Читать книгу Heldin uit die vreemde - Rykie van Reenen - Страница 3
Vooraf
ОглавлениеOm te begin by die end – wat nie regtig die einde is nie.
Op Woensdagoggend 27 Oktober 1926, halfnege die oggend al, is die bekende ou Tweetoringkerk van Bloemfontein prop-, stamp-, hoek tot kant vol. Voor in die kerk, op ’n baar oorgetrek met ’n dieppers fluweelkleed met ’n silwer rand, staan ’n klein vierkantige kissie van donker eikehout op ’n pers fluweelkussing.
Hierom draai alles.
Dit bevat die as van ’n Engelse vrou wat vier maande tevore in Londen oorlede is en omdat sy op ’n besondere manier hier hoort, nou duisende myle ver van haar eie mense in Suid-Afrika begrawe word. En van oor die hele land kom mense om hierdie herbegrafnis by te woon. Die Vrystaatse vroue onder leiding van mev. pres. Steyn reël dit.
As? Vir daardie dae is dit nog iets vreemds. Mej. Maynie Fleck, sekretaresse van die herbegrafniskomitee, het, toe dit aankom, stilletjies die kissie geskud. “Klink nes gruis,” het sy verwonderd gesê.
Van gister al staan die kissie nou voor die preekstoel. Die hele dag deur het vroue saggies daarom gewerk, kranse reggestel, alles in orde gebring. Kort-kort het ’n vrou, pas aangeland van ’n lang reis, die kerk binnegekom, haar krans afgegee, ’n oomblikkie voor die kissie gestaan voor sy wegstap of stil in een van die kerkbanke gaan sit.
“Is dit nou die as van Emily Hobhouse?” het een so ’n vrou gesê en begin huil. “O, wat dié vrou vir my beteken het . . .”
Dit is haar as, ja. Op ’n silwerplaatjie staan haar naam: Emily Hobhouse. Died June, 1926. Age 66 years.
MER, baanbreker- Afrikaanse koerantvrou, doen van hierdie begrafnis vir haar koerant, Die Burger, verslag. Sy het Emily nooit geken nie. Maar die hele tyd, daardie dag voor die begrafnis, sê sy, was dit of Miss Hobhouse self daar was. Ander vroue het dit ook gevoel: “Dink, ons het vandag soveel van haar gepraat, en elke slag is dit vir my of sy ook saampraat.” So nou is hul band met hierdie vrou.
Gisternag, toe dit stil word in die kerk, is erewagte om die kissie opgestel. Nou, halftien vanoggend as die diens moet begin, speel die dodemars en ses jong tienermeisies kom vorentoe: hulle het ligpers rokkies aan, hulle dra ligpers sluiertjies wat met ’n rosekrans om die kop vasgemaak is. Alle oë is op hulle as hulle stemmig drie-drie met geboë hoof alkant van die kissie gaan staan.
Twee van hulle is kleindogters van die presidente van die twee Boererepublieke wat drie jaar so hard teen Engeland vir hul vryheid geveg het: Cecilia Fichardt, kleindogter van pres. M.T. Steyn, by wie Emily ’n huisvriend was, en Johanna van Broekhuizen, kleindogter van pres. Paul Kruger, vir wie Emily in sy ballingskap na die oorlog in die buiteland opgesoek het en wat voor sy dood nog ’n spesiale brief van groot waardering aan haar laat skryf het.
Twee van die ses verteenwoordig die tuisnywerhede wat Emily ná die oorlog in die verwoeste republieke kom stig het: Betty Lee, links daar, van die eerste en oudste spin- en weefskool op Philippolis, en Johanna Kriel van die kantskool wat sy op Koppies laat stig het.
En die laaste twee heet self Emily Hobhouse. Daar is in hierdie tyd talle kinders in Suid-Afrika wat die twee voorname het. Selfs genl. De Wet het eenkeer, toe ’n kleindogter na hom genoem moes word, gesê: “Nee, gee die kind die naam Emily Hobhouse, want sy is die edelste van die edeles onder haar nasie.” Hierdie twee in pers is die Coetzer-dogter van Reddersburg in die Vrystaat, en, uit Kaapland, Hobby Schoeman van Vogelsang, De Rust, naby Oudtshoorn (Hobby le Roux, ministersvrou, sal sy nog eendag in ’n nuwe Suid-Afrikaanse Republiek wees). Afgesien van hierdie ses is daar nog ’n groepie Emilies in wit met, onder hulle, een kortbroekknaap – ’n sedige seuntjie met donker brilletjies en steweltjies – wat Emil Hobhouse heet. Een Emily wat nie hier is nie, is die dogtertjie van mej. Hobhouse se vriendin Sarah Niemeyer: maar dié het vandag pampoentjies!
Op die preekstoel is ds. J.D. Kestell. Vader Kestell noem hulle hom. Die hele oorlog deur was hy saam met sy mense in die veld. Van die bittere vredesonderhandelinge by Vereeniging toe die Boererepublieke hul vryheid moes neerlê, het hy en D. van Velden verslag gedoen. Maar van hierdie Engelse vrou praat hy met liefde en bewondering. Hy is self seun van ’n 1820-setlaar.
Sy was Engels, sê hy, en Engels het sy gebly.
Sy was daar trots op en nooit het sy haar in woord of daad skuldig gemaak aan ontrouheid aan haar volk nie. Maar waar sy onreg gesien het, het sy daarteen opgetree ook toe dit haar eie volk was wat daardie onreg gepleeg het . . .
Terwyl ds. Kestell praat, lyk dit of een van die ses Emilies in pers wil begin kantel. Kniel maar, word vir hulle beduie, en so met geboë hoof langs die kissie gekniel, maak die kinders ’n selfs nog meer treffende tablo uit as tevore.
As die diens verby is, dra hierdie ses die baar met die kosbare kissie na buite, en hier begin die groot, stil optog, die twee stadige myle na die Vrouemonument.
Vooraan is daar ’n kommando te perd. Hulle bestaan uit manne in hul middeljare wat self seuns in die konsentrasiekampe was en wat, sonder Emily se tussenkoms, heel moontlik daar sou omgekom het. Ná hulle kom die musiekkorps. Dan ’n groepie wat Emily se naam dra, en die draers. Hierop volg ’n paar honderd skoolmeisies, almal in wit, en ook met wit sluiertjies. Elkeen dra ’n palmtak. Hulle het instruksies om net stip voor hulle op die grond te kyk – maar dit gaan moeilik, want die hele stad is die ene opgewondenheid en selfs op die dakke staan mense.
Daar volg studente in hul togas, daar volg ’n stoet van vierhonderd vroue-afgevaardigdes, van oor die hele Unie, almal in swart.
In een van die outydse ou seilkap-motorkarre van daardie dae volg die vernaamste rougangers, vroue uit die Suid-Afrikaanse huisgesinne waar Emily miskien die allertuisste was. Hulle is mev. pres. Steyn, genl. Smuts se vrou, mev. Isie Smuts, en, uit Kaapstad, Engelssprekend maar met ’n warm hart vir die Boere, mev. Caroline Murray. Mev. Mary Sauer van Uitkyk, die plaas by Stellenbosch waar sy so gelukkig gekuier het, moes ook nog net by gewees het!
Ná hulle kom die ander roumotors, die voetgangers, nog ’n burgerkommando.
Op ’n effense koppie suid van Bloemfontein steek die monument waarheen hierdie stoet beweeg, sy eenvoudige gedenknaald stil in die Vrystaatse lug op. Die veld lê wyd daaromheen. Dit was die wêreld se eerste en dit bly vir baie die wêreld se aangrypendste monument vir die lyding wat oorlog, waaroor dit ook al gevoer word, altyd bring oor vroue en kinders wat daaraan geen skuld het nie.
Dis gewy Aan Onze Heldinnen en Lieve Kinderen – 26,370 van hulle wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in die Engelse konsentrasiekampe van ontbering, siekte en honger omgekom het.
Die een wat die wêreld van hul lyding vertel het en van hoe hulle daardie lyding gedra het, is hierdie Engelse vrou wie se lewe een groot protes teen alle oorlog en onreg was, en wie se as nou graf toe gedra word deur ses jong meisies van die volk wat sy gehelp het.
Aan die voet van die ontroerende sentrale bronsgroep van die monument, binne die lae halfmaan van die omringende muur wat so goed beplan is om by die weidse gesigseinder aan te sluit, is sedert die onthulling reeds twee van Suid-Afrika se grootste helde weggelê: eers die Vrystaat se geliefde pres. Steyn, in 1916, en toe, in 1922, die Boere se legendariese genl. Christiaan de Wet.
Nou word ook die as van Emily Hobhouse hier gebêre. Die voorstel het gekom van haar vriendin, mev. Steyn, wat haar jare tevore al gevra het of hulle haar eendag hier kan begrawe. Die Nasionale Monumentekomitee en die Eerste Minister, genl. J.B.M. Hertzog, het eenparig daarmee akkoord gegaan.
Reg onder die sentrale groep van die Boervrou met haar kind wat net dood is op haar skoot, is ’n nissie uitgekap. Langsaan staan die blink granietsteen wat dit sal sluit. Al woorde daarop gebeitel, is: Hier rus Emily Hobhouse.
Die twee koppies langs die Monument is oortrek van die mense. Dis ’n bakkende Oktoberdag. Oral sien jy swart sambrele. (En ondanks die kroontjies van bruinpapier wat die skoolmeisies in wit onder hul sluiers het, val hulle streep-streep flou.)
Snaaks, sê die mense vir mekaar, dis ’n begrafnis, maar dit voel niks soos ’n begrafnis nie. Eerder is daar ’n gevoel van groot dankbaarheid vir die kans om op hierdie manier die allergrootste eer wat daar in Suid-Afrika is, te bewys aan die anderlandse vrou wat in hierdie land nooit vergeet mag word nie.
Toesprake kan maar vervelig wees. Die staan, vandag, sal lank wees. Maar na die toesprake wat op hierdie dag gemaak word om aan Emily Hobhouse eer te bewys, luister ook die honderde kinders en jong mense met groot oë. Dis ’n naam wat in hierdie land feitlik ’n towerwoord is. Van die land se grootste manne praat hier oor haar en elkeen praat diep uit sy hart uit.
Genl. Hertzog is nie self hier nie. Hy het ’n kabelgram gestuur uit Engeland. Daar woon hy die Rykskonferensie by wat, juis in hierdie sterfjaar van mej. Hobhouse, vir Suid-Afrika ’n groot stuk van die vryheid en selfregering sal terugwin wat die Boererepublieke ’n kwarteeu tevore moes afgee. Mev. Steyn moet terugdink aan ’n brief wat sy net na hierdie bitter vrede van Emily gekry het. Toe maar, het sy gesê, eendag nog sal die Boere die taak wat hulle met wapens in hul hande begin het, sonder wapens voltooi. “And so I too believe: Alles zal reg kommen,” het sy geskryf en haar naam geteken as “your people’s firm friend”.
Aan die woord nou oor hierdie vriendin van sy volk, kom dr. D.F. Malan. Hy is die Unie se minister van binnelandse sake. Hy is ’n beroemde redenaar en indrukwekkend klink dit as hy in sy forse preekstoelstem sê:
“Ons dorpe, ons skole en ons dogters” – hy kon nog nie weet van ons duikbote nie – “sal tot in die verre nageslag haar naam dra.
“As iemand dit ooit vir ons volk was, dan was Emily Hobhouse dit: ’n engel van vertroosting, die vertolker van ons weedom, ons voorspraak voor die wêreld, die versorger van ons hongeriges, die heler van ons wonde, die moeder van ons moederloses . . .
“Emily Hobhouse was een van ons in die diepste en volste sin van die woord. Sy was ook een van haar eie volk. Daarom kan sy wees soos niemand anders nie, ’n mag tot versoening, ’n skakel van verbinding, ’n hoeksteen in die gebou van ’n groot en verenigde Suid-Afrikaanse nasie,” sê dr. Malan.
Na hom praat genl. J.C.G. Kemp. Nou is hy die Unie se minister van landbou. In die Anglo-Boereoorlog was hy een van die Boere se waaghalsigste generaals, in 1914 ’n prominente Rebel. Hy sien vandag weer voor hom die verwoesting van die oorlog, met vroue en kinders herbergloos uitgedryf op die vlakte. Maar aan die ander kant, onthou hy, was daar ’n Emily Hobhouse en “as Suid-Afrika nie dankbaar is vir ’n vrou soos Emily Hobhouse nie, dan is Suid-Afrika werklik nie werd om ’n groot volk te word nie,” sê hy vurig.
Dr. N.J. van der Merwe, pres. Steyn se skoonseun, praat as ’n seun wat self in die konsentrasiekampe was . . . een, sê hy, wat self sy moeder en suster op ’n ossewa en saamgehok met ander in ’n oop steenkooltrok sien ly het, en in die hitte en koue van ’n beltent in die kampe. Hy is een van die seuns wat aldag rondom die rantsoentafel gewag het om die hongerrantsoene te ontvang.
“As herinnering aan daardie dae ’n wrok teen Engeland in my hart laat opkom, dan is daar een naam wat dit weer laat sak: Emily Hobhouse,” sê hy.
Laaste aan die beurt kom genl. Jan Smuts. Die Transvalers en Vrystatertjies onder die kinders kry lag vir sy regte Swartlandse bry, sy Boelandse uitspraak en hoërige stem. Maar van almal wat vandag hier praat, was hy mej. Hobhouse se grootste vriend. Vandat sy hom in 1903 ontmoet het, was hulle tot haar dood vriende – al kon sy baie keer baie skerp met hom verskil en al het sy hom baie keer kwaai die kop gewas. Van die lekkerste en lewendigste briewe van die vele wat sy geskryf het, was gerig aan hierdie “dear oom”. Hy praat baie mooi oor haar. Jy kan sien hy was vir haar lief.
Hy praat van die oorlog toe soveel van die jong blanke bevolking, wat nog altyd vir hierdie land so kosbaar was, uitgewis is, en hy sê: “Dit was in daardie donker uur van ons land dat Emily Hobhouse op die toneel verskyn het. Ons het alleen gestaan in die wêreld, verstote tussen die volkere, die kleinste nasie teenoor die magtigste ryk op aarde. En toe is ’n klein hand, die hand van ’n vrou, na ons uitgesteek. In daardie donkerste uur, toe dit gelyk het of ons nasie gedoem was tot uitwissing, het sy soos ’n engel verskyn, soos ’n gesant uit die hemel – en die vreemdste was: dat sy ’n Engelse vrou was.
“Dit was wel beskik vir beide die onmiddellike krisis en die latere geskiedenis van Suid-Afrika dat hierdie groot taak deur ’n Engelse vrou verrig sou word . . .”
Omdat hy haar so goed geken het, roer hy twee dinge aan wat baie na aan haar hart was en wat sy seker graag hier by haar graf sou wou gesê gehad het. Hy doen dit, sê hy, “in die taal van Emily Hobhouse”:
Hy beklemtoon eers die “power and profound influence of women in the affairs of the world. The life of Emily Hobhouse was a striking instance of this power. Here was a great war, in which hundreds of thousands of men were engaged, in which the greatest Empire on earth was exerting all its force. And an unknown woman appears from nowhere and presses the right button and the course of our history in South Africa is permanently altered. She becomes the great symbol of reconciliation between two closely kin people who should never have been enemies . . .”
In die tweede plek onderstreep hy dat vaderlandsliefde nie blind mag wees nie. Emily was “an Englishwoman to the marrow, proud of her people and its great mission and history. But for her patriotism was not enough. When she saw her country embarked on a policy which was in conflict with the higher moral law, she did not say: My country right or wrong. She wholeheartedly took our side and in doing so rendered imperishable service, not only to us, but to her own England and to the world at large . . .”
Nou is die toesprake verby. Die kinders versit effens voet. Die koor sing. Ds. C.W.M. du Toit van die Gereformeerde Kerk doen ’n gebed. Ds. A.J. Malherbe, bejaarde moderator van die N.G. Kerk, spreek die bekende plegtige woorde van die begrafnisformulier uit oor die kissie wat nou in die nis ingeskuif word. Langs hom laat iemand vyf spierwit duiwe uit ’n mandjie los – simbolies, om die boodskap te bring na elk van die vier provinsies en Suidwes. Dadelik daarna word nog ander mandjies met duiwe ook oopgemaak.
MER beskryf dit . . . “die wind waai fyn en vang die predikant se woorde op soos hy praat van die ewige lewe, en die duiwe stroom ook uit, ver bo ons koppe, en neem ons gedagtes met hulle ver, ver weg. En toe ons so staan en kyk na hulle, dreun die drie skote van die treursaluut uit . . . Alles was verby.”
Aan Emily se lieflingsneef Oliver Hobhouse in England skryf genl. Smuts kort daarna ’n brief van net enkele sinne: “It was a great occasion,” sê hy. “We buried her like a princess.”
Dié Emily Hobhouse, wie was sy?