Читать книгу Madeliefies van staal - Pat Stamatélos - Страница 4
Оглавление1
Lucy Jordan-Douglas luister na die selfoon se gelui en kyk op haar armhorlosie. Dis presies twee minute voor sewe. Vir ’n oomblik staan sy so, haar heup teen die wasbak gedruk, besig om Dawn-handeroom aan te smeer. Sy is alleen in die woonstel, want Ashwin en Sheena is so pas by die deur uit, op pad werk toe, op pad skool toe.
Die selfoon lui voort.
Dit gaan ’n moordende Vrydagoggend op die paaie wees. Sy moes al gery het, die verkeer gaan haar laat maak. Tussen twee glyerige, romerige vingers lig sy haar selfoon op wat om haar nek hang. Sy weet, soos sy altyd weet, wie dié tyd van die môre bel.
“Jacques?”
“Jip. Goeiemôre, Lucy, is jy al op pad?”
“Môre, Jacques. Ek’s omtrent by die deur uit.”
“Bly net daar. Daar was ’n inbraak en skietery in jou buurt, ek kan jou sommer op pad oplaai. Die dooie is ’n jong man, kopwond.”
“In Róxy? Wat’s die adres?”
“Dis by Bakerstraat nommer . . . negentig.”
“O, dis Off Roxy. Dankie, Jacques, ek wag vir jou. Maar wat het van Manzo . . .”
“Hy’t ingebel. Die mannetjie staan nog en wag vir ’n taxi.”
“Jy moet ophou om so vroeg by die werk op te daag,” maan sy.
“Dis die laaste maal, ek sweer, volgende keer kan die nagouens uitgaan. Maar jy weet hulle gaan vir ons wag.”
Sy lag sag. “Dis waar, ja.”
“Sien jou nou-nou,” groet hy.
Lucy en Jacques de Waal werk al nege jaar saam by die staatslykhuis, van die eerste dag dat sy daar ingeval het. Dis ’n goeie vennootskap, hulle verstaan mekaar. En anders as by haar ander kollegas, het sy nog geen onvanpaste reaksies by Jacques gevind nie. Geen morbiede vereenselwiging met die dooies nie, maar ’n eerbiedige terughouding in die aanwesigheid van familie en ’n sensitiwiteit vir hulle verdriet.
Met haar handsak oor haar skouer gehaak, sluit sy die woonsteldeur agter haar toe, maar in plaas van sykant langs oor die groot erf na die voorhekkie loop, kies sy die paadjie deur haar skoonma se tuin na die huis se agterdeur.
Met die laaste geknal van donderstorms is die somer verby, maar die tuin staan klam en steeds verruklik in herfskleure getooi. Sy loop verby struike, varings, dwergkonifere en bont hibiskusse wat teen haar aanskuur. Loofplante en bottergeel lelies klou nog verbete aan die verbygegane seisoen, alles in wisselende skakerings van mooiheid. Geen wonder haar skoonma se gemoed bedaar as sy eers hier ’n draai gemaak het nie.
Lucy self het in Gumaville se stof, duwweltjies en kaaltes grootgeword, en sulke skoonheid in jou eie agterplaas is iets wat haar nog daagliks verras, iets wat sy nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy dink aan Baby-Jane wat haar bes doen om die paar kannas om Mammie se huis in Gumaville aan die lewe te hou. Kannas is al wat daar groei, want om in Gumaville te oorleef, moet jy hard én gehard wees. Maar die kannas is tog ook ’n lus vir die oog.
Dis al nege jaar sedert Ashwin vir haar en Sheena uit Gumaville geneem het. Hy het die woonstel hier agter op sy ma se erf vir hulle ingerig – met antie Dulcie se toestemming, maar sonder haar goedkeuring. En sonder enige vaste verstandhouding dat Lucy en Ashwin eendag sal trou, alhoewel die verwagting sekerlik daar was.
Sy dink daaraan: hulle het die Vrydagnag ingetrek en toe antie Dulcie Saterdagoggend opstaan, was sy en haar pakkaas in. Sy het daarop aangedring om huur te betaal en ook haar eie elektrisiteit, dus was sy niks meer as ’n huurder nie.
Ashwin het destyds gesê hy wil eers sy finale jaar ingenieurswese klaarmaak asook sy jaar prakties voor hulle trou. Vir hulle albei was dit ’n lang twee jaar. Dalk vir haar langer as vir Ashwin, want sy was deeglik bewus daarvan dat antie Dulcie dink sy is nie goed genoeg vir haar seun nie.
Dis seker verstaanbaar as ’n mens na die feite kyk: Lucy twee jaar ouer as Ashwin en met ’n kind van sewe jaar, haar stiefpa ’n alkoholis, haar enigste broer ’n rampokker, haar een suster verstandelik gestrem, Mammie met ’n emosionele afwyking. Maar dis niks wat sy, Lucy, kon verhelp nie.
Die enigste ligpunt in haar familie is Baby-Jane, haar jongste sussie. Dié studeer nou medies. Sy en Hessie bly nog albei by Mammie en saam maak hulle Hessie se tweeling groot. Hessie se man is ’n niksnut wat kom en gaan soos dit hom pas en gereeld met die gereg bots.
In Roxy is Lucy van dag een af goed behandel en hoflik verdra. Heimlik het almal behalwe Ashwin gehoop sy sal verdwyn, maar sy het gebly.
Twee jaar nadat sy by antie Dulcie ingetrek het, het sy en Ashwin getrou. Dit was op ’n Vrydagoggend in die hof, gevolg deur ’n wittebrood van drie dae in Magaliesburg. Toe hulle die Sondagaand terugkom, het Ashwin almal ingelig dat hulle nou man en vrou is. Skoonma Dulcie het gekla van migraine en gaan lê.
Deur die jare het antie Dulcie baie teenoor haar en Sheena versag, alhoewel Lucy steeds soos ’n buitestander voel. Maar sy is dankbaar dat Sheena en haar skoonma so goed oor die weg kom. Sheena met haar pragtige bos bruin hare, laggende groen oë en sprankelende persoonlikheid. Slim en talentvol.
Van Sheena se potloodsketse hang in die groot huis se sitkamer, maar vir háár is Dulcie steeds antie en nie ma nie. Daar was nog nooit toestemming nie, net nuanses van die teenoorgestelde.
Só loop Lucy en mymer met die kronkelende tuinpaadjie langs. Aan die een kant blink die klein swembad se water en aan die ander kant is die braaiarea onder ’n toegerankte afdakkie. Irisse en kwynende margrietjies ding mee om spasie en wit en pers heuningblommetjies kielie haar enkels rakelings. Kol-kol beur die piepklein groenigheid van winterbolle deur die grond wat nog safterig is ná die laaste reën.
Sal antie Dulcie al op en wakker wees? wonder sy. Dis gewoonlik antie Doll, haar skoonma se suster, wat eerste opstaan vir ’n koppie koffie.
Hoenertjie, die wit hondjie van oorlede Shorty Present wat in die ander woonstelletjie op die erf gebly het, staan en trippel op die huis se agterstoep. Hoopvol dat iemand die deur sal oopmaak en dat sy iets te ete sal kry, of ten minste ’n bietjie aandag.
“Môre, Hoenertjie,” groet Lucy toe die hondjie met ’n sagte tjankgeluid regop teen haar been kom staan, wagtend. Sy klop een keer hard aan die agterdeur en krap terselfdertyd vir Hoenertjie agter die ore. Iemand het jare gelede die babahondjie tussen antie Shorty se henne gegooi en toe sy die oggend by die hoenderhok kom, staan ta tussen die geveerdes asof sy daar hoort. Vandaar die naam Hoenertjie.
Lucy draai die deurknop en maak oop.
“Môre, my hartjie! Is jy op pad?” begroet Doll se stem haar hard en duidelik oor die onderdeur. Sy is besig om vir haar koffie in te skink. Die kombuis is gevul met die geur van roosterbrood.
“Môre, antie. Kan ek maar vir Hoenertjie laat inkom?”
“Ja, laat die ou ding tog maar inkom,” sê Doll en draai om om die koffiepot terug te sit op sy plek.
Die hondjie kom soos ’n koninklike ingetrippel, waai haar stertjie vir Doll en loop houtgerus deur die kombuis. Sy verdwyn gangaf.
Doll kyk die hond kopskuddend agterna. “Ai, die brak, reguit Dudley toe,” sê sy, haar voorkop in ’n frons. “Kom in, Lucy, kom sit. Jy lyk alte smart vanmôre. Of is jy sommer weer op pad?”
Lucy kry lekker oor die kompliment. Sy het ’n vaalgroen langbroek aan en ’n paar enkelstewels vir die nattigheid van die lykhuis. Haar groen T-hemp, wat nie heeltemal so uitgewas soos haar langbroek is nie, hang lank en wyd en bo-oor het sy haar nuwerige rooi check-hemp aan. Sheena noem dit haar tafeldoekhemp.
“Ek kom net môre sê, want ek moet ’n paar minute vir Jacques wag. Hy kom my oplaai vir ’n lyk in Off Roxy . . .”
“Dulcie! Dulcie, kom hoor hiesa!” skree Doll kliphard. “Nou wie is die lyk wat julle moet oplaai? Julle tel mos net die unnaturals op, dan nie?” sak haar stem soos dié van ’n samesweerder.
Lucy glimlag goedig. “Dit ís ’n onnatuurlike dood, antie Doll.”
Voor sy kan uitbrei, kom Dulcie inderhaas die kombuis binnegestorm. Sy het haar koningsblou kamerjas en koningsblou pantoffels aan, en die handdoek om haar kop word in plek gehou deur ’n hand met mooi gemanikuurde naels.
“Mylord, Doll, mens sal dink jy word aangerand!” raas sy kamma. “Wat gaan aan? Môre, Lucy,” groet sy in haar gawe stem.
Sy draai na haar suster. “Doll, die brak is al weer in my kamer. Sy staan en bedel biltong by Dudley.”
“Nie ek nie, jou skoondogter het haar ingelaat,” sê Doll met ’n knipoog in Lucy se rigting.
Lucy trek haar skouers verskonend op. “Sy’t gevra om in te kom?”
“Ja, toe dan maar,” sug Dulcie. “Doll, hoekom skree jy so?”
“Die huis is so groot, mens móét skree om gehoor te word,” verweer Doll haar. “Kyk, in my huis innie Kaap kan mens nie eens kreun nie, dan hoor die kind in die kamer langsaan. Know what I mean?”
Sy lag lekker toe Dulcie toe-nou-beweginkies met haar hand maak en vir Doll wys om vir haar ook koffie te skink.
Lucy bekyk die twee susters.
Antie Dulcie is op een-en-sestig nog rietskraal, elegant en gesofistikeerd, en sy gedra haar altyd waardig. Sy straal ’n warmte uit teenoor haar geliefdes, medelye en behulpsaamheid teenoor minderbevoorregtes, sjarme in die geselskap van rykes en VIP’s. En sy het ’n kyk wat die Rooisee kan opdroog as sy uitvind dat jy jou aan die kant van die ongewenstes en kansvatters skaar. Ná sewe jaar is haar gevoelens teenoor haar skoondogter steeds vir Lucy ’n raaisel. Gaaf op slegte dae en vriendelik op minder slegte dae. Of miskien is dit net haar persepsie, dink Lucy.
Antie Doll is heelwat jonger. Sy is mollig en minder mooi, allesbehalwe gesofistikeerd, maar uitbundig en lewenslustig. Sy is Sheena se geselsmaat en hulle straat se lieflingbuurvrou.
“Ja, ja, ek skink,” sê Doll. “Koffie vir jou ook, Lucy?”
Toe Lucy haar kop skud, vra Dulcie: “Gaan jy my nou vertel waaroor die geskree was?”
“Sit ’n oomblik, Lucy, dan vertel jy ons,” nooi Doll hartlik. “Ja, Dulcie, ek wou jou net sê Jakkie is op pad. Daar’s ’n lyk in Off Roxy.”
“Wáár in Off Roxy?” Dulcie se stem het ’n hele oktaaf geklim.
“Toemaar, antie, dis ’n jong man,” antwoord Lucy. “Hy’s in die kop geskiet gedurende ’n inbraak. Dis in Bakerstraat.”
Dulcie sit terug in haar stoel, haar hand op haar hart.
Lucy besef sy het haar skoonma laat skrik. Dié het natuurlik aan oom Sparky gedink, wat ook in Off Roxy bly. Hy is Dulcie se swaer, haar eerste man se broer, en hulle is baie erg oor mekaar.
Lucy kyk op haar horlosie. Hoe lank nog voor Jacques opdaag? Sy trek die stoel oorkant Doll uit en gaan sit, langs Dulcie, wat aan die kop van die tafel sit.
Haar skoonma vat ’n sluk koffie en vroetel aan die handdoek om haar kop. Daar is altyd ’n effense ongemaklikheid tussen haar en Lucy, en die wedersydse wete dat hulle nie veel het om vir mekaar te sê nie. Meesal net die gebruiklike “hoe gaan dit?”, “dit gaan goed”, gevolg deur ’n paar niksseggende sinne, soms kop onderstebo geuiter, altyd haastig, besig of op pad.
“Nou maar . . .” por Doll en sit haar leë beker hard op die houttafel neer.
“Ag nee, antie, ek weet niks meer nie,” skerm Lucy. “Ons word mos nie alles vertel voor ons by die toneel aankom nie.”
“Toe nou, jy’s ook altyd so geheimsinnig! Ons sal mos nie gaan oorvertel nie, nè, Duls? Haai, wie ís daar om te vertel?”
Iets in Lucy verteder. Dié antie kan sy net so optel en in Gumaville sit. Sy is daar net so tuis soos in Athlone in die Kaap. Soos sy hier by die tafel sit, is sy die teenpool van haar suster met die handdoek in perfekte Hollywood-styl om haar kop gedraai. Doll se hare is in groot wit rollers wat sy nou een vir een uithaal en netjies op die tafelblad neerlê soos iemand wat daisies in ’n bak rangskik.
“Maar vertel tog vir ons iets, ons is ook ma’ nuuskierig, jy weet,” hou Doll aan.
Lucy het al agtergekom dat haar skoonma in antie Doll se teenwoordigheid al die vrae vir haar suster los. Alleen sal sy ook vra, eintlik skimp, en op so ’n afgetrokke manier dat jy nie sou dink dat sy enigsins belangstel in die detail van jou antwoord nie. Dié kamma ongeërgdheid het sy lankal vervolmaak.
Vanoggend is geen uitsondering nie. Lucy kan sien haar skoonma verlekker haar in antie Doll se nuuskierigheid. Vertel sal sy moet vertel, anders gaan sy nie vandag hier wegkom nie. Sy noem nooit name nie, vertel geen intieme besonderhede nie, net ’n geval met ’n effense gru daaraan of ’n hartseer stertjie om antie Doll te laat gril of ’n traantjie te laat wegpink.
Sy besluit op ’n geval van twee weke terug, die vrou wat dae lank morsdood voor haar TV gesit het voor iemand haar lyk gevind het. Die polisie het sedertdien haar dogter in die hande gekry en hopelik kom sy vandag haar ma eien.
“Ag shame, wys jou, nè?” snak Doll.
“Moenie worry nie, Doll,” sê Dulcie. “Ons is darem drie in die huis en nog drie in die woonstel. Ek dink darem nie een van ons sal dae lank dood voor die TV sit voor iemand ons kry nie.”
Doll ignoreer hierdie nugtere kommentaar. “Haai, Lucy, die ou antie het seker al begin ruik, of hoe?”
“Doll! Móét jy so graphic wees?” maak Dulcie beswaar.
Sy sit haar hand moederlik oor haar skoondogter s’n en Lucy weet die antie soek inligting. Maar voor sy kan vra, is Doll weer aan die woord.
“Seker al rigor mortis, of hoe?”
Dulcie kyk haar suster afkeurend aan.
“Gaan jy en Ashwin vanaand uit?” verander sy die onderwerp.
Lucy trek haar skouers op. “Ek sal maar hoor wat Ashwin sê.”
Hulle het daaroor gepraat om na Cheryl te gaan, maar sy wil dit nie vir haar skoonma noem nie, bang sy en oom Dudley wil saamgaan.
Skoonma Dulcie op haar eie en skoonsuster Cheryl op haar eie is hanteerbaar, maar saam is hulle ’n bietjie oorweldigend. Dis asof hulle mekaar gedurig wil uitoorlê, twee sterk persoonlikhede wat hulle voorkeure en afkere dan op mekaar en dan op ander probeer afdwing, terwyl die mense om hulle niks meer as stom toeskouers is nie. Ten spyte daarvan is dit duidelik dat ma en dogter lief is vir mekaar.
Gelukkig het Lucy en haar skoonma ’n relatief vreedsame verhouding, maar dis net omdat sy ’n goeie afstand tussen hulle hou. Antie Dulcie beskou steeds vir Ashwin as ’n eenling, so asof sy vrou ’n onsigbare aanhangsel is, deel van die meubelment. Sy is eintlik half verbaas as Ashwin eers Lucy se mening vra voordat hy ’n besluit neem.
“Hoe’t julle die antie gestraighten gekry om haar op die trollie te laai?” karring Doll voort. “Breek julle die bene of . . .”
“Doll! Mylord! Ek het nog nie gebreakfast nie!” stoom Dulcie.
Lucy kan haar lag nie hou nie. “Darem nie, antie. Rigor mortis hou net ’n paar uur aan, dan verslap die liggaam weer.”
“Haai, ek het dit nie geweet nie en jy, Duls? Gaan Jakkie jou vanmiddag weer terugbring?” vra Doll, alles in een asem.
“Nee, antie. As ons die liggaam opgelaai het, sal hy my eers hier aflaai sodat ek my motor kan . . .”
“Haai, Duls, ’n dooie mens hier voor ons huis, is dit nie arig nie?” val Doll haar in die rede en voel op haar kop of daar nog haarkrullers is.
“Toe nou, asof ons nog nooit ’n lyk gesien het nie,” sê Dulcie wêreldwys en klap-klap haar suster op die arm.
“My gotta, Duls . . . Dit val my nou by: ek hoor van donkeroggend al die geklap-klap van ’n helikopter. Ek sweer hulle het daai skollie gesoek.”
Sy kyk na Dulcie vir bevestiging, maar dié skud haar kop.
“Jy en jou verbeelding darem,” sê sy en vat-vat aan die handdoek om haar kop, vingers wat styf staan soos een met nat naellak aan.
“Ek het dit ook gehoor, antie Doll,” sê Lucy.
“Jy sien!” sê Doll selfvoldaan en prop nog ’n stukkie roosterbrood in haar mond. “Die bleddie skollies,” mompel sy.
“Hier praat ons van tsotsi’s.” Dulcie sluk haar laaste koffie en sit haar koppie saggies terug in die piering. Sy klad haar lippe met ’n snesie wat sy uit haar japon se sak haal.
“Same thing.” Doll hap haar kaasbroodjie en slurp haar koffie.
Hoenertjie kom geluidloos en amper ongesiens ingeloop.
“Ja toe!” sê Doll en kyk die hondjie stip aan. “Wil jy bacon en eiers hê? Of is jy nou dikgevreet aan biltong?”
Hoenertjie kom orent en loop ’n paar treetjies op haar agterpote.
“Ag, Duls, kyk net!” lag Doll.
“Nee, ek wil nie kyk nie,” snuif die vrou van die huis. “Hy’s ’n show-off en hy dink ons is almal in sy diens. Dit van ’n hond wat uit Toekies kom.”
“Siesa, Duls, jy’s naar. Besides, die hond is ’n meisie. Ons sal haar nou nie ’n bitch noem nie, maar darem.” Doll knipoog vir Lucy. “Ek dink altyd sy’s ’n stukkie van ou Shorty, shame. Haar ounooi en haar maatjie in een jaar dood. Sy’s mos nou ’n weeskind.”
Lucy en haar skoonma kyk skrams na mekaar. Doll se weeskind-storie is al holrug gery en op dié einste storie word die hond elke dag vetter en meer eie met almal.
“Ek weet van iemand wat die kammamaatjie meer mis as dié brak. Dis Sparky,” sê Dulcie. “Nash was Sparky se skaduwee, so dis seker gepas dat hy in my ou swaer se arms dood is, siestog. Maar Sparky kon nooit vat kry aan Hoenertjie nie.”
“Maar sy’s mos Dudley se hond!” sê Doll verontwaardig.
“Ekskuus?” vra Dulcie gebelg. “So ’n lelike hond, van Tóékies?”
“Haai, Duls, die hond kom glads soggens in om vir Dudley good morning te sê! Ek rieken Toekies is darem ’n step up, ek meen compared to Gumaville. Wat sê jy, Lucy?”
Lucy, te bang om kant te kies, maak ’n handgebaar wat enigiets kan beteken.
“Wel, ons Gumaville-honde, China en Nash, was albei beter geteel as dié brak, dis vir seker.” Dulcie kyk meewarig na Hoenertjie. “Dié ou ding kom ook net in om iets te vrete te kry.”
Lucy hou asem op, maar Doll besluit blykbaar om handdoek in te gooi in die bekgeveg. As antwoord trek sy die kaas nader, sny ’n stukkie af en voer dit vir die onpopulêre brak van Toekies wat op hierdie Vrydagmôre soveel kommentaar uitlok. Hoenertjie vat die stukkie offerande met die punt van haar tong en kou langsaam soos ’n fynproewer.
Dulcie rol haar oë. “Dis wat gebeur as krummeltjie brood word.”
Lucy staan op, Jacques behoort nou enige oomblik hier te wees. Sy verneem eers na oom Dudley se welstand, en hoor dat hy nog in die bed sit en TV kyk.
Sy groet die anties en staan voordeur se kant toe.
Doll loop haastig vooruit, Hoenertjie op haar hakke, kamma om die voorhek oop en toe te sluit, al het Lucy haar eie sleutel. Sy weet die antie wil vir Jacques oor die lyk uitvra, slaapoë, afgetrapte pantoffels en al. Met die oopswaai van die hek sien hulle hoe hy met die lykhuis se bakkie vinnig om die draai kom. Met ’n wuif in Doll se rigting loop Lucy vinnig vorentoe en gaan staan gereed op die randsteen. Doll sê nog iets agter haar aan, maar sonder dat sy hoor.
Die voertuig stop in ’n stofwolk voor die huis.
“Môre, Jakkie!” groet Doll hard terwyl sy by die oop hek bly staan. “Maar jy’s in ’n hurry vandag!”
“Môre, antie!” lag Jacques deur die oop venster.
“Nou vir wie kom jy so vroeg haal?” praat Doll nog harder.
Lucy onderdruk ’n glimlag. Wat sal antie Dulcie sê as sy moet hoor hoe hard haar suster by die hek gesels? Haar skoonma is tog so gesteld daarop dat haar huismense hulle met dekorum moet gedra. Dit beteken hulle moet suutjies praat buite én te alle tye ordentlik lyk. Ná nege jaar is dit steeds: “Wat sal die bure sê?”
“Al wat ek weet, is dat hy ’n jong man is, antie!” roep Jacques terug.
Lucy klim in en wys vir hom om te ry. Sy waai weer vir antie Doll, maar dié is nog nie klaar gepraat nie. Sy vra nog haar wie-wat-waar-vrae tot Jacques die petrolpedaal intrap en die bakkie te hard wroem-wroem vir haar stem om hoorbaar te wees. Toe eers tree sy terug en roep vir Hoenertjie om in te kom.
Lucy kyk op haar horlosie. Dis 07:35.
“Ek het op ’n groot ongeluk afgekom,” vertel Jacques. Hy kyk in die truspieëltjie. “Jou antie staan nog.”
Lucy loer oor haar skouer. “Tot antie Dulcie haar buite betrap in daai ou kamerjas. Het jy by die ongeluk gestop?”
“Net vlugtig. Dit lyk na ’n kop-aan-kop-botsing, maar daar was reeds genoeg hulp. As iemand dood is, moet die ander ouens maar uitkom. First things first, ek het geweet jy staan en wag.”
Sy bedank hom en trek solank haar latekshandskoene aan.
Die dood en naweke loop hand aan hand, dink sy. En Saterdag lê nog voor. Sondag en Maandag is sy darem af. Maandag is ’n vakansiedag, dus is Ashwin en Sheena ook tuis. Iets om na uit te sien.
“Die polisie het glo voor vyf al gebel oor die skietery,” sê Jacques. “Maar toe moes hulle nog wag vir ballisties en om verklarings af te neem, dis hoekom ons eers seweuur uitgeroep is.”
Sy knik net.
“Jy sal moet beduie,” sê hy na ’n rukkie, “jy ken mos die area.”
“So honderd meter, draai regs.”
“Ek sweer, volgende keer vat ons jou antie Doll saam na die crime scene toe. Dan hoef ek nie so baie vrae te beantwoord nie.”
“Goeie plan,” giggel Lucy. “Ek dink as jy my terugbring, moet ons die sak oopmaak. Dan kan antie Doll – en my skoonma ook, hoor – goed kyk hoe . . .”
Sy kap haar sin net daar af. Daar is niks snaaks aan ’n skietwond nie. Dis ’n lewe brutaal kortgeknip.
Jacques sug. “Toemaar, ek weet wat jy bedoel. Mense besef nie . . .”
Sy woorde bly ook in die lug hang, asof hulle ou getroudes is met geen nodigheid vir verduidelikings nie. Hulle ken van gruwels.
Sy wys na die afdraaipad voor.
Daar is net die een dubbelpad wat Off Roxy en Roxy verbind: Bakerstraat. Roxy is lank reeds ’n gevestigde gebied met sy malls, parke, bome, grasperke, koffiekroeë en sypaadjiekafees, ’n stille oorvloed van rykdom en rasse-integrasie.
In hulle ywer om met Roxy mee te ding, bou die inwoners op die kleiner erwe in Off Roxy hoër. Daar word ook meer tierlantyntjies en foefies aangebring, veral verandas en balkonne. Hulle hou opregte honde aan – afghaan, borzoi, bulhond – om die drie motors per huisgesin, vier TV-stelle, verskeie rekenaars, DVD-spelers en ander toebehore te beskerm. Gevolglik is daar meer inbrake in Off Roxy. Die polisie het hulle hande vol.
Lucy kan haar indink: vir ’n rampokker lyk die mense van Off Roxy seker ryker as dié wat in Roxy bly. Sy is dankbaar sy bly waar sy bly. Ashwin wou al vir hulle hul eie plekkie in Off Roxy koop, maar sy is gelukkig waar sy is. Al is dit net ’n spoegsel ver van haar skoonma se agterdeur.
Sy voel opnuut ’n warmte van liefde en deernis vir Ashwin, wat in sy wysheid besluit het om ’n bamboesafskorting voor hulle deur te laat oprig. Tot skoonma se (stille) ergernis, want nou kan sy nie meer haar skoondogter dophou nie. Maar Lucy kan genadiglik haar voordeur ooplos én voor haar eie wasbak staan sonder om in haar skoonma vas te kyk wanneer dié in haar groot tuin rondvroetel. Boonop is die black-eyed Susan en klematis wat oor die afskorting rank ’n lus vir die oog.
Die bakkie nader ’n imponerende dubbelverdiepinghuis.
Nuuskieriges staan in die straat regoor die oprit rond en nek rek. Jacques blaas die toeter om hulle te verjaag. Die versperring van geel lint is oor die lengte en breedte van die sypaadjie gespan, maar dis duidelik dat die mense hulle nie veel daaraan steur nie. In ’n ommesientjie drom hulle weer om die bakkie saam.
Twee polisievoertuie staan op die sypaadjie en nog een in die straat. Lucy en Jacques kyk vlugtig na mekaar. Dis hulle grappie: hulle tel altyd hoeveel polisiebeamptes om een lyk staan en hoeveel polisiemotors op die toneel is. Die rekord is vyf voertuie en sewe polisiemanne om een verkluimde boemelaar in ’n veld.
Jacques druk die toeter en ’n paar sekondes later gly die groot hek geluidloos oop. Mense dring vorentoe. Hy toet weer en laat die voertuig agtertoe spring. Die agies spat uitmekaar.
Die bakkie stop net binne die hek, want die liggaam lê op die gras naby die hoë muur. Hy is seker geskiet toe hy oor die muur probeer wegkom het, dink Lucy.
Aan die ontspanne houding van die polisiemanne wat om die lyk staan en grond trap, weet sy dat daar reeds gevoel, gemeet, foto’s geneem en notas gemaak is. Alle moontlikhede is bepraat en nou is hulle haastig om van die lyk ontslae te wees, om terug te gaan na hulle oggendkoffie en -roetine of om slaap te gaan inhaal. Die dood kom nooit tydig nie.
Die huismense staan in ’n groepie saamgebondel. Hulle wil ook ontslae wees van dit wat op hulle perseel lê. Tog bly hulle op ’n goeie afstand van die lyk toe hulle oor die grasperk naderkom.
Lucy kan sien hulle is steeds geskok oor die nagtelike gebeure by hul huis. Hulle vesting versterk met hoë mure, ’n hek van hout en traliewerk, ’n bordjie met die naam van ’n sekuriteitsmaatskappy en ’n paar groot herdershonde, nou in die agterplaas toegemaak. Die honde is ongeduldig geblaf en die bure ongedurig om te sien of iets uitgedra gaan word. Almal wil aangaan met hulle dag en sien uit daarna om te gaan oorvertel wat hulle dink hier gebeur het.
“Goeiemôre,” groet Jacques toe hy uitklim.
“Goeiemôre,” antwoord ’n koortjie.
Die mans stel hulleself vlugtig voor en bekyk Lucy toe sy uitklim. Dis seker die eerste keer dat hulle ’n vrou sien wat ’n lyk kom haal, dink sy toe sy met ’n kopknik in die rondte groet. Haar oë soek outomaties na ’n bekende gesig.
“Good morning, Lucy,” groet speurder-inspekteur Abel Tshabalala. “Nice to see you again.” Hy steek dadelik sy hand na haar uit en sy greep is sag maar ferm.
Tshabalala trek pensioen se kant toe, ’n no-nonsense mens en deeglik in sy werk. So het sy hom leer ken, van Gumaville tot by Roxy.
Die massiewe man langs Tshabalala is die diensoffisier. Lucy het hom al by ’n vorige geleentheid gesien, maar hulle is nie aan mekaar voorgestel nie.
“Lucy,” groet sy en steek haar hand uit.
“Gert,” antwoord hy.
Haar hand verdwyn omtrent in syne. Die ander drie polisiemanne tree ook vorentoe en groet. Dan tree hulle vinnig terug in hulle kringetjie en sit hulle fluistergeselsies voort. Een haal solank sy motorsleutels uit sy broeksak.
Speurder-inspekteur Tshabalala begin verduidelik wat gebeur het.
“A noise coming from the kitchen woke Mrs Jones up at four oh five this morning. Mr Jones then pressed the panic button and immediately called the police, who happened to be in the vicinity.”
Hy beduie na die groepie geselsendes en ’n lang, maer man lig sy hand in erkenning toe Lucy en Jacques in hulle rigting kyk. Dis dan seker sektorpolisiëring, dink sy.
“They arrived on the scene almost immediately, coming in from the back of the house. Shots were fired from the roof of the house and the police fired back. The burglars slid down the homeowner’s own ladder . . .” Abel trek ’n gesig en Jacques skud sy kop, “and once on the ground they made a beeline for the gate. One was hit, fatally.” Hy wys na die man op die grond. “The other two burglars jumped the adjoining wall.” Hy wys weer. “The police gave chase, but to no avail. A helicopter and dogs were called in, but they are still searching.”
Aan die ergerlike uitdrukking op Abel se gesig weet Lucy hy beskou dit as niks minder as ’n persoonlike belediging dat die inbrekers weggekom het nie. Die armed response het ook binne minute gearriveer, maar met die polisie op die toneel is hulle gou weer vort.
Lucy luister aandagtig, maar wat presies gebeur het, en hoe, en wie weggekom het, is nie regtig vir haar van belang nie. Sy is hier om ’n lyk op te laai.
Jacques maak die bakkie se agterdeur oop en saam haal hulle die trollie uit. ’n Ongewone wind laat sand en die vorige dag se grassnysels oor hulle neersif en Lucy knipper haar oë terwyl hulle die trollie tot langs die dooie stoot. Sy kniel by die noodkombers, gereed om dit vas te vat en van die lyk af te trek. Jacques gaan kniel aan die ander kant.
Toe sy die punt van die kombers oplig, verstyf haar hele lyf. Die kop lê rustig, amper gemaklik, in ’n plas bloed.
Liewe Heretjie! Dit kan mos nie!
’n Naarheid stoot in haar op en sy druk vinnig haar hande plat op die gras om te keer dat sy omkantel. Haar maag trek saam van totale weersin.
Rooi borreltjies kleef aan die man se woeste krulhare en hang soos taai druppels stroop aan die punte. ’n Yslike swelsel bo sy oë, ’n stuk van sy voorkop weggeskiet, sy lippe en neus vol bloed. Nog ’n koeëlwond in sy skouer.
“Is jy orraait?” fluister Jacques besorg en raak aan haar skouer, asof hy wil keer dat sy omval. Dan ruk hy die foeliekombers met ’n vinnige beweging heeltemal van die lyk af.
Die polisiemanne grinnik vir mekaar. Mompel iets van sy’s ’n vrou. Al ken sy hulle taal, lewer sy geen kommentaar nie. Dit maak nie saak wat hulle dink nie.
“You know him?”
Abel Tshabalala se geoefende oog vir menslike gedrag kyk niks mis nie, sy oor is ingestem op elke nuanse. Hy sak stadig op sy hurke af langs haar, bly sit skaars ’n armlengte weg.
Die vreeslike erkenning dreig om by haar mond uit te loop en sy is te bang om selfs een geluid te maak. Sy voel Jacques se warm asem teen haar nek. Sy nabyheid is vertroostend.
Jacques leun vooroor en draai die kop effens. “Hy’s in die agterkop ook geskiet. Die koeël is uit by die voorkop . . . groot gat.”
’n Stilte sak oor die groepie neer, die soort stilte wat mens in jou binneste bêre en later herroep en oor wonder.
“Lucy, do you recognise him?” vra Abel weer en wys met sy vinger na die lewelose figuur.
Hy weet sy is ’n oudinwoner van Gumaville, dat haar familie nog daar bly. Dis nie onwaarskynlik dat sy die rower ken nie.
“Sy gesig lyk ’n bietjie scary, dis al,” prewel sy.
Dan begin sy werk, vinnig en doelgerig. Sy druk die oog wat dreig om uit die oogkas te rol behendig terug op sy plek, trek die ooglid oor die nikssiende oog. Die omstanders moet kan sien sy’s gewoond aan dié soort ding.
Langs haar blaas Abel sy asem hard deur sy neusgate. Sy weet sy feillose instink het hom gewaarsku en dat hy haar in ’n hoek probeer dryf, maar sy verseg om op te kyk, werk net voort. Uiteindelik staan hy swaar op en tree terug.
Lucy is dankbaar, haar hoek het effe groter geword.
Twee polisiemanne groet en loop hek se kant toe. Toe kom groet die diensoffisier, skud Jacques se hand en loop agterna.
Sy dwing haarself om reëlmatig asem te haal, om die regte bewegings uit te voer. Sy maak seker die dooie se arms is vas teen sy lyf vir die optel, die eerste tekens van rigor mortis reeds merkbaar.
Sy bekyk die voet sonder skoen. Dis netjies uitgevat in ’n bottelgroen sokkie, ’n donkerder strepie aan die buitekant van die kleintoontjie wat oploop tot waar die sokkie eindig. ’n Geskenk van Mammie aan haar skoonseun met sy laaste verjaarsdag.
Sy hark die skoen wat eenkant lê nader en gee dit vir Jacques aan, wat die lyk se voet behendig daarin druk. Hessie sal dalk die skoene wil hê. Vir wat weet sy nie, maar hulle lyk nog goed.
Dis altyd die skoene, dink sy.
By die hospitaal se ongevalle stap die familie uit met die skoene in die hand terwyl die lyk agterbly om te wag vir die begrafnisondernemer. Ná die selfmoord van die brug se reling staan die skoene netjies langs mekaar daar, en op ’n moordtoneel lê daar dikwels ’n skoen eenkant, asof die dooie uit sy skoene geskiet is.
’n Laaste maal flits haar oë oor die dooie man.
Hy dra sy dop van vel soos ’n versiering. Elke insnyding, elke tattoo, elke litteken ’n trofee. Dié insnyding na die eerste messteek, dié tattoo na die eerste inbraak, dié litteken na sy eerste gang fight. Sy ken. Sy is . . . wás ’n Gumaville-kind.
Te oordeel na die bloedspoor wat tot amper teen die stoep loop, het die eerste koeël hom net seergemaak. Sy hand hang aan ’n stukkie vel en omgebuig teen sy arm waar nog ’n koeël die gewrig getref het, op pad na sy skouer. Toe die doodskoot deur die kop.
Die vredige trek op wat oor is van sy gesig weerspreek sy boosheid, dink sy. Sý vonnis nou voltrek, ons almal op sterwe na dood, party net gouer as ander. Die dood die gelykmaker.
Sy beweeg na sy voete om hom op te tel. Jacques vat altyd die skouers en sy die bene, maar sy weet Jacques dra meer as sy deel van die gewig.
“Can I help you?” vra die sersant wat agtergebly het, ’n sweem van deernis in sy stem.
Sy skud haar kop. Sy wéét hoe om ’n gewig op te tel, en hierdie jongetjie is geen noemenswaardige gewig nie.
Met geknakte knieë en ’n rolbeweging word die liggaam in die lyksak gelê, wat vaardig toegemaak word. Met ’n vinnige opwaartse momentum swaai sy en Jacques die lyksak op die trollie en die skouspel is verby.
Saam stoot hulle die trollie agterin die bakkie en sy vat onwillekeurig aan die plek in haar sy waar sy die stekie gevoel het. Sy weet sy moes liewer die sersant se hulp aanvaar het, maar hierdie is ’n besonderse geval, dis persoonlik.
Ek het dit vir jou gedoen, my sus Hessie, dink sy toe sy die deur aan die passasierskant oopmaak en inklim.
Inspekteur Tshabalala het reeds die SAP180-vorm ingevul om die liggaam te laat verwyder. Als is geteken, verduidelik en gereed. By Abel is daar geen rafels of los draadjies nie.
Jacques groet die polisiemanne en die huismense en klap die bakkie se agterdeur toe. Sy kyk af na haar veiligheidsgordel en vroetel met die knip, maar toe sy opkyk, is Abel Tshabalala se oë steeds op haar waar hy bevele oor sy sel staan en blaf. Hy waai vir die huismense en hy en die sersant loop ook hek toe.
Jacques skakel die bakkie aan, maak ’n draai oor die droë bloed in die gras. Die hek gly oop en hulle is uit, tussen die nuuskieriges deur en af met die pad.
Die SAP180-vorm lê op die sitplek tussen hulle. Sy tel dit op en lees: Unidentified male. Dis goed so, Mammie of Hessie moenie hierby betrek word nie. Sou Brighton betrokke wees? Is hy dalk een van dié wat weggekom het?
“Ken jy hom?” vra Jacques, sy stem gelykmatig.
“Hy lyk . . . bekend.” Sy sug eerder as praat.
“Wil jy ’n raaiskoot waag?” por hy.
Hulle kyk vlugtig na mekaar. Dan skud sy net haar kop.
“Ná ’n tydjie lyk alle rampokkers na mekaar. Jong bruin latte met kroeshare, vuil en bebloed, arm en armsalig . . .” Sy maak ’n sagte kreungeluid in haar keel. “Jy weet mos.”
“Wil jy nie maar vir Tshabalala van jou vermoede vertel nie?” hou Jacques aan.
Hoe goed ken hy haar nie. Sy trek net haar skouers op.
Hy neul nie en verwys ook nie weer daarna nie. Hulle verval in ’n gemaklike stilte terwyl hy op die besige pad konsentreer. Sy is dankbaar vir die geleentheid om haar gedagtes te kan orden.
Die man met die noodlottige kopwond ken sy goed.
Eddie Stamper. Gatswaaier, vrouenaaier, dis sy reputasie en hy was trots daarop. Ses-en-twintig jaar oud, pa van Hessie se tweeling, hulle melkkoper. Nou morsdood agter in die lykhuis se bakkie.
Sy weet nie of sy moet lag of huil nie. Wat sy moet sê nie. “Prys die Here, die skarminkel is dood” of “Arme Hessie, wie gaan nou pa staan vir die tweeling?”