Читать книгу Die rugkant van die bruid - Rachelle Greeff - Страница 6

Die manne in die pakke

Оглавление

Haar man is weg. Anderkant die loergaatjie is ook niemand nie, maar tog. Dis twaalfuur en onder die straatlig dam die asgrys mis al dikker. Sluit die konsertinahek, die Yale, die loper en skuif dan die kort dik ketting dwars.

Die hond en die kind lê kalbasmaag van die melk en kreun al op die uur saam met die tak-tak in die portaal. Die Siamees, wat op sy dag kon brom soos ’n hond, nou ineen van artritis en krimpgetrek agter ’n katarak.

Dis so stil jy hoor hoe die buisligte sing.

Sy is alleen en wakker. Dis hoekom sy seker maak die oregondeur is gesluit, weer en weer.

Al weet jy voor jy omdraai, die gevaar is eintlik agter jou rug. Binne-in jou huis.

Maar jy kan niks doen nie, want dis die uur van kan nie meer keer nie. Die uur van geen verweer teen die manne met die hoekige pakke, die stoflose skoene. Hulle het hulle weer in die aandkoerant, wat saam met die donker doef teen die deur, ingewurm.

Kreun tak sug tak. Die kind wieg slapend voort, onbewus nog van sy onrus wat vir eers in haar hurk.

Hulle is dikwels hier deesdae. Selfs op ’n Saterdagoggend as die huis nog ruik na badseep en slaap. Kom, Boemelsakkie, roep sy die kind, kom ons luister na die radiovoëltjie wat fluit fluit voor die tannie vertel.

Die kleintjie se gesig blink.

Al die maatjies moet nou nader skuif, want tannie B. begin: Buks het masels.

Buks, so praat hy uit sy siekbed met sy sus, wil eendag ná skool oorlog toe. Gesond word en groot om ’n gesonde, groot soldaat te word. Te ra-ta-ta, te salueer en vlag te hys.

Sus, die soet klein slaaf, luister in gepofte lint na Boet se dapper drome en sy siek parate praat. Ja, Boetie, ja, en eendag as ek groot is, dis opgewonde Sus, gaan ek ’n verpleegster word wat jou wonde verpleeg, of wat dink jy?

Daar was klank en roering daardie oggend: stippels in ’n sonstreep, die kat wat purr op die duvet en die afvee, aangee, uit- en optel van Soenegevreet. Maar voor tannie B. se stem stil geword het, het sy hulle klaar in haar huis hoor sluip.

Nou spin net die stilte om haar en om hulle.

Skakel die buiteligte aan. Een op elke hoek, maar met die mis kan jy nie meer die vlerke van die pronk-ertjies sien daar agter teen die draad nie. Vroeër al trek sy elke gordyn voor elke venster dig. Die huis is versier met diefwering en iewers ’n ogie wat rooi flik.

Ek sluit my weg en belig my skuilplek. Ek is ’n weerlose, hoë-risiko-teiken.

Die dakteëls kan nie af nie, het hy gesê toe hy nog hier was. Jou hoekhuis is so onaanraakbaar soos Tuynhuys. En beter, het hy gesê, want daar loer die uniform wat in die agapante hurk jou af.

Sluit jou buite bereik van die skroewedraaier, die dodelike sigsag van glas. Pasop vir jou eie nylonkous. Sit die spreiligte aan, want hiervoor is die Buttonoog bang.

(As hulle die dagga en die Mandrax saam vat, raak hulle mal, mevrou, sê Annie, concerned oor haar mevrou so alleen. Sy ken die waansin van die Witpyp.)

Keer die dronk drif wat na jou korrel, stuit dit met vierdubbele slotte van staal. Neem ’n Baretta .22 bed toe.

Alleen in ’n parkeergarage. Die lugreëlaar dreun en die dak druk laag op die verlate beton. En dan, agter jou, die knars van ’n manskoen. Steek hom met die sleutel in die oog, skop hom in die knaters. Maar as hy op jou is, is jy tog verlam, en die J-vlakdak begin te val.

Die vlies skeur weer, en wreed, hierdie tweede onwillige keer. Sy weet, want dis op die vroueleerplan, van voor skool af, saam met badgewoontes en gebede.

(Dis ’n mite, lag die sportmal soldaat. Julle soek dit, sê die kaalbolyf kaptein, en as hy haar bykom, het hy ’n stophorlosie in die hand.)

Maar hoe veiliger die vesting, hoe groter groei die vrees. Lood omhels die teer organe in haar buik. Sy sit regop in die dubbelbed.

Nou’s dit net angs oor die ander wat ook na haar hyg: hulle teen wie mens nie gewaarsku word nie, hulle wat altyd toegang het tot binnekamer en bed, hulle geklee in die kleur van teer. Die koerantgesigte. Die brigade wat om kwart voor sewe soggens, by die nuus, broek en das toegulp en knoop oor die wit onderbroek en gaatjiesfrok. Driehoekie in die baadjiebosak. Soms, vir openbare okkasies, ’n angelier aan die bors. Kyk, die vierkantige bril boesem vertroue in en die vlees tussen die grys blink so eie en bekend. Soos ’n oom. Of ’n op en wakker oupa met ’n dubbelken. Dubbeld besorg. En deur die geskeduleerde dag kreukel die stywe wit boordjie onder die welgevoede wange nooit.

Gaan kombuis toe, gaan soek styselsoene. Die laaste oorskiet skep sy uit die poedingbak, skeur die vla-karton oop en dra die soet homp terug na haar bed. Vreet die vrees uit jou huis: dis ’n amperse orgasme, en die gevolg ’n blywende fort van vlees. Jou boude en borste swel tot sandsakke, vir jou kind om agter weg te kruip. Veilig teen hofskoene, snyerspakke in uitsaai-ateljees, die mans in donker Duitse motors, met die swart hoede wat so maklik afgly na die bors vir wyding en gebed.

Hulle glimlag op foto’s en maan so minsaam, die manne met die krae stram en bleek. Maar dis vir julle, sê hulle met tonge wat tril, dis in belang van julle almal. Vir veiligheid en vrede in hierdie mooi erfenis van ons, dreun dit nes stootskrapers. Hul woorde reën soos rubberkoeëls, dans soos donshael.

Wat word van al die angeliere?

Kanselleer, as oplossing dalk, die koerant en lees vrouetydskrifte. Mielies sonder moeite. Breigoed vir babas. Planne met plooie. Vang só die regte man. Ondersteun só jou kêrel op die grens.

Onthou jy die vriendelike oom in die gesinsmotor buite die skoolhek? We’ll clip their wings. Sit agter ’n koerant, maar kyk in die truspieël. We’ll clip their wings – en as jy in die verbyloop uit die hoek van jou oog inloer – just as we clipped the wings of 19 revolutionary and activist organisations – sien jy hy sit met een hand daar onder en jy kan nie presies sien wat hy doen nie, maar die skrik bondel op die krop van jou maag en as jy by die huis kom, eet jy jou dik aan beskuit gedoop in koffie en sê niks.

Haar lyf ken die ou groewe van vrees en vreet. Sy val maklik in stilte terug en dink: Een van die dae sal ek die radio en TV verkoop, nie meer voorblaaie of middelblaaie lees nie, nie meer my ore uitleen aan pers bespuites en plakkaatlopers op straat nie.

Dan sal ek nie meer weet wat die koerantgesigte doen of nie doen nie, die stygende steminfleksies sal nie meer deur my skeur nie, en die bang sal verby wees. Al wat sal oorbly, sal die vrees wees vir verwurging en verkragting, en dié sal ek vertroetel.

In vrede sal ek gladiolusbolle in die aarde plant of brei met 4-draad-wol. En die manne in die pakke sal my nie meer ry nie.

Die rugkant van die bruid

Подняться наверх