Читать книгу Die naaimasjien en ander stories - Rachelle Greeff - Страница 5

Al wat ek sien

Оглавление

Ons sou dit nie waag om vir haar Tannie te sê nie. Nie eens Aunt, soos vir sommige van my ma se niggies en tantes nie. Ook nie Ant nie. Sy was doodgewoon Nan, hierdie oudste van my ma se drie susters.

Nan het gereeld hiermee geterg: “Julle ma was mos julle ouma se nalatige lammetjie.” Ons het aan die begin nie geweet wat dit beteken nie en Ma het vies anderpad gekyk, of haar teekoppie so hard in die piering neergesit wanneer sy en Nan sê maar besig was om tee te drink – ek was altyd bang die koppie kraak.

Maar dalk het dit gekraak. Fyn krakies in goeie porselein sien mens mos eers later, het ek as grootmens geleer.

Nan was ’n hoedemaker in die Paarl, met kliënte so ver as Salisbury. Sy het vier meisies – wit meisies – gehad wat vir haar gewerk het, maar het altyd ’n skerp oog op die laaste steek gehou. Ma het gesê sy’s bly sy werk nie vir Nan nie. “Slawedrywer as daar ooit een was. Net sowel sy’t nie man en kinders nie; hulle is haar gespaar.”

Sy het elke jaar vier weke lank gaan reis. Deur die hele land in haar wit Volvo, wat sy Wollie Wolf genoem het, met die trein na die destydse Noord-Rhodesië, met die skip na Mombasa, met die Queen Mary, as ek reg onthou, oor na Engeland, en toe die eerste Boeing 707 uit die buiteland in die Republiek land, was Nan se carpet bag en vanity gepak, en die nate van haar sykouse sou geen meetkundige kon natrek nie.

Nan het haar hare in ’n Franse rol gedra, maar op die vakansiekiekies wat ons van haar het, is dit altyd los. Swart soos die spreeus wat pa so met die windbuks gepot het, en reguit. Nan op vakansie lyk soos ’n ander Nan as die Nan wat tussen ons was.

Die storie met die haas het juis op een van Nan se vakansies begin. Dit was voor die Tweede Wêreldoorlog, voor grense gesluit is. Nan het ’n swart glashaas in ’n winkelvenster in Praag gesien. Ek was nog lank nie ’n sterretjie in my ma se oog nie, sy was nog self ’n kind. Toe ek klein was, het ek die storie dikwels gehoor, en dit was vir my so waar soos die Bybel se stories. Nou weet ek van beter: die storieverteller én die luisteraar onthou wat hulle wil. En só onthou ek dit: Sy stap in, hoor wat dit kos en besluit dis die ponde nie werd nie. Die man in die winkel moedig haar ook nie aan nie. Maar ’n paar dae later is sy terug, in die sneeu. Soos sy vermoed het, is die haas van Boheemse kristalglas, met die hand geblaas. Vir ’n tweede keer is die winkeleienaar ongeërg. En weer twyfel sy, nie oor die man se houding nie, oor die prys van die ding. Maar hoekom nie? Sy’s tog haar eie baas, maak haar eie geld. Aan die ander kant: Jy tart die noodlot om met daardie onhebbelik delikate snorbaarde en filigraantoonwebbe halfpad om die aardbol te trek.

Tog staan sy die dag van haar vertrek uit Praag voor oopmaaktyd gehoed en gehandskoen voor die deur van die glaswinkel. Die winkeleienaar sluit van binne oop. “Dobrý ráno,” groet sy. Hy mompel iets. Sy het besluit om tog die haas te kom koop, verduidelik sy, jammer sy was tevore so besluitloos. Sy verbeel haar hy reageer: “Comme ci, comme ça.”

Sy sit haar note op die toonbank en sê sy vertrek oor ’n uur, hy moet spring.

“No, it will take the time.”

Ja, ja, solank hy so gou maak as wat hy kán, sy’t gelieg oor die uur, dit was darem ’n bietjie meer.

Toe eers gaan haal hy die haas uit die venster. Voor hy dit versigtig op die toonbank neersit, hou hy dit teen sy wang en maak sy oë toe. Net vir ’n oomblik. Vreemd, dis tog net ’n stuk dooie, koue glas, hoe mooi ook al. Hy tel nie eens die geld nie, neem dit nie, bêre dit nie. Hy gaan aan asof daar geen geld is nie.

Só het Nan dit vertel: “Toe eers, al was ek drie keer in daardie winkel, hoor ek hy neem net waar in die plek van die eintlike eienaar wat in ’n sanatorium aansterk. Hý, hierdie man, het die haas self gemaak. Met sy eie mond het hy die glas geblaas.” En dan het ons altyd geweet wat volgende kom: “Jy kan onmoontlik ’n garestekie met ’n snorbaard van glas vergelyk. G’n wonder die arme man wou dit nie verkoop nie, maar hy móés, dit was moeilike tye én hy was in diens van ’n baas. Hierna het dit vir my gevoel om ’n hoed te maak is niks, hoogstens boers, begryp?”

Nan het naderhand daar in die winkel op haar nerwes gekry, geen trein in Europa wag vir jou en jou haas nie, maar die man het skaafseltjie vir skaafseltjie gewerk met die houtwol waarin hy die haas verpak het. Dalk het hy gehoop sy raak ongeduldig en loop daarsonder, maar sy het gewag. Terug in die hotelkamer draai sy die haas verder versigtig eers in ’n onderrok en toe in ’n sybokhaarserp toe. Sy werk ’n nessie in die middel van die koffer, maar nou wil die koffer nie toe nie. Sy gooi die nuwe korset van rayon en ’n langlyf-bodice in die asdrommetjie – die kamerbediende kon haarself gelukkig ag, dit was goeie goed. Die glasblaser se handgeskrewe etikette – stomme man – plak sy die hele koffer vol, knip en sluit dit toe, en hoop vir die beste.

Haar verduideliking was altoos dat sy die haas vir óns ma saamgebring het. “Julle ma het vir jare ’n ou speelgoedhaas van lap rondgesleep. Die bytjies het al begin steek, toe sit dié smeerboelie nog altyd op haar bed. Ek het gedink dis tyd dat sy ’n haas van groter waarde kry, iets meer grootmens, begryp?

Was dit werklik Nan se woorde? Ag, ek weet nie meer nie. Dalk nie. Dis maar familievertellings, en die geheue is niks meer nie as ’n toneelstuk, nie twee opvoerings is eenders nie.

Hoe ook al, terug in die Paarl, ná hierdie besoek van haar aan Tsjeggo-Slowakye, en net betyds vir die familie-Kersfees, vermaan Nan vir die einste ma van ons: “Hierdie present is baie spesiaal net vir jou, Babatjie, ek het byna my trein hiervoor verpas. Kom sit hier by my op die mat, maar ek gaan hom self oopmaak. Want hierdie een mag nie val nie. Dis eintlik ’n grootmenspresent.” Sy het daardie omhulsel laag vir laag afgeskil en vorentoe geleun met die haas in albei hande na Ma gestrek. Ma was toe … tien, elf? En Ma steek haar hande uit en kan nie glo wat sy sien nie. “Mooi vat!” waarsku Nan.

Maar op daardie oomblik sien Nan nie meer kans om van die haas afstand te doen nie, of dalk het iemand gesê dis darem nie ’n geskenk vir ’n elfjarige kind nie, wie sal weet. “Jammer, Baba,” sê Nan – hulle het Ma al die jare Baba genoem – “vat eerder hierdie kid gloves, dis van Parys. Jy sál dit eendag dra, pops, ek belowe jou, en die haas is joue wanneer ek ter helle neerdaal. Ek sal dit beskrywe.”

Ma het later die dag die handskoene diep agter haar sokkies in haar sokkielaai gebêre, en gehoop die silwermotte vreet dit op. Hulle het nie, maar ek het haar ook nooit die handskoene sien dra nie. Dit was maar altyd iewers agter haar kouse of agter haar serpe.

Jare daarna het Ma tog die haas gekry. Ek onthou goed, dit was die jaar nadat ek in Sub A was – dit was daardie Kersfees en dit was by ons huis. Nuwejaar was die familie by Nan, maar Kersfees was by ons. Nan se huis was nie ver van ons nie.

Soos gewoonlik kon ek en Nicola, my suster, die vorige aand skaars slaap. Wanneer niemand kyk nie bevoel ons die presente wat al vir dae om die Kersboom lê. Een van my pakkies is sag. Ek hoop dis ’n winkelrok; Ma weet hoe ek ’n rok begeer wat aan ’n klerehanger in ’n winkel hang – nie dié wat lyf kry onder haar naaimasjien op die eetkamertafel nie.

Maar dit was nie, dit was ’n skooltrui wat sy self gebrei het. Ek kon dit nie glo nie. Ek twyfel egter of enigiemand my teleurstelling opgemerk het, want almal het oor en weer gelag en terg. Die opgefrommelde stapels papier het gegroei, en die grootmense het reeds een bottel borrelwyn ge-polish. Pa was besig om die tweede een oop te maak toe Nan sê: “Ons drink op Baba en haar harde werk vir hierdie dag! En op Baba wat so lank gewag het! Dit was wreed, Babsie, ek’s jammer!”

Pa lig sy duim van die vonkelwynprop. Hy lag nie meer nie: “Hoe bedoel jy nou, Nan?”

Nicola skreeu: “Hy gaan oorkook, Pappa, pasop! Skiet hom, skiet hom!”

“Toemaar, darling, ontspan, jy sal sien,” sê Nan vir Pa en gee vir Ma ’n groot boks toegedraai in goue papier.

Toe Ma die haas uit die sneespapier lig, wil almal dié fancy ding van Nan vashou en bekyk, en Nan skreeu: “Nee, keer daar, Baba! Julle weet ek het vir die kêrel laat weet die haas het dit Afrika toe gemaak én oorleef, moenie nou die dessitse ding laat val nie!”

Ma hou die haas in albei hande en beskou dit van alle kante. “Wil jy nou die kid gloves terughê?” vra sy floutjies. Die mans het weggeval met “Hasie, hoekom is jou stert so kort?” en ek dink dis net ek wat haar gehoor het.

Vanweë die ouderdomsverskil tussen Nan en my ma, moet Nan vir my meer ouma as tante gewees het, maar dit was sy nie, eerder prinses, goeie fee, beeldskone voormalige mannekyn, mannetjiesrige vroumens – alles in een. ’n Fantastiese frats, met altyd iets vir haar susters wat sy van haar reise saamgebring het, die stomme huisvroue. “Geketting aan man en kind en Kook en geniet,” het Nan ná ete gesê, oënskynlik na aanleiding van absoluut niks nie, en toe na die glasie agterna-soetwyn in haar hand gekyk.

“Wat sê jy daar, Nan?” het Ma skerp gevra.

Die grootmense was flou. Die kwik was diep in die dertig en almal verby boggels geëet.

“Ek sê net as hierdie nié Japie Hugo s’n is nie, vreet ek ’n hoed op.” Haar oë onwrikbaar op die glasie.

Eienaardig dat ek dit in soveel detail onthou, want ek was nog klein. Ek sou tog nie ’n snars daarvan begryp het nie, veral nie Pa se skielike heftigheid nie.

“Loop haal solank jou hoed, Skoonsuster,” het hy gesê.

Nan het onthuts van haar glasie opgekyk. “Hoe bedoel jy … Swaer?”

“Ek bedoel jy’s verkeerd, dis ’n Robertson-soete. Wat meer is, jy ken die wynmaker.”

“Wie ken Nan nie?” het iemand gevra.

“Hoor jy daar, Nan,” sê Pa kwaai, “die mense wil weet wie ken jy nie, hoor ek ’n voëltjie fluit?”

Ma het tussenbeide gekom: “Skei uit julle, dis Kersfees.”

Ek kan tot vandag toe nie onthou wie gevra het: Wie ken Nan nie?

Kan ek nie onthou nie, of wil ek nie?

Die regop eetstoele was teen daardie tyd genadeloos; almal het na sagter meublement uitgedy. Die mans het gesit-lê in ma se wingbacks, asof hulle daarvoor ontwerp is, asof ons nooit uitgetrap is vir so sit-lê nie, net so onaanvaarbaar soos grawe in jou neus. Een van my ooms het op die sitkamerbank met ’n stuk geskenkpapier oor sy gesig gerus. Die niggies en neefs het buierig rondgedwaal tussen die sonkamer met die National Geographics en die skaakbord en die boord en die gras in die skaduwee van die blompruim en die ander pruim.

Maar Nan was reeds weer in Praag. “Toe ek oor daardie brug stap, was dit nie die beelde van die heiliges en konings en so wat aan my gevat het nie, maar die feit dat dit sewehonderd jaar geneem het om te bou soos hy vandag daar lyk. Sewehonderd jaar, ouens, ons kan nie eens tot by sewehonderd tel nie. As enigeen my wéér vra vir wat, waarom, vat dit jou so lank om net een hoed klaar te maak, Nan, sal ek vir haar sê: Loop loop oor daardie brug en kom vra my dan weer.”

Sy het agteroor geleun teen die harde rugstut van die chaise longue asof teen ’n stapel verekussings, haar bene op die bank geswaai en by die enkels gekruis sodat die enkelbandjies van haar rooi spykerhakke soos ’n strik om albei enkels gelyk het as jy jou oë skrefies gemaak het. “Jy kan g’n ’n oordentlike ding oornag aanmekaarflans nie.”

Sy het haar sigaret in die ivoorkoker in die rigting van die mans gehou. Pa het opgestaan om dit aan te steek. Die ander vroue het gelag en gesels tussen die skottelgoed en oorskiet in die kombuis.

Hulle was steeds daar toe Nan in ’n two piece in die swembad duik. Pa was reeds in die water, en ek en Nicola het hulle gebom.

Die haas is ná daardie Kersfees in ons glasvertoonkas gesit. Dit was nie so groot soos ’n regte haas nie, maar ook nie so klein soos ’n muis nie. Iets tussenin. Maar vir my kon geen ander haas by dié een kers vashou nie. Nie hasies in troeteldierwinkels nie, nie Peter Rabbit nie, nie Alice in Wonderland se wit haas nie, nie eens Witvoet, die oustert-troetelhaas van die bure nie. Witvoet het op ’n stoel aan tafel saam met die gesin geëet en soos ’n kat op die buurtannie se skoot gesit terwyl sy bo-oor hom brei of lees of koek en tee. (Witvoet is per ongeluk deur die anderkantse bure se gewoonlik sagsinnige Rottweiler die hase-ewigheid ingestuur. Hierdie tragedie het weke lank soos ’n Italiaanse opera in ons buurt afgespeel.)

Ons en ons maatjies, my ma se bediendes, die kinders van gaste, almal behalwe Pa, is die dood voor oë gesweer as jy dit sou durf waag om ooit aan Nan se haas te vat. My ma het dit self van tyd tot tyd afgestof. Dit was net vir kyk. Deur die loodglasvenstertjies.

Oor al die dekades het daardie haassnorbaarde nie gebreek of geskerf nie, van Praag via Nan se hoede-ateljee tot in Ma se vertoonkas. Die voetwebbe het nooit gebars nie en die ore het spits gebly in skakerings van perlemoer. Die kleur van die binne-oor het gewissel, na gelang van hoe die lig daarop val. En die groot, treurige haasoë was oral agter jou aan, waar jy ook al in die vertrek beweeg.

Ek het nooit uitgekyk geraak nie. Die haas was mooi én hartseer. Ek het hom jammer gekry dat hy so ver weg was van sy eie mense in ’n vreemde plek waar hy niks of niemand verstaan nie, en dit agter glas. By Nan kon hy darem asemhaal, is hy nie toegesluit nie, hy’t op ’n oop rak gestaan.

Net die keer toe ek pampoentjies gehad het en Nicola by die skool was, het Ma die haas uitgehaal en op die eetkamertafel neergesit. Net vir kyk. Dis al. Ek moes sit met my hande onder my bobene. Aan die ander kant van die tafel was Ma besig om ’n patroon uit te lê. Toe lui die foon in die gang en sy gee pad, maar terwyl sy die spelde uit haar mond haal, vermaan sy: “Nie vat nie!”

Vinnig – ontsettend vinnig – het ek ’n hand onder my been laat uitglip, en toe ek aan hom vat, vat ek nie aan glas nie, maar aan pels. Dis verskriklik sag, én hy laat my toe. Dis die wonderwerk. Hy roer sy ore effentjies. Verder sit hy tjoepstil, dis ons geheim, hy weet. Maar dan meteens wikkel sy agterlyf, o gonna, sê maar hy spring en hy spring van die tafel af, Ma sal my nooit glo nie. Maar hy spring nie. Dis eintlik maar net sy snorbaarde wat bewe, want hy wil ruik hoe ruik die dogtertjie wat altyd met haar gesig plat teen die glas van die vertoonkas vir hom kyk, maar nie net kyk nie, ook met hom praat.

Toe my ma die telefoon neersit, was my hande terug onder my dye. Ek het gebars om haar te vertel wat pas gebeur het, Mamma!

Maar ek onthou nog iets: Ma het later daardie middag, Nicola was al terug van die skool, iets kwytgeraak. Ek kan nie onthou na aanleiding waarvan nie, of dalk het ek nooit geweet nie. Dalk het dit wat sy gesê het iets met die oproep te doen gehad en absoluut niks met hoe dit in my verbeelding gestalte gekry het nie. Feit en fiksie is een kooksel uit ’n kindertyd.

“Nan mag ’n oujongnooi wees, maar beslis nie onskuldig nie,” het Ma gesê.

“Vertel, vertel …” por Nicola toe. Nicola was al in die hoërskool, ek was maar driekwartpad daar.

Ma skud haar kop: “My lips are sealed.”

“Ag, vir wat’s Ma nou so? Dis mos nie fair nie.” Weer Nicola.

“Almal hoef nie altyd alles te weet nie.” Ma het omgedraai en weggeloop, en haar naaldwerk het tot die aand op die tafel bly lê, totdat ek en Nicola die tafel moes dek.

Ná skool wou ek so ver as moontlik van die huis die een of ander opleiding kry, maar ek wou nie universiteit toe gaan nie. Nicola het gesê universiteit is moeilik, en haar skoolpunte was altyd beter as myne.

Die verste plek van die Paarl wat my ouers destyds kon bekostig, was Pretoria, en ek het my vir ’n klere-ontwerpkursus by die technikon daar ingeskryf. Ek het my ma – en Nan – se presiese oog en liefde vir lap geërf. Maar hoede het ek nie gemaak nie, wel klere – die bloeityd van hoede was lankal verby. Boonop sou ek nie wou hê Nan moet dink ek probeer haar na-aap nie.

My kinders was klein toe sy dood is. Ek het nie Kaap toe gegaan vir die begrafnis nie. “Daar was eintlik min mense,” het Ma agterna oor die foon vertel, “as jy dink hoe baie mense sy geken het.”

Ná Pa se dood, seker tien of so jaar ná Nan s’n, het Ma besluit om na ’n kleiner plek te trek. Ek het van Johannesburg en Nicola van Brisbane in Australië gekom om te help inpak. Soos verskeie van haar ander mooi goed wou Ma weet wie van ek of Nicola Nan se glashaas wil hê.

“Besluit julle maar, ek wil net gou badkamer toe,” het Ma haar verskoon. Dalk het sy gedink ons gaan daaroor stry.

“Nee dankie,” het ek gesê.

“Weird hoe klein hy nou lyk. Ek onthou dit as groter,” sê Nicola terwyl sy die haas bekyk. “Dis seker nogal iets werd, wat dink jy?”

Ma was nog nie terug nie.

“Nou vat dit dan,” sê ek.

“Weet jy wat dit my reeds gaan kos om al die ander goed in Brisbane te kry? Nee wat, hou jy dit.”

“Ek sê mos, ek wil dit nie hê nie.”

Moet ek haar vertel?

“Nou wat nou?”

“Kom ons laat dit per ongeluk val,” stel ek voor. “Of sit dit op Gumtree.”

Nicola lag. “Imagine wat Nan sou sê as sy weet ons verkoop haar haas op Gumtree.”

“Imagine.”

“Jy’t my nog nooit vertel hoekom Nan haar glamour vir jou verloor het nie, Sus,” herinner Nicola my, maar vergeet blykbaar haar vraag tussen die toedraaiery en Ma wat terug is en al weer oor ’n volgende item tob.

“Mens gaar te veel op,” sê Ma.

“Travel light,” beaam Nicola.

“Wat van tee, Ma?” vra ek, maar sê wat ek toe reeds ’n rukkie dink: “Ons dink ook jy moet die haas maar saamvat.”

“Ek weet nie, maar ek gaan eers vir ons iets maak om te drink.”

Toe Ma uit is, toe sê ek dit. Ek wag al sedert die einde van my standerdses-jaar, daardie Oujaarsaand, vir die regte tyd om vir Nicola te vertel. Hier was die kans nou.

“Oukei, ek sal jou vertel, Nicky,” begin ek.

En dan is Ma terug, gouer as wat ek gehoop het. Nicola vat die skinkbord by haar. Ek het vergeet Ma het altyd ’n warmfles met kookwater in die kombuis. “Kyk wat het ek vir julle twee gemaak!”

“Jippee!” Nicola klap haar hande. Ma blom. Vreemd hoe party grootmense weer kinderlik raak in die geselskap van hul ouers.

“Ystervarkies!” lag Nicola en onthou met dié dat sy nog sommige van die resepte in Ma se handgeskrewe resepteboek wil laat inskandeer en na haarself e-pos. “OMG!” Sy sal ook nooit voor Ma God sê nie. “Dink jy daai plek is al toe, Sussie?” Nicola het die volgende aand teruggevlieg, en ek het haar nooit vertel nie.

Dit was daardie Oujaarsaand in Nan se huis. Ek wou by Nan oorslaap oor Tommie en Nicola is saam met Ma terug. Pa het gesê hy loop agterna, hy het heeltemal te veel geëet, dit sal hom goed doen.

Ek weet nie hoe laat dit was toe ek wakker word nie, maar my bedliggie was nog aan en Tommie wat vroeër die aand by my op die bed was, was weg en die venster oop. Ek het geskrik: Nan het my gevra om die venster toe te hou, juis sodat Tommie nie kan uit nie, hy moet nog binne slaap, hy’s nog te klein. Ek het deur die lae skuifraamvenster geklim en saggies na hom geroep. Nan se kamerlig was gelukkig al af. Ek was nie bang omdat ek alleen buite was nie, maar doodbang dat ek vir Tommie laat wegraak het.

Ek stap ’n entjie, stop, roep saggies, luister. Loop aan, luister. Ek was byna teenaan Nan se studio aan die ander kant van haar erf toe ek die flikkerende skaduwees sien. Miskien het Tommie daar ingespring, dis waar Nan saans werk.

En toe sien ek wat binne aangaan, want daar brand ’n kers: ’n Man sonder klere tussen my en die venster. ’n Man sonder klere met sy rug na my, onbewus van my. Nan lê op die leerbank. Haar hare is los. Haar langlyf-bra blink soos iets wat opgevryf is. Die man draai effens en ek sien die sweep. Ek skrik. My hart galop so hard, dalk kan mens dit hoor, maar die man gaan net aan, hy hoor niks. Nan gaap. Mens gaap mos nie as jy bang is nie? Dan lek sy haar lippe, soos die honde as ma met hulle kos werk. Maar die honde se monde is nie so rooi nie, en hoekom het die man nie klere aan nie? Die man lig die sweep. Hy slaan haar een hou oor haar lyf dat die sweep klap. Ek voel naar soos die keer, net daardie een keer, wat Pa ons pakgegee het, vir my en Nicola met die stert van ’n sebra, een van sy uitstalgoed by die horsswepe en kieries van ivoor. Nan se lyf ruk. Haar mond is oop asof sy skreeu, maar ek hoor niks nie. Een van haar bene vlieg oor die agterkant van die bank, die ander voet in die skoen met die hak trap op die vloer langs die bank. Ek wil omdraai. Ek wil loop. Maar toe sy haar heupe lig, plak my oë aan haar daar onder wat nie hare het soos Ma en nou ook Nicola elke maand al meer nie. Die sweep val en die man tree nader aan haar. Sy gesig maak haar gesig toe. Ek kan ook nie meer haar daar onder sien nie. Al wat ek sien, is dat dit Pa is.

Die naaimasjien en ander stories

Подняться наверх