Читать книгу Die naaimasjien en ander stories - Rachelle Greeff - Страница 6
’n Mooi mondvol
ОглавлениеDie hoek van Plat- en Bougainvilleastraat is meer perdeskoen as winkelhaak. Bougainvillea is van die hoofstraat af teer en loop so geteer deur die draai waar hy Plat word, maar die teer maak dit nie enduit nie, soos ek dit nie sou gemaak het as dit nie was vir Erik & Eddy en antie Yvonne en Mr D’Oliviera en so nie. Van net voor die draai is dit, soos die tande van baie mense in Rondomskrik, meer gate as iets anders, al is hulle nie eers oud nie. In daardie draai van die pad – wat ek goed ken, dis waar Erik & Eddy se huis is – is soveel slaggate, as jy ’n inkommer is en dit het lank nie kom reën nie, sal jy kan dink Platstraat is van daar heelpad verder eintlik grondpad.
Platstraat word elke paar jaar gelap, maar dit hou nie. Die munisipaliteit stuur briewe vir die base van die lorrie-klase en daar’s ’n bord met ’n rooi streep dwarsoor ’n wit lorrie wat lyk nes die plestieklorrietjies by Pep, en somtye sit en rol Piet Wiele die spietkop snotbolle in die lappie skaduwee van die spekbosse om Erik & Eddy se huis. Desondanks al hierdie bangmaakgoete steur die drywers van die appelkoos- en skaaplorries hulle nie. Dis al kortpad Skapieseinde toe én die meeste appelkoosplase lê die dorp uit daai kant toe, verby die slagpale. Erik & Eddy het naderhand ook opgehou om vir Veronique September by die munisipaliteit en vir die mense by die Die Aalwyn te bodder met die lorries wat die pad in sy kanon in ry.
Hulle het toe al seker geweet hulle gaan waai, lank voor hulle vir my gesê het.
Die vrou wat nou Erik & Eddy se plek huur, huur net vir ’n tyd. Nes laas jaar, en die een voor dit. Sy kom elke oggend vir ’n espresso en bly Saterdae vir lunch, hier by Salomo.
Direk na Erik & Eddy weg is, het mense van die Kaap met kinders en baie honne en tot ’n ponie bid jou aan daar gehuur terwyl hulle gewag het vir die bouery aan hulle plek teenaan die leidam waar hulle nou ook regte perde aanhou. Vir die res is die hortjies toe en as ek daar verbykom, wat net af en toe is, moet ek my keer dat ek nie die drempel oortrap na die donkerte toe nie. Die For Sale / Te Koop-bordjie staan op windskeef bene langs die voorhek. Op die oomblik, so sê Doreen van Seeff en Magda van Kontrei Eiendomme beaam, is daar nege-en-tagtig huise in Santa Gamka in die mark. Petrol raak te duur om net vir ’n naweek hierheen te ry. Met soveel blyplekke om van te kies, waarom sou een hier – met die lorries wat van voor ligdag en tot watter tyd saans om jou jaag dat dit bars – wil woon? Boonop vra Erik & Eddy te veel, maar daaroor het ek my mond gehou. Dis die ding met rand en euro, jy kan nie wen nie. Hulle is mos terug België toe. Hulle sal nooit daai prys ruik nie, al was hulle inheemse tuin (buiten vir die vye en suurlemoene en olywe, het Eddy my geleer) glads in Garden & Home (die Icebergs en lavender is ook inkommers) en die binnekant van die huis in daai vreeslike fancy en belaglike duur tydskrif met die naam wat ek altyd vergeet. (Toe ek daai boek die eerste keer sien, daar by Erik & Eddy, sê ek vir hulle die meubels en goete is net so simpel soos die mense op Fashion TV, hotnosgotte op hemelhoë hakke, en vir wat lag niemand nie, is dit dan nie snaaks nie?)
Die een hele muur van die eetkamer van Erik-hulle is onder borde. Dit was nie die eerste keer dat ek gesien het hoe ryk mense se kombuis en eetplek aaneenloop nie, want som van my kliënte – die voriges van my vorige lewe – se huise was ook baiemaal so, maar ons het nie eintlik in daardie deel van die huis rondgehang en praatjies gemaak nie, dit was reguit kooi of sofa toe en Mary-Ann altyd op die shaggy-mat in die lounge van agter, daai mat was so min wol soos my hare (sý’t gesê dis ’n wolmat, merinowol ewe, is nie dat sy lieg nie, sy wikkel net die waarheid hiernatoe en daarnatoe), want my knieë sou waaragtig vlamvat van die brand as dit nie was dat Mary-Ann dan so en voor jy kan sê ertjie dan sus wil lekkerkry nie. Mary-Ann was op iets, ek weet, sy’t gesê as jy net lek in die regte rigting kan sy dit nie meer hou nie. Ek hoop ek onthou dit vir ewig, want die terugdink alleen maak my, jy weet.
Erik-hulle se muurborde was nou nie die getjipte Continental China-soort soos in ons huis op die plaas nie, toe ek my ma vertel, sy’t nog gelewe, wil sy weet maar waarom teen die muur, Lucky, is die mense van hulle peetjie? By ons was daar net vier en later twee kleintjies by, eetborde. As jy klipsop ken, is borde somdae oorbodig.
Daai muur, beduie ek vir my ma, is vir kyk (Ma weet mos die lap met die kruis op geborduur in die witkerk, wat jy nie op sal eet of so nie, dis so) en nie vir kos nie, elke een apart en dae lank met die hand gemaak deur ’n vriend van Erik-hulle in die Kaap. ’n Ke-ra-miek-kunstenaar.
Die res spaar ek my ma: Die spoggerige kokkejiste geverf op die borde. Maar daai’s het my nooit opgeklits nie, want elke lyf agter elke voël is eintlik soort van half gebreklik – vir my moet ’n mens mooi wees van toontjie tot kroontjie. Nie soos die vroue in daardie boek van Eddy, Look At Me, ek weet nie as mens half gebreklik is of jy jou so moet afwys nie. Baiemale het ek saam met Erik & Eddy-hulle gefuif om die tiensitplektafel onder die oë van al daai menere, die tafel nog van Erik se ma-hulle se plaas, en sy ouma se regtesilwermessegoed wat Erik met wynsteensuur skoongemaak het en nie Silvo nie. Erik sê: “Kwits, my ma’t die kombuisbediendes so geskel oor die Silvo, ek’t my geskaam, sy’t in later jare so geraak, sy was nie altyd so nie, want as jou water nie brandwarm is nie en jy gebruik te min Sunlight proe sy die Silvo, en bewaar ook die stomme siel as daar een, net één, Silvo-merkie is op ’n afdrooglap …”
Ou drama queen, lag Eddy oor Erik en nie sy ma nie, en vra of ek geweet het sy geite en manier van praat somtye soos Bettie Kemp en Riaan Cruywagen kom van sing saam met die kanaries.
“Watse kanaries?”
“Die army-koor, lank voor jou tyd.”
“Poofs,” spot Eddy en Erik skud maar net sy kop en sê Eddy is jaloers want sy klawers was van altyd af horingdroog.
Die snaaksste goed sê Erik so doodernstig. Sy oë of hy miskien bid, sonder ’n glimlag. Ghrênd begrafnisbakkies, sou my ma gesê het. Selfs as hy vertel van daardie mansfuiwe, dis wat hulle dit noem, waar jy alles uittrek by die deur en jou goed net so oorgee vir ’n ou agter ’n toonbank en in ruil kry jy, vir al jou goed buiten jou skoene, ek weet darem nie of ek ’n wildvreemde man by só ’n nagdonker plek sal vertrou nie, ’n rubberbandjie, vir jou pols, met ’n nommer. Jou eie nommer vir jou eie goed. En jy loop in in die halfdonker in jou eie skoene met net jou bandjie. Amper soos ’n skuur, vertel Erik, leerbanke waar jy kyk.
“Rubbish! Vintage plastic! It is supposed to look like leather but it doesn’t make the grade not even in that suicidal light,” tjip Eddy in. Eddy gaan nie saam na daardie rinkinke nie, hy gril hom dood.
“En tafeltjies met ligte. Jy weet daardie oranje borrels wat so swem in die buislig, soos embrio’s.” Maar genoeg lig dat jy die kondome – heeltemal verniet maar sterk, nie soos My Choice nie – by hierdie oranje jassiestasies met net een vat raakvat. So vertel Erik. Verskillende manne van allerlei ouderdomme, sê hy, party harig en ander glad geskeer, en vettes en sommige die ene bene en party wil net kyk, ander eerder vat, maar almal, almal dink seker die mik van ’n man is ’n krismispersent van God wat niks anders kan wees nie as ’n man.
Ek wens ek kan daai borde die hele muur vol net weer een keer sien, en die tafel, maar oor my dooie liggaam sal ek een van my kliënte vra of ek asseblief bietjie kan oorkom na die huis wat jy huur toe, dan is my goeie naam in die stof. Ag seker nie eintlik oor die borde of Erik se ma se tiensitplek nie, maar dat ek vir ’n feit weet daardie tye saam met Erik & Eddy was nie iets wat ek gedroom het of nou uit my duim staan en suig nie. Om daai tafel het ek geweet ek’t regtig ver weggeloop van ons huis van klip en modder.
Die eerste keer toe ek Erik se ma ontmoet, sy’t altyd vir vier weke oor Kersfees na hulle toe gekom, het sy gevra, hare gedoen en grys getease deur Marco Hare jy sien dwarsdeur soos hoender-mesh: “Nou Lucky sê my, leef jou ouers nog?” Lieflike antie wat deur die veld stap saam met Erik-hulle en die honde, Bessie en Frieda, met haar kierie en haar truitjie teen die laatmiddagluggie, Lucky, kom jy saam, my kind?
Die vrou wat nou die huis huur, is opstêrs sê die mense, maar dis nie dit nie. Ek sien mos, dis haar manier, eenkant, nie alkant nie. Ek’s omtrent al mens wat haar naam ken, Scarlett, en met wie sy praat, soms praat, wanneer sy soggens elfuur (klokslag saam met die witkerkhorlosie) haar fiets hier voor teen die muur teen Eddy se swart kat staanmaak. Ons weet al wat sy wil hê en groet net ordentlik op ’n afstand: ’n enkel-espresso in ’n gewone koffiekoppie met warm gestoomde melk in ’n bekertjie apart, heuning nie suiker nie en ’n skeutjie kaneel. Please. Dis die nuutste, dié kaneelstrooiery, sy’s nie al een nie. Dadelik, nog voor die koffie kom, begin sy werk. Ná dié koffie gekom het, sit en werk sy vir nog so veertig, vyf-en-veertig minute, niemand kan ’n enkelespresso uitrek soos sy nie. Ek het haar al getime, as dit stil is hier moet jy jou eie goete vind om met jou kop te doen, want wat kan jou hande dan doen, alles is al lankal blinkskoon en gepolish en net reg vir vat. Niks worry haar nie met haar werk, al kom hier ’n bus vol skrefiesoë tjie-tjie agter die kameratjies wat al kleiner word ek kan partykere nie die verskil sien tussen ’n iPhone en ’n kamera nie. Maar as sy alleen sit, dan kyk sy op van haar werkery, uit straat toe, gaan aan, kyk op. Sy’s nie die soort wat so tekere gaan en beduie met hulle se arms en hande hulle kan maar net sowel kliphard oor alles en almal vir jou skreeu hei jy! nie. Sy wag totdat sy iemand se oog vang. Dan praat sy eers as jy by haar tafel is en vra vir dieselfde. Weer please. Saam met die tweede een neem jy haar rekening, Amy of Josef, wie ook al aan is, ken nou ook al haar ding. Dan werk sy weer, seker so ’n halfuur. Dan eers sit sy haar laptop en papiere en goete terug in haar rugsak, sit haar sonhoed op en vat weer haar fiets dat Eddy se kat nie deur die speke na die straat hoef te kyk nie. Eddy het die kat geteken, sy stert slim soos ’n slang, en Erik het my plek gedoop: Salomo se Kat.
Ek het daai tyd gesê kom ons noem die plek Seamus. Agter Seamus aan, die ou geelkatmannetjie wat elke nag saam met hulle op die bed geslaap het nadat Thomas eendag net weggeraak het, seker gepik deur ’n slang, want hulle het albei so in die rondtes geloop en jag. Nie dat dit nodig was nie, want daai katte het beter geëet as die meeste mense van Rondomskrik waar al my anties en ooms gewoon het en dié wat nog skop steeds bly woon. ’n Kat sal dwaal as hy wil. As jy hom in ’n blik in kan druk, moet jy weet hy was van blinddag af nie lekker nie en moes eerder kop eerste gedruk en gehou word in ’n emmer water, dit vat nie lank nie. Vra maar vir meester Raphael uit oor hardekatgeit daar waar hy al dikker lê en word op die counter onder die lig, nie dat hy hom sal verwerdig om jou te antwoord nie, sal nie eens ’n oog skreef nie. Seamus is ’n goeie naam vir ’n kat, Lucky, het Eddy gesê, maar ’n stupid naam vir ’n eetplek.
My katte was al wat ek ooit gehad het in daardie kliphuis van Rooiboer Kobus, wat altyd syne was en nooit ons s’n nie, en iets wat ook nie Toy- en Dian-hulle en later die laatlamklimeidjiekind s’n was nie. Ons het baie gespeel met woorde daardie aand en Erik het sy boeke gebring en geblaai en my gevra of ek weet waar die kat is.
“Watter kat?” wou ek weet.
“Die een in die Kaap,” het hy gesê met sy sagte stem en sy arm op die rugleuning van die bank agter Eddy se kop waaraan hy partykeer gevat het met sy mooie vingers en dan wens ek. “Het julle dan nie op skool geleer van Katzenellenbogen nie, Lucky? Ek meen, dis tog nie net witmensgeskiedenis nie, is dit?”
Dit het ’n klokkie gelui, maar voor Erik kon sê en ek weer leer sonder ’n oog in ’n boek, het Eddy ingetjip: “Erik loves playing John Keating John Keating, darling, don’t you just? Just leave the boy to relax and have some fun.”
Ek wou Eddy sommer stilmaak, want wie is John Keating, maar was vir Eddy somtye effe op eiers. Hy’t ’n onverwagse manier, veral ná hy te veel gedop én gerook het. Lag en grap meestal, dis sy innerlike aard, so uit sy nate dat Erik baiemaal raas kamma met daardie skaam glimlag van hom: “Jy moet jou karakter digter teen jou boesem hou, Eddy.” Dan wil Eddy hom breek.
“My character is a slut, tits all over your face!”
Hulle was baie mal oor mekaar, al het hulle soms soos kat en hond baklei. Maar my ma-hulle ook. Pa én Ma het boonop met die plathand en vuis ingeklim, wat Erik-hulle darem nie doen nie, wel, nie voor my nie.
“Kattemaai,” stel Erik voor.
“Jy’s seker lekker mal. Dink jy die kwaaijongens gaan nie die eerste aand al die m van die maai spray paint dat hy net een been het nie?”
“Pleks dat hulle bietjie hulle ma’s se huise spray paint. Waar kry hulle anyway geld vir verf in ’n spuitblik, Lucky? Ons kan dit nie eens bekostig nie.”
“Die goed val mos heeldag van die lorries af, saam met die selfone en so.”
“Soos dit nou gaan in Suid-Afrika word alle babies een van die dae met net sulke lang vingers gebore,” en dan wys Erik ’n halwe meter of so met sy hande, en ons lag.
“Why are you two carrying on like girls who got lucky?” wil Eddy dan eers weer weet en Erik moet verduidelik, want Eddy is van Australië en sê sy Afrikaans is non-existant, maar hy lieg die nete van sy kop af, want hy verstaan elke woord. Hy wil dit net nie praat nie, oor hy eksie-perfeksie is, ek meen, kyk na sy tuine, al die blankemense met pitte s’n op Santa Gamka.
Daai twee manne tog, ek mis hulle. Ek en Erik whatsapp en facebook bietjie, maar nie rêrig nie. Hulle swerf, dan hier, dan daar, regte gypsies. Ek het al vir myself uitgewerk: daai tye was ek die regte puzzlestuk, vir toe. Maar toe’s dit oor en uit. Vir hulle. Nie dat hulle my vergeet het of daar slegte bloed of iets is nie, nee, kyk waarmee het hulle my alles op die pad gehelp. Dit dink ek baiemaal terwyl ek alleen skoonmaak en toemaak en vat aan Erik se ouma se tafeldoeke alles wit met net die een donsgeel streep naby die rand met klawerblomme alles uitgewaste geel soos geel raak van op bleik lê onder die son van die soetwoestyn, soos Erik hierdie wêreld noem, en haar silwerkoekvurkies te klein eintlik vir ’n man se hand, maar ai, dit was Erik se ouma s’n en hy het dit vir my gegee. Kyk net vir Salomo, ek bedoel nou hierdie plek van my, Salomo se Kat: Hulle het gehelp teken by die bank en hierdie naam gegee, en Eddy het die kat teen die muur gemaak, en daardie einste kat sit nou op fone en rekenaars en sekers dressers ook, dalk oor die hele wêreld. Baie kliënte vra wat’s die storie van die kat, wat beteken die naam van my plek, want by die naam op die uithangbord op die sypaadjie is ’n kleiner nommer van dieselfde kat, ook Eddy se handewerk, en dan weet hulle daar’s ’n konneksie al praat hulle Japannees. Hulle neem dit meer af as wat hulle vir Raphael op die counter afneem. Seker oor sy hele lyf sê: Vir wat kyk julle so, voertsek!
Hoe vertaal mens Salomo se Kat? Klink simpel in Engels. Eendag vra ek ’n jong Israeli, hier, hy’t alleen daar buite onder die prieël gesit, wat dit in sy taal sal wees. Ek kon sien, van toe hy sy helmet afhaal en die ligteblou hempie plak oor die six-pack, hy wil gesels. Toe vra ek hom, maar eers nadat hy vir my gesê het hy’s ’n biker en ry nou, op sy eie, deur Suider-Afrika. Hy’t gedink ek maak ’n pass, gehoop ek ry ná toemaaktyd agterop daai dik fiets styf teenaan sy rug na ’n naainessie agter hortjies én blindings en baiemaal gordyne ook nog, waarom? Maar daardie tye is vir my mos verby, buiten dat die Israeli’s kak aanjaag, het Eddy oor en oor geblaf, én ek hou van ’n lid met ’n loslippie. Chatul, dis al wat ek onthou, chatul.
Is net vir party kliënte wat jy so iets kan vra. As jy hand om die blaas raak, sien jy jou gat. Eddy het my dit geleer, want hy was self lank in die bedryf. Die plek wat hy die langste gehad het, was De Lange Tafel. “Your clients are always, always, you can say en croûte. Don’t even think of going there.” Erik het gelag, hy ook. “Unlike your other clients.”
En croûte?
As skool maar so lekker was.
Sy predikasie was eintlik oorbodig want my tertdae, binne én buite die kors, was daai tyd oor en uit, maar Eddy was daardie aand weer die ene pastoor wat poes gelek het en dan van skuldig voel en agterna-lekkerte op ’n roll is. Net Eddy was altyd so bevatlik in sy gevoelens anders as die godskamkastigmanne, en dit sonder ’n ooghaar agterafgeit.
Wat betref die other clients, daai ding ken ék weer van die werkkant beter as hulle twee. Hier was ek die meester en kan ek hulle ’n paar trieks wys, hoewel nie vir dié twee rondlopers nie, hulle was net vrinne. Eddy kon my pa gewees het, maar hulle was nie pa of ooms nie, nie broers of mooiweersvrinne of grootwordmaters of enigiets wat enigiemand anders was nie, ook nie Mr D’Oliviera nie, of Olyfpens destyds of Rooiboer nie, die ou boknaaiers met vet vroue en ewe vet kinders indien nie binne-in die kerksraadbanke van die witkerk nie in die voorste banke net agter die kerkmanne. Ek was die gasheer en tafelmeester van die other clients vandat antie Yvette my ingelyf het en sommer al daardie eerste middag, ek was sestien, gesê het: “Jong, Lucky Marais, jy’t gróót talent. In daardie job soek party juis dat jy hulle van binne af buitentoe bring met jou mond of jou voël, of met jou prate.” Ek was goed met al drie daai goete: mond, voël en praat. Antie Yvette: “Kwit, kind, jy’s langasem.” Antie Yvette proe na die appelkoosballs in die glasflesse op die counter en ek kon my hele kop tussen haar warm pramme inwurm en daar onder ook, nóg warmer en sopwaternat. Antie Yvette het nooit, soos baie van die ouerder anties, juices uit ’n buisie onder die matras nodig gehad nie.
Eddy het vertel van De Lange Tafel en dis nou eers, noudat ek ook ’n man is, dat ek verstaan hoe party mense al meer praat hoe meer hulle verlang en ander al minder of niks. Soms is die baiepraters lekker, ander kere verkies ek die stilles. Soos die vrou wat nou hul plek huur. “I’m Scarlett,” sê sy die dag toe ek die espresso voor haar neersit en liggies grap, net so ’n ou sinnetjie oor ma’am se alewige werkery op ’n plek waar mens eintlik moet ontspan, of hoe? Maar sy worry nie, sy’s vriendelik, nes haar fooitjies.
Sy gebruik mooi woorde, nes Mr D’Oliviera en Erik. Ook so ’n glimlag met brieke, dalk is dit iets van slim mense. Nie suinig nie eerder skaam én cosy in jou eie slippers.
Scarlett huur die huis weer net vir ’n tyd om ’n boek wat sy skryf nou heeltemal klaar te skryf, en ek vra of sy weet Erik was ook ’n skrywer. Sy sê net yes, niks meer nie en ek bly toe ook stil. Haar vel is glad en lig, jy kan haar ouderdom nie raai nie. En daardie been oor die boonste pyp van die fiets, jong, ek wonder.
Die vorige jaar het sy ook ’n paar maande gehuur en van toe af al kom sy hier. Ry op haar fiets, regop-orent soos ’n graatjie, by ander plekke verby om haar fiets teen Salomo se Kat se muur te parkeer. Wanneer sy die twee trappies na die stoep op, verbeel ek my maak haar een heup anders as die ander een. Dan kyk ek stipper, sonder dat sy sien, maar dan sien ek weer niks.
“Your espresso is the finest in the village.”
Village. Nie town nie. Nie this place nie.
Mr D’Oliviera het graag uit sy gedigteboeke gelees van die wasteful war wat standbeelde in hul kanon in vernietig het, want hy was in Engeland, hy’t dit met sy eie ore gehoor, sulke Shakespeare. Dink, Lucky, dink, onthou, en iets root out … nor Mars his sword nor wars iets iets burn, the something record of your memory. Maar eers toe Scarlett daardie sewe, nee, agt woorde sê, toe eers hoor ek dit met my eie ore. In Salomo se Kat: Shakespeare.
Een oggend, uit die bloute, vra sy my oor die draai en die lorries om Erik-hulle se huis. Ek kon sien sy weet ’n dorp is nie ’n plek waaroor jy moet mond uitspoel net omdat jy reken jy’s van ’n groter plek – en dit nog ’n ander land – nie. Daar moet tog ’n goeie rede wees hoekom hulle die hoofstraat oorslaan – al is daar selfs buite die olyffees en die appelkoosfees en die bergfietsfees nooit juis baie verkeer nie en nie een verkeerslig nie, minderige voetgangers, selfs Vrydagmiddae.
D’Oliviera was al mankoliek gewees hier in die outehuis langs net een rakkie boeke, wat hy altyd gesê het, is sy kinders, sy boeke, toe het hy steeds gepreek: “Jy’s nie dom as jy vrae vra nie, Lucky Marais, jy’s dom as jy nié vrae vra nie.”
Ek weet self nie hoekom die lorries daardie pad ry nie en nie met die hoofstraat langs nie, maar ek raai dis oor hulle kan jaag en dis ook wat ek vir haar sê. Pla dit haar? wil ek weet.
Nee, nee glad nie.
Ek sal nooit daaraan dink om by ’n wildvreemde kliënt te gaan sit nie, nie eens as hulle my nooi nie, ek bly maar staan as hulle my iets vra of so, maar toe doen ek dit. “Wat doen jy?” wil ek weet.
“Ek is ’n skrywer,” sê sy, in Engels natuurlik.
En ek praat ook Engels, want ek kan: “Waaroor skryf jy?”
“Meestal weet ek self nie.”
Sy moes gesien het ek verstaan nie. “Ek weet nie, tot ek amper klaar is,” sê sy toe.
“En is jy amper klaar?”
“Miskien.”
“Dis goed. Dan gaan jy seker weer terug?”
“Dan gaan ek weer terug.”
“Dis jammer.”
“Alles is jammer.”
Ek staan weer op, verskoon my, stoot die stoel terug en draai om.
Sy praat met my rug: “Die een mens in my boek, die een karakter, ly aan demensie.”
Wat is dimensie nou weer, dink ek, dink ek baie hard, maar weet nie en kyk net vir goeie maniere terug en glimlag en vra niks en wil net aanstap terug na my werk toe sy met een vinger tik teen haar kop: “Dit maak toe,” sê sy en dit laat my helemal omdraai terug na haar, maar ek bly waar ek bly. “Die groot fabriek hier bo dank almal af. Kanselleer die krag. Stop die water. Maar dis nie soos ’n kas, hierdie verstand van ’n fabriek en fabriek van ’n verstand, wat jy leegmaak en dis gedoen nie. Daar’s derhonderde papiere en pypies, ontelbare dinge, onsigbare goed, wat alles een vir een stukkie vir stukkie eers moet af voor dit kan weg. In die een deel van die fabriek hang die vlermuise en langbeenspinnekoppe al en kom nes die kransduiwe, dan’s ander dele nog aan die gang. Langsamerhand raak dit al meer skemer, maar nie salmrooi soos hier by julle nie.”
Eers dink ek sy praat oor haarself – haar eie kop – maar as die vlermuise in jou kop hang, kan jy seker nie so praat nie. Ek weet nie wat om te sê nie, Lucky, jy’s altyd so bekkig, wat nou? Ek draai weg, loop agtertoe en kry ’n glas koel water en ’n skyfie suurlemoen en sommer ’n peppermentblaar ook al moet mens nie al twee gelyk doen nie, en vier blokkies ys, twee te veel seker, en neem dit vir haar, ek vergeet skoon van die piering en die servet.
“Thank you.” Dis al wat sy sê: thank you.
Ek weet wat are in Engels is: veins, reg? Maar kalk? Chalk? Wat’s kalk tog in Engels? Mr D’Oliviera, help my. Antie Yvette se are in haar kop in het ook so verkalk wanneer ek gaan kuier, en sy praat kwaai met Chardonnay, haar dogter en my niggie, hier’s ’n man wat sy nie ken nie, wie’s dié man? Bel die boere voor hy my rape – nie dat die boere sou worry nie. Chardonnay kom sê: “Askies, Lucky, Ma se kop raas mos deesdae. Sies, Ma, dis jou eie suster se kind, kan jy nie sien nie, onthou jy dan vir Lucky nie, Lucky van antie Marta?”
Maar antie Yvette, wat nou ruik na pie en koolbredie, kyk net na my en haar oë wat bruin was, is so vaal soos die stofpad deur die chiffongordyne vóór sy dit vir Krismis gewas het.
En toe vra ek vir Scarlett, voor ek myself kan keer, want as ek dit vergeet, vergeet ek een van die vernaamste parte van myself en my lewe en my alles of ek nie asseblief kan kom kyk, net kyk, na Erik se ma se tiensitplektafel nie. “Before it happens, the lime in my mind.”
“Natuurlik,” antwoord sy.
Toe ek die aand stap na die huis wat ek ken soos die palm van my hand wens ek ek kon vir Mr D’Oliviera sê, kyk, Mr D’Oliveria, kyk wie gaan nou kuier by ’n blankevrou van Engeland wat Shakespeare praat. En hy sal sê mens moet heinings maak om jouself en jou goete hier binne, maar hoe daai heinings lyk en wanneer jy dit wil verskuiwe, weet net jy, Lucky Marais, jy begryp?
Is so, Mr D’Oliviera, is so. Maar vir eers, vir hierdie louwarm vroegaand, vir hierdie dag en datum, hoop ek jy merk my, ek, my ma se suiwere komafkind, in my Levis en nuwe Nikes padlangs in Bougainvillea in die rigting van Erik & Eddy se hoekhuis op die uitnodiging van Scarlett-Rose – so staan dit op haar kaartjie – Darcy Ridding. ’n Mondvol, sou my ma gesê, ja, Ma, maar ’n mooi mondvol, wat dink Ma?