Читать книгу Robbie se broer se roer en ander jagstories - Pienkes du Plessis - Страница 4
As Grootoom Brombek self gaan jag
ОглавлениеEk ken ’n Tweebeen reeds van my sopkoppiedae af, en jy kan my niks van hom en sy Blafding vertel wat ek nie lankal reeds weet nie. Grootoom Brombek Springbok noem hulle my mos, hier op die vlak tussen die trassiebosse en die jakkalsgrasse waar ek die baas is. En ek lyk glo op ’n haar soos ou Groot-Groot Brombek Springbok wat vroeër jare baas was van hierdie selfde vlak. Vergeet van oom Ramkop en neef Diepstap en die spul Kromhorings anderkant die gannabosse op die skaalklipvlak. Hulle het hulle eie plekke. Daar waar hulle hulle eie base is met hulle eie troppe en hulle eie ooimeisies.
Maar hierdie ander wat hulle so kom opdring, oom Snuifie-hulle, en ou Gleuf-oor. Afdwaalramme is hulle, niks meer nie. En as ek my nie keer nie, stamp ek vir hulle netnoumaar weer uit hulle belustigheid uit. Gaan vra gerus maar vir ou Gleuf-oor en oom Hangpeer wat ek met hulle gemaak het nou die môre toe hulle so skelm en ongeskik sommer hier in my ooitrop kom staan vreet het. Asof ek nie geweet het hulle is eintlik agter niggie Styfstap en sussie Trippeldraf aan nie. Ordentlike ooimeisies is hulle, wat my dadelik kom sê het van ou Gleuf-oor se belustigheid toe hy hulle agter die muskietbome wou inlok.
Ek het net so ’n lang brom gegee en toe storm ek. Ou Gleuf-oor wou sy lyf nog bietjie dwars gooi, maar toe oom Hangpeer skrik en laat vat ranteveld toe, toe weet ou Gleuf-oor sommer dat hy bok-alleen nie die ding gaan maak nie. Toe gooi hy kop vorentoe en hol amper bo-oor oom Hangpeer soos hy sy banggeit wegspring, tussen die katjiedriebosse deur, uit my pad!
Maar waar lag my ooimeisies nie! Niggie Noem-Noem en sussie Snuif-Snuif gee eintlik sulke krom springe tussen die klapperbosse deur soos hulle giggelproes en blêrlag. Tot antie Bruinpoot en die Gladdepens-susters draf in kringe rond.
Ongemanierde vent hierdie, tipies soos alle Gleuf-ore maar is as jy hulle nie onder die horing hou nie.
Nou waar was ek?
O ja, daar waar ek wou vertel van die Tweebene en hulle Blafdinge.
Soos ek van my kleintyd af weet, het ’n Tweebeen en sy Blafding nie ’n saak met jou en jou ooima as jy nog ’n sopkoppie is nie, want Tweebeen staan te ver om te sien of daar van netnoumaar se speendrink nog skuim op jou bolip sit, en of jy al begin kou het aan die sagte karoograsse in die mote teen die rante. Ek kan nog goed onthou hoe ma Grootoor en ek en al die ander Brombekkies wat almal nog sopkoppies was, met onse ma’s in die granaatbosse rondgekuier het sonder dat Tweebeen sy Blafding eers opgetel het. Dis eers in jou knypkoptyd dat jy vir Tweebeen moet begin oppas, so het ma Grootoor altyd gesê en dan laat vat rante toe, sy en die hele ooitrop saam met haar.
Ons was ’n groot spul Brombekke hoor, want soos ek die ding verstaan, het ou Groot-Groot Brombek vir hom ’n hele stuk vlak net ná die somerdae hier afgemerk. Bo van die klapperbosse af waar die wewervinke saans so tekere gaan, dan al met die afloophange langs, deur die skaalkliplaagte, by die sandsteenrant verby, al deur die sagte mote vol jakkalsgrasse, tot doer ver by die snotbessierant se punt.
Dis hoe ver ou Groot-Groot Brombek sy plek afgemerk het, heeldag lank, en die volgende dag ook nog gesnuif en gesmeer en waterkolle gegooi het dat almal kon sien waar sy vlak en sy plek is. Almal moes dit kon sien, veral daardie sleg lot afdwaalramme van die kiewietjievlaktes af, ou Traanwang en ou Luisbal-hulle. En sommer die spul Botterkoppies van ou oom Botterkop ook nog wat juis beginne dink hulle maak indruk op die Stywespeen-meisies in die ooitroppe. Maar ou Groot-Groot Brombek het nie met sy ooimeisies laat peuter nie, en dit was net ’n paar snorke en stampe en steune, toe laat vat hierdie ongenooide besoekers oor die ranteveld moer toe. Ou Groot-Groot Brombek het glo agterna gesê hy skat party van daai Botterkoppies hol en spring nou nog.
Ja, dié ou Groot-Groot Brombek darem. Glo so ’n gawe, geselserige ramkêrel op sy dag, vertel almal. Dan staan hy hier naby die begin van die vlak, en soos wat die Stywespeen-meisies en die Volbek-anties aankom, keer hy hulle beleefd af en met ’n ieder en ’n elk knoop hy nou ’n geselsie aan. So vriendelik en ordentlik is hy.
En dis as die geselsie nou mooi aan die gang is dat ou Groot-Groot Brombek haar staanmaak. Vir haar, en die volgende een, en almal wat oor die rant vir ’n geselsie wil nader staan. En die volgende een ook. En almal. So kry ’n ieder en ’n elk dan ’n beurt om ná ’n geselsie gestaanmaak te word, party sommer ’n paar kere, want ou Groot-Groot Brombek was glo maar ’n geselserige ou in die maand net voor die winterkou.
Dis dan hoe dit gekom het dat toe die ooimeisies begin lammers gooi na die eerste reëns toe die grasse beginne spriete maak, dat jy sommer dadelik kon sien al die nuwe lammertjies lyk nes ou Groot-Groot Brombek. ’n Hele ranteveld vol Brombekkies wat oral rondhol en pronkspringe maak. Ma Grootoor sê sy weet ook nie hoe ek ook op ’n haar soos ou Groot-Groot Brombek lyk nie. Al wat sy weet is hoe hy een môre so ’n lekker geselsie met haar aangeknoop het. Die ander Volbek-anties en die Stywespeen-ooimeisies sê hulle weet ook nie hoekom hulle lammers almal soos ou Groot-Groot Brombek lyk nie. Behalwe dalk as dit van die geselsies en die staanmaak tussen die melkbosse is.
Tog sê hulle dit so half skamerig.
Hoe dit ook al sy, dis hoe ek later van jare na my sopkoppietyd en my knypkoppietyd hier in my pronkjare Grootoom Brombek geword het. Ek moes my pad na die nuwe baas van ou Groot-Groot Brombek se vlak oopstamp en oopjaag tot naand net ek en my trop ooimeisies oorgebly het.
Harde werk was dit. Maar werklik aangenaam ook. Arbeid adel mos.
Maar op hierdie môre het ons groottrop gemaak. ’n Lekker winterkoumôre was dit, heeltemal te koud vir geselsies met die ooimeisies maak. Dis hoekom ons almal sommer saam-saam in die rantevelde wei of die sonkant van die gannabosse opsoek. ’n Hele trop van ons, sopkoppies en knypkoppe, groot ramme van oraloor, die Kromhoring-oues en die Pronkdronk-nefies, oupa Kweskol en oom Snuifie-hulle. Ook die spul Speenstampers van die snotbessievlaktes af. Al die Volbek-anties saam met die Stywespeen-meisies, almal van ons.
Dis toe ons die spul Tweebene in hulle ryding sien aankom.
Gee pad voor, snuif ouma Lieskrap, en sy storm die rant op, die hele trop agterna tot oor die kruin en anderkant af. Maar ek en neef Kromhoring weet van beter. Ons trippeldraf net so ’n entjie weg en gaan staan om die spul Tweebene beter te kan bekyk waar hulle nou in hulle ryding gaan stop het. ’n Hele tyd kyk ons vir mekaar, hulle vir ons en ons vir hulle.
Nou wanneer klim hulle nou af en haal hulle Blafdinge uit? vra ek vir neef Kromhoring. Ek weet nou nog nie wat hy gesê het nie, want die volgende oomblik hoor ek net ’n blaf en ’n ding skop my teen my linkerhoring dat ek plat op die grond agteroor slaan. En toe is alles pikdonker.
Ek moes seker vas geslaap het, want toe ek wakker skrik, buk ’n Tweebeen oor my met sy Blafding wat aan sy skouer hang en skreeu iets in Tweebeentaal vir die ander Tweebene in hulle ryding hier vlak langs my. Hy kry my aan die horing beet en begin my nek agteroor buig. Om wat met my te maak? wonder ek nog. Maar net daar skaam ek my in die grond in. Ék, Grootoom Brombek, gaan lê en slaap tussen ’n spul Tweebene! Hoe gaan almal nie vir my snork en lag nie! Laat ek hier wegkom!
Ek ruk my kop los en spring op. Tweebeen moes seker gedink het ek slaap nog, want hy struikel amper bo-oor my terwyl sy Blafding van sy skouer af val en oor my kop en voorbeen gly. Hy probeer my weer aan die horing beetkry, maar ek wat Grootoom Brombek is, laat my deur g’n Tweebeen vashou nie. Ek staan-spring skoon bo-oor hom, nog net so met sy Blafding wat oor my nek en voorblad hang, en laat vat teen die rant uit.
Al wat ek hoor, is die Tweebene wat vir mekaar skreeu, en al wat ek voel, is die Blafding oor my lyf wat net hier en daar in die bossiesveld grondvat soos ek die rant uit hardloop. Op die kruin kyk ek ’n slag om. Doer ver agter my kom Tweebeen val-val aangesukkel, seker bitter kwaad oor ek met sy Blafding vort is. Om dit vir my te vat, dink hy seker.
Hy moet mal wees. Dink hy miskien ek wil die Ding hê?
Maar hoe kry ek dit van my nek af? Miskien as ek nog vinniger hardloop en hoër spring?
Nee, dit werk ook nie! Probeer weer. Spring bo-oor hierdie melkbosse. Die Blafding vat net hier en daar grond, maar hy bly hang. Onder teen die ranteveld staan die res van my trop en kyk vir my soos ek aangespring kom. Eers toe ek vlak by hulle kom, begin hulle rondmaal kompleet of hulle bang is vir my. Die volgende oomblik gee ouma Lieskrap net een snuif en ’n blêr en laat vat, die hele trop agterna, snuiwend, snorkend, springend, en die knypkoppe wat pronk-pronk in die lug hang.
Ek gaan staan.
Hulle ook. Kyk vir my van duskant die rooigruisslote af.
Ek hardloop nader. Die Blafding se agterpunt kap teen die bossies.
En ouma Lieskrap blêr weer en laat vat. Almal agter haar aan. Sy gaan wragtag nie dat bloedfamilie haar vang nie, blêr sy snorkend oor haar blad. Al is die bloedfamilie nou ook Grootoom Brombek wat skielik vir hom ’n Blafding aangeskaf het, snork sy ook nog by.
En hulle hol. Nie bietjie vinnig nie.
Ek net so vinnig agterna. Staan, julle, staan! snork ek vir hulle. Maar hulle hardloop net, spring net, verder en verder weg. Duskant die lyndraad maak ouma Lieskrap ’n wye draai en kies die pad terug na die veld toe waar ons die Tweebene vroeër in hulle ryding gekry het.
Ek agterna. Maak ook ’n wye draai by die lyndraad. Oor die skaalklippe, verby die soetdorings tot in die Tweebene se rypad. En toe is hulle ryding skielik hier tussen my en die trop wat doer ver op die vlak hardloop dat die rooi stowwe staan.
Tweebeen se ryding steek viervoet vas.
En ek steek viervoet vas.
En toe gebeur dit. Die Blafding, wat nog heeltyd half agter en onder my sleep-hang, gly vorentoe, oor my skouerblad en kop, los van my af. Dit tref die rypad en seil oor die grond.
Dè, daar’s julle dêm Blafding!
Toe maak ek my draai vlak voor die Tweebene se ryding, so ’n lang wye draai na die trop se kant toe. Nes in my knypkoptyd van lank tevore gee ek ’n paar pronkspringe, drie van hulle agter mekaar, voor ek my kop laat sak en die bossiepad vat.
Wat wil ek ook met ’n Tweebeen se Blafding maak!