Читать книгу Hans steek die Rubicon oor - Rudie van Rensburg - Страница 5
3
ОглавлениеHans is verlig dat niemand langs hom sit op die terugvlug na Kaapstad nie. Toe hy twee weke gelede Windhoek toe is, was hy in die middelsitplek vasgepen tussen ’n droewige man en ’n praatsieke Duitse vrou met ’n skerp knoffelasem.
Die man het heeltyd by die vliegtuig se venstertjie uitgestaar en elke nou en dan fyn huilgeluidjies geuiter, kompleet soos ’n klein hondjie wat alleen in ’n kamer opgesluit is. Tussenin het hy weemoedig geprewel en soms hardop gesnik. Of die arme kêrel slegte nuus gekry het en of hy maar net van nature droewig is, sal Hans nie weet nie. Hy’t nooit die geleentheid gekry om hom te vra nie.
Die Duitse vrou se gebroke Engels was vir hom meestal Grieks. En haar knoffelasem het hom naderhand genoop om sy sakdoek oor sy neus te hou met die verskoning van ’n lastige verkoue. Later het hy gemaak of hy slaap, sy gesig na die droewige kêrel gekeer.
Hy strek sy arms bo sy kop uit, wikkel sy vingers en skoffel sy voete rond om sy bloedsirkulasie te aktiveer. Lanklaas het hy só uitgerus en geestelik verryk gevoel. Suidwes het hom goed gedoen, al het hy die koste verbonde aan so ’n trippie hopeloos onderskat. Sy spaarrekening is dolleeg getrek en die grootste gedeelte van sy maand se pensioengeld is geblaas.
Wat hom tydelik in ’n dilemma plaas, besef hy. Daar is geen manier waarop hy vandeesmaand woonstelhuur kan bekostig nie, wat nog te sê in ’n hotel gaan bly. Die Verenigde Nasies het hom in Desember oorreed om die geld wat hy vir sy huis gekry het vas te belê. “Sodat die maandelikse rentegeldjie Pappie se pensioen kan aanvul,” het die alwetende Carla gesê.
Nou is ou Kitty sy enigste uitweg. Dié sal hom vir ’n week of twee slaapplek gee, totdat hy volgende maand weer genoegsame fondse het. Al is sy buurvrou van tien jaar gelede glo deesdae bedlêend, met ’n voltydse verpleegster aan haar sy, weet hy sy sal hom uithelp. Die aftreeplekkie waarheen sy en oorlede Pietman destyds verhuis het, sal darem seker ’n spaarkamer hê.
Dis die verdomde vliegkaartjie en die luukse rondawel in Etosha wat sy geld so gevreet het. Ná vyf dae het hy besef die plek is hopeloos te duur. Hy’t toe uitgeboek en na ’n spotgoedkoop plekkie geskuif: Etosha Backpackers Hostel.
Hy moes wel mooipraat om plek te kry, want hulle vat glo nie sommer “bejaardes” in nie. Die bestuurder het uiteindelik ingestem toe hy vir die man ’n bondel note onder die tafel deur gegee het.
Hy het ’n slaapvertrek met vyf jonges gedeel – vier Chinese en ’n Amerikanertjie. Stil en ordentlike seuns. Een aand het hy en die Amerikanertjie aan die gesels geraak, nadat dié se vriendin hom glo vir ’n Suidwester gelos het. Aangename mannetjie. Hans het vir hom goeie raad oor verhoudings met die teenoorgestelde geslag gegee.
Die Amerikanertjie was so dankbaar dat hy een van sy daggakoekies vir Hans aangebied het. Hy het dit onverwyld geëet – ’n mens kyk nie ’n gegewe perd in die bek nie. Boonop was hy nuuskierig om te voel watse uitwerking dit op hom sal hê. Hy is wel vooraf gewaarsku dat dié spesifieke koekies ekstra sterk is, want dit het ’n paar ander “middels” in wat dit baie meer skop gee as die gewone daggakoekie.
Ondanks die ekstra skop was dit ’n baie genotvolle ondervinding. Lanklaas het hy só jolig gevoel. Hy en die Amerikanertjie het hartlik gelag vir mekaar se grappies. En al het die Chinese nie ’n woord verstaan nie, het hulle ook later geskaterlag, veral toe Hans wilde diere se geluide begin naboots het. Die “boggom!” van ’n bobbejaan was die groot treffer, want hulle het heeltyd met handgebare aangedui hy moet weer bobbejaan speel.
Die Amerikanertjie het baie oortuigend oor die medisinale voordele van dagga gepraat en hy was gretig om ’n paar van die koekies by hom te koop, maar die kêrel wou niks weet nie en het vir hom ’n halfdosyn gratis gegee. Met die waarskuwing dat dit weens die teenwoordigheid van die ander middels in geen land welkom sal wees nie, en ’n nuttige wenk oor hoe om die koekies sonder enige reperkussies oor grense heen te vervoer.
Soos die Amerikanertjie voorgestel het, het Hans ’n blik gemengde koekies gekoop en die daggakoekies tussen die ander ingepak. Dié het hy toe diep onderin sy tas langs sy transistortjie gepak. Die plan het gewerk, want hy is seepglad deur Windhoek se doeane.
Die vlieënier kondig oor die luidspreker aan dat hulle nou vinnig daal en oor ongeveer twintig minute op die Kaapstadse Internasionale Lughawe sal neerstryk. Hans skuif oor na die venstersitplek en tuur uit. Mooi, sonnige dag in die Kaap.
Net voor die landing kan hy aan die bewegende boomtoppe aflei die suidooster is bedrywig. Hy voel-voel aan sy baadjie se binnesak om seker te maak sy telefoonboekie is nog daar. Op die lughawe sal hy Kitty van ’n openbare foon af bel en dan sommer met ’n taxi na haar toe ry. Hy’t darem nog genoeg geld daarvoor.
Hulle stryk stamperig neer en ry wiegend na die lughawegebou. Sonder enige handbagasie is hy eerste van al die passasiers in die gangetjie. Sy bene is styf en stokkerig toe hy die entjie na die voorste luikdeur aflê. Sy litte raak eers later geolie, soos hy gereeld tydens sy oggendwandelinge ondervind.
’n Bussie neem hulle na die gebou. In die aankomsaal gaan staan hy by die Windhoek-vlug se bagasie-optelpunt. Sy tas is een van die eerstes wat op die voerband aankom. Hy tel dit steunend af, trek die handvatsel uit en loop na waar hulle deur doeane moet gaan.
Hy groet die stuurse doeanebeamptes vriendelik. Een beduie hy moet sy tas op ’n tafel neersit. Die man rits die tas oop en vroetel deur sy besittings, lig sy wenkbroue toe hy op die Viagra-houertjie afkom.
Hy maak die houertjie oop en loer in, glimlag en maak dit weer toe. “Vir ’n ouballie is oom nog lekka hups, nè?”
“Hans. Noem my sommer Hans.”
Die man knik net en vroetel verder. Hy frons en haal die blik koekies uit.
“Maak maar oop,” sê Hans. “Heerlike Suidwes-koekies.”
Die man lig die deksel op en beskou die inhoud.
“Ken jy Suidwes-koekies?” vra Hans.
Die beampte skud sy kop.
“Dan het jy nog nie ordentlike koekies geëet nie.” Hans leun oor, vat een van die daggakoekies en hou dit na die beampte uit. “Dit lyk nie na veel nie en is taamlik hard, maar doop dit in koffie en jy eet jou vingers af.”
“Nee dankie, oo- … Hans. Hou die koekie maar vir jou,” sê die man effe verleë.
Hans hou die koekie steeds uit. “Ek dring aan jy vat hierdie een. Jy sal my ewig dankbaar wees dat ek jou aan die koekies voorgestel het. Dié goed is verslawend.”
Die beampte glimlag, maak die blik toe en sit dit in die tas. Hy rits die tas toe, neem die koekie by Hans en steek dit in sy baadjiesak. “Ek sal dit later in my coffee break probeer, thanks.”
Toe Hans by die skuifdeure uitstap na waar die passasiers deur vriende en familie ingewag word, besluit hy om sommer ook die meisie by die reisagentskap te bel. Op sy navraag oor woonstelle het sy genoem dat haar verloofde ’n eiendomsagent is en dat hy Hans graag sal help. Dalk kan hy reël dat die knaap hom môre by ou Kitty kom optel en hom solank begin rondwys. Dan kan hy ten minste vinnig ’n besluit neem sodra sy pensioen en rente aan die einde van die maand inbetaal is.
Hy wil nie té hoog gryp nie, maar hy sal darem wat wil gee vir ’n woonstelletjie met ’n seeuitsig. Volgens die meisie by die reisagentskap betaal jy deur jou ore aan huurgeld vir daardie soort eiendom. Maar dalk val daar tog ’n bekostigbare enetjie in sy skoot. Die hoop beskaam mos nie.
Sy bene is nou op stryk, die skarniere geolie. Hy loop met ’n haastige tred, angstig om uit te vind of Kitty vir hom slaapplek het. Die tas se wieletjies vat net hier en daar grond.
Sy blik skeer vlugtig oor die skare mense wat staan en wag. Die meeste het vriendelike en opgewekte uitdrukkings, oë soekend na hul geliefdes. Dan merk hy twee baie strak gesigte op … en steek vas.
Carla en Ben?!
Hy knip sy oë ’n paar keer om seker te maak hy sien reg.
Maar dis onteenseglik die Goebbels-tweeling wat hom inwag.