Читать книгу Robbie se broer se roer en ander jagstories - Pienkes du Plessis - Страница 3
Oupa gaan hemel toe
ОглавлениеOupa gaan reguit hemel toe, g’n kwessie nie.
So praat ’n pa en ’n ma en nog ’n ma en ’n ouma en nog ’n ouma. ’n Paar ander in die familie sê as Oupa by die Hemelpoorte kom, stap hy regdeur tot by die troontrappe heel binnekant sonder dat ’n hand op hom gelê word. En alles net oor die ding wat hy in die Moordenaarskaroo met die seunskinders gedoen het.
Ek is Oupa.
Dis van mý wat hulle praat. En dis ék wat die ding van die Moordenaarskaroo met die seunskinders gedoen het en waarvoor ék nou moet hemel toe.
As ek daar by die Poorte aankom, dan gee Petrus my net so een kyk en sê: Hoor hier, is jy nie die oupa wat daai een vakansie sy kleinseuns vir ’n week na ’n jagkamp toe gevat het nie? Jy het hulle ma’s van hulle verlos toe hulle so vrek stout by die huis was? Moordenaarskaroo toe gevat die tyd?
Dis hy, erken ek dan, ek is daai oupa.
Dan kyk Petrus my so oor sy bril aan voor hy verder praat: Hulle vyf dae lank opgepas, geleer skiet, kosmaak, vuurmaak, houtkap, bed opmaak, skottelgoed was en bok afslag?
Dan knik ek.
Dan praat hy weer verder: En sterre kyk en leer met ’n sweep klap, bakkie in die veld dryf en messe slyp?
Einste hy. En ek knik weer.
Wou ook al sê. Stap jy sommer reguit deur.
Dis die slag dat Petrus op so ’n paar knoppe op die rekenaar voor hom druk, die skerm beloer en so oor sy skouer vir die outjie met sulke mooi boogvlerke sê, en wat hom help, lyk my: Vat hom penthouse toe, op die sewe-honderd-ses-en-sestigste vlak, wys hom alles.
Nou kyk hy weer vir my. Mooi uitsigte daarvanaf, sê hy dan. Kaappunt links, Capri regs en aan die ander kant die Himalaja. Die rooi duine by Sossusvlei lê net ’n bietjie verder terug. Baie rugby tapes in die TV-kas, soek maar net op die indeks. Hans Brewis se drie op Ellispark, en Frik s’n teen die Leeus op Loftus, Joggie Jansen se têkkel op Cottrell en ook nog van Francois en Madiba met die Wêreldbeker in ’95, plus baie Super15’s. Schalk Burger en Victor Matfield-hulle. Die skietbaan is net links by jou voordeur verby, dag en nag oop, enige kaliber handgebou in Bloemfontein en in die Paarl. Die ammunisie alles handgelaai, en verniet ook.
My kleinseuns se ma’s en oumas sê dis soos dit vir my in die hemel gaan wees. En ek gaan net sulke mooi boogvlerke hê soos die outjie wat vir Petrus help, dan hoef ek nie vir die penthouse se hysbak te wag nie en kan ek kom en gaan soos ek wil. Alles net oor ek een Julievakansie hierdie mannetjies onder hulle ma’s se voete uit gekry het en in ’n vier-by-vier gepak het na ’n jagkamp toe.
’n Merkwaardige ses dae, hemels lekker maar hels onstuimig.
As jy nie bereid is om jou hare in boste uit te trek nie, nie bereid is om dieselfde ding vyf keer te sê nie, nie op jou tande te byt as een of ander knaap sy tjops vir die tweede keer op die grond laat val na ’n oor-en-weer-stampery nie, nie bereid is om elke dag nog gryser te word nie – bly dan weg uit ’n jagkamp in die Moordenaarskaroo met drie wilde knape uit die stad. Veral nie as dit naby Sutherland is en die kwik snags hier by minus vyf rond boer nie.
Ons noem onsself die Temmers van die Moordenaarskaroo, vier van ons, elkeen met ’n Temmer-skuilnaam plus ’n bynaam. Met die hulp van pa’s en ma’s en oumas en woordeboeke besluit hulle ten einde laaste watse soort temmers hulle sal wees en met watse name. Uiteindelik is daar konsensus en kry die Temmers se name beslag.
Eerstens Benito die Verskriklike, sewe jaar oud, ook bekend as die Vreeslose. Dan Misha die Moorddadige, nege jaar, ook genoem die Bloeddorstige. Voorlaastens Jean-Pierre die Triomfantlike, elf jaar, alias die Geweldenaar. Daarna die uwe, Oupa Pienkes die Dorstige, ook genoem Oupa Smulpaap of dan die Hooftemmer.
Al hierdie name en beskrywings word die voorafgaande weke sorgvuldig in briewe op pa’s en ma’s se faksmasjiene oor en weer aan mekaar gestuur en in plakboeke oorgeplak. Dis Africana wat vir die nageslag bewaar moet word. Uiteindelik sou daar twaalf amptelike Nuusbriewe vasgelê word uit die verskeie fakse, e-posse, handgeskrewe notas en instruksies Van Mekaar en Aan Mekaar. Die ma’s en die oumas is die sekretaresses wat lees en verduidelik en help terugskryf. ’n Stuk admin van formidabele omvang.
So word dit dan 9 Julie 2001 as die sneeu wit op die Sederberge lê. ’n Maandag, nog voordag was dit, toe ons die pad uit die Kaap vat. Ma’s en oumas en pa’s groet en wuif, ’n ma van een van die verskriklikes pink ’n traan weg en ’n pa stoot sy bors uit as sy bloedjie in sy nuwe jagbaadjie nonchalant anderpad kyk. Hulle gaan kamp en skiet en jag, meerkaaie en dassies en ander wilde goed. Allenig, sonder ma’s, net met hulle oupa. Hulle is die Temmers van die Moordenaarskaroo.
Saam met die vier ketties en die windbukse en die koeëlgewere is daar neëntien skietgoete in die geweerkaste, vyftig skywe, staanders, verkykers, spotting scopes, vleis en kos vir ’n weermag, slaapsakke en warmwatersakke. Nuwe flitse en knipmesse, want dit gaan ’n wrede week word.
Sien jy daardie wit bakkie daar deur die Hexrivierpas? Die dubbelkajuit wat so hoogvol gepak is?
Dis ons.
Die amptelike Nuusbriewe is uiters volledig en verskaf aan die nageslag uitvoerige besonderhede van wat die Temmers te wagte kan wees, wat hulle gaan doen, wat hulle gaan eet; wat hulle gaan leer om te doen en leer om te eet; strawwe en belonings vir nagekome reëls en nie-nagekome reëls. Na die afpakkery en regpakkery in die sinkskuur met sy muisbosskerm langsaan, en veral na die nege plaashekke op die laaste stuk pad kamp toe, het al die Temmers reeds stywe strawwe op die lyf geloop. Voorbeelde is twee keer bad op dieselfde dag vir ry-staan op ’n plaashek; nie op Dag Twee ’n beurt kry om die bakkie in die veld te dryf nie oor hy ’n ander Temmer met ’n stok van agter af tussen sy bene kielie sodat dié ’n kossak in die sand laat val. Vir min goed afpak en wegdra na die slaapskuur toe kry een van die Temmers sommer ’n ekstra beurt vir skottelgoed was. Ensovoorts, ensovoorts.
Dag Een raak ’n gebeurtenisryke dag. So ook Dag Twee. Nou moet mens darem bysê Dag Drie was ’n grote, heel groot. Maar dis eintlik Dag Vier wat in ’n klas van sy eie staan. Behalwe natuurlik nou Dag Vyf. Praat nie eers van Dag Ses nie, die wrede dag van bloed en derms.
Mens hoef slegs na ’n opsomming van die Temmers se aktiwiteite te kyk om naastenby ’n idee te kry hoekom ek as Hooftemmer die penthouse by Petrus gaan kry. Terwyl ’n Temmer leer om die byl vas te hou waarmee hy moet leer om hout te kap, loop ’n ander Temmer óf voor hom in óf agter hom verby om nog ’n boomtak aan te dra. Terwyl ’n Temmer in die rivierloop met ’n skopgraaf ’n sak sand probeer vol maak om ’n lêplek by die skietbaan in te rig, gooi ’n ander Temmer sy sand hoog in die lug op om te sien hoe dit lyk as dit afkom. Daar volg dan luidkeelse protes en aanmoediging as al drie die Temmers na ’n halfuur hulle drie sakke sand vir môre se skietwal gereed het. Jy herken hulle slegs aan hulle grootte en kleredrag, want die gesigte is almal agter ’n rooi sandlaag verberg.
Die eerste aand se vuur vir die lapa in die muisbosskerm vrek drie keer, want die Temmers gebruik graag takke met gloeiende punte uit die vuur om sirkels in die donker van die Karoonag te maak, mekaar te jaag of gloeiende swaardgevegte aan te knoop. Een van die Temmers raak honger en moeg van wag vir die braaivleis en ontdek brood en heuning en Marmite in die slaapskuur se kombuisplekkie, waar hy smeer en mors en eet. Dit terwyl die Hooftemmer aan die ander Temmers die geheimenisse tussen tjops braai, wors braai en skilpadjie braai uiteensit. Dit neem die honger Temmer slegs oomblikke om die ander Temmers daarvan te oortuig dat braaivleis met heuning bedrup die eintlike koningskos is. Én hy het die bottel heuning by hom, hulle kan ook kry.
Skottelgoed was by die kraan van die sementdam langs die skuur bied aan die Temmers ook nuwe uitdagings: om messe en vurke en dies meer só onder die lopende kraan te posisioneer dat Medetemmers ook bespuit word. Medetemmers reageer altyd sonder huiwering, maar altyd ook met nog meer innoverende maniere om messe en vurke en dies meer strategies onder die kraan te posisioneer. Die Hooftemmer, wat nog besig was om oor ’n glasie cabernet in die vuur te tuur, slaag uiteindelik daarin om die skottelgoedgeveg stop te sit en drie papnat Temmers en hulle half gewaste eetgerei vol sand en heuning terug in die sinkskuur te kry. Maar die kraangevegte vat aan hom. Dié dat hy sommer nog ’n glas cabernet skink.
Die volgende aand, besluit die Hooftemmer, is dit tyd vir sterre soek met die verkykers. Die Aandster, die Suiderkruis, die Kaapse Wolkies, die Melkweg, die Drie Konings, die Jagter se Hond, die Skerpioen, die Sewe Susters en nog ’n halfdosyn ander is almal op sy lys van wat die Temmers moet ken voordat hy hulle weer by hulle ma’s in die stad gaan aflaai. Maar die Hooftemmer het nie rekening gehou met swaardgevegte met gloeiende takpunte en verkykers wat in die donker verstrengel raak, of dat hulle mekaar omstamp by die teleskoop op die driepoot sodat die Sewe Susters naderhand te prate sit met die Drie Konings en die Jagter se Hond agter die Kaapse Wolkies wegkruip nie. Min of meer so iets, volgens die een Temmer, en sterk ondersteun deur nog ’n Temmer (die Verskriklike).
Maar die eintlike rede hoekom die Hooftemmer met soveel eerbetoon deur Petrus en sy helper met die boogvlerke ontvang gaan word, lê in sy hantering van die Temmers se opleiding op die selfgemaakte skietbaan.
Die skywe begin by 10 meter vir die Daisies, 25 meter vir die windbukse, dan 50 vir die .22’s en 75 tot 100 meter vir die groter koeëlgewere. Maar dié kom eers later, miskien op Dag Vier. Daar is ’n rooi vlag en ’n groen vlag, en die Hooftemmer met ’n fluitjie. Daar is ’n Temmer met die spotting scope, hy roep die tellings uit. Op die skiettafel merkpenne, maskeerband, plakkertjies vir die skywe, skywe wat wag om nog geteken te word, twaalf banksakkies met riviersand. Ook nog skietrame en dwarsbalkies en ’n dooierus-driepoot.
Die Hooftemmer het alles en nog wat saamgebring, maar hy is bitter spyt oor sy eie oupa se kort sambokkie wat by die huis agtergebly het en wat nou só nodig, só nodig geraak het. Hier op die klipvlaktes van die Moordenaarskaroo. As hy die een Temmer leer asemhaal, vinger op die sneller, dan sal die ander Temmer net gou sy geweerslot oopmaak om te kyk hoeveel rondes gelaai is. Of vir die aardigheid na ’n voël mik wat doer bo verbyvlieg. Die Hooftemmer kom ook reeds op Dag Een agter dat, terwyl hy met Temmer Een besig is, hy vinnig en gereeld agter hom moet kyk watse aktiwiteite Temmers Twee en Drie intussen aan die gang gekry het. Later kon die Hooftemmer sonder aarseling konstateer dat ’n tweede paar oë in sy agterkop die grootste gemis was op die week se kamp. Dit en sy eie oupa se kort sambokkie.
Nou is dit al Dag Ses. Die dag van bloed en derms. Wat die Temmers betref, die enigste dag wat eintlik saak maak – die jagdag. Want op dié dag gaan hulle hulle nuutverworwe kennis van mik en skiet op die ongediertes van ’n Karooplaas loslaat. Meerkaaie en dassies en tortelduiwe en sulke dierasies. Mossies en geelvinke ook. ’n Jagsafari van formaat.
Benito die Verskriklike kry die windbuks en die populierbos. Dis waar swerms tortelduiwe en mossies en vinke boer. Die twee groter Temmers, Misha die Moorddadige en Jean-Pierre die Triomfantlike, elkeen met ’n .22 by die dassiekranse bokant die droëlooprivier.
Die oupa wat die Hooftemmer is, is salig alleen by die kamp tot die laatmiddaguur. ’n Cowboyboek van Louis L’Amour in sy linkerhand, en koffie en biltong digby sy regter. Om hom ’n groot, salige stilte.
Dag Ses het nie sy gelyke nie.
Dis skuins voor vier toe hy die Temmers terug by die kamp kry en hulle die oggend se jagbuit op die sementtafel in die skuur uitpak. En die jagbuit is groot. Drie mossies en ’n geelvink en twee tortelduiwe uit die populierbos. Plus nog ’n meerkat en vyf dassies van die kranse af.
Hulle ma’s gaan vir hulle pasteie maak, praat hulle gelyk.
Duifpastei gaan baie lekker wees.
Maar nie so lekker soos dassiepastei nie.
Wat van die meerkat?
Die Hooftemmer slaan sy oë hemelwaarts, want hy wil nie sien hoe lyk meerkaaie en dassies en tortelduiwe in ’n vleisbak op ’n ma se kombuistafel in Tamboerskloof nie. Saam daarmee nog die verwytende blikke van so ’n ma af.
Stop, manne! Vergeet dit!
Jy moet weet van aanhou en vasbyt as jy die Temmers tot stilbly wil bring. Maar die Hooftemmer kry dit tog reg.
Terselfdertyd kom hy sommer ook te voorskyn met een van Gert Grootlieg se stories, ’n liegfabrikasie soos min wat hulle genadiglik aanvaar. Hy praat oor sy beloftes aan die plaasvoorman dat dié al die dassies en duiwe kan kry wat hulle skiet en dat hulle niks sal saamneem huis toe nie, en dat hulle so en so sal maak en dit en dat sal doen.
Verstaan julle?
Ja, hulle verstaan.
Maar dit brom.
Een ding van die Temmers: hulle geheues is kort. Nie lank nie, toe pluk hulle ghwarrieboslatte en jaag mekaar van voor af tussen die karoobossies deur, duif- en dassiepasteie heeltemal vergete.
Toe die gewere laatmiddag op Dag Ses in hulle geweerkaste weggepak is, en die Hooftemmer die drie manne oor en oor getel het net om honderd persent seker te maak dat almal nog daar is, en heel is, spoel daar ’n groot vreugde oor hom. Eintlik ’n welbehae. Hy is natgesweet, flenters en gedaan vermaan. Dis hoekom hy nou vir hom ’n dubbel Glenfiddich skink en voor die vuur gaan sit wat die Temmers teen dié tyd al self kan pak en aan die gang kry. Dit gaan ’n lang aand word, want die Temmers gaan vanaand self braai. Dan sal mens sien hoeveel hulle onthou van wat hulle die afgelope dae geleer het.
So kom Dag Ses dan triomferend tot ’n einde. ’n Dag sonder gelyke.
Die Terugrydag Kaap toe is maar ’n valerige daggie. Maar die Temmers kry dit reg om selfs van oppak en inpak en aandra bakkie toe ’n safari te maak. Vir oulaas jaag hulle mekaar; vir oulaas druk die agterste Temmer ’n stuk stok tussen die bene van die Temmer voor hom sodat hy vooroor kan neerslaan. En vir oulaas gooi die Hooftemmer sy hande wanhopig in die lug en dink oor sy oupa se kort sambokkie wat hy nie by hom het nie.
Maar hy kry hulle tog laatmiddag in die Kaap. Heel, ongedeerd en almal in een stuk. Hy ook. Dis hoekom daar nou ’n lied in sy hart is.
Sien jy daardie oupa met die huppel in sy stap? Die een wat die Temmers vir hulle ma’s gaan teruggee het en nou Temmer-loos op pad na sy bakkie toe is? Sien jy hom?
Dis ek.