Читать книгу Die voorskootbataljon - Sarah du Pisanie - Страница 3
1
Оглавление“Meneer, ek is bevrees ek verstaan dit nog nie … Sal u omgee om dit asseblief weer te verduidelik?”
Anna Joubert skuif vorentoe, tot op die punt van die stoel. Haar hele liggaam is gespanne, haar hande geklem om die bruin handsak.
“Mevrou, ek het dit tog reeds in my brief verduidelik. U erf net ’n gedeelte van Standersfontein. Op dié gedeelte is ’n woonhuis en die nuwe eienaar is bereid om met u te onderhandel om u gedeelte by u te huur of te koop.”
“Ja, meneer Visser, dit verstaan ek. Maar . . . maar in u brief het u nie gemeld dat ek net tien hektaar grond erf nie. Ek . . .” Anna lek oor haar droë lippe en loer bekommerd na Karlien wat doodsbleek voor haar op die tafel staar.
Jan Visser speel ingedagte met die potlood tussen sy vingers.
“Ek is op Standersfontein gebore . . . ek het daar grootgeword. Ek ken die plaas en ek weet hoe lief my pa vir daardie stukkie grond was. Dit was sy hele lewe!” Haar hande gaan in ’n magtelose gebaar in die lug op, val dan weer hulpeloos in haar skoot terug.
“Ek kan verstaan dat hy dalk ’n verband sou neem op die gedeelte van Standersfontein wat hy later jare aangekoop het, maar . . . dat hy op die oorspronklike plaas ’n verband sou neem, is nie vir my aanvaarbaar nie. Hy sou eerder een van die ander . . .” Anna kyk hom pleitend aan.
“Ek dink ek verstaan, mevrou. U voel dat hy liewer van die plase wat hy later aangekoop het, sou verkoop in plaas van om ’n verband op Standersfontein te neem,” sê Jan Visser geduldig.
“Ja, dit is wat ek bedoel. Dit moes ’n geweldige groot besluit vir hom gewees het . . . hy moes in ’n baie groot finansiële verknorsing gewees het om so iets te doen.”
Die prokureur sug. Hy het verwag dat hier ’n uiters plofbare situasie gaan ontwikkel.
“Mevrou, ek dink nie dit alles is nou ter sprake nie. Al wat wel ter sprake is, is dat u net ’n gedeelte van Standersfontein geërf het.”
Anna skud haar kop in magtelose ongeloof.
Toe sy die brief van die prokureur ontvang het waarin sy aangewys is as ’n mede-erfgenaam, het sy nie een oomblik daaraan getwyfel dat dit die gedeelte met die woonhuis op die oorspronklike Standersfontein is nie. Nou blyk dit dat dit net die huis en tien hektaar grond is.
Volgens meneer Visser is daar geen kontant in die boedel oor nie. Daar was ’n verband op Standersfontein en die verband is opgeroep drie maande voor haar pa se dood. Toe is ’n koopkontrak geteken en die plaas is vir die bedrag van die verband aan die eienaar verkoop.
“Ek . . .” Anna stotter en lek oor haar lippe. “Standersfontein was altyd ’n pragtige plaas en my pa het nooit finansiële probleme gehad nie . . . Ek weet nie wat om te dink nie.”
“Mevrou, u was baie lank gelede hier by u vader, nie waar nie?” vra Jan Visser.
Anna laat haar kop ’n oomblik in skaamte sak. Sy lig haar wimpers stadig op en stoot haar ken verdedigend vorentoe, terwyl sy Jan Visser vierkant in die oë kyk.
“Dit is lank gelede, meneer Visser . . .” Sy dink ’n bietjie na. “Dis seker byna twintig jaar.”
Jan Visser kyk op sy hande, want hy wil nie hê hulle moet die verwyt in sy oë sien nie.
“Wel, mevrou, dan is ek bevrees dat ek ook nie graag meneer Stander, wat ’n baie goeie kliënt van my was, se persoonlike sake met u wil bepreek nie. Die beste sal wees om maar te aanvaar dat dit al was wat meneer Stander aan u bemaak het.”
“Ons . . . e . . . ons het gereeld gekorrespondeer, veral nadat sy tweede vrou oorlede is. Ek . . . ek het gereeld geskryf, maar ek het van hóm net so een of twee briefies per jaar ontvang . . .” sê Anna en knip die trane weg terwyl sy swaar sluk aan die knop in haar keel.
“Ek is jammer, mevrou. Dit sou dalk beter gewees het as u eers met my in aanraking gekom het, voordat u hiernatoe gekom het,” antwoord Jan styf.
“Ons is natuurlik nou in ’n groter penarie as wat ons was,” sê Anna en probeer die trane wegsluk.
Jan Visser kyk haar net stil aan.
“Ons het met al ons aardse besittings hier aangekom en Karlien het haar werk bedank.”
“Wou u dan self kom boer het, mevrou Joubert?” vra hy reguit.
“Nie ek nie, eintlik Karlien . . .” Sy beduie na die stil meisie wat nog nie ’n woord gesê het nie. “Sy . . . sy het die liefde vir diere en plante van haar oupa geërf.”
“Maar mevrou, was dit nie ’n bietjie . . . e . . . hoe sal ek nou sê . . . bietjie halsoorkop gewees om sommer alles te verkoop en hiernatoe te kom nie? U het nog nie eens presies geweet wat u erfporsie is nie.”
Anna sug swaar en die lyne keep diep langs haar mond in.
“Ja, meneer Visser, dit was seker. Maar . . . maar dinge het vir ons ook in ’n doodloopstraat beland.”
“Ek dink ons moet gaan, Ma!” Karlien se stem klink ver en dof soos dié van ’n ou mens.
“Sit nog ’n rukkie, juffrou, dan bestel ek vir ons tee. Ek dink ons sal hierdie sakie eers deeglik moet bespreek. Ek kan julle nie so aan jul lot oorlaat nie. Julle is net die twee vroue . . .”
“Sewe, meneer Visser,” antwoord Anna kalm.
“Ekskuus?” vra Jan Visser verbaas.
“Ek sê ons is sewe vroumense, meneer Visser.”
Karlien staan op en stap na die venster. Sy gaan staan met haar rug na hulle toe en probeer om nie verder te luister nie.
Jan Visser kyk na Anna met ’n dom uitdrukking op sy gesig. As Anna nie so verslae was nie, sou sy hardop gelag het.
“Ek het vyf dogters, meneer Visser, en my man se suster Maud woon ook by ons.”
Jan Visser laat sy kop moedeloos in sy hande sak. Om so iets onbesonne aan te vang is net wat ’n mens van ’n klomp vroumense kan verwag.
“Ek . . . ek dink ons moet maar liewer gaan. Die meubelwa is reeds hier met die meubels. Ons sal maar sorg dat hulle dit gaan aflaai en . . . en dan moet ons maar die huis in orde kry.”
Sy staan op en steek haar hand na hom uit.
“Baie dankie vir al die moeite.”
“Wag, mevrou, ek tref net gou reëlings met my sekretaresse en dan sal ek vir u gaan wys waar die huis is.”
“Dit is nie nodig nie, dankie, meneer Visser. Otavi lyk nog net soos hy twintig jaar gelede gelyk het. Ek weet waar die huis is.”
Jan Visser byt sy onderlip ingedagte vas.
“Mevrou, ek . . . die huis op u gedeelte van die grond . . . is nie die ou plaashuis van Standersfontein nie.”
Karlien swaai vinnig om voor die venster en staar hom verslae aan.
Anna sak stadig terug in die stoel, haar oë vasgenael op sy skraal gesig.
“Dit . . . dit is nie?”
“Nee, mevrou.”
“Maar . . . is daar ’n huis?” Haar stem is ’n skor fluistering.
“Ja, mevrou, daar is ’n huis.”
Karlien skuifel stadig om tot agter haar ma se stoel. Haar hande rus warm en stewig op haar ma se skouers.
“Meneer Visser . . .” Karlien klink baie jonk en onseker. “Die huis . . . hoe ver is dit van die dorp af? U sien . . .” Sy vryf onbewustelik haar ma se skouer asof sy die versekering dat alles reg is, daaruit wil put.
“Sien . . . ons het geweet dat die plaashuis van Standersfontein maar omtrent drie of vier kilometer van die dorp af is . . . My twee sussies moet skool toe gaan en . . .”
“Dit is ’n huis wat u oupa later jare vir die voorman laat bou het. Gelukkig het hy ook kinders in die skool gehad en is die huis sommer hier aan die buitewyk van die dorp. Dit is seker nie meer as twee kilometer van die dorp af nie.”
Anna sug verlig.
“Dit is gaaf, want ons sal dit nie kan bekostig om hulle in die koshuis te laat inwoon nie.”
Anna staan stadig en stram op soos ’n ou vrou. Karlien ondersteun haar en stilletjies verwens sy haar oupa wat hulle in so ’n penarie laat beland het.
Jan Visser stap saam met hulle na buite.
“Waar is die res van die gesin?” vra hy nuuskierig.
“Hulle is daar in die kafeetjie. Hulle het solank ’n koeldrankie gaan drink. Ons sal hulle sommer nou kry en dan kan ons almal uitry plaas toe.”
Jan kyk na die afgeleefde kombi en skud sy kop ongelowig. Hy kan beswaarlik glo dat hierdie motor die hele ent pad van Kaapstad af tot hier kon kom.
“Ek sal voor ry, mevrou. Ek wag daar by die kafee sodat u die ander kan kry,” sê hy hoflik.
“Baie dankie, meneer Visser.”
Karlien sit ’n oomblik lank met haar hande roerloos op die stuurwiel.
“En nou, Ma?”
“Nee, kind, nou weet ek ook nie . . .” sê sy en sug diep.
“Wel, kon ons om, so kom ons om,” sê Karlien en probeer glimlag.
“Ons sal maar vir jou ’n werkie op die dorp moet probeer kry, dit is al.”
“Ja, Ma!” Karlien sug. “Maar dit sou darem lekker gewees het om ’n plaas te hê met koeie, hoenders en skape . . .”
Anna pink ongemerk ’n traan weg.
“Jy het al meer as jou deel van swaarkry gehad. As ek tog net nie so hardkoppig was nie en ook maar verder gaan studeer het, dan kon ek self uitgespring het om iets te verdien.”
“Dit sal ook die dag wees. Ma is ’n ma en ’n ma bly by die huis en kook vir haar dogtertjies lekker kos en maak vir hulle mooi rokke en basta!”
“Ai, Karlientjie, jy is vir my meer werd as vyf seuns.”
Karlien vryf liggies oor haar ma se wang.
“Dit is nie wat Ma altyd sê nie,” lag sy en aap haar ma se stem na en trek haar gesig op ’n plooi. “As ons tog net ’n man in die huis gehad het!”
Anna lag verleë saam. “Ja, toe maar, as ons ’n man in die huis gehad het, kon jy nou agteroor gesit, jou verlustig het in die leliedammetjies in jou ontwerpertuin en jou diepste drome uitgeleef het . . . Dan het jy nie nodig gehad om soos ’n man te wees nie.”
Karlien hou voor die deur van die kafee stil en die tweeling bondel holderstebolder by die deur uit.
“Gaan ons nou, Karlien? Gaan ons sommer vanaand al op die plaas slaap?” Ester en Orpa, die twaalfjarige tweeling, praat gelyktydig.
Tannie Maud kom waardig en statig met die treetjies afgestap. Haar kantsambreeltjie, wat al beslis beter dae geken het, is oopgemaak en fyntjies oor haar skouer gedrapeer om haar wit vel teen die fel Suidwes-son te beskerm.
“ ’n Mens raas nie so in die straat nie,” sê sy en tik die twee blondekoppe liggies met die sambreeltjie voordat sy in die motor klim. “Waar is Susan?” vra Anna.
Karlien wag nie op ’n antwoord nie, maar spring die treetjies twee-twee op om haar te gaan haal.
“Kom, ou sussie,” sê Karlien en vat haar liefdevol aan die arm.
Susan sit diep ingedagte deur ’n tydskrif en blaai. Sy lyk lusteloos en moeg.
“O, is julle al hier?” vra sy, staan op en stap agter Karlien aan.
Die tweeling babbel nog aanmekaar toe Karlien in die motor klim.
“As julle tweetjies nou net so ’n oomblikkie stilbly, dan kan ek alles verduidelik en kan almal hoor.”
Karlien draai skuins in die sitplek om hulle almal te kan sien. Die erns op haar gesig laat die ander verskrik stilbly.
“Daar was iewers ’n misverstand. Ons het nie ’n plaas geërf nie, net ’n plot. Om die waarheid te sê, dit is net tien hektaar grond. Daar is ’n huis, maar dit is nie die ou plaashuis waarvan Mamma ons vertel het nie. Dit is ’n huis wat later deur Oupa laat bou is vir sy voorman.”
Sy maak of sy nie die geskokte uitdrukking op die ander se gesigte sien nie en gaan gemaak opgewek voort: “Dit is nog nader aan die dorp as die ou padstal en daaroor is ons vreeslik bly. Nou moet ons ry en gaan kyk hoe lyk ons nuwe koninkryk.”
Almal is onnatuurlik stil.
Susan begin saggies huil en Maryna staar onvergenoeg deur die venster.
“Dit is alles my skuld . . . Ek weet Mamma-hulle het alles daar in die Kaap net so gelos en hiernatoe gekom om my in ’n droër klimaat te kry. Dit is hierdie ou nare longe . . . Hoekom het julle my nie gelos dat ek doodgaan nie? Dit sou vir almal beter gewees het!” snik Susan.
“Stil, Susan! Moenie vir jou kinderagtig hou nie. Jy is mos groot!” sê tannie Maud en sy klink vererg, maar sy druk darem ’n kantsakdoekie in Susan se hand om die trane te keer.
“Wel, of ons nou hier gaan krepeer van ellende of in die Kaap in ’n beknopte woonstel, is vir my om ’t ewe. Ons was arm en nou is ons nog armer. Geen kaviaar of varkribbetjie vir die Jouberts nie!” sê Maryna bitter.
Tannie Maud kap Maryna hard oor die kneukels met die sambreel.
“Jy maak my siek wanneer jy so sinies is. Buitendien, niemand het gesê jy moet saamkom nie. Die keuse was joune. Jy het self aansoek gedoen vir ’n pos by hierdie skool.”
Maryna staar nors deur die venster. Sy is die oudste van die Joubert-dogters. Die lewe was nog maar min vriendelik met haar en dit het haar suur en onvergenoeg gemaak. Daar was ’n tyd toe alles vir haar mooi en vol sonskyn was, maar dit is lank gelede.
“Daar is darem ook nie veel om oor te lag nie, tannie Maud. Ons het tweeduisend kilometer gery net om dit te kom hoor.”
Tannie Maud ignoreer Maryna se laaste aanmerking en vra vir Anna: “Wat het dan nou skeefgeloop? Die brief het tog uitdruklik gesê julle erf die gedeelte van die plaas met die huis op.”
Karlien skakel die kombi aan en ry stadig agter Jan Visser aan.
“Ek sal alles verduidelik wanneer ons eers op die . . . op ons plaas is.” Karlien sê die laaste gedeelte met soveel klem dat die ander maar gedwonge saamlag.
Die wêreld is ’n lushof. Alles is pragtig groen en groot bome gooi donker skaduwees oor die rooi grondpad.
Jan Visser ry met sy luuksemotor deur ’n motorhek en draai toe skerp regs. Die ou geel kombi spring en huppel oor die grondpad waarop hulle afgedraai het.
’n Groot kol bome verskuil die huis sodat hulle byna daar is voordat hulle dit raaksien.
Die huis is ruim met ’n groot stoep reg rondom. Alles is vuil en stowwerig en lang spinnerakke hang van die dak af. Dit is duidelik dat daar lank niemand gewoon het nie.
Jan Visser staan verleë terug.
“As ons net geweet het u kom, mevrou, dan sou ek en Johan gesorg het dat alles eers skoon kom.”
“Ons sal regkom, meneer Visser,” sê Karlien kortaf. Iets klink vir haar nie pluis met die hele storie nie. Hier is ’n groot skroef los en al breek sy ook haar nek, sy sal vasstel wat dit is.
Jan Visser sluit die deur oop en oorhandig die res van die sleutels aan Karlien.
Die huis is ’n groter verrassing as wat Karlien aanvanklik verwag het. Ná die groot teleurstelling vanoggend het sy iets baie erger verwag.
Die huis is gerieflik, maar baie vuil en Karlien wens dat hulle tyd gehad het om eers die mure te verf, voordat die meubels uitgepak word.
Daar is drie slaapkamers, ’n groot sitkamer en ’n eetkamer. Daar is ook ’n ruim kombuis en ’n badkamer. Die toilet is egter bo-op ’n bultjie naby die huis geleë.
Jan Visser beskou die klomp vroumense met nuuskierige bewondering.
Karlien en Anna neem die voortou deur die huis en maak die kaste en deure oop. Die tweeling het nog nie ingekom nie, want hulle het vinnig om die hoek verdwyn om die werf te gaan verken.
Maryna het tot in die sitkamer gevorder en sy staar deur die stowwerige vensters na buite. Jan kan sweer dat hy die spore van trane op haar wange sien toe sy effens beweeg.
Susan is stil en moeg en sy gaan sit sommer op die stoep op die lae muurtjie en speel ingedagte met ’n takkie.
Tannie Maud staan met haar hand op die steel van die sambreeltjie en bespied die omgewing soos ’n generaal die slagveld.
Jan Visser stap reguit op haar af en hou sy hand na haar toe uit.
“Ek is Jan Visser, mevrou. Ons het nog nie ontmoet nie.”
Sy stof eers haar hand liggies met die kantsakdoekie af voordat sy dit na hom uithou.
“Ek is Maud Crawford. My man was lord Crawford.” Sy beskou hom effe uit die hoogte en Jan verwonder hom elke oomblik meer aan die eienaardige klompie vroumense wat almal hier saam is en so hemelsbreed van mekaar verskil.
Karlien en Anna kom terug van hul inspeksie.
“Wel?” vra tannie Maud, en bekyk hulle van kop tot tone.
“Nee, dit lyk goed. Dit lyk na ’n heel stewige huis,” sê Anna en sy sluk swaar aan die trane. Sy kan die teleurstelling nog nie verwerk nie. Sy het die plaashuis in gedagte gehad. Dit is ’n enorme plek . . . ’n regte ou kasteel. Die plek is massief groot en stewig met koepels en ’n torinkie waarvandaan hulle tydens spesiale geleenthede ’n vlag gehys het.
Sy het haar so ingestel daarop dat hulle elkeen hul eie kamer gaan hê, want die ou plaashuis het nie minder as ses slaapkamers nie. Nou sal hulle maar weer twee-twee in ’n kamer moet bly.
Karlien voel haar hartseer aan en plaas haar arm beskermend om haar ma se skouer.
“Daar is niks wat ’n bietjie water en seep nie kan regmaak nie.” Sy draai na Jan Visser.
“Meneer Visser, mag ons u ’n groot guns vra? Sal u asseblief vir die meubelvervoerders vra om maar die meubels te kom aflaai. Ons sal intussen begin skoonmaak.”
“Seker, juffrou Joubert, ek doen dit met graagte.”
By die deur draai hy eers weer om.
“Is daar nie nog iets wat ek kan doen nie? Sal julle regkom met middagete of kan ek vir julle iets bring om te eet?” vra hy hoflik.
“Nee, dankie, meneer Visser.” Jan voel aan dat Karlien hom glad nie goedgesind is nie en hy kan raai wat in haar gedagtes omgaan. Die hele aangeleentheid klink ook so verdraai dat hy haar nie juis kwalik neem nie. Hy draai dus maar na Anna.
“Ons sal regkom, dankie, meneer Visser. U . . . u was werklik baie vriendelik.”
Hulle staar hom almal stilswyend agterna totdat die motor om die draai agter die bome wegraak.
“Wel, komaan! Julle het nie jul handjies die saligheid belowe nie. Hier is baie werk in hierdie vuil huis,” sê Karlien en probeer opgewek klink, maar sy is self baie na aan trane.
“Ester! Orpa! Kom, kom, julle twee: dit is skoonmaaktyd!” roep sy.
“Ag! Karlien, kan ons nie maar hier buite speel nie?” vra hulle pleitend.
“Nee,” sê sy en skud haar kop beslis, “ons sal hierdie hool saam moet aandurf, anders slaap ons vannag in ou Betta.”
Die tweeling kom skoorvoetend nader. Hulle is baie beslis nie lus vir werk nie, maar vir ou Betta is hulle nog minder lus; nie ná tweeduisend kilometer vasgedruk tussen al die bagasie binne-in die ou kasarm nie.
Karlien gaan haal ’n emmer, besems, stoflappe en allerhande skoonmaakbenodigdhede uit die kombi. Hulle moes nog eers die woonstel skoonmaak nadat die meubels gelaai is en toe het hulle hierdie goed sommer in die kombi gelaai. Nou is dit gerieflik beskikbaar sodat hulle solank kan begin skoonmaak voordat die meubels kom.
“Ons begin eers by die sitkamer. Hulle kan dan die meeste meubels hier inpak en sodra daar dan ’n ander vertrek skoon is, kan ons die meubels daarheen verskuif,” sê Karlien, swaai die besem soos ’n geweer oor haar skouer en stap toe al singende die huis binne.
“Gmf, dit klink vir my meer na die troumars,” sê Ester en skop vies na die emmer.
“Dit sal seker vir jou na die troumars klink, want julle twee se koppe is mos vol muisneste!” troef Karlien haar.
Anna en Maryna laai solank die tasse uit die motor en pak dit eenkant op die stoep. Hulle maak van die tasse oop en Anna soek na ’n voorskoot. Sy bind ’n rooi geruite een om haar middel en soek toe verder totdat sy nog een kry.
“Hierso, Maud, sit sommer een van my voorskote aan.”
Tannie Maud kyk skepties na die blou geruite voorskootjie.
“Nee dankie, mens. Ek is ’n groot vrou en ek kan nie so ’n flentertjie ding aansit nie, dit sal niks help nie.”
Sy haal ’n oorrok uit haar eie tas wat haar van haar kuiltjie tot haar rok se soom bedek.
Susan neem ’n verestoffer en begin lusteloos in die vensterbank vroetel.
“Santjie! Los jy maar, my kind. Gaan sit liewer op die stoep, dan rus Ma se kind ’n bietjie,” sê Anna simpatiek.
“Ag, nee wat, Mamma. Ek is nie moeg nie, ek is sommer net sleg,” sê sy verskonend en probeer toe ’n bietjie meer entoesiasties afstof.
Maryna en Karlien trek hul skoene uit en rol hul denimbroeke se pype op tot onderkant die knieë. Tannie Maud kry iewers twee doekies en bind dit om hul hare. Hulle vee woes en met mening sodat die stofwolke by die venster en deure uitborrel.
Tannie Maud beskou die klomp meisies, wat so fluks aan die werk is, met trots in haar oë. ’n Skewe hartseertrekkie kom lê om haar mond.
Dit is darem so jammer dat hier nie ’n man in hierdie huis is nie. Hierdie klomp meisies sou hom tot in die afgrond bederf het. Hulle kan soos ’n goed afgerigte span in volle harmonie saamwerk. Dit kon haar nog altyd verstom hoe hulle elkeen sommer net weet wat om te doen. Daar is geen oormekaarvallery nie.
Sy soek met haar oë tussen die dogters na Anna. Sy het ’n emmer water en is besig om die mure te was. Om hard te werk het hulle by hul ma geleer. Pieter Joubert, haar broer, was ’n ou dromer, ’n idealis. Hy het dit nie baie ver gebring nie. Hy was ’n goeie, godvresende mens en baie lief vir sy vrou en dogter. Hy was egter nie ryk nie en Anna kry swaar vandat daar nie meer ’n vaste inkomste is nie.
Soos sy kan aflei, was Anna se pa destyds baie ongelukkig oor die troue. Hulle was ryk en invloedryke mense en Anna het toe kans gesien om uit die skool te gaan en met Pieter Joubert, ’n bankklerk, te trou.
Haar pa het haar blykbaar later vergewe en hulle het weer versoen geraak, maar ná Anna se ma se dood is haar pa weer met ’n bloedjong vrou getroud. Die vrou het daarby nog ’n seuntjie gehad. Anna kon die vrou nie in haar ma se plek aanvaar nie en dit het haar van haar ouerhuis vervreem.
Tannie Maud sug, tel die emmer op en stap na die kombuis om vir haar ook te gaan water haal.
Sy gaan staan langs Anna en kyk eers weer ’n slag hoe sy skrop dat die skuimbolle so staan. Dit is ’n vreugde om hierdie vrou te sien werk. Sy is nou wel nie geleerd nie, maar ’n uithalerhuisvrou! Sy doen al die huiswerk met soveel oorgawe dat ’n mens altyd lus het om haar te help.
Tannie Maud trek haar geel plastiekhandskoene aan en vryf die vingers een-een plat.
Haar man is ook ’n paar jaar gelede oorlede. Sy het nie kinders van haar eie nie en Pieter het gesoebat dat sy by hulle moes kom bly. Sy wou nie terwyl die vyf meisies nog in die huis is nie. Dit was eers ná Pieter se dood dat sy tog maar haar intrek by hulle geneem het. Geleidelik het sy ook maar deel van die huisgesin geword.
Die vroue werk in doodse stilte. Die stof is ook so erg dat niemand lus het om te praat nie.
Die gedreun van die meubelwa laat hulle almal op die stoep uitstap om die werksmense te verwelkom.
“Julle kan net vir ons die groot kaste in die kamers sit. Verder kan julle alles hier in die sitkamer pak, waar ons reeds skoongemaak het,” sê Karlien.
“Maar, juffrou, hoe gaan u alles op hul plekke kry? Die goed is swaar en hier is nie eens ’n man om u te help nie.”
“Nooit! Raai, ons het dit nog nooit agtergekom nie!” sê Karlien smalend.
Die man haal sy skouers vererg op.
“Dit maak nie aan ons saak nie; ons wou net help,” sê hy vies. Karlien voel skaam oor haar onbeskoftheid, maar sy is al so moeg vir die algemene opvatting dat daar altyd ’n man moet wees om alles te doen. Dit is seker hoekom haar oupa die plaas ook deur sy vingers laat glip het: daar is mos nie ’n seun nie! dink sy verbitter.
“Dankie in elk geval, meneer. Ons kom al die afgelope agt jaar so sonder ’n man in die huis klaar. Ons is al gewoond daaraan.”
Die man frons en Karlien verduidelik geduldig verder: “Ons wil net gou die slaapkamers se mure was. En . . . en dan is dit vol as alles daar ingepak is.”
Sy glimlag stralend en dit laat hom sy opgerukte houding verander.
“Ons is dit al so gewoond! Ons sit net ons heupe agter ’n kas, dan loop ons met hom!”
Die man beskou haar skraal postuurtjie en dié van haar susters wat nie veel groter is nie en skud net sy kop. Die enigste een wat ’n bietjie gewig agter ’n kas sal kan gooi, is die tannie met die geel plastiekhandskoene, maar sy is so danig sedig dat hy twyfel of een van daardie heupe, waarvan hierdie groenoogkind praat, hare sal wees.
Toe die meubelwa vertrek, draai hulle om en staar moedeloos na die stapels goed in die sitkamer.
“Ma moet asseblief sê waar ons almal moet slaap, dan kan ons begin uitpak,” sê Karlien, maar sy kyk nie na haar ma nie. Sy weet dat dit vir haar die moeilikste moet wees. Anna het so daarna uitgesien dat hulle elkeen hul eie kamer gaan hê. Die woonstel het hulle so ingehok laat voel, veral vir Anna – ’n gebore Suidwester en gewoond aan ruimte om haar.
“Ek en Maud sal maar die kamer aan die punt van die gang neem, dan kan Susan en die tweeling die groot kamer kry. Jy en Maryna kan die een naaste aan die badkamer kry.”
“Maaa! Kyk vir Ester! Sy gooi my met die seepskuim!” gil Orpa.
“Issie, Ma! Sy het eerste begin,” verdedig Ester.
“Ai, en dit sal nie eens help ’n mens wens die skole moet begin nie, want julle sal saam met my na dieselfde skool toe moet gaan,” sê Maryna met ’n sug en gooi die skropborsel op die vloer neer.
“Waarvoor het ek alles opgeoffer? Hiervoor?” vra sy en beduie na die vol sitkamer. “ ’n Heerlike pos by een van die topskole om hier . . . hier op hierdie agterlike grama- . . .”
“Maryna!” sê Anna skerp en gaan staan skielik reg voor haar, haar oë blitsend. “Ek verdra werklik baie van jou, my kind. Ek verduur al jou sarkasme en ek is jammer vir jou omdat jy so verbitter is, maar dit moet jy nooit ooit weer sê nie.”
Maryna bly vinnig stil en kyk haar ma verbaas aan.
“Dit is my wêreld hierdie . . . Hier is ek gebore en hier het ek grootgeword. As jy hierdie plek beledig, dan kom jy my te na. Hier is nou wel nie diskoteke en teaters nie, maar hierdie mense se siele is nog hul eie.”
Almal staar verbaas na Anna. Die stil, skaam Anna is meteens op haar perdjie oor ’n doodgewone aanmerking van Maryna.
Orpa, wat nog nie kans gehad het om Maryna op haar eerste opmerking te antwoord nie, benut die geleentheid toe Anna stilbly.
“O, en wie dink jy nogal wil graag saam met jou in dieselfde skool wees?” vra sy astrant.
“Ja,” gooi Ester ook haar stuiwer in die armbeurs, “ek sal te skaam wees om vir die ouens te sê dat hierdie suur oujongnooi my suster is! Ek skaam my mors- . . .”
“Ester, skaam jou!” sê tannie Maud verontwaardig en mik na haar met die lap. “Maryna is allesbehalwe ’n oujongnooi. Vier-en-twintig is nog bloedjonk.”
“Wel, as sy nog nie een is nie, sal sy nog beslis een word. Sy is net te goor . . . geen man sal haar wil hê nie en buitendien . . .”
“Dit is genoeg, julle twee,” sê Anna met ’n stemtoon wat die twee brommend laat wegstap.
“Ma sal hulle moet kortvat, die twee juffroutjies raak te groot vir hul skoene,” brom Karlien in die verbystap.
Maryna gluur die twee blondekoppe woedend agterna.
“Ek dink dit is tyd dat ék hulle kortvat.”
Ester loer weer om die kosyn.
“Sorg jy maar net dat jy ’n man kry sodat hier ’n man in hierdie huis kan kom. Dan sal dit met ons almal beter gaan.”
“O, ou meisiekindjie . . . As ek jou gryp!” dreig Maryna woedend en storm met gekromde vingers agter hulle aan.
“Wat is hulle twee deesdae so behep met ’n trouery?” vra Karlien en kyk verbaas na die deur waardeur Maryna vinnig verdwyn.
“Hulle voel seker die gemis van ’n man in die huis aan,” sê tannie Maud kop onderstebo terwyl sy op die emmer water in haar hand konsentreer.
“Nee, ek stem saam met Maryna. Dit is regtig tyd dat hul tjank afgetrap word!” sê Karlien so in die verbygaan en stap kombuis toe.