Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 94
Оглавление26 Maart – God seën die treurendes
26 MAART
Lees: Matteus 5:3–12
God seën die treurendes
“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” – Matteus 5:4
Elke mens op aarde het al met hartseer kennis gemaak. Daar is nie één van ons wat nog nie verlies ervaar of ’n dierbare verloor het nie. Maar Christene is mense wat ánders met hartseer omgaan as mense wat God nie ken nie. “Die treurendes van Matteus 5 is mense wat by Gód huil. Al huil hulle soms óór God,” skryf Johan Smit in sy boek oor die Bergrede: Jesus aan die woord.*
Wanneer jy hartseer beleef, ontdek jy meermale dat jy ín hierdie hartseer vir God ontdek, dat jy Hom beter leer ken, dat Hy ’n groter werklikheid vir jou word, dat dit net Hý is wat jou op die regte ma-nier kan troos. Jy het ook die versekering dat God jou deur en deur ken, dat Hy van jou hartseer bewus is en dat Hy ook weet hoe om jou weer beter te laat voel. Die hartseer waarvan Jesus in hierdie teks praat, dui eintlik op hartseer oor sónde. Meestal is dood of verlies wat jou hartseer veroorsaak dan ook ’n indirekte gevolg van sonde. Jou hartseer maak jou dus bewus van die feit dat jy in ’n sondige wêreld leef én self sondig is. Eers wanneer jy jou sonde erken en bely, ervaar jy die helende salf van God se troos en kan jy die belofte in Openbaring 21:4 vir jou persoonlik toe-eien: Eendag in God se nuwe wêreld sal álle hartseer vir altyd verby wees. Dáár sal Hy Self jou hartseertrane vir altyd afdroog.
Here Jesus, ek loof U vir die wete dat U my eintlik seën wanneer ek hartseer is, omdat my hartseer my aan die ontvangkant van u troos plaas. Amen.
* J Smit, Jesus aan die woord, p 38