is dit met Ma?”
My pa probeer glimlag, maar hy kry dit nie heeltemal reg nie. “Sy is net ontsteld oor die vrou wat verdwyn het.”
Hy haal ’n houertjie pille uit sy baadjiesak. “Hier, dis antihistamien. Drink een voor jy gaan slaap. Dit sal help vir die branderigheid.”
Terwyl ek my huiswerk klaarmaak, hoor ek hoe my ma potte en panne in die kombuis rondskuif. Iets ruik lekker; soos tjops wat braai. Kristoffel draf met ’n hoopvolle uitdrukking agter my aan kombuis toe.
“Jou pa is hospitaal toe vir sy rondtes,” sê my ma terwyl ek haar help slaai maak. “Hy sê ons moet maar eet, ons moenie vir hom wag nie.”
Ons sit sommer by die kombuistafel en eet. “Het Ma darem vanoggend geskilder?” My ma verf sulke lelike prente waarvoor mense baie geld betaal in die kunsgalerye in die stad.
“Nee. Daar is nog te veel goed wat my aandag aftrek. Eers die trekkery, toe Oupa en daarna die vrou wat verdwyn het en nou die dinge wat …”
Die res sê sy terwyl sy haar lippe opmekaar druk.
“ … met jou gebeur.”
“Ma, dit was net ’n bysteek of iets. Teen môre is alles weer normaal.”
My ma staan op en begin afdek. “Natuurlik.” Sy draai wasbak toe. “My liewe kind, niks sal ooit weer normaal wees nie.”
Die laaste stukkie sê sy terwyl sy met haar rug na my toe staan en water in die wasbak tap. Shame, sy praat seker van haar kastige muse. Maybe het antie Muse nie saamgetrek Bospoort toe nie.
My ma het ’n ding oor haar muse. Haar inspirasie-godin, noem sy dit. My pa sê die lot muses in die Griekse mitologie was net ’n katterige klomp vroumense wat hulle pa, Zeus, ’n harde tyd gegee het.
Ek gaan staan langs my ma en haal die afdroogvadoek van die hakie af. “Ma moenie worry nie. Ma sal Ma se muse een van die dae terugkry.”
“Mens sê bekommer, Kali, nie worry nie. Praat ordentlike Afrikaans.”
“Já, Ma.” Ek wens sy wil bietjie bykom. Net oumense en taal-snobs praat suiwer Afrikaans.
Vir die res van die skottelgoedwassery bly ek liewer stil. Toe ons klaar is, surprise my ma my totally toe sy my teen haar vasdruk. “Wat ook al gebeur, jy moet onthou ek en jou pa is lief vir jou en sal jou altyd ondersteun.”
Nou kyk, my ma is nie die drukkerige soort nie en al weet ek sy is lief vir my, sê sy dit ook nie heeldag nie. “Nou freak Ma my heeltemal uit,” sê ek toe sy my los.
Sy glimlag skeef. “Ek gaan bad. Jy moet lekker slaap.”
Ek kyk haar agterna. Wow, dis weird. Sy’t nie eens gekla oor die Engelse woord wat al weer uitgeglip het nie. En daar was trane in haar oë voor sy omgedraai het. Ek dink nie ek het haar al ooit gesien huil nie. Behalwe toe haar pa en ma so ’n paar jaar terug in ’n motorongeluk dood is.
Iets is nie lekker nie. En dis scary.