Читать книгу Die winskopie - Sarah du Pisanie - Страница 5

Оглавление

2

Gerhard kan nie sy lag hou vir die verontwaardigde verbasing op die mans se gesigte toe die ou man weer met sy patetiese houding by die kroeg insluip nie.

In doodse stilte staar hulle hom aan, opreg verbaas dat die ou skelm sowaar weer kans sien om hier in te kom.

’n Sarkastiese glimlaggie krul om Kurt se lippe toe hy sy bierbeker in ’n groet lig. “Wil jy kom kaartspeel?”

“Nee! Nee, luitenant. Ek ... ek sal dit nooit weer doen nie. Ek het ook met die kind gepraat. Hy ... hy sal dit nie weer waag nie.” Hy kyk hulle nie in die oë nie, maar vroetel met sy vuil, verkreukelde hemp.

“Nou wat wil jy hierdie keer hê, jou ou skelm?”

“Luitenant ... sien, ek weet dit was nie mooi van ons nie. En ... my seun, hy is eintlik ’n baie goeie seun, maar hy voel die siekte van sy sustertjie baie erg. Dit ... dit was darem vir ons ’n uitkomsie om so ’n paar sjielings in die hande te kry.”

“’n Paar sjielings se voet! As meneer Fouché nie gisteraand hier was nie, dan het jy met ons hele soldy hier weggestap. Hierdie manne werk nou amper drie maande vir daardie geld.” Kurt beduie na die soldate wat nog glad nie vriendelik is nie en sommer ook dreigend nader staan.

“Ek was in ’n groot nood, mense. Vergewe my tog maar! Soms moet ’n mens vreeslike dinge doen om jou gesin te versorg. Julle weet nie wat dit is om te sien jou kinders is honger en jy het niks om vir hulle te gee om te eet nie.”

Gerhard loer onderlangs na die soldate. Hy sien hoe hulle frons en hy weet dat dit na hulle mening maar ’n swak verskoning is. Hier in die noorde is baie wild; niemand sal die ou man kwalik neem as hy iets vir die pot skiet nie.

Hy wag geduldig om te sien wanneer die skelm hom weer gaan vaspraat. Die ou man besef seker dat hy hom op ’n gevaarlike terrein begewe en verander die gesprek.

“Ek ... ek is so in ’n hoek. Ek het niks meer wat ek kan verkoop om vir die kinders kos te koop nie. Ek is regtig jammer oor gisteraand en ... ek wens ek kon vergoed.” Hy haal ’n vuil sakdoek uit en vee dit kamma oor sy oë.

“Nou wat kom soek jy dan hier? Soek jy werk?” Klaus, die kroegman, leun oor die toonbank om hom beter te kan sien.

“Nee, meneer, ek ... ek kan nie my kindertjies sommerso aan hulle genade oorlaat nie. Ek ... ek sal vanaand my kosbaarste besitting vir julle moet bring.”

“Man, jy skuld ons niks. Hou jou goed!”

“Maar ek moet dringend geld kry, meneer. Sien ... my kind sal sterf en die ander is alreeds so honger.”

“O, wil jy dit hier kom verkoop?” Die soldaatjie met die groot, blou oë is al weer die ene jammerte. “Wat is dit, oubaas? Wat wil jy hier kom verkoop? Sal dit nie beter wees as jy dit in die nag aan die winkelier gaan verkoop nie?”

“Nee, meneer, sien, dit ... dit is iets wat julle beter kan gebruik. Ek ... e ... weet julle het nie vrouens nie. Ek weet ook hoe skaars die goed is ...”

Die ander kyk hom skepties aan, maar Kurt lag en gooi die laaste slukkie bier in sy keel af.

“Wel, as dit iets is wat ’n vrou kan gebruik, dan is dit juis nie die plek om dit te verkoop nie. Dan weet jy mos by voorbaat dat ons nie sal belangstel nie.”

Die blouoog-soldaat hou sy beker na die kroegman uit en draai sy rug op die ou man asof hy die saak as afgehandel beskou.

“Nee ... nee, dit is nie so iets nie. Julle ... julle sal dit kan gebruik. Ek weet julle sal belangstel. Sien ... e ... ek weet dat julle geïnteresseerd sal wees in ’n ... ’n vrou!”

“’n Vrou!” Die woord kom in ’n koor uit.

“Ja, ’n mooi, jong meisie!”

“Maar dit is mos nie iets wat ’n mens verkoop nie?”

“Ai, luitenant ... wat moet ’n mens dan maak wanneer jy sien jou kinders gaan dood van die honger?”

“Wat jy waar gaan kry? Jou skelm ou man!” Selfs Klaus neem nou aan die gesprek deel en sy bloed kook sommer oor sulke blatante leuens. Hy is darem ook nie meer so jonk soos hierdie ander nie, maar selfs vir hom is ’n vrou nuus. As hy ’n mooi, jong meisie kan kry om hier in die hotel te kom werk, sal die mans myle ver kom. Dit sal ’n aantrekkingskrag wees soos min!

“Gie! Gie!” Die ou man lag sag toe hy sien hoeveel belangstelling daar is. Hy onthou egter watter rol hy speel en skielik is hy weer die hartseer, verontregte party wat alles wat vir hom dierbaar is moet opoffer.

“Ek ... ek weet tog ook nie of ek dit moet doen nie. Dit sal so finaal wees en ... ai, sy is vir my baie dierbaar.” Hy loer tussen sy wimpers deur om te sien watter uitwerking dit op die ander het.

“Luister!” Gerhard hou hom net so verbaas en nuuskierig soos die ander en sy stem klink kwaad en verontwaardig. “Met watse streke is jy nou weer besig? Jy het gister al vir ons gesê jy het nie ’n vrou nie. Waar sal jy nou skielik ’n vrou kry om aan ons te kom verkwansel?”

“Dit is soos meneer daar sê. Ek het nie ’n vróú nie. Dit is ... dit is my dogter!”

Kurt se harde, growwe lag weerklink deur die kroeg.

“O, jy is ’n ou skelm! Verwag jy tog nie dat ons hier moet staan en bie op ’n dogter wat ons nooit eers sal sien nie?”

Die ander soldate besef ook dat dit weer die een of ander slenterslag is en hulle verloor belangstelling. Gerhard wil egter die saak deurvoer.

“Ons sal darem eers die vrou wil sien. Tussen hakies, wat is jou naam?” Gerhard tree nader en nou eers sien die ou man wie dit regtig is.

“Hmm ... Jaap ... Jaap Visser.”

“Wel, Jaap, gaan haal die dogter van jou sodat ons haar kan sien en dan kom vertel jy ons wat jou planne is. As ek die sakie reg verstaan, wil jy haar hier verkoop aan een van ons. Die een wat jou die meeste geld aanbied.”

Gerhard is vasbeslote om die seun vanaand uit hierdie gemene skepsel se kloue te red. Hy wil egter voor ’n klomp getuies die seun wettiglik by hom koop, sodat daar geen misverstand sal wees nie. Hy sal later aan die seun verduidelik dat hy hulle afgeluister het en heeltemal vertroud was met die hele opset. Die seun sal dan vry wees om te doen wat hy wil. Hierdie vieslike ou man het blykbaar die een of ander houvas op die kind waarmee hy hom verskrik. Vanaand wil hy daardie houvas vir altyd verbreek!

Jaap Visser skarrel vinnig by die deur uit.

Omtrent tien minute later is hy terug. Hy is reeds binne-in die kroeg toe hy oor sy skouer loer en sien dat sy sogenaamde dogter nog steeds verbouereerd en bang buitekant staan. Hy spring om en sleep die kind aan sy hand daar in.

Gerhard sien hoe die kind wegrem en hoe die ou man se hand styf om sy arm span.

Die ander mans in die kroeg kom stadig regop en staar dan in stomme ongeloof na die kind.

Gerhard byt hard aan die binnekant van sy wang. Hy moet erken die seun maak ’n heel oulike meisie uit; nou net nie wat hy ’n skoonheid sal noem nie. Daarvoor is die kind se vel te verwaarloos en te verbrand deur die fel Suidwes-son.

Gerhard sukkel om nie hardop te lag nie. Die geel rokkie is effe groot vir die seun en hang tot op sy voete. Hy wonder waar die ou man so vinnig ’n rok vandaan gekry het. Onder die rok loer egter ’n paar bruin velskoene uit, wat darem redelik skoon is vir die veiling.

Daar is soveel dinge wat Gerhard met die eerste oogopslag probeer waarneem, dat daar nie nog tyd is om na die mans se gesigte te kyk nie.

Dit is die soldaatjie met die groot, blou oë wat stadig nader kom, soos een in ’n droom, en sy hand uitsteek na die lang, bruin hare wat op die seun se skouers hang. Hy streel in verdwasing daaroor en staar net stil na die kind soos een wat ’n spook sien.

Nou merk Gerhard die lang hare op. Hy frons en kom ’n treetjie nader. Dan sien hy egter die band om die seun se kop. Dit is natuurlik ’n haarstuk wat hy so netjies met daardie band op sy kop skik. Hy moet erken min mans sal in die seun van gisteraand hierdie meisie met die lang hare soek. Dit is deksels goed gedoen vir ’n seun!

Klaus kom ook stadig om die toonbank.

“Jou dogter! Is dit regtig jou dogter? Dit is nie dalk ’n vroumens wat jy iewers gesteel het en in hierdie ding indwing nie? Hmm, juffrou? Is jy regtig sy dogter?”

Die lang, bruin hare beweeg vorentoe toe die seun liggies knik. Gerhard sug. Die seun se toneelspel is onverbeterlik. Hy lyk werklik op hierdie oomblik soos ’n doodsbang meisietjie.

Die ou man vee vinnig die trek van genoegdoening van sy gesig af toe hy sien hoe stip Gerhard na hom kyk.

“Weet sy darem wat jou planne met haar is?” Kurt kan dit eenvoudig nie kleinkry dat ’n mens jou eie dogter kan verkoop nie.

Die meisie knik liggies en die bruin hare gly vorentoe en hang sag teen haar wang, sodat sy weerloos en skaam lyk.

“Sy weet ons kan nie anders nie. Dit is ons laaste hoop. Nè, Tillatjie? Jy weet tog hoe seer dit Pappa se hart maak. Nè, my ou kindjie?”

Jaap Visser tel haar hand op en druk dit teen sy wang.

“Ons moet dit maar liewer nie doen nie. Ons sal tog op die een of ander manier regkom. Of hoe sê jy?”

Gerhard kyk met opregte verbasing na die blink trane wat oor die seun se wange loop.

Arme kind, hy is maar net ’n jong seun. Gerhard sit sy bierbeker neer en kom vinnig nader.

“Wel, dan moet jy nou vinnig besluit wat jy wil doen, Jaap Visser. Wil jy jou kind hou, of wil jy haar hier opveil soos ’n bees?”

“Nou sê meneer darem harde woorde. Sy ... sy is my oudste. My oogappel. My hart wil breek, maar daar is niks anders wat ek kan doen nie. Die ander kinders ... hulle het nie kos nie en klein Annie ...”

Gerhard walg van die nare mens se hemeltergende woorde.

“Sien jy kans hiervoor, juffrou? Jy weet wat dit beteken as een van ons jou vanaand koop? Jy sal met daardie persoon moet trou en die verpligtinge van sy vrou hê.”

Gerhard kyk stip na die seun, wat sy oë vinnig laat sak. Hy knik net liggies en Gerhard het lus en skud hom wild heen en weer. Hy kon darem ’n bietjie meer murg in sy pype gehad het. As dit hý was, het hy lankal weggeloop en iewers ’n beter heenkome gevind.

“Ek wil haar hê.” Die blouoog-soldaat is dadelik bereid om alles wat hy besit, te betaal. “Hoeveel wil jy vir haar hê?”

Jaap Visser loer slu na die ander, maar die soldaatjie het net oë vir hierdie meisie met die lang hare.

“Ek sal jou tien pond gee.” Een van die ander soldate druk voor die blouoog in en haal sy geld uit sy sak.

“Vyftien!” Die blouoog sit die bod hoër in.

Jaap Visser laat sy kop gemaak hartseer sak en vat die seun aan sy arm.

“Ek kan nie my kind vir ’n paar pond verkoop nie. Kom, Tillatjie! Ons sal op die een of ander manier regkom.”

“Dertig pond.” Dit is sowaar Kurt wat ook aan die vendusie deelneem.

Gerhard sien die tevredenheid in Jaap Visser se oë.

“Juffrou ...” Klaus staan vinnig vorentoe. “Ek sal vir jou ’n werk hier in die hotel aanbied.” Hy draai na Jaap Visser. “Ek sal jou veertig pond vir haar gee. Nou. Dan sal ek haar nog ’n salaris ook betaal elke maand.”

Gerhard sien die vrees in die kind se oë. Arme ding! Hy weet natuurlik waarvoor die hotelbaas hom wil koop en wat die gevolge gaan wees as hy uitvind dat hy ’n seun is. Gerhard het ook nou genoeg van hierdie wreedheid gehad.

“Ek sal jou honderd pond gee vir haar, Jaap Visser. Ons teken egter ’n wettige kontrak voor al hierdie getuies.”

“’n Kontrak! Maar hoekom?” Jaap vergeet skoon om temerig te klink en Gerhard sien die ongeloof in sy oë.

“Sodat jy nie môre, oormôre kan kom en haar terugeis nie. As ek haar nou gekoop het, is sy wettiglik myne en as jy haar kom terugeis, dan sit ek die beskermingstroepe op jou. Want dit sal dan beteken dat jy aan my wettige eiendom raak.”

Sy woorde skok vir Jaap. ’n Herhaling van hierdie plan sal dus nie kan plaasvind nie. Hierdie man bedoel elke woord wat hy sê en hier staan nie minder as ses getuies nie.

Gerhard kan sien hoe die ou skelm worstel om te besluit wat die beste gaan wees.

Die seun se oë is donker van bekommernis en Gerhard weet dat hy nou heeltemal verward is. Dinge verloop glad nie soos hulle dit beplan het nie.

Die ander mans draai bekaf om. Hulle kan nie saam met Gerhard Fouché bie nie.

Toe dit egter vir Gerhard lyk asof die sluwe Jaap Visser bedenkinge begin kry, haal hy die rol note uit sy sak, sodat dit hom vinniger kan laat besluit.

“Wel ... ja, goed dan. Maar ... meneer sal seker nie omgee as ek my ou dogtertjie so af en toe kom besoek nie.”

“Ek sal beslis omgee. Wanneer jy hierdie kontrak teken, is sy wettiglik myne. ’n Pa wat so min omgee, is nie werd om ’n kind te hê nie. Ek sal baie beslis nie toelaat dat jy ooit weer naby haar kom nie.” Gerhard se stem is hard en koud.

Toe hy onverwags opkyk, sien hy die dankbaarheid en verering in die seun se groot, bruin oë en dit maak hom net meer vasbeslote om hom van hierdie nare man te verlos.

“Ai, meneer.” Gerhard, wat hom fyn dophou, sien egter hoe hy skelm vir die seun knipoog.

“Geen skelmstreke nie! Verstaan jy my?” Hy draai na Klaus. “Klaus, gee asseblief vir my ’n stuk papier. Julle manne moet almal teken as getuies. Kurt, ek wil hê jy moet hierdie afskrif saamneem vir kaptein Von Lindeque. Hy moet dit vir my bewaar.”

“Ek doen dit graag.” Kurt tel sy bierbeker op en met ’n vreemde glimlag hou hy die hele petalje dop. Hy dink hy kan al taamlik goed voorspel wat Gerhard Fouché se plan is. Hy wil natuurlik hierdie meisie haar vryheid gee. Dit moet vreeslik wees om so ’n vader te hê.

Hulle ander gaan dalk nog ’n kans kry. Gerhard sal nie in haar belangstel as ’n vrou nie. Hy kan kies en keur en sal, soos sy broer, vir hom ’n vrou in Duitsland of in die Kaap gaan haal.

Gerhard bewoord die kontrak versigtig en lees dit dan hardop vir Jaap Visser voor.

“Begryp jy alles? Daar is geen kans om hierdie meisie terug te kry of te kom steel nie. Sy is nou wettiglik my eiendom.”

“Ja, ek verstaan.” Jaap staan kop onderstebo en kan die seun in hierdie stadium nie meer in die oë kyk nie.

Gerhard sorg dat hy in die kontrak slegs verwys na “die kind” en nie ’n geslag aan hom verbind nie. Hy wil geen skuiwergate toelaat nie.

Hy kyk stip na die seun en gee ’n treetjie nader. Met sy hand lig hy sy gesig op en kyk in die versluierde bruin oë.

“Jy verstaan dit ook, nè?” Die seun knik. “Daar is geen omdraaikans nou meer nie. Sien jy kans hiervoor?”

Die seun loer onderlangs na die ou man wat nou in ’n patetiese bondeltjie staan.

“Wil jy liewer by hom bly? As jy nie kans sien hiervoor nie, sal ek vir julle geld gee vir kos en medisyne gaan koop vir jou siek sussie.”

’n Oomblik lank staar die seun hom uit die veld geslaan aan. Gerhard sukkel om sy lag te hou, want hy kan sien dat hy darem nou hulle dinge baie deurmekaar krap.

Jaap Visser beduie wild met sy oë vir die seun en Gerhard maak maar asof hy dit nie raaksien nie.

“Wat ... wat gaan meneer met my doen?” Die seun se stemmetjie klink so bang en verlore dat Gerhard hard moet sluk aan die knop in sy keel.

“Niks om voor bang te wees nie.”

Die ander mans lag hard en uitgelate en Gerhard vervies hom bloedig vir hulle.

“Ek praat glad nie met julle nie. Julle is banaal!” Hy draai hom weer na die seun en sy stem is sagter en vriendeliker. “Ons sal later daaroor gesels. Wil jy saam met jou pa gaan, of wil jy liewer saam met my kom?”

“Ek ... ek sal saam met meneer gaan. Daar ... daar is egter iets wat ek vir meneer moet sê ...”

Jaap Visser vergeet skoon om krom te wees en spring vinnig tussen die seun en Gerhard in.

“As sy dus besluit het om te gaan, kan ons maar die kontrak teken.” Hy ruk ’n vuil sakdoek uit en blaas sy neus hard uit. “Dit is vir my bitter, bitter swaar om my kind af te gee. Laat ons dus maar voortgaan en die saak afhandel.”

Jaap Visser teken albei die papiere en stoot dit na Gerhard toe aan.

“Meneer kan maar die geld gee. Ek moet nou gaan.”

“Ek sal saamgaan sodat ek kan gaan kyk wat makeer jou ander kind. Sy het dalk hulp nodig.”

“Nee! Nee, dit sal nie nodig wees nie. Ek ... dit is net hoekom ek so haastig is. Ek wil by haar kom.”

Gerhard vee vinnig oor sy mond, sodat Jaap nie die glimlag moet sien nie. Die ou skelm!

“Nie so haastig nie. Ek wil net eers heeltemal seker maak of jou dogter verstaan wat alles hier gebeur het.” Gerhard draai na die seun. “Wat is jou naam?”

“Tilla, meneer.”

Dit kom so vlot dat Gerhard diep frons. Hierdie kind jok al net so gemaklik soos Jaap. Dit is hoog tyd dat hy ’n beter lewe begin lei.

“Jy verstaan dat ek jou met geweld kan gaan terughaal indien jy wegloop. Jy verstaan ook dat indien jy teruggaan na hom toe sonder my toestemming, ek julle albei in die tronk kan laat sit. Is dit vir jou duidelik?”

“Ja, meneer.”

“Sien jy dus kans om saam met my te kom?”

Die seun loer onderlangs na Jaap en toe hy die onderdrukte woede in Jaap se oë sien, praat hy vinnig. “Ek sien kans, meneer.” Daar speel ’n vreemde glimlaggie om die seun se mond en Gerhard kan sweer dit is vreugde en verligting wat sy oë so laat blink.

Almal in die kroeg teken as getuies en Gerhard maak heel laaste sy swierige handtekening onderaan die kontrak. Hy oorhandig een afskrif aan Kurt, wat dit versigtig opvou en in sy sak steek.

Jaap Visser se hande lyk soos kloue toe dit gretig om die geld sluit.

Gerhard keer egter toe Jaap Visser vinnig by die kroegdeur wil uitgaan.

“Nie so haastig nie, meneer Visser.”

Jaap gaan sku en waaksaam staan. Sy een oog meet die afstand na die deur toe, terwyl sy hande stywer om die geld klou.

“Dit is ’n wettige kontrak. Jy gaan nie die geld terugvat nie!” Sy stem is ontdaan van alle temerigheid.

“Ja, dit is ’n wettige kontrak, Jaap Visser. Ek is ook nie van plan om die geld af te vat nie. Ek wil net hê dat die ander hier getuies moet wees van wat ek regtig vanaand gekoop het.”

Hy sien die vrees en skrik in die man se oë en spring vinnig voor hom in toe hy by die deur probeer uitspring.

“Klaus! Kom staan net so ’n rukkie hier in die deur.”

Klaus beweeg vinnig vir sy groot maag en versper die uitgang. Die ander staan nuuskierig nader. Soveel opwinding het hulle in geen jare gehad nie.

Die seun deins bang en verbouereerd terug totdat hy met sy rug teen die muur staan.

Gerhard kom nader en die vrees in die seun se oë maak hom week. Sy stem is dus sag en gerusstellend. “Ek het julle gisteraand gevolg toe julle hier uit die kroeg uit weg is. Jy hoef nie so bang te wees nie. Ek weet presies wat julle planne was.”

Die onbegrip meng met vrees en die seun deins agteruit toe Gerhard sy hand vinnig uitsteek en die haarstuk met een beweging van sy kop aftrek.

Sy hare is nogal lank vir ’n seun s’n. Dit krul agter in sy nek en om sy ore.

Die manne staar ongelowig na die metamorfose wat voor hulle oë plaasvind. Die werklikheid dring egter nie tot hulle deur nie. Dit is eers toe Gerhard verduidelik, dat die verbasing op hulle gesigte plek maak vir ongeloof en woede.

“Dit is dieselfde seun wat gisteraand hier ingekom het met sy geweer. Hierdie was nog een van hulle vindingryke planne. Ek het ook gehoor dat hierdie seun onwillig in hierdie skelmstreke ingesleep word. Hierdie uitvaagsel is nie eens sy pa nie. Dit is hoekom ek vanaand hier is. Ek wil hierdie kind vir goed losmaak van hierdie ... hierdie skelm gedrog!”

Paniek kom sit vlak in Jaap Visser se oë en Gerhard se stem is yskoud en gelaai met woede toe hy die woorde afgemete uitsis. “Jy moet jou ry kry. As ek jou ooit weer iewers sien, slag ek jou soos ’n skaap af en hang jou aan die naaste doringboom op.”

Die mans in die kroeg kry stadig lewe. Selfs vir hulle wat heeldag in die veld is en saam met die gevare van hierdie wilde land lewe, is soveel korruptheid ongehoord en onaanvaarbaar.

“Jou lae vuilgoed!” Klaus gryp vir Jaap Visser voor sy bors en skud hom soos ’n hondjie heen en weer. “Jy wou ons hier kom bedrieg het. Jou satanskind! Jy wou ’n seun aan ons verkoop het. Jy het goed geweet hierdie manne, en ek inkluis, sou alles wat ons besit betaal het vir ’n vrou.”

Die soldate storm woedend op hom af. Gerhard keer egter vinnig.

“Laat hom gaan. As ek langer in sy skelm bakkies moet vaskyk, sal ek siek word.”

Die mans staan onwillig terug. Klaus los hom stadig en vee dan sy hand aan sy voorskoot af, asof dit vuil is.

“Net een ding nog, Jaap Visser. Onthou, ek het hierdie seun wettiglik gekoop. Hy is nou my eiendom.”

’n Vreemde glimlaggie kom trek styf om Jaap Visser se mond en sy woorde is lelik en sarkasties. “Onthou jy dit ook net. Jý het hom gekoop. Hy is nou joune om op te voed en te versorg.”

Gerhard sit sy arm beskermend om die seun se skouer, wat so hartseer en verbouereerd lyk.

“Ek sal vir hom sorg. Ek sal hom nie dreig en afpers soos jy nie. Ek kyk gewoonlik goed na my eiendom.”

Jaap Visser verdwyn vinnig by die deur uit en dit is eers toe hulle die perdepote hoor wat vinnig weggalop, dat Kurt die stilte verbreek deur dawerend te lag. Die ander val stuk-stuk in totdat hulle die trane uit hul oë moet vee.

“Aarde, meneer Fouché, jy het ons darem vanaand van ’n ding gered! Ek sou darem woedend gewees het as ek alles wat ek gehad het, betaal het net vir ’n ekstra mond om te voed.”

Die seun krimp ineen en Gerhard se hart gaan na hom toe uit. Die arme kind. Hy het mos ook gevoelens en hy kry ook seer oor sulke woorde.

“Ek is baie bly dat ek gisteraand agter hulle aangery het. Anders was ek vandag al op pad plaas toe.” Hy druk die onwillige seun vorentoe tot teen die toonbank. “Kom sit, boet. Klaus, gee tog asseblief vir die kind iets om te eet en sommer ’n glas melk ook.”

Klaus sit ’n rukkie later ’n bord brood en koue vleis, asook ’n groot glas melk voor die kind neer.

“Jy sal ’n baie beter lewe hê by meneer Fouché, boet. Hy boer daar naby Windhoek en hulle het baie aandele in die kopermyne ook. Hy sal vir jou ’n ordentlike werkie kan aanbied.”

Die seun loer net onderlangs na Klaus en val dan hongerig weg aan die kos. Na die eerste sny brood loer hy versigtig na Gerhard, wat nou by een van die tafeltjies in ’n druk gesprek met Kurt is.

Klaus glimlag vriendelik na die seun wat nog so bang en verskrik lyk.

“Hy is ’n goeie man, dié meneer Fouché. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Jy sien tog hoeveel moeite hy gedoen het om jou uit daardie nare man se kloue te bevry.”

“Is ... is hy getroud?” Die seun se stem is gesmoord toe hy met ’n mond vol brood probeer praat.

“Nee, hy is nie getroud nie. Sy ma bly nog by hom op die plaas. Sy pa is dood en sy broer is getroud. Die broer bly in Windhoek. Sy broer is eintlik die een wat altyd met die myne doenig is. Hulle is egter op die oomblik in Duitsland – hy en sy vrou.”

Die seun skud sy kop terwyl hy die laaste bietjie melk uit die glas drink.

“Wil jy nog hê?”

“Nee, dankie.” Die seun se oë is egter op Gerhard gerig wat stadig opkyk en lui vir hom glimlag.

“Is jy klaar?”

Die seun knik bevestigend en Gerhard staan op.

“Nou toe, kom ons kry koers.”

Die seun se oë soek egter deur die skemer kroeg tot hy die haarstuk wat eenkant op ’n tafeltjie lê, raaksien.

So ongemerk moontlik skuifel hy nader en vat die haarstuk vas. Die ander, wat hom almal dophou, sien dit gelyktydig raak en skater van die lag.

“Hoe is jy dan so bekommerd oor jou hare? Wil jy die truuk op ’n ander plek ook gaan probeer?” Dit is die blouoog-soldaat wat nog steeds krapperig is omdat hy so vir die gek gehou is.

Gerhard wag ook laggend vir ’n antwoord van die seun af. Hy staan egter kop onderstebo en kyk stadig op.

“Dit ... dit was my ... my ma se hare.”

Gerhard sit sy arm vaderlik om die seun se skouer.

“Nou toe, vat jou ma se hare en kom dat ek my seun in die bed gaan sit. Nag, julle!”

“Nag, meneer Fouché. Nag ... Haai, jy het nog nie eens vir ons gesê wat jou naam is nie!” Kurt staan laggend nader, maar die seun skarrel vinnig by die deur uit terwyl die rok sy treë strem.

Gerhard lag en beduie vir die ander na die seun wat so onbeholpe lyk met die rok wat om sy bene swaai.

“Ons sal jou gou weer in ordentlike seunsklere kry, jong. Jy het seker niks saamgebring nie.” Hy val langs die seun in en sy stem is vriendelik en gemoedelik.

“Ek ... ek het darem dit wat ek gisteraand aangehad het. Dit is daar in die sak.”

“Ons sal vir jou langs die pad ordentlike klere koop.”

“Dankie ... maar ...”

Gerhard kyk verbaas na die perd wat nog opgesaal staan voor die hotel.

“Moenie vir my sê die ou skelm het toegelaat dat jy die perd hou nie.”

Die seun sukkel lomp om met die lang, swaaiende rok bo-op die perd te kom.

“Ja ... ek ... ek moes mos ...”

“Natuurlik, ja, jy moes mos teruggaan na hom toe.”

Gerhard trap in die stiebeuel en swaai sy been oor die perd se rug.

“Ons kan by die kamp verder gesels.”

“Meneer ...”

Gerhard loer oor sy skouer. Die arme kind se stemmetjie klink so bang en verlore.

“Ja?”

“Baie ... baie dankie. Ek ... kan nie vir u sê hoe ek vanaand voel nie. Ek ... ek hoop net dat as u alles weet, dat ... dat u dan nog ...”

“Nog wat, ou grootman?”

“Dat u my dan nog by u sal hou. Moet my tog nie na hom toe terugstuur nie. Ek ... ek is bang vir hom!”

Die seun se stem is gesmoord en Gerhard trek sy perd langs hom in.

“Dit sal ek nooit doen nie. Ek het jou mos wettiglik gekoop. ’n Mens gee mos nie jou eiendom sommer terug nie. Soos ek daardie ou skelm opgesom het, sal hy jou ook nie terugkoop nie.” Gerhard probeer ’n grap van die situasie maak, maar die seun se houding is een van onsekerheid en vrees.

“Kom ons ry. Ons sal later weer gesels. Ek het mos geweet wat ek koop. Jy is nou my verantwoordelikheid. Daar is niks wat dit sal verander nie.”

“Regtig, meneer? Behoort ek nou régtig aan meneer?”

“Ja, jou domkop! Jy behoort aan my. Maar ek wil dit net vir jou duidelik stel: Jy is nou vry! Ek sal nie met jou maak soos Jaap Visser nie. Jy kan van nou af self besluit wat jy wil doen.”

“Maar ... maar as ek by meneer wil bly, dan ... dan kan ek maar? Ek bedoel ... meneer sal my nie sommer net los op ’n plek nie?”

Die perde stap rustig langs mekaar in die stofpad aan en Gerhard kyk na die vreemde kind wat met soveel dankbaarheid, wat grens aan aanbidding, na hom kyk. Dit weerkaats helder uit die groot, bruin oë in die blink maanskyn.

“Dit sal ek nooit doen nie. Jy is dan nog ’n kind! Ek wil hê jy moet net mooi verstaan dat jy nie my slaaf of bediende of so iets is nie. Dink maar aan my as jou pa. Ek sal sorg dat jy, wanneer jy ’n bietjie ouer is, ’n ordentlike werk kry. Op die oomblik dink ek jy moet eers ’n rukkie by ons op die plaas kom bly. Daar is baie werkies wat jy kan doen en dan kan jy eers weer gewoond raak aan ’n normale manier van lewe.”

“Dankie, meneer. Baie, baie dankie.”

“Kom, ons moet aanstoot.” Gerhard kap sy hakke in die perd se flanke en op ’n vinnige galop ry hulle die maanskynnag, wat skielik vir Gerhard vreemd en onbekend voel, binne.

Die winskopie

Подняться наверх