Читать книгу Madeliefies van staal - Pat Stamatélos - Страница 5

Оглавление

2

Cheryl Douglas lees haar bankstaat vir die tweede keer deur, haar Vrydagaand-ritueel.

Sy werk en speel tussen die überrykes en dis uiters belangrik om die regte voorkoms te handhaaf, by die regte adres te bly en die regte uithangplekke te besoek – en die kolom met al die minussyfers getuig daarvan.

Ek klink al nes my ma, dink sy. Om die waarheid te sê, sy is besig om in haar ma te verander. Dis nogal ’n gedagte. En dis nogal alright.

Ma Dulcie het gespring van (amper) gopserige, bruin Gumaville tot (amper) elite, skitterwit Roxy. Van desperaat tot welvarend. Toe (amper) terug na ’n glybaanbestaan van nederigheid om verwaarloosde kinders en verhongerde diere te voer, tot ’n huwelik met ’n ryk man (miljoene van sy suster geërf). Sy het van nuuts af geproklameer dat die regte voorkoms lewensbelangrik is terwyl sy vir altyd gelukkig lewe.

Met haar neus in haar dogter se besigheid.

Maar dís ’n ander storie.

In hierdie stadium dink Cheryl ernstig daaraan om na ’n goedkoper blyplek te trek. Haar argument was altyd: Kyk net hoeveel kan ek spaar deur so naby aan my werk te bly! Dit het net ’n paar maande gevat om te besef dat haar woonstel se huurgeld dubbel die bedrag is wat sy aan petrol moes bestee toe sy nog in haar ma se huis in Roxy gebly het.

Ná haar kursus in haarkappery en grimeerkuns aan die tegniese kollege het sy deur ’n vriend van ’n vriend vir Lisa le Roux leer ken, wat destyds by e.tv gewerk het. Eintlik is hulle meer tjommies as hegte vriende, maar drie jaar gelede is Cheryl die pos van haar drome aangebied – Lisa het besluit om te trou (die baba reeds op pad) en Cheryl is nadergehark vir haar pos by e.tv. Op ses-en-twintig het sy dit met albei hande aangegryp en so gou as moontlik haar naam op die stippellyntjie geteken. Nou is sy deel van die permanente personeel as stileerder en grimeerkunstenaar, een van die groep, ’n mede-toiletspoeler.

Blootstelling aan die hoë lewe van die rykes en die glamour en glitz van die vermaakwêreld was meteens binne haar bereik, iets wat sy jare lank begeer het. En natuurlik was die geld ook nie te versmaai nie.

Nou klink sy weer soos ma Dulcie . . .

Die beste van haar werk is dat sy net vier dae ’n week werk, al word sy soms ingeroep om uit te help. Twee maal ’n week werk sy as vrywilliger by FreeMe, ’n rehabilitasiesentrum vir wilde diere in Paulshof. Daar kan sy haar verlustig in die groot liefde van haar lewe (naas Ma en Ashwin), naamlik diere.

Maar een ding het sy by haar ma geleer: Maak nie saak hoe arm, platsak of bankrot jy dink jy is nie, jy kan altyd iets wegbêre vir ’n rainy day. Dis presies wat sy al die jare gedoen het, en dié neseiertjie het al aansienlik gegroei. Sodanig dat sy ’n oorsese trippie saam met haar beste vriendin, Dae-Yung Kim, beplan. Om die waarheid te sê, hulle plekke op die vliegtuig is reeds bespreek.

Dae met die laggende oë is op vier-en-twintig afgesmeer aan ’n ryk ou man, ene meneer Lee van die Koreaanse dorp Boseong, die eienaar van meer teeplantasies as hare op sy kop. Hy het haar oënskynlik goed behandel, maar sy kinky seksvoorkeure het haar ’n jaar later laat wegloop.

Dae-Yung Kim het sewe jaar gelede in Suid-Afrika aangekom en binne weke werk gekry by die Koreaanse ambassade in Pretoria. Nou is dit hoog tyd dat sy huiswaarts keer vir ’n besoek, maar sy is so senuagtig oor die verwytende oë van die Kim-clan dat sy Cheryl gesmeek het om saam te gaan.

“Jy kan my lyfwag wees.”

Cheryl moes lag. “Van watter nut is ’n lyfwag wat nie ’n woord Koreaans kan praat nie?”

“Jy’s groter as ek,” was Dae se saaklike antwoord.

Dis waar.

Volgens Dae sal haar mense haar nooit vergewe vir die skande wat sy met haar weglopery oor die families gebring het nie. Intussen het die ou man van haar geskei, weer getrou en is sy haar erfporsie en status kwyt.

“Hoekom het jy in die eerste plek met hom getrou?” wou Cheryl weet. Wat háár betref: liewer ’n arm, pronkerige pistooltjie as ’n skatryk kwynende ou kanon.

“He is boss who lie on top,” het Dae skouerophalend gesê, en Cheryl het gereken mens stry nie met Koreaanse logika nie.

Sy vou die bankstaat in ’n klein blokkie op en druk dit in haar motor se paneelkassie. Sy sal dit later by die huis uithaal en verder dissekteer, sent vir sent.

Sy klim uit haar nuwe silwer Honda Jazz en loop na die ingang van die Upper Mall. In die lingua franca van die noorde word daar na die Upper Mall eenvoudig verwys as The Mall. Daar is hoegenaamd niks wat kan vergelyk met The Mall nie, ten minste nie diékant van die ewenaar nie.

Cheryl kies koers na die delikatesse toe.

Die Vrydagaandjollers hang aan mekaar terwyl hulle die paadjie oopkloof na die naaste fliek, gek-duur boetieks en koffieplekke. Hulle lag, gesels, soen-soen en is oor die algemeen so in mekaar verstrengel dat enige ander wese by wyse van spreke uitgewis word, insluitende sy.

Sy sorg dat sy hulle nie te indringend aanstaar nie, ingeval iemand per ongeluk haar oog vang. Op nege-en-twintig is sy steeds enkellopend, onbetrokke en partykeer voel sy selfs onbemind en oorbodig. Met die uitsondering van die familia, natuurlik.

Maar die familia (haar ma se gunstelingwoord vir hulle bloedlyn) bly ver van haar af en soms het sy geselskap broodnodig. Sy besef terdeë – dankie, Ma – dat ’n vrou van amper dertig ’n beter kans staan om met ’n goudvis te trou as met ’n man.

Dae-Yung Kim se opruiende geselskap maak darem op vir die tekort aan kêrels. Ongelukkig bly Dae in Midrand, te ver vir ’n vinnige koffie. Hierdie naweek slaap ’n man genaamd Philly oor by Dae. Dae noem hom sommer Feely.

“I feely him he feely me,” sal sy lag as Cheryl haar versigtig uitvra.

Philly en Dae-Yung se sogenaamde verhouding gaan nou al jare lank aan, maar daar is nog geen gelui van trouklokkies in die vooruitsig nie. Tussen Philly se verskynings en verdwynings deur gaan Dae-Yung met ander mans uit.

Soos sy sê: “He is not my owner.”

Cheryl dink vlugtig aan die enkele mans, meesal kollegas, met wie sy sporadies uitgaan. Daar is nie een van hulle wat sy as ’n permanente bedmaat wil hê nie. Eintlik is daar nie een wat sy hoegenaamd as ’n bedmaat wil hê nie.

“Jy’s te traag om verantwoordelikheid vir die huwelik te neem,” is Dae-Yung se gereelde beskuldiging (asof sy kan praat) terwyl sy bene gevou by Cheryl se koffietafel sit met haar biltong-sarmie en groen tee.

Kou-kou, bêre jou kos in jou kies, breek ’n windjie en verstik in jou tee. Dis die Koreaanse manier, miskien die Chinese manier, want Dae se ma is van Chinese afkoms. Die vadertjie weet, soms wonder Cheryl hoekom sy so erg is oor die vrou.

Wat mans betref, het Cheryl ongelukkig die gewoonte aangeleer om elke vrygesel wat oor haar pad kom met haar broer Ashwin te vergelyk. En hulle skiet almal te kort: aan nederigheid, prag en praal, brains en brawn.

Sy zigzag vinnig deur die maalstroom van pretmakers en losbolle en gly ongesiens die besige deli binne.

Toe die goddelike geure haar soos ’n golf tref, gaan staan sy stil en trek die lekkerte diep in haar longe in. Oom Dudley, dink sy, waar’s jy! Hierdie plek sal jou mal maak met sy oorvloed en uitspattigheid van die lewe se noodsaaklikhede.

Tegnies haar stiefpa, is Dudley Brown ’n connoisseur van goeie kos, geheime breier van slaapsokkies en jintelman uit ’n modeboek. Droog en oënskynlik oninteressant, maar met ’n wonderlike sin vir humor. Hy is die een wat haar waardering geleer het vir die fyner dinge in die lewe, soos kwaliteitkos en warm slaapsokkies.

Sy lewensfilosofie is dat ’n goeie maaltyd tot vrolikheid lei en warm slaapsokkies tot prettigheid – alles noodsaaklikhede vir ’n gelukkige (verkieslik getroude) lewe. Die feit dat hy en moeder Dulcie steeds geluksalig is ná nege jaar saam is seker ’n bewys daarvan.

Cheryl haal haar lysie uit haar handsak. Sy het onlangs gelees die benaming cold meat kom van die woord cadaver, maar dis nie nou die tyd om daaraan te dink nie (dis skoonsus Lucy se afdeling).

Sy begin by die kaastoonbank, verkyk haar aan al die verskillende soorte. Vergeet van Coco Chanel, Pierre Balmain of Louis Vuitton. Name soos ricotta, pepato fresh, haloumi en feta is soos balsem vir haar siel en vul haar verstand en mond met liplekker sensasies.

Ashwin sal ook hierdie verskeidenheid kase waardeer. Hy kan soms so ’n ot van homself maak as hy voor ’n goeie kaas inskuif.

Haar selfoon lui. Ashwin. Is dit nou telepatie of wat? wonder sy, heimlik tevrede met haarself.

“Ashwin! Hoe gaan dit?”

“Haai, Cheryl, is jy by die huis? Ons wil graag kom kuier . . . as jy nie te besig is nie?”

Sy stel haar voor hoe haar broer lyk terwyl hy oor die foon praat: Lucy se handjie in syne en hy wat afkyk na sy skoene. Sy voel ’n knop in haar keel. Sy mis hom verskriklik.

“Jou tydsberekening is perfek. Ek staan hier in ’n delikatesse propvol lekker goed. Wat wil julle ouens hê om te eet? Salami, Duitse wors, hoender, ham . . .”

“Enige kase?”

“Baie! Sal ek ’n paar gerookte eendborsies en ’n olyfham bygooi?”

“Sheena sê as jy ’n stringetjie worsies en haloumi by die slaai voeg, sal sy twee rooies saambring vir die dors.”

“Ashwin!” hoor Cheryl ’n verontwaardigde Sheena laggend op die agtergrond protesteer. Haar broer kan soms sy stiefdogter se siel so uittrek, maar nodeloos om te sê geniet Sheena die aandag terdeë.

Hulle groet en Cheryl gryp ’n mandjie en begin laai.

Sy druk saggies aan ’n stuk gerookte ham en toe sy opkyk, is dit vas in ’n gedaante in wit gewaad. Engelagtig mooi. Droom sy?

Hy word omhul deur wit lig en kom al hoe nader, wapperende vlerke en ’n wankelrige halo. Sy skreef haar oë om beter te sien, die lig van die deur se kant is skerp. Deur die heilige mistigheid sien sy hoe sy smeulende oë haar aanstaar, bruin soos truffels, en aangevul deur wippende krulle die kleur en tekstuur van sjokolade, afgerond met ’n strooisuikersoet glimlag.

Is hy te koop? wonder sy.

Onder die gedempte lig by die toonbank kom die pragtige droombeeld geleidelik in fokus. Hy dra onder elke arm ’n meter lange baguette en dié vertoon soos vlerkies teen die agtergrond van helder lig. Sy halo is niks meer as ’n bakkershoed nie, hoog en rond en uitgepof aan die bopunt.

Met sy Romeinse neus en skamerige glimlag lyk hy nes ’n jong Rafael met swart krulle.

“Can I . . . help?” fluister hy.

Hy klink so hees dat sy instinktief terugfluister: “What?”

“I said . . .” hy leun oor die toonbank, sy perfekte neus amper teenaan hare, “how can I help you?”

Cheryl trek haar asem vinnig in. Is dít sy MO: om met ’n diep, hees stem so sexy te praat dat sy woorde omtrent onhoorbaar is? In ’n aksent wat mens net in ’n Federico Fellini-film hoor?

“Is dit jou modus operandi – die hees stem, die kamma-aksent – om weerlose vroue te verlei as hulle hierheen kom om ’n polonie te koop?” fluister sy vererg, vergeet skoon om Engels te praat.

Hy skud sy kop, strek sy hand uit om haar aan die arm te vat en trek haar nader. “Soccer. Last night. My team won.”

Hy los haar arm en vir ’n paar sekondes staar sy hom aan. Toe kom die kloutjie by die oor.

“O!”

Die bakker beduie sy moet haar mandjie aangee en pak haar goedjies een vir een op die toonbank. En sonder rede voel sy skielik verleë, soos om ’n manspersoon agter die toonbank by die vroue se onderklereafdeling te vind.

Sy haal haar kredietkaart uit en kirts! trek hy dit deur die masjientjie en kirts! skeur hy die papiertjie af en gee dit vir haar. Sy teken haar naam, gee dit vir hom terug en met nog ’n kirts skeur hy die kwitansie af. Hy vou dit om haar kaart en gee dit vir haar terug, maar toe sy dit by hom wil neem, laat hy nie los nie.

“Getroud, C.M. Douglas?” fluister hy, ’n pragtige fronsie tussen sy wenkbroue.

“Uhm . . . nee. En jy?”

Hy skud sy kop.

“Vaste kêrel?” kwaak hy, sy oulike frons nog dieper.

Sy aarsel. Om te erken dat jy nie ’n kêrel het nie, klink so treurig, sies tog, foei tog. Maar om nee te sê vir ’n váste kêrel is iets anders.

Sy skud haar kop, vol selfvertroue.

“Koffie?”

Is hy besig om haar koffie van die rak af aan te bied of nooi hy haar uit vir ’n koppie koffie?

Hulle bekyk mekaar op en af, haarlyn na ken en terug, terwyl hulle aan die stukkie plastiek vashou, vingertoppe wat voel-voel aan mekaar raak.

Sy gee ’n sagte kuggie. “Knik jou kop as ek die jackpot slaan. Nommer een: Probeer jy koffie aan my verkoop?”

’n Kopskud, die wys van pragtige tande, en ’n lag in sy oë.

“Nommer twee: Vra jy my uit vir koffie?”

Hy knik sy kop en los die kaart.

Met meneer Groentjie, haar bio-degradable sak, vol eetgoed gepak en haar Marilyn Monroe-handsak oor haar skouer staan Cheryl by die deli se ingang en wag.

Haar sel lui en sy vroetel in Marilyn Monroe se binneste. Dis Dae-Yung.

“Haai, Dae? Wat doen jy?” Sotlike vraag, dink sy dadelik, sy weet presiés wat Dae doen.

Sy hoor eers water loop en toe ’n stem bo die gedruis.

“Hello, I pee. You hokay for now, my lovee?”

“Ek het jou al honderd maal gesê moenie my bel as jy . . .”

“You no hokay?” Skril, bekommerde stem.

“Nee, nee, ek’s oukei.”

“You no sound hokay. You want me to leave Feely and come?”

“Nee, ek’s by The Mall. Ek het iemand in die deli ontmoet. O Dae, jy moet hom sien! Hy’s ’n engel!”

“Angel no good. They have no handle. Wait . . .”

Geluide van papier wat afrol, ’n toilet wat spoel en ’n vloekwoord in Engels – die enigste een wat Dae-Yung ken. Toe vrek die foon.

Cheryl sug. Dis al die vyfde selfoon wat Dae-Yung op een of ander manier verwoes of verloor, die vrou leer nie. Dis óf ’n selfoon óf sleutels óf haar voorbehoedpille, maar iets word verlê of verloor.

Sy draai skuins en loer oor haar skouer om te sien of die vleeswording van hemelse heerlikheid al op pad is. Hy is . . . op pad.

Hy kom na haar toe aangeloop tussen die deli se rakke deur met ’n heupswaai en wippende krulle, sy kop vol idees. O nee! besef sy te laat. Been there, done that. Sny die toutjie nóú, vermaan sy haarself. Maar kan nie die tikkie vertedering keer toe hy eers ’n ouerige vrou en toe ’n ouerige man elkeen op die wang soen nie. Sy ouers, reken sy.

Met ’n swenk van sy lenige lyf kom hy by die deur uit, buk rats en vat meneer Groentjie uit haar hande. Sy vingertoppe druk in die holte van haar rug om haar voort te stuur. Sy skop vas.

“Luister . . . uhm, wat is jou naam?” vra sy verleë.

“Angelo Fabrizi,” fluister hy hees en gee ’n sagte hoesie agter sy hand.

Slanke vingers, sy naels perfek gemanikuur. Ma Dulcie sal só beïndruk wees. En hy is toe werklik ’n engel! Wel, soort van. Boonop eg Italiaans.

“Engel . . . ek bedoel, Angelo, my naam is Cheryl. Dankie vir jou uitnodiging, maar miskien moet ons dit liewer uitstel tot ’n ander dag? Ek het skoon vergeet, my broer en sy vrou is op pad. Dis waarom ek al dié goed . . .”

“Ek sal jou help met die kos,” belowe hy asof sy hom enigsins gevra het, asof hy genooi is.

Hy neem haar aan die elmboog en stuur haar behendig deur die mensemassa soos een wat presies weet waarheen hy op pad is. Sy voel hoe sy hand van haar elmboog geleidelik by haar arm afbeweeg tot by haar hand, en vir een keer in haar lewe is sy sprakeloos.

Koppe draai in hulle rigting en sy kyk elkeen vas in die oog. Sy reken sy en haar Italianer lyk nes enige ander paartjie wat inkopies doen. Nou op pad na hulle liefdesnessie vir ’n fees van vlees, by wyse van spreke.

Hy kyk om, trek aan haar hand. “Kom nou, kom-kom,” fluister hy.

Sy voel om te sterf. Dis net die Italianers wat ’n taal so dekadent kan laat klink, dink sy terwyl haar binneste bewe. Sy verkyk haar aan sy geribde T-hemp, smal heupe en stywe boudjies onder nog stywer verbleikte jeans. Sy weet nie of sy wil lag of huil nie. Van agter af lyk hy niks ouer as sewentien nie! Om die waarheid te sê, hy is ook korter as sy.

Buite tref die koel luggie haar gloeiende wange en kom sy tot bedaring. Sy vroetel met albei hande vir haar motorsleutels. Hy sluit die kattebak oop en laai die sak met sy kosbare inhoud in, sluit weer toe, loop om na die passasierskant en maak die deur oop. Vir háár. Toe gaan klim hy agter die stuurwiel in, sluit die ratslot oop en draai die sleutel van die kar. Háár kar.

Sy weet die alarm sal oor ’n minuut begin lui.

Moet sy hom waarsku en sê waar die knoppie versteek is om dit af te skakel? Nee wat, besluit sy, laat hy dit self vind. Wat hy toe ook doen. Sy is omtrent beïndruk. Hy vind selfs die regte knop vir die radio, druk-druk tot hy Radio 5 kry, wat sy verpes, en draai na haar, die ene tande en blink oë.

Sy gee haastig haar adres en skakel vir Ashwin.

“Is julle ouens al op pád?” vra sy tussen geklemde kake deur.

“Ons was al op pad toe ons jou gebel het, sus. Sien jou binne . . . sê tien minute?”

Haar hart skop teen haar ribbes en sy sluk hard.

“Is dit reg met jou?” vra Ashwin op sy besorgde manier toe sy aarsel.

“Ek sal definitief oor drie minute by die huis wees,” sê sy beslis.

En as ek nié daar is wanneer julle daar aankom nie, kontak die flying squad! Laat kom die weermag om my te soek! Asseblief!

Hulle sit in sogenaamde stilte en luister na Allison-iemand wat kliphard sing: “Monday, Tuesday, we were cool, Wednesday I found out bout you, caught my heart by telling lies, you weren’t what you advertised . . .”

Dankie. Sy sal dit in gedagte hou.

Hy sit elke woord en saamsing, geluidloos, tik-tik met sy vingers teen die stuurwiel, skouers wat heen en weer wieg. Oukei . . . heel waarskynlik het sy niks meer as ’n tienerkrimineel op hande nie.

Sy is cool daarmee, besluit sy, sy het met Billy the Kid grootgeword.

Angelo sluit die voordeur oop en loop reguit kombuis toe. Hy sit meneer Groentjie op die kombuiskas neer en begin uitpak, maak haar yskas oop en druk ’n paar pakkies in. Sonder om te vra.

Sy gaan na haar en suite-badkamer, skop haar sandale eenkant en was haar hande deeglik om van die vleiserige reuk ontslae te wees. Sy bekyk haarself in die spieël, sit nog ’n vegie lipstiffie aan, spuit Fresh Mint op haar tong en ’n tikkie parfuum agter haar ore. Om dit af te rond, ’n rojale smeersel Estée Lauder-handeroom.

Met haar ballerina-pantoffels aan dans sy gangaf kombuis toe, nie seker wat in haar gevaar het om ’n tiener sonder stem huis toe te bring nie. Nog erger, sy het haarself so pas opgekikker – vir hóm.

Hy staan met haar geborduurde rooi voorskoot aan wat nommerpas hang, ’n vadoek nonchalant oor sy skouer gegooi, en hy lyk eenvoudig tuis, besig om fyn repies ham en salami te sny.

Hmm, dink sy, sewentien, sexy en ’n klein parmant. Sy moes hom in sy deli met sy vlerkies en halo gelos het. En tog . . . te oordeel na sy ken se sesuur-skadu maak hy dalk net-net een-en-twintig.

“Ek sien jy het alles gekry wat jy nodig het. Wat maak jy?” vra sy en voel onnosel.

“Ek wag vir jou,” sê hy hees.

“Angelo, waar bly jy?”

“Melville.”

“Hoekom?” vra sy haar tweede onnosele vraag.

“Vibrant, pulsating, bohemian, baie karakter . . .” Toe hoes hy. Rou en seer en sy ril. “Great restaurante, winkels, mense . . .” En weer verdwyn sy stem.

“Cheryl! Kan ons oopsluit?” roep ’n bekende stem.

Sy skree amper van skrik en druk inderhaas die interkomknoppie. “Ashwin! Kom binne!”

Dogters wat in hulle moeders ontaard – daar is die bewys.

Ashwin het ’n sleutel vir haar hek én vir haar apartment. Jy weet nooit wat kan gebeur nie en hier lê jy halfdood en niemand kan by jou uitkom nie oor al die slotte en sekuriteitsgoed. Amper soos Ouma wat jou vermaan om ’n skoon panty aan te trek voor jy uitgaan, want jy weet nooit wanneer jy omgery word nie en daar lê jy, wydsbeen en disnis, met mense wat onder jou rok staan en inloer.

“Hallo! Hallo!” roep die mense.

“Haai! Kom binne! Hallo, Lucy. Wow, Sheena, jy lyk stunning,” probeer Cheryl soos ’n tiener klink.

Sheena het ’n rekdenim aan met ’n stywe swart toppie en designer-stewels, hula hoops aan haar ore. Die graadtienleerder lyk eerder na ’n universiteitstudent. Sy giggel soos net ’n sestienjarige kan en gee haar tannie ’n stewige druk. (Ashwin het Sheena ’n paar jaar ná die troue wettig aangeneem en haar van na Jordan-Douglas verander.)

Cheryl bekyk haar skoonsuster onderlangs. Op drie-en-dertig lyk Lucy gelukkiger as ooit, en dieselfde kan van Ashwin gesê word. Daar ís seker voordele aan die getroude lewe, gee sy toe.

Haar skoonsuster lyk regtig . . . wat? Anders. Sy het ’n lang, helderkleurige rok aan wat amper op haar tone hang, nie die gewone toppie en romp waarvoor sy so lief is nie. ’n Bietjie baggy, maar nogtans, aan Lucy se vuurhoutjie-lyfie lyk enigiets sakkerig.

Cheryl en Lucy omhels mekaar liggies (Lucy is nie ’n oordadige mens nie) en sy sien oor haar skouer hoe Angelo sy hande aan haar voorskoot afvee voor hy Ashwin se hand skud.

“Ek hou van jou valletjies,” lag Ashwin terwyl hy die jonger man vlugtig van kop tot tone bekyk.

“Dankie,” fluister Angelo, en Ashwin se kop ruk terug.

“Angelo het laringitis,” tree Cheryl haastig vir hom in die bresse. “Van skree vir sy gunstelingsokkerspan. Hy werk in ’n deli, bak heerlike knoffelbrode, bly in Melville en hy is Italiaans.”

En dis wragtie al wat sy van hom weet. Moet sy bylas dat hy na Radio 5 luister?

Ashwin gee haar ’n skuins kyk, haal die glase uit die kas en die kurktrekker uit die laai om die eerste wynbottel oop te maak.

Toe Cheryl omdraai om met Lucy te gesels, sien sy met afgryse hoe Sheena versteen staan, mond wawyd oop, klein borsies wat lyk of hulle hyg. Swymelend by die aanskoue van Angelo.

“Vir watter span het jy geskree?” hoor sy Ashwin vir Angelo vra en sy kyk vinnig om.

Sy moet toegee: haar oopplankombuis het nog nooit so elegant, verruklik en oorlade gelyk soos nou nie, met twee pare mooi mansboudjies stewig teen haar kombuiskaste aangedruk.

Sy draai terug na Lucy. “Jou oorbelle is absoluut fantasties, my skoonsuster. Wow, dis egte goud, regtig fabulous!” sê sy opreg, wetende dis nie aldag dat Lucy goud aan haar ore of enige ander plek hang nie.

Cheryl stem saam dat nederigheid en beskeidenheid seker nodige elemente in die lewe is, maar dis ook nie nodig om oorboord te gaan en glad geen bling te dra nie. Dis moeilik om te glo Lucy en ma Dulcie bly op dieselfde erf en Lucy nog so ongeskonde.

Toe die vrouens na die sitgedeelte verskuif, vra Sheena: “So wat is Die Young se nuutste sêding?”

“Die laaste wat ek van haar gehoor het, was toe ek vanmiddag by die deli vir Angelo staan en wag het. Ek dink sy het haar selfoon in die toiletbak laat val, want sy het ’n vieslike woord kwytgeraak. Jy wil nie weet wat dit is nie.”

“Aigu! Aigu!” skree Sheena en Ashwin tegelyk en hulle skater van die lag.

Nou moet daar eers aan Angelo verduidelik word.

“In Koreaans sal jy aigu uitroep as jy iets gemors het of verbaas is, maar ook as jy baie treurig is, soos met die afsterwe van ’n geliefde. Dis ingewikkeld, want die toonaard van jou stem maak die verskil.”

“Juventus is die beste span. As ek Italië toe gaan, skree ek net vir hulle. Is al jou tekeninge van Suid-Afrikaanse kunstenaars, Cheryl? Beautiful . . . báie mooi,” sê Angelo.

Cheryl besef hy is nie gemoeid met die fyner details van ’n gesprek nie, dalk meer ’n geval van in snelskrif praat. As jy nie kan byhou nie, is jy verlore.

“Sheena, hou jy van Allison Iraheta se ‘Friday I’ll be over you’?” vra hy.

Sheena val amper van haar stoel af om by die grootmensgeselskap ingesluit te word.

“O ja!” sug sy stralend en fladder haar wimpers.

“Hoe lank werk jy al in die deli?” probeer Cheryl ongeërg die gesprek in ’n ander rigting stuur. “Of doen jy dit net deeltyds?” En die res van jou tyd werk jy vir ’n makelaarsfirma teen ’n sessyfersalaris per maand?

“My pa is ’n bakker van beroep, it’s a family tradition, hy het die deli lank gelede in die mall oopgemaak. My broers Alfredo en Antonio werk ook in die besigheid, maar ek is meesal in die kombuis by die bakkery. Ons het onlangs ’n tweede deli aangeskaf.”

Hy skep eers asem en kom weer op dreef. “Volgende week is my verjaarsdag . . .” Sy stem verdwyn.

Cheryl lig haar wenkbroue. Dus een-en-twintig?

“Ek word vyf-en-twintig.”

Hy kyk haar vas in die gesig en glimlag van oor tot oor. Kompleet of hy gedagtes kan lees.

HY’S VYF-EN-TWINTIG! skree sy binnetoe.

“O . . . vyf-en-twintig?” herhaal sy terloops.

“Nog wyn?” vra Ashwin en staan op om die tweede bottel oop te maak.

Cheryl skep vir haar ’n stukkie eend en van die olyfham in. “Watse nuus is daar van Ma en oom Dudley?”

Ashwin gee sy skalkse laggie.

“Jy onthou ná ou Shorty se dood het Ma gesê sy sal nooit weer daaraan dink om iemand in die klein woonstel te sit nie? Wel, sy het van plan verander en iemand daar ingesit.”

“Iemand met die naam van Sajan Savage,” sê Lucy.

Cheryl verstik amper in haar wyn. “Jy grap seker! Watse werk doen hy om hom in so ’n plekkie in Ma se jaart te begewe? Hoekom het Ma my nog niks daarvan gesê nie?”

Sy en haar ma het hulle verskillende agendas, maar hulle práát. Vir Ashwin se onthalwe sit sy haar ek-is-seergemaak-frons op haar voorkop.

“Hy’s glo ’n akteur,” grinnik Ashwin. “Volgens Ma het hy eendag op haar drumpel gestaan en gesê hy wil die woonstel vir hoogstens ’n paar weke huur. Ma het nee gesê, hy het gesoebat en Ma het ja gesê.”

Cheryl skud haar kop. “Wanneer trek hy in?”

“Die man bly klaar by ons,” sê Lucy. “Ek dink al amper . . . twee weke?” Sy kyk na Ashwin, wat bevestigend knik.

“Hy’t glo stilte nodig om homself voor te berei vir sy volgende show en hy hou hom maar eenkant. Ek en Ashwin sien hom skaars, maar volgens antie Doll kom en gaan hy baie.”

Ashwin lag. “Volgens Ma brand hy glo kerse en wierook.”

“Tannie Dulcie sê sy kon dit tot by die wasgoeddraad ruik, maar toe sê oom Dudley dis nie wierook nie, dis dagga . . .”

Sheena kom nie verder nie, want almal bulder behoorlik van die lag.

“Wel, ek het nog nooit van ’n Hindoe of ’n Moslem met die naam Savage gehoor nie,” sê Cheryl. “Dink jy dis sy verhoognaam?”

“Ag, vir seker,” stem Ashwin saam.

“Om te dink Shorty is al ’n jaar dood . . .” Sy mis die ou siel, hulle was erg oor mekaar. Eintlik was álmal erg oor Shorty.

Ashwin knik. “Ja, Ma het ook nou die dag gesê. Sy’t spesiaal ’n bos blomme vir Shorty se graf gekoop.”

’n Kort stilte volg terwyl hulle eerbiedig na hulle skoene staar in nagedagtenis aan ’n ou dame genaamd Shorty Present. Eintlik is Cheryl besig om na Ashwin se skoene te staar. Haar oë rek. Is dit ’n paar Converse Chuck Taylor All Stars wat hy aanhet?

Sy kyk op, merk sy gordel. Sy ril behoorlik. “Is dit krokodíl daardie, Ashwin?”

“Ons is nie almal dierefanatikusse nie,” sê hy en beduie na die draadhok in die hoek met die skoendoos en McDonald’s-polistireenbakkie bo-op. “Anyway, alligators is koudbloedig.”

Sy ruk haar op. Nogal ’n alligator. Los dit, Cheryl, maan sy haarself.

Angelo rek sy nek om te sien wat in die hok is. “Waar’s die voël?” vra hy verward.

“Moenie vra nie,” sug Ashwin. “Sy maak diere bymekaar soos ons geld bymekaarmaak.”

“Daar’s nie ’n voël nie. Ek hou die hok en bokse byderhand ingeval ek op ’n beseerde diertjie afkom. Ek werk as vrywilliger by FreeMe, ’n rehabilitasiesentrum vir klein, beseerde wilde diere en ek moes al soms een huis toe bring om te versorg.”

Angelo knik. “We have dogs and cats,” fluister hy. “Wie is Shorty?”

Cheryl verduidelik van hulle buurvrou in Roxy se voormalige huishulp. Ná haar werkgewer se afsterwe het Shorty ’n miljoen rand van haar geërf, maar sy wou nie alleen in haar huis aanbly nie. Dus het sy in die woonstelletjie op hulle erf ingetrek, saam met haar wit hondjie genaamd Hoenertjie.

Nou moet die naam Hoenertjie eers verduidelik word, en Angelo lag heerlik.

Hulle kuier tot laat en Ashwin bied aan om Angelo terug te neem na die mall waar sy kar geparkeer staan. Sheena smeek om saam te gaan, net om die mall, die mense, die víbe te sien, asseblief, asseblief!

Angelo bedank Cheryl met krakende stem. Met sy pinkie wat na sy lippe wys en sy duim na sy oor fluister hy: “Ek sal jou bel, wat is jou nommer?”

Sy gaan haal haar Gucci-beursie (’n geskenk van Dae-Yung) uit Marilyn Monroe se binnesakkie en gee vir hom haar kaartjie. Telefoonnommer, selfoonnommer, e-posadres, posbus, werkadres, werktelefoonnommer. Sy reken hy behoort haar in die hande te kry.

Toe maak Ashwin die voordeur oop en sleep haar stemlose gigolo by die woonstel uit, ’n opgewonde Sheena agterna.

Cheryl kyk na die toe deur en probeer onderdruk die visioen van ’n pragtige jóng Italianer in haar bed.

Lucy is reeds besig by die opwasbak. Cheryl vat ’n skoon vadoek en begin afdroog en wegpak.

Sy dood om Lucy te vra wat sy van Angelo dink. Bekyk haar skelm waar sy soos een in ’n ander wêreld die prop uittrek en die verdwynende waswater agterna staar, druppende vingers wat oor die rand van die wasbak hang. Waaraan dink sy, so stil?

Lucy is gaaf en pragtig en besit al die eienskappe van ’n sagmoedige Saint Teresa. Toegewyd, vroom en wys. Haar besemkoppie en maer, effens geboë skouers gee haar soms die voorkoms van ’n treurende. Vir iemand wat in ’n lykhuis werk, is dit seker gepas, maar wat Cheryl betref, is haar opinies oor alles en nog wat eenvoudig te afgewater.

Sonder enige goeie rede voel sy altyd effe verlore in Lucy se geselskap. Asof Lucy iets weet wat sy nie weet nie. En dis heel waarskynlik waar. As sý Lucy was, sou sy lankal vir almal vertel het presies wat agter die geslote deure van ’n lykhuis gebeur.

Maar nee, nie hiérdie Moeder Teresa nie. Haar lippies is gezip, en as sy iets móét sê, kom dit in een lang sin uit sonder om asem te haal en dan is dit dít.

So lief en danig soos hulle oor mekaar is – dis die familia-ding – is hulle van uiteenlopende agtergronde. Ma Dulcie en pa Bennie was arm, maar hulle het ’n stabiele en liefdevolle huis vir haar en Ashwin geskep. Hulle pa is dood ná ’n ongeluk by die werk en die spoorweg het compensation uitbetaal, want dit was weens hulle agtelosigheid. Met dié geld het haar ma dadelik ’n paleis in Roxy gekoop en die huis in Gumaville verkoop.

Lucy, aan die ander kant, kom uit ’n disfunksionele familie, om die minste te sê. En die hele lot bly nog net daar in Gumaville.

Voor Cheryl kan keer, droog Lucy haar hande stadig en deeglik af aan die einste valletjiesvoorskoot wat so mooi om die Italianer se heupe gepas het. En sy sluk, hard. Want nou is Angelo se Armani-reuk ook in sy maai in.

Sy maak die vrieskas oop en haal ’n bak roomys uit. Knipoog vir Lucy wat besig is om die bank se kussings terug in fatsoen te klop.

“Wat dink jy, my skoonsuster? Sal ons . . .”

“O nee, dankie, ek het regtig genoeg gehad om te eet,” sê Lucy vinnig en sit haar hand oor haar maag. “Ek dink nie hier is plek vir enigiets meer nie, maar skep gerus vir jou. Miskien sal Ashwin en Sheena kom saameet, jy weet hoe hulle dood oor roomys, eintlik enigiets soet.”

Sy loop na die balkon se kant toe. “Ek gaan die liggies bewonder,” sê sy en stoot die deure oop.

Cheryl rol haar tong om die lepel koue roomys. Dis seker tyd om vir Lucy en Ashwin te vertel van haar reis na Korea. Sy sal vanaand vir Ma bel om haar in te lig oor die vertrekdatum. En die verwyte en besware keer deur te vra wat sy vir haar en oom Dudley moet saambring.

Haar gedagtes gaan terug na Dae-Yung. Sy wonder hoe haar vriendin vaar met die arrogante dunnek-mannetjie genaamd Philly. Hy lyk na niks meer as ’n Vienna in die bed nie – in vergelyking met ’n Boerewors of ’n Frankfurter of ’n Russian. Kyk, sy en Dae weet hoe om mekaar te vermaak.

Natuurlik laat dít haar outomaties aan Angelo dink, daardie Adam van Eden, die Valentino van die silent screen. Sekerlik ’n salami tussen die lakens?

Sy loop uit op die balkon, lek-lek aan nog ’n lepel roomys, en word in haar spore gestuit. Lucy se maag hang oor die balkonmuurtjie. Lucy met ’n bóép?

“Lucy!” roep sy uit.

Haar skoonsuster swaai om.

“Jy’s swanger.”

Madeliefies van staal

Подняться наверх