Читать книгу Gebede vir elke vrou - Nina Smit - Страница 6
Christelike leefwyse
ОглавлениеHemelse Vader, vergewe my asseblief al my sondes en maak my gewillig om dié mense wat teen my oortree het, én myself te vergewe. Ek wil graag absoluut gehoorsaam wees aan die riglyne in u Woord. Leer my hoe ek U en ander mense moet liefhê, en leer my ook om U elke dag van my lewe te loof en te aanbid. Seën asseblief die werk waarmee ek besig is en help my om dit na die beste van my vermoë te doen. Maak my vrugbaar in u koninkryk, maak my rein en heilig sodat u Heilige Gees van nou af my lewe sal beheer. Wys my asseblief die spesifieke doel waarvoor U my geskep het, en seën elkeen van my verhoudings. Laat u wil in my lewe geskied, beskerm my teen gevare en gee vir my die nodige wysheid om die regte keuses te maak en die regte besluite te neem. Verlos my asseblief van die Bose en red my van negatiewe emosies wanneer dit moeilik gaan. Vertroos my in hartseertye, laat my sterk wees teen versoekings, genees my as ek siek is en bevry my van vrees. Gebruik my om ander mense se lewe positief aan te raak en hulle te bemagtig met my woorde. Versterk my geloof, Here, maak my meer soos Jesus, en help my om nie langer oor my foute van die verlede te tob nie. Stap nou elke dag saam met my op my lewenspad tot op dié dag wanneer U my kom haal om vir altyd by U te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus.
Here, dankie vir die wysheid in Spreuke wat my leer hoe ek moet leef. Ek weet nou dat as ek U liefhet, ek nooit bang hoef te wees nie; dat ek bewustelik mag kies om gelukkig te wees deur u voorskrifte te gehoorsaam. Leer my asseblief om te dink voor ek praat, om met my hele hart op U te vertrou, om U met my gawes te dien, om reg te dink en reg te leef, en om die mense wat my hulp nodig het dadelik te help. Bewaar my asseblief sodat ek veilig kan leef en rustig sal slaap. Vergewe my dat ek nog so maklik lyf wegsteek – van nou af wil ek graag my werk vir U doen. Skenk my u wysheid om moeilike situasies reg te hanteer en gee vir my die kennis en insig wat ek nodig het.
Ek wil meer tyd maak vir U, meer tyd met u Woord deurbring sodat ek u riglyne my eie kan maak en daarvolgens kan leef. Help my om my praatlus hok te slaan, om nie van ander te skinder nie en gee vir my ’n oop hand vir ander. Van nou af wil ek uit my foute leer en ophou om my te bekommer. Dankie dat my vreugde soos ’n helder lig mag skyn omdat ek aan U behoort. Ek loof U dat ek u liefde soos ’n borrelende fontein in my lewe mag beleef, en dat ek selfs wanneer U my geloof toets deur swaarkry steeds aan U mag vashou. Maak my ’n ware vriend vir my vriende; nederig en absoluut afhanklik van U, en leer my om na U en ander te luister – maar bo alles om onvoorwaardelik lief te hê, soos U my liefhet.
Ag Here, ek sukkel so met die liefde!
Dis maklik om die mense na aan my lief te hê en na hul belange om te sien.
Maar dié mense wat van my verskil, wat anders dink as ek, wat my irriteer en omkrap – vir hulle probeer ek tevergeefs benader met die liefde wat U van my vra.
Ek sien nou ek kan dit nie regkry nie, en kom vra dat U dit asseblief vir my moontlik sal maak om my liefde vir U oor te skakel na liefde vir ander en dit in dade om te sit.
Here, ek onderneem om dit te waag om lief te hê.
Maak my liefde onselfsugtig en oorvloedig soos u liefde vir my. Gee dat ek dit sal regkry om my voorkeure en wense prys te gee ter wille van ander.
Stort asseblief u onvoorwaardelike liefde in my hart uit deur die Heilige Gees wat in my woon sodat my hele lewe van nou af in die teken van die liefde sal staan.
Gees van God,
ek weet baiekeer nie wat om te bid nie. Sal U my asseblief leer en vir my intree? Ek word skaam as ek dink hoe lank en hoe hard ek al vir u gewerk het – só lank en só hard dat daar nie tyd was om te bid nie. Dankie dat U my wil leer dat gebed soveel meer kan verrig as wat harde werk kan; dat, wanneer ’n nietige mensekind bid, die almagtige God in beweging kom. Leer my van nou af om éérs te bid voordat ek dinge probeer doen. Dankie dat U magtig is om baie meer te doen as waarvoor ek kan vra.
Here, dankie vir u oorvloedige seën wat ek elke dag in my lewe ervaar. Wys vir my hoe ek ander kan seën.
Here, ek bely dat ek so dikwels stilbly wanneer ek oor U moet praat. Dankie vir die voorreg om u getuie tussen ander mense te wees, en vir die versekering dat U my vashou en beskerm.
Vader, ek bely dat my entoesiasme vir U maklik verflou, dat my energie by die dag minder raak. Vergewe my hierdie traagheid en gee my weer ’n standhoudende ywer vir u koninkryk.
Hemelse Vader, ek bid dat U my sal help om weg van myself te kyk, en my oë op U gerig te hou, om te onthou hoe U my in die verlede gehelp het, en om my hand na ander uit te steek om hulle te help.
Hemelse Vader,
soos so dikwels tevore staan ek skuldig voor U. Ek is so gou om na U te hardloop met al my probleme. Om oplossings by U te soek as sake vir my te warm begin word. Dankie dat U my vandag daarop wys dat daar ook vir gebed voorbereiding nodig is.
Wys asseblief my sonde aan my uit. Maak my sensitief vir alles wat ek verkeerd doen – en help my om die sonde te laat staan wat skeiding tussen U en my bring.
Dankie dat U in u Woord belowe om my sonde te vergewe as ek dit bely. Dankie dat ek vry is om na u genadetroon te kom met die seker wete dat U my liefhet, dat U sal luister en antwoord.
Hemelse Vader, baie dankie vir elke belofte wat in u Woord opgeteken is: dat U my sal help en bewaar, dat U my liefhet en in elkeen van my behoeftes sal voorsien; dat U my sal dra in swaarkrytye en vir my sal sorg.
Help my om die beloftes in my Bybel te memoriseer, aan te teken en my eie te maak.
Dankie dat ek seker mag weet dat U getrou bly aan u beloftes, dat U uiteindelik elkeen van hulle waar sal maak, mits ek bereid is om te wag vir u tyd en tevrede sal wees met die manier waarop U die beloftes vervul.
Dankie dat ek U ook aan u beloftes mag herinner op dié tye wanneer ek moedeloos word omdat dit vir my voel dat U talm om te antwoord.
Ek weet, Here, dat elkeen van hierdie beloftes absoluut betroubaar is.
Ek bid vir dié mense wat ek ken en liefhet, vir my kinders en kleinkinders, my familie en vriende – dat U elke dag vir hulle sal onderneem en in al hul behoeftes sal voorsien.
Ek bring ook my gemeente, die dorp waar ek woon en my land na U toe, en ek dra almal wat besig is om vir U te werk aan U op.
Ek bid vir die leiers in ons land en die regering, gee hulle die nodige wysheid om reg te regeer.
Ek wil ook vir dié mense bid van wie ek nie hou nie; leer my om hulle lief te kry.
En vir hulle van wie ek in die koerante lees en oor die televisienuus hoor – mense wat rampe en trauma beleef en mense wat dierbares verloor het.
Wees U tog by elkeen van hulle, Here, en omvou hulle met u liefde.
Dankie vir die ontdekking dat wanneer ek vir ander bid, ek ook vir hulle lief raak en hulle al hoe beter verstaan.
Ek loof U dat U my voorgaan in hierdie voorbidding omdat U reeds vir my by God intree.
Hemelse Vader, dis nie so maklik om in U te bly glo wanneer my geloof om elke hoek en draai getoets word nie, wanneer my gebede onbeantwoord bly en ek in die diepte van depressie verval nie. Dit is nog moeiliker om te glo wanneer ek keer op keer teleurgestel word wanneer ek vas glo, wanneer die beloftes waaraan ek vashou nie vir my persoonlik waar word nie.
Here, help my dat ek nie in U sal begin twyfel nie. Gee dat ek sal vashou aan u beloftes en sal wéét: Vir U is niks onmoontlik nie. Dankie vir die één ding wat die vreugde weer in my laat roer: die feit dat U eendag weer sál kom om vir altyd ’n einde te maak aan alle ellende.
Leer my weer dat álles moontlik is vir dié een wat glo. U weet tog dat ek U liefhet en in U glo. Help my waar ek nog ongelowig is. Ek wil nou volledig terugstaan en U toelaat om vir my in te staan.
Hemelse Vader, in die tyd wat verby is, kon ek antwoorde op sommige van my waarom-vrae kry. Ek weet nou dat ek U volkome kan vertrou, dat U my sal help om soos U te vergewe, dat ek nie met my belasting mag kul of my bydraes mag afskeep nie.
Dankie vir my Bybel wat my wys hoe om te leef. Alhoewel die lewe nie altyd regverdig is nie, weet ek dat Ú is, dat U my liefhet en my lank tevore gekies het om u kind te wees.
Dankie dat U daar is wanneer ek swaarkry; help my om aardse swaarkry te verdra en wys my wat u wil vir my lewe is. Ek loof U dat ek goed genoeg vir U is, dat U my na u beeld geskep het en dat U in beheer is, ongeag die toestand van die wêreld om my.
Maak dit vir my moontlik om u getuie te wees wanneer ek siek is, help my om my Sondae vir U opsy te sit en vrede met my verlede te maak. Ek loof U dat U weer sal kom en dat ek nou al seker mag wees dat my plek in die hemel reeds vir my wag.
Hemelse Vader, vergewe my dat ek U so bly peper met my baie waarom-vrae, dat ek, soos Job en Dawid, kitsantwoorde van U wil hê.
Leer my opnuut dat U almagtig is, dat U my nie ’n antwoord skuld nie,
dat ek juis met hierdie vrae u liefde blokkeer sodat dit nie by my kan uitkom nie.
Dankie vir die versekering dat dié dinge waaroor ek so baie vrae het onlosmaaklik deel van u plan vir my lewe is en dat dit my uiteindelik wil lei tot ’n vars, nuwe ontdekking van u mag en majesteit.
Vader, ek wil nou al hierdie vrae los en net op U bly fokus – U wat volmaakte liefde is.
Laat my elke môre opnuut bewus word van u liefde.
Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.
Dankie dat ek nie meer vrae het wanneer ek op U konsentreer nie omdat ek weet dat Uself die antwoord is.
Here Jesus,
daar is so baie dinge in die lewe wat vir my belangrik is: sekuriteit, ’n mooi huis, modieuse klere, geleerdheid, geluk, gesondheid en nog baie ander. Vergewe my dat ek my so moeg maak om daardie dinge my eie te kan noem.
Dankie dat U my weer vandag kom wys op die heel belangrikste: om U te mag ken.
Leer my van nuuts af dat niks werklik die moeite werd is sonder U nie.
Dankie vir die voorreg om u kind te kan wees, om te deel in u liefde en u genade.
Help my om altyd te onthou dat niks in my lewe belangriker mag wees as U nie.
Gee dat U vir my altyd eerste sal kom sodat ek soos Paulus kan sê – en dit werklik bedoel – dat om te leef vir my Christus is, en om te sterf vir my ’n wins.
Here Jesus,
dankie dat U na die aarde gekom het sodat ons kan weet hoe groot God se liefde vir sondaars is.
Dankie dat Uself Liefde is – dat U ons eerste liefgehad het sodat ons in u liefde kan bly. Leer ons asseblief om mekaar – en vir U – lief te hê met die volmaakte liefde wat van U af kom.
Vergewe ons dat ons in ons strewe na materiële welvaart en sosiale aansien tevrede is om met die minimum liefde klaar te kom.
Vergewe ons dat ons mekaar nie kan verdra nie; dat ons jaloers en perfeksionisties is; mekaar wantrou en weier om mekaar te vergewe.
Leer ons dat die liefde die héél belangrikste is omdat dit vir altyd bly.
Here Jesus, ek wil graag met my hele lewe bewys dat ek ’n Christen is. Maak dit vir my moontlik om U bo alles lief te hê, ander mense bo myself te stel, heilig in die wêreld te leef en absoluut gehoorsaam aan die riglyne in u Woord te wees. U maak dit vir my moontlik om God se kind en erfgenaam te mag wees, om nuut te leer dink, en om my gawes tot u eer te gebruik. Help my om al hoe nader aan U te leef sodat my geloof al hoe sterker sal word en my verhouding met U elke dag sal verinnig. Ek wil my aan U toewy deur al hoe meer soos U te word, u wil te doen en met die sonde te breek.
Dankie vir die geskenk van die Heilige Gees wat in my woon en my daagliks leer en lei. Maak my ’n helder spieël wat u heerlikheid sal weerkaats, en gee vir my ’n sendingvisie sodat ek ander mense van U sal vertel. Van nou af wil ek U eerste stel en alle ander dinge ter wille van U prysgee; ek wil leef met die innerlike blydskap wat van U kom; in u Naam met God praat en in U bly.
Dankie dat ek dit met u hulp sal kan regkry om my seerkry en swaarkry positief te verwerk, om in alle omstandighede meer as ’n oorwinnaar te wees en steeds moed te kan hou omdat U my spesiaal uitverkies het om U s’n te wees. Maak my gewillig om te vergewe, met wysheid te leef en my lewe toe te wy aan die goeie dade waarvoor U my gemaak het. Baie dankie dat ek reeds die ewige lewe hét en dat ek mag uitsien na ’n ewigheid saam met U.
Here Jesus, ek besef opnuut dat U my wil nuut maak, dat my geloof die ewige lewe vir my waarborg en my van ontsteltenis vrywaar. Maak my gewillig om sout en lig vir die wêreld te wees en my vyande lief te hê. Dankie vir die versekering dat ek nooit weer bang of bekommerd hoef te wees nie omdat U my altyd sal help.
Ek wil graag diensbaar vir U wees, ’n geloof hê wat berge sal versit en aan U gee wat U toekom. Help my om ontslae te raak van die balk in my eie oog, om weer soos ’n kind te word wat heeltemal afhanklik van U is.
Dankie dat U vir my lewende water en brood wat lewe gee is, dat U my vir altyd van geestelike dors en honger sal vrywaar. Ek bely dat U die Christus, die Seun van God is. Maak dit vir my moontlik om onvoorwaardelik te vergewe, en om U en ander mense met ’n allesinsluitende liefde lief te hê omdat u Gees reeds hierdie liefde in my hart uitgestort het.
Here Jesus, U is vir my die opstanding en die lewe; maak my bereid om myself te verloën, om die minste te wees en ander te dien. Ek aanbid U as die weg, die waarheid en die lewe – gee vir my u vrede en help my om blywende vrugte vir U te dra. Ek wil graag u boodskap uitdra sodat ander mense sal kan sien hoe lief ek U het.
Here Jesus, vergewe my asseblief dat ek baiekeer nog so ontevrede en onvergenoegd is; dat ek geneig is om oor alles te kla en só die lewe vir myself en vir ander ongelukkig maak.
Ek is jammer Here, en ek kom bid nou dat U asseblief self u vrede in my lewe sal gee.
Gee dat ek daardie vrede in elke situasie sal ervaar: vrede in probleemtye, vrede wanneer daar krisisse in my lewe opduik, vrede ook wanneer alles vir my verkeerd loop.
Dankie dat U na die wêreld gekom het sodat daar vrede tussen my en God kan wees.
Maar, Here, help my ook om vrede te maak met dié mense met wie ek op die oomblik in onvrede leef.
Help my om van nou af so te leef dat u vrede ’n onlosmaaklike deel van my lewe sal vorm; dat ek, oral waar ek gaan, ’n instrument van u vrede sal wees.
Here,
ek is so in die skuld by U. U weet hoe hard ek probeer om heilig te leef, maar as ek weer sien, het ek al weer gesondig. Vergewe my, asseblief.
Wys my sonde uit. Iedere een: sonde van gedagtes, dade en versuim.
Here, U ken elkeen van hulle. Maak my so sensitief vir die verkeerde dinge dat ek onmiddellik sal weet wanneer ek sondig. Help my dan om die verkeerde reg te stel. Dankie dat ek weet U is elke keer bereid om my te vergewe. Meer nog: U het reeds die prys vir daardie sonde volkome vereffen. Maak my heilig, Here, soos U heilig is.
Here, gee dat ek U sal liefhê, dat ek nooit sal verleer om te lag nie, dat ek die mooie in die lewe sal raaksien, ander se belange sal vooropstel
en my sal beywer om van die wêreld ’n beter plek te maak. Help my om ook in tye van swaarkry u liefde uit te leef. Maak my gewillig om U te gehoorsaam en te dien.
Here, dankie
dat u kinders elkeen ’n spesifieke gawe het waarmee hulle U kan dien en verheerlik binne die ruimte van hul gemeente en gemeenskap. Dankie dat ook ek so ’n unieke geskenk van U gekry het.
Maak my asseblief bewus van dié gawes wat U aan my toevertrou het.
Vergewe my dat ek al só dikwels jaloers was op die gawes van ander dat ek van my eie gawes vergeet het of dit as onbelangrik afgemaak het.
Rus my toe en motiveer my om daardie gawes wat U aan my gegee het ten beste in u diens aan te wend. Sodat u koninkryk sal kom en u Naam verheerlik sal word in my lewe en in my gemeente en gemeenskap.