Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo - Страница 5

Kaninu se geheim

Оглавление

Cicely van Straten

Bongo

Prelees – groepbespreking

 Jy het nou die inleidende gedeelte oor volksverhale saam met jou onderwyser gelees. Kyk na die titel van hierdie volksverhaal en die illustrasie. Waaroor dink jy gaan hierdie verhaal?

 Watter twee kenmerke van ’n volksverhaal dink jy sal in hierdie verhaal belangrik wees?

Die verhaal

Kaninu se pa maak ’n byekorf. Hy het twee helftes van ’n houtstomp in sy hande en hy bind dit met ’n stuk van ’n mondwe-slingerplant aan mekaar vas. Kaninu sit en kyk wat hy doen.

“Pa,” vra hy, “waar kom die bye vandaan wanneer hulle soos ’n wolk deur die lug vlieg en die byekorf vind?”


“Wie sal weet?” antwoord sy pa. “Dalk van die vlaktes, dalk van die woud. Ek sou nie weet nie, dit is die geheim van die bye.”

“O,” sê Kaninu.

Toe sien hy die grys rook wat stadig van die hutte af opkrul.

“Pa, hoekom krul die rook in die lug op? Hoekom val dit nie af ondertoe, soos die water in ’n stroompie nie?”

Sy pa skud sy kop. “Hoe sal ek weet? Dit het nog altyd, en dit sal altyd – maar waarom, dit weet ek nie.”

Kaninu kyk na die mielieplante wat groen en sterk in die sonlig staan, die koppe klaar aan die swel.

“Pa, hoe kry die mieliepitjie dit reg om so ’n groot plant te word?” vra hy.

“A,” sê sy pa en hy bind die rank styf vas sodat die korf sterk genoeg sal wees om baie heuning te hou. “Die geheim van ’n saadjie is ’n baie groot geheim. Die reën en die son en die goeie aarde se towerkrag werk op die mieliesaadjie elke jaar – maar hoe, dit moet jy my nie vra nie.”

“O,” sê Kaninu. Hy het gedink sy pa weet alles.

“Maar Pa, Pa kan tog seker vir my sê hoeveel kalwers ’n olifant kry. En het hy regtig ’n neus wat lyk soos ’n boomtak?”

“Ha,” lag sy pa. “Ja, ’n olifant se neus lyk soos ’n boomtak. Ek het eenkeer een gesien. Maar die olifante van die woud is skugter diere, en hoeveel kalfies die koei het – dit is haar geheim. Net die Athi, die klein jagtertjies, weet dit.”

“Ag,” sug Kaninu, en hy dink: Daar is soveel geheime in die wêreld, en ek, Kaninu, ken nie een van hulle nie.

Toe sê hy: “Ag, Pa, sê asseblief vir my wat die jong mans op die danse sing wanneer hulle hul lywe verf en hul mooi maak om onder die volmaan met die meisies te gaan dans wanneer die oes ingebring word.”

“O ho!” sê sy pa. “Die jong mans se gesing is soos die gebrul van leeus. Wanneer hulle dans, is dit soos die gaselle wat oor die vlaktes spring – maar hul woorde …” Hy glimlag en skud sy kop, “hulle woorde is nie vir die ore van ’n kind bedoel nie. Eendag wanneer jy ’n krygsman is wat op die vlaktes geveg het, sal jy hulle ook sing, Kaninu. Maar nou is jy te klein.”

“Ag,” sug Kaninu. “Almal het geheime, net ek, Kaninu, het g’n geheime nie.”

Toe staan sy pa op en stap weg om die korf in ’n hoë, hoë boom te gaan versteek. Kaninu kyk hom met ’n seer hart agterna. Hoekom wil sy pa nie vir hom die geheime van die krygsmanne vertel nie?

Hy stap weg na sy ma se hut, en op pad soontoe loop hy verby sy oupa, wat in die son aan ’n stuk hout sit en kerf. Sy oupa is oud, baie oud, en hy sit heeldag in die son, en hy vat snuif en knoop ’n geselsie aan met almal wat verbykom. Kaninu gaan sit langs hom.

“Cio irogea thaai,” sê sy oupa. “Vrede vir jou, my kind.”

“Eh, Oupa,” antwoord Kaninu. “Ek hoop Oupa het goed geslaap. Wat maak Oupa daar?”

“’n Mooi stok vir jou pa om saam te dra wanneer hy deur die woud loop.”

“O,” sê Kaninu, en hy kyk hoe sy oupa se ou hande die hout om en om draai en stukkie vir stukkie wegkerf.

“Kyk daar anderkant, onder die doringboom,” sê Kaninu en hy wys met sy vinger. “Kyk, daar sit die mans en vergadering hou. Waarvan praat hulle, Oupa, wanneer hulle heeldag lank onder die doringboom by die kehaaro sit?”

“Hulle sien toe dat reg geskied,” sê sy oupa.

“Oor wie moet hulle vandag oordeel?”

“A, dit mag ek nie sê nie. Sulke goed is nie bedoel vir die ore van iemand wat nog so klein is nie. Wag tot jy ouer is, dan sal jy saam met jou pa na die raadsvergadering gaan en luister na wat die manne sê.”

“O,” sê Kaninu. “Maar sal Oupa vir my sê wat die ou manne sê wanneer hulle met God gaan praat daar onder die vyeboom en op die heilige berg uitkyk?”

Maar sy oupa skud net sy kop. Sy hande raak stil en sy oë, diep in sy verrimpelde gesig, kyk ver weg oor die heuwels, en hy onthou.

“Kleintjie,” sê hy sag, “wanneer die ou manne met God praat, dan is die woorde vir God alleen bedoel. Hy, Ngai – wenyenyagia erima, na ukaiyuia njuue – Hy wat die berge laat skud en riviere hul walle laat oorstroom. Hy is die skepper van alle dinge. Hy stuur oorvloedige oeste of verskriklike droogtes. Hy is in die donderslag en in die weerligstraal, en ’n mens is maar ’n nietigheid in sy hande. Wanneer jy oud en baie wys is, Kaninu, sal jy ook met God gaan praat onder die vyeboom. Maar jy is nog baie klein, en jy wil alles van elke ding weet, alles tegelyk.” Sy oupa glimlag. “Uh-uh, uh-uh. Jy is die klein bokkie wat oor die afgrond sal stort op soek na beter en nog beter kos, al is daar groen gras in oorvloed voor sy voete. Elke leeftyd het sy geheim, Kaninu. Die geheim van die ou man is om tot God te bid. Die geheim van die vader is om met wysheid te oordeel, om die vrede te bewaar. Die geheim van die krygsman is geslepenheid in die geveg. En die geheim van die kind, Kaninu, is om te leer om sy meerderes te respekteer, en om geduldig te wag op die wysheid wat met die jare kom … Op die regte tyd sal jy al ons geheime ken.”

“O,” sê Kaninu, maar in sy hart sê hy: Ek haat dit om klein te wees. Ek wens ek kon sommer dadelik ’n grootmens wees en alles weet. Dit is so swaar om te moet wag tot mens oud is en al jou tande uitgeval het.

Ná ’n rukkie word sy oupa se hande stil, en Kaninu sien dat die ou mens aan die slaap geraak het. Hy staan op en saggies skuif hy ’n sagte bokvelletjie in agter Oupa se kop wat teen die hut se muur gestut is.

“Totsiens, Oupa,” fluister hy. “Mag die son Oupa warm maak terwyl Oupa slaap.”

Kaninu hardloop af tot by die piesang-shamba. Daar sien hy sy ma en sy tante wat sit en potte maak, want dit is byna oestyd en almal het groot nuwe potte nodig om die graan in te bêre.

“A, Ma,” sê Kaninu en hy hardloop tot by hulle. “Dis darem mooi potte. Wys vir my ook hoe om een te maak.”

Maar sy tante trek haar oë op skrefies en sy lag.

“Ehe, Kaninu!” kekkel sy. “Jy kan nie potte maak nie.” En sy lag totdat haar oë tussen die plooie van haar wange verdwyn. “Wie’t nou al ooit gehoor van ’n seunskind wat potte maak? Dis vroumenswerk. Dis pure vroumenswerk.”

“Die geheim van potte maak, is ’n vrou se geheim, Kaninu,” sê sy ma. “Net meisies leer dit, van hul ma’s. Toe, gaan kry vir jou iemand om mee te speel. Dis ongelukkig vir ’n seunskind om te sit en kyk hoe potte gemaak word.”

Kwaad-kwaad draf Kaninu van die piesang-shamba af weg. Maar toe hy sy groot broer, Wamai, onder ’n boom sien sit waar hy die steel van ’n nuwe spies regsny, vergeet hy van al die ander. Wamai is ’n krygsman, en die smid het vir hom ’n nuwe spiespunt gemaak. Dis pragtig, slank en reguit, soos ’n blaar, en dit flits in die sonlig.

Kaninu gaan hurk langs Wamai en wag tot Wamai hom verwerdig om hom raak te sien.

“Hallo, Kaninu,” sê Wamai ná ’n rukkie.

“Hallo, Wamai,” sê Kaninu skugter. Hy kyk met verwondering na hierdie Wamai wat ’n krygsman is, wat die moed van ’n leeu het en wat by die oesdanse saamdans.

Wamai staan op en vat die spies in sy regterhand. Hy balanseer dit en gooi en vang, terwyl sy voete oor die gras skuifel asof hy dans. Toe skielik, soos ’n luiperd wat spring, slinger Wamai die spies van hom weg.

Soos ’n weerligstraal flits dit deur die lug.

Soos die kolibrie sing hy, dreun hy.

En toe steek dit sidderend in ’n boomstam vas.

Trots tree Wamai tot by die boom, nie te vinnig nie, sy kop hoog, en hy trek die spies uit en kyk daarna. Toe gooi hy dit weer, en weer. Kaninu hou hom noukeurig dop, en oplaas sê hy: “Nou het ek, Kaninu, gesien. Nou weet ek ook hoe om ’n spies te gooi.”

Hy hardloop na ’n bos met lang, reguit takke en breek een af. Hy sny die een ent tot dit ’n skerp, skerp punt het. Hy hou dit in die lug – sy eie spies, sy oorlogspies. Hy balanseer dit in sy regterhand, en hy gooi en vang, gooi en vang – en toe skuifel hy sy voete en slinger die spies na ’n boom.

O! Sy spies, sy spies vlieg deur die lug!

Soos ’n weerligstraal flits dit, sing dit.

Maar – o, liewe land!

Iewers het hy seker iets verkeerd gedoen. Want die spies kom nie eens tot by die boom nie, nee – si-si-si! Dit tref die ou swart sog op die rug. Ai-ai-ai! Sy skreeu, sy is kwaad. Sy dink Kaninu wil haar kleintjies kom doodmaak – ai-ai-ai! Sy storm op hom af en haar tande klap tsjap-tsjap-tsjap op mekaar.

En Kaninu, wat die ou swart sog nie van gister af ken nie, laat spaander so vinnig as wat sy bene hom kan dra. Al met die stowwerige paadjie langs hardloop hy – sjoe, hy hardloop! Verby die piesangbome hardloop hy – swiepswap, slaan die blare hom. Tussen die mielies deur hardloop hy dat die blare so rittel, en nog steeds kom die pote van die ou swart vark tom-te-tom-te-tom agter hom aan.

“Eh! Swart vark is baie, baie kwaad,” hyg Kaninu. “Ek sal tot in die woud moet hardloop om weg te kom, en ek hou nie van die woud nie. Ek is bang.”

Maar hy is nog banger vir die swart vark, en hy hou maar aan hardloop – al met die smal paadjie langs, onder die groot bome deur en tot in die woud. Dis donker, dis donker, en hy klouter haastig in ’n groot boom op en gaan sit op ’n tak. Die swart vark kom staan onder en gluur boosaardig op.

Kaninu wag en hy wag. Uiteindelik onthou die swart vark van haar kleintjies en sy draf terug huis toe. Kaninu klouter af ondertoe en kyk om hom rond. Hier in die woud kan hy nie die geklets van die vrouens hoor nie, en nie die diep stemme van die mans of die geskree van die kinders nie. Die woud is doodstil, soos ’n plek waarvan almal vergeet het. Dis so stil soos ’n diep waterpoel.

’n Groot stilte kruip in Kaninu se hart. Die woud is pragtig.

Sy oë raak gewoond aan die donkerte. Die son kom tussen die bome deur soos ’n menigte goue spiese … En toe sien hy die skoenlappers. Hulle is wit en geel en groen en blou en rooi. Hulle dryf in die sonlig, en hulle flikker en flits, flikker en flits … en vlieg weg.

“Waarlik,” sê Kaninu, “die skoenlappers moet die blomme van God self wees, wat agter Hom aanvlieg wanneer Hy sy blyplek in die berge verander.”

Toe die skoenlappers wegvlieg, loop Kaninu agter hulle aan. Onder die yslike ou bome met hul lang baarde van mos, onder die yslike varings deur wat so sag soos ’n jong haantjie se stert is, al verder met klein paadjies langs wat deur die voete van bokke en die wildevarke van die woud gemaak is. En die hele tyd dans die skoenlappers voor hom uit. Waarheen sou hulle op pad wees?

As hulle gaan sit om te rus, maak hulle hul vlerke oop en toe – flipflap, flipflap. Kaninu steek sy hand uit om aan een te raak. Maar toe hy dit doen, fladder hulle weer weg, buite bereik, al dieper en dieper die woud in.

Oplaas kom hulle by ’n helder stroom. Oor die klippe en grys boomwortels sing die water saggies. Die skoenlappers gaan sit by die stroompie om te drink, en toe fladder hulle verder, oor die stroom. Soos ’n reënboog van blomme wat dwarrel en dans, dwarrel en dans, fladder hulle oor Kaninu. Wit en goud en rooi en groen. Geel en skarlaken, en helderblou soos ’n visvanger se vlerk.

“Ehee!” roep hy uit. “Hulle is pragtig, hierdie blomme van God. Ek wil saam met hulle dans. Ek wil ook in die water dans.”

Hy spring in die stroompie en plas in die helder water tot sy liggaam tintel van die koue druppels.

“Skoenlappers, kyk vir my!” skree hy. “Ek, Kaninu, dans saam met julle!”

Maar toe hy gaan stilstaan, is al die skoenlappers weg.

“Eh!” sê hy en kyk rond. “Skoenlappers, waar is julle? Waarheen het julle verdwyn? Ek het nie bedoel om julle weg te jaag nie. Kom terug. Ek is eensaam.”

Maar die skoenlappers kom nie terug nie. Dis doodstil in die woud, en Kaninu begin bang word. Hy hardloop heen en weer tussen die bome en hy kyk en kyk, maar die skoenlappers is weg, weg, weg.

“Die skoenlappers van die woud het van my weggevlug,” sê Kaninu. “Ma en Pa en Oupa en die olifant en die by en die mieliepit hou hul geheime vir my dig. Ek is stokalleen en daar’s niemand wat my vriend is nie.”

Hy gaan sit op ’n harde grys klip en hy huil en hy huil.

Toe hy nie meer trane oorhet nie, begin hy om hom rondkyk. Waar is hy? Hoe gaan hy ooit weer by die huis uitkom? Ai-ai-ai, hy het verdwaal in die woud en hy weet nie hoe om weer hier uit te kom nie.

Daar is niks wat hy nou kan doen nie, dus sit hy maar net stil en wag – wag vir iets om te gebeur. En dit is die geheim van die woud – om te wag en te wag, met hongerige ore en oë, tot iets gebeur.

Dis nie lank nie of hy hoor swiesj-swiesj in die bosse en die wonderlikste dier kom te voorskyn. Nog nooit in sy lewe het Kaninu so ’n dier gesien nie. Hy is groot en mooi en hy het die pragtigste kleure, asof ’n ou vrou hom vir ’n dansparty geverf het – silwer en swart en ’n diep, glansende bruin! O, o, hy is groot en mooi en baie, baie vreemd. Kaninu hou asem op. Kan dit dalk ’n bongo wees? Daardie wonderlike en geheimsinnige dier waarvan sy pa vertel, laat snags wanneer die kole in die vuur rooi gloei? Kan dit ’n bongo wees?

Die dier kom tot by die stroompie en drink, en toe begin hy wegstap, stadig, met ’n dowwe paadjie tussen die bome langs.

Ek moet agterna gaan en kyk wat hierdie wonderlike dier doen, dink Kaninu. Ek sal hom volg, net soos ’n Athi in die groot woud.

Al hoër en hoër op stap die bongo, en al hoër en hoër op loop Kaninu, o, so stilletjies. Naderhand hou die groot bome op en die bongo beweeg verder tussen yslike geel en groen bamboese deur wat ritsel en kraak. En agter hom aan, hande-viervoet, kom Kaninu, met ’n hart wat soos ’n jagter s’n klop.

En toe skielik is hy in die volle sonlig. Kaninu staan op en bevind hom in ’n vreemde nuwe wêreld – en die bongo het spoorloos verdwyn.

Het ek dan gedroom? wonder Kaninu. Waar is ek nou?

Kaninu is hoog teen die hange van ’n magtige berg wat spierwit teen die lug glinster, asof die spits met wit as bedek is. En naby hom is die bergstroompie wat vir hom ’n paadjie tussen die gras oopgebeur het. Maar kyk net hoe klein is dit hier. Net ’n skraal ou stroompie tussen donker walle. Kaninu kniel en drink, en toe sien hy die spore van die bongo in die modder.

“Die bongo was dus voor my hier,” sê hy. “Ek gaan sy spore volg tot ek hom weer kry. Die bongo sal my vriend wees.”

Die spore loop al met die stroompie saam, al hoër en hoër, maar die hele tyd word die stroompie kleiner en kleiner. En oplaas hou die stroompie heeltemal op, en daar is net ’n fonteintjie wat onder ’n groot grys rots uitborrel. En daar, langs die groot rots, staan die bongo.

Hy staan vir Kaninu en kyk.

“O, bongo, jy is baie mooi, en so groot soos ’n hut,” sê Kaninu saggies. “Sê vir my, is dít waar die stroom gebore word?”

Die bongo kyk vir Kaninu en dis asof hy sê: Ja, dit is waar die stroom gebore word. Hierdie rots is die prop op die groot kalbas van die aarde. As jy die rots wegskuif, dan sal al die water in die aarde uitstroom. Dit sal die dorpies wegveeg, die hutte en die bome en die beeste en die bokke. Dit sal soos ’n verskriklike wind verbystorm en al die mans en vrouens en kinders wegveeg …”

“En die swart vark?” vra Kaninu bly.

“En die swart vark,” sê die bongo. “Net jy, Kaninu, ken hierdie groot en vreeslike geheim, die geheim van die prop op die groot kalbas van die aarde. En wanneer jy ’n man is, Kaninu, met groot krag in jou skouers en jou arms, dan sal jy hierdie rots kan wegskuif, en al die waters in die aarde sal uitgestroom kom, net soos die water uit jou pa se kalbas wanneer hy die koeistert uittrek wat hy as prop gebruik. En die ganse wêreld sal deur die water weggespoel word.”

“O, o!” roep Kaninu uit, sy oë yslik groot. “Sal ek, Kaninu, soveel krag hê?”

“Ja,” sê die bongo. “Maar jy moet jou krag net gebruik om goed te doen, en jy mag die klip net in tye van droogte en hongersnood wegskuif om die water te laat vloei, om jou mense te red. Maar as jy met woede in jou hart kom om die klip te kom wegskuif, sal die vloed al die mense in die wêreld doodmaak, en jy, Kaninu, sal eensaam en in groot droefheid sterf, want die mense vir wie jy lief is, sal nooit weer terugkom nie. Die toorn van Ngai, God, sal vir altyd met jou wees.”

“O, dit is werklik verskriklik,” sê Kaninu. “Dit is ’n baie groot geheim wat jy my vertel het, bongo van die woud. Dit maak my bang.”

“Dit is goed om bang te wees vir sulke wonderlike dinge,” sê die bongo. “En tog behoort jy ook bly te wees. Volg nou die stroom bergaf deur die woud en jy sal jou pad terug na jou dorpie toe kry. En as jou voete weer die pad hierheen volg, eendag wanneer jy ’n man is, laat jou hart dan bly en vol vrede wees. Moet nooit in woede hierheen kom nie. Vaarwel.”

En sonder dat Kaninu mooi weet hoe, smelt die bongo weg teen die pers hange van die hoë berg, en Kaninu bly daar staan met oë en mond wyd oop op soek na hom.

Maar die bongo kom nie terug nie. En oplaas, toe die son begin ondergaan, vat Kaninu die paadjie wat al langs die stroompie loop, dwarsdeur die woud en tot by sy tuiste, waar die vrouens pap kook oor die aandvure en die bokke na die krale gelei word.

“En waar was jy vandag heeldag, Kaninu?” vra sy ma en pa en broers en susters waar hulle in die hut sit en kyk hoe die vlamme onder die swart pot lek.

“Ek het na die woud toe gegaan,” sê Kaninu.

“Hu, wat is daar te sien in die woud?” sê Wamai. “Hoekom was jy so lank weg?”

“Ek het ’n wonderlike dier gesien,” sê Kaninu.

“Vertel vir ons hoe hy gelyk het,” sê sy pa en hou sy hande na die vuur toe uit om dit warm te maak.

“Groter as ’n groot koei, en bont asof hy vir ’n dansparty geverf is, Pa,” sê Kaninu.

“Ai-ai-ai!” sê sy pa en hy kyk Kaninu met ontsag aan. “Dit moet ’n bongo gewees het. My seun, jy is gelukkig. Baie min mense het al die bongo gesien – ’n pragtige dier, groot en baie skugter. Ai-ai-ai! Om te dink dat ’n kind van my die bongo gesien het. Vertel vir my, hoe lyk sy hoewe, en hoe groot is sy ore, en is sy oë regtig rooi?”

“Hulle sê daar is towerkrag in die hart van die bongo,” sê Kaninu se ma, en sy vergeet om die pap op te skep. “Goeie towerkrag, en baie sterk.”

“Ha,” lag Wamai, “dis die stories van ou vrouens wat nie meer tande het nie. Towerkrag in ’n dier, nou toe nou.”

Maar Kaninu se ma kyk vir hom. “Is jy seker jy het geen towerwoord by die bongo gehoor nie?” vra sy met ’n fluisterstem.

En Kaninu lag met hulle almal, daar in die lig van die vuur, en hy sê nóg ja, nóg nee. En hy los hulle dat hulle maar wonder en wonder en wonder. Want dit is die heel lekkerste daarvan om uiteindelik jou eie geheim te hê.

Woordverklarings

byekorf – beehive

geslepenheid – slyness

kolibrie – hummingbird

krygsman – warrior

laat spaander – take to one’s heels

lawe – refreshed

nietigheid – insignificance

skuifel – shuffle

slingerplant – creeper

sog – sow

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Waaroor gaan Kaninu se vrae? Skryf net een korrekte antwoord neer: krygsmanne / die natuur / olifante / die bongo.
2.Die beroemde Suid-Afrikaanse pottebakker Esias Bosch het geleef van 1950 tot 2010. Kaninu se tante lag egter en sê potte maak is nie ’n werk vir seuns nie. Wat is die verskil tussen Kaninu en Esias Bosch? Skryf net een korrekte antwoord neer: Kaninu se verhaal speel af in ’n tradisie waarin slegs vroue potte bak / Esias Bosch was ’n vrou.
3.Kaninu het nie ’n towerwoord by die bongo geleer nie. Maar hy het wel ’n lewensles geleer. Skryf in een sin wat hierdie les is.
4.Wat beteken “cio irogea thaai”? Jy hoef nie hierdie taal te kan praat om uit te vind nie; die antwoord is in die verhaal.
5.Die meeste van ons weet nie eens wanneer die lande in ons omgewing geoes word nie en party van ons kan die lande nie eens sien nie. Waarom is die oes in Kaninu se wêreld so belangrik? Skryf net die korrekte antwoord neer: Kaninu se mense woon in ’n woestyn / Kaninu se mense is tradisioneel en plant self hulle kos / Daar is soveel stakings dat daar nie meer kos in die winkels is nie.
6.Die bongo het ook ’n wetenskaplike naam, naamlik Tragelaphus eurycerus. Beteken dit “Kaninu se geheim” is wetenskapsfiksie?
7.Die bongo is in hierdie verhaal ’n soort bok. Maar daar is ook ’n taal en ’n tradisionele voorwerp wat ’n bongo genoem word. Raadpleeg die internet of ’n woordeboek om die antwoorde te vind.
a)Wat is die tradisionele voorwerp?
b)In watter land word Bongo gepraat?
8.Het jy van hierdie verhaal gehou? Skryf in een sin hoekom / hoekom nie.
Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх