Читать книгу Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux - Страница 5

2

Оглавление

Vasti voel Engela Dekker se oë op haar voordat sy vir dokter Peens vra: “En wie gaan by oom Pierre oorneem?”

“Sy naam is Frits Spies,” sê die ou dokter en steek oudergewoonte ’n peperment in sy mond nadat hy sy koppie neergesit het.

Frits? Is hy terug? Haastig sit Vasti ook haar koppie tee op die tafel neer. Haar hand bewe te veel, netnou laat val sy die koppie. Dan besef sy: Engela het op een of ander manier geweet hy kom.

Dis elf maande sedert Vasti Frits laas gesien het, en tyd het die skerpte van haar ma en Jacques se dood afgevyl. Sy het so gehoop dieselfde sou gebeur met haar herinneringe aan Frits. Dit het nie. En nou is hy blykbaar terug en Jacques, die versperring wat sy tussen hulle twee opgerig het, is weg.

Weer voel sy hoe Engela na haar kyk. Ken Engela met haar sensuele, wye mond vir Frits? Dis al asof sy iets weet wat Vasti nie weet nie.

“Ek hoop nie hy is een van daardie dokters wat so belangrik is dat ’n mens hom nie eens op sy voornaam mag noem nie,” sê Engela liefies.

Vasti weet sy verwys na haar. Sy verkies ’n professionele afstand met die verpleegpersoneel. En Engela hou daarvan om ’n knuppel in die hoenderhok te gooi en te kyk hoe die vere waai, probeer sy haar gebelgdheid verklaar.

“Wie is hierdie Frits Spies as hy by die huis is?” wil dokter Zelda Coetsier weet en boog haar mooi gevormde wenkbroue hoër.

“ ’n Jong maar baie knap narkotiseur. Verlede jaar toe ek noodwerk in Mosambiek gaan doen het, het hy uit sy eie opgedaag en gehelp. Ek gee my werk met ’n geruste hart aan hom oor. En ja, Engela, Frits is die gemaklikheid self,” sê dokter Peens.

Vasti sug innerlik. Hoekom moet Frits juis hiernatoe kom? Hy weet mos sy werk hier, en sy het hom so mooi gevra om weg te bly van haar. Hoekom klop haar hart so vinnig by die blote gedagte dat sy hom weer gaan sien? Hoekom onthou sy nou elke erotiese droom wat sy die afgelope amperjaar oor hom gehad het?

“Jy en Frits sal uitstekend klaarkom, Vasti,” sê dokter Peens niksvermoedend.

“Ek gaan jou mis, oom Pierre,” sê sy.

Sal sy en Frits ooit weer kan saamwerk? Ná wat daardie nag in die rietskerm in Mosambiek gebeur het? Sy het hom elke dag gemis, maar sy is meer vasberade as ooit om van hom af weg te bly.

Dokter Peens staan op en kyk plegtig om hom rond. Dis die laaste keer dat hy as kollega saam met hulle tee gedrink het. Sy sal die reuk van sy ouderlingpepermente, wat sy altyd met hom sal assosieer, mis, maar ook sy menslikheid en nederigheid.

“My viertrek staan gepak. Ek en my vrou vertrek môre Namibië toe,” sê hy en probeer dapper klink om ná soveel jare af te tree.

“Geniet dit,” glimlag sy toe hy uitstap.

Engela stap by die deur uit wat na die teaters lei. Die middag se teaterlys wag.

“En wie op aarde is Frits Spies?” vra Zelda weer.

Vasti probeer haar skouers ongeërg optrek. “Jy hoor mos: die narkotiseur wat volgende week in dokter Peens se plek inval.”

“Ek wonder of hy môreaand by die hospitaaldinee gaan wees,” sê Zelda.

O genugtig, sy het skoon van die dinee vergeet. Sy sal Jacques se rooi rok aantrek, besluit Vasti. Sy moet Frits probeer oortuig dat sy nog steeds lief is vir Jacques.

“Hy begin eers volgende week amptelik werk, dalk kom hy nie,” sê sy hoopvol.

“H-m, ek hoop tog hy daag op.”

“Hoekom?” vra Vasti en staan op.

“Want jy het ligpienk geword toe sy naam genoem word, en onse suster Duiwela het ook skielik rooimiere gekry.”

Vasti skud net haar kop. Zelda is ’n gekwalifiseerde ortopediese chirurg, maar sy verkies om nie haar eie praktyk te hê nie. Sy verkies om Vasti en die ander ortopediese chirurg met operasies te assisteer terwyl haar tweelingseuntjies nog klein is en sy nie sulke lang ure wil werk nie. Zelda is ’n wonderlike dokter, maar haar blou oë is soms net te skerpsinnig en oplettend wat persoonlike sake betref. In die jaar wat hulle saamwerk, het Vasti haar leer ken as nugter en volwasse, iemand sonder komplekse en met baie goeie insig in mense.

Dorothy Twala drafstap die teekamer binne. “Ek loop nou net vir dokter Peens raak en hy sê my Frits Spies kom in sy plek. Dis wonderlike nuus!”

“Ken jy hom dan, Dorothy?” vra Zelda.

“Hy het verlede jaar vir my en Vasti in Mosambiek gehelp ná die sikloon. Jy moet hom sien steke insit: tjoef-tjaf en dis klaar. Ek het gedink hy is ook ’n chirurg, maar toe is hy al die tyd ’n narkotiseur.”

Net die noem van Mosambiek wil Vasti laat bloos. Haar brein bewaar met fotografiese presisie die beeld van Frits se glimmende grys oë toe hy daar in die rietskerm oor haar gebuig het.

“The plot thickens. Dus was jy en hy verlede jaar saam in Mosambiek, Vasti,” merk Zelda op.

“Suster Twala, as jy klaar is, sal ek graag met my teaterlys wil begin,” sê dokter Ingrid Tredoux in die deur.

Vasti kyk onderlangs na haar. Die ys in haar persoonlikheid het tot in haar stem gekristalliseer. Van haar blonde kroontjie tot haar modelmooi bene, wat selfs vir haar as ortopeed lyk of hulle tot onder haar armholtes aanhou, laat Ingrid haar aan die sneeukoningin dink. Toe sy laat verlede jaar by Berg-en-Dal begin werk het, het Dorothy ook hier werk gekry, maar soms wonder sy of dit vir haar vriendin so lekker is, want Dorothy het by Ingrid Tredoux, algemene chirurg en verskrikker van verpleegsters, beland.

“Ja, natuurlik, dokter, ek kom,” sê Dorothy haastig en storm uit.

“Jy weet Duiwela sal Ingrid se buie baie beter kan hanteer as die sagte Dorothy,” sê Zelda.

“Ek het al probeer dat hulle ruil, maar Engela kry dit altyd bewimpel om by my te bly. En sy is goed met haar werk,” sê Vasti.

“En sy hou daarvan om te stir, daai een.”

Vasti sug en staan op. “Ek moet seker gaan saalrondtes doen.”

“So jy en hierdie Frits?” terg Zelda verder.

“Ons het vier jaar lank saam gespesialiseer. Is jy nou tevrede?”

“Jy ken hom dus baie goed.”

“Sien jou môreaand by die dinee,” sê Vasti net voor sy uitstap.

Die eerste mens wat Frits raaksien toe hy in die voorportaal staan en die banketsaal binneloer, is Vasti van Vuren. Fier en viets staan sy by ’n tafel, gereed om haar stoel uit te trek. Die lig in die saal is atmosfeerskeppend gedemp, maar dit verdoesel nie die glans van haar donker hare nie. Hy het haar presies drie honderd een en dertig dae gelede gesien.

As sy net enigiets anders gedra het as dáárdie rok. Is dit ooit dieselfde rok? Natuurlik is dit. Daar is net een rok met sulke kantinsetsels op die skouers. Dis die rooi aandrok van tafsy wat Jacques vir haar gekoop het.

Kammakastig.

Dit was verdomp hy, Frits, wat dit uitgesoek en daarvoor betaal het. Want Jacques het nie ’n benul gehad wat haar sou pas nie, en hy wat Frits is, het in ’n grap beduie hoe wyd die kring van ’n man se hande om Vasti se middel sou wees en hoe groot die bakkies van sy hande as dit om haar borste vou.

Jacques wou gewone blink satyn vat, maar dis sý vingers wat die tafsyrok bevoel het. Sy ma het immers al die jare om den brode klere en gordyne gemaak en hy ken lap. Jacques het soos gewoonlik nie geld gehad om vir die rok te betaal nie en hy het die geld vir sy vriend geleen. En dit weggepraat elke keer as Jacques hom wou terugbetaal, want dit het hom plesier gegee dat Vasti iets besit en dra wat hy in die geheim gekoop het.

Dit plesier hom, ontdek hy tot sy misnoeë, nog steeds.

Hy raak aan die skeermesrapsplek teen sy kakebeen. Wil sy met die rok te kenne gee dat Jacques nog steeds tussen hulle is?

’n Klomp mense skree iewers opgewonde. Hy kyk rond. Daar is ’n reuse-TV in die ingangsportaal staangemaak vir die groot wedstryd waarin die Blou Bulle speel.

“Ag nee, ons sit aan dieselfde tafel as die VVV en AtotZ,” sê Engela Dekker hier langs hom en beduie na die lys met die tafelplasings wat teen die muur opgeplak is.

“Van wie praat jy?” vra hy.

“Vasti van Vuren se voorletters spel mos VVV. En glo my, as jy haar in die teater in aksie sien, sal jy sien sy is ’n vreemde vlieënde voorwerp,” sê Engela laggend.

Frits gee ’n laggie. “Waar kom jy daaraan?”

“Ons gebruik voorletters op die diensroosters en almal in die teater noem haar so.” Sy skud haar heuningblonde hare en leun nader tot haar gesig amper aan sy nek raak. “Tot die skoonmakers en die reps,” fluister sy vertroulik.

Engela is mooi, maar sy is te naby, dink hy en moet hom keer om nie terug te trek nie.

“Ek gaan vanaand almal so jaloers maak omdat ek saam met die aantreklike nuwe narkotiseur hier is. Dankie dat jy my gevra het, Frits.”

Haar parfuum walm vroulik in sy neusgate op, iets blommerigs en soet. Moet hy vat wat Engela so gretig aanbied? Dit sal die regte ding wees om te doen, veral vir klein Jacqueline.

Hy voel weer die baba se donssagte wangvelletjie teen sy lippe netnou toe hy Engela gaan haal het. Die feit bly staan: hy het ’n verpligting teenoor die kind. En laat hy nou maar eerlik wees, dis vir hom lekker dat Engela maak of hy iemand spesiaal is.

Sy stap die saal binne en Fritz loop agter haar aan, sy opsigtelik op haar gemak, hy selfbewus in die ellendige aandpak wat hy spesiaal vir die okkasie moes huur.

Hy kyk op. Vas in Vasti se cremesoda-oë, blink en bruisend en groen, groener, grasgroen.

En hy onthou hoe lyk daardie twee oë teen haar wit vel as ’n mens haar T-hemp opstoot. Spies!

Uit die skrik wat momenteel in daardie selfde groen oë wys, weet hy sy het gehoop hy gaan vanaand nie kom nie.

Hy kyk weg.

“En wie is AtotZ?” vra hy vir Engela. Hy kan Vasti se blik tot hier op hom voel brand.

“Aldo Zeegers, wie anders?” fluister Engela.

Frits kyk terug na Vasti. Sy sit langs Aldo.

Aldo Zeegers is die administrateur van die hospitaal. En AtotZ is ’n uitstekende bynaam vir hom, want met sy aanstellingsonderhoud het Frits dadelik gesien dat Aldo eens op ’n tyd dalk ’n dokter was, maar nou ’n ambisieuse administrateur is wat die hospitaal soos ’n kernaanleg bestuur.

En dis hierdie … hierdie MBA-gestempelde haan wie se geselskap Vasti bo syne verkies.

Engela haal haar sjaal af en hang dit oor een van die leë stoele so ver as moontlik weg van Vasti en Aldo. Presies nes hy voel, dankie, dink Frits.

Onder die gedempte lig in die saal lyk Engela se skouers soos goud. Hy weet Vasti s’n lyk in maanlig so wit soos karringmelk. Dis genoeg, Spies. Engela verdien ’n goeie man, want in baie opsigte is sy die engel wat haar naam impliseer. Is hy daardie man? Hy weet nie.

Sy besluit om terug te kom uit Australië het niks met Vasti te doen nie. Amper ’n jaar het sedert Jacques se dood verbygegaan en sy het hom nooit probeer kontak nie. Sy wil hom nie in haar lewe hê nie en dis tyd dat hy dit aanvaar.

Vasti is verby, verlede, verbode. Maar hoekom was haar mond dan ’n roosknop wat so onverwags onder sy lippe geblom het toe hy haar daardie een keer … Stop net daar, Spies.

Hy vat-vat weer aan die raps op sy kakebeen. Hy herinner homself daaraan dat hy die pos by Berg-en-Dal Hospitaal aanvaar het om uit te vind of hy Engela en Jacqueline permanent deel wil maak van sy lewe. Deur sy verantwoordelikheid teenoor hulle na te kom, sal dit voel of hy die kollektiewe vergrype van mans, oor die algemeen, en sy pa in die besonder, help regstel.

Sonder om na Vasti te kyk kan hy haar gesig voor hom sien soos sy daardie aand in Mosambiek in die maanlig gelyk het: die helder vel met die blos op haar wange meer prominent en haar lippe nog rooier en gekneus soos hy hulle gesoen het. Nadat sy bewend in sy arms was, het sy nietemin gekeer dat hy haar in die intiemste van omhelsings intrek.

Nes sy ma. Aantrek, wegstoot.

Partykeer het hy hierdie fantasie dat hulle liefde maak, dié keer tot by die volle voltrekking – sy verbeelding sukkel nooit om die presiese besonderhede daarvan op te tower nie – en dat hy daarna van haar wegstap, bevry van die paljas wat sy al amper vyf jaar oor hom het. Want hy is oortuig daarvan dat die een en enigste rede waarom Vasti vir hom so onweerstaanbaar is, is omdat sy nog altyd verbode was.

Nie dat hy van plan is om ooit saam met haar te slaap nie. Hy dink met siddering aan sy middelste suster se laaste dae. Toe al het hy homself belowe: nooit, ooit hop hy sommer van bed na bed nie. En die hele katastrofe met Engela het hom nog meer daarvan oortuig.

“Goeienaand, Frits, bly jy is hier vanaand. Hallo, Engela!” roep Aldo uit.

Het Zeegers ’n bietjie koeler geraak toe hy Engela gegroet het? wonder Frits. Dalk weet hy van sy bynaam.

Frits gaan gee Aldo hand. Goeie maniere vereis dat hy Vasti ook met die hand groet. Haar hand verdwyn soos ’n klein, warm diertjie in syne en vyftig lang weke waarin hy haar nie gesien het nie, val weg.

“Hallo, Vasti,” groet hy.

“Frits,” erken sy bloot sy teenwoordigheid en trek haar hand onmiddellik terug.

Hy voel teleurstelling bitter soos gal in hom opstoot. Hy is steeds nie vir haar van belang nie.

“Ken julle mekaar?” vra Aldo verbaas.

Frits laat dit aspris aan haar oor om te verduidelik.

“Ons was albei onervare kliniese assistente: Frits in narkose, ek in ortopedie,” is haar niksseggende antwoord.

Hoekom bly hy hoop dat sy vir hom omgee? Omdat hy passie in haar kan wakker maak? Dis skynbaar nie genoeg vir haar nie.

“Kan ek jou sommer voorstel aan Zelda en Etienne Coetsier ook?” vra Aldo hoflik. “Albei is bekende gesigte hier by Berg-en-Dal.”

Frits draai na die paartjie wat oorkant Vasti-hulle sit en hy moet keer dat sy mond oopval oor die kontras tussen die twee. Selfs as man kan hy sien dat Etienne mooi is. Met sy dik, steil blonde hare en teddiebeerbruin oë is hy die soort ou wat vrouens dadelik wil huis toe vat en kos gee. En mans dadelik wil opfoeter. Hy het ’n ligblou rugbypet op sy kop. Dit steek af teen sy wit hemp en swart aandpak, en laat hom nog meer soos ’n nukkerige tienerakteur lyk.

Selfs so in die sit kan hy sien Zelda is heelwat langer as Etienne. En met daardie sout-en-peper-gryskop heelwat ouer as hy. Sy lyk Mediterreens, soel en broeiend, met wenkbroue wat haar potblou oë met twee volmaakte dun halfmane omraam. Is hulle man en vrou? Hy kan nie met sekerheid sê nie.

“Hallo, ek is die nuwe Klaas Vakie,” sê hy spottend.

Zelda se oë flikker geamuseerd en hy sien ’n glimps van ’n aantreklike en intelligente persoon.

“Welkom. Jy gaan baie van my te sien kry in die teater. Ek assisteer gereeld vir Vasti,” sê sy en haar stem is hees en ryk.

“En Etienne is die top- mediese rep in sy maatskappy, weet jy, Frits? Hy verkoop allerhande ingewikkelde teatergoeters. Partykeer is dit so moeilik om mee te werk, hy moet dit tot vir die dokters demonstreer. Hy is so slim,” koer Engela entoesiasties.

Zelda se halfmaan-wenkbroue verander in twee weerligstrale. Sy skraap haar stoel agteruit en vlieg in een woedende beweging orent.

“Hoekom het jy nodig dat sy vir jou champion?” sis sy vir Etienne.

Frits verwag dat Etienne verleë sou wees oor sy vrou se uitbarsting, maar sy vol mond vertrek in ’n klein, tevrede glimlaggie.

En daar storm Zelda by die deur naaste aan hulle tafel uit.

Etienne staan kalm op en stap sonder ’n woord na die teenoorgestelde deur.

Aldo maak keel skoon. “Etienne is rugbymal,” sê hy ongemaklik.

Engela trek Frits terug na hulle sitplekke. “Hulle het ’n vreeslik stormagtige verhouding. Ons verwag almal dat hulle enige dag gaan skei,” fluister sy onderlangs.

Frits steek sy verbasing weg. Zelda lyk so ewewigtig, hy kan skaars glo sy het so geoorreageer oor Engela se onskuldige opmerking. Engela wou Etienne maar net laat goed voel, soos wat sy met hom ook maak.

Daar kom nog ’n vrou aan hulle tafel sit.

“Frits, ontmoet vir Dorothy Twala …”

“Hallo, Dorothy. Ons ken mekaar, Engela.”

“Ek en dokter Spies en Vasti het verlede jaar saam in Mosambiek noodlenigingswerk gedoen,” verduidelik Dorothy.

Hy voel hoe Engela nuuskierig na hom kyk. Hy het haar so min as moontlik oor hom en Vasti vertel, net gesê sy moenie vir Vasti van Jacqueline laat agterkom nie.

“Noem my sommer Frits, Dorothy.”

“Ek verstaan jy ken Vasti van lankal af,” sê sy.

Het Vasti dan tog oor hom gepraat? “Ja, ons het saam gespesialiseer.”

Hy doen alles om oogkontak met Vasti te vermy, want sy is ’n rooi hibiskusblom en hy ’n verduiwelse nektarverhongerde skoenlapper. Hopelik kan sy nie hoor wat hy met Dorothy en Engela gesels nie.

“O, maar ek ken haar baie langer. Ek het op die sendingstasie in Malawi grootgeword waar haar ouers gewerk het. Ek en my man, Goodnews,” vertel Dorothy.

“Jy moes al van Goodnews gehoor het. Hy is die Blou Bulle se spanbestuurder,” voeg Engela by.

Ja, natuurlik. Goodnews Twala is ’n groot gunsteling onder die media. Hy is gedurig in die nuus oor een of ander omstrede uitlating. Is hy regtig die serene Dorothy se man?

Nog iets val hom by: Goodnews is die een wat vir Dorothy daardie stortseep met die jojoba-olie gegee het wat Vasti die aand in Mosambiek gebruik het. Gaan sy verbeelding dan nooit al die detail vergeet nie?

’n Lang vrou wat soos een van die hooghartige oorlogsgodinne uit die Noorse mitologie lyk, skuif ook by hulle tafel in.

“Frits, kan ek jou voorstel aan dokter Ingrid Tredoux, algemene chirurg,” sê Dorothy.

“Aangename kennis, ek is die nuwe Klaas Vakie, Frits Spies,” sê hy en steek sy hand uit.

Ingrid se hand is onverwags groot en grof toe hy dit vlugtig skud.

“Dis net ’n narkotiseur wat sy werk nie ernstig opneem nie wat so na homself sal verwys,” sê sy kil.

En daar sit hy met ’n mond vol tande oor dié onverwagte aanval.

“Dokter Tredoux is ’n fantastiese perderuiter, weet jy, Frits?” probeer Dorothy die ongemaklike oomblik oorbrug.

“Haar bynaam is Walkure,” fluister Engela onderlangs.

Hy moet met moeite ’n glimlag onderdruk. Dié Engela darem.

“Doen jy dressering?” vra hy hoflik.

Die blou oë kyk hom uitdagend aan. “Ek spring!”

Want Ingrid Tredoux staan vir g’n man terug nie, kon sy net sowel bygevoeg het.

Toe Zelda, oënskynlik weer kalm, terugkom, hou Frits sy oë ongemaklik op die tafelversiering voor hom. Dis ’n sinkemmer met wit klippies en binne-in pryk ’n enkele groen woestynroos-vetplantjie. Nie naastenby die groen van Vasti se oë nie. Soveel onderstrominge by dié klomp mense en dan nog Vasti ook. Het hy ’n fout gemaak om na Berg-en-Dal te kom?

“Hulle loop voor,” rapporteer Etienne toe hy terugkom en langs Zelda inskuif. Sy draai haar rug op hom en praat met Vasti.

Toe die kelners die laaste borde verwyder het, stap Aldo die klein verhogie op.

“En nou vir die aand se pret. As jy die tafelversiering voor jou oplig, sal jy ’n nommer daar kry. As ek jou nommer uitroep, moet jy asseblief kom maak of jy sing saam met die liedjie wat ons vir jou sal speel. Net drie gelukkige persone gaan die voorreg hê om verhoog toe te kom. En agterna gaan ons stem wie die wenner moet wees, vir wie daar ’n lekker prys wag.” Hy draai na die man met die lang hare wat agter die klanktoerusting sit en begin met hom reëlings tref.

“Ek is nommer negentien en jy?” vra Engela, haar blou oë blink en opgewonde.

“Daai blitsige nuwe jong vleuel van die Bulls, Pieter Beukes, het seergekry net toe hy ’n drie gedruk het. Ek dink hy het sy arm gebreek,” sê Etienne, wat pas weer ’n draai by die TV-skerm gaan maak het.

“Kon jy Goodnews se reaksie sien?” vra Dorothy dadelik besorg.

“Die kameras was dadelik op hom. Hy het nadergestorm toe hulle Pieter op ’n draagbaar afdra.”

“Wat het dan gebeur?” vra Engela.

“Pieter het geduik om ’n drie te druk, maar toe probeer iemand hom keer en hy val met sy skouer teen die doelpaal,” vertel Etienne.

Almal aan die tafel kreun.

“In die stadige aksie kon ’n mens sien hoe druk sy handpalm op die grond vas terwyl sy lyf aanhou beweeg en toe draai sy voorarm so snaaks. Toe hulle hom van die veld afdra, was sy arm nog steeds so gedraai,” sê Etienne.

“Dit klink soos ’n Monteggia-fraktuurdislokasie,” merk Vasti op.

“En jy kan die diagnose maak sonder dat jy ’n X-straal gesien het,” praat Frits vir die eerste keer weer direk met Vasti.

Hy voel hoe almal om die tafel na hom kyk en hy is spyt oor sy heftigheid. Net soos Zelda vroeër het hy geoorreageer, maar dis omdat hy vir haar kwaad is omdat sy hom al heelaand soos ’n gebruikte depper laat voel.

“Ek stem saam, dokter Spies. Dis nie die soort diagnose wat enige dokter sommerso kan maak nie,” sê Ingrid.

Vasti sit ’n bietjie regopper, kyk dan weg en sê: “ ’n Monteggia-fraktuurdislokasie is een van die moeilikste breuke om te behandel. Ek hoop Beukes kom by ’n goeie dokter uit.”

“Watse fraktuur is dit, Vasti?” vra Dorothy nuuskierig.

“Met so ’n besering is dit die been wat in lyn is met ’n mens se duim, die radius, wat die been aan jou pinkie se kant, die ulna, laat morsaf breek, maar die radius word in die proses ook uit posisie gedruk,” verduidelik Vasti.

“En die eerste nommer is …” sê Aldo dramaties van die verhoog af. “Nommer sewe!”

Dis Vasti wat eers ná ’n hele paar tellings half verleë orent kom. A, dan het hulle ligte skermutseling van flussies haar tog nie ongeraak gelaat nie, dink Frits tevrede.

Die hele saal begin wolffluit en haar wange word dieselfde kleur as haar rok. Hibiskusblom wat sy vanaand is, is sy gewilder as wat Engela wou voorgee. Sy lyk mooi en gelukkig en glad nie na die treurende vrou wat hy hom die hele tyd in Australië verbeel het sy sal wees nie. Het sy so maklik van Jacques vergeet? Het sy so maklik van hom wat Frits is vergeet?

“Dis vir my aangenaam om ons briljante jong ortopediese chirurg aan u voor te stel, dokter Vasti van Vuren,” sê Aldo.

Frits haat die warm stemtoon wat AtotZ gebruik.

“Hy het dit spesiaal so bewimpel dat sy uitgeroep word,” sê Ingrid afkeurend. “Hy druk haar gedurig op die voorgrond.”

Steve Hofmeyr se “Pampoen” klink oor die luidsprekers op. ’n Lagrimpeling trek deur die saal.

“Sing, sing jou woorde teen my vas …” begin Steve.

Vasti staan ’n oomblik versteen, dan lag sy en wink vir Etienne om sy pet vir haar aan te gee. Sy plak die pet agterstevoor op, Steve-styl, en haar blink donker hare maak ’n raam teen haar wange. Een sliert reik tot amper teen haar mond. Frits se hart ruk.

Dit het ’n besonder komiese effek dat ’n beeldskone vrou in ’n treffende rooi rok met ’n blou pet op soos ’n man sing, en die gehoor geniet dit terdeë. Hierdie speelsheid is ’n aspek van Vasti se persoonlikheid wat Frits nie ken nie en hy vergaap hom aan haar. Sy het verander, besef hy, baie verander.

Dis net Ingrid wat haar nie verwerdig om in haar sitplek om te draai sodat sy die verhoog kan sien nie.

Vasti kom by die stukkie waar Steve reken daar is net plek vir drie van hulle op sy plaas: hy, die geliefde en die hond. Sy kyk kastig geskok na haar vingers en hou net drie van hulle op, begin dan vingers bysit tot sy al tien in die lug het, sinspelende op die sanger se berugte liefdeslewe.

Hoe ironies dat dit juis sy is wat spot met liefdesontrou, dink Frits, maar die gehoor lê soos hulle lag.

Teen die tyd dat Vasti klaar gesing het, lag selfs Engela. “Dis glad nie hoe sy in die teater is nie, glo my,” sê sy onderlangs vir Frits terwyl almal hande klap.

Vasti wil van die verhoog afstap, maar Aldo gee haar eers ’n soentjie op die wang. Uit die gehoor klink weer wolwefluite op. Frits moet hom met moeite keer om nie op te vlieg en Aldo ’n opstopper te gaan gee nie. Hoe durf hy maak of hy een of ander aanspraak op haar het!

Vasti stap laggend van die verhoog af, skynbaar nie gesteur deur Aldo se vrypostigheid nie. Sy besorg die pet aan Etienne terug en gaan sit. Na haar is daar nog twee dokters wie se nommers getrek word, albei mans, maar nie een is so ’n groot treffer soos sy nie.

“Vriende, wie was die beste kunstenaar, asseblief?” vra Aldo uiteindelik.

“Vas-ti, Vas-ti, Vas-ti,” dreunsing almal. Behalwe Ingrid.

Aldo lag ingenome, asof sy klaar aan hom behoort. “Ek dink almal stem saam dat Vasti … e … Hofmeyr die wenner is.”

Maar dan kom ’n man van agter op die verhoog gestap en pyl met die grootste selfvertroue op Aldo af. Aldo frons, hou die mikrofoon van sy mond weg en draai na hom.

“Dis Goodnews,” sê Dorothy verbaas.

Toe Aldo weer praat, is sy gesig strak. Goodnews kyk om hom rond. Dis duidelik dat hy sy teatrale onderbreking van die partytjie geniet.

“Ek is jammer, vriende, maar ons sal die prys vinnig moet oorhandig. Dokter Vasti van Vuren wen ’n naweek vir twee in Flamingo Bay, naby Inhambane in Mosambiek. Dis met komplimente van …” Hy noem die naam van een van die maatskappye wat teatertoerusting aan die hospitaal verskaf en iemand klop Etienne op die skouer.

Maar toe Aldo Mosambiek sê, kyk Frits onwillekeurig na Vasti. Sy kyk terug en bloos. ’n Gevoel van suiwer manlike oorwinningsgenot wel in hom op. Sy het nie vergeet wat daardie maanlignag gebeur het nie.

“Maar Vasti sal ons ongelukkig nou moet verlaat,” gaan Aldo voort, en Vasti kyk haastig weg. “Soos julle almal seker weet, is Goodnews Twala die Bulle se spanbestuurder, en hy wil hê dokter Vasti moet opereer op die Bulle se vleuel Pieter Beukes, wat vanaand sy arm gebreek het. Pieter is reeds by Berg-en-Dal se trauma-eenheid. En aangesien dokter Van Vuren die maklikste saam met haar vertroude span sal werk, kan dokter Spies asseblief vir die narkose sorg en kan dokter Zelda Coetsier en suster Engela Dekker ook maar gaan opskrop?”

Frits voel hoe sy gesig warm word toe almal na hom kyk. Dan tref dit hom: hy gaan saam met Vasti in die teater wees. Nie Dinsdag, sodat hy nog die hele naweek het om voor te berei nie, maar sommer netnou. En hy is nie deel van haar vertroude span nie. Daar was nog nooit iets vertrouds tussen hom en Vasti nie.

Skitternag vir dokter Vasti

Подняться наверх