Читать книгу Jakkalswater - Sarah du Pisanie - Страница 4
Оглавление1
Daan van Rensburg buk oor die skraal gestalte wat sit-lê teen die vuil kussings. Die ongeduld kriewel in hom terwyl onbegrip duidelik in sy donker oë te bespeur is.
“Maar, oom Bennie, hoekom kan Herman dit nie doen nie? Hy gaan mos binnekort weer met die skaap deur Walvisbaai toe!”
Met ’n slap hand probeer die ou man die sweet van sy voorkop afvee. Die maer hand val egter moeg terug op die verkreukelde, vuil deken.
“Sit, Daan.” Die vasberade stem pas nie by die siek liggaam nie.
Soos ’n konsertina vou die groot man hom stadig in die riempiestoel op. Hy probeer sy stewels, wat vuil en rooi van die stof is, uit die pad kry, maar die spasie tussen die bed en die stoel is te klein en dit noodsaak hom om styf en regop te bly sit, die voete half onder die stoel ingetrek.
Die hoed met die sweetkring rondom word versigtig op die vloer langs die stoel neergesit. Met sy breë, plat vingers kam hy deur sy hare. Sy baard en klere is vol rooi stof.
Oom Bennie buig steunend oor na die tafeltjie voor die bed, sy maer arm uitgestrek na die waterbeker. Daan vat die beker raak en hou dit woordeloos uit na die siek ou man. Oom Bennie sluk gulsig en gee dan weer in stilte die beker terug. Dié twee mense wat al ’n lang pad saam geloop het, het nie woorde nodig om mekaar te verstaan nie.
’n Vlieg zoem teen die ruit en probeer ’n opening kry om buite lafenis te gaan soek. Die hitte in die klein kamertjie maak oom Bennie se koors nog ondraagliker. ’n Hoesbui oorval hom. Daan lig hom effens uit die stoel en probeer sy arms agter die smal skouers inkry sodat hy die ou man ’n bietjie hoër kan oplig. Sy hande word egter beslis weggedruk.
“Ek is moeg, Daan, laat ek praat en klaarkry.”
Daan probeer weer sy bene verskuif, maar nog steeds is die spasie te klein en hy verplaas maar net sy gewig na sy ander heup.
“Ek sou jóú nie gevra het om die vroumens te gaan haal as ek gedink het Herman kan dit doen nie.” Oom Bennie se stem is dun van ongeduld.
Stil staar Daan hom aan. Die onbegrip op sy harde gesig maak plek vir iets soos teerheid. Dierbare oom Bennie – vir soveel jare is hy al wat hulle het. Vandat sy ma en later sy pa dood is, is oom Bennie al wat vir hom en sy vier broers oorgebly het.
Iets soos hartseer rem aan Daan. Wat sal hulle tog eendag sonder oom Bennie doen? Hy is vir hulle moeder en vader. Vandat hy kan onthou, was oom Bennie maar hier by hulle op Jakkalswater. So ’n entjie van die ou opstal af het hy vir hom ’n tweevertrekhuisie gebou en hier woon hy al byna sewe en twintig jaar lank. Skielik is hy nuuskierig om te weet waarom oom Bennie nooit getrou het nie; waarom hy maar altyd hier by hulle gebly het.
Oom Bennie sluit sy blou oë moeg. Sy gedagtes dwaal vanoggend. Hy wil nie vir Daan met hierdie nuwe probleem belas nie – die arme kind het al swaar genoeg gekry – maar hy weet werklik nie wat hy anders kan doen nie.
Die lewe was mooi en goed. Hier by Stefaans en Anna het hy hom tuisgemaak. Hy het maar gehelp grootmaak aan die drie pragtige donkerkopseuns – lewenslustige, woelige knape. Alles het so rustig verloop. Hulle het hard gewerk, maar darem ook goeie beloning daarvoor ontvang. Die seuns was al mooi groot toe Anna – die fyn, pragtige vrou wie se hare al silwer strepe begin maak het – weer swanger geraak het. Daan was teen daardie tyd al veertien jaar oud, Herman seker omtrent twaalf en Piet twee jaar jonger. Hy onthou nog goed hoe bekommerd sy ou vriend was. ’n Paar keer het hy sy kommer hardop teenoor hom uitgespreek. Anna was nie sterk nie en Stefaans het swarigheid gesien vir die bevalling in haar middeljare. Die twee pragtige seuntjies, rooikoppe net soos hulle ma, het van die eerste dag af in almal se harte kom nesskop. Hulle was sterk, fris boerklonge. Anna het egter ’n knou oorgehou. Die twee ou seuntjies was nog nie eers mooi gespeen nie, toe het hulle haar hier in die warm grond van die Namib gebêre.
Stefaans was gebroke. Dae en nagte lank het hy alleen in die veld rondgedwaal. Hy en Daan het maar die twee kleintjies versorg, totdat Stefaans eers vrede met homself gemaak het. Eers baie maande later het sy growwe, harde lag weer deur die klowe weerklink. Toe was hy en Daan al so gewoond om die kinders te versorg dat Stefaans dit grotendeels aan hulle oorgelaat het.
Daardie moeilike jare toe hy en Daan en soms Stefaans so alleen-alleen kinders grootgemaak het, was vir hom die lekkerstes. Dit was vol, besige jare. Tyd vir verlang en treur oor wat kon gewees het, was daar toe nie. Anna se stil, skaam laggie was nie meer daar om hom aan sy eie hartseer en verlange te herinner nie. Stefaans was die enigste een met wie hy ooit hierdie verlange en hartseer gedeel het. Dit was ook daarom dat Stefaans aangebied het dat hy maar eers hier by hulle kom bly totdat, soos hy dit gestel het, die vrees vir die eensaamheid nie meer so fel was nie.
Die gedagtes aan Anna bring oom Bennie terug na die werklikheid.
“Jy sal haar vir my moet gaan haal, Daan. Sy is reeds op Walvisbaai,” sê hy terwyl hy smekend na Daan kyk.
Daan skuif ongemaklik rond op die lendelam stoel. Al die jare alleen op die plaas het hom menssku gemaak. Sedert sy pa tien jaar gelede dood is, het hulle selde van die plaas af weggegaan. Herman is die een wat altyd wanneer die bote inkom, met die osse en skape aftrek Walvisbaai toe.
Die aanvraag na hulle produkte is goed. Dit is net hulle en die Joostes hier in die vallei wat die bote en Walvisbaai voorsien van vars vleis.
Die Joostes is ook maar wild en ongetem. Die ma is al jare lank dood. Die pa en die vier seuns boer so alleen. Daar is ’n suster, maar sy is net soos die seuns – groot, grof en wild. Dra mansklere en boer soos een van hulle.
“Oom Bennie, ek sien nooit ’n vrou nie, afgesien van Lana Jooste. En oom weet hoe is sy ... soos een van ons. Ek sal nie weet wat om vir die vroumens te sê nie.” Daan krap agter sy nek asof hy die ongemak daar wil uithaal. “En watse vroumens ís dit, oom Bennie? Ek bedoel ... waar kom sy vandaan? Ag, vervlaks, oom Bennie! Wie is die vroumens?”
“Dit is ’n lang storie, Daantjie.”
Oom Bennie probeer hoër teen die kussings opskuif. Die stilte rek, raak gelaai met emosie. Hy klink moeg toe hy uiteindelik praat.
“Ek was destyds verloof aan haar ma. Ons was ’n klomp broers. Ons kon nie almal op my pa se grond boer nie ... Ek was die oudste. Ek was al diep in my dertigerjare toe ek haar ontmoet het. Dit het skielik tot my deurgedring dat ek op my eie bene sou moes staan voordat ons kon trou. Ek het besluit om vir my ’n toekoms hier in Duitswes te kom soek, hier waar grond nog volop en goedkoop was.” Die stem raak yler en moeg vee hy eers oor sy oë.
“Hier in Duitswes het ek baie siek geword – longmoeilikheid. Ek het langer weggebly as wat ek beplan het, vyf jaar. Toe ek daar kom ... Sy is toe net die vorige week getroud met ’n sendeling, ene Patrick O’Neill.”
Daan vermy oom Bennie se oë. Die naakte hartseer op die smal gesig maak hom ongemaklik en ontroer kyk hy na sy hande.
“Daar was baie verwyte ... maar ek hét te lank weggebly. Ek moes haar van die begin af saamgebring het, sodat ons saam kon swaarkry.” Die bleekblou oë pleit om begrip. “Maar ek was so jammer vir haar, Daan. Sy was baie jonger as ek en sy was so fyn en vroulik, net soos jou ma. Ek het gedink ek sou alles eers hier kom regmaak en haar dan gaan haal.”
Oom Bennie sug bewend en beweeg moeisaam.
“Ek het dadelik teruggekom. Langs die pad het ek jou ouers teëgekom. Hulle was ook op pad na ’n nuwe heenkome. Jou pa was die enigste persoon vir wie ek ooit hierdie storie vertel het. Dit was sý voorstel dat ek eers hier by julle kom bly totdat die hartseer en verlange minder is. Die maande het jare geword.” Verwondering sit in die moeë oë. “’n Leeftyd! Dit was sowaar ’n leeftyd.”
Oom Bennie beduie na die hangkas in die hoek van die kamer. “Daar in die kas is ’n brief, Daan. Gee dit tog vir my aan!”
Daan lig homself uit die stoel. Hy krap in die deurmekaar kas, totdat hy op die briefie afkom. Met ’n stywe arm hou hy dit uit na oom Bennie. Die briefie word egter met ’n slap beweging teruggedruk in sy hand.
“Ek wil hê jy moet dit lees.”
Daan lees stadig en moeisaam. Sy moeder het hulle geleer lees en skryf, maar omdat daardie kennis soveel jare lank nie toegepas is nie, is sy oë traag om die sierlike letters te ontsyfer. Die datum in die hoek is dié van ’n jaar gelede.
30 April 1912
Liefste Bennie
Ek bid en vertrou dat hierdie briefie jou sal bereik.
Die kaptein van die Pellgrave het aan my berig gebring dat jy jou daar in die Walvisbaai-omgewing bevind. Ek stuur hierdie briefie saam met hom en vertrou dat dit jou wel sal bereik.
Ag, Bennie, ek glo dat jy my al vergewe het vir wat ek destyds aan jou gedoen het. Ons is met soveel verwyte uitmekaar. Jy wou destyds nie glo dat ek werklik gedink het jy leef nie meer nie. Dit was egter die waarheid. Patrick was baie goed vir my, maar ek het nooit opgehou om jou lief te hê nie.
Patrick is vyf jaar lank al oorlede. Ons was baie jare getroud voordat ons die vreugde van ouerskap ervaar het. Ons het ook net die een kind gehad. Sy was verlede maand reeds een en twintig jaar oud.
Kaptein Wood het my ook vertel dat hy jou eendag op Walvisbaai ontmoet het. Hy het gesê dat jy nooit getrou het nie. Ag, Bennie, ek is só jammer. Ek wens daar was iets wat ek kon doen om te vergoed vir al die leë jare.
Dit is egter weer eens ek wat vir jou ’n guns wil vra. Dit het finansieel nie altyd met ons baie goed gegaan nie. Veral na Patrick se dood was daar min geld. Die Hemelse Vader het egter nog altyd vir ons gesorg. Maar daar het nou ander probleme opgeduik. Ek is baie siek, Bennie. Ek twyfel of daar nog baie maande vir my oor is. Ek is baie bekommerd oor my dogter. As ek iets moet oorkom voordat sy getroud is, moet jy asseblief tog na haar omsien. Ek kan niemand anders vra nie. As ek net weet dat daar iemand is na wie sy kan gaan, sal ek in vrede sterf.
Jy moet my laat weet, asseblief, Bennie, want as jy nie kans sien nie, sal ek ander reëlings moet tref. Ek kan nie my kind so alleen agterlaat nie. As ek haar net jou adres kan gee, sodat sy na jou kan kom as sy jou nodig het!
Die tyd is te min, Bennie, ek glo nie ek sal weer aan jou kan skryf nie en die pos neem maande. Maar ek weet dat ek op jou sal kan reken, daarom sê ek solank baie dankie en pas my kind tog mooi op. Sy is my enigste en dit wat vir my die dierbaarste is, gee ek vir jou. Ek hoop sy sal vergoed vir al die hartseer wat ek jou aangedoen het.
Al my liefde
Grieta
Daan vou die briefie tydsaam op en staar net na oom Bennie, wat hom bekommerd dophou.
“Wat kon ek anders doen, Daan? Ek moes saam met die kaptein laat weet dat dit goed is so. Ek kon tog niks anders doen nie. Ek het maar gehoop dat sy intussen ’n man sou kry.”
“Genade! Oom Bennie, wat gaan óns nou met haar maak?”
Die implikasie van sy eie woorde tref hom soos ’n vuishou. Sy groot kop hang skeef, terwyl hy hom stadig terugvou in die stoel. Sy hande hang slap tussen sy knieë.
“Waar gaan sy bly? Sy kan nie hier by jou in hierdie eenslaapkamerhok intrek nie en daar bo by ons vyf in die ramkamp nog minder!”
Oom Bennie kyk by Daan verby. Hy sluk swaar. Die Vader moet hom krag gee. Hy kan dit nie van Daan verwag nie, maar wat kan hy anders doen?
Die blou ogies is blink van die trane.
“Ou Daneman, jou oom Bennie gaan nou vir jou die grootste guns van jou lewe vra, my kind.” Sy oë pleit by Daan. “Die liewe Vader weet, vandat Morris my saam met die boodskapper laat weet het dat sy al op Walvisbaai is, het ek twee dae en nagte aan niks anders gedink nie. Ek het duisende planne gemaak en moes hulle almal weer verwerp.” Etlike sekondes lê hy stil met geslote oë, asof hy nie die moed het om Daan in die oë te kyk nie. Toe hy hulle oopmaak en op Daan rig, praat hy vinnig, bang dat sy moed hom sal begewe.
“Jy moet haar gaan haal, my kind, en jy moet daar op Walvisbaai met haar trou, voordat jy haar hiernatoe bring.”
Die woorde dring nie mooi tot Daan deur nie. Hy skud sy kop effens, sy hande hang nog slap tussen sy knieë. Sy oë staar oom Bennie onbegrypend aan.
“Verstaan jy dan nie, Daan? Ons kan nie ’n ongetroude vroumens hiernatoe bring nie. Julle is drie hubare mans hier op Jakkalswater en by die Joostes is vier. Die klomp mans sal mekaar se kele afsny, en die vroumens sal nie veertien dae hier wees nie, dan sal een van julle ...” Oom Bennie se stem raak hoog en yl van opgewondenheid. “Ek is oud en siek, Daan. Wie sal haar beskerm as jý dit nie doen nie?”
“Wat sal trou nou help, oom Bennie? Dit bly nog steeds ’n vervlakste vroumens en om ’n vroumens hier in die vallei in te bring, gaan moeilikheid veroorsaak. Die klomp gaan nog steeds mekaar se kele wil afsny.” Daan se nekare staan gebult soos hy sukkel om nie sy frustrasie uit te skree nie.
“Nie as sy aan jou behoort nie, Daan! Dit weet jy baie goed. Niemand sal met iets peuter wat aan jou behoort nie.”
Daan vryf oor sy oë. Gee hom ’n os of ’n wilde perd, maar ’n vrou! Daarvoor sien hy nie kans nie.
“Nee, oom Bennie, ek sal vir jou baie dinge doen, maar nou vra jy darem te veel.” Daan se stem word pleitend. “Ek kan nie, oom Bennie. Regtig, ek kan nie.”
Stil, met geslote oë, lê die siek ou mens. Daan voel lus om hom te skud soos ’n klein hondjie. Hoe kan hy dit van hom verwag? Hy weet hy is baie aan oom Bennie verskuldig vir al die liefde deur die jare en al die hulp met die kinders, veral na sy pa se dood. Dit is vir hom bitter swaar om die ou man iets te weier, maar dit is darem ’n onbillike versoek! Hy sal nie eens weet wat om met ’n vrou te gesels nie, wat nog te sê trou!
“Laat Herman haar vat, oom Bennie, dan sal ek toesien dat die ander nie aan sý goed raak nie.” Verligting oor so ’n goeie plan breek in ’n breë glimlag oop oor sy gesig.
Die grys kop beweeg van kant tot kant. “Nee, Daan, dit sal nie deug nie. Dit is jy of niemand anders nie. Wat dink jy gaan gebeur as jý die dag in Herman se goed begin belang stel?”
Ontkenning lê Daan se gesig vol. Hy maak sy mond vinnig oop, maar die maer hand keer hom.
“Ek ken ’n mansmens, my kind. Op ’n dag gaan die verlange na ’n maat jou beetpak. Dit is die natuur, my kind, jy weet dit!”
“Maar, oom Bennie, ek het nog nooit sin in ’n vrou gehad nie en ek is al dertig jaar oud.”
“My kind, hier is nie vroumense naby ons nie. Die Jooste-meisiekind is wild soos haar broers. Jy kan haar nie met ’n dame soos jou ma vergelyk nie. Die jare sonder vrouegeselskap en sonder ’n ma het julle stomp gemaak. Julle het geleer om sonder ’n vrou klaar te kom. Maar julle het nie geweet wat julle misloop nie. Julle het geleer om pret en plesier te hê, net die klomp mans onder mekaar. Julle raas en drink, jaag met die perde. Dan dink julle dit is genoeg. As daar eers ’n regte vrou, ’n ongetroude vrou, in die vallei is, gaan daar moeilikheid wees.”
Die bleekblou oë is lewendig van opgewondenheid.
“As sy soos haar ma is – wat ek glo sy is – sal sy ’n ware dame wees, Daan. Ek gun haar vir jou, my kind. Dit is goed om ’n maat te hê. Jy was baie eensaam die grootste gedeelte van jou jong lewe. Ek sal baie tevrede wees as ek weet jy is gelukkig voordat ek sterf.”
“Oom Bennie, moenie op my gevoel probeer speel nie! Jy praat nou ’n klomp bog, en jy weet dit. Jy ... Oom wil nou net oom se gemors probeer regmaak.” Daan is meteens woedend.
“Daar is nog iets, Daan.” Oom Bennie maak asof die kwaai woorde nooit gesê is nie. “Ek is nie ’n arm man nie. Ek het destyds vir my ’n plaas bo in die noorde gekoop, voordat ek terug is om my bruid te gaan haal. Die grond is groot en pragtig. Daar is baie wild en ’n groot rivier. Ek het later die plaas verhuur. Ek was toe nie meer lus om alleen daar te gaan bly nie. Veral na jou ma se dood het ek gevoel dat julle my hier nodig het.”
Oom Bennie probeer ’n bietjie hoër opskuif teen die kussing.
“My kind, daardie plaas en al die kontant wat ek het, gee ek vir jou, en dit is nie min nie. Jy weet self hoe groot my eie boerdery hier op Jakkalswater is. Jy kan ’n goeie begin daar gaan maak. In ruil daarvoor moet jy vir jou oom Bennie net hierdie een ou gunsie doen.” Die koorsige oë gloei, soek Daan se onstuimige bruines en hou dit pleitend gevange.
“Daan, ek gun haar net vir jou. Dit sal jou nie berou nie, my kind. Ek sal my testament laat opstel sodra jy vir my die huweliksertifikaat kom wys.”
Daan sluk swaar. Sy keel is kurkdroog. Sonder om ’n woord te sê staan hy op en stap by die deur uit.
Buite roep die sonbesies hulle misnoeë oor die hitte skril uit. Daan stap gedagteloos tot by die put, draai die slinger en toe die emmer bo kom, druk hy sy groot hande in die koel water, druk sy gesig in sy bakhande en skud die water soos ’n hond van sy gesig af. Soos ’n ou man draai hy stadig om en sak in die koelte van die groot wildevyeboom neer.
Sy gedagtes staan stil. Hierdie probleem kan hy nie verwerk nie. Die plaas sou vir hom die grootste geskenk denkbaar gewees het. Hy het homself al telkens betrap dat hy planne beraam om groter grond te bekom. Hierdie grond sal hulle almal nie kan dra nie, veral nie as die tweeling eers groot is nie. Sy gedagtes werk vinniger. Hy kan die tweeling saam met hom noorde toe neem en Herman en Piet kan hierdie plaas bewerk – die inkomste is ook oorgenoeg vir twee. Maar ’n vrou! Wat maak ’n mens met ’n vrou?
Iets skiet hom te binne en met lang treë hardloop hy terug na oom Bennie se huisie. Hy stamp die deur oop en met twee treë staan hy weer langs die bed.
“Wie sê sý sal wil trou?” Triomfantelik kyk hy na die koorsige ou man.
“Daaraan het ek ook al gedink. Ek het vir haar ’n brief geskryf en alles aan haar verduidelik, vir haar gesê dit is die enigste uitweg, en ons doen dit vir haar eie beswil. Maar nou ja, as sy nie kans sien nie, dan kan ek niks verder vir haar doen nie. Sodra ek jou antwoord het, stuur ek die brief saam met die boodskapper terug. Jy sal geen verduideliking hoef te gee nie, Daan.”
Daan se skouers sak. Moedeloosheid hang soos ’n kleed om hom.
“Die storie van die plaas – dit is net tussen ons, Daan. Dit het niks met iemand anders te doen nie.”
Stomverslae kyk die groot man af op die vervalle gesig. Die stilte is broeiend. Diep en laag kom Daan se stem. “Wanneer moet ek ry?”
Dankbaarheid en verligting meng met die trane in die moeë oë.
“So gou moontlik. Jy sal die wa moet vat; die meisiekind het natuurlik al haar aardse besittings saamgebring.”
Soos ’n ou man draai Daan om, kom dan stadig terug en tel sy hoed op, wat nog onder die stoel lê.
“Daantjie!” Die maer hand word na hom uitgehou. “Dankie, my kind – baie, baie dankie.”
Sy groot kop hang toe hy die maer hand druk. Sy oë kyk by oom Bennie verby en verslaentheid lê oop op sy gesig.