Читать книгу Die winskopie - Sarah du Pisanie - Страница 4

Оглавление

1

Gerhard Fouché sit skielik regop en leun dan verder terug in die stoel om beter te kan hoor. Hy weet nie wat dit is wat hy eerste herken nie: die man se woorde of sy stem.

Hy sit doodstil en afwagtend spits hy sy ore. Hy wil hoor wat die verslonste ou man met sy temerige stem te sê het.

“Wel ... is julle seker julle gee nie om nie? Ek kan nie juis speel nie, maar ek geniet dit altyd so.”

“Nee, ons gee glad nie om nie, oubaas. Klaus, bring vir ons die speelkaarte.”

Die jong Duitse offisier staan kiertsregop en tel sy bierbeker op.

Die kroegman stoot ’n pak speelkaarte oor die toonbank en knik gemoedelik.

“Daardie tafel is reg onder die lamp.”

Die offisier beduie met sy kop dat die ander hom moet volg, maar hulle hou eers hulle bekers uit sodat die kroegman dit weer vol skuimende bier kan maak.

Gerhard draai sy gesig weg toe hulle by hom verbystap. Die skemer, rookgevulde kroeg bied egter genoeg skuiling en daar is nie juis ’n kans dat die ou man hom sal herken nie.

Die mans skuif reg om die tafel en Gerhard weet nie of dit pret of verontwaardiging is wat nou so in hom woel nie.

Presies dieselfde toneeltjie het hom ’n paar maande gelede in ’n kroeg op Lüderitz afgespeel. Hy byt ingedagte aan sy sigaar en stadig val nog besonderhede op die regte plekke in.

Dit was ook die dag nadat die soldate hulle soldy gekry het. Soms wag hulle tot drie maande vir hulle geldjies en dan is die manne baie vrygewig met dit wat so op een slag in hulle hande beland.

Die aand op Lüderitz was hy een van die kaartspelers. Dieselfde verslonste ou man met sy lang, wit baard en ruie wenkbroue het homself so in ’n kaartspel ingepraat. Hy het omtrent geen geld by hom gehad nie. Hy wat Gerhard is, het hom nog ’n paar sjielings gegee sodat hy iets gehad het om mee te begin. Die ou skelm!

Gerhard tel sy bierbeker op en slenter ongeërg nader aan die kaartspelers. Hy maak sy beker by die toonbank vol en al geselsend met die kroegman skuif hy na die punt van die toonbank naaste aan die kaartspelers.

Die mans om die tafel is gereed en besluit oor ’n bedrag waarmee hulle sal begin speel.

“Ek ... e ... ek het nie soveel nie. Ek het net vyf sjielings. Julle ... julle moet maar liewer iemand anders soek.”

“Ag, nee wat, kom ons begin dan almal maar net met vyf sjielings.”

Gerhard glimlag stil. Hulle is slimmer as wat hy was!

Bang dat die ou man met die wit baard hom sal herken, bly Gerhard maar taamlik diep in die skemerte. Vanaand wil hy hom ’n les leer wat hy nie maklik sal vergeet nie! Hy verwag mos darem nie dat hier op Otavi, in die noorde van Suidwes-Afrika, iemand sal wees wat hy op Lüderitz gekul het nie.

Soos die vorige keer, wen die ou man net-net die eerste hand en die ander lag goedig vir die ooglopende plesier wat hy daaruit put. Hulle klop hom op die skouer en gun hom die pret. Hulle stoot die geld met breë glimlagte na hom toe oor.

Die ou man is ’n meester-kaartspeler. Gerhard, wat hom stip dophou, sien hoedat hy die spel manipuleer. Hy sorg dat hy net genoeg wen om keer op keer die soldate nog meer en meer geld uit hulle sakke te laat haal.

Hy laat hulle so om die beurt wen – dit maak hulle dapper. Die hopie geld op die tafel groei en groei.

Gerhard bereken vinnig die bedrag en loer dan op sy horlosie. Hy gaap gemaak en staan op.

“Nag, Klaus. Ek wil ook maar ry. Ek het kamp opgeslaan net hier buite die dorp en ek wil môre vroeg-vroeg in die pad val.” Hy stoot ’n muntstuk vir die laaste beker bier oor die toonbank.

“Dit is mos nog nie so laat nie, meneer Fouché. Waarheen is jy nou so haastig op pad?”

“Ek moet môre die lang pad terugvat plaas toe. Ek wens hierdie spoorlyn wil nou klaarkom. Ek moet nog te perd Omaruru toe, waar ek eers die trein haal.”

“U was hier in verband met die myn, nè, meneer Fouché?”

“Ja. My broer is gewoonlik die een wat met die myn se sake besig is, maar hy is nou ’n jaar lank Duitsland toe.”

Gerhard sien hoe die ou man die deur onderlangs dophou en hy raak ook sommer haastiger.

“Nag, Klaus.”

“Nag, meneer Fouché.”

Gerhard slenter by die kroegdeur uit. Buitekant gaan hy ’n oomblik lank staan en snuif die vars naglug in terwyl sy oë die donkerte fynkam.

Hy stap om die hoek van die hotel totdat die donkerte hom toevou. Hy gaan staan ’n paar oomblikke lank doodstil en sy oë soek rond na die geringste beweging. Sag en geruisloos sluip hy om die gebou en gaan soek skuiling agter die dik stam van ’n boom.

Baie versigtig skuif hy om die boom totdat hy die kroegdeur mooi in sig het.

Etlike minute lank is daar geen beweging êrens te bespeur nie. ’n Donker kol teen die muur van ’n gebou aan die oorkant van die straat word stadig en baie versigtig langer.

’n Glimlag breek oor Gerhard se gesig.

“Vanaand gaan jy en jou skelm pa darem julle rieme styfloop,” praat hy saggies met homself toe die skraal seun met sy groot broek en baadjie, wat amper op sy knieë hang, stadig vorentoe beweeg.

Skielik is daar vlerkies aan die kind se voete en so vinnig dat Gerhard hom amper uit die oog verloor, sweef hy oor die straat. Die koddige gestalte smelt weer net so gemaklik en stil saam met die donker skaduwees aan die ander kant van die straat.

Gerhard beweeg ’n paar skuifeltreë agter om die boom om ’n beter uitsig te kan hê.

Die mannetjie is goed geoefen, daaroor sal hy nie stry nie.

Dit is eers toe hy weer die donker skaduwee kan eien, dat Gerhard versigtig uit sy skuilplek sluip en nader beweeg.

Die kaartspelers is duidelik deur die oop venster sigbaar en die seun se volle aandag is op hulle toegespits. Hy sluip tot onder die venster, wag eers ’n rukkie en staan dan versigtig op om oor die vensterbank te loer.

Gerhard is seker daarvan dat hy hom nou eers vergewis van die hoeveelheid geld op die tafel. Dit sal mos nie die moeite werd wees om te gou toe te slaan nie.

Soos wat Gerhard kan onthou, sal die ou man teen hierdie tyd sorg dat daar voor elkeen van die soldate ’n aardige bedraggie geld lê. Hulle moet almal gerusgestel en manmoedig wees om aan te gaan met die spel.

Die seun vat die geweer in sy hande stywer vas en sluip voetjie vir voetjie nader. Hy loer eers weer versigtig om die hoek om seker te maak dat ’n onverwagte persoon nie sy hele speletjie kan kom bederf nie.

Gerhard wag eers totdat die seun binne-in die kroeg is, voordat hy met ’n paar lang treë teen die swaaideure te staan kom wat nog liggies wieg.

Hy is lank en kan gemaklik bo-oor die deure sien. Hy staan ’n tree terug in die donkerte in sodat hy die hele drama met genoegdoening kan gadeslaan.

Die seun se hoë, fyn stemmetjie klap soos ’n sweep deur die kroeg en Gerhard sien die verbasing en ongeloof op die mans se gesigte.

“Wat gaan hier aan? Pa, speel Pa tog nie al weer kaart nie? Pa weet Pa verloor elke keer.” Die seun draai na die ander kaartspelers en sy stem is beskuldigend. “Skaam julle nie vir julle om ’n ou man in ’n kaartspel te betrek nie? Julle kan mos sien hy kan nie speel nie. Nou vat julle weer al ons geld. Alles wat ons het om van te lewe!”

“Haai, komaan, boet, jou pa het net vyf sjielings gehad! Ons het glad nie sy geld gevat nie –”

Een van die soldate verduidelik laggend, maar die seun val hom histeries in die rede.

“Vyf sjielings! Dit is ’n mooi storie! Hy het gister alles verkoop wat ons gehad het. Ons laaste paar beeste en ... en ons enigste melkkoei ook.”

“Wel, ou seun, hy het dit beslis nie hier uitgegee nie!” Die offisier lag. “Voor hom het hy nou baie meer as wat hy gehad het toe ons begin het. Ek sou sê dit was vir hom ’n voorspoedige aand.”

“Voorspoedig?” Die seun se stem is vol trane en sy groot, bruin oë kyk die mans verwytend aan. “Noem julle dit voorspoedig wanneer ek en my sussies nie kos het om van te lewe nie? Ons ... ons sou met daardie geldjies vir ons ’n nuwe lewe hier kom begin het.”

“Kom nou, kind, jy het darem nou die kat aan die stert beet.” Kurt kyk ongemaklik na die hartseer oë wat onder die bruin hoedjie uitloer.

Die geweer wat nog die hele tyd slap langs sy sy gehang het, is skielik stewig in sy hande. Die loop rus dodelik sekuur op Kurt se bors.

“Sit!” Die woordjie sny soos ’n mes deur die kroeg. “Ek gaan nie toelaat dat julle ons laaste geld vat en die kos uit my sussies se monde nie. Pa ... maak al daardie geld bymekaar en gooi dit in jou hoed.”

“Maar, kind! Die man sê mos vir jou ...” Die ou man se stem is gemaak verbaas en half ongelowig omdat die seun so onredelik kan wees.

“Nee, wag nou! Nou raak jy darem te vermetel!” Die soldaat aan die oorkant van die tafel spring verontwaardig op. Die skoot klap donderend deur die vertrek en die glas op die tafel spat aan skerwe.

“Moenie dink ek het ’n fout gemaak nie. Ek het vir daardie glas gemik. Stoot die geld oor na my pa toe.”

Die soldaat sak ongelowig terug in sy stoel en sy hand stoot met ’n slap, willose beweging die geld oor na die ou grysaard toe.

Die ou man se toneelspel is onverbeterlik. Hy protesteer halfhartig en die seun lig die geweerloop hoër op sodat dit op die soldaat se bors rus.

“Maak gou, Pa! Nie Pa óf hulle sal daardie geld uitmors nie. Dit is ons s’n.”

Met gretige, vuil hande krap die ou man die geld in die hoed. Dit is egter net Gerhard wat alreeds hierdie toneel op presies dieselfde manier sien afspeel het, wat na sy hande kyk en nie na sy temerige stemmetjie luister nie.

“Ouboetie, dit is nie Pa se geld nie. Pa het ...”

“Maak gou, Pa! Dit is ons geld waarvan ons moet lewe. Waarmee gaan ons vir die kinders kos koop? Klein Annie is reeds siek. Sy kan nie net pap eet soos ons nie.”

Gerhard sien die meegevoel op die soldate se gesigte en hy weet dat hulle ook net soos hy en die ander daar op Lüderitz nie eens sal probeer om die ou man en sy seun te keer nie.

Gerhard is egter op hierdie oomblik jammer vir die soldate wat baie hard gewerk het vir hulle geld. Nou kom hierdie ou skelm en sy seun en kom raap dit so voor hulle weg asof hulle alle reg daarop het.

Hy wag totdat die ou man met die hoed vol geld langs die seun staan en hulle versigtig agteruit beweeg.

Alles gebeur baie vinnig. Met een beweging staan hy agter die seun en sy arm span styf om sy nek. Voordat die seun tot verhaal kan kom, het die geweer van hande verwissel.

“Gaan sit neer daardie geld!”

Die ou man knip sy ogies verontwaardig, maar Gerhard se groot hand sluit vas om die geweer wat hy op die ou man rig, terwyl sy ander arm nog om die seun se nek is.

Verskrik skarrel die ou man vorentoe en gooi die hoed met geld op die tafel neer.

“Maar ...” Kurt kom stadig orent.

“Vat die geld, Kurt. Hy en hierdie skelm seun van hom speel hierdie speletjie op elke nuwe dorp waar hulle kom. Ek het ook onder hulle deurgeloop op Lüderitz.”

’n Breukdeel van ’n sekonde verslap Gerhard se waaksaamheid en het hy lus om hardop te lag vir die verontwaardiging en verbasing op Kurt se gesig toe hy die hoed met geld by die ou man vat.

Die seun sien sy geleentheid op ontsnapping en skop Gerhard hard op sy skeen. Gerhard vloek gedemp en gryp wild na die kind wat uit sy hande gly en soos ’n skim by die deur uit verdwyn.

Die ou man probeer ook van die geleentheid gebruik maak, maar Kurt beweeg met ’n refleksbeweging vorentoe en gryp hom aan sy baadjie.

“Nie so haastig nie, oubaas. Ek sal darem eers graag meer van hierdie storie wil hoor.”

“Ag, luitenant, wees my tog genadig! Ek het ’n klomp kinders en hulle ma is dood en ek het nie altyd geld om hulle te versorg nie ...”

“Nou wil jy dit met skelmstreke doen. Die hoeveelste keer is dit nou wat jy hierdie ding aanvang?”

“Dit is die ... ee ...” Hy loer vinnig na Gerhard wat dreigend nader staan. “Dit ... dit is maar die tweede keer, luitenant. Ek ... ek het ook nie geweet die kind sal vanaand weer hier inkom nie. Hy ...”

“Jy jok! Hierdie hele speletjie is haarfyn beplan. Jy doen dit elke keer op presies dieselfde manier. Ek het baie lus en wurg die geld wat jy op Lüderitz van ons gesteel het uit jou uit.”

“Ag, laat hom tog maar gaan, meneer Fouché.” Kurt se sagte geaardheid kry al weer die oorhand. Hy haal geld uit die hoed uit en hou dit na die ou man toe uit. “Hier is vir jou ’n pond. Gaan koop vir jou siek kind kos.”

Gerhard se oë vernou toe hy sien hoe gretig die ou man die geld gryp en dan vinnig by die deur uit verdwyn.

“Sy kind is glad nie siek nie. Ek wonder of hy ooit ander kinders het,” sê Klaus, die kroegman, wat heeldag met allerhande mense te doen kry, en dalk ’n beter mensekenner as enigeen van die ander is.

Met die geweer nog steeds in sy hande, verdwyn Gerhard vinnig agter die ou man aan.

Sy nuuskierigheid is geprikkel. Hy wil gaan kyk waarheen hulle gaan en of daar nog kinders is wat dalk hulp nodig het. Hulle kan darem nie ’n klomp weeskinders, van wie party dalk nog siek is, sommerso in die veld los nie.

Gerhard is net betyds om te sien hoe die ou man in ’n oostelike rigting op ’n stywe galop wegry.

Van die seun is daar egter geen teken nie. Gerhard se perd staan gelukkig nog opgesaal voor die hotel.

Die perd is uitgerus en bly gemaklik op die ou man se hakke.

Toe Gerhard die watent se wit seil soos ’n fakkel in die helder maanlignag sien, hou hy sy perd in. Op ’n stadige stappie ry hy versigtig nader en maak dan sy perd aan ’n boom vas om te voet nader te sluip.

“Dit is jý wat alles opgemors het. Jy moes tog die man daar buite gesien het.” Die ou man se stem is glad nie meer so temerig soos in die kroeg nie.

“Ek het hom nie gesien nie. Ek het baie seker gemaak. Hy moes jou herken het daar in die kroeg. Hy het natuurlik iewers weggekruip en sy kans afgewag.” Die seun se stem is ook fyner en hoër as wat dit vanaand was, seker van skone ontsteltenis.

“Hoe dink jy gaan ons nou bestaan? Ons het goed geld gemaak met hierdie plan van my.”

“Jy kan dalk ’n ordentlike werk probeer kry, oom Jaap. Dit sal dalk meer betalend wees as al hierdie skelmstreke van jou.”

Die seun se kop ruk agteroor en die klap weergalm soos ’n geweerskoot in die stil nag.

Gerhard bal sy vuiste en byt hard op sy tande. Hy is seker daarvan dat hy nou net gehoor het dat die seun vir die man “oom Jaap” sê. Dan is dit nie eens sy eie pa nie.

“Ondankbare klein vuilgoed! Ek moet my afsloof om vir jou te sorg, en dít is nou die soort dank wat ek kry.”

“As dit nie deur jou skelmstreke en toedoen was nie, het my pa nog gelewe.”

“O, nou kry ék die skuld! Hy was die een wat gevang is. Hy het probeer ontsnap. Ek kan nie help dat hy so onnosel was nie.”

“Nee, oom Jaap, jy was die een wat weggekruip het en ander mense jou vuilwerk laat doen het. Kyk nou maar weer met hierdie kroegplan van jou. Ek moet inkom en die geld kom opeis, en dan is jy die kastige eerlike een. ‘Ouboetie, dit is mos nie ons geld nie ...’” Hy maak sy stem fyner en Gerhard kan die sarkasme daarin hoor.

“Dit het goed gewerk. Almal was vir ons jammer en hulle het ons nie een keer agternagesit nie,” verdedig die ou man homself.

“Ja, maar slim het vanaand sy baas gevang.” Die seun is nou nors.

“Ons sal aan iets anders dink. Moenie jou bekommer nie. Jy weet mos oom Jaap sal sorg.” Die ou man se stem raak stroperig en hy skuif nader aan die seun, wat vererg wegskuif.

Dit is ’n rukkie stil en dan klink die ou man se stem sag, maar tog ook opgewonde op. “Jy weet, hier is mos nie juis vroumense nie ... veral ... veral hier bo in die noorde, en hier is so baie soldate ...”

Gerhard sien hoe die seun se kop vinnig opruk en sy woorde is sissend en afgemete. “Wat bedoel jy, oom Jaap?”

“Ek ... e ... ek dink maar net ... ’n mens sal ’n baie goeie prys kry vir ’n vrou ... ’n mooi, jong meisie.”

“O! Jy ... jy is ’n nare, mislike ou man!”

Gerhard hoor die noot van histerie in die seun se stem en hy bal sy vuiste.

Vuilgoed! Hy gaan natuurlik nou die seun aantrek soos ’n vrou en hom dan hier verkoop soos ’n slaaf.

“Dit is sommer net ... net vir die geld. Jy kan mos weer wegloop, man. Ek wag vir jou net hier buitekant die dorp. Jy loop weg hiernatoe, trek net weer jou klere aan wat jy nou aanhet, en hulle sal mos nooit weet nie.”

“Waar gaan jy kamstig skielik ’n jong meisie vandaan kry? Hulle sal jou mos nie glo nie.”

“Ek het mos vanaand vir hulle gesê ek het ’n klomp kinders. Dit is maar net my oudste dogter wat ek noodgedwonge moet verkoop. Dit is al!”

“Is dit maar al? Dit is soldate met wie jy te doen het, oom Jaap. Hulle sal jou in die tronk sit.”

“Juis! Dit is juis hoekom die plan sal werk. Die soldate is so verleë oor ’n vrou. As ... as hulle vir hulle ’n vrou gekoop het, dan kan hulle mos nêrens gaan kla wanneer sy wegloop nie.” Die ou man lag ingenome oor sy plan.

“En as ek wegloop en hulle kom soek my hier? Hulle sal net ’n seun hier kry.”

“Ek sal huil en hom beskuldig dat hy my kind iets aangedoen het. Ek sal dreig om sy offisier te vertel. Dit ... dit is nog ’n geleentheid. ’n Mens kan hom sommer dan afpers ook en sê jy gaan vir sy gesaghebbendes vertel.”

“Nee! Nee, ek gaan dit nie doen nie. Ek is moeg vir hierdie skelmstreke. Moeg vir lieg en bedrieg, en vir altyd weghardloop en wegkruip. Ek sal gaan werk. Ek is seker daarvan ek sal hier by die hotel werk kry.”

Die ou man spring vinnig op en gryp die seun voor die bors.

“Jy sal maak soos ek sê. Verstaan jy my? Jou pa het met sy laaste asem gesê ek moet vir jou sorg en dit sal ek doen.”

“Jy sorg nie vir my nie. Jy gebruik my om jou skelm planne deur te voer. Jy het nog nooit soveel sukses gehad soos die afgelope vyf jaar nie.” Die seun se stem is bitter en ongelukkig en Gerhard moet homself beteuel of hy gaan gryp die ou man aan sy keel en wurg hom.

Iets hou hom egter terug en gespanne luister hy na die res van die gesprek.

“Jy weet wat ek met jou sal maak as jy nie luister nie. Jy is nou groot genoeg. Ek vat jou net môre na daardie man op Swakopmund toe. Hy het my reeds ’n aanbod vir jou gemaak.”

“Jy sal nie regtig so laag daal nie, oom Jaap. Nie nadat jy belowe het om na my te kyk nie.”

“Ek het vyf jaar lank na jou gekyk. Dit raak hoog tyd dat jy begin terugbetaal vir al die opoffering en onkoste wat ek gehad het.”

“Jy is gevoelloos en wreed, oom Jaap. Ek sal gaan werk en eerlike geld verdien. Ek is net moeg vir al hierdie skelmstreke.”

“Watse geld kan jy verdien? Nie ’n kwart van wat ons nou saam kan maak nie.”

Die seun besef dat hy geen vordering met die ou man maak nie en sy stem raak pleitend.

“Asseblief, oom Jaap. Dink dan aan ’n ander plan, maar moet my nie daar in die kroeg gaan opveil soos ’n dier nie. Dit ... dit is so vernederend. Dit is die gemeenste plan wat jy nog bedink het.”

“Alles sal goed uitwerk, jy sal sien. Net môreaand gaan ons terug.”

“Hier?”

“Ja, dit sal hulle oortuig van ... wel, van my desperaatheid. Ek sal hulle oortuig dat ek nie anders kan nie. Ek moet tog geld hê om die ander kinders mee te versorg.”

“Oom Jaap, hulle sal hier by jou na die meisie kom soek en wanneer hulle hier kom en hier is net een seun, wat vertel jy dan vir hulle? Waar is die kastige klein Annie wat siek was en die ander?”

“Hmm! Ja ... Daarmee sal ek ’n plan moet maak.” Hy vryf oor sy lang, grys baard en dink diep terwyl die seun hom gespanne dophou.

“Ons sal die wa meer na die berg se kant toe trek, waar dit nie so sigbaar is nie. Dit behoort hulle dan ’n paar dae te neem om ons in die hande te kry. Jy sorg net dat jy eers ’n paar dae in die veld ronddwaal voordat jy terugkom hiernatoe. Intussen sal ek ’n hopie grond maak wat baie opsigtelik is, sodat ek kan sê die arme ou siek dogtertjie is dood.”

“Dit ... dit is gemeen en laag! ’n Mens spot nie met sulke dinge nie.”

“Basta met jou! Ek wil geen teëpratery meer hoor nie.”

“Asseblief, oom Jaap, ek wil dit nie doen nie. Ek is bang! Oom sien tog dinge loop hier skeef. Dit voel vir my soos ’n voorbode.”

“Ag, bog! ’n Mens kan ook nie te lank met een storie aanhou nie. Ons kan hierdie nuwe plan van my weer op ’n hele paar plekke gaan probeer. Ek sê jou, dit gaan werk! Die mans is so verleë oor ’n vrou, hulle sal enigiets doen.”

Die seun laat sy kop op sy knieë sak en Gerhard sluip stil-stil weg.

By sy kamp maak Gerhard ’n vuurtjie en stoot die keteltjie oor die vlamme.

Hy gaan nie môreoggend terug nie. Hy wil môreaand by wees wanneer daardie nare, skelm ou man die seun daar in die kroeg gaan opveil soos ’n dier.

Die slaap bly hom ontwyk en lank lê en staar hy na die blink sterre bokant hom wat so helder en met soveel oorgawe hulle liggies oor die donker aarde laat skyn.

Die sterre laat hom altyd aan vrolike, laggende kinders dink en sy hart gaan uit na die arme seun wat seker niks ouer as dertien of veertien kan wees nie. Hy is skraal en lyk so verlore en verdwaal in die groot baadjie en broek wat hy seker van die ou man geërf het.

“Arme kind!” Gerhard sug hardop en praat met die sterre. “Hy moes nog sorgeloos rondgehardloop en met sy maats gespeel het. Nou is hy net ’n kandidaat vir die tronk. Wanneer daardie ou man met hom klaar is, sal hy elke skelmstreek in die boek ken.”

Sy broer Stefaans se kinders word so vry en onbekommerd groot. Hulle is juis nou weer op die plaas en die groot ou plaashuis lewe weer en ouma Estelle, sy ma, blom behoorlik.

Gerhard se gedagtes raak rustiger toe hy aan sy broer en sy gesin dink. Op die oomblik is hy en sy vroutjie Gretha in Duitsland.

Klein Estelle, Stefaans se jongste spruitjie, het baie moeilikheid met haar bors en op aandrang van ouma Estelle het hulle toe besluit om al drie kinders op die plaas agter te laat. Die Europese winter sou haar dood beteken het. Die seuns is natuurlik in die wolke, want hulle het tog geen begeerte om in Duitsland rond te kuier terwyl al die heerlikhede van die plaas hulle ontsê word nie.

Stefaans se oudste seun, Fanie, was ook nou die dag veertien. Karl, die blondekoppie wat so baie na sy Duitse moeder lyk, is ook al elf jaar oud en klein Stellie word binnekort vyf. Sy is die oogappel en word tot in die afgrond toe bederf.

Sy pa, groot Stefaans Fouché, het hulle baie goed agtergelaat. Hy het ’n groot aandeel in die kopermyn gehad en daardie deel van die erfenis val hoofsaaklik in sy broer Stefaans se hande. Hy wat Gerhard is, is maar ’n ou vir die plaas. Die familieplaas is groot en uitgebrei en eis die meeste van sy tyd en aandag op.

Sy broer het vir Gretha na haar familie toe geneem vir ’n kuiertjie, en wil terselfdertyd verdere kennis in verband met die mynbedryf gaan opdoen.

Noudat hy weg is, moet hy na hierdie sake ook omsien en dit is tydrowend. Die spoorlyn is nog net tot op Omaruru en daarvandaan moet hy altyd te perd reis. Gelukkig is die aanvoorwerk wat hy kom doen het, om hier te begin ontgin, nou darem ook afgehandel.

Binnekort sal die mense met die myntoerusting kom en dit solank kom oprig, sodat hulle met ontginning kan begin sodra Stefaans terug is.

Gerhard gaap en skuif hom teen die saal reg. Hy wou sommer vroeg môreoggend gery het en daarom het hy hier in die veld kom slaap. Buitendien is die hotel op die dorp nie juis netjies nie en dan verkies hy die veld en sy eie saal onder sy kop.

Hy gaan maar môre opoffer om agter te kom wat daardie ou skelm se planne met die seun is. Hy sal die seun wettiglik by hom koop en aandring op ’n kontrak. Hy behoort darem vir die kind iewers ’n beter toekoms te kan bied as by die nare ou man.

Hy sal vir hom iewers werk kry. Sodra die myn begin produseer, kan hy by die myn gaan werk.

Die slaap wat hom tot dusver ontwyk het, sak stadig en gerusstellend op hom toe en met die groot, bruin oë van die seun nog in sy gedagtes, raak hy aan die slaap.

Die winskopie

Подняться наверх