Читать книгу Blinde sambok - Riana Scheepers - Страница 6
3
ОглавлениеOns sit op die stoep en druiwe eet. Soet, blinkswart ketôbadruiwe wat my pa korrel vir korrel van ’n takkie pluk en in my bekkie druk. Ek sit op sy skoot. Die skaduwees val in kolle oor my bene en oor die stoep.
My pa leer vir my woorde. Vir elke tree wat ek loop, moet ek ook ’n woord leer, sê hy. Ek is reg vir hom, maar hy moet bybly, want ek loop al oral waar ek wil wees. Ek maak die tuinhekkie oop en stap op my eie na die koeikamp toe. Soms wil my pêl Bhubesi saamloop, maar ek is te vinnig vir hom, dan draai hy maar om, of sit net waar hy is en speel verder met sy hande in die grond. Bhubesi is net ’n klein bietjie ouer as ek, maar hy is vet en lui. Eintlik wil hy net die hele dag op die kombersie op die klipvloer by die speelgoed bly sit, maar jittetjie tog, dit is darem te vervelig.
Juba het my al ’n keer of wat aan my kraag kom wegsleep net voor ek deur die doringdraad kruip na die koeie toe, of na die twee merinoramme wat in die klein kampie langs die koeie gehou word. Ek weet nie hoekom hulle my keer nie, dis my plaas en my diere. Ek is nie bang vir koeie en merinoramme nie, ek wil naby hulle wees en ruik hoe hulle velle en asems ruik. Dis net vir ou Tool, die Jerseybul, wat ek ’n bietjie bang is. Maar die dag sal nog kom dat ek na hom toe sal loop en aan sy kwaai neusgate vat.
“Akkedis,” sê my pa en wys vir my die gediertetjie wat vinnig oor die warm muur tussen die kolle wingerd-skaduwees wegskarrel. Ek wou nog mooi kyk hoe hy lyk, toe het hy al in ’n skeurtjie van die klipmuur weggeflits. Eendag sal ek een vang en in my hand hou sodat ek mooi kan sien hoe sy ogies lyk, en sy skurwe velletjie.
“Blitsvinnigafstert donkerskaduweekol kromwingerdtakkie,” sê my pa vir my woorde voor.
Ek lag vir die nuwe klanke wat by sy mond uitkom. My mond is rooi en taai en vol soet druiwekorrels, maar ek sê alles agterna, net soos hy.
“Jou slim kind!” sê my pa. “Sê nou ’n bietjie vir my: katjiepieringmajol en wildebeeskaiing?”
“Katjiepieringmajol, wildebeeskaiing,” sê ek.
En toe vra hy: “Weet jy wat beteken goggamobiel?”
“Ek weettie …” Ek hou my mond oop vir nog ’n korrel, die trossie is amper op.
“En koggelmanderklip?”
“Weetokkie,” sê ek. My pa wil nie regtig weet of ek al dié woorde ken nie, dis net ’n speletjie, maar ek sal nog uitwerk wat dit is.
Ek sit skielik regop op sy skoot. Ek onthou die woord wat ek by Faantjie gehoor het toe ek en Bhubesi by hulle gespeel het. Faantjie is ’n jaar ouer as ek en Bhubesi, hy ken baie woorde.
“Ek ken ook ’n woord, Pappa,” sê ek. Ek voel baie trots daarop dat ek dit onthou het. Nie dat ek dit juis kon vergeet het nie, want Faantjie het die woord oor en oor gesê, en Bhubesi later ook. “Wat is fokol?”
My pa se kop ruk agteroor soos hy verstik aan die druiwekorrels in sy keel. Hy moet hard hoes om sy asem terug te kry. Toe gooi hy die leë takkie met die klomp nat puntjies waar die korrels uitgetrek is oor die stoepmuur. Hy tel my van sy skoot af en staan op. Skielik is hy baie groot, ek kom skaars tot by sy knie.
“En - waar - leer - jy - dit?” vra hy kwaai.
“By Faantjie.”
Hy buk af en tel my op sy heup. Hy hoes nog ’n keer voor hy praat. “Daardie woord,” sê my pa, “is ’n baie, baie lelike woord. En my Poedingbekkie mag dit nié weer sê nie.”
“Hoekom sê Faantjie dit dan?”
“Dit beteken sommer niks,” sê my pa. “En Faantjie praat so omdat hy ’n seuntjie is; seuntjies sê partykeer woorde wat nie mooi is nie, maar dis baie stout. Jy, Gideonette, is nie ’n seuntjie nie, en jy is nie stout nie, of hoe?” Hy dra my by die huis in.
“Fokol,” sê ek in my gedagtes terwyl ons ingaan.
Ek sal altyd onthou dat my pa my geleer het van akkedis en koggelmanderklip. Nadat die vloek hom ook getref het, moes ek vir myself woorde maak. In die veld, waarheen ek gegaan het om alleen te wees, het ek al die woorde gesê wat hy vir my sou voorgesê het: donkerwaterlikkewaan, rooikleigatagteros, bliksem-uit-die-hemel.
En ook: fokol.