Читать книгу Die Poort 1: Bewakers - Nelia Engelbrecht - Страница 5
2
ОглавлениеLeonardo Contarini moes liewer in Italië gebly het. Hy’t alles kom bederf. Ek en Zak en die twee girls het lekker gejel. Tot hy teruggekom het. Nou voel ek soos gister se oorskietkos wat iemand iewers in die verste hoekie van die yskas vergeet het.
Boonop interfere hy met my en Zak se verhouding. Vat nou maar vandag se atletiekbyeenkoms. Net toe ek vir Zak agter die paviljoen behoorlik wil gelukwens met sy eerste plek in die honderd meter, kom hy om die hoek en bederf die oomblik.
“A, hier’s die twee love birds.”
Dit sê hy toe my lippe twee sentimeter van Zak se mond af is. “Jy’s lastig. Gaan weg,” grom ek.
“Mag mens dan nie vir jou buddy geluk sê met sy oorwinning nie?” vra Leonardo terwyl hy Zak se hand skud.
“Thanks, dude, maar jou timing suck,” sê Zak en sit sy arm om my middel.
“Julle sal nie glo wat ek gehoor het nie,” sê Nomsa skuins agter ons.
Oh my word, nou kan ek rêrig maar vergeet van enige alleentyd met Zak.
“Laat ek raai,” sê Zak, “dis seker weer Nokwazi FM wat uitsaai.”
“Ja, en sy sê haar cousin sê daar het gister nog ’n vrou verdwyn. Ek kan nou nie onthou wat haar naam is nie, maar sy’t by die bank langs die poskantoor gewerk. Of eintlik, sy het nie nou gewerk nie, sy was met maternity leave. Sy sou volgende week teruggegaan het werk toe.”
“Wow, dis weird,” sê Zak. “Daar gebeur amper nooit iets op Bospoort nie en nou verdwyn daar binne twee weke twee mense.”
“Dit het begin,” sê Leonardo sonder om sy mond oop te maak.
“Wat het begin?” vra ek hom.
Die klein beweging van sy kop en oë wys hy skrik. “Wat bedoel jy?”
“Jy het gesê dit het begin – wat het begin?”
“Jou kop raas. Ek het niks gesê nie.”
Zak en Nomsa staar na my asof ek ’n alien is.
“Wát?”
“Ek dink dit is daai gogga wat jou gebyt het,” sê Nomsa fronsend. “Nou’t jy koors of iets.”
“Wie’s lus vir pannekoek?” Tara het nadergekom. Sy hou ’n wit polistireenhouer uit na ons. Ek sien die pannekoek, maar ek ruik dit nie. Ek ruik gemufte brood.
“H’m, dit lyk lekker.” Leonardo vat een uit die houer.
“Kali makeer iets,” sê Nomsa vir Tara terwyl sy ook ’n pannekoek vat. “Ek dink dis die goggabyt wat haar siek gemaak het. Sy hoor stemme.”
Ek strip my net daar. “Ag, bollie, man.”
“Is, jy’t gesê Leonardo het gesê …”
“Hei, moet nou nie ’n big deal daarvan maak nie, toe?” val Leonardo haar in die rede. “Zak, moet jy nie gaan opwarm vir jou volgende item nie? Vergooi of weghol of so iets. En vat vir Kali saam dat sy kan cheer as jy wen.”
Zak vat my hand. “Goeie plan. Kom ons waai.”
Toe ons ’n ent weg is, trek ek my hand uit Zak s’n en gaan staan. “Jy dink ook ek makeer iets, nè?” My oë brand. Ek beter nie nou begin huil nie.
“Dalk is Nomsa reg – jy moet miskien vir jou pa sê jy …” Hy bly stil en kyk ongemaklik weg.
“Wat? Dat ek stemme hoor?” Ek knip my oë, maar dit is te laat. Die eerste traan rol al klaar oor my wang.
“Sorry, ek het nie bedoel … moenie huil nie, toe?” Hy raak met sy vinger aan die nattigheid op my wang. Die reuk van gemufte brood raak weg. Ek vat sy hand in myne.
Ag, shit, nou huil sy en dis my skuld.
“Dit is nie jou skuld nie, dis Nomsa wat … ” Ek bly stil toe hy sy hand uit myne trek, sy oë vol ongeloof. “Zak?”
“Hoe het jy geweet wat ek gedink het?”
“Ek verstaan nie …”
Dan stoot die verstaan saam met die naarheid in my keel op. My derms begin ruk. Jis, ek wil opgooi. Ek moet wegkom.
“Kali!”
Ek hoor hom roep, maar kyk nie om nie. ’n Rooikopmeisie gee my ’n vuil kyk toe ek die twee draairoomyse amper uit haar hande uit hardloop. “Sorry!” Sherbet, ek gaan nie die kleedkamer haal nie. Dan sien ek die skool se trekker en sleepwa eenkant staan.
Mens moenie ’n groot ontbyt eet as jy beplan om later in die dag agter ’n trekker naar te word nie. Dis totally gross.
Gelukkig het ek ’n pakkie tissues in my sak. Ek is nog besig om snot en trane en opgooi af te vee, toe Zak langs my buk.
“Is jy oukei?”
Ek skud my kop en blaas my neus baie unladylike. “Nomsa was reg, ek hoor stemme. Ek is siek. Dalk is dit ’n breingewas.”
“Kali, kyk vir my.”
Ek loer vir hom tussen my geswelde ooglede deur. Jis, selfs in my deurmekaar toestand bly hy vir my gorgeous, veral as die son so op die koper in sy hare blink.
“As mense mekaar goed ken, weet die een partykeer sommer net wat die ander een dink, en dit is wat netnou tussen ons gebeur het. Dis al.”
Ek knik my kop. “Jy’s reg. Dis wat gebeur het.”
Ons kyk vir mekaar en ek weet die onsekerheid wat ek in sy oë sien, is ook in myne. Want netnou het ek ook geweet wat Leonardo gedink het, en ek ken hom skaars. En dan wil ek nie eens dink aan die ander mense wat ek so met hulle toe monde gehoor praat het nie. Die hoof. My ma.
Sherbet. Ek is siek. Sériously siek.
Ek buk oor die wasbak in die kleedkamer en hou my nat vingers oor my oë. Hopelik sal dit die rooi wegvat. Ek háát dit as ek so aan die grens gaan. En toe skiet ek nog ’n kat ook. Voor Zak. Ek skaam my morsdood.
“Siestog, ek het gesien jy het naar geword; daar by die trekker. Voel jy darem nou beter?”
Ek kyk op. Dis die rooikop wat ek netnou amper uit die aarde uit gehol het.
“Ek is nou oukei,” piep ek soos ’n half versuipte muis.
“Hierso,” sê sy en hou ’n papierhandoek uit na my. “My naam is Chantelize – ons het saam Afrikaans by juffrou Venter.”
“Hi, ek is Kali.” My stem klink darem al minder muiserig.
“Ek weet. Eintlik weet álmal van jou. Zak se vriendinnetjie. Hy het vir ons vertel hoe lekker julle twee altyd vakansies in julle boomhuis gespeel het. Wat het hy jou daardie een keer genoem?” Chantelize leun vorentoe en bestudeer haar perfek gevormde wenkbroue in die spieël. “O ja, nou onthou ek. Kali-tjanke-balie. Siestog, ek sien jy het vandag ook gehuil.”
Die water drup van my warm gesig af. Ek klem die papierhanddoek in my vuis vas. Iets ruik soos ’n nat hond.
Chantelize tel haar sportsak op. “Nou ja, ek moet gaan opwarm vir die hoogspring. Dit is maar erg as mens die heeldag jou rekords van verlede jaar moet verdedig.” Sy kyk my en my skoolklere op en af. “Ek wil net vir jou sê – ons atlete waardeer julle ouens se singsongs op die paviljoen vrééslik baie.”
Iets soos miere march van my voete af boontoe deur my lyf, tot in my vingerpunte. My hande tintel, soos wanneer mens daarop gesit het en die lewe daarna begin terugkom. Chantelize het omgedraai en is op pad deur toe.
“Haai, wag ’n bietjie. Jy kan nie sê wat jy wil en dan net wegloop nie.” Ek gryp haar aan die arm.
“Eina!”
Jis, dan is sy nog pieperig ook.
“Kyk net wat het jy gedoen! Is jy mál of wat?”
Daar is pers merke op haar arm – presies daar waar ek haar gegryp het. Ek kyk na my hand. Dit is bloedrooi en dit voel of iemand my vingers met spelde steek. Ek swéér ek het haar nie so hard gegryp nie.
“Bleddie bitch! Dis tyd dat Zak weet met watter gemors hy deurmekaar is,” sê sy. Of nee, sy moet dit dink, want haar mond is toe terwyl sy na my gluur.
Sy dink dit en ek hoor dit. Shitters. “Sorry, ek het nie bedoel om …”
“Druk jou sorry – ek gaan hoof toe,” val sy my in die rede. “Ek weet nie uit watter gat jy gekruip het nie, maar hier rand ons nie mekaar aan nie.” Met dié vlieg sy by die deur uit.
Ag jeerlikheid tog, nou is ek diep in die dinges. Ek gaan by een van die hokkies in en maak die deur agter my toe. Terwyl ek op die toe toiletsitplek sit, bekyk ek my hand. Dit lyk nou weer normaal en die speldeprikke is ook weg. Wat de hel is besig om met my te gebeur?
Ek haal my selfoon uit en WhatsApp vir Aimee. Hi, hu ga di da? Mis jou baie.
Hi, Kali, mis jou ook, antwoord sy. Gaan OK. Hang ini mall uit met Cindy. Ga nou fliek. Sorry, chat later.
So much vir ewige vriendskap. Jis, dit suck. Veral wanneer mens nodig het om vir iemand te sê goggas vreet sirkels uit op jou nek, jy begin mense se gedagtes lees, jy skiet katte voor jou soort-van-kêrel en jy gee mense blou kolle as jy net aan hulle vat.
Dan onthou ek wat Chantelize gesê het oor Zak.
Kali-tjanke-balie.
Zak sou my nooit so genoem het nie. Of sou hy?
As die lewe net naastenby fair was, het ek nie nou tussen Nomsa en Tara langs die paviljoen gestaan en kyk hoe Zak en Chantelize saam op die podium staan nie. Junior Victor Ludorum en Victrix Ludorum.
En nou omhels sy hom sowaar! Pleks het ek haar netnou eerder aan die keel gegryp.
“Oee, as ek jy is, sal ek daai ene dophou,” sê Nomsa langs my. In haar dirigent-outfit lyk sy soos ’n bemanningslid van een of ander space ship.
“Chantelize het nog altyd ’n crush op hom gehad,” sê Tara. “But don’t worry; Zak het nog nooit vir haar tricks geval nie.”
En tog het hy by sy vriende met my gespot. My Kali-tjanke-balie genoem. Ek sluk en knip my oë. As ek nou weer begin tjank, kou ek my polse af.
Ek wag tot ná die atletiekbyeenkoms toe ons die aand by die sokkie is voor ek hom corner. “Ons moet praat,” sê ek hard sodat hy my oor die dansmusiek kan hoor.
“Waaroor?”
Damn, as hy net nie so stunning gelyk het in sy Diesel-jeans nie, was dit baie makliker om met hom ’n fight te pick.
“Kom ons gaan buitentoe. Dis bedompig in die saal,” sê ek.
Ons gaan koop koeldrank by die snoepie en loop tot op die rand van die krieketveld.
Anderkant die krieketveld skyn die sterre helder bokant die donker rug van die berg.
“Sorry dat ek jou wegsleep van die dansery af, maar daar is iets wat ek vir jou moet vra,” begin ek toe ons op die gras gaan sit.
“Dis oukei. Ek wil vir jou ook iets vra.”
“Vra jy maar eerste,” sê ek vinnig.
Wow, dalk wil hy vra of ons officially ’n item kan wees. Ons het nog nooit regtig oor ons twee gepraat nie. Dalk moet ek hom nie nou aanvat oor wat Chantelize gesê het nie. Buitendien, dalk het sy anyway net gelieg.
Sy’s so freaking mooi; ek hoop nie ek pis haar totally af nie. Maar ek moet weet.
Jisterday, ek doen dit al weer. Hy’t niks gesê nie, net gedink – en toe hoor ek dit. Mind you, hy’t gedink ek is mooi. Freaking mooi, nogal. Ek wil eers glimlag, maar toe onthou ek die laaste stukkie. Wat is dit wat hy moet weet?
“Vra nou,” sê ek en hou my asem op.
“Chantelize het gesê jy het haar vroeër vanmiddag seergemaak – sy’t my die blou kolle op haar arm gewys.”
Ag, jimmel tog. “Ek belowe ek het nie bedoel om haar seer te maak nie, maar sy het alles begin. Sy het gesê jy het met my gespot by jou vriende. My Kali-tjanke-balie genoem.”
Zak los my hand. “Dan wás dit jy wat haar so seergemaak het.”
Ek wip my tot in anderland en skuif ’n paar sentimeter weg van hom af. “Dan hét jy met my gespot,” sê ek styf.
Shit, dan het Chantelize die waarheid gepraat. Ek het genuine nie gedink Kali sal so iets doen nie.
“En ek het ook nie gedink JY sal so iets doen nie,” antwoord ek voor ek kan keer. O hel, hy het dit gedink, nie gesê nie. Ek is nie veronderstel om te antwoord as mense dink nie.
Zak kyk na my. “Dis weird.”
“Wat?” vra ek versigtig.
“Dis asof jy al weer geweet het wat ek dink.”
Nou moet ek mooi lieg. “Jy’t self gesê dis omdat ons mekaar so goed ken. Ek het net geraai dit is wat jy sou dink; soort van ’n lucky guess, jy weet?”
Stilte. Hel, ek hoor nou nie eens wat hy dink nie. Maybe moet ek die spotlight vir ’n change op hom sit.
“Zak, is dit waar wat sy gesê het? Het jy genuine met my gespot?”
“Dit was darem lank terug. Ná die vakansie toe jy my die heeltyd ge-ignore het. Ek was genuine pissed. Sorry.”
“So eintlik was dit Leonardo se skuld. As hy nie so mislik was nie, het ek nie getjank nie en het ek jou ook nie vir die res van die vakansie geïgnoreer nie.”
“Hoekom hét jy?”
Régtig? Verstaan ouens dan niks nie?
“Kali?”
Die manier waarop hy my naam noem, laat my dink aan die geur van rose. Rooies.
Oukei dan. Here goes. “Daai dag … ek was skaam omdat ek op my rok gemors het en verál omdat ek toe nog gehuil het ook.”
Dan is sy arms om my. Sy lippe vee oor my wang. “Sorry.” Dan my ander wang. “Sorry.” Dan raak sy mond saggies aan myne.
“Dis oukei,” fluister ek. Terwyl hy my soen, klop ons harte so styf teen mekaar dat ek vergeet van vreemde bysteke en gedagtes lees en alles.
Haar boobs voel so sag teen my. Maybe sal sy nie mind as ek daaraan vat nie. Nee, liewer nie. Netnou skrik sy.
Ek skrik so groot toe ek hoor wat hy dink dat ek sommer vergeet om te soen. Hy hou ook op en kyk na my terwyl hy ’n haarsliert uit my gesig vee.
“Ek kan nog nie glo jy’s genuine hier nie, Kali. Om oor Skype te chat is glad nie so lekker soos dit nie.” Hy soen my op my voorkop. “Ook nie soos dit nie.” Nou soen hy my in my nek. Dit kielie.
Ek begin lag. “Dis ook maar net verlede jaar dat ons begin Skype het. Voor dit het Bospoort se meisies jou seker te besig gehou.” Ek frons toe Chantelize haar rooi kop skielik in my gedagtes in druk.
“Voor verlede jaar het ek gedink ek het nie ’n kat se kans met jou tussen al daai stadsouens nie,” sê Zak en staan op. “Kom, ons moet seker teruggaan.”
Ek wil nie eintlik teruggaan saal toe nie, maar dalk is dit veiliger. Voor ek nog van sy gedagtes oor my boobies hoor en dit weer soos warm stroop deur my lyf loop.
“Oukei.” Ek kyk vir oulaas op na die sterre voor ons terugstap saal toe. Hulle het nog nooit vir my so mooi gelyk soos nou nie.
“Daar’s nog niks nuus oor die twee vroue wat verdwyn het nie,” sê Nomsa terwyl sy uit die swembad klim. “Ek swéér dis ’n serial killer se werk.”
“Oh, come on. A serial killer in Bospoort?” Tara loer oor die rand van haar sonbril na Nomsa.
Dis die Sondagmiddag ná die atletiekbyeenkoms en ons drie relax langs ons swembad. My ma en pa het by vriende gaan kuier en Zak en Leonardo staan onder die lapa, besig om die vleis op die vuur dop te hou.
’n Vreeslike gehyg kom al hoe nader. Ek kyk op. Dis Kristoffel wat oor die grasperk nader galop.
“Ou Kristoffeltjie, kom hier, jou vetgat!” roep Zak.
Die vet hond en die hunk met die swart swembroek storm op mekaar af en rol stoeiend op die gras rond.
“Hy lyk vir my nes een van daai outydse baddens wat op sulke kort pootjies staan,” sê Nomsa.
“Ek neem aan jy praat van die hond, en nie van Zak nie,” sê Tara droog.
“Of course, man. Nes ’n bad, ek sê jou.”
Die volgende oomblik spat die water. Leonardo het in die swembad geduik en swem nou onder die water. Heen en weer. En nog ’n keer. Dan eers kom hy op vir asem.
“Wow, nie sleg nie,” sê ek vir Tara.
“Hy sê hy kon swem nog lank voor hy kon loop. Dis in sy gene, want sy familie bly al vir eeue in Venesië.”
Die Italiaanse stad op die water. G’n wonder hy swem soos ’n vis nie.
“Iets brand,” sê Nomsa.
Die vleis! Ek spring op, hol lapa toe en gryp die rooster van die vuur af. “Julle kan baie bly wees dis net die een tjoppie hier op die kant wat gebrand het.” Ek is nog besig om die vleis met die braaitang in ’n bak te pak toe ek bewus raak van die stilte agter my. Ek draai stadig om.
Almal staar na my, behalwe Kristoffel wat besig is om sy oor met sy vet agtervoet te krap.
“Wát?” Ek kyk af. My swemklere maak tog alles toe wat saak maak.
“Jy was … vinnig,” sê Zak.
“So? Die vleis was besig om te brand omdat julle twee nie daarna gekyk het nie.”
Roerlose stilte.
“Jy verstaan nie, Kali,” sê Tara met groot oë. “Jy was báie vinnig.”
“Ja, soos in Usain Bolt en The Flash-vinnig,” voeg Nomsa by.
“Ag, komaan, julle oordryf nou,” sê Leonardo terwyl hy uit die swembad klim. “Sy het net gestress oor die vleis.” Hy draai ’n handdoek om sy heupe en kom nader. “Laat ek sien wat die skade is … Not to worry, alles lyk nog eetbaar.”
“So ons pretend maar net niks snaaks het gebeur nie?” vra Nomsa.
Ek gee ’n tree agteruit. “Julle laat my soos ’n freak show voel.”
Zak kom nader en sit sy arm om my skouers. “Los nou my meisie uit, toe? Buitendien, die vleis word koud.”
Wow, hy’t my sy meisie genoem.
“Dit was obviously ’n adrenalien-rush,” sê Leonardo terwyl hy hompe botter op ’n broodjie plak. “Die hipotalamus in die brein trigger die adrenale klier om adrenalien in die bloedstroom in te pomp. Dit verhoog die hartklop, wat sorg dat daar meer bloed na die spiere en suurstof na die longe toe gaan. En voilà, Kali The Flash saves the day – en die skaaptjops.”
“This is not fair, Leonardo,” sê Tara terwyl sy vir haar slaai inskep. “Jy lees een keer iets op Wikipedia en onthou dit vir altyd. Ons ander moet ons vrék leer om goed in ons koppe te kry.”
“Wat kan ek sê? I have nothing to declare but my genius. By the way, Oscar Wilde het dit by die doeane gesê toe hy in 1882 in Amerika gaan kuier het.”
“I rest my case,” sê Tara en almal lag.
Almal behalwe ek. Was ek regtig so vinnig soos hulle sê? My vingers bewe toe ek aan die riffies van die sirkels agter teen my nek vat. Ek ruik iets bitters – soos vleis wat in sy glory in verbrand het.
Maandag is nie blou nie, dis pérs. Net so pers soos die merke op Chantelize se arm.
“Is dit waar, Kali?” My ma vat haar hare agter haar kop bymekaar en trek dit oor haar linkerskouer.
Ons sit in die hoof se kantoor. Dis nou ek en my ma en Chantelize en haar ma en pa. My pa was besig om te opereer toe die hoof gebel het, dis waarom hy nie nou die party join nie.
“Kali?“ vra die hoof, sy woeste wenkbroue teen mekaar soos hy frons.
Meneer Croucamp is ’n heel nice ou, maar ek hoor jy moenie aan sy verkeerde kant kom nie. En dit is aan daai kant van hom wat ek nou hier op die puntjie van my stoel sit.
“Ek is regtig jammer, ek het nie bedoel om haar seer te maak nie,” sê ek tussen stywe lippe deur.
“Dit is absoluut ongehoord dat ons leerders geweld teenoor mekaar gebruik,” sê meneer Croucamp. “Om die situasie te ontlont, sal jy vir die volgende week elke eerste pouse ’n sessie met die skoolsielkundige hê. Die gesprekke sal gemik wees op die beheer van emosies, en veral woede.”
Woede? Jis, hy laat my soos ’n freaking psigopaat klink.
Hy kyk na my ma en dan na Chantelize se ouers. “Dra dit u almal se goedkeuring weg?”
Die Harmses knik terwyl hulle na my kyk asof ek laer as slakslym is.
“Dit is in orde,” sê my ma ook.
Whoopee, ek gaan elke tweede pouse met ’n shrink praat. Ek kan nie wág nie … Dan tel ek iets op wat my ma dink.
… werk toe eintlik goed uit. Vambo kan nou sommer tydens haar sessies die opleiding doen.
“Wat werk goed uit, wie is Vambo en watse opleiding is dit?” vra ek vir my ma toe ons uit die hoof se kantoor is.
Sy steek vas. “Nee, nee, so kan dit nie aangaan nie. Jy sal moet leer om dit te beheer.”
“Wat? My kastige woede? Ek het mos gesê dit was net ’n ongeluk en …”
“Nee, dit is nie wat ek bedoel nie,” val my ma my in die rede. “Maar jy moet nou eers klas toe gaan. Ek het … dinge om te reël.”
Met dié halwe antwoord los sy my net daar en march in die gang af. Ek is duidelik nie die enigste weirdo in die gesin nie.
Vir die res van die dag ruik my gedagtes soos nat teer. Wat seker nie snaaks is nie: mal mense se gedagtes ruik seker nie soos ’n blomtuin nie. En totally insane is ek beslis. Normale mense lees nie ander se gedagtes nie.
Ja, ek weet, mens dink altyd dit moet vreeslik nice wees om dit te kan doen, maar glo my, dit is nie. Veral nie as jy ’n hele crowd gelyk hoor dink nie. Vat maar die spul rondom my. As ek op hulle konsentreer, klink dit soos ’n klomp dronk bye wat ’n disco in my kop hou.
“ … so deurmekaar soos ’n hoer se handsak … flippen hel, asof ek nou mind of ek vyftig of tagtig vir wiskunde kry … my ma se kredietkaart gebruik om … dra sulke fugly outannie-skoene … as hy nou weer vir my kyk, gaan ek …”
“Kali?”
Die gezoem hou op. Tara staan voor my, haar gesig ’n vraagteken. “So, kom jy?”
“Waarheen?”
“Saam met my en Nomsa – ons gaan ná skool by my huis uithang.”
“Sure,” sê ek en glimlag asof niks op aarde fout is nie. Veral nie met my kop nie. Ek WhatsApp my ma oor my planne.
Wat van huiswerk? vra my ma.
Ni baie ni, lieg ek.
Tara se ma kom haal ons met haar swart Land rover. Twee stowwerige seuntjies sit agter in die kar en baklei.
“Meet the McGonigal clan,” sê Tara met ’n oordrewe Ierse aksent toe sy die sydeur oopmaak. “For many centuries known as the rowdiest bunch in all of Dublin County.”
“Pleased to meet you, Kali,” roep tannie Mercia McGonigal oor haar skouer en trek met ’n vaart weg terwyl Nomsa nog die deur toetrek.
“Eddy and Edmund, cut it out!” skree sy en vleg soos ’n rally driver tussen die karre deur. “What would you and your friends like for lunch, Tara? What about hamburgers and chips? Where is Gracie? That silly child – Tara, see if you can find your sister.”
Net toe gryp iets my aan die enkel en voor ek kan keer, gil ek.
“Gracie!” gil tannie Mercia van voor af saam.
“Don’t worry, I’ve got her,” sê Nomsa en trek ’n mollige kleuter onder die sitplek uit. Die kleintjie giggel toe Nomsa haar kielie en toe op haar skoot tel.
“Dis hoekom ek dink ek moet adopted wees,” sê Tara en kyk uit die hoogte na die dogtertjie wat nou met vuil vingers aan Nomsa se vlegseltjies voel. “Ek is die enigste sane een in dié gesin.”
Ek ruik rooi Jelly Babies terwyl ons in happy chaos na Tara-hulle se huis toe ry.
Ons kry toe hamburgers en chips vir middagete – maar eers nadat Eddy vir Edmund bloedneus geslaan het, tannie Mercia vir Eddy gefoeter het en Gracie hande vol katkos op die kombuisvloer gesit en eet het.
“Hulle laat my baie aan my eie familie dink, myne is net nog ’n bietjie louder,” sê Nomsa terwyl ons later na Tara se kamer toe loop.
“Not likely,” sê Tara.
“Wow, dis mooi, wie is dit?” vra Nomsa toe ons in Tara se kamer kom. ’n Potloodskets van ’n jong vrou met krulhare is in die middel van die aansteekbord bokant haar lessenaar vasgesteek.
Tara trek haar skouers op. “Who knows. Ek het van haar gedroom, toe teken ek haar.”
Nomsa gaan nader en gaan staan met ’n skewe kop voor die skets. “Daar is iets bekends aan haar.”
“Nee, man, ek sê mos ek het net van haar gedroom,” sê Tara en trek haar skoene en kouse uit voor sy kruisbeen op die bed gaan sit.
Dan vries my hele lyf. Op die sagte binnekant van haar een voet is twee pers sirkels wat mekaar gedeeltelik oorvleuel.
“En nou?” vra Nomsa. “Lyk of jy ’n spook sien.”
Ek wil praat, maar my tong sit aan my verhemelte vas. Al wat ek kan doen, is om met my vinger na die merk te wys.
“Oh, this? It’s a birth mark. Ek het dit al vandat ek kan onthou,” sê Tara.
Ek leun nader en raak met my wysvinger aan die merk.
“Ouch!” Tara pluk haar voet weg. “It hurts!”
“Nkosi yami!” roep Nomsa uit. “Kyk hoe lyk dit nou.”
Die pers sirkels is nou rooi en opgehewe. Tara hou haar voet vas.
Shit, it burns like hell, hoor ek haar dink.
“Ek is so jammer, ek het nie bedoel om jou seer te maak nie.”
“Gee hier daai vinger!” beveel Nomsa en gryp my hand. Sy bestudeer my vinger van alle kante af. “Ek verstaan nie – jou nael is nie eens lank of skerp nie.” Sy laat val my hand skielik en kyk met groot oë na my. “Ek dink jy’t haar getoor. Dalk is jy ’n sangoma – ek het al gehoor van wit sangomas wat black magic doen.”
“Ek … ek is nie …” Sonder dat ek wil, rol ’n vet traan oor my wang. “Sorry, dis net … ek weet nie meer wat deesdae met my aangaan nie.” Ek snuif en sluk ’n slag. “Die geboortemerk … dit lyk net soos die merk op my nek.”
“Whát?” Tara kyk verbaas na my.
“Lig op jou hare dat ek weer kan kyk,” sê Nomsa. Ek maak so en vir ’n sekonde is dit doodstil. “Hells bells. Dit lyk sowaar dieselfde,” sê Nomsa dan.
“There must be a logical explanation for all of this,” sê Tara.
“Maybe het jy ook ’n geboortemerk op jou nek gehad, Kali, en is daar iets in Bospoort se water wat mense se geboortemerke laat opswel,” sê Nomsa. “My pa is op die town council – ek sal hom sê hulle moet bietjie kyk.”
Die kamer ruik meteens na vrot dreinwater. Ek staan op. “Ek moet huis toe gaan.”
Nomsa en Tara kyk na mekaar. “Relax, my ma sal julle nou-nou huis toe vat, Kali,” sê Tara dan, maar dit is nie wat sy dink nie.
Perhaps she should rather go, hoor ek haar gedagtes. Ek sluk. Sy wil my duidelik nie hier hê nie.
“Moenie worry nie, my ma kan my sommer kom haal.” Ek tel my rugsak op. “Ek gaan buite wag. Sê vir jou ma dankie vir die ete,” sê ek en loop by die kamer uit.
Ek gaan by die voordeur uit en loop hek toe. Op die sypaadjie haal ek my selfoon uit en bel my ma.
“Jou stem klink snaaks. Het jy gehuil?” vra sy toe ek met haar praat. Sy raak vreeslik geïrriteerd as ek huil.
“Kan Ma my dalk by Tara-hulle se huis kom haal?” fluister ek hees.
Sy sug ’n ag-Kali-tog-sug. “Goed. Ek kom.”
Ek gaan sit op die sypaadjie se rand. Ek wens ek was dapperder. Soos ’n heldin in ’n movie. Superwoman, nie Kali-tjanke-balie nie.
“Praat, Kali,” sê my ma toe ek minute later by haar in die kar klim. “Wat het jou ontstel?”
Ek vee ’n laaste nattigheid onder my neus af. “Daar is ’n merk op Tara se voet – dit lyk net soos die een agter op my nek. En ek lees gedagtes en ek maak mense seer as ek aan hulle vat,” sê ek bewerig.
“En wat nog?”
Ek staar bo-oor die tissue na my ma. Jis, is dit nie genoeg nie? Sy klink nie eens verbaas nie. Dink sy ek lieg sommer net?
Die Raad kan nie langer wag nie. Dit is tyd dat sy weet wat aangaan.
“Wie is die raad en wat gaan aan?”
My ma kyk na my en sug. “Dis ’n lang storie, Kali. Jy sal binnekort alles hoor. Daar is net eers sekere … prosedures wat ons moet volg.”
“Prosedures? Waarvan praat Ma?”
Sy vat-vat met haar linkerhand aan haar hare agter haar nek, maar net voor sy dit oor haar linkerskouer trek, sit sy haar hand weer langs die ander een op die stuurwiel neer.
“Asseblief. Wees net geduldig, Kali.”
Ek sit al die pad huis toe soos ’n zombie langs my ma. Iets is verkeerd. Iets is vreeslik verkeerd.
’n Deel van my wil weet wat aangaan, maar ’n ander deel wil liewer nie, want diep in my weet ek dit gaan my lewe totally verander.