Читать книгу Die voorskootbataljon - Sarah du Pisanie - Страница 4
2
Оглавление“Wat is die skielike haas, oom Jan? Hoekom moes ek jou so dringend kom spreek?” vra Johan Lindeque toe hy Jan Visser se kantoor binnestap.
“Ai, Johan! Ek is dankbaar jy is hier,” sê Jan Visser en beduie na ’n stoel terwyl hy self agter sy lessenaar gaan sit.
“Waarvandaan kom jy nou? Ek het oral boodskappe gelaat dat jy hiernatoe moet kom,” verwyt hy.
“Ek was by Jaap le Roux se vendusie,” antwoord die jong boer en strek sy bene lank voor hom uit.
“Dan was jy nog nie vandag weer op jou plaas nie?” vra Jan Visser.
“Hoekom vra oom Jan so ’n snaakse vraag? Skort daar iets?” vra Johan en frons.
“Nie iets nie, Johan, alles!” kom dit moedeloos van die prokureur.
Johan steek ’n sigaret aan en leun agteroor. “As my plaas net nie afgebrand het nie, kan dit seker nie te erg wees nie,” spot hy.
“Johan, die dogter van ou Jaap Stander, wat die stukkie grond geërf het . . .” begin Jan en swyg toe hulpeloos.
“Wat van haar, oom Jan?” vra Johan nuuskierig.
“Wel, sy is hier!”
“Maar dis mos niks nie, oom Jan. Sy kom seker maar kyk hoe groot die grond is en hoeveel dit werd is, voordat sy dit verkoop. Ek bedoel, ek sou dit self gedoen het,” kom die rustige antwoord van die jong man.
“Dit is nie so eenvoudig nie. Sy . . . hulle . . . hulle is sak en pak hier. Hulle kom hier bly, in daardie huis!”
Johan staar hom ongelowig aan.
“Maar dit is seker nie moontlik nie, oom Jan? Hulle sal mos nie in so ’n . . . ’n bywonershuisie kom bly nie. Hulle woon dan al twintig of vyf-en-twintig jaar in Kaapstad.”
“Wel, ek het ook so gedink, maar . . . hulle is hier!”
“Hoeveel is hulle? Het sy dan meer as een kind?” vra Johan nuuskierig.
“Sy het vyf!” kom die huiwerige antwoord.
“Ekskuus?” vra Johan verbaas en skuif effens vorentoe op sy stoel.
“Ek sê vyf!” bevestig Jan Visser.
“O, ek het gedink dit is wat oom sê, maar . . .”
“Die ergste van alles, jong, daar is sewe vroumense altesaam!”
Johan blaas sy asem stadig uit en rem aan sy oopnekhemp se kraag. Hy druk sy sigaret dood, net om ingedagte weer ’n ander een aan te steek.
“Wag, ek bestel vir ons tee,” sê Jan Visser en lig die gehoorstuk om sy sekretaresse te skakel.
“Dit sal sterk moet wees, oom Jan. Jy sal nou vir my dié storie baie breedvoerig moet vertel.”
Jan sak terug teen die leuning van sy stoel en stadig, asof hy bang is dat hy iets sal uitlaat, skets hy die oggend se gebeure.
“Johan, wat my hinder, is die feit dat daar beslis ’n geldskaarste is. Jy moet hul ou motor sien! En die een meisie is beslis nie gesond nie. Ek sal my oogtande verwed dat dit die rede is hoekom hulle hiernatoe gekom het. Die kind is bleek en moeg met donker kringe onder haar oë. Die ander neem al die werk uit haar hande en sorg net altyd dat sy gemaklik is. Dit versterk my vermoede dat sy baie sieklik moet wees.”
“Maar ek kan dit amper nie glo nie; nie dat daar by Jaap Stander se dogter ’n geldskaarste is nie. Hy het seker maar gereeld vir haar geld gestuur,” sê Johan fronsend.
“Nie waarvan ek weet nie. Haar oorlede man het maar in die bank gewerk.”
“En nou, oom Jan?” vra Johan moedeloos.
“Nou weet ek nie, Johan. Dit is hoekom ek so naarstig na jou gesoek het. Ek wil hê jy moet daar op die plaas ’n koei en ’n paar skape van my gaan haal, en dit daar op die punt van hul grond gaan aflaai. Hulle sal dink dit is hulle s’n.”
“Dit sal nooit werk nie, oom Jan. Hulle sal dink dit is van die bure se goed wat op hul grond loop,” protesteer Johan.
Johan beskou die ouer man met ’n diep frons en vra toe: “Maar hoekom kan ons dit nie maar net vir hulle gaan gee nie?”
Jan skud sy kop. “Hulle sal dit nooit aanneem nie. Ek het so ’n vae vermoede dat hulle vreeslik fyngevoelig en onafhanklik is. Hulle moet net dink dit is van hul erfgoedjies, dis al,” verduidelik hy.
Johan Lindeque sit diep ingedagte. Die idee van sewe vroumense byna op sy agterstoep, staan hom glad nie aan nie.
“Aarde, oom Jan! Ek is reeds so besig; ek kan nie nog heeldag en aldag na ’n klomp vroumense ook omsien nie . . .”sê hy en stap vererg op en af in die kantoor.
“Kan hulle nie maar net oppak en teruggaan nie? Noudat hulle besef hulle het nie ’n ekonomies vatbare plaas geërf nie, maar in werklikheid net ’n baie verwaarloosde huis, kan hulle mos maar net sowel teruggaan,” sê Johan.
“My kind, ’n mens kan sien jy het nog nooit regtig swaargekry nie. Die feit dat hulle ’n huis het en nie een hoef te gaan huur nie, is al klaar vir hulle baie werd. Die oudste dogter hou skool en sy het ’n pos hier aanvaar. Dit het ou Eben nou net vir my vertel.”
“Ek weet nie wat om te sê nie, oom Jan,” antwoord Johan ongemaklik.
“Jy moet maar vir Mossie en sy vrou oorstuur, as jy hulle kan spaar. Hulle moet maar daar gaan help waar hulle kan. En Johan, ek sal die helfte van Mossie se salaris betaal.”
“Dit is ’n baie goeie plan, oom Jan. Mossie kan dan sommer die koei melk en die ander plaaswerkies doen. Ek weet net nie hoe om aan hulle te verduidelik wie Mossie is nie.”
“Ag, sê maar net hy het altyd vroeër daar gewerk,” sê Jan met ’n sug en kyk bekommerd na Johan. “Ons sal in elk geval ’n waterdigte storie moet uitwerk. Daardie klomp vroumense is nie dom nie, hulle sal sommer raai ons knoei en dan sal hulle nie die goed wil hê nie. Veral die een meisie sluk swaar aan hierdie storie van die verband.”
“Maar hoekom is oom Jan skielik so bekommerd oor die vreemde klomp vroumense? Jy en oom Jaap was nou wel vriende, maar ons weet tog almal dat sy dogter hom bitterlik afgeskeep het. Sy het nooit kom kuier nie, maar noudat sy kan erf, is . . .”
“Ag, ek weet nie, Johan. Ek het ook so gevoel, maar toe hulle vanoggend hier voor my sit – sy en die een dogter – was ek net skielik onverklaarbaar jammer vir hulle. So sonder sorg en . . . ag, dis moeilik om te verduidelik. Ek het nooit kinders van my eie gehad nie . . . en . . . ek het genoeg om vir hulle almal te sorg. Wat wil ek tog eendag met al my besittings maak? Ek kan dit tog nie saamneem nie!” verduidelik hy onbeholpe.
“Ja, oom Jan, as dit nie vir jou was nie, dan was meer as een mens op hierdie Otavi onderdeur. Jy is die eerste eerlike en goeie prokureur met wie ek nog te doen gekry het,” sê Johan en lag.
Jan Visser grinnik ook verleë. “Jy weet, my vrou het altyd gesê: Alle mense is in hul wese goed en wil graag goed wees vir ander, maar om iemand te kry om te ontvang is moeiliker as om te gee. En weet jy, dit is die waarheid. Ek het ook – soos oorlede Essie – al baie ondervind dat mense dink jy het bymotiewe as jy sommer net vir hulle iets wil gee of goed wil wees.”
Johan klop hom op die skouer. “Nou ja, ou Kersvader, ek sal dan ook maar ’n klompie van my hoenders neem en vir hulle sê dat ek hulle moes versorg totdat hulle kom.”
Jan staan vinnig op en sê ingenome: “Dit is nou ’n uitstekende plan, Johan. Ek sal die koei en skape oorstuur na jou toe, dan neem jy dit sommer alles gelyk oor.”
“Die hoenderhokke is heeltemal vervalle en die kraal ook. Ek sal maar net vir hulle gaan sê van die diere en dan eers iemand oorstuur om alles ’n bietjie te gaan regmaak.”
“Jy is darem ’n slim seun, dit is seker hoekom ek so lief is vir jou.”
Johan lag goedig. “Tot siens, oom Jan. Ek moet maar liewer loop, want soveel komplimente op een dag is nie goed vir my ego nie.”
“Johan!”
“Ja, oom Jan?” Johan draai vinnig by die deur om toe Jan hom in ’n ernstige stemtoon terugroep.
“Ek . . . ek is bekommerd oor Bert Landman. Hy is weer hier in die omtrek. Hy gaan moeilikheid maak,” sê Jan bekommerd.
Johan stap stadig terug.
“Waar is hy?” vra hy kortaf.
“Op Tsumeb. Mense van die omgewing het hom Saterdag daar gesien,” antwoord Jan.
“Ek het gedink hy is landuit met die laaste geld wat hy uit oom Jaap het.”
“Ek het ook so gedink. In elk geval, ons sal moet ligloop vir hom. As hy weet dat die Jouberts hier is en wie hulle is, sal hy weer met sy ou streke begin,” sê Jan waarskuwend.
Johan kou ingedagte aan sy onderlip. “Arme oom Jaap. Sy tweede troue met die jong vrou het vir hom net hartseer en ongeluk gebring. Om nie van die seuntjie te praat nie!” Johan se stem is hees van ingehoue woede.
“ ’n Mens kan mevrou Joubert se standpunt eintlik insien. Ek sou daardie vrou ook nie graag in my ma se plek wou sien nie. Dit is in elk geval nie ons probleem nie, oom Jan.”
“Dink jy so? Dink jy nie Bert Landman sal dit ons probleem maak nie? Hy haat jou reeds so!”
“Baie dankie vir die moeite om my vroegtydig te waarsku dat ek bure het en dit nogal ’n hele voorskootbataljon! Ek sal moet ligloop. Hoe lyk die dogters?” vra Johan met ’n breë glimlag.
“Ja, meneertjie, jy sál moet ligloop! Hulle is mooi! Al vyf van hulle.”
“Jy sukkel reeds so om vir my ’n vrou te kry, oom Jan! Miskien met die nuwe talent op die dorp . . . ’n Mens weet nooit!” terg Johan voordat hy die treetjies afdraf na sy groot bakkie wat nog nuut blink in die laatmiddagson.
Johan ry sonder om te konsentreer, sy gedagtes ver en glad nie by wat hy doen nie.
Hy rem skielik, ry agteruit en draai dan regs met die grondpaadjie af. Daar is nie ’n beter tyd as juis nou nie. Hy kan net sowel sy nuwe bure gaan ontmoet.
Hy kan die gewoel en gewerskaf al van ver af waarneem. Die stadsmense is egter so gewoond aan ’n lawaai dat hulle glad nie die bakkie hoor wat ’n entjie van die huis af tot stilstand kom nie.
Johan stap ingedagte na die stoep. Op die stoep kom hy skielik tot stilstand.
Diep in ’n gemakstoel sit ’n pragtige meisie. Sy slaap. Haar oë is toe en sy haal diep en rustig asem. Sy is besonder bleek met donker kringe onder haar oë. Haar vel is deurskynend wit.
Dit moet die sieklike een wees, dink hy. Elke leek kan sien dat sy ernstig siek moet wees.
Binne gesels vrouestemme rustig, maar dan deurklief ’n hoë gil skielik die lug.
Johan hoor ’n geskarrel van hardlopende voete wat almal in die rigting van die kombuis, waar die gil vandaan gekom het, beweeg.
Om nou te klop sal hopeloos wees, want niemand sal hom hoor nie, besef hy en stap met lang treë deur die huis en kom toe geamuseer in die kombuisdeur tot stilstand.
’n Meisie, geklee in ’n T-hemp en denimbroek waarvan die pype opgerol is, staan gebukkend bo-op die tafel en loer beangs na onder. Sy hou ’n besem soos ’n spies in haar hand.
Rondom teen die kombuismure neem die res van die bataljon stelling in met hul wapens.
Daar is ’n tweeling met blonde poniesterte wat naby mekaar staan, elkeen met ’n verestoffer in die hand. In die spensdeur staan ’n middeljarige vrou, wat beslis die ma van die meisies is, want hulle lyk almal na haar. Sy is skraal soos hulle, maar haar hare is vol grys strepe en die plooie om haar mond getuig van swaarkry en vreugde.
Styf teen die wasbak vasgedruk, asof sy elke oomblik daarop wil klouter indien die gevaar te naby kom, staan ’n meisie. Sy is jonger as die een op die tafel. Haar hare is kort en krul sag om haar gesig. Die sproetjies oor haar neus laat haar ondeund lyk.
’n Groot, statige vrou kom versigtig nader.
Johan sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Tannie Maud het ’n paar geel plastiekhandskoene aan om haar hande te beskerm, en sy klem ’n stoofyster baie vasberade vas.
Sy druk een van die tweeling opsy.
“Pasop, laat ek sien. Waar is hy?”
Almal se oë is vasgenael op ’n leë kis onder die tafel, waaruit breekgoed blykbaar so pas gepak is. Die gehandskoende vrou kom treetjie vir treetjie nader.
“Julle moet keer! Moenie dat die vuilgoed wegkom nie, anders sit ons een van die dae met ’n hele familie hier!”
Die ander beweeg nie ’n sentimeter nie, hul oë is vasgenael op die brawe vrou met die handskoene.
“Karlien,” spreek die groot vrou die sproetgesiggie aan, “kry vir jou ’n slaanding en moenie soos ’n verskrikte haas teen die wasbak probeer opklim nie!”
Karlien voel agter haar totdat haar hand ’n skropborsel raakvat, maar sy neem haar oë nie ’n oomblik van die gevaar af weg nie.
Johan wag in spanning vir die uitslag van hierdie drama wat hy vir geen geld ter wêreld sal wil misloop nie.
Die gehandskoende vrou druk versigtig aan die kis en ’n vaal veldmuisie spring verskrik uit en pyl reg op die sproetgesigmeisie af. Sy gil en gooi hom met die skropborsel wat hom skrams teen die kop tref en ’n oomblik lank bedwelm laat rondtol.
“Mooi, Karlien! Slaan, tannie Maud!” lewer die meisie met die denimbroek aan van die tafel af deurlopend kommentaar.
“Slaan, tannie Maud! Hy is net disnis. Keer, Ester, hy kom na jou kant toe! Ester!”
Ester spring egter by tannie Maud verby en met nog ’n tree staan sy by haar ousus bo-op die tafel. Maryna druk haar styf teen haar vas.
Die ander een van die tweeling hou haar brawer en steek die verestoffer na die muis toe uit. Sy beur agteroor en haar nekspiere trek styf soos sy sukkel om nie te naby aan die muis te kom nie.
Tannie Maud mik ’n hou na die muis met die stoofyster, maar gril en gil gedemp toe sy langs die booswig slaan.
Johan gee twee treë nader en skop die muis by die agterdeur uit waar hy doodstil bly lê. Hy stap uit, tel die muis aan die stert op en gooi hom in die vullisblik. Toe draai hy met ’n vriendelike glimlag om na die klomp verskrikte, verdwaasde vroumense.
Die twee bo-op die tafel staan nog steeds met hul arms om mekaar. Die sproetgesiggie het die wasbak gelos, maar haar arms hang slap langs haar sye. Die ouer vrou wat soos die kinders lyk, hou die ander aan van die tweeling nog steeds styf teen haar vas.
Tannie Maud kom eerste tot verhaal. Sy sit die stoofyster versigtig op sy plek neer en trek toe haar een plastiekhandskoen stadig uit. Sy vee eers haar hand versigtig aan haar oorrok af en hou dit toe na hom uit.
“Goeiemiddag, jong man! Ek is Maud Crawford. My man was . . .”
“Goeiemiddag, meneer,” praat die meisie met die denimbroek aan vinnig tussenin, terwyl sy van die tafel af spring, “ek is Maryna Joubert en dit is tannie Maud, my ma en my susters.”
Sy hou haar hand na hom uit. Hy druk eers haar hand ook voordat hy kans kry om homself aan hulle bekend te stel.
“Aangename kennis! Ek is Johan Lindeque, jul buurman.”
Hy steek sy hand na die ander uit en groet hulle elkeen afsonderlik.
“Oom Jan het vir my gesê dat ek nuwe bure gekry het . . . en toe het ek besluit om eers te kom . . .” Hy kom voor Karlien tot stilstand en neem haar hand in syne. Die waaksaamheid in haar oë bring hom heeltemal van stryk en hy stotter verder, “. . . om te . . . hm . . . te . . . kom kennis maak.”
“Aangename kennis, meneer Lindeque, en baie dankie vir die hulp met die muis.”
Iewers wil daar vir Karlien ’n klokkie lui. Lindeque? Het sy nie die van vandag iewers gehoor nie?
Johan draai na die ander.
“Mevrou Joubert, daar by my op die plaas is ’n melkkoei en omtrent ses skape, asook hoenders wat in my sorg geplaas is. Dit behoort aan u en ek sal dit laat oorstuur.”
“ ’n Koei! O, maar dis wonderlik! Nou kan ons ons eie melk hê. Dit is vreeslik gaaf van jou om dit vir ons op te pas, meneer Lindeque. Het jy my pa geken?” vra Anna nuuskierig.
“Baie goed, mevrou.”
“Karlien, julle sal na die stal en die hoenderhokke moet gaan kyk, dit is seker vreeslik bouvallig.”
“Ja, Ma. Ek sal sommer nou gaan voordat dit donker is.”
Sy draai na Johan en daar is nou ’n vriendeliker lig in haar oë.
“Baie dankie, meneer Lindeque. Dit is ’n vreeslike verrassing! Ons eie koei, skape en hoenders ook!”
Karlien vee haar hande aan haar denimbroek se sitvlak af. Sy krap in ’n kis en kom met ’n kissie gereedskap te voorskyn waarmee sy vinnig by die agterdeur uitstap.
Johan keer haar toe sy by hom verbykom.
“Juffrou, ek sal gou vir julle na die hoenderhokke gaan kyk. Ek sal van my werkers gaan haal en ons maak dit in ’n japtrap reg.”
“Dankie, meneer Lindeque, maar ons kan dit self doen. Ons is so gewoond daaraan om sulke dingetjies self te doen, dit is regtig nie nodig dat jy ons help nie.”
Toe sy die hoenderhokke bereik, gaan sy egter moedeloos staan en beskou die drade, plek-plek met groot gate daarin. Van die stutpale het ook omgeval en druk die hokke komieklik skeef.
As sy tog net iets van hoenderhokke af geweet het. As sy net geweet het hoe hulle presies moet lyk wanneer hulle heel is, kon sy immers probeer het.
Sy stap om die hok, maar word niks wyser nie. Sy buk en kruip by die gat in waar die hekkie was. Die hokke binne-in is oud en stukkend, maar sy kry darem ’n idee van hoe dit moet lyk en sy sien kans om dit te vervang. Dit is net toe sy by die draad kom dat sy nie weet watter kant toe nou nie.
Sy kruip weer uit die hok, net om ’n paar lang bene in ’n kakiebroek voor haar te sien. Die koedoeleerskoene is vol stof en versper haar weg. Sy bly sommerso hande-viervoet staan en kyk stadig op.
Sy sien hoe die lang bene buig en toe verskyn die bruingebrande gesig met die helderblou oë voor haar.
Johan buk stadig af om by haar posisie aan te pas, sodat hy haar vierkant in die oë kan kyk.
“Luister, juffrou, ons Suidwesters is van ’n ander stoffasie gemaak. Gasvryheid en behulpsaamheid is deugde waarmee ons grootword en spog. Ons sal nooit met ons hande gevou sit terwyl ’n klompie vroue sukkel nie.”
“Meneer Lindeque, ons Kapenaars is ongelukkig weer mense wat nie ons verantwoordelikheid op ander mense afskuif nie. As ons vroue kans gesien het om te kom boer, dan behoort ons kans te sien om ons eie hokke te herstel. Moenie dat dit jou ’n slapelose nag besorg nie. Ons kom al jare sonder ’n man in die huis klaar.”
“Luister, juffrou, doen en sê julle altyd dinge op die ingewing van die oomblik? Dink julle dan nooit voordat julle iets aanpak nie?” vra hy, die ongeduld hoorbaar in sy stem.
“Presies wat bedoel jy?” vra sy sarkasties.
“Net wat ek sê. Julle het sak en pak hier aangekom, al jul brûe agter julle verbrand, sonder om eens vas te stel presies wat jul erfporsie is.
“Nee,” sê hy en hou sy hand op toe sy hom briesend in die rede wil val, “oom Jan het my vertel, omdat ek jul buurman is en hy wil hê ek moet hier ’n ogie hou. En wanneer hy dit van my vra, sal ek dit doen, of julle nou daarvan hou of nie.”
“Van al die verregaande vermetelheid! Niemand het jou hulp gevra nie. En . . . as ek so persoonlik mag wees . . . iets hinder my. Waar boer jy?”
“Hier by julle op Standersfontein!”
“Ek het so gedink. Snaaks genoeg, toe ek netnou jou van hoor, toe fluister ’n vaal duiweltjie my dit in die oor!”
“Wat het hy gefluister, juffrou?” vra hy gevaarlik sag.
“Dat jy die verbandhouer is wat ’n plaas so maklik in die hande gekry het. Daar was mos net ’n sieklike, ou man en ’n klomp onnosel vroumense om mee rekening te hou.” Die woede en teleurstelling en frustrasie van die afgelope tyd slaan in rooi kolle teen haar nek uit.
“Nou kan ek verstaan hoekom jy so graag hier ’n ogie wil hou! Sê liewer jy wil ons onder oë hou. Dalk grawe ons dinge uit wat liewer ’n geheim moes gebly het.”
Johan kyk haar geskok aan. Dan is dit werklik so dat hulle twintig jaar lank byna geen skakeling met Jaap Stander gehad het nie. Hy kan hom goed indink wat het in daardie een of twee jaarlikse briewe van hom af gestaan. Seker net dat dit goed gaan en reën al dan nie. Van al die ander dinge weet hulle natuurlik niks nie.
“Maar dit sê ek vir jou, meneer Lindeque, ek is nie my ma nie. Met my sal julle nie mors nie. Iets is vir my nie pluis nie en ek sal dinge nie sommer net aanvaar nie.”
Johan staan stadig op en hou sy hand na haar uit om haar op te help, maar sy ignoreer dit.
Hy stap om na die hokke en dan weer na die koeistal toe waar hy ’n bietjie rondkyk. Sonder om te groet klim hy in sy bakkie en ry weg.
Karlien blaas van woede. So ’n vermetele, voorbarige mansmens! Dan is dit die nuwe eienaar van Standersfontein, die verbandhouer wat die verband opgeroep het toe dinge vir haar oupa op die moeilikste was.
Sy stap woedend huis toe.
“Is hy nie fantasties nie, Karlien? Hy lyk net soos Terence Hill met sy blou oë. O, ek kry eintlik sulke krampies op my maag,” sê Orpa in ekstase.
“As jy nie oppas nie, kry jy nou-nou krampies op jou sitvlak; daarvoor sal ek sorg,” antwoord Karlien humeurig.
“Jy raak net so goor soos Maryna. Hoewel . . . ek het darem ook gesien hoe blink haar oë toe sy hom groet. Sy dink seker ook hy is fantasties!” tart Orpa haar.
Karlien slaan haar ’n brandhou met die plathand op haar sitvlak.
“Ma sal hierdie twee juffroutjies moet regsien of ek gaan hulle nog vermoor!” sê sy vir Anna.
Anna kyk verbaas na haar. “Nou wat gaan nou met jou aan? Hier kom die aantreklikste buurman aan en hy bied aan om ons te help met die hoenderhokke en jy is . . . is kwaad!”
“Weet Ma wie dit is?” vra Karlien en probeer nie die fyn sarkasme uit haar stem hou nie.
“Ons buurman, meneer Lindeque. Hy het mos so gesê.”
“Ons buurman, Ma, die man wat nou op Standersfontein boer. Die verbandhouer . . . die een wat die plaas oorgeneem het toe ’n ou, sieklike man op sy knieë was. Hy het sy tyd baie goed afgewag, want drie maande voor Oupa se dood, toe neem hy oor, toe slaan hy toe! Hy kon nie eens wag dat ’n ou man in vrede op sy eie grond sterf nie!” vaar Karlien woedend uit.
Daar heers ’n swanger stilte in die kombuis. Tannie Maud sak stadig op die stoel neer en waai haar liggies koel met ’n vadoek.
Maryna en Anna staar haar geskok aan. Die tweeling besef nie wat aangaan nie en Orpa probeer een van haar kwinkslae wat heeltemal onvanpas is.
“Wel, Maryna kan maar met hom trou, dan kry ons weer die plaas terug en dan gaan bly ons almal in die groot huis.”
Karlien storm woedend op haar af. Orpa probeer weghardloop, maar Karlien kry haar aan die poniestert beet. “Eina! Ma!” gil sy.
Karlien ruk haar om en pen haar op die grond vas. Maryna laat nie op haar wag nie en soek wild na ’n slaanding. Die enigste ding wat gou bekombaar is, is tannie Maud se aanglipskoen wat liggies aan haar voet swaai.
Maryna buk, trek die skoen vinnig van tannie Maud se voet af en streep Orpa twee vinnige houe op haar sitvlak, terwyl Karlien haar nog stewig vasdruk. Toe draai Maryna om en druk die skoen ongeërg terug waar sy dit gekry het.
Tannie Maud knik effens en met ’n sarkastiese “dankie” waai sy haar verder koud asof niks gebeur het nie.
“Ai, kinders, kan julle julle nie net soms soos meisies gedra nie? Kan julle nie net af en toe vroulik en beskaaf wees nie?” Anna klink moeg en moedeloos en stap werktuiglik na die wasbak om die ketel vol water te maak, sodat hulle kan tee maak.
“Geen mens kan vroulik wees met sulke satanskinders in jou midde nie,” sê Maryna vies en druk haar hare vinnig in die rekkie wat dit agter haar kop moet vashou.
“Ja,” stem Karlien hierdie keer saam met Maryna, “om te dink dat Ma hulle nogal twee Bybelname gegee het.” Karlien krap in die kis op soek na ’n groot tang.
“Gmf . . .” sê Maryna en kyk verontwaardig na Ester en Orpa, wat op ’n veilige afstand vir haar allerhande aaklige gesigte trek. “Terwyl Ma hulle dan nou Bybelname wou gee, kon Ma hulle liewer Sodom en Gomorra gedoop het.”
Die tweeling skater dit uit van die lag. “Ek sal Sodom wees, dan kan jy Gomorra wees,” sê Ester, maar gee vinnig pad toe dit vir haar lyk of Maryna in hul rigting kom.
“Ugh . . .!” Maryna maak ’n geluid wat enigiets kan beteken. Susan kom lusteloos ingestap en sak langs die kombuistafel neer.
“Het jy lekker gerus, poplap?” vra tannie Maud simpatiek en streel liggies oor die skraal wit handjie wat slap op die tafel rus.
“Ja, dankie, tannie Maud. Julle moes my kom wakker maak het, want toe ek wakker skrik, sien ek net die mooiste mansmens in ’n bakkie klim en wegry. Wie was dit?” vra sy nuuskierig.
“Ugh!” sê Karlien met ’n vies trek op haar gesig en stap vinnig by die deur uit.
Anna sit vir hulle koppies reg en verduidelik geduldig aan Susan wie Johan Lindeque regtig is.
“Hy lyk darem nie vir my soos iemand wat ander mense sal kul nie, Mamma!”
“Vir my ook nie, hartjie, maar Karlien sal uitsnuffel wat aangaan. Julle ken haar mos; sy sal nie sommer dinge aanvaar nie. Ek wens net sy wil dit liewer laat soos dit is.”
’n Halfuur later hou die wit bakkie weer op die werf stil. Johan en ’n ou Herero laai ’n rol ogiesdraad van die bakkie af en Johan stap toe sommer by die agterdeur in.
“Mevrou Joubert!” sê hy en ignoreer Karlien wat al weer styf en regop, oorgehaal vir enige woordewisseling, regop kom.
“Hier buite is ’n ou Herero, sy naam is Mossie. Hy het altyd hier gewerk. Sy huis staan op die grens tussen ons. U kan hom weer in diens neem as u wil. Hy is baie betroubaar en sy vrou is ook baie bekwaam. Sy help my baie in die huis en met die wasgoed.”
“Baie dankie, meneer Lindeque. Ons het werklik hulp nodig. Ek weet net nie of ons dit sal kan bekostig nie. Hulle kry seker al hier ook redelik baie geld,” sê Anna.
Johan stel ’n redelike bedrag voor as betaling vir die Herero en sê toe dat Anna met die vrou self moet onderhandel oor watter dae sy haar in die huis wil gebruik.
“Maar, meneer Lindeque . . .” protesteer Anna weer.
“Mevrou, noem my tog asseblief Johan. Ons Suidwesters is tog nie so gesteld op formaliteite nie.”
“Ek weet . . . Johan. Ek is mos self ’n gebore Suidwester. Jy kan my dan tannie Anna noem en my dogters is Maryna, Susan, Karlien, Orpa en Ester,” sê sy terwyl sy na elkeen van die meisies beduie.
“Maryna sê ons name moes liewer Sodom en Gomorra gewees het,” giggel Orpa terwyl die ander haar aangluur.
Johan gooi sy kop agteroor en lag uit sy maag. Tannie Maud glimlag saam en knik goedkeurend.
“En ek, jong man, is tannie Maud.”
“Dit sal vir my ’n voorreg wees om u so te noem, tannie Maud, baie dankie.”
“Maar, Johan, om terug te keer tot die Herero hier buite. Is dit nie een van jou werksmense nie? Ek bedoel, kan jy hom afstaan, veral as die vrou by julle in die huis gewerk het? Sal jou vrou haar nie nodig kry nie?” vra Anna bekommerd.
Johan gaap haar eers onbegrypend aan en toe glimlag hy breed.
“Nee, tannie Anna, ek is nie getroud nie; daar is dus niemand wat haar sal nodig kry nie. Ek het vir Vytjie, wat jare lank by my tannie gewerk het. Ná my tannie se dood het ek haar as ’t ware geërf.”
Karlien onderskep die tweeling se geïnteresseerde blikke en trek vir hulle groot oë. Dit is net vir ingeval een van hulle weer ’n troustorie kwytraak.
“Ou Mossie sal solank alles wat nodig is, herstel. Môre sal ons dan die diere oorbring hiernatoe.”
“Ek hoop net jy bring alles, meneer Lindeque. Ek sal baie graag die testament wil sien om te weet hoeveel diere in jou sorg gelaat is,” sê Karlien skerp.
“Karlien!” roep Anna geskok uit.
“Skaam jy jou nie?” voltooi tannie Maud die sin vir Anna.
Johan voel hoe ’n rooi gloed stadig oor sy nek sprei. Hy maak sy groot hande stadig oop en toe en Anna sien hoe die spiere in sy nek bult. As hy nie nou tot tien tel nie, trek hy die sproetgesiggie oor sy skoot en klop haar sitvlak vuurwarm.
Karlien draai skaam-vererg om en stap na haar kamer.
“Sit tog, Johan, dan skink ek vir jou ook ’n bietjie tee,” sê Anna en sy probeer so kalm moontlik klink, maar innerlik kook sy van woede oor Karlien se onbeskoftheid.
“Ek is jammer dat Karlien haar so sleg gedra. Jy moet haar tog maar verskoon. Sy . . . sy praat gewoonlik voordat sy dink en die plaas . . . Ek dink dit was vir haar die grootste teleurstelling van almal. Sy kon dit nog nie werklik verwerk nie.”
“Ek verstaan, mevrou, maar sodra ons mekaar beter ken, is daar ’n paar sakies waaroor ons moet gesels,” antwoord Johan kalm, maar die grimmige trek bly in sy oë.
Hulle gesels rustig verder en dit word ’n aangename kuiertjie, maar Karlien maak nie weer haar verskyning voordat Johan vertrek het nie.