Читать книгу Jakkalswater - Sarah du Pisanie - Страница 5
Оглавление2
Die son skyn helder oor die stil, blou baai. Groot swerms flaminke kleur die lug in sprokieskleure wat wissel van ligroos tot ’n diep rooi. Pelikane kom lomp aangewaggel oor die strand op soek na vissies wat hulle tyd met hoogwater verspeel het. In die vlak water voer ’n klompie flaminke ’n trippeldans met hulle dun pote in die modder uit.
Die rustige blou van die see vloei oor die bruin sand van die strand, wat weer inskakel by die duine van die Namib, ’n abstrakte woestyntoneel wat geleidelik van kleur verander.
Magriet sit met opgetrekte knieë vasgedruk teen die sandwal. Die hartseer trekkie om haar mond verraai dat haar gedagtes nie so rustig soos haar omgewing is nie.
Moeg geworstel met gedagtes en emosies, het sy vanoggend besluit om iewers heen te stap. Sy wou aanhou stap totdat sy háár spruitjie sou kry, waar sy stil kon wag op ’n antwoord op al haar gebede.
Die seewindjie ruk tergerig stringetjies hare uit die netjiese kapsel, om dit baldadig oor haar gesig te waai. Ingedagte vee sy dit kort-kort weg. Moeg en gedreineer van alle emosies laat sak sy haar kop op haar knieë. Haar gebed is kinderlik en opreg. Saam met die trane oor haar wange stort sy haar hart voor haar Hemelse Vader uit.
Lank sit sy so, totdat die rustigheid van die natuur stadig deur haar begin vloei. Kalmer staan sy dan op, skud die sand van haar rok af en begin stadig in haar spore, wat nog duidelik in die nat sand lê, terugstap.
Die besef lê duidelik en swaar in haar binneste. Daar is vir haar geen ander uitweg nie: sy sal die pad vorentoe móét loop. Kans vir omdraai is daar nie meer nie. Sy het al die geld wat sy gehad het, gebruik om hierheen te kom. Sy het nie naastenby genoeg om terug te gaan Kaap toe nie. Werk as goewernante of enige ander werk sal sy nie hier kry nie, want die wêreld hierlangs is wyd uitgestrek en feitlik onbewoon.
Sy steek haar hand in haar roksak en voel weer oom Bennie se briefie wat sy gister ontvang het. Sy het dit al soveel maal gelees dat sy dit woordeliks kan herhaal.
Sy kan oom Bennie se pleidooi heeltemal verstaan, maar hoekom het hy nie die eerste keer toe hy aan haar moeder geskryf het, verduidelik dat hulle net ’n klomp mans op die plaas is nie? Waarom wag totdat sy hier is? Sy kon vir haarself ’n ander heenkome in die Kaap gesoek het. Sy en haar moeder was heeltemal bewus daarvan dat oom Bennie nooit getroud is nie, maar dat hy saam met ’n ander gesin op die plaas woon. Die hele ent pad het sy beplan hoe sy sou help met die kinders se skoolwerk. Sy sou haarself gelief gemaak het by die vrou van die plaas – ’n hulp gewees het soos wat sy altyd vir haar moeder was.
Nou dít! As sy net nie nodig gehad het om met ’n wildvreemde man te trou nie! Haar keel trek toe; die angssweet slaan klam op haar vel uit. Watse soort man is dit wat met ’n wildvreemde meisie sal trou? Sy kan nie uit oom Bennie se briefie wys word of dié man oorgretig is om ’n vrou te hê en of hy gedwing word om met haar te trou nie. Al wat oom Bennie sê, is dat sy die man kan vertrou en dat sy moet glo dat dit die beste en enigste uitweg is.
Magriet is suf gedink. Sy wil nie weer alles ontleed soos sy al die afgelope vier en twintig uur gedoen het nie. Sy skud haar kop beslis. Met haar skoene in haar hand, die rok effens gelig sodat dit nie moet nat word nie, hardloop sy terug. Die wind ruk aan haar rok en hare. Wanneer die man opdaag, kan hulle die saak soos twee grootmense bespreek. Sy weet dat die Vader wat haar nog altyd gehelp het, nou weer die pad sal aanwys. Al is die pad nie altyd vir haar so duidelik nie, sal sy tog in geloof volg. Berusting stroom stadig deur haar na hierdie besluit.
Eers toe die huise in sig kom, trek Magriet haar skoene en kouse aan. Haar voete is klam van die sand en dit voel grillerig om haar sanderige voete in die kouse te steek. Sy glimlag stil toe sy aan haar gasheer en gasvrou dink. Die mense is dierbaar. Meneer Morris, die winkeleienaar, het ’n klein maar gerieflike kamertjie aan haar afgestaan. Mevrou Morris is uitgehonger vir geselskap en sy kwetter die hele dag soos ’n voëltjie. Die weer is sleg en dit noodsaak haar om baie binnenshuis te bly. Daaroor is mevrou Morris bly, want dan is sy verseker van geselskap.
Vanoggend was die eerste mooi sonskynoggend. Die vorige dae was nat en mistig. Misslierte het soos ’n vaal gordyn oor die hele nedersetting gehang. Namiddae het die mis so ’n bietjie opgeklaar, maar die son het nooit juis geskyn nie. Mevrou Morris het vanoggend met ’n kennersoog na die woestyn geloer en gesê: “As jy ’n rukkie wil uitkom, hartjie, sal jy dit vanoggend moet doen. Vanmiddag gaan die wind stormsterkte waai. As die sonnetjie eers die oggend so skynheilig skyn, dan moet jy weet die wind lê en wag agter die eerste duine.”
Magriet kan aan die plukke aan haar rok en hare voel dat die wind beslis al sterker waai as toe sy gekom het en gedagtig aan haar gasvrou se voorspellings, versnel sy haar pas.
Mevrou Morris wag haar op die stoepie voor die huisie in.
“En hoe lyk die ou see vir jou, hartjie?” Voordat Magriet nog iets kan sê, praat sy verder. “Dit is mooi, nè? En die duine is so mooi wanneer die son so helder skyn. Dan is hulle mos so pienkbruin.” Sy skep vinnig asem. Die donker ogies vonkel van opregte plesier. “En het jy die flaminke gesien, hartjie? Hulle is mooi, nè?”
Magriet staan verstom. Hoe wonderlik is dit dat ’n mens nog die mooi in elke dag en elke ou klein dingetjie kan sien! Hier aan die uithoek van die aarde, met net die see en die woestyn en waar alles vaal en oninteressant blyk te wees, hier sien diegene wat met liefde kyk nog soveel mooi dinge raak!
Met diep ontsag bêre Magriet hierdie les in haar binneste: as ’n mens met liefde kyk, sien jy die mooi ook in die oënskynlik lelike raak.
Soos mevrou Morris voorspel het, begin die wind teen middagete met geweld waai. Vlae sand word woes teen die houthuisie vasgewaai. Met woede en krag pluk die wind aan die vensters en deure, om dan weer later hartseer en treurig om die hoeke van die huisie te huil.
Stil en rustig gaan die huismense hulle gang. Dit is ’n deel van hulle bestaan – saam met die mooi sonskynoggend aanvaar hulle die wind en sand sonder om een keer daaroor te kla.
Magriet het haar borduurwerk gaan haal en sy en mevrou Morris sit rustig in die klein sitkamertjie en gesels. Later drink hulle tee en eet van die heerlike koekies wat die vriendelike gasvrou voorsit.
“Wanneer dink mevrou sal die mense van Jakkalswater kom?”
Magriet vra die vraag ongeërg, maar in haar begin die onsekerheid al weer woel en vroetel.
“Seker nou enige dag, hartjie. Die boodskapper het gister kom sê die mense was al aan die regmaak om te ry toe hy daar weg is. Hulle kom egter met die wa en dit sal ’n bietjie langer duur as ’n reis te perd.”
Die wind waai tot laataand. Magriet gaan maar vroeg inkruip. Sy blaas die kers dood en staar dan na die flou sterretjies wat deur die skrefie van die gordyn sigbaar is.
En nog ’n dag sleep traag verby. Magriet betrap haarself kort-kort dat sy wens die man moet tog maar kom, sodat hulle die saak kan bespreek.
Dit is egter reeds Woensdag toe mevrou Morris haar uitasem kom verwittig dat die wa aan die kom is en oor sowat ’n uur of twee daar sal wees.
Sonder ’n woord gaan Magriet na haar kamer, sak stadig op haar knieë voor die smal bedjie neer en raak stil voor God. Hy sal weet wat om te doen. Hy sal nie dat die pad vir haar te swaar word nie.
Later neem sy haar Bybeltjie en begin lees. Somtyds bly ’n versie vassteek in haar gedagtes. Dan staar sy lank voor haar uit en dink daaroor na. Soms lees sy gedagteloos die woorde sonder dat dit registreer.
Mevrou Morris is baie nuuskierig oor die hele aangeleentheid. Goeie maniere het haar daarvan weerhou om uit te vra, maar Magriet kan sien sy wonder wat haar verbintenis met oom Bennie is. Hulle weet almal dat daar net mans op die plaas is en hoewel mevrou Morris aanneem dat sy net kom kuier het, kan Magriet aanvoel dat sy dit nie goedkeur dat sy alleen plaas toe gaan nie.
Magriet voel gemeen omdat sy die arme vrou so in die duister hou, want sy kan aanvoel hoe sy brand van nuuskierigheid. Sy weet egter nie wat om te sê nie. Haar sake is so deurmekaar dat sy nie weet wat om te verwag of wat gaan gebeur nie.
Net voor middagete kom roep mevrou Morris haar.
“Daan is hier, hartjie, hy wil jou ontmoet.”
Magriet stryk vinnig met haar hand oor haar netjiese kapsel. Senuweeagtig frommel sy die klein sakdoekie styf in haar klam hand op. Sy voel hoe die vrees stadig in haar opstyg. Dan lig sy egter beslis haar kop en met die skraal ruggie styf en regop, stap sy by mevrou Morris verby na die sitkamer.
Die man lyk kolossaal in die klein vertrekkie. Hy staan met sy rug na die venster en verdonker die hele vertrek. Magriet kan geen definitiewe opinie vorm nie. Sy staar op na hom. Hy is nie afstootlik nie, ook nie baie oud nie; hy is net anders as die mans aan wie sy gewoond is.
Die groot hoed word stadig al in die rondte gedraai. Daan sien die skraal, netjiese figuurtjie hier voor hom. Die dik, bruin hare is in ’n rol agter haar kop gekam en dit laat die gesiggie nog skraler vertoon. Die groot, groen oë steek helder af teen die bleekheid van haar gelaat. Sy is geen uitsonderlike skoonheid nie – net baie, baie vroulik.
Die stilte rek. Elkeen is besig met sy eie opsomming. Magriet beweeg dieper die vertrek in en hou ’n skraal hand na hom uit.
Oorhaastig beweeg hy vorentoe en vou die handjie toe in sy groot hand.
“Ek is Daan van Rensburg ... e ... oom Bennie ...”
“Goeiemôre, meneer Van Rensburg. Ek is Magriet O’Neill. Dit is werklik baie vriendelik van u om my hier te kom haal. Is oom Bennie ook hier?”
Dankbaar vir die aanknopingspunt gesels Daan meer as gewoonlik.
“Oom Bennie is baie siek. Het hy dit nie in sy brief vir jou gesê nie?”
“Ja, hy het gesê hy is siekerig, maar ek het nie gedink dat dit ernstig is nie.” Die kommer slaan deur in haar stem.
Stadig beweeg Magriet agtertoe. Daan is so lank dat sy haar nek moet buig om in sy gesig te kyk.
Saam met die verduideliking oor oom Bennie se siekte, droog die gesels ook weer op.
Daan kug. Hoe gouer hulle die werklike probleem aanpak, hoe beter. Sy verstand draai egter al in die rondte – hy kan geen woorde agter mekaar kry nie.
Magriet staar senuweeagtig na hom. Haar keel is droog. Hy lyk so groot en wild. Sy sien nie kans om haar toekoms in hierdie ongetemde man se hande te plaas nie. Wat sal van haar word daar op die verafgeleë plaas met net ’n klomp mans, almal soos hierdie een?
Daan vervies hom vir homself. Sal hy sowaar hier staan en stotter en bloos soos ’n vryersklong wat nog nie droog agter die ore is nie?
“Ek dink daar is ’n paar dingetjies wat ons eers sal moet bespreek, juffrou.” Sy stem klink ongewoon streng en grof.
Magriet sak met bewende knieë op die stoel neer. Daan vou homself in ’n stoel op, sit sy hoed beslis op die vloer neer en kyk haar reguit aan. Hierdie flentertjie-vroumens gaan nie almal se lewens in die vallei kom omkrap nie. Sy kan saamkom, maar sy sal haar kant moet bring. Tyd vir vroue bedien en op die hande dra, het nie een van hulle nie.
“Ek weet nie wat oom Bennie alles vir jou geskryf het nie. Ek is bereid om met jou te trou omdat oom Bennie dit van my verwag.” Daan kug ongemaklik, maar gaan dan vasberade voort. “Oom Bennie het vir ons – en veral vir my – al baie gedoen. Ek sien nie kans om hom teleur te stel of iets te weier nie.”
Magriet staar stil na hom. Dit weet sy darem nou: hy is nie oorgretig om te trou nie. Dit is alles om ’n ou man tevrede en gelukkig te maak.
Daan kyk by haar verby. “Dit is ’n harde wêreld hierdie. Hier is nie tyd vir mense, nie eens vir vroumense, om ledig rond te lê nie. Op die plaas is werk, baie en harde werk. As jy wil saamkom, sal jy jou deel moet doen.”
Die woede vlam in Magriet op. Om darem te insinueer dat sy op hulle nekke wil kom lê, is verregaande. Slegs die besef van haar ongemaklike posisie hou haar tong in toom. Twee rooi kolletjies hoog op haar wangbene verraai egter haar woede.
“Ek was nog nooit bang vir werk nie, meneer Van Rensburg. Ongelukkig is ek in ’n ongemaklike posisie. Ons was arm en ek het my laaste geld gebruik om hierheen te kom. As dit nie die geval was nie, sou ek met die volgende boot teruggegaan het en as goewernante in die Kaap gaan werk het.”
Daan sien die stywe rug en woedende oë. Hy bewonder haar selfbeheersing. Dit is egter beter dat sy weet waar sy met hom staan, sodat sy nie dalk later allerhande dinge van hom verwag wat hy nie bereid is om te gee nie.
Sy lig haar kop beslis. Haar vrees vir die onbekende toekoms en hierdie groot man druk sy ru op die agtergrond.
“Meneer Van Rensburg, ek het ’n ander voorstel om aan u te maak. Ek ... ek ...” Magriet begin stotter. “Dit ... e ... dit is vir my vreeslik moeilik, maar dit kan vir ons albei ’n uitkoms bied.” Sy kyk nie na hom nie. Haar oë bly op haar vasgeklemde hande in haar skoot.
“Leen asseblief vir my die geld om terug te gaan. Ek sal elke pennie aan u terugbetaal sodra ek ’n werk kry. U kan my woord daarvoor neem, meneer Van Rensburg.”
Daan staar in die groen, hartseer oë. Die gedagte dat hy met haar moet trou, is glad nie meer so skrikwekkend nie. Buitendien, oom Bennie het so iets voorsien, daarom het hy daarop aangedring om ’n huweliksertifikaat te sien voordat hy die plaas aan hom bemaak. ’n Plaas is in hierdie stadium glad nie te versmaai nie en die prys wat hy daarvoor moet betaal, lyk al hoe aanlokliker.
Die stilte rek tussen hulle. Magriet slaan haar oë verward neer.
“Ek is bevrees nie, juffrou.”
“Maar hoekom nie? U is onwillig en ek is onwillig om hierdie sinlose huwelik aan te gaan.”
Daan se verstand werk teen ’n versnelde tempo, op soek na ’n aanneemlike verskoning.
“Omdat ...” Hy maak ongemaklik keelskoon. “Omdat ek nie kans sien om so ’n klomp geld aan ’n wildvreemde meisie te leen nie. Sê nou maar ek hoor nooit weer van jou nie?”
Woede en teleurstelling wys beurtelings in haar oë. Sy lig haar kop en kyk reguit na hom, die oë blitsend. “Goed. Daar is egter een ding waarop ek aandring. Ek sal my deel doen op die plaas en ek sal werk vir my kos, maar ek wil soos die huishoudster behandel word. Eerstens gaan ek nie jou vrou wees nie, en tweedens wil ek elke maand ’n salaris hê, sodat ek na ’n jaar genoeg geld sal hê om terug te gaan.”
Iets soos teleurstelling roer in Daan. Hy weet nie waar hy die leisels verloor het nie. Hy was baie vasberade om die situasie van die begin af te beheer. Dat sy sou begin voorstelle doen en eise stel, het hy nie voorsien nie.
Hy beskou haar op en af. Hy weet nie eintlik wat hy verwag het nie – beslis nie so ’n vroulike wesentjie nie. Selfs die plaas wat hy as beloning vir sy daad sal ontvang, is op hierdie oomblik baie ver uit sy gedagtes. Net die feit dat sy nie lelik en onaansienlik is soos hy hom voorgestel het nie, krap sy gedagtes deurmekaar. Want daardie feit kanselleer die oënskynlike rede waarom sy na oom Bennie toe gekom het vir hulp. Hy het homself al wysgemaak dat sy nie ’n man in die Kaap kon kry nie en nou maar hier in Duitswes haar flikkers wil kom gooi.
Daan staan op. Hy toring bo haar uit. Sy donker oë blits kwaai.
“Ek neem die besluite, juffrou. Dit pas my toevallig om jou as huishoudster te gebruik. Ek sal jou gereeld vergoed en indien dit my na ’n jaar pas, kan jy gaan. Die feit dat ek jou gaan betaal vir jou dienste, ontneem jou van alle eise wat jy dalk aan my kan stel op grond van ’n huweliksertifikaat.”
Magriet is geskok. Sy voel die trane agter haar ooglede brand, maar met selfbeheersing wat uit woede gebore is, sluk sy dit beslis terug.
Daan gryp sy hoed en storm by die deur uit. Magriet sit ’n paar oomblikke lank vasgenael op die stoel voordat sy stadig opstaan en na haar kamer gaan.
Sy maak die deur sag agter haar toe. ’n Paar oomblikke staan sy met haar rug teen die deur terwyl die trane stadig onder die toegeknypte ooglede deursypel. Soos ’n ou vrou sak sy op haar bed neer en huil sag en rukkend.
Geleidelik bedaar die snikke en met rooi oë staar sy na die muur. Sy lig haar effens op haar elmboog om haar Bybeltjie in die hande te kry en sak dan terug teen die kussing. Lank lê sy so, met die Bybeltjie styf in haar hand vasgeklem. Eers toe die rustigheid en bekendheid van die verslete boekie se nabyheid deur haar vloei, lig sy haar op en slaan die Bybel oop.
Wees nie bevrees nie, want die Here doen groot dinge.
Dit is asof sy haar pa se sagte stem met die Ierse aksent van ver af hoor. Rustiger en meer getroos sit sy weer die Bybel neer.
Sy was haar gesig en kam haar hare. Die rok word hard geskud om van die kreukels ontslae te raak. Toe sy vir middagete gaan aansit, is daar geen teken van hartseer op haar gesig te bespeur nie.
Teen ongeveer vieruur kom Daan weer daar aan. Mevrou Morris kan skaars haar nuuskierigheid bedwing. Haar goeie maniere laat haar egter nie toe om uit te vra nie en sy laat die twee jongmense na vele nuuskierige kykies alleen.
Magriet wag stil dat hy eerste moet praat. Haar hande is netjies in haar skoot gevou en sy kyk stip voor haar op die grond.
“Ons trou môreoggend tienuur. Ek het alles klaar gereël. Vir jou eie veiligheid sal ons moet voorgee dat dit ’n normale huwelik is – van môre af – anders sal dit gou in die vallei versprei en dan is al ons opofferings verniet. As die ander manne weet dat ek net met jou getrou het om jou te beskerm, sal hulle hulle nie laat keer nie.”
Steeds sê Magriet geen woord nie. Die koppie is effens gebuig, haar hart klop bang en benoud.
Daan voel half ongemaklik. Hy wens sy wil iets sê, al word sy net kwaad. “Wel ... e ... wel, dit is al wat ek vir jou wou sê.”
Magriet kyk stadig op, die groen oë helder teen die bleek gesig. “Sal jy asseblief vir mevrou Morris vertel?”
Daan steek sy hand na haar uit. Hy wens hy kan haar troos. Hy wens hy was nie vanoggend so kras en ongeskik nie. Sy lyk so weerloos en verlore.
Sy ignoreer sy hand en staan stadig op.
“Sal jy?”
“Ja, goed, ek sal alles reël. Gaan rus jy nou, ons ry môre net na die troue.”
Magriet is dankbaar dat sy nie nodig het om die nuus vir mevrou Morris te vertel nie. Sy weet nie wat sy vir hulle moet sê nie.
Mevrou Morris is egter baie beïndruk met Daan se verduideliking.
“Ag, hartjie, hoekom het jy nie vir my gesê dat oom Bennie jou spesiaal laat kom het om met Daan te trou nie?” Sy druk Magriet ’n oomblik lank styf teen haar vas. “Hier is dit algemeen dat die mans vir hulle vroue laat kom. Hier is mos nie vroumense nie, hartjie.”
Magriet kyk verbaas na die ronde ou vroutjie. So, dit is wat Daan vir haar vertel het: dat sy familie van oom Bennie is en dat hy haar spesiaal laat kom het as Daan se bruid.
“En om te dink ek was al die tyd so bekommerd dat jy alleen daar vir die klomp wilde mans wou gaan kuier!”
Sonder om op ’n antwoord te wag, gaan sy voort: “Daan is ’n goeie kind, hartjie – ’n bietjie wild, maar goed! Jy sal van hom iets heel bruikbaar kan maak. Sy ma was ’n wonderlike vrou – sy pa ook. Hy was groot en goed en baie lief vir sy Anna. Dit is net vandat Anna dood is, dat Stefaans ook maar dikwels uitgebreek het, veral wanneer hulle hier op Walvisbaai gekom het. Dit is net jammer dat die seuns toe so half wild grootgeword het. Bennie het sy bes probeer en op sy manier is hy goed en lief vir die seuns, maar hy kan ook maar self uitrafel as hy wil.”
Magriet voel hoe haar keel toetrek.
As hulle almal so wild moet wees soos die “goeie Daan”, dan wonder sy benoud hoe lyk dié wat minder goed is en dié wat uitrafel.
Toe sy gaan lê, voel die nag vir haar eindeloos lank. Die wind huil hartseer om die houthuisie. Haar toekoms lê net so hartseer en vreemd voor haar.
Magriet se troudag begin met ’n helder sonskynoggend. Die seremonie is egter sonder enige warmte en opregtheid. Alles voel koud en onwerklik en is binne ’n paar minute verby.
Haar goed was lankal alles klaar ingepak. Meneer Morris het die groot kiste agter in die winkeltjie gebêre. Daan het dit al die oggend vroeg gelaai en dus kan hy nou net die trommel met haar klere oplaai.
Die reis begin in doodse stilte. Dan begin die wind met woeste geweld waai. Die sand slaan seer teen Magriet se sagte vel vas en sy gaan klim agter in die wa sodat sy meer beskut kan wees.
Vroegaand span hulle langs die Kuisebrivier uit, waar ’n paar groterige akasiabome ’n mate van beskutting teen die wind bied. Die wind is egter nog te sterk om ’n vuurtjie aan die gang te kry en hulle eet dus maar van die kos wat mevrou Morris ingepak het.
Magriet voel vuil en taai. Die bedjie agterin die watent is smal en vol sand. Haar eerste nagrus as bruid is ongemaklik. Die wind ruk die wa heen en weer en met starende oë wag sy die nag in.
Later hoor sy hoe Daan onder die wa skuiling soek. Sy voel jammer vir hom omdat sy haar kan voorstel hoe ongemaklik dit daar moet wees.
Dit is nog donker toe hulle inspan en die barre woestyn aandurf.
’n Ruk na middagete kom hulle op Shepmansdorp aan – ’n sendingstasie met groot wildevye- en palmbome, ’n ware oase in die dorre woestyn. Daar is ook heelwat vars water en Magriet kan haarself deeglik was.
Die vriendelike sendelingpaar gesels heerlik terwyl hulle koffie drink. Daan wys egter alle uitnodigings om daar te slaap en te eet beslis van die hand. Hulle moet nog ’n ent hoër op reis, sodat hulle die volgende dag tot by die Swakoprivier kan vorder.
Toe hulle daar kom, is die Swakoprivier vir Magriet ’n belewenis. Sy wens dat Daan minder stuurs was sodat sy hom kon uitvra oor al die vreemde dinge. Die rivier kronkel soos ’n groen slang deur die woestyn. Dit is pragtig. Daar is min water in die rivier, maar groot bome en ander plante groei in die rivierbedding.
Vier dae lank trek hulle al met die rivier langs. Die omgewing verander geleidelik. Die plantegroei word meer, die grond rooier en klipperiger, en oral bedek wuiwende geel gras die vlaktes. Groot plate bome maak groen kolle op die geel vlaktes. Die omgewing het ’n nuwe, ongetemde skoonheid wat Magriet nog nie vantevore gesien het nie.
Sy en Daan het min vir mekaar te sê. Hy ry meestal op sy perd en sy alleen in die wa. Etenstye maak hy die vuur en verdwyn dan. Magriet het gou besef dat daar van haar verwag word om te sorg vir die kos. Sy braai dus van die vleis en maak pap. Daar is heelwat koffie en suiker wat Daan op Walvisbaai gekoop het. Daar is ook rys en sakke meel. Sy wens dat hulle ’n rukkie op een plek kan vertoef sodat sy ’n brood kan bak, maar sy wil nie vra nie en maak dus sonder kla elke maaltyd pap.
Een dag kom Daan by die wa met ’n trossie in sy hand. Hy hou dit sonder ’n woord na haar uit. Verbaas neem sy dit by hom.
“Wat is dit?”
“Wildedadels. Jy kan maar daarvan eet as jy wil.”
Die dae word warm en feitlik windstil. Die koel seelug is lankal iets van die verlede, maar so ook die woeste woestynwind. Die stilte en wydheid van die vlaktes beklem Magriet. Die rivier is nog steeds in sig, maar die omgewing verander elke dag meer en meer. Groot bome verbreek die eentonigheid van die uitgestrekte grasvlaktes en laat alles mooier lyk.
Haar lyf is seer van die rit op die stampende wa, maar trots weerhou haar daarvan om een keer te kla. Die reis voel vir haar eindeloos; sy het heeltemal tred verloor met die tyd.
Magriet se gedagtes skommel en skud saam met die wa. Sy sien hoe Daan sy perd omdraai en terugkom na die wa. Stil wag sy hom in totdat hy langs die wa is. Hy is rooi van die stof, en vandat hulle uit Walvisbaai weg is, het hy nog nie weer sy baard geskeer nie. Hy lyk woes en vuil.
“Ons sal namiddag by die huis wees. Ek het jou net kom waarsku – as ons netnou deur die drif gaan, gaan ek ’n skoot skiet. Ons doen dit gewoonlik sodat die ander kan weet ons is aan die kom. Ek was bang jy skrik dalk.”
Magriet voel hoe haar maag op ’n knop trek van angs. ’n Duisend vrae maal deur haar kop. Sal die ander ook soos hy wees? Is oom Bennie nog daar, of het die siekte al sy tol geëis? Hoe lyk die huis? Sal die ander van haar hou?
So graag wou sy altyd haar eie huis, man en kinders gehad het. Soveel drome moes sy opoffer. Gaan hierdie oorhaastige troue vir haar net hartseer bring? Sy gee nie om vir eenvoud of armoede nie. Sy was nog nooit ryk nie en geld speel by haar geen rol nie. Sy wil net gelukkig wees – gelukkig saam met die man wat sy liefhet, en met eie kinders.
Sy wil vir hom so graag ’n klomp dinge vra, maar die woorde stol in haar keel. Sy staar hom net aan met groot oë, die vel donkerder van die lagie stof wat daarop lê.
Net voor skemer kom hulle op die plaas aan.
Van ver af kan sy die mans op die stoepie sien. Daan bring die osse voor die deur tot stilstand.
Magriet kyk stomgeslaan na die klomp mans. Hulle is vuil en bebaard, en sonder ’n tikkie vriendelikheid staar hulle haar aan. Niemand steek ’n hand na haar uit om haar van die wa af te help nie. Daan is agter by die watent besig om die seil los te maak.
Stadig klim sy van die wa af. Sy voel hoe die woede in haar opstyg. Dan het hy nog die vermetelheid om te sê hulle moet voorgee dat dit ’n gewone huwelik is! Hy wat nie eens die ordentlikheid het om haar van die wa af te help en aan sy mense voor te stel nie!
Met besliste treë stap sy op die klomp starende mans af, haar ruggie styf en regop.