Читать книгу Regardt - Regardt van den Bergh - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеNuwe horison
Vaardigheid beteken min sonder geleentheid.
– Napoleon Bonaparte
Ek is in Bezuidenhoutsvallei, Johannesburg, gebore. Dit is algemeen bekend as Bez Valley en grens aan Yeoville en Kensington. Ons het daar gebly tot ek vier of vyf jaar oud was. Ek onthou min, maar ek onthou die meisie wat langs ons gebly het, was baie mooi. Die skool se kadetorkes het elke dan en wan voor ons huis in 1ste Laan verbymarsjeer. Dit was vir ons ’n belewenis en ek het gewoonlik op my driewielfiets, die ou groot soort, ’n entjie agterna gery. Later jare sou ék die muis voor ons kadetorkes van Hoërskool Linden dra, nadat ek dit by Riaan Cruywagen se broer, Bokkie, oorgeneem het.
My laerskooldae in Laerskool Louw Geldenhuys het in Linden begin toe ons na 2de Straat 105 getrek het. Toe ek agt jaar oud was, het ek my rolprentdebuut in Stropers van die Laeveld (1962) gemaak. ’n Rol in Die tweede slaapkamer (1962) het daarop gevolg. Ek was blykbaar ’n baie stil stert-tussen-die-bene-seun totdat ek in standerd 3 die taamlike groot rol in Piet my niggie (1964) gekry het. Frik Pieterse, later omroeper van die Afrikaanse diens van die SAUK, was my onderwyser in daardie jaar toe ek saam met Frederik Burgers, Dawid van der Walt en June Neethling in Piet my niggie gespeel het. Toe het ek stadig uit my dop begin kruip.
In standerd 5 het ek rugby begin speel en ek is gekies om proewe vir die Transvaalse Skolespan te speel. Op die dag dat ek gespeel het, was my pa nie daar nie. Ek het gevoel as hy daar was, sou ek die span gehaal het, want hulle het my heel aan die einde met ’n ander outjie vervang. Dit het my seergemaak en ek was bitter teleurgesteld.
Ek het grootgeword in ’n wêreld hier om my en min in ’n wêreld daar buite om my. Die rugby het gemaak dat ek meer na buite begin leef het, verder gedink het en meer met ander mense interaksie gehad het. Op hierdie manier het ek nie die uiters introspektiewe persoon gebly wat ek gedink het ek was nie.
Meneer Cor Dirks was die hoof van Hoërskool Linden waar ek met Afrikaans, Engels, wiskunde, biologie, geskiedenis en Latyn gematrikuleer het. Meneer Flaps van Rensburg by wie ons Latyn gehad het, was ’n fantastiese onderwyser. Hy en juffrou Naudé, my Afrikaans-onderwyseres, het my oë vir die lewe oopgemaak. Hulle was soos hierdie mooi flieks wat ’n mens oor onderwysers sien, soos Kevin Kline se The Emperor’s Club (2002). Onderwysers soos hulle het ’n invloed op kinders, verbreed hul visie, gee vir hulle ’n horison, ’n droom, ’n bestemming. Teen daardie tyd het ek al geweet wat ek wou doen.
Eendag ná my bekering het Flaps my genooi om met die kinders by ’n saalbyeenkoms te kom praat. Ek neem toe my Artes-beeldjie (SAUK-TV) saam, wat ek vir beste toneelspel in Jopie Fourie gekry het, en vertel vir die kinders dat ’n mens deur harde werk en toewyding groot prestasies in die lewe kan behaal. My grootste prestasie, verduidelik ek toe vir hulle, is egter dat ek die Here in my lewe aangeneem het; dit is ’n prestasie wat ek nie uit my eie krag bereik het nie, maar deur die genade van die Here. Ek nooi almal toe uit om ’n keuse vir die Here te maak, vir die eerste keer of by hernuwing. Daar staan byna die hele saal vol kinders op, selfs van die onderwysers hier agter my het opgestaan en ek het vir hulle gebid. Ek los toe die Artes daar en tot vandag toe gee hulle dit by dramakompetisies vir die beste toneelspeler in die skool. Ná die tyd nooi Flaps my na sy kantoor en sê vir my dit sit nie in enige ou se broek om te doen wat ek daardie oggend gedoen het nie. Later die middag loop ek in Cresta se mall toe twee skooldogters op my af hardloop, my omhels en sê hulle het daardie oggend die Here aangeneem.
Afgesien van Piet my niggie waarin ek ’n rol gespeel het, het ek ook in Strangers at Sunrise (1969), waarvan Percival Rubens die regisseur was, ’n rolletjie gehad. In die fliek kom Brian O’Shaughnessy op ’n perd aangery en dan moet ek vir hom sê: “They are here.” Dis al!
Dit was my ervaring met Die kandidaat waarin ek en my pa saam gespeel het wat my totaal verander het. Ek was in standerd 7 toe ek ’n oudisie by Jans Rautenbach, die regisseur, gaan doen het. Aanvanklik het ek nie gedink ek sal die rol kry nie, want daar was ook dramastudente van Tukkies wat oudisies gedoen het. Jans het baie van my oudisie gehou en hy het vir my pa gesê: “Gaan sê vir die kind hy het die rol.” Dit was ná skool en ek was in my kamer toe my pa by die deur instap, sy hand na my toe uithou en sê: “Geluk, my seun, jy het die rol gekry!” Dit was ’n onvergeetlike oomblik en dit was onverwags, want ek het nie gesit en wag om te hoor wat die uitslag van die oudisie sou wees nie.
Later daardie dag het ek in die gang af geloop en my pa en ma in hul kamer hoor praat. My pa het oor die oudisie gepraat en vir my ma gesê: “Jans sê die kind hét dit.” Wat ’n wonderlike ding vir ’n jong seun om te hoor! Dit is nie iemand wat jou heuning om die mond wil smeer nie. Dit is die woorde uit die mond van die held van jou lewe. Ek het regtig na my pa opgesien en ek het altyd gevoel ek is ’n bietjie soos hy – mal oor rolprente.
Wanneer ek saam met my pa aan ’n rolprent gewerk het, het dit gevoel soos twee mense wat in kameraadskap saam pyp rook. Ons het lang en ernstige gesprekke oor rolprente gevoer. Dit is my pa wat my geleer het om krities na rolprente te kyk. So het ek geleer om die kamerabeweging dop te hou.
Soggens vroeg het ek saam met hom op die bed gesit en tee drink. Dan sou hy sommer skielik ’n gedig begin opsê. My pa het alles in die voordrag van so ’n gedig gesit. En as my pa soms die liedjie “Die rivier is vol” gesing het, het ek gehuil asof my hart wil breek. Hy het dit so mooi en so treurig gesing dat jy sommer net wou huil en huil.
Ek was nie mal oor boeke nie, dit was my suster Linda se belangstelling. Sy was nog maar in graad 2 toe sit en lees sy en my pa haar gedigte en probeer hier en daar verbeter. Ek onthou een van die gedigte wat sy geskryf het: “Patroontjies op die gras, hoe het julle my verras … ”
Linda het ook van kleins af met rolprente grootgeword en as kind in Die tweede slaapkamer, Katrina en Die kandidaat gespeel. Sy het later filosofie aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar sy die graad MA met lof behaal het. Linda het besluit om joernalis te word en by Beeld en later by Kalender gewerk. In 1984 het sy die enkeldrama Anneli se Jerry vir TV geskryf, waarvan ek die regisseur was. Joanie Combrink en Frank Opperman het onder andere daarin gespeel. Dirk, my boetie, wat in 1975 oorlede is, was die kinderakteur van die gesin. Hy het in rolprente soos Die banneling (1971) en Die Voortrekkers (1973) gespeel, in laasgenoemde saam met my ma.
My jongste suster, Liesl, het ook ’n draai in die rolprentwêreld gemaak. Sy en my ma het saam in Geel trui vir ’n wenner (1983) gespeel. Daarna was sy in ’n TV-reeks Kampus en ook in Ongeluksvoël te sien.
Ek en my pa het in 1967 en ’n paar dae in my standerd 8 jaar aan Die kandidaat geskiet. In Februarie van daardie jaar (1968) is my pa oorlede voordat Die kandidaat vrygestel is. Tant Anna Neethling-Pohl het ná die vrystelling vir my ’n briefie getik: “Ek het toe gister die geleentheid gekry om na Die kandidaat te gaan kyk. Ek meen dat die spel van jou vader puik was en dat jy regtig op ’n hoë noot begin het. Ek het geglo in wat jy gedoen het. Jy is ’n baie gelukkige jong man wat so ’n groot rol so vroeg in jou loopbaan gekry het … ” (4 Junie 1968).
Die kandidaat het ’n groot invloed op my lewe gehad. Alhoewel ek min van die dieper storie van Die kandidaat verstaan het, het ek besef dit worstel met kwelvrae van die tyd en politiek. Ek het besluit dít is die tipe goed wat ek wil doen; ek wil analiseer en ontleed; ontdek en ontgin; entertain en mense laat lag, maar ek wou ook ’n bydrae lewer in mense se lewe.
Ná Die kandidaat het ek in nog een rolprent gespeel terwyl ek op skool was, naamlik Katrina (1969). Dit handel oor ’n dominee wat op ’n bruin meisie (Jill Kirkland) verlief raak, onbewus dat sy bruin is – ’n kontensieuse saak in daardie tyd.
Toe ek in Die kandidaat gespeel het, het die kinders in die skool van my bewus geword. Dit het iets aan my gedoen. Die matriekmeisies het my skielik raakgesien, want ek moes my hare vir die rol laat groei. Ek was regtig ’n stil ou, maar Die kandidaat het gemaak dat ek vir drie agtereenvolgende jare dirigent by die skolesport was en die tamboermajoor van die kadetorkes geword het.
Ek het gehou van kompetisie. Met skoolsport was ek veral goed in die veldnommers en het die Victor Ludorum in die oog gehad. Ongelukkig het Zak de Bruin my met een punt geklop. Dit was ’n groot teleurstelling.
’n Ding wat my baie seergemaak en waarvan ek doelbewus jare lank vergeet het, was dat ek in matriek die Transvaalse rugbyspan gehaal het. My eerste oefening op Sturrock Park in Johannesburg – ek het agsteman gespeel – was voor ’n wedstryd teen Oos-Transvaal. Dit was ’n Woensdagmiddag en ek het by die huis gekom en my ma gevra om my na die oefening te neem. Sy moes egter dringend op ’n ander plek wees. Ek het planne gemaak om by die oefening uit te kom, want ek het geweet as ek nie vir die oefening opdaag nie, gaan hulle my nie kies nie. Ek het die oefening gemis en toe nooit vir Transvaal gespeel nie – ’n teleurstelling wat ek vir jare in my omgedra het.
Tant Anna Neethling-Pohl – sy was my peetma – wou gehad het ek moes na Tukkies se dramaskool toe gaan. Sy het geweet ek speel goed rugby en wou gehad het ek moes vir Tukkies en uiteindelik Noord-Transvaal (vandag die Blou Bulle) gaan speel het. Dit sou vir jou ’n goeie ding gewees het.
My huismense was nie die tipe wat verskriklik gedruk en gesoen het nie, maar daar was liefde in ons gesin en ek het altyd geborge gevoel. Dit was ’n huis van gesprek, boeke en stories. In die winter het my pa die kaggel gepak en dan het ons na sy stories gesit en luister. Vroeg in die oggend oor naweke wanneer ons opstaan, het my pa vir ons gedigte gelees. Ons het veral van AG Visser se lang spookgedig “Die ruiter van Skimmelperdpan” gehou: “Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan, by ’n draai in die mond van die kloof, het ’n bom in die oorlog ’n vlugtende man op ’n perd soos ’n swaardslag onthoof …” Later het my pa vir ons NP van Wyk Louw se werke gelees, soos Lojale verset, en artikels wat oom Wyk in die koerante geskryf het.
Daardie wonderlike samesyn en die bewustheid van ons as gesin – my pa, ma, suster en boetie, wat toe nog jonk was – het ’n blywende indruk op my gelaat. Wanneer ons saans vir aandete aangesit het, het ons eers na die radioverhaal “Soetmelksvlei” geluister.
Daar was kere dat dit nie met my pa se akteurswerk goed gegaan het nie. Ek onthou die paar kere wat hy in woede uitgebars het. Een keer was hy so moedeloos dat hy die radio – waarop ons dikwels sy stem in die verhale en radiodramas gehoor het – in die vuur gegooi het.
Hy was dikwels van die huis af weg, want hy het elke jaar in twee of drie rolprente gespeel. Wanneer hy dan terugkom, het ons hom oor alles uitgevra en soms het ons na die rolprente gaan kyk. Dit het ek baie geniet. In 1962 het ons saam met hom na die première van Stropers van die laeveld, waarin hy die hoofrol en saam met onder andere Brian O’Shaughnessy en Patrick Mynhardt gespeel het, by die Veldskoen-inryteater gaan kyk. Dit was lekker, want dit was nie vir my nodig om ’n pak klere aan te trek nie. My pa het met die mense oor die mikrofoon gepraat en daarna het ons na die rolprent gekyk. Die lekkerste vir my was dat wanneer die rolprent klaar was, die mense in plaas van hande klap, hul toeters aanhoudend geblaas het – dan het ek sommer baie trots gevoel op my pa se prestasie.
Sommige van die rolprente het ons nie gesien nie, spesifiek die paar Duitse rolprente waarin hy gespeel het. In Der Rivonia-Prozess (1966) wat oor die Rivonia-verhoor gehandel het, het hy die rol van Percy Yutar gespeel wat die aanklaer in die verhoor was. Yutar was die eerste Suid-Afrikaanse Jood wat as prokureur-generaal aangestel is. Tydens die verhoor is meneer Mandela en sewe ander lewenslange tronkstraf opgelê.
Toe ons in Bez Valley gebly het, het my pa en ma deur moeilike tye gegaan, waarvan ek nie veel geweet het nie omdat ek te jonk was. Hulle was vir ’n tyd lank uitmekaar en ek en my suster het vir ses maande by oom Gordon Vorster en sy vrou in Parkhurst gaan bly. Hulle is toe versoen en my pa, wat in daardie tyd baie gedrink het, het ophou drink. Toe ek op laerskool was, het hy nie gedrink nie, maar ek onthou nog goed die keer – ek was rondom standerd 5 – toe hy in ’n bieradvertensie gespeel en dronk by die huis gekom het. My ma het my vertel hy het haar gevra dat sy hom moet toelaat om vir ’n week lank te drink waarna hy dadelik sou ophou. Indien hy nie sou ophou nie, sou hy na die rehabilitasiesentrum gaan waar hy voorheen was.
My ma was die vrou agter my pa. Sy het hom bygestaan en gehelp om die sterhoogtes te bereik. Dit was net aan haar te danke dat daardie wonderlike dag van oorwinning vir hom aangebreek het – die dag toe hy met ’n sterk stem kon sê: “Dankie, nie vir my nie. Ek drink nie meer nie.” Met my ma se hulp het hy die talentvolste maar ook nederigste rolprentster geword. In 1965 het hy die Akademie se erepenning vir sy spel in Wild Season gekry.
Akteurs praat oor karakters en analiseer karakters. Ek kon vir ure sit en luister na die stories tussen my pa en oom Gordon. Saans het hulle en Emil Nofal, David Millin en Harry Hughes, ’n filmredigeerder, gesit en stories vertel.
Donderdagaande het my pa en ma saam met oom Gordon en tannie Vonnie Vorster brug gespeel. Dan het ek op die bank gaan lê, na hul stemme en stories geluister wat al hoe verder weg geraak het en uiteindelik het ek aan die slaap geraak. Daar was vir my niks lekkerder as dit nie. Tussen die kaartspelery deur het ek stories en staaltjies en grappe gehoor. My pa was ’n verstommend kreatiewe mens en ’n groot sport by die huis – ’n platjie wat dit nie kon weerstaan om met iemand die draak te steek nie.
Ek het altyd gedink my pa is die skoonste akteur in die hele wêreld. Ek het hom nooit, maar nooit, ’n telefoon sien antwoord nie. My ma het altyd die telefoon geantwoord en as die persoon dan met my pa wou praat, het my ma altyd gesê: “Jong, Gert is in die bad!” Hy was gedurig in die bad.
Een naweek toe daar baie mense by die huis was, het my pa my ’n koppie brandewyn gegee om te drink. Ek was lekker gekoring en vat toe nog my fiets en ry kafee toe. Hoe ek op die fiets gebly het, was ’n wonderwerk, maar toe ek die huis slinger-slinger nader, het ek in die hekpaal vasgery en my halfdisnis geval. Die buurtannie het my opgehelp en my kamer toe geneem om my roes te gaan afslaap.
’n Ander keer in standerd 8 toe my pa al oorlede was, het ek en ’n pêl ’n hele bottel soetwyn in die garage uitgedrink. Ons het so getrek geraak dat ons nie op ons voete kon staan nie. Ek het by die huis ingekruip en weer uitgekruip om te gaan opgooi. My ma was verskriklik kwaad. Sy het in die kombuisdeur gestaan en vir my geskree: “Vrek in jou drankroes!” Ek verstaan nou dat sy dit teen ’n bepaalde agtergrond gesê het.
Daarna het ek nie juis weer op skool gedrink nie. Miskien net ’n bier by tye soos met ons matriekafskeid toe die onnies ons vir ’n bier uitgeneem het.
As vryskutakteurs het my pa en ma nie ’n vaste inkomste gehad nie. My pa se inkomste was van rolprent na rolprent met tussenin ander vryskutwerk. Ek onthou my ma het Woensdae op haar Olivetti-tikmasjien aan haar radioprogram Hospitaaltyd gesit en tik – my hele kinderlewe wat ek kan onthou, het sy dit gedoen. Sy het die program geskryf en aangebied, briewe voorgelees en goeie wense vir luisteraars in die hospitaal toegewens. Ná my pa se dood was dit ons enigste inkomste. Dit was ’n wonderwerk hoe sy ons vier kinders met Hospitaaltyd grootgemaak het.
My pa, wat in 1968 oorlede is, het nooit die geleentheid gehad om TV te beleef nie. Met die aanvang van TV in 1975 het my ma in een van die eerste TV-reekse gespeel, Net ’n bietjie liefde (1977). Dit was ’n gesinskomedie oor die Vermaak-gesin waarin onder andere sy, Julie Strijdom, Esmé Euvrard en Dana Niehaus gespeel het.
Vir my ma was dit ’n opwindende tyd van haar lewe. Sy het min geleenthede as aktrise gehad, want sy het haar lewe vir ons as gesin gegee. Rayford Daniel, ’n hoogaangeskrewe teaterresensent, en Percy Venable het my eendag vertel van my ma se uitstekende spel in die Moliére-stuk, Die vrek, en in Nag het die wind gebring, ’n stuk wat deur WA de Klerk geskryf is. Sy het toe nog as Dulcie Smit gespeel.
Sy het natuurlik landswyd bekend geword as Ant Stienie in die TV-reeks Agter elke man (1985-1988). Dit het vir haar baie beteken. Ek was toe al uit die huis en net my jongste suster, Liesl, was nog in die huis. Met Vyfster (1981) het ek vir my ma ’n rol gegee en van toe af het ek haar gereeld, as ek kon, in my rolprente gebruik. In Circles In a Forest (1990) en in The Sheltering Desert (1992) het ek haar ’n rol gegee waarin sy regtig mooi gespeel het. Die Suid-Afrikaanse akteur Joe Stewardson het saam met haar gespeel. Joe het dronk daar in Knysna, waar ons Circles In a Forest verfilm het, aangekom en sy mond stukkend geval toe hy uit die vliegtuig geklim het. Dit het ons drie dae geneem om hom nugter te kry. Sy mond is met steke toegewerk en ons moes die res met grimering doen. Arnold Vosloo, wat ook in die rolprent gespeel het en vir wie ek later daar tydens die verfilming na die Here gelei en in die see gedoop het, het hom oor Joe ontferm en elke dag vir hom in die hospitaal gaan kuier. Nietemin, Joe se karakter sterf en dan lê Joe op ’n tafel in ’n kombuis. Ek sê toe vir my ma sy moet maak soos die ou mense gemaak het en hom was. In die toneel het my ma ’n emmer water en ’n waslap en sy pak die “dooie” Joe en was hom dat die water spat. Sy het haar so goed in die toneel ingeleef.
Dit was vir my baie spesiaal en ’n voorreg om haar voor die kamera te kon hê. Die lekkerste was om die rolle met my ma te bespreek en ek het teruggedink aan die dae toe sy en my pa en oom Gordon om die tafel gesit en oor rolprente gepraat het. Daardie tye sit nog vas in my.
Oom Gordon wou destyds ’n rolprent met die titel Kaalgat tussen die daisies maak. Koos Roets het toe uiteindelik die rolprent in 1997 met Zack du Plessis, Frank Opperman en Willie Esterhuizen gemaak. Dit was iets anders as wat oom Gordon in gedagte gehad het, maar Koos het die titel by my gekry, want ek het hom die storie vertel. Ek het baie keer in my lewe gewonder hoe dit sou gewees het as my pa nog geleef het …
Daar was mense wat agteraf gepraat het omdat ek my ma in my rolprente gebruik het, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. My ma was reg vir die rolle. So het sy dan ook ’n rol gehad in die TV-reeks Meisie van Suidwes (1984) wat ek vir die SAUK gemaak het. Vir Jana het ek ook dikwels in my rolprente of TV-reekse gebruik en dieselfde kritiek verduur. Jana het vir my in die gewilde TV-reeks Die dood van Elmien Adler (1984) gespeel. Toe ek Acts (1993) in Tunisië gaan skiet het, het ek Jana vir ’n klein rol laat kom, want sy was die regte akteur daarvoor – ek het net gedink, ag, nepotisme se voet.
In matriek het ek besluit om drama te gaan studeer en nadat ek met my ma daaroor gepraat het, het ek besluit om Ikeys toe te gaan. Die vernaamste rede waarom ek die Universiteit van Kaapstad gekies het, was dat ek Engels beter wou leer praat. Ek het ingeskryf vir ’n BA-graad in drama en vir die Performance Diploma in Speech and Drama.
In my eerste jaar het ek Engels liederlik gedruip, maar 66 persent van die klas het gedruip. Ons het ’n nuwe dekaan van Cambridge gehad wat vir ons ’n Engels doseer het wat geen egte boerseun kon praat nie. Dit was iets verskrikliks. Hy het ons kwaai gedruk, maar ek was dankbaar, want net soos met my Latyn-onderwyser, het ek ’n dissipline aangeleer. My liefde vir taal en woorde het ook in Engels posgevat. In my tweede jaar het ek ook nie Engels geslaag nie, maar ek het meer geleer in die Engels wat ek gedruip het, as in die ander vakke. Oom Merwe Scholtz was my dosent in Afrikaans-Nederlands.
Ek het nie my kursus voltooi nie, waaroor ek altyd jammer was, maar my studentelewe was baie moeilik – ons het nie geld gehad nie. Ná matriek het ek eers vir ’n jaar gaan werk. In 1971 het hulle die spoorlyn verwyder wat deur die Krugerwildtuin geloop het, aangesien te veel diere doodgery is. Hulle het toe die spoorlyn langs die wildtuin gebou en ek het gehelp om die slote te grawe waarin ons die telegraafkabels gelê het. Vir die werk aan die spoorlyn het ek daardie jaar R900 verdien en dit het my eerste jaar op Ikeys betaal. Aan die einde van my eerste jaar het ek die dramaprys gewen en ’n beurs gekry wat toe vir my dramavak in die tweede jaar betaal het. ’n Neef van my het my R50 ’n maand gegee en daarmee kon ek die ander vakke betaal, maar ek het swaar geleef. Ek het wortelsop en roosterbrood geëet. As ek kon, het ek Marmite gekoop. My begroting per dag was 50 sent – 45 sent vir ’n omelet en 5 sent vir ’n koffie. Dit was al wat ek kon eet.
Die eerste ses maande op Ikeys het ek en ’n BCom-student in Claremont ’n kamer in ’n huis gedeel. Ná die vakansie het ek vir ses maande by die akteur Cobus Rossouw se ma, tannie Susan, gaan bly. Dit was hemel op aarde. Ek het elke oggend ’n heerlike ontbyt gekry en sy het baie mooi na my gekyk. Aan die begin van my tweede jaar het ’n pêl my oortuig dat vier van ons ’n huis moet huur. Dit is waar die moles begin het. Ek het nie meer so hard gewerk nie en begin jol. Alhoewel ek nie gedrink of gerook het nie, want ek het nie geld gehad nie, het ek partytjies begin bywoon en meisies en drank is nooit ’n goeie ding nie. Dit alles het gemaak dat my studies tweede viool moes speel, en ek was nog my hele lewe lank spyt dat ek nie my kursus voltooi het nie.
’n Oproep van regisseur Manie van Rensburg in September van my tweede jaar het verder bygedra tot die beëindiging van my studies. Manie het my gebel en gesê hy is besig met ’n rolprent genaamd Ongewenste vreemdeling (1973, waarin my ma ook ’n rol gehad het), en hy wou weet of ek nie wil kom help nie. Hy sou my ’n klein rol gee en betaal. Ek was buite myself van blydskap toe ek hoor wat die vergoeding sou wees. Ek het met Manie afgespreek en toe die September-vakansie aanbreek, het ek my tas gepak en koers gekry Knysna toe waar hulle die rolprent geskiet het. Ek het daardie geld broodnodig gehad vir my studies.
Ná twee weke se skiet het Jans Rautenbach vir Manie van Rensburg as regisseur vervang. Ek het aangebly en aan die einde van die September-vakansie vir Jans gesê ek moet teruggaan al is hulle nie klaar geskiet nie. Jans wou hê ek moes later teruggaan, maar ek was baie agter met my studies. Ek het ’n klomp dramastukke gehad om te lees, en ek het stadig gelees. Dit was dramas van Ben Jonson tot Alan Ayckbourn tot Samuel Beckett. Jans sê toe vir my: “Jy kan nie nou teruggaan nie. Los die universiteit, man. Moenie worry oor die universiteit se papiertjie nie, ek sal vir jou aan die einde van die jaar ’n papiertjie gee. Dan kom jy saam met my Johannesburg toe en help my om die rolprent te redigeer.”
Toe Jans dit sê, kon ek natuurlik oor die maan spring – enigiets om in die rolprentbedryf te kom. Dit was regtig my kaartjie tot die bedryf waaroor ek jare al gedroom het. Sonder om twee keer te dink het ek my ma gebel en gesê ek gaan nie terug universiteit toe nie; ek het ’n werk by Jans gekry. Ek het my rol klaargemaak en vir Jans met eenvoudige produksiewerk gehelp.
Toe ek later teruggaan Kaapstad toe om my goed te gaan haal, was professor Robert Mohr, by wie ek drama geloop het, baie teleurgesteld dat ek nie die kursus sou voltooi nie.
Ons is Johannesburg toe om die rolprent te gaan redigeer. Jans was baie lief vir pap en ek het seker drie tot vier keer in die week vir hom pap en wors op braaihout gemaak. Ek het hout daar by Lonehill gaan haal toe daar nog nie huise was nie en dan sy pap en wors vir hom gemaak en koffie aangedra. Dit was my eerste ervaring van filmredigering.
Net so skielik soos my kortstondige studies tot ’n einde gekom het, net so skielik het ek in die rolprentbedryf beland. Ek was 21 jaar oud en ek was presies waar ek wou wees.
Daar is op hierdie aarde geen sekuriteit nie; daar is net geleenthede.
– Douglas MacArthur