Читать книгу Regardt - Regardt van den Bergh - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Kosmiese appèl

Kan jy ’n beeld vorm van die groot wye wêreld?

– Job 38:18

My pa was nie ’n gereelde kerkganger nie. My ma ook nie.

Die kerk en die Bybel het nie ’n plek in ons gesinslewe gehad nie. Ons was wel lidmate van die NG-gemeente Linden in Vyfde Straat, maar ons was nie meelewende lidmate nie. Sondae was ’n dag waarop ons by die huis was en my ouers miskien saam met hul vriende gekuier het en my pa besig was met sy voëls waarmee hy geboer het. Hy het in ’n stadium meer as ’n duisend voëls van alle soorte in ons agterplaas gehad. Hy het altyd gesê daar by die voëls is dit soos om in die veld te wees, net baie lekkerder.

Daar was nie sprake daarvan dat ons almal op ’n Sondagoggend sou opstaan en aantrek om kerk toe te gaan nie. Die kerk was op die buitekring van ons lewe. My pa en ma het nooit saans toe ons klein was vir ons uit die Kinderbybel gelees en vir ons gebid voordat ons gaan slaap het nie. Dit was nie ’n behoefte by my nie, en daarom het ek dit nooit as ’n gemis ervaar nie.

Tog het my ma ons Sondagskool toe gestuur. Dit was iets wat ek baie traag gedoen het. Ek het altyd ’n verskoning probeer uitdink om nie te gaan nie, want dit was vir my swaar om op ’n Sondag ook nog in ’n klas te moet sit. Ek kan eerlik sê dat ek in daardie jare niks van die Here geweet het nie. Niks! Die Here was vir my soos ’n baksteenmuur. Onpersoonlik. Ek het wel kerk toe gegaan, maar soos die evangelis Reinhard Bonnke dit op ’n keer verduidelik het, kan ’n mens in ’n seepfabriek werk en nog steeds sleg ruik. So was my kerkgang. Die enigste verklaring wat ek nou daarvoor het, is dat die vyand my verblind het. Die duiwel het my daardie tyd met ’n geestelike blindheid geslaan. Ek het geen idee gehad wie die Here is nie.

Aan die einde van my hoërskooldae moes ek saam met die ander kinders die gebruiklike katkisasie-eksamen doen. Aand ná aand vir twee weke lank moes ons in die konsistorie aanmeld waar die dominee die belydenisskrifte met ons behandel en vir ons verduidelik het wat ons pligte as toekomstige lidmate van die gemeente gaan wees. Die Bybelkennisvrae moes ons ken, want daarvoor moes ons ’n ordentlike punt kry om die ooms van die kerkraad te oortuig dat hulle ons kon aanneem. Die katkisasie is afgesluit met ’n persoonlike onderhoud waar ons afsonderlik voor ’n paar ouderlinge moes verskyn om jou te weeg en hopelik nie te lig te bevind nie. Daarna is ons op ’n Saterdagaand by die kerk “aangeneem” en die volgende oggend by die kerkdiens “voorgestel”.

So het my amptelike verhouding met die kerk tot ’n einde gekom – met ’n sertifikaat met my naam daarop, ’n Bybelvers wat die dominee my gegee het en ’n stywe handdruk van een van die ooms van die kerkraad. Die bekende ds. DPM Beukes, later ’n moderator van die NG Kerk, het die sertifikaat vir my op 25 April 1969 gegee met die teksvers uit Johannes 6:29 daarop: “Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het” (1953-vertaling).

Jare later toe die Here my geestesoë oopgemaak het, was my bekering ’n allesoorheersende ervaring met God. Ek was intens bewus van die werklikheid van die Here en ek het duidelik besef dat alles wat ek om my sien God se handewerk is. Dit was dadelik vir my duidelik dat God ’n baie groter doel vir my het as wat ek my ooit kan probeer voorstel …

Ek het van kleins af ’n aanvoeling gehad dat ons deel is van ’n groter geheel; dat ek, Regardt, wat intens bewus was van myself as ’n lewende wese, iewers aan ’n groter doel beantwoord; dat ek met iets op ’n hoër vlak korrespondeer. Daar was van vroeg af ’n verwagting, ’n opgewondenheid by my dat iets met my gaan gebeur. Dit het eenvoudig nie vir my sin gemaak dat ek só bewus was van hierdie ervaring dat ek bestaan en tog kom daar niks van nie. Ek het gevoel daar was iewers uit die kosmos ’n appèl op my om meer te word as wat ek is, ’n persoonlike uitnodiging iewers uit die heelal om deel te hê aan iets of Iemand wat groter is as ek en wat my sal oorleef.

Daar is definitief ’n sterk geestelike element of aspek van my samestelling as mens, en ek was bewus daarvan lank voordat ek die Here leer ken het. Die geestelike dimensie van ons bestaan interesseer my geweldig. Hierdie geestelike selfbewussyn sou my op baie paaie lei in die soeke na daardie groter doel in die lewe. Onbewustelik het hierdie geestelike bewussyn my voorberei en ontvanklik gemaak vir die oomblik toe daardie kosmiese appèl, daardie persoonlike uitnodiging, in die stem van die Here na my toe gekom het.

Alhoewel ek hierdie geestelike bewussyn gehad het, het ek het nie geweet waaroor dit gaan nie. My geestelike bewussyn was ook nie noodwendig bevrydend en verrykend nie, want ek was baie meer bewus van die donker wêreld as van die Here Self.

Wanneer ek nou terugkyk, weet ek verseker dat daar die een of ander geestestryd om my siel gewoed het. Ek onthou hoe ek as jong kind in die bed na die plafon gelê en staar en by myself gewonder het wie ek is en wat ek hier op aarde doen. Die feit dat ek ’n lewende wese met ’n verstand en gevoelens was, en dat daar miljoene ander lewende wesens soos ek is, het my gefassineer. Leef ons almal nou maar so van dag tot dag op ons afsonderlik unieke manier sonder dat daar meer is as ons aardse aspirasies, het ek dikwels gewonder. Ek weet nie of dit altyd ’n gesonde ding was nie, maar ek het gevoel dat daar iets spesiaals gaan gebeur. Ek het gedink ek gaan een aand nog wegdryf. Sommige aande het ek as jong kind in die bed gelê en by myself gedink ek gaan nou letterlik opstyg: “Hier gaat ek … ”

Waarheen ek sou gaan, het ek nie geweet nie. Ek het geen idee gehad nie. Dit was net so ’n ongelooflike gedagte. Soms het ek in die aand ’n eienaardige ervaring gehad wat onwillekeurig was. Terwyl ek in die bed lê, het ek skielik ’n eienaardige smaak in my mond gekry. Dan sien ek myself in ’n woestyn en hierdie balletjie wat na my toe aangerol kom. Saam met hierdie eienaardige gevoel was daar stemme, so ’n deurmekaar gefluister wat al hoe meer word. Hierdie ervaring het herhaaldelik gebeur, soos ’n herhalende droom, maar ek was helder wakker. Daarby het dit ook gevoel of ek deur honderde naalde geprik word. Ek het met my pa en ma hieroor gepraat, maar hulle kon nooit vir my ’n antwoord hierop gee nie.

Ek het vir hulle vertel van die snaakse smaak wat ek in my mond kry en dan voel dit of ek in iets wegdryf. Ek is nog daar in die kamer, maar dit voel of ek wil opstyg. Ek het vir hulle verduidelik dit voel of daar ’n klomp spelde in my bed is en dat ek op daardie manier geprikkel word. Daar is seker mense wat dit as ’n demoniese ervaring sou beskryf. Later het ek van astrale projeksie gehoor en gewonder of my ervarings nie iets soortgelyks was nie.

My pa en ma kon nie vir my verduidelik wat met my gebeur nie. Hulle was nie verbaas oor wat ek vertel het nie, maar eerder pragmaties oor die saak. Het ek dalk nie iets verkeerds geëet nie, het hulle gewonder. My pa het die saak vererger deur vir my te vertel dat my ouma met die helm gebore was. Sy het jare tevore ’n gesig gesien en ek onthou dat ons familie baie daaroor gepraat het. Sy het haar man, my oupa, se dood gesien. Sy het gesien hoe hulle die kis uit die huis dra en ’n stuk sement uit die pilaar op die stoep stamp. Met sy dood het dit presies so gebeur.

Ek wou bitter graag ’n dieper gesprek oor my ervarings voer, maar ek het nie geweet hoe nie. Tot aan die einde van my laerskooldae was ek intens bewus daarvan dat daar ’n ander wêreld is en dat daar iewers ’n groter doel in die lewe moet wees.

My pa was ’n entoesiastiese fotograaf en baie lief vir die wildtuin. Ons het bykans elke skoolvakansie Krugerwildtuin toe gegaan. Saans het ons om die kampvuur gesit en my pa het stories vertel wat jou koue rillings sou gee. Een aand vertel hy die vreesaanjaende storie van ’n vrou met lang rooi hare. Hy het natuurlik dié stories iewers gelees, want jare daarna het ek die einste storie in ’n boek gelees en besef waar hy dit gekry het. Nadat hy daardie aand die storie vertel het, daag hy my uit om agter om die naaste rondawel te loop en terug te kom tot waar hulle gesit het. My beloning sou ’n pond wees. Ek wou graag daardie pond hê, want daar was ’n Joseph Rogers-mes in die winkel op Skukuza wat ek bitter graag wou koop. Ek het toe geloop, maar stout soos my pa was, sê hy vir my toe ek so ’n entjie weg is: “Regardt, onthou daai vrou met die rooi hare! Pasop vir haar, sy bly in daai rondawel!” Ek het verwag dié rooikopvrou gaan enige oomblik daar uitspring, maar ek het omgeloop en teruggekom. My pa het vir my die pond gegee en ek het my mes gekry.

My pa was lief daarvoor om vir ons sulke spookstories te vertel. Dan het ons kinders en nefies dit weer vir mekaar vertel. Ek onthou hoe ons in die kamer vir mekaar spookstories vertel het. Linda kon nie ’n “r” sê nie. Dan sê sy iewers in die storie: “Waal’s die duiwel?” en ons dink sy sê: “Daar’s die duiwel!” Dan hardloop ons in die gang af, skree soos maer varke en voordat ons nog aan die einde van die gang kom, is my pa en ma daar en skree: “Wat gaan aan?” Onbewustelik het hierdie stories daartoe bygedra dat ek so gewonder het oor die wêreld wat ons nie kan sien nie.

My pa en ma het my suster, Linda, toegelaat om blare te lees toe sy klein was. Mense was in verwondering oor haar aanleg. Later het sy vir haar ’n I Ching-heksagram gekoop en dit baie goed leer ken. Dit is ’n Chinese waarsêersboek. Jy gooi drie munte en soos hulle val, so vertel jy vir mense hul fortuin en toekoms. Dit is die tipe goed wat in die huis beoefen is, alhoewel ek dit nie aktief saamgedoen het nie. Ek het gewonder of ’n mens werklik die toekoms kan voorspel of peil. Die sameloop van omstandighede was vir my die onseker spil waarom die toekoms gedraai het. Ek het dikwels van mense gehoor wat in motorongelukke dood is, maar dan het ek gewonder: Sê nou maar daardie persoon het twee minute vroeër of later vertrek, dan sou die ongeluk nie gebeur het nie. Wie besluit oor hierdie dinge, en wie beheer dit?

Een van die eerste goed wat ek uit my kleinkindertyd onthou, is die bruin glasie en die rooi rubberpypie – ’n asmapompie van daardie tyd. Toe ek twee jaar oud was, was ek redelik siek. Ek onthou die donker kamer en dat dit nie lekker was nie. Hierdie negatiewe ervaring het moontlik bygedra om my gedagtes op myself te rig en ’n intense ervaring van ’n persoonlike bewussyn te fasiliteer en los te laat.

Later op hoërskool het ander dinge vir my belangriker geword. Ek het die meisies begin raaksien en ek het die esoteriese gedagtes vir erotiese drome verruil. Ek was mal oor enige spansport en veral rugby. Dit het die intense ervarings van vroeër ietwat op die agtergrond geskuif, maar hierdie ervarings uit my kinderdae was deel van ’n patroon. Ek was dikwels verstom hoe gereeld dit in my lewe voorgekom het en hierdie eienaardige bewussyn van myself en my bestaan gevoed het.

In my tweede jaar op Ikeys as dramastudent, het ek by Cobus Rossouw se ma, tannie Susan, gebly. In daardie jaar was ek in die hospitaal in Kaapstad vir ’n blindedermoperasie. Ná die operasie lê ek in die saal en sien toe ’n man uit die hoek van die saal na my toe aangestap kom. Ek het intens bewus van hom geword; my aandag is na hom toe aangetrek. Ek kyk toe hoe hierdie man tot voor my bed loop en hoe hy ’n boek op my bed neersit en vir my sê: “I have been sent to you.” Ek ken hom van geen kant af nie. Nietemin, die boek is deur die een of ander Oosterse ghoeroe geskryf met die titel The Way. Deur die loop van daardie jaar het ek ’n bietjie daaruit gelees, maar dit het my nooit werklik geïnteresseer nie. Wat dit wel aan my gedoen het, is dat dit my opnuut van ’n geesteswêreld bewus gemaak het. Hoekom sou dié man na my toe kom met dié boodskap: “I have been sent to you”?

In 1981, dit was voor my bekering, skiet ons Vyfster in die Pretoria Sentraal-gevangenis (vandag staan dit bekend as die Kgosi Mampuru II-beheergebied). Ek was die regisseur en dit was die eerste keer dat ek regie gedoen het. In daardie tyd het ek baie gedrink en daar was niks geesteliks aan my nie, veral nie toe nie. So droom ek een aand ek staan in die vierkant in die binnekant van die gevangenis en daar staan Don Leonard met ’n koor. Nou kyk, ek ken vir oom Don. Ek en hy het saam in Die kandidaat (1968) gespeel en hy het dikwels by ons gekuier. Maar in daardie tyd toe ons Vyfster geskiet het, was hy nie ’n kind van die Here nie – hy sou later dramaties tot bekering kom. By hom daar in die vierkant is ’n fontein met ’n slinger en ’n emmer, en oom Don sê vir die mense wat daar om hom staan: “Kom, kom drink van die water!” Ek onthou hoe fantasties daardie koor gesing het en hoe oom Don herhaaldelik mense uitnooi om van die water te kom drink. Dit was ’n eienaardige droom, aangesien dit lank voor my of sy bekering was. Ons twee het niks van die Here geweet nie. Ek het baie sulke sprekende drome gehad wat telkens opnuut my belangstelling in die geesteswêreld geprikkel het.

So het ek dan ook toe my hare begin uitval ’n vrou, ’n medium wat handtekeninge ontleed, daar in die Magaliesberge gaan sien. Ek wou vasstel hoekom my hare uitval en iemand het my van dié vrou vertel en dat sy so interessant is. Daardie dag sê sy toe ek is een van die “teachers van die tyd” wat opgelei gaan word om die mensdom in ’n nuwe era in te neem – tipiese New Age-uitsprake.

Haar uitsprake het my nie tot ’n grootheidswaan gevlei nie; dat ek nou iewers heen moet gaan of iets groots moet gaan doen nie. Ek het dieselfde oor haar uitsprake gevoel as oor die boek wat die man in die hospitaal vir my gegee het. Ek het dit gehoor en steeds gewonder oor wat ek hier op aarde doen.

Vandag besef ek dat my besoek aan die medium verkeerd was. Enigiets wat nie op die Woord van die Here gebaseer is nie en vir mense geestelike leiding wil gee, is van die Bose. Oral waar die Bybel na hierdie soort voorspellings verwys, is dit negatief. In die boek Daniël spot die Bybel met hierdie voorspellers oor hul sogenaamde vermoë om die toekoms te voorspel: “Daniël het die koning geantwoord: ‘Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadneser, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur’ ” (2:27-28). Mense dink hierdie goed is onskuldig, maar dit is omdat hulle nie die geesteswêreld ken nie. In Jesaja 47:12-15 erken die Bybel die bestaan van die geesteswêreld en die aanspraak wat dit op mense se lewe wil maak. ’n Mens moenie toelaat dat jy ingetrek word in hierdie tipe geloof en jou hoop op voorspellers plaas nie.

Jana se ma, tannie Bettie (Cilliers-Barnard), het vir my die boek The Ultimate Frontier van Eklal Kueshana gegee. Dit gaan ook oor hierdie goed; ’n fiktiewe verhaal waarin hy beweer hy is ’n geïnkarneerde Egiptiese farao wat die mensdom sal verenig. Met die lees van die boek het ek vir die eerste keer gewonder of ek nie iets hieraan moet doen nie. Kueshana was ook ’n “teacher”, soos die Magaliesberg-vrou na my verwys het, wat mense in ’n nuwe era wou inlyf. Bonatuurlike verskynings en manifestasies van goddelike oorsprong, soortgelyk aan die avatars in die Hindoeïsme, het in sy skool voorgekom. Daar het hulle dan tot laat in die nag geredekawel en twisgesprekke gevoer. Aan die einde van sy boek nooi hy die leser om sy kultiese sentrum – eerder ’n okkultiese sentrum as jy my vra – in Stella, Illinois, in die VSA te besoek. In daardie stadium van my lewe het ek dit oorweeg om die uitnodiging te aanvaar.

Dié boek het my aan hierdie New Age-denke blootgestel en my weer eens laat nadink oor myself, en dat daar ’n groter doel in die lewe is. Later in my lewe, toe hierdie geestelike bewussyn van myself sou uitmond in ’n verhouding met Jesus Christus, was die kulminerende soeke vir my ’n ontsaglike geestelike ervaring. Toe ek die werklikheid van die Here ervaar het, het alles vir my bymekaargekom. Die Here was maar altyd daar. Ek was net geestelik blind. Ek het soveel vreemde ervarings gehad en aan soveel vreemde tafels aangesit om my geestelike honger te stil, maar die Here het my bewaar. Al hierdie ervarings het die agtergrond gevorm waarteen ek uiteindelik die Here ontmoet het. Die ervaring wat ek met die Here gehad het en nog steeds het, is uitsonderlik.

Toe ek jonk was, het ek oor die dood gedink, maar ek was nooit benoud oor die dood nie. Ek het geweet dat daar ’n einde, ’n streep, aan elke lewe is. Wat my wel benoud gemaak het – en ek het my pa gaan roep – is toe ek vir hom gaan vra het wat verder is.

“Wat bedoel jy wat is verder?” het hy gevra.

“Ek het op my bed gelê en in my gedagtes tot bokant die huis gegaan, en toe tot bokant die wolke, en toe verder tot by die planete en sterre verby tot so ver as wat ’n mens kan gaan en toe het ek gestop. Toe ek stop, toe is daar nog iets aan die ander kant, al was dit niks nie.” Ek was vol passie oor dié ding. Dit het my getref.

Toe vra ek my pa weer in die middel van die nag: “Wat is verder?”

En my pa sê: “Niks.”

Ons gaan seker almal deur hierdie gefassineerdheid met die lewe en die bewussyn van jouself, hierdie hele kosmosding waarvan ons deel is, maar oor die dood was ek nooit benoud nie.

In die laerskool het ek ’n klasvriend gehad. Eendag het die onderwyser vir ons gesê Kilian kom nie weer skool toe nie – hy is in ’n motorongeluk dood. Dit het my geruk. Ek kon die onwerklikheid daarvan nie glo nie.

Die eerste dood wat ek ervaar het, was toe my ouma, my pa se ma, in die huis oorlede is. Ek het haar nie regtig geken nie. Sy het soos ’n vreemde vrou daar by ons in die huis gebly.

My pa het aan sy hart gely. Hy het sy eerste hartaanval op 28 gehad en kort daarna nog een. As kinders moes ons daarop bedag wees om ’n rustigheid in die huis te handhaaf. My ma het ons altyd aangepraat om hom nie onnodig te laat skrik nie of goed te doen wat hom kan ontstel of laat stres nie. Met vier kinders in die huis het ons hom soms tog maar laat stres.

Hy is uiteindelik aan sy hart oorlede toe ek vyftien jaar oud en in standerd 8 was. My jongste suster, Liesl, was toe vyf maande oud. Hy het drieuur die oggend wakker geword en vir my ma gesê hy voel nie lekker nie. Hy het ’n lelike hoesie gehad en my ma het vir hom hoesstroop gaan haal, maar dit het nie gehelp nie. ’n Uur later is hy in my ma se arms oorlede. Dit was 16 Februarie 1968. Hy was 47 jaar oud.

My ma het eerste ons groot huisvriende, tannie Trudie wat met oom Al Debbo getroud was, gebel. Tannie Trudie het my teen sesuur kom wakker maak en vir my gesê my pa is twee ure gelede oorlede.

David Millin, rolprentregisseur, en sy vrou, Zelda, het ook later die dag gekom om hul medelye te betoon. ’n Bedroefde Millin het hulde aan my pa gebring as een van die grootste akteurs van Suid-Afrika. Hy was die regisseur van Seven Against the Sun, waarin my pa die rol van die lafhartige korporaal Smith vertolk het. Dit was sy beste rol.

Kort ná my pa se dood het my ouer suster, Linda, haar eie lewe probeer neem. Sy het koerantpapier al om haar op die kamervloer gesit en haar polse gesny. Dit was verskriklik ontstellend vir my ma. Ek onthou vir Linda wat net daar gesit het en my ma wat handdoeke om haar polse gedraai het. Ek het die bloed geruik – so ’n warm reuk. Dit was verskriklik erg vir ons as gesin. Linda is opgeneem in Tara, ’n psigiatriese hospitaal in Hurlingham in Johannesburg. Daar het sy ontstellende ervarings gehad en uiteindelik het oom Gordon Vorster, die skilder en goeie vriend van my pa en ma, haar daar gaan uithaal. Hy het haar werklik daar gaan red en Linda toe vir ’n jaar lank by hom en tannie Vonnie laat bly.

Daarna is Linda terug huis toe en na ’n ander skool. Alhoewel die lewe vir haar ’n stryd was, het Linda nie weer haar eie lewe probeer neem nie. Ek was destyds geskok dat ’n mens jou eie lewe wil neem. Ek het nog nooit so iets beleef nie en dit was vir my ’n vreemde idee dat mense so iets kan doen of selfs oorweeg. Later jare het ek besef hoe traumaties dit vir haar moes gewees het om ’n lemmetjie te vat en haarself te sny. Dit moes iets gevat het, het ek besef.

Die ander keer dat ek met die dood te doen gekry het, was toe my boetie, Dirk, in ’n motorongeluk oorlede is. Hy en sy pêl het saam met twee ander pêlle in ’n groot splinternuwe Mercedes gaan ry. Toe die kar van die pad loop en omslaan, is Dirk en sy pêl wat agter gesit het, op slag dood. Daardie oproep en my ma wat sê: “Dirk is dood,” was vir my verskriklik. Ek was 23 en het in daardie stadium saam met Jana in die Kaap gebly.

Daardie agt jaar waarin ons die dood en byna-dood in ons gesin ervaar het – my pa, Dirk en Linda – het my baie seer gemaak. Miskien het ek in daardie tyd ’n bietjie verhard om myself te beskerm; ’n skans om my gebou om die seer te probeer verwerk. Ek het dadelik ná Dirk se dood ’n storie gaan skryf om te kyk of ek hulle nie kan terugbring nie. In die storie het ek dit reggekry dat hulle uit die graf opstaan, maar dan hardloop hulle weg en lag vir ons wat treur.

In soveel gevalle kan ek ’n lyn deurtrek na ervarings of gebeure wat toe en nou gebeur het, en hoe die Here vir my ’n perspektief gee op ervarings en gebeure van die verlede – iets wat moontlik sleg was, maar nou ’n nuwe boodskap dra. Vat nou maar my ouma se dood; ’n gebeurtenis wat nie ’n buitengewone impak op my gehad het nie. Op ’n dag bel ’n neef van my pa my toe jare ná my ouma se dood. Sy oproep het ook ’n paar jaar ná my bekering gekom. Ek het nie veel van hom geweet nie.

“Hallo Regardt, dis oom Bonnie wat praat, jou pa se neef. Ek is ’n pastoor hier in Krugersdorp. Ek en jou pa was saam op die dag toe jou ouma oorlede is. Ons het op die gras gelê en jou pa het na die wolke gekyk en toe sê hy vir my: ‘Bonnie, ek wil my graag laat doop.’ Ek het gedink ek bel jou om dit vir jou te sê, want ek dink die Here wil hê jy moet dit weet.”

Is dit nie aangrypend nie? Ek het altyd oor my pa gewonder en wat hy geglo het, want my pa was nie ’n gereelde kerkganger nie. My ma ook nie. Ek het my pa een keer in die kerk gesien met my boetie se doop, of dit kon ook my ouer suster se doop gewees het.

My pa het sy lewe lank as akteur nooit ’n agent gehad nie. Tog het hy eenkeer in ’n onderhoud met Maxie Pienaar, joernalis van die Huisgenoot en ’n goeie vriendin van hom, gesê: “Moenie dit ooit noem nie, hoor … ja, eendag as ek nie meer daar is nie, en dit is ook nie meer lank nie, want ek sal nie ou bene maak nie, maar dan maak dit tog ook nie meer saak nie. Die Heer is nie alleen my Herder nie, Hy is ook my Agent. Ek het geen aardse agent nodig nie, want Hy sorg vir al my sakies.”

Daar is mense wat sal sê dat my geestelike bewussyn en die bonatuurlike dinge wat ek ervaar het en nog steeds ervaar, eie aan kunstenaars is – dat dit niks meer as my kreatiewe verbeelding is nie. Ek het dikwels met my gedagtes gespeel, soos toe ek my pa gaan vra het wat lê verder as ’n mens by die planete en sterre verby is tot op die rand van die heelal? En tog was dit nie alles die produk van my kreatiewe brein nie.

Dit het ook met my kinders gebeur. Een aand ná my bekering hoor ek in die huis my oudste dogter, Lika, gil – hierdie oeroue gil van alle gille. Sy was toe nege. Ek het dadelik in tale begin bid en na die boonste verdieping gehardloop. Ek was so kwaad, want ek kon hoor dis iets wat haar treiter. Toe ek by haar kom, sê sy daar het ’n man in die deur gestaan. Hy was kaal en het nie hare gehad nie en het na haar gestaar. Ek is oortuig dit was ’n demoniese manifestasie. Die enigste rol wat my kreatiewe brein by hierdie soort ervarings speel, is om vorm en struktuur te probeer gee aan die ervaring waaraan ek blootgestel word.

My pa en ma was albei kunstenaars en ons het in ’n kreatiewe huis grootgeword. Nou nog betrap ek my dat ek besef maar hierdie woord het ek by my pa geleer. Ek het net vyftien jaar saam met hom geleef, maar daar is baie wat ek van hom onthou. My pa en ma was lief vir mekaar en ek het ons gesin as ’n veilige plek ervaar. Ek was nie daarvan bewus dat ons “kreatief” of “kunssinnig” was nie, maar ek het definitief in hierdie kreatiewe sop grootgeword.

Die eienaardige van my lewe is dat ek my geestelike bewussyn en die bonatuurlike dinge wat ek ervaar het nooit aan God gekoppel het nie. Daar was vir my geen verband met God of met die duiwel nie. Vir my was die duiwel ’n sekelstert wat hier iewers rondgeloop het. Ná my bekering het ek baie gewonder waarom ek voorheen nooit die Here in my ervarings betrek het of wat sy rol in daardie ervarings was nie. Ek het later besef die vyand het my geestelik verblind. Ek was totaal vir die Goddelike en geestelike dinge verblind. Ek was bewus van ’n geesteswêreld en ek het gevoel dat daar ’n dieper betekenis aan die lewe is en dat dit anders is as hierdie fisieke bestaan waarvan ek so bewus was – maar dit was al.

My geestelike bewussyn het geen rol in my keuse van ’n loopbaan gespeel nie. Ek het dit aanvanklik oorweeg om ’n ander beroep as my pa en ma te kies, maar die wêreld van akteurs en rolprente het my gelok. Ek wou ook soos my pa in die publieke oog wees. Ek was elf jaar oud toe speel ek ’n groterige rol in Piet my niggie (1964). Die mense se reaksie het my verras. Almal, veral die ouer mense, het gedink ek is ’n oulike seuntjie en die tannies het oor my hare gevryf terwyl hulle sê hoe oulik ek gespeel het. Ek het spesiaal gevoel en daardie aandag het my ego gestreel. Dit het my oortuig om akteur te word, eerder as wat ek dit oorweeg het om ’n spesifieke beroep te gaan volg of uitdrukking te wou gee aan ’n kreatiewe drang – my keuse van ’n “loopbaan” was meer banaal as dit!

Van ’n hoër roeping was daar nie sprake nie. As ek aan roeping dink en hoe die Here ons lewe bepaal en stuur, dan dink ek die liefde wat ek vir die rolprentbedryf het, en wat gekom het van my pa se liefde vir rolprente, die ding is wat die Here gebruik het om my aan te vuur en my lewe te bepaal. My rol saam met my pa in Die Kandidaat (1968) was ’n waterskeiding in my lewe. Jans Rautenbach se insette in my lewe toe ek jonk en plooibaar was, het my vir die bedryf gevorm. Al hierdie dinge was boublokke wat my ’n bruisende passie vir rolprente gegee het. Die Here het my liefde vir rolprente gebruik en deel van sy plan met my lewe gemaak. Ná my bekering het Matthew (1993) die uitdrukking en epitome van my lewe geword; dit was die sinergie tussen my passie vir rolprente en my passie vir die Here.

Matthew was ’n indrukwekkende stuk werk; nie omdat ek indrukwekkend is nie, maar omdat ek geweet het die Here kan deur dié reeks op ’n gewone manier vir mense wys dat Jesus werklik is. Die Here het my geroep, gesalf en die geestelike gawe gegee om komplekse geestelike waarhede op ’n gewone manier vir mense duidelik te maak.

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

– Spreuke 4:23

Regardt

Подняться наверх